Die vierde bede van die Onse Vader

Predikant: 
Ds RH Bremmer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 50
Preek Inhoud: 

Vertaalde preek van Dr. R H Bremmer oor Sondag 50 H. K.

Die vierde bede: Gee ons vandag ons daaglikse brood!

Lees: Deuteronomium 8: 1 - 20
Teks: Sondag 50 H. K.
sing: Ps. 145: 1, 2, 3, 10
na wet Ps 65: 2
na belydenis Ps 146: 4
Sb. 28: 1, 3 en 4
Ps. 36: 2
Ps. 23: 3 ber. 2

Geliefde broeders en susters in onse Here Jesus Christus!

As in Israel 'n priester die heilige van die tempel betree het, is hy direk met die daaglikse brood gekonfronteer. In die heilige het teen een van die wande, die tafel met die toonbrode gestaan. Die woord toonbrood is 'n oulike vertaling wat via die Statevertaling, ook in ons Afrikaanse Bybelvertaling tereg gekom het. Sou ons dit letterlik vertaal dan sou dit 'aangesigsbrood' lees. Hulle het daar, in die heilige van die tempel, voor die aangesig van die Here gele. Soos in Exodus 25: 30 geskrywe is: "En op die tafel moet jy altyddeur toonbrood voor my aangesig neersit. " Hulle het daar, in twee stapels van ses toonbrode, gele. Ons verstaan waarom 12 brode: vir elke stam was daar een so 'n rond gebakte brood op die tafel. Elke Sabbatdag is hulle vernuwe en die ou brode is dan deur die priesters geeet.

Die brode was uit die fynste meel gebak en met wierook bestrooi. Die toonbrode het in die erediens van Israel 'n simboliese betekenis. Hulle het daarvan getuig dat die daaglikse brood wat Israel van die Here ontvang het, weer aan die Here geoffer word. Die toonbrode was nie die enigste in die heiligdom wat met die daaglikse brood verbind is nie. Daar het voor die ark, in die allerheiligste, ook 'n goue kruik gestaan wat met manna gevul was. Daarin is 'n gomer van die wonderbrood bewaar wat die Here in die woestyn oor Israel het laat uitsak. Dit was 'n blywende aandenking aan die goedheid van God wat Hy in die manabrood aan sy volk geskenk het.

Gemeente, is dit nie opmerklik, langs die voorwerpe wat direk met die diens van versoening en gebede te doen het, soos die versoendeksel op die ark en die reukofferaltaar, het daar die toonbrode en die kruik met manna gestaan. Dit het Israel elke dag daaraan herinner dat die daaglikse brood van die Here kom. Hulle mag die Here daarvir vra en daarvir dank. So is dit ook met die vierde bede van die gebed van die Here.

Midde tussen die bedes soos: Laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde en vergeef ons ons skulde, staan daar die bede: Gee ons vandag ons daaglikse brood. Nee, dis nie alleen 'n bede vir 'n tyd van armoede en gebrek nie, dis ook 'n vraag aan die Here in tye van welvaart en voorspoed. Nie alleen 'n bede vir lande waar honger en ellende heers nie, maar ook vir lande wat in oorvloed lewe. Ons Heiland leer ons, met hierdie bede, om uit die vaderhand van God te lewe. Dis 'n korte bede, in ons taal net ses woorde, maar ryk aan inhoud.

Ons leer om tot God ons Vader te bid, maar ook tot God die Seun want dis om Christus ontwil dat ons die daaglikse brood ontvang. Ook leer ons hier tot God die Heilige Gees bid. Hy leer ons om ons vertroue vir die daaglikse brood nie op enig skepsel nie, maar op die Here alleen te stel. So wil ons oor die vierde bede spreek:

DIE VIERDE BEDE VAN DIE ONSE VADER

In verband daarmee let ons op:

  1. God die Vader ons Skepper;
  2. God die Seun ons Verlosser;
  3. God die Heilige Gees wat ons heilig.

I Gemeente met reg is daarop gewys dat Christus die bedes van die 'Onse Vader' in 'n mooie volgorde opgestel het. Om so te se, het ons Heiland as 'n groot argitek die gebed van die Here met grote sorg ontwerp. Die bedes is maar nie kris kruis lang mekaar geplaas nie. Nee, daar is 'n heilige orde in aangebring. Daaraan wil ons eers aandag gee, sodat die betekenis van die vierde bede beter vorentoe sal kom.

