Ek glo, kom my ongeloof te hulp.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-08-13
Teks: 
Markus 9
Preek Inhoud: 

Markus 9:24
Ds C Kleyn - Sondag 13 Augustus
2000 - Nagmaal

Lees: Markus 9:14-29; Psalm 73:21-28
(1ste tafel); Psalm 96:1-6 (2de tafel);
Psalm 96:7-12 (3de tafel).
Sing: Ps 88:1,2; Ps 119:1,2; Ps
71:10-12; Ps 91:1; Ps 73:11,12; Ps 96:1,2; Ps 96:5,6; Ps 98:1,2.

Tema: Ek glo, kom my ongeloof te hulp.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Aan die tafel van die Here wil ons opnuut ons
geloof bely. Ons aangaan aan die tafel is in homself reeds ’n
belydenis. Is dit eintlik geen waagstuk om ons geloof te bely nie?
Kan ons eintlik wel bely dat ons ons vertroue op Jesus Christus
alleen stel? Hoe reëel is die belydenis in my daaglikse lewe en
stryd? Kan ek daar die belydenis wel handhaaf? As die
omstandighede moeilik is of as ek alleen staan in ’n
samelewing wat steeds meer van die ware God vervreemd raak. Lê
die ongeloof nie baie naby nie? Wat te denke van die oomblikke
waarin die lyk asof ek alle houvas kwytraak, en waarin ek die
sekerheid van die geloof nie so sterk ervaar nie? Laat ons
onsself nie dikwels deur die omstandighede lei nie? Kan ons dan
wel bely: Ek geloof? Is dit nie veiliger om van so ’n
belydenis af te sien nie.

Gemeente, die teks kan ons hierin rigting gee,
veral die skynbare teenstrydige woorde: Ek glo, kom my ongeloof
te hulp.

Die geskiedenis van ons teks speel hom af
onmiddellik na die verheerliking van Christus op die berg. Jesus
keer met sy dissipels Petrus, Johannes en Jakobus terug na die
ander dissipels. Maar wat ’n teleurstelling! Ja, wat ’n
skerp teenstelling met die heerlikheid op die berg. Skielik het
Jesus weer te make met die verskriklike werklikheid van die mag
van satan en ongeloof. Skrifgeleerdes redetwis met die dissipels
ten aanhore van ’n groot menigte. Die oorsaak van die twis
maak die saak nog erger. Tussen die menigte staan ’n vader
met ’n maansieke seun wat van kleins af las van toevalle het.
’n Afskuwelike bewys van die mag van satan. Die seun word
immers herhaaldelik aangegryp deur ’n onreine gees. Satan,
die verwoester van die lewe, maak sy aanwesigheid tasbaar deur
bose geeste.

Wat nou so verskriklik is, is dat die seun by
die dissipels gebring is, maar dat hulle hom nie kon genees nie.
Hulle kon dit nie vanweë hul ongeloof. Die Here Jesus het hulle
mag oor onreine geeste gegee om hulle uit te drywe, maar hulle
het gaan twyfel. Daarom is hulle magteloos.

Dan is daar nog die duiwelse twis, die spot van
die skrifgeleerdes. Hulle buit die geleentheid uit om die saak
van Jesus Christus neer te haal: waar blyk nou sy mag. Kyk, dit
stel niks voor nie.

Wanneer Jesus in hul midde kom dan staan hy al
gou voor die maansieke seun wat die dissipels nie kon genees nie.
Sy pa verklaar vir Jesus die sorglike toestand van sy seun en vra
vir Jesus: as u iets kan doen, ontferm U oor ons en help ons.
Ondanks die skynbare hopelose situasie – die seun het die
kwaal reeds van kleins af en die dissipels kon hom nie help nie
– het die man nog ’n klein bietjie hoop: as U iets kan
doen, help ons. Iets is nie baie nie. ’n Mens kan dit wel
begryp na al sy teleurstellings.

Hoe antwoord Jesus vir hom? Die man moet
gekorrigeer word. Blykens sy vraag sien hy Jesus as ’n man
met beperkte moontlikhede, terwyl Jesus in werklikheid almagtig
is. Hoe korrigeer Jesus hom? Jesus sê: Wat dit betref – as
jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo. Die vraag
is nie of Ek iets kan nie. Ek kan alles, ek is almagtig. Die
vraag is of jy kan glo. Die geloof blyk nog nie uit die vader se
woorde en dade nie. Hy is daarin ’n kind van sy tyd. Soos
ons dit vandag ook raakloop. Mense wil dit wel met Jesus probeer
en wil dan ook van Hom profiteer. Maar dit bly ’n ongelowige
geslag. Hulle wil hulle nie werklik aan Jesus se goddelike almag
oorgee nie.

