Aan die nagmaal vind ons rus in die een offer wat Christus aan die kruis volbring het.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-11-12
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 30
Preek Inhoud: 

Sondag 30
Ds C Kleyn - Sondag 12 November 2000

Lees:

Hebreërs 10:1-18; Sondag 30.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 105:1; Ps 105:2; Ps 40:3,4; Ps 40:5,8; Ps 148:1,5.

Tema: Aan die nagmaal vind ons rus in die een offer wat Christus aan die kruis volbring het.

  • Die rus word teenoor Rome bely;
  • Die rus word deur die geloof geniet; en
  • Die rus word aan die ongelowiges ontsê.
  •  

    Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

    In Sondag 30 bely ons dat ons ons rus vind in die verlossingswerk wat Christus volbring het. Via ’n konfrontasie met Rome bely ons dat slegs een offer vir ons sondes nodig was en dat Christus dit eens en vir altyd aan die kruis volbring het.

    Na Christus se dood en opstanding het hy opgevaar na die hemel. Dit was geen bykomstigheid nie. Dit was noodsaaklik. Waarom? Wel, die Ou Testamentiese hoëpriesters moes die bloed in die allerheiligste van die tempel bring. So moes Christus die ware en hemelse heiligdom binnegaan om sy offer voor die troon van God te bring. Hy moet priester op sy troon wees. Daar in die ware heiligdom moet Hy as ons Hoëpriester dien. Hy bid daar vir ons. Hy wys die Vader steeds weer op sy een offer aan die kruis. Daarom word ons by die viering van die nagmaal opgewek om ons harte op te hef na die hemel, waar Jesus Christus ons voorspraak aan die regterhand van sy hemelse Vader is.

    Brood en wyn wys terug na Christus se offer aan die kruis. Maar dit wys ook na bo, na ons hoëpriester in die hemel. Alleen in Hom vind ons rus. In Hom wat Joh in die middel van die troon gesien het as ’n Lam wat geslag was. Daaraan herinner sondag 30 ons.

    Ek verkondig aan u: aan die nagmaal vind ons rus in die een offer wat Christus aan die kruis volbring het.

    1. Die rus word teenoor Rome bely;
    2. Die rus word deur die geloof geniet; en
    3. Die rus word aan die ongelowiges ontsê.

    Waarom gee ons nog soveel aandag aan die roomse leer? Die meeste Rooms Katolieke weet nie eers wat die mis presies beteken nie. Bowendien, is dit nodig om te bly praat van afgodery wat vervloek is?

    In die laaste jare is daar ’n sekere toenadering tussen rooms Katolieke en protestante. Daarom is dit goed om aandag aan hierdie saak te gee. Baie protestante het moeite met die uitdrukking van die kat. Hulle onderskei die leer van Rome nie meer nie. Wat vroeër as afgodery afgewys is, het nou ’n sekere bekoring gekry. Die liturgie van Rome maak indruk op mense. Mense probeer om die armoede van hul kerkdienste deur liturgiese vernuwinge te kompenseer. Asof die kerk van Christus gered kan word deur die liturgie en nie deur die lewende woord van God nie. Die oortrokke aandag vir die liturgie het weer alles te make met die gronddwaling van Rome waaroor ons straks hoop te spreek, naamlik die dwaling dat ’n mens self kan bydra tot sy verlossing.

    In die liturgie van Rome staan die altaar sentraal. Wat daar gebeur vorm die hoogtepunt van die roomse erediens. Alles is gefokus op die offer wat daar gebring word. Die prediking is ook daaraan ondergeskik.

    Wat is dan die waarde van die offer? Dit is nie slegs ’n herinnering aan die offer van Christus nie. Dit vorm in wese ’n onbloedige herhaling daarvan. Of soos hulle dit teenwoordig sê: ’n representasie daarvan. Die offer van Christus word daarin opnuut teenwoordig gestel. Brood en wyn verander volgens hulle in die liggaam en bloed van Christus. So word Christus dan nog daagliks deur die priesters geoffer. Sonder die mis is daar geen versoening nie. Slegs deur die mis kry die kruisoffer daadwerklik die krag om ons met God te versoen. Christus se versoeningswerk is dus afhanklik van die medewerking van die roomse priesters. Hulle is die onmisbare middelaars van die nuwe verbond. Asof ons nie voldoende het aan die een Middelaar van die verbond, Jesus Christus nie.