Die ses afsonderlike bedes van die 'Onse Vader' kan in twee sogenaamde gebedstafels gerangskik word. Die eerste tafel omvat die eerste drie bedes en het die saak van God ons op die hart gebind. Die laaste drie bedes konsentreer op ons as kinders van God. Christus het Hom daarin duidelik by die volgorde van die wet van God aangesluit. Immers daar gaan die eerste vier gebooie oor ons verhouding tot God en die volgende ses oor wat die Here in die verhouding tot ons naaste van ons eis. In die 'Laat u Naam geheilig word, laat u koninkryk kom en laat u wil geskied' het Christus die saak van God tot ons saak gemaak wat in die eerste plek ons aandag moet kry.

Daarna word deur ons, in die laaste drie bedes, ons saak tot 'n saak van God gemaak. Ons daaglikse brood, die vergewing van ons skulde en die versoeking van ons deur die bose, word deur ons vir God aan die hart gele. Dis in hierdie drie bedes alles ons wat die klok slaan. Christus het al ons menslike sake: brood, skuld vergewing en verlossing uit ons aanvegtinge tot 'n saak van ons Here gemaak.

Daarmee is egter nog nie alles gese nie. Christus het ook die volgorde van die laaste drie bedes met sorg saamgestel. Voorop gaan die saak van ons daaglikse brood wat ons as eerste in die tweede tafel vir God neerle. Eers daarna kom ons skuld en as laaste die verlossing uit die nood van versoekings. Is dit eintlik geen vreemde volgorde nie? Is die vergewing van ons sondes nie baie belangriker as ons daaglikse brood nie? Is die verlossing van die bose nie baie dringender sodat dit voorop moet gaan nie?

Dis verstaanbaar dat in hierdie rigting gedink word, maar tog is dit nie reg nie. Dink maar aan wat Paulus in 1 Kor. 15: 46 skrywe: "Die geestelike ewewel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. " Die bedoeling van Paulus is duidelik: om oor ons geestelike nood met God te kan spreek, sal ons eers as mens daar moet wees en kan lewe. Hoe sal 'n mens om vergewing van sondes kan bid as hy deur honger uitgeteer is? Hoe kan om krag vir die stryd teen die bose gevra word as die liggaam nie kan bly staan nie? Die natuurlike is eerste. As mens moet jy daar wees en kan funksioneer, om aan die geestelike aandag te kan gee. Ons Heiland ken ons as skepsels van Vader daarom kan Hy vir ons leer om ons node in die regte volgorde vir Vader voor te le.

Dis daarom dat eers met ons bestaan begin word. Sonder my daaglikse brood, sonder kleding en 'n dak oor my kop kan ek nie lewe nie. Ons moet daar wees en lewensonderhoud he. Iemand het dit eens skerp gese: Sonder melk kom 'n mens nooit aan die wyn van die nagmaal toe nie. Dis gewaag gese, maar dit maak duidelik waar dit in hierdie bede om gaan. Waarom Christus in die tweede tafel van die gebed hierdie bede voorop laat gaan. Allereers kom ons met ons doodgewone menslike nood na die troon van Vader toe. Ja dit gaan in hierdie vierde bede regtig om doodgewoon die daaglikse brood. Die kerk het dit vir 'n lange tyd nie raakgesien nie.

Die kerk uit die middeleeue het hierdie bede geestelik opgevat. Dit het nie oor brood gegaan wat uit meel van broodkoring in 'n oond gebak word nie, maar oor die geestelike brood. Daarby het hulle aan die woord van Christus self gedink wat Homself die brood van die lewe genoem het. Christus sou ons hier leer bid dat ons met Hom, die brood van die lewe, versadig mag word. Anders het gese: Dit gaan hier om die brood by die mis. Ons bid dat ons daagliks die mis mag vier.

