Die Here waarborg die voortgang van lewe op aarde.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-09-03
Teks: 
Génesis 8
Preek Inhoud: 

Genesis 8:20-22

Ds C Kleyn - Sondag 3 September 2000

Lees: Genesis 8:15-9:17.
Sing: Ps 95:1,2,3; Ps 86:3,6; Ps 104:10, 17-19; Ps 36:2,3; Ps 65:4-6.

Tema: Die Here waarborg die voortgang van lewe op aarde.

  1. Die grond van die waarborg;
  2. Die doel van die waarborg.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wat beteken dit vir u as u soggens die son sien opgaan en as u saans die son sien ondergaan vir die nag? Wat beteken dit vir u wanneer u die verandering van die jaargetye ervaar? In die afgelope week het die lente weer begin. Die warme weer begin weer oor ons te kom. In die natuur het die struike en bome weer begin om uit te bot. In ons area wag ’n mens nou op reën sodat die saad op die land gesaai kan word.

Wel gemeente, wat sit daar agter die ritme in die natuur? Ons weet dat dit nie outomaties gebeur nie. Nee, agter dit alles is ’n bewuste keuse en daad van God. Dit is duidelik in ons teks waar die Here sê: "Ek sal die aarde verder nie meer vervloek ter wille van die mens nie. ….Van nou af sal al die dae van die aarde, saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie ophou nie." Die Here het alles op sy plek gesit.

Die Here waarborg die voortgang van lewe op aarde

  1. die grond van die waarborg
  2. die doel van die waarborg.

Wel gemeente, die heilsame ritme in die natuur is nie vanselfsprekend nie. Kyk maar na wat met die sondvloed gebeur het. God kon die boosheid van die mense op aarde nie meer verdra nie. Wat het God toe gedoen? Hy het alles onderstebo gekeer as ‘t ware. Hy het die orde, die vaste patrone wat Hy in plek gesit het genegeer. Water het orals vandaan gekom, van benede en van bo, ononderbroke vir 40 dae. Probeer dit u voor te stel. Vergelyk dit maar met die vloede wat ons in die begin van hierdie jaar in die Noorde van ons land en veral in Mosambiek gehad het.

Ons is reeds onder die indruk met ’n sware stortbui van slegs ’n uur. Na ’n uur is bv die tuin van die pastorie reeds onder water en stroom die water langs die Fratesweg soos ’n riviertjie. Wel, kan u u voorstel wat sou gebeur as dit ononderbroke vir 40 dae sou aanhou? Die water het vir ’n volle jaar op die aarde gebly. Tydens die periode kon die gewone lewe onmoontlik voortgaan. Die aarde het onbewoonbaar geword. ’n Mens kon nie saai of maai nie. Toe die son weer eindelik na die tyd deurgebreek het, kon dit geen nuwe lewe laat uitloop en bloei nie. Alles was onder water.

Ja, dis wat in die verlede gebeur het en wat weer kon gebeur het as God nie anders besluit het nie. Dis wat kon gebeur het as God ons sou gee wat ons verdien. Waarom het God immers die sondvloed oor die aarde laat kom? Was dit nie vanweë die boosheid van die mens nie. Luister maar na wat God in Gen 6: 5-7 sê: "Toe die Here sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was, het dit die Here berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het." So sleg was dit toe.

Is dit vandag beter? Is dit nie opvallend dat God in ons teks, dus onmiddellik na die sondvloed, sê dat die versinsels van die mens se hart sleg is van sy jeug af nie? Dis dieselfde woorde as wat God voor die sondvloed gebruik het om die verdorwenheid van die mens aan te dui. God het die aarde skoongemaak vanweë die groot verdorwenheid. Blykbaar het die menslike natuur egter onveranderd gebly. Van nature is die mens niks beter na die sondvloed nie.

Is dit nie opvallend nie? Sou u nie verwag het dat dit na die sondvloed anders sou wees nie? Was Noag nie ’n regverdige, opregte man wat met God gewandel het nie (Gen 6:9)? Op ’n gereinigde aarde met slegs die regverdige Noag en sy gesin verwag ’n mens tog dat dit baie beter sal wees. Ja sou verwag dat dit amper ’n terugkeer na die paradys sou wees.

Onmiddellik na die sondvloed sê die Here egter: "Ek sal die aarde verder nie meer vervloek ter wille van die mens nie, want die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af." Dit is veelseggend en beskamend, na so ’n groot skoonmaak aksie. Ons menslike natuur bly onveranderd. Ons ontdek dit kort na die sondvloed, selfs by die regverdige Noag. Noag word dronk. Gam skeer die gek met hom. Daar ontstaan bitterheid. Skerp woorde val. Die Here het wel die aarde skoongemaak en Noag en sy gesin gered. Maar deur Noag en sy gesin te red het die bron van sonde gebly, naamlik die menslike hart wat tot kwaad geneig is.