    Rome leer nog steeds dat die lewendes en die gestorwenes (en daarmee bedoel hulle diegene wat in Christus gesterf het) nie deur die lyding van Christus vergewing van sondes het nie, tensy Christus nog daagliks vir hulle deur die priesters geoffer word. Die een offer van Christus is blykbaar nie voldoende nie. Selfs die gelowiges wat gesterf het, het nog geen rus nie. Hulle sug in die sogenaamde vaevuur. Die werk van Christus moet eers aangevul word. Deur die priesters.

    Hier sien u by die hoogtepunt van die roomse liturgie die dwaling van sinergisme, dws God en mens moet saamwerk aan die verlossing. Die sinergisme is die gronddwaling van die RK leer. Die menslike verlange om self iets tot sy verlossing by te dra word bevredig. Dit is nie Christus alleen nie, maar Christus plus die mens, verteenwoordig deur die priester. Dis nie sonder rede dat die kat konkludeer dat die mis in wese niks anders nie as ’n verloëning van die enige offer en lyding van Jesus Christus is nie. Die mens wil homself bly red. Sonder die kerk sou Christus se werk geen aktuele gelding hê nie, nie reëel wees nie. Christus moet daagliks deur die priesters geoffer word, anders is daar geen vergewing, geen versoening nie.

    Broeders en susters, hierdie dwaling van sinergisme lê sedert die sondeval na aan ons hart. Ons vind dit baie moeilik om met leë hande tot God te gaan. Ons wil so graag self iets bydra. Ons wil Christus halfpad tegemoet kom. Die dwaling van Rome staan dus nie ver van ons af nie, soos ons weleens dink. As ek rus wil vind in die offer wat Christus eenmaal gebring het, dan moet ek alle menslike hoogmoed radikaal laat vaar. As ek maar enigsins roem in my geloof, my vroomheid, my gedrag of my trou, dan is ek skuldig aan dieselfde dwaling as Rome: dit is ’n verloëning van die enige offer van Jesus Christus en ’n vervloekte afgodery van myself.

    Wat ’n verskil tussen die eenvoudige viering van die nagmaal en die indrukwekkende liturgie van die roomse mis. Tog het die sober viering van die nagmaal ’n rykdom en krag wat ver uitgaan bo die indrukwekkende handelinge van die roomse priesters. Ons het geen altaar nie en ons wil nie weet van ’n aanvullende offer van die kerk nie. Ons het geen priesters meer nodig nie. Ons enigste hoëpriester het in die hemelse heiligdom binnegegaan. My sonde wat skeiding gemaak het tussen God en my is versoen. Met sy een offer aan die kruis het Christus die versoening bewerk. En Hy het dit ingedra in die hemelse heiligdom voor die troon van God. Die pad na die Vader is nie meer toe nie maar oop. Daar is rus vir God se kinders.

    Die eenvoudige nagmaal wys ons op Christus volkome offer wat Hy eens en vir altyd aan die kruis volbring het. Dit is die enigste grond van ons saligheid. Ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus (1 Kor 5:7). Rome, en ook die moderne liberale teologie, ontneem ons die enigste grond van ons heil. Hulle dink dat hulle met hul liturgie veel ryker as ons is. Christus vlees en bloed word naby die mense gebring, hulle mag die ware vlees van Christus eet. Maar wat is hulle in feite arm. Daar is nog geen vaste grond onder hulle voete nie. Die versoeningswerk moet nog steeds deurgaan. Elke dag is daar weer die muur wat skeiding bring tussen God en die mens. Daarom moet elke dag die soenoffer gebring word. Die grond van die heil moet nog steeds gelê word. En die mens moet daarby te pas kom.

    Broeders en susters, u mag egter rus vind in Hom wat alles reeds volbring het. In Hom wat ’n einde gemaak het aan alle priesterdiens en offers. U het elke oomblik, elke dag vaste grond onder u voete. Die grond van u heil is reeds vasgelê. Geen mens hoef daarby te pas te kom nie. Gelukkig nie. Want dan sou alle vastheid weer verdwyn. Christus is die middelaar van die verbond, die enigste grond van ons heil. Dit gee ons rus vir ons siel en sekerheid elke dag weer.

    Nou die tweede gedagte: die rus in die volbragte werk van Christus word deur die geloof geniet.