Man, jy vra my om jou te help waar ek enigsins
kan. Maar as jy glo, dan ontvang jy in My ’n onuitputlike
bron van krag. Alle dinge is moontlik vir die een wat glo.

Tereg hoor die man in hierdie woorde ’n
oproep om te glo. Die vraag is nie of Jesus mag het om te help
nie, maar of ek kan vertrou dat Jesus alles kan. Daarom roep hy
onmiddellik uit: Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp! Ek glo.
Ek vertrou op u mag. My oë rus op U. Maar tegelyk: kom my
ongeloof te hulp.

Kan dit wel gemeente: in een sin beide jou
geloof en jou ongeloof bely? Dit is tog ’n kwessie van
geloof of ongeloof? Die een sluit die ander tog uit? Dat ek glo
en soms tog twyfel kan ’n mens verstaan, maar dat ek glo en
tegelyk nie glo nie, dit kan tog nie?

Helaas kan dit wel. Elkeen wat homself ken weet
dit uit ervaring. Niemand besit hier ’n volmaakte geloof nie.
Ons glo slegs ten dele. So verwag die man van die teks baie van
Jesus, veral na sy koninklike woord van vers 23. Maar
tegelykertyd is daar die omstandighede. Wat het hy nie met sy
seun meegemaak nie. Van kleins af is hy reeds so. Wat ’n
jare van angs en sorg. Nagte sonder slaap. En steeds weer die
teleurstellings. Netnou weer mbt die dissipels. Sou dit werklik
waar wees dat Jesus Christus daaraan ’n einde kan maak? Dit
is te geweldig om te glo. Daarom sy konflik: ek glo, kom my
ongeloof te hulp. Aan die een kant is daar die Here Jesus op wie
ek vertrou. Aan die andere kant is daar die omstandighede, die
dinge wat voor oë is, wat my van Jesus aftrek.

Dit is broeders en susters, soos by Petrus toe
hy uit die skip gestap het om oor die water na Jesus te gaan. Toe
hy heeltemal op Jesus gefokus was kon hy sommer op die water stap.
Maar toe hy op die wind en die water gelet het, het hy weggesink.
Die ongeloof het vir hom te sterk geword.

Hierdie geskiedenis kan ons gemeente leer om
realisties te wees. Netnou hoop ons aan die tafel van die Here
ons geloof te bely. Ons sê in feite: Ek glo, ek vertrou op Jesus
Christus alleen. Maar is ons klaar met so ’n belydenis? Hoe
sal dit straks wees as ek die kerk uitgaan, as ons by die koffie
onder mekaar gesels? Hoe gaan dit as ek more en oormore my plek
inneem in ’n omgewing wat steeds meer van God vervreemd raak?
Hoe gaan dit as ek in moeilike persoonlike omstandighede teregkom,
as ek swaarkry? Kan ek dit dan altyd handhaaf: ek vertrou op
Jesus Christus alleen? Bly my stemming altyd en in alle
omstandighede dieselfde? Is dit tog nie so dat ek maklik weer
wegsink in ongeloof nie? As die storms op my afkom en die
teleurstellings groot word? Laat ons ons dikwels nie lei deur die
omstandighede nie? Hoe dikwels kyk ek nie na myself in my
swakheid om dan in ongeloof te aarsel. Dit lyk dan asof die Here
teveel van my eis. Kan dit nog wel in hierdie tyd: konsekwent die
Here dien op alle terreine van die lewe?

As ek die aarseling by myself ontdek, moet ek
dan konkludeer dat ek die belydenis van my geloof in Christus te
vinnig uitgespreek het, dat ek te maklik aan die tafel van die
Here aangegaan het? Ja, dit kan as ons slegs oppervlakkig of uit
gewoonte dit doen; as ek dit doen omdat dit van my verwag word.
Maar dit hoef nie die geval te wees nie. Want ons geloof is hier
nooit volmaak nie. Dit is nooit klaar. Ons glo nog slegs ten dele.
Maar met die geloof mag en moet ek na Christus toe, soos ek is,
met my sonde en swakhede. "Ek glo, Here, kom my ongeloof te
hulp". Here ek vertrou op U onbeperkte mag. Gee dat ek dit
bly doen, ook wanneer die golwe oor my heen slaan, as dit lyk
asof ek oorspoel word deur moeite en verdriet of deur die
aanvegtings van satan. Skenk volharding en geduld wanneer U U
almag nie onmiddellik aanwend om my van die moeites te verlos nie.
Alle dinge is moontlik vir die een wat glo. Alle dinge is
moontlik. Inderdaad! Dit beteken egter nie dat alle dinge ook
metterdaad hier op aarde gebeur nie. Dit hang af van u vrye
welbehae, Here. Ons laat dit aan u oor. Laat ons veilig gaan aan
u hand. Met ons oog op U gerig. Help ons daarby as ons aangaan
die u tafel en daarna in die lewe van elke dag.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)