Daarom wat ons hart betref het die sondvloed nie ’n egte nuwe begin gebring nie. Tydens sy omwandeling op aarde het Christus, wat ons harte ken, daarom gesê: "Want uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal. Dit is hierdie dinge wat die mens onrein maak." (Mt 15:19).

Waarom sê die Here dit? Sodat u en ek daarvan bewus sou wees, in hierdie wêreld en in ons eie lewe. Elke mens is in sonde ontvang en gebore en daarom geneig tot alle kwaad. Ons weet dit almal so goed. Ons belydenis praat daar tog oor? Maar neem u dit ook ernstig? Hoe dikwels maak ons nie asof ons uit onsself goed kan doen nie? Of dat ons harte ons tot goeie dinge aanspoor? Hoe dikwels neem ons nie beslissinge op grond van: ‘ek voel, ek dink’ nie? Ek dink dat dit nie verkeerd is nie, terwyl ons daarby nie die moeite doen om te luister na wat God daarvan dink nie. Of: volgens my is dit reg, sonder dat ons ernstig die woord van God daaroor raadpleeg.

Geliefdes, as ons op hierdie manier redeneer dan vertrou ons op die versinsels van ons hart. Want dit is waar die ‘ek voel’ en ‘ek dink’ vandaan kom. Maar Christus sê: jy kan jou natuurlike hart nie vertrou nie, selfs nie as jy ’n kind van God is nie. Noag het met God gewandel (Gen 6:9). God het hom en sy gesin as die enigste tydens die sondvloed gespaar. As iemand sou kan sê: ek voel, ek dink, dan sou dit wel die regverdige Noag wees. Maar hy is net terug op die droë grond en God sê: nee, die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af. As dit van hom en sy kinders sou afhang dan sou na ’n periode ’n nuwe vloed nodig gewees het.

Maar God besluit anderste. "Ek sal die aarde verder nie meer vervloek ter wille van die mens nie. … Ek sal verder nie meer al die lewende wesens tref soos Ek gedoen het nie." Die lewe op aarde sal bly voortbestaan. So lank as die aarde bly bestaan. "Van nou af sal al die dae van die aarde, saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie ophou nie."

Waarom besluit die Here dit? Waarom waarborg Hy nou die voortgang van lewe op aarde, ondanks ons sondige harte. Terwyl dit vanweë die sondige harte en lewens was dat Hy die vloed oor die aarde laat kom het en die lewe vernietig het?

Die grond vir die besluit hou verband met wat Noag doen. Wat is die eerste ding wat Noag doen nadat hy alles uit die ark laat uitgaan het? Die eerste ding wat hy doen is om vir die Here ’n altaar te bou en daarop brandoffers te bring. As die Here die lieflike geur van die offers ruik, dan sê die Here in sy hart: "Ek sal die aarde verder nie meer vervloek ter wille van die mens nie." Die Here skep behae in Noag se verering van Hom en besluit dat Hy nooit weer so iets sal doen nie maar dat Hy sy skepping sal bly onderhou.

Beteken dit dan dat God se besluit op Noag se dade gebaseer is? Is dit vanweë Noag se trou dat God nou belowe om trou te wees? Is God se keuse afhanklik van Noag se keuse? Indien dit waar sou wees, dan sou God die mens volg, pleks van omgekeerd dat God voorop loop en die mens Hom volg. Wel laat ons noukeuriger kyk. Wie wys die pad in hierdie geskiedenis? Het Noag uit homself dit uitgedink om vir God offers te bring? Nee, dit is die Here wat die mens geleer het om offers te bring. God het dit reeds in die tyd van Kain en Abel gewys dat Hy behae skep in diere offers wat in geloof en ootmoed gebring word.

Noag het dit ook van die Here geleer. Let daarop dat die Here Noag geinstrueer het om van al die reine diere telkens sewe paar te neem in die ark, terwyl hy van die diere wat nie rein is nie slegs een paar moes neem. Waarom hierdie ekstra reine diere? Een van die redes is dat die reine diere nodig is om daarmee vir die Here offers te bring.

Sou dit werklik vanweë Noag se goedheid wees dat God kies om goed te doen? Waarop wys die offers? Wys dit op die goedheid van die offeraar? Beslis nie. Die brandoffers wys juis op die sondigheid van die offeraar. Dis is in prinsipe ’n belydenis van skuld. Met die offers bely Noag feitelik: "Here, ek staan voor u op ’n skoon gemaakte aarde. Ek moet vir U ’n reine hart en lewe aanbied. Maar ek kan dit nie. U het die diere rein genoem. Ek offer enkele van die reine diere in my plek. Vanweë my sondigheid verdien ek die dood. Here aanvaar hierdie diere in my plek."