    Aan die nagmaalstafel gebeur daar niks misties of outomaties nie. Ek kry daar nie outomaties deel aan Christus nie. Dit sou wel die geval wees as die brood inderdaad in die liggaam van Christus sou verander. Maar Christus is liggaamlik in die hemel. Hy bly daar totdat Hy terugkom op die laaste dag. Die brood en die wyn is slegs tekens en seëls van sy liggaam en bloed. Hoe kan ek dan met Christus verenig word, sodat wat Christus gedoen het ook vir my geld? Dis slegs deur die geloof. Deur die geloof pluk ek die vrugte van die nagmaalsviering. Ek word versterk in my vertroue op Christus se offer. Ek word bevestig in die rus van die kinders van God. Die seëls verjaag die twyfel. "Dit is my liggaam vir u." "Dit is die nuwe verbond in my bloed." Die gelowige verstaan hierdie taal en geniet van die rus wat aangebied word.

    Gemeente, hoe die gelowiges lyk, beskryf die kat in antwoord 81. Die gelowige word gekenmerk deur die kennis van sy ellende, van sy verlossing en van sy dankbaarheid.

    Hierdie kenmerke het niks te make met bepaalde voorwaardes wat ek self eers sou moet vervul nie. Dit is nie so dat ek voor elke nagmaal sou moet kan sê: dit het ek van my kant gedoen. Daarom is ek nou waardig om aan te gaan. Sulke gedagtes lyk op die sinergisme wat ek eerder genoem het.

    As ons praat van die voorwaardes vir die deelname aan die nagmaal, dan gaan dit oor die bewyse van God se genade. Die geloof is geen eie prestasie nie, maar ’n bewys van God se verlossingswerk. So roem ons uitsluitend in God, wanneer ons spreek oor die kenmerke van die gelowiges.

    Christus het sy nagmaal slegs ingestel vir hulle wat deur ’n ware geloof in Hom ingelyf is. Hy wil daardeur die geloof versterk. Hoe weet ek dat ek die geloof besit? Uit die vrugte. Eers is daar sprake van ’n afkeer van onsself hê vanweë ons sondes. Ek moet myself ken in my ellende en verlorenheid. Ek moet alle krone voor Christus neerwerp. Ek moet aanvaar dat ek hulpbehoewend is. Dat ek ’n pasiënt is.

    So het Jesus Christus tydens sy omwandeling op aarde met die tollenaar Matteus en sy soortgenote aan een tafel gesit. Vir Hom was die eetsaal ’n soort siekesaal waar mense sy hulp dringend nodig gehad het. So verklaar Hy sy optrede teenoor die Fariseërs: "Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is" (Mt 9:12). Jesus haal nie sommer sondaars aan nie. Hy wil dat die gaste hulle by Hom aanmeld as siekes, sodat Hy hulle kan help. Slegs hulle wat aanvaar dat hulle siek is, laat hulleself behandel.

    Die gasheer van die nagmaal is dieselfde wat eens as arts by ’n tollenaar en sy vriende aangesit het. Aan sy tafel wil Hy julle, wat aanvaar dat julle siek is, behandel. Sy maaltyd is spesiaal vir sulke pasiënte. Elkeen wat vanweë sy sondes ’n afkeer van homself het, is aan sy tafel welkom. Hierdie afkeer is chronies van aard. Ek bly immers las hou van swakhede wat nog in my oor is. Met die swakhede kom ek na die nagmaalstafel. By my is daar ook nog slegte gedagtes en verkeerde gevoelens. Tog vertrou ek dat my skrikbarende skuld met Christus se lyding en sterwe bedek is. As ek daarop vertrou dan is ek aan die tafel hartlik welkom.

    Dit klink rojaal. Maar wanneer is my vertroue in die vergewing groot genoeg om die nagmaal te mag vier? Ek het ’n afkeer van myself. Dit plaas my vertroue in die vergewing onder druk. Juis vanweë my afkeer het ek nie altyd die sekere gevoel dat my sondes bedek is nie. Wanneer is my vertroue in die vergewing dan vas genoeg om daarmee na die nagmaal te mag gaan?

    Broeders en susters, gelukkig word niemand opgeroep om na te gaan hoe vas sy geloof is nie. Die formulier vir die viering van die heilige nagmaal praat daarvan dat ek myself moet ondersoek of ek die vaste belofte van God glo dat al my sondes my vergewe is. Die vraag is dus nie hoe vas my geloof is nie, maar hoe vas God se beloftes vir my is. Dis nie beslissend hoe vas ek glo nie, maar of ek opreg glo in God se belofte. Om die nagmaal te vier hoef ek geen groot of sterk geloof te hê nie, maar moet ek ’n opreg geloof hê. Of my geloof opreg en dus waar is, kan ek by myself nagaan. Ek wil my swak geloof hoe langer hoe meer versterk. En al leef ek allesbehalwe volmaak, ek wil my lewe verbeter. Vir sulke pasiënte is die nagmaal ingestel.

    So het ons dan die drie kenmerke van die gelowiges: Ek moet kennis hê van my ellende, van my verlossing deur Christus alleen en van my dankbaarheid. Ek moet die rus vir my siel soek en vind in die enige offer wat Christus aan die kruis volbring het. Dit is wat die nagmaal vir my wys. Dat is wat die nagmaal vir my bevestig en verseker. Daar is rus vir sondaars by die offer wat Christus eens en vir altyd volbring het. Ons vier daar aan die tafel wat Ps 130 so mooi vir ons verwoord:

    As U, o Heer, die sonde
    Na reg wou gadeslaan,
    Wie sou een enk’le stonde
    Voor U, o Heer bestaan?
    Maar nee, daar is vergewing
    Altyd by U gewees;
    Daarom word U met bewing
    Reg kinderlik gevrees.

    Nou kortliks die laaste gedagte: die rus word vir die ongelowiges ontsê.

    Die ongelowiges het geen deel aan Christus nie. Hulle behoort nie aan die nagmaalstafel nie. Daarom waarsku die kat die huigelaars en onbekeerdes om van die nagmaal weg te bly. Hulle eet en drink ’n veroordeling oor hulleself.

    Daarom moet ook elkeen homself beproef. Die mense kan nie in die hart kyk nie. God wel. En Hy let op die gesindheid van die hart. Dit is vir Hom beslissend. Wat die mense van ons sê of dink is nie die maatstaf nie. Die mense laat hulle dikwels mislei deur uiterlikhede. En selfs die huigelaars kan hulle mooi voordoen. Hulle doen asof hulle glo. Hulle gaan trou kerk toe. Hulle neem ook deel aan die nagmaal. Omdat hulle huigelaars is, kan ons hulle nie van die nagmaal afhou nie. Ons kan hulle slegs in die algemeen hulle waarsku. Daarna lê die verantwoordelikheid by hulle.

    Ons kan ook ware gelowiges verkeerd beoordeel deur slegs te let op uiterlikhede. In daardie geval sien ons die persoon se sondes, swakhede, struikelinge. Op grond daarvan veroordeel ons hom. Ons neem nie die moeite om die persoon werklik te peil nie. Daardeur weet ons nie hoe moeilik die persoon self dit daarmee het, hoe hy daarom ook ’n afkeer van homself het nie. Die intense geloofsstryd met die Here staan buite ons gesigsveld. Daarom sal ons wel versigtig moet wees in die beoordeling van ons naaste. Terwyl ons sien op onsself. Ook ons struikel nog daagliks. Maar dit maak ons tog nie tot ongelowiges nie? Die kat praat nie van mense wat hulle volmaak tot God bekeer nie. Niemand sal immers tydens hierdie lewe volmaak in sy bekering wees nie. Die sonde het ons so afgestomp sodat ons dikwels maar ’n gebrekkige kennis van die verkeerde en sondige dinge in ons eie lewe het. Daarom moet ons bly jaag na die volmaaktheid. Beslissend is egter nie ’n volmaakte bekering nie, maar dat ons ons van harte bekeer. Dat ons van harte oor ons sondes berou het en werklik begeer om ons lewe te beter.

    As iemand hom egter deur sy belydenis en lewe wys dat hy ongelowig en goddeloos, is dan het die kerk die taak om hom van die nagmaal te weer. Dit gaan dan nie noodwendig oor mense wat soveel slegter is as die ander kerklede nie. Hul skuld is ook nie te swaar vir die offer van Christus nie. Die een offer is immers voldoende om die sonde van die hele wêreld te versoen. Dit gaan oor mense wat in hul hart nie wil breek met hul ou bestaan nie. Hulle weier om hulle te bekeer. Hulle weier om hul kwaal te erken en om genesing daarvan te soek. Hulle kan dan nie genesing vind by die enige offer van Christus nie. Hulle hoort nie aan die tafel nie.

    Gemeente, God se genade is groot. Hy wil u rus vir u siel gee, in die offer wat Christus eens en vir altyd volbring het. Daar is egter niks so ernstig as God se genade nie. Daar kan ’n mens nie mee spot nie. Deur ware geloof kan ek van die rus geniet. Wee my egter as ek Hom en sy beloftes nie in geloof omhels nie. Dan verbrand ek my aan die heilige sakrament. Want dan is God vir my ’n verterende vuur.

    AMEN

     

    Kopiereg word voorbehou.
    Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

    Liturgie: 

    (kyk in preek)