Paulus spoor die ampsdraers aan tot troue vervulling van hul ampsdiens.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-11-19
Teks: 
I Timótheüs 3
Preek Inhoud: 

1 Timótheüs 3:1,13
Ds C Kleyn - Sondag 19 November
2000

Lees: 1 Timótheüs 3.
Sing: Ps 95:1,2; Ps 95:4,5; Ps 80:1,10;
Ps 23:1,2,3; Ps 134:4; Ps 135:1,11.

Tema: Paulus spoor die ampsdraers aan tot
troue vervulling van hul ampsdiens.

Hy doen dit deur te wys op

  1. die mooie van hul werk; en
  2. Die loon van hul werk.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Nou nou hoop ons 6 ampsdraers te bevestig in
hul amp. 6 Broers tree af terwyl 6 ander aantree. By so ’n
geleentheid kan daar gevoelens van oplugting of van versugting
wees. Dit gebeur dat ’n aftredende ampsdraer dink: gelukkig,
my tyd is verby, ek kan nou weer op asem kom. Die een sien ’n
las van hom afgly. Die ander sien die las op sy skouers teregkom.
Dit is veral die swaarte van die ampsdiens wat dan voor oë staan.
Daar word veel van jou as ampsdraer gevra, ook van jou vrou en
gesin. Die vraag klem: kan ek dit wel volbring? ’n Bietjie
selfkennis maak die vraag nog klemmender. Wie is in staat om
dienaar van Christus te wees, om sy sake in die gemeente te
behartig? Ons ken onsself as mense wat soms met lood in die
skoene op pad gaan. Dis nie maklik om altyd die juiste woord op
die juiste oomblik te sê nie.

Dit is, broeders en susters, veral die apostel
Paulus wat in die sogenaamde Pastorale Briewe (naamlik die briewe
aan Timotheus en Titus) die ampsdraers veel bied vir hul
ampsdiens. Hy gee hulp aan die helpers. Die besondere van die
briewe is dat hulle nie aan ’n bepaalde gemeente gerig is
nie, maar aan bepaalde persone, aan die ampsdraers Timotheus en
Titus. En dit om hulle te ondersteun by hul moeilike arbeid. Die
een te Efese en die ander op Kreta. Timotheus het blykbaar die
bemoediging nodig. Hy is nog jonk en is nie baie gesond nie. Hy
durf soms nie so goed nie. Hy word nou deur Paulus bemoedig,
aangevuur.

Tegelykertyd ontvang ons duidelike aanwysings
mbt die ampte in die gemeente. Want daar gaan dit oor, oor die
gemeente van die lewende God. Ons sou 1 Tim 3:15 dan ook die
hoofgedagte van die brief kan noem. Daar lees ons: "Maar as
ek vertoef, dan kan jy weet hoe iemand hom moet gedra in die huis
van God, wat die gemeente is van die lewende God, ’n pilaar
en grondslag van die waarheid." Paulus skryf dus sodat die
ampsdraer Timotheus kan weet hoe elkeen hom moet gedra in die
gemeente. Paulus gee so ook duidelike aanwysings vir die
amptelike versorging van die gemeente vandag.

Ek verkondig aan u: Paulus spoor die ampsdraers
aan tot troue vervulling van hul ampsdiens.

Hy doen dit deur te wys op

  1. die mooie van hul werk; en
  2. Die loon van hul werk.

Ons lees in ons teks: "As iemand na ’n
opsienersamp verlang, begeer hy ’n voortreflike taak."
Is dit wel realisties? Is daar mense wat werklik verlang om
ouderling te wees? Is die amp werklik werd om begeer te word? Die
amp eis tog baie van ’n mens? Dit kan baie onrus in jou lewe
bring. Laat niemand daar lig oor dink nie. Jou vrye tyd, wat
reeds so min is, en jou energie, moet jy daaraan opoffer. Wie
begeer nou so ’n amp? Ja, wie jaag of streef daarna om
ampsdraer te word? Hoe dikwels sien ons dit in die gemeente? Dit
gebeur eerder dat mense liewer die amp nie ontvang nie. Bowendien,
as iemand kenbaar sou maak dat hy wel verlang na die amp, hoe sou
u dit ontvang? Word dan nie gou gesuggereer dat die persoon te
veel van homself dink of eersugtig is nie?

Tog keur die apostel die staan na die
opsienersamp nie af nie. Inteendeel. Wie dit doen, begeer ’n
voortreflike werk, sê die apostel. Besef Paulus dan nie dat
eersug ’n rol kan speel nie? Ja seker, in die vervolg,
wanneer hy die vereistes van ampsdraers noem, dan sny hy die pas
af vir eersugtige en selfsugtige mense. Neem bv vers 6: "Hy
moet nie ’n nuweling wees nie, sodat hy nie verwaand word en
in dieselfde oordeel as die duiwel val nie." Wie die amp
begeer om daar self beter van te word, wie homself daarin soek,
moet die amp nie ontvang nie.