Die Here reageer op die offers en sê: Ek sal verder nie meer die lewende wesens tref soos Ek gedoen het nie. Die lewe op aarde sal voortbestaan.

En geliefdes, die werklike motief van die Here om dit te doen was, u het dit miskien al geraai, nie slegs die bloedige diereoffer van Noag nie. Nee, ons moet ’n stap verder. Waarop het die bloedige offer gewys? Dit het gewys op die reine offer van Jesus Christus. Dit was ’n skadu van Christus se versoenende offer aan die kruis. Daar het ons dan ’n man met ’n reine hart en lewe wat vir onreine mense soos u en ek sterwe. Dit was op die grond van die offer van Jesus Christus dat God behae geskep het in Noag se offer en dat Hy verklaar het dat Hy die lewende wesens nie meer sal tref soos Hy dit gedoen het nie.

Dit, broeders en susters, is dan die geheim van die voortgang van lewe hier op aarde, ondanks die sondigheid van die mens. Dit is die geheim van die son wat in die oggend opkom en in die aand ondergaan. Dit is die geheim agter die wisseling van die jaargetye. Dit is die geheim agter saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, reën en sonskyn. Dit is die geheim agter u eet en drink, u werk en slaap. God waarborg die voortgang van lewe op aarde op grond van Christus se offer aan die kruis. Daarom het God nie weer ’n einde gemaak aan die mense en diere wêreld nie, ondanks die slegtheid van die mens, wat in die geskiedenis steeds weer openbaar word het. Christus se offer staan daaragter. Daarom is die Here vir almal goed (Ps 145:9). Daarom laat God sy son opgaan oor slegtes en goeies, en laat Hy reen op regverdiges en onregverdiges (Mt 5:45). Dit is danksy Christus se offer aan die kruis.

Broeders en susters, as u dit besef dan sal u u daaglikse lewe en ervarings anders bekyk. Dan sal u die gawes van die skepping anders hanteer. Dan sal u versigtig met God se skepping omgaan en in ootmoed. Ootmoed, ook wanneer u moontlik groot rykdom en mag besit. Elke sent wat ek het, elke stuk land, die lug wat ek inasem, die gewasse op die velde, die reën en sonskyn, alle moontlikhede wat ek het, is ’n vrug van Christus se offer vir my sonde. As ek dit weet dan sal ek nie spog oor wat ek opgebou het nie. Dan sal ek nie spog oor my eie wysheid en krag nie. Die kruis diskwalifiseer al die grootpratery. Ek kan slegs roem in die Here. Nederigheid en dankbaarheid sal my christelike lewe en werk dan tipeer. Is dit ook so by u? Word u lewe hier op aarde gekenmerk deur nedrigheid en dankbaarheid?

Wel gemeente, ons het gesien dat God goed is vir almal, dat Hy sy son laat opgaan oor slegtes en goeies. Beteken dit dat alle mense aan boord is en dat dit vir elke individuele persoon nou sal regkom. Beteken God se waarborg vir lewe op aarde dat God Hom nou berus in die slegtheid van die mens en dat Hy hulle dan uitlos sonder einde.

As ons dit wil suggereer dan is ons soos die mense waaroor Petrus skrywe in sy 2e brief. Petrus noem hulle spotters. Hulle is mense wat hulle eie begeertes volg en dink dat dit geen probleem is nie. God gryp tog nie in nie. Alles gaan gewoon aan soos dit vanaf die begin aangegaan het: saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag. Daarna skryf Petrus: "Want moedswillig vergeet hulle dat daar van lankal af hemele was en ’n aarde wat uit water en deur water ontstaan het deur die woord van God, waardeur die toenmalige wêreld met water oorstroom is en vergaan het. Maar die teenwoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as ’n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense" (2 Pt 3:5-7).

God se waarborg van lewe op aarde het dus ’n grens. Aan die einde van die vasgestelde periode sal God vuur stuur om die aarde te reinig. In ons teks wys die Here ook op so ’n grens wanneer Hy sê: "Al die dae van die aarde." Dit beteken solank as die aarde voortbestaan sal saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie ophou nie. "Al die dae van die aarde", dit beteken, solank as Ek die Here die aarde onderhou. Die lewe op die aarde sal nie eindeloos aangaan nie. Dit sal voortgaan tot die dag waarop dit sy doel bereik het. Die dag waarop God sê: die aarde is gereed, nou moet ’n nuwe aarde kom, nie deur water gelouter nie, maar deur vuur.