Hoe het dit gekom dat die kerk met hierdie vierde bede sover uit die koers geraak het? Die oorsaak sal ons in die vergeesteliking van die christelike lewe moet soek. In die tyd het die mense gedink dat die Here hom glad nie met die kos van elke dag opgehou het nie, dis mos totaal ongeestelik. Hoe kan 'n mens dink dat die Here hom om ons mieliepap en vleisbroodjies sal bekommer? Gemeente is dit ongeestelik om daarmee voor die aangesig van die Here te kom? Ons kategismus breek in die verklaring van die vierdie bede, totaal met daardie siening.

Saam met die kategismus bely ons dat ons om alles wat vir die onderhoud van ons liggaam nodig is, moet bid. Sodat ons daardeur erken dat God die enigste oorsprong is van alles wat goed is! Daarmee is skerp posisie teen die vergeesteliking van hierdie bede ingeneem. Want die Bybel is vol van die sorg van die Here vir ons daaglikse brood. Ons Heiland wat Hom die dinge van Vader eie gemaak het het uit die Skrif geweet hoe God vir die daaglikse brood van sy volk gesorg het. Dink maar net aan die manna in die woestyn wat ons in die begin van die preek al genoem het. Dis 'n pragtig voorbeeld van die intensiteit waarmee God homself vir ons daaglikse brood inset.

Dis die moeite werd om daardie geskiedenis in die prentjie te kry. Israel het uit Egipte weggetrek. Wat ook al van Egipte gese mag word, seker nie dat Israel daar honger gely het nie. Die land Gosen was besonder vrugbaar. Weiding en koring was daar in oorvloed voorhande. Maar nou trek hulle al dae deur die dorsland van die woestyn en ons weet wat Israel gedoen het: gemurmureer en gese: "Het ons maar in Egipteland deur die hand van die Here gesterwe toe ons by die vleispotte gesit en volop brood geeet het! Want julle het ons in hierdie woestyn uitgelei om hierdie hele vergadering van honger te laat sterwe. "

Ons weet wat die Here vir Moses gese het: "Kyk, Ek sal vir julle brood uit die hemel laat reen; dan kan die volk uitgaan en die dagmaat van elke dag insamel, sodat Ek hulle kan beproef, of hulle in my wet sal wandel of nie. " (Ex. 16: 3 en 4) Toe het God vir die volk die manna gegee en en die hoeveelheid wat hulle moes insamel vasgestel. Goddelike distribusie: 'n gomer vir elke persoon.

Hulle het dit ingesamel die een baie die ander min. Tog was dit wat gemeet is gelyk aan hul behoefte. Sommiges het daarvan laat oorbly tot die more toe. Daarin het egter wurms gekom en dit bederwe. God het sy volk aan die goddelike maat en opdrag gehou. So het die Here veertig jaar lank vir die brood van sy volk gesorg. Aaron moes 'n gomer manna in 'n kruik bere en dit voor die ark van die getuienis neersit, om dit vir hulle geslagte te bewaar. Die daaglikes sorg van die Here vir die brood moes deur Israel blywend in gedagtenis gehou word. Daardie manna was geen geestelik brood nie, daar is regtig brood van gebak.

Die hele Ou-Testament is vol van die goeie sorg van God vir die daaglikse brood van sy volk. Dink ook eens aan die geskiedenis van Elia, wat by die spruit Krit deur kraaie onderhou is, toe hy hom vir koning Agab moes wegsteek. In die tyd van honger wat God oor Israel gebring het het God vir Elia die kraaie gestuur. Daarna, vir die weduwee van Sarfat, het Elia die woord van God laat hoor: "So se die Here, die God van Israel: Die meel in die pot sal nie opraak en die olie in die kruik sal nie minder word nie, tot op die dag dat die Here reen op die aarde sal gee. " Die Here het daardie woord waar gemaak.

Heel konkreet laat die Here Jesus self sien hoe God vir die brood van sy kinders sorg. Ons ken mos die geskiedenis van die wonderbare vermeerdering van die brode, daar by die see van Tiberias? Toe Jesus dan sy oe opslaan en sien dat 'n groot menigte na Hom kom, se Hy vir Filippus: Waarvandaan sal ons brood koop, sodat hierdie mense kan eet? Filippus het die vraag snaaks gevind en geantwoord: Tweehonderd pennings sal nie genoeg wees, sodat elkeen 'n stukkie brood kan kry nie.