Hoe kom Paulus daartoe om die strewe na die amp
goed te keur? Om dit te verstaan moet ons eers goed daarop let
wat presies begeer word. Ons vertaling praat van die opsienersamp.
By amp kan ’n mens dink aan ’n posisie, maar ook aan
’n taak. Uit die vervolg blyk duidelik dat Paulus hier aan
die taak, die werk van die opsiener dink. Paulus praat hier nie
oor mense wat die posisie van opsiener begeer nie, maar oor hulle
wat die werk van die opsiener begeer. Dit gaan hier nie oor
’n ereplek nie, maar oor die ampsdiens.

Dit is ’n voortreflike werk sê Paulus.
Wat is dan die werk van ’n opsiener? Die opsiener doen die
werk van ’n herder wat die kudde wei en daaroor die wag hou.
Die woord opsiener word vir allerlei verbande gebruik, bv toesig
by die bou hou, inspeksie van arbeid; bewaker; opvoedkundige
leier ens. Wanneer die woord vir die werk in die gemeente gebruik
word, dan word veral gedink aan die toesig oor die kudde hou. In
1 Pt 5:1-4 word vir die ouderlinge gesê: "Hou as herders
toesig oor die kudde van God wat onder julle is, nie uit dwang
nie, maar gewilliglik … as voorbeelde vir die kudde."
In Hand 20 noem Paulus die ouderlinge van Efese opsieners wat
deur die Heilige Gees oor die kudde aangestel is om as herders
die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry
het en wat nou deur wolwe bedreig word. Opsieners moet die kudde,
die gemeente van Christus, wei en oor hulle waak. Opsieners moet
na die lidmate omsien. Geen lid mag onversorg en onbewaak bly nie.
Soos ’n reggeaarde herder vir die afgedwaalde, gewonde en
sieke skaap opkom, so moet die opsiener aandag skenk aan die nood
van die lidmate wat aan sy sorg is toevertrou.

By sy werk is die ouderling ondergeskik aan
Christus die Opperherder. Dit kry ekstra nadruk deur die benaming
opsiener, wat letterlik dieselfde as opsigter is. Wat is nou
’n opsigter? ’n Opsigter is nie self die baas of
eienaar nie. ’n Opsigter is geen werkgewer nie, maar ’n
werknemer wat in diens geneem is en wat verantwoording skuldig is
aan die eienaar of opdraggewer. So is dit met die opsieners van
die gemeente. As ouderling is ek nie self die baas nie en die
gemeente behoort nie aan my nie. Ek staan in diens van Christus,
die Eienaar van die gemeente. Ek word deur die Herder Christus
belas met die toesig oor sy kudde. En ek is aan Hom
verantwoording skuldig.

Hierdie werk van opsig word deur Paulus ’n
voortreflike werk genoem. Is dit hoe ons dit ervaar? Dikwels word
dit as moeisaam en teleurstellend ervaar. Om vir die gemeente
verantwoordelik te wees is geen eenvoudige saak nie. Om elke
gemeentelid in sy eie situasie aan te spreek, te vermaan of te
vertroos, is iets waar ’n mens baie kan teen opsien. Tog is
dit ’n voortreflike taak. Waarom? Omdat u in diens van
Christus staan. U kom in sy naam. In sy naam mag u die gemeente
wei en bewaak. U hoef vir elke situasie nie met ’n eie
verhaal te kom nie. Sodat u elke keer iets nuuts sou moet bedink
nie. U word nie aan uself oorgelaat nie. Dit is geen sprong in
die duister nie. U begeef u nie op dryfsand nie. Nee, en dit is
die mooie van die amp, u het vaste grond onder u voete. U mag en
moet kom met die altyd betroubare woord van u Sender. En daarmee
het u iets om vir mense aan te bied. Geen skynsekerhede nie, waar
ons wêreld vol van is, maar ewige sekerhede.