Dit beteken, geliefdes, God waarborg die voortgang van lewe op aarde nie as ’n doel in homself nie, maar as ’n middel om sy doel te bereik. Wat is dan God se doel met die voortgang van lewe op aarde? Die doel is die nuwe Jerusalem, die nuwe hemel en aarde.

Deur die voortgang van lewe op aarde te waarborg skep God ruimte vir die vergadering van sy kerk. Die voortgang van lewe is nodig om te beweeg van Noag na Sem, na Abraham, na Dawid, na Christus, ja, na die nuwe Jerusalem. Midde op die pad wat na die nuwe Jerusalem lei is daar die kruis op Golgota. Die gelowiges van die Ou Testament het die Christus van ver gesien, in die skaduwees. Deur Hom was hulle gered. Die gelowiges van die Nuwe Testament het God se werk van verlossing (Goeie Vrydag, Pase en Pinkster) gesien en in geloof sien ons nou Christus op die troon. En die strydende kerk weet: Christus sal terugkom om alle dinge nuut te maak.

Nooit weer sal daar ’n universele vloed wees nie. God het sy toorn uitgestort oor sy Seun op die kruis. Deur sy verbond met Noag en alle lewende wesens het God die verbond met Abraham en sy nageslag, ja ook met ons en ons kinders moontlik gemaak. Die evangelie kan nou tot die einde van die aarde verkondig word. Die hele aarde is God se akker. Christus se offer aan die kruis moet vrug dra. Baie mense van oor die hele wêreld moet tot bekering kom. Hulle moet deel hê aan die vergewing van sondes en na die beeld van Christus vernuwe word. God wil eers vir homself ’n volk vergader wat tot die ewige lewe uitverkies is, mense wie se harte deur sy Gees vernuwe is sodat hulle vrugte dra wat God behaag. ’n Volk vir God gereed gemaak, gereed vir die nuwe hemel en nuwe aarde.

Nooit weer sal daar ’n universele vloed wees nie. God wil nog baie mense laat glo in Christus as gekruisigde. Deur sy waarborg van lewe skep God vir ongelowiges nog die moontlikheid om tot Christus te vlug. Deur sy skepping nog te onderhou spoor God u en my aan om lewende lidmate van Christus se kerk te wees.

God het ’n teken van die verbond, wat Hy met Noag en al die lewende wesens opgerig het, gegee: die reënboog. ’n Teken vir alle mense, vir gelowiges en ongelowiges. As die wolke kom en die reën val, sal dit nie weer wees om alle lewe te verwoes nie. Nee, daar sal ook strale van lig wees. Die reënboog sal aan die hemel in die wolke verskyn. En as die reënboog verskyn dan beteken dit: dit is nie die einde nie. God bly sy skepping onderhou, ondanks al die ongeloof en slegtheid van mense.

Die boog beteken: daar is nog ’n uitweg, Jesus Christus, die weg, die waarheid en die lewe. Die reënboog verskyn bo gelowiges en ongelowiges, bo spotters en aanbidders van God. As ek die boog sien dan weet ek: God is goed. Hy gee om vir ongelowiges en gelowiges, vir diere, vir sy wêreld, ja, vir my. Hy gedenk sy verbond met Noag en al die lewende wesens. Hy onderhou sy skepping. Hy gee saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag. Sou ek Hom dan nie prys nie? Prys Hom vir die verlossing waaraan jy mag deelhê. Die onverdiende genade. Die reënboog wys elkeen op Christus. Glo in Hom. Breek met die sonde, voordat dit te laat is, voordat die reinigende vuur op die aarde kom. Wee hom of haar wat ondanks hierdie goedheid nie tot Christus vlug nie. Tot Christus, die enigste verlosser waardeur ons gered kan word.

Elkeen sal ter verantwoording geroep word: wat het jy gedoen met die natuur verbond met Noag, waarin jy begrepe was? Het jy werklik in My geglo en vir My geleef? As jy soggens opstaan om ’n nuwe dag te begin, eer jy My as Skepper en Verlosser? As jy sien dat die saad opnuut op die land gesaai word, prys jy My wel daarvoor? Of as die gewasse geoes word? As jy jou studie kies en volg of as jy jou daaglikse werk doen, gee jy aan My die eer wat My toekom, ook as jy geniet van die nuwe uitvindinge van die laaste eeu? Elke nuwe dag maak die oordeel des te swaarder vir hulle wat weier om tot Christus te vlug. God is nog vir almal goed. Hy is geduldig. Hy bly nog roep. Hy roep julle almal jong en oud in alle erns tot Christus. Hy roep jou via die normale ritme in die natuur. Verneder jouself voor die Here. En Hy sal jou verhoog. Dan sal die universele vuur jou nie beseer nie. Dan sal jy mag deel in Christus se heerlikheid.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)