Dan kom Andreas met 'n seuntjie wat vyf garsbrode en twee vissies het. Ons weet wat toe gebeur het: onder die hande van ons Heiland het dit vermeerder, sodat daar meer as genoeg vir die duisende mense was. Ja, sodat niks verlore gaan nie, is daar selfs twaalf mandjies met brokstukke wat oorgebly het, opgetel. Ja maar, hoor ek al se: Israel het in die woestyn wonderbrood gekry en die vermeerdering van die brode was 'n wonder van Christus. Maar ons het met die kategismus bely dat ons in die vierde bede gewoon om ons daaglikse brood bid.

Tog gemeente, is daar voldoende rede om by die vierde bede op die wonders te wys. Hoor wat Moses in Deut. 8 vir Israel leer: Jy moet dink aan aan die hele pad waarlangs die Here jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie. En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die Here uitgaan.

Nadat ons Heiland veertig dae en nagte in die woestyn sonder kos was, het ons Heiland hierdie woord van Moses gebruik om die Duiwel te weerstaan. Wat het Moses en ons Heiland met hierdie woord wil se? Dit: dat dit by God nie alleen gaan om kos te voorsien nie, maar om te laat uitkom dat die brood wat Hy voorsien van Hom kom, en dat Hy daar voedingswaarde in gele het. Daar is 'n regstreekse verband tussen die skeppingskrag van God en die brood wat Hy vir ons skenk. Dit wil ons Heiland in die vierde bede ook vir ons leer. Dis nie vanselfsprekend dat ons, ons daaglikse brood ontvang nie.

Soos God in sy almag die wonderbrood vir Israel geskenk het, so skenk Hy vir ons nog elke dag langs die gewone pad ons daaglikse brood. Dis net van Hom wat ons dit toekom! Daarom mag en moet ons Hom daar ook om vra. As God in die buitegewone weg vir Israel brood skenk, om hulle en ons te leer dat die daaglikse brood van Hom kom. Sal ons dan nie erken dat die brood wat in die normale weg deur ons sorg en arbeid na ons toekom, ook deur God geskenk is nie?

Met groot sorg het ons Heiland die woorde gekies om ons te leer hoe ons Vader om ons daaglikse brood moet vra. Watter voedsel is daar algemener oor die wereld as brood? Oor die hele wereld word dit geeet in die westerse wereld net so goed as in die ooste. In Afrika net so as in Asie en Amerika. In die woord brood le al die sorg en moeite van ons mense opgesluit. Broodkoring moet geplant, groei, gestroop, gedors, gemaal en gebak word. Dit alles gebeur onder die sorg van ons hemelse Vader. Dieselfde krag wat die wonder van die manna gegee het, laat ook elke dag ons daaglikse brood op ons tafels kom.

Ons begryp natuurlik dat Christus in die woord brood nie alleen die brood wat ons eet bedoel, het nie. Die woord omvat alles wat 'n mens in die wereld nodig het. Luther het gese: Christus leer ons hier nie alleen om om brood te vra nie, maar ook om 'n liewe vrou of man, om goeie medisyne en om die kinderseen. Ja, as ons iets makeer is ons eerste by die dokter en vergeet dat daar 'n Vader in die hemel is. Is die geneeskuns 'n saak wat buite die sorg van Vader omgaan? Is antibiotika en radioaktiewe straling nie deur Hom in die skepping opgeneem nie?

Elk woord in die vierdie bede het sy eie betekenis. Die woord wat vir daagliks in die grondteks gebruik word, kry ons in die hele Nuwe-Testament net in hierdie bede. Dit beteken volgens die nuutste verklaarders: dit wat 'n mens daagliks nodig het. In die Luther Bybel lees ons: Unser notig Brot. Dit is 'n mooie vertaling, dit gaan om die daaglikse rantsoen. Soos Christus ons dit ook al deur Salomo in Spreuke 30: 7 en 8 geleer het: "Gee my nie armoede of rykdom nie, laat my geniet die brood wat vir my bestem is; dat ek nie, as ek oorversadig geword het, U verloen nie, en se: Wie is die Here? En dat ek nie, as ek arm geword het, steel en my aan die Naam van God vergryp nie. "

Het die welvaart nie baie van God vervreem nie? En neem met die verswakking van die ekonomie diefstal en vervalsing nie enorm toe nie? Christus leer ons Bid: Gee ons vandag ons daaglikse brood. Dit gaan om wat ek elke dag nodig het, om my amp en beroep in hierdie wereld en in die kerk van God te vervul. Dit gaan om die rantsoen wat ons as troepie van Jesus Christus aan die front van die ryk van Christus nodig het. nie meer, maar ook nie minder nie.

Natuurlik is daar verandering van strukture in die samelewing. Ons land het van oorwegend akkerbou en veeboedery na 'n minerale ekonomie beweeg, terwyl ons nou oorgaan na toerisme en produksie van verbruiksgoedere. In dit alles kan ons egter alleen uit die hand van Vader lewe. Ons staan as sy kinders net soos ons voorouers in sy diens en lewe vir die aangesig van God. Hy die grote ekonoom sorg nog vir sy kinders hoe die samelewing ook mag verander. Daarom het Christus ons leer bid: Onse Vader wat in die hemel is, gee ons vandag ons daaglikse brood.

Gee ons Vader vandag pryse en lone waarmee ons as gesin of as eenling u kan dien. Gee ons vandag die nodige brood. Gee dat ons deur so te bid en te bly bid, U as die enigste oorsprong van al wat goed is bly erken. Gee dat ons U as ons Skepper-Vader erken, as die Een wat van dag tot dag vir ons sorg. Ook as daar voorspoed is, hou die gebed om die daaglikse brood in, dat ons soveel van die Here vra en ontvang dat ons die groot roeping in die ryk van God soos dit behoort kan vervul.

II In hierdie vierde bede bid ons God die Vader as ons Skepper om dit wat ons vir sy diens daagliks nodig het. Ons daagliks rantsoen. Ons bid hierdie bede ook in relasie tot God die Seun ons verlosser. In antwoord 125 is daar 'n duidelike verwysing na ons Heiland en sy werk in verband met hierdie vierde bede. Ons bely dat ons sorg en arbeid sowel as die gawes van God sonder sy seen ons nie tot voordeel kan strek nie. Die seen van God is oor ons sorg en arbeid nodig!

Seen, terwyl die aarde, soos God in Gen. 3: 17 vir Adam gese het, om sy ontwil vervloek is en ons met moeite daarvan sal eet al die dae van ons lewe. Dorings en distels sal die aarde voortbring en in die sweet van jou aangesig sal jy brood eet. In die plek van die oorvloed van die paradys het nou die vloek van God oor die wereld gekom. Tog mag ons nou die seen van God oor ons arbeid bely, is dit nie magtig heerlik nie, gemeente?

Hoe word vir ons die vloek nou in seen verander? Immers net deur Hom wat ons hierdie bede leer bid het. Vrymoedig mag ons vir Vader bid om die daaglikse brood, vanwee die werk van Jesus Christus ons Heiland.

Daarin bid ons dat terwille van Christus ons sorg en arbeid ten seen sal strek. U is om Christus ontwil ons Vader en ons is om Christus ontwil u kinders. Christus het vir ons die vloek oor die aarde gedra. Ons mag nou die seen en gawes van God proe wat hy ons in die weg van ons sorg en arbeid skenk.

Helder lig val nou oor die woordjie vandag. Gister is verby en more het nog nie gekom nie. Dis vandag dat ons, met ons nood, vir die aangesig van Vader staan. Dis vandag wat ons ons hand le op die werk wat Christus volbring het. Vandag is vir ons oorstraal, deur die versoening wat Christus skenk. Sal ons dan in die vandag van die genade nie ons nood vir die oor van ons Vader uitspel nie? Ja vandag sal ons Vader vra: Gee ons vandag ons daaglikse brood. Gee dit uit genade om Christus ontwil. In die woord 'gee' pleit ons op die beloftes van Vader. Dis nie die gee van die bloedsuier wat eis, waar Salomo van gespreek het nie. Dis nie die gee van mense wat demonstreer, paaie blokkeer en staak nie.

