Deur Jakob en sy seuns te tugtig is die HERE besig om sy verlossingsplan uit te werk

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-01-14
Teks: 
Génesis 37
Preek Inhoud: 

Genesis 37
Ds C Kleyn - Sondag 14 Januarie
2001

Lees: Genesis 37.
Sing: Ps. 146:1,2; Ps. 146:3,4,8;
Ps. 43:1-3; Ps. 33:5,6; Ps. 33:7,8,9

Tema: Deur Jakob en sy seuns te tugtig is die
HERE besig om sy verlossingsplan uit te werk.

  1. Die gemors van Jakob en sy seuns; en
  2. Die HERE se werk van verlossing.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Het dit u ook opgeval dat in Genesis 37 God
heeltemal nie genoem word nie? Nêrens kom God in beeld nie.
Natuurlik kan ons die geskiedenis lees in die lig van die afloop,
wat ons reeds bekend is. In Gen 45 sê Josef vir sy broers:
"Maar God het my voor julle uit gestuur om vir julle ’n
oorblyfsel op aarde te verseker en om julle in die lewe te hou
tot ’n groot verlossing. Julle het my dan nou nie hierheen
gestuur nie, maar God" (Gen 45:7,8).

Inderdaad, as u Gen 37 lees, dan moet u die
afloop in gedagte hou. Maar dit beantwoord nog nie die vraag:
waar is God in Gen 37? Hoe kan Hy Jakob en sy seuns laat doen wat
hulle doen? Waar is die almagtige Skepper en Verlosser van sy
volk?

Ek verkondig aan u: Deur Jakob en sy seuns te
tugtig is die HERE besig om sy verlossingsplan uit te werk.

  1. Die gemors van Jakob en sy seuns
  2. Die HERE se werk van verlossing.

Wat ’n situasie in die kerk van die dae,
in die kerkgesin van Jakob. Wat ’n haat en wedywer. Dit het
reeds begin onder Jakob se vier vrou: Lea, Ragel, Bilha en Silpa.
Dit het voortgegaan onder die kinders. Vier verskillende stel
kinders in een huis. ’n Mens kan die jaloesie en wantroue
voorstel. Verskillende seuns veg vir die eerste plek, die
geboortereg. Die reg sou normaalweg aan die oudste seun van die
eerste vrou behoort. Maar as die eerste vrou nie die liefling
vrou is nie, dan kon die oudste seun van die liefling vrou die
eersgeboortereg opkry. In hierdie verband moet ’n mens ook
die sonde van Ruben dat hy geslaap het met sy vader se byvrou
Bilha sien. Ruben, Jakob se eerste seun via Lea, wil homself as
eersgeborene laat geld (Gen 35). So is daar dan die interne stryd
in Jakob se huis. As gevolg van die afwyking van die
oorspronklike instelling van die huwelik soos God dit bedoel het,
naamlik ’n huwelik tussen een man en een vrou. Poligamie,
die huwelik van een man met verskeie vroue, veroorsaak baie
ellende.

En, gemeente, wat ’n wëreldgesindheid en
sonde. Een van die eerste dinge wat ons in ons hoofstuk lees, is
dat Josef die slegte gerug oor sy broers na sy vader oorgebring
het. Terwyl hy sy broers gehelp het om die kleinvee op te pas,
het Josef die slegte gedrag van sy ouer broers gehoor en gesien.
Hulle het ’n slegte reputasie. Daar gaan ’n slegte
getuienis van hulle uit. Is dit die manne wat weier om die gode
van Kanaän te dien en wat daarop aanspraak maak dat hulle die
enige ware God dien? Wat ’n pragtige godsdiens moet dit wees.
Let maar op hulle houding en gedrag. Wat ’n rukkie gelede by
Sigem gebeur het, het Jakob en sy seuns reeds ’n slegte naam
onder die Kanaäniete besorg. Deur bedrog het hulle alle manne
van Sigem vermoor en hul stad geplunder. Die seuns was
onbetroubaar. Soos hul vader Jakob, wat sy eie vader Isak bedrieg
het en meermale via lis en bedrog homself probeer red het. Die
naam van Jakob se God word opnuut in opspraak gebring, vanweë
die gedrag van sy seuns. Josef dink dat hy die gedrag van sy
broers aan sy pa moet vertel.

Daarom haat sy broers hom. Wat doen Jakob in
die situasie? Hy maak die situasie nog erger. Hy benadruk sy
liefde vir Josef. Hy behandel Josef as sy liefling. Ons lees in
vers 3: "En Israel het Josef meer liefgehad as al sy seuns;
want hy was vir hom ’n seun van die ouderdom; en hy het vir
hom ’n lang rok met moue gemaak." Dis een van die
slegste dinge wat jy in ’n gesin kan doen, tensy jy die
gesin uit mekaar wil dryf. Hoe kan Jakob so dwaas wees? Uit eie
ervaring kon hy weet hoe rampspoedig die voortrekkery van sy
ouers in die lewe van hom en sy broer was. Sien wat gebeur het
toe sy vader Isak Esau wou voortrek. Maar Jakob het sy les nie
geleer nie. Hy maak ’n lang rok met moue spesiaal vir Josef.
Hy wil dat Josef uitstaan as sy liefling, as ’n prins.