Immers, betroubaar is die woord. Daar is,
broeders en susters, goeie redes om die eerste woorde van die
teks as volg te lees: betroubaar is die woord. Die huidige
vertaling (Dit is ’n betroubare woord) gaan daarvan uit dat
die tweede helfte van vers 1 ’n bekende uitspraak is. Paulus
sou dit met instemming siteer. Daarom die vertaling: dit is
’n betroubare woord ens. Tog vind ons in die grondteks geen
enkele aanleiding vir hierdie opvatting nie. Die aanwysende
voornaamwoord "dit" kom nie voor nie. Daar staan slegs
’n gewone lidwoord voor die woordjie "woord". Ons
doen dus meer reg aan die teks deur letterlik te vertaal:
betroubaar is die woord. Die woord sien dan op die woord van die
evangelie, die woord van God se genade dat Christus gekom het om
sondaars te red. Die woord van die evangelie is betroubaar, sê
Paulus, dit is geloofwaardig. Ek kan daarop staatmaak. Dit is vas
en seker. Daarom is die werk van opsiener so ’n mooie werk.
Dit kom met die betroubare woord. In ’n wêreld vol van
wisselende teorieë, ideologieë, opvattings, in ’n wêreld
vol onsekerhede mag ons kom met die betroubare evangelie. In
hierdie sogenaamde postmoderne tyd waarin alles gerelativeer word,
waarin die waarheid betreklik gesien word. Daarom hoef ek as
ampsdraer nie moedeloos te word nie. Daarom hoef ek nie weifelend
my pad te gaan nie. Ek mag weet: wanneer ek op pad gaan,
huisbesoeke aflê, vermaan en vertroos, het ek vaste grond onder
my voete. Die woord is betroubaar. Ek mag die skape van die kudde
wei in die grasige weide van die Woord. Ek mag hulle daarmee
bemoedig. Ek mag hulle daarmee wys op die gevaar van die
verkeerde paaie, die gevaar van dryfsand. Met die woord mag ek
die kudde wei en daaroor die wag hou. Wat ’n skitterende
taak. Mense kan my as ampsdraer gelukwens. Nie omdat ek so ’n
eervolle posisie het nie, maar omdat ek die betroubare woord van
my Sender mag bedien.

Gemeente, dis duidelik dat die 1ste
woorde van die teks spesifiek oor die werk van die ouderling of
opsiener praat. Dit wil egter nie sê dat slegs die ouderlinge
hulle nou aangespreek moet voel nie. Die basis is ook gelê vir
die werk van die diakens. Hulle word ook uitgestuur met die woord
van hul Sender, ook al behoort die taak van onderrig nie
spesifiek tot hul taak nie. Hul werk van diensbetoon bly egter
nie sonder woorde nie. Dit is gebaseer op en dit gaan gepaard met
die betroubare woord van die evangelie. Daarom kan ons hulle ook
gelukwens. Hulle het vaste grond onder hulle voete.

Vervolgens kan die hele gemeente gelukgewens
word. Christus gee aan die brs ampsdraers ’n voortreflike
taak. Daarom ontvang ons ’n voortreflike diens. Ons ontvang
die voortreflike sorg van Christus dmv die ampsdraers met die
woord wat betroubaar is. Ons mag gewei en bewaar word by die
ewige sekere woord, sodat ons lewe nie ontspoor of strand nie.
Ons dank daarvoor die goeie Herder van die skape.

Bowendien, is die betroubare woord ook aan ons
as gemeentelede toevertrou. Ons word almal geroep tot diensbetoon.
Daarby het ons vaste grond onder ons voete. Ons het vir mekaar
iets om aan te bied. Die woord van die evangelie maak ons ryk,
dit maak ons onderlinge diensbetoon tot ’n skone saak.

In ons teks hoofstuk spoor Paulus die
ampsdraers aan tot troue vervulling van hul ampsdiens. Nie slegs
deur hulle te wys op die mooie van hul werk nie, maar ook deur
hulle te wys op die loon van hul werk. Dit is die tweede gedagte.

Ons lees van die loon van die troue ampsdiens
in vers 13. "Want die wat goed gedien het, verkry vir hulle
’n eervolle plek en veel vrymoedigheid en die geloof in
Christus Jesus."

Paulus praat hier in eerste instansie oor die
werk van die diakens. Hy het netnou die vereistes van die
opsieners en diakens genoem, met daartussen ’n paar
opmerkings oor die vroue, waarmee hy moontlik diakonesse bedoel.
In aansluiting daarop en ter afronding daarvan noem hy ’n
motief om die diakens te stimuleer tot troue diensbetoon soos hy
dit aan die begin van die skrifgedeelte gedoen het tav die
opsieners. Die begin en die einde van die gedeelte, met
daartussen die eise vir die ampsdraers, vorm woorde van
bemoediging voor ouderlinge en diakens afsonderlik en
gemeenskaplik. Ja, so word ons almal as gemeentelede bemoedig vir
ons taak van onderlinge diensbetoon.

As ons let op die beloning wat op die troue
ampsdiens van die diakens genoem word, dan sien ons dat dieselfde
in feite ook vir die ouderlinge geld. Vergelyk dit maar met 1 Tim
5:17. Daar roep Paulus ons op om die ouderlinge wat goed regeer,
dubbele eer te gee. Daaruit blyk dat ook vir hulle ’n
eervolle plek toekom soos vir die diakens.

Die beloning kom egter nie outomaties nie.
Paulus praat duidelik oor hulle wat goed dien en in 1 Tim 5: 17
oor hulle wat goed regeer. Dis nie op grond van hul titel of
posisie dat die ampsdraers dubbele eer verdien nie. Hulle kan ook
hul reg op eer verbeur. Wanneer hulle hul werk nie goed doen nie,
wanneer hulle nie trou is nie.

Dit gaan hier oor ampsdraers wat hul ampsdiens
goed vervul. Hulle ontvang as loon ’n eervolle plek en veel
vrymoedigheid, sê Paulus.

In aansluiting op die 1ste punt kan
ons sê: hulle wat hulself soek in die amp, aan hulle sal die eer
verby gaan. Maar hulle wat hulleself verloën en in hul ampsdiens
die eer van die Herder soek deur na sy kudde om te sien, hulle
sal eer ontvang. Sulke troue dienaars ontvang, terwyl hulle nie
daarom vra nie, ’n eervolle plek. Hulle word geëer om hul
werk. Hulle ontvang agting en aansien in die gemeente.

By die vervulling van die ampsdiens kan daar
aarseling wees. Dit kos moeite om onsself te oorwin. Daar kan ook
’n neiging wees om veral hulle aan te spreek en op te soek
wat ons hoogag. Binne die gemeente is die lidmate almal
verskillend. Een besoek is makliker as die ander. Agtergrond,
ligging en karakter van die lidmate en van onsself speel ’n
groot rol. Maar Christus sê vir ons: soek nie slegs hulle op
waarmee u goed klaarkom nie. Gaan die gemeente in. Sonder
diskriminasie. Laat die vervulling van u roeping nie afhang van u
ontvangs, van die feit dat u werklik welkom is of nie. Doen
gewoon die werk waartoe u geroep word, as troue dienaar van
Christus. En die praktyk sal wys dat u dan juis eer ontvang. Dan
kan dit gebeur dat u met lood in die skoene ’n besoek bring,
om dan te ontdek dat die mense die besoek baie op prys stel. Via
troue ampsdiens, deur gewoon te doen wat God van u vra, ongeag u
verwagtings, sal u ontdek dat u die eer van die ampsdraer ontvang.
Mense met wie ons nie te goed klaarkom nie, kan uiteindelik nie
die troue diensvervulling ontken nie. Dit moet wel respek afdwing
dat u uself in diens van u Herder laat stel, met verloëning van
u persoonlike voorkeur en gevoelens.

Vervolgens noem Paulus nog die vrymoedigheid
wat deur goeie diensvervulling verwerf word. Die vrymoedigheid is
iets waarmee ons as ampsdraers moeite kan hê. Hoe dikwels aarsel
ons nie? Ons voel ons nie in staat om die gemeente in te gaan nie.
Veral as ons dit as moeilike besoeke beskou. Ons kan onsself
onbekwaam ag om te praat, om te vermaan of om te troos. Ons het
nie almal die gawe om vryuit te spreek en op te tree nie. Dit kan
ons behoorlik belemmer. Ons aarsel, ons stel dit uit, om te
ontdek dat dit vir ons steeds moeiliker word.

Ook hier geld: doen gewoon wat God vra. U is
tog in diens van die Herder van die skape? Hy roep. Hy skenk
daarby ook die belofte van bystand. Hy laat u nie alleen gaan nie.
Doen u werk in geloof, vertrouend op Hom. Wat ontdek u dan? Die
vrymoedigheid waar u so na verlang het, word op die manier in u
skoot gewerp. Deur u geloof, u vertroue op Christus Jesus, u
Sender, ontvang u veel vrymoedigheid, nie slegs om te praat nie,
maar ook om op te tree. As u op u Sender u vertroue stel, dan is
u dikwels verras oor uself. U leer om vrymoedig en sonder vrees
te spreek. Wanneer u trou u bes doen, dan kan u met ’n goeie
gewete die mense in die oë kyk. Dan kan u vryuit die dinge sê
wat u moet sê.

Brs ampsdraers, laat hierdie woord van die
apostel u stimuleer tot troue diensvervulling. U ontvang ’n
mooie taak. Ookal is dit soms ook moeilik. Maar u Sender stuur u
met sy betroubare woord. En Hy beloon troue ampsdiens met eer en
vrymoedigheid. Gaan dan in vertroue op Hom op pad.

En gemeente, wees dankbaar vir die voortreflike
werk wat Christus aan u laat verrig. U sal baie tekortkomings
ontdek, maar let tog veral op die een woord, die betroubare
evangelie, wat via mense aan u voorgehou word. Vertrou u toe aan
hulle sorg. Laat u deur hulle wei en bewaak. Eer hulle om hul
werk. Want so is die Here self vir u ’n Herder, wat u rus
gee, wat u wei in die grasige weide van die woord wat red.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)