Maar, so word weleens gevra waarom moet ons bid vir die kos wat al op die tafel voor ons, klaar staan? Ons bid: Gee ons vandag ons daaglikse brood en die brood staan al daar en ons ruik die vleis wat ons gebraai het. Wat is dan die sin van die gebed? Dis dat daarin sigbaar en hoorbaar word dat ons kinders van God is wat alles alleen van Hom verwag. Daarin is dit wat God hom verbly, Hy wil gevra word. Soos 'n kind 'n verlanglys maak, ondanks dat hy weet dat hy 'n verjaarspresent sal kry. So mag ons in ons gebede om Christus ontwil uit die Vaderhand van God lewe. Juis omdat God homself verbly in die gebed van sy kinders, daarom sal ons daagliks vir ons maaltye bid.

Laat die goeie gewoonte van die tafelgebed daarom onder ons nie uitslyt nie. Deur die spanning waarin ons lewe word die tyd vir huisgodsdiens en gebed weggevreet. Bid tog minstens eenmaal per dag hierdie gebed wat Christus ons geleer het. Daardeur word die verwondering oor die verhoring, in die kos wat voor ons staan, in ons hart gewek. Is dit geen wonder dat God nog elke dag kos vir die wereld gee nie? Dat stede met miljoene inwoners soos Johannesburg, Tokio, Newyork en Londen kan eet en drink. Is daar geen rede, as God hierdie gebed van ons rojaal vir ons verhoor, om ook rojaal te gee, vir mense om ons en vir lande wat deur honger gepla word nie?

III So het ons tot die laaste gekom. In die vierde bede oefen Christus ons ook in die geloof in die Heilige Gees wat ons heilig. Dis veral aan die laaste sin uit antwoord 125 wat ons dink. Dat ons dus ons vertroue van alle skepsele moet aftrek en op U alleen stel. Wie gemeente, leer ons daardie gelowig vertroue anders as dat die Heilige

Gees dit vir ons leer. Hy werk deur die gebed van hierdie vierde bede daardie vaste vertroue in ons harte dat God vir ons sorg. Dat ons alleen op Hom ons vertroue vir ons daaglikse brood stel.

Daar is nog een woordjie in hierdie bede wat ons nog nie bespreek het nie, naamlik die woordjie: 'ons'. Die bede word nie alleen vir ons self of vir ons gesin gebid nie. Hierdie bede word in gemeenskap met heel die gemeente van Christus gebid. As gemeente van Christus mag ons weet, dat ons deur ons hemelse Vader versorg word. Wat is daar vandag baie in die gemeente nodig. Ons dink aan die sorg vir die voortgang van die bediening van die Woord en die kerklike lewe.

Daar is ook die sorg vir sending evangelisasie en materiele gebrek in die gemeente. Allerlei christelike aksies moet steun ontvang. Al die nood is in die daaglikse brood waarom ons bid ingesluit. Ons mag dit selfs nog verder uitbrei. Soos ook in die ander bedes bid ons hier ook in die plek van mense wat met hul nood nie tot God gaan nie. Die Heilige Gees leer ons dat ons ook daardie mense saamvat om hulle vir die troon van God te bring. Dat hulle ook sal leer, om hul vertroue nie in skepsele nie, maar alleen op die hemelse Vader te stel.

Gemeente, wie nie vertrou dat God sy nodige kos versorg nie, hy kan ook nie vertrou dat God sy skuld vergewe en uit die versoeking van die bose verlos nie. Met hierdie vierde bede bid ons: Vader ons, arme sondaars, nader voor u troon. Ons het nie verdien dat U ons kos gee nie. Maar in U verbond is U ons Vader en Skepper wat ons, in alles wat ons in hierdie wereld nodig het, wil versorg. Dit alles doen U vir ons om Christus u liewe Seun ontwil wat die vloek oor hierdie aarde aan die kruis van Golgota gedra het. Vader ons bid U dat U ons en ons kinders om sy ontwil met ons daaglikse brood sal seen. Vader ons bid ook, dat U deur U Heilige Gees, die vaste vertroue op U, as die Skenker van alles wat goed is, in ons hart wil werk. Dank Vader vir die maaltyd wat netnou vir ons alweer daar sal wees.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)