Hoe dwaas is Jakob. Hy soek moeilikheid. Dit
maak die haat en woede van Josef se broers nog erger. Bowendien,
Jakob is daaraan skuldig dat hy volgens sy eie gevoelens en
voorkeur handel, pleks van volgens die wil van die Here. Hy is
net so eiewillig as Isak toe hy Esau wou seën. Hy soek en volg
nie God se wil nie. Hy maak sy eie keuse.

Jakob moes dieselfde aandag gee vir al sy seuns.
Hy moes selfs ekstra sorg aan hulle bestee vanweë hul wêreldse
gesindheid. Om hulle te trek en te korrigeer. Maar Jakob laat hom
lei deur sy gevoelens en stoot hulle af. Ons lees in vers 4:
"Toe sy broers sien dat hulle vader hom meer as al sy broers
liefhet, het hulle hom gehaat en kon nie vriendelik met hom praat
nie." Josef se broers kan nie eens ’n vriendelike woord
met hom wissel nie. So sterk haat hulle hom. ’n Pragtige
kerkgesin!

Dan lees ons van Josef se drome. Dit maak die
haat en jaloesie alleen maar erger. "Wil jy miskien oor ons
regeer? Of wil jy miskien oor ons heers?" Wel, hulle sal
daarvoor sorg dat dit nooit sal gebeur nie, ook al beteken dit
dat hulle hom moet doodmaak. As Josef hulle later in Dotan opsoek
om na hul welstand te verneem, hou hulle raad teen hom om hom
dood te maak. Nou hy sover van huis is, dink die broers dat hulle
sonder gevaar die dood van die dromer kan beplan. Sy liggaam kan
maklik weggesteek word in een van die putte. Hulle kan dan vir
hul vader sê dat ’n wilde dier hom opgeëet het. Hulle sal
dan wel sien wat van sy drome word.

Ruben die oudste, wat die uiteindelike
verantwoordelikheid dra, kom met ’n teenvoorstel. As hulle
Josef lewend in die put gooi, dan is hulle nie skuldig aan
bloedvergieting en die afloop sal dieselfde wees. Behalwe dat
Ruben heimlik ’n plan het vir Josef se redding.

Sodra Josef by die broers aankom val hulle hom
aan soos wilde diere. Hulle skeur die mooie rok van hom af en
gooi hom in die put. Hoe Josef ook pleit vir sy lewe, hierdie
hartelose manne voer hul plan uit om van hom ontslae te raak.
Daarna gaan hulle sit en eet asof niks gebeur het nie.

Wanneer ’n klomp Ismaelietiese handelaars
langs kom, het Juda, ook een van die ouere broers, ’n nuwe
idee. Waarom sou hulle hom doodmaak as hulle hom ook kan verkoop.
So kom Josef dan tereg in Egipte as slaaf van Potifar, ’n
hofdienaar van Farao. Ver van huis, ver van sy vader en van die
beloofde land. Sonder hoop, sou ’n mens sê.

En sy broers? Hulle het die pad van bedrog
gekies. Hulle gaan verder op die pad. Ruben die oudste, het
eintlik nie met hul plan saamgestem nie. Hy het ’n geheime
plan gehad om Josef te bevry. Maar tot sy skrik is hy te laat.
Terwyl hy weg was het sy broers Josef reeds verkoop. Hy het
geweier om radikaal teen die sonde op te staan en sy broers tereg
te wys. Hy het ’n kompromie gesoek. Nou staan hy vir die
gevolge van sy kompromis. Hy deel in die skuld en saam met sy
broers moet hy nou sy toevlug soek in bedrog. Hy het ook iets om
weg te steek. Hy raak sodoende verstrik in die slegte en
bedrieglike spel van sy broers. Daar gaan hulle, die tien broers,
terug na hul vader met die bloedige rok van Josef. Hul bedrog het
sukses. Jakob glo onmiddellik hul verhaal en rou verskriklik.
Jakob laat hom bedrieg, soos hyself jare gelede sy vader bedrieg
het.

Die seuns lei ’n huigelagtige lewe. Hulle
maak of hulle, saam met hul vader, rou oor Josef. Hoe durf hulle!
Hul gewetens moet hulle wel pla. Geen wonder dat hulle moeite
doen om hul vader sover te kry dat hy Josef sal vergeet nie. Deur
egter te bly rou, bring Jakob onbewus sy seuns aanhoudend in
verleentheid.

En wat van Jakob self? Hy weier om hom te laat
troos. Hy sê: "Nee, treurende sal ek na my seun in die
doderyk afdaal!" Dit is Jakob, die hoof van die kerkgesin,
die kerkvader, die geestelik leier. Toe sy vrou Ragel by die
geboorte van Benjamin sterwende was, het hy nog van troos gepraat.
Hy het die naam Benoni, seun van my smart, verander in Benjamin,
seun van my regte hand, of selfs, seun van God se regterhand. Nou
Jakob egter meen dat sy seun Josef dood is, laat hy hom nie troos
nie. Josef het vir hom Benoni geword, seun van my smart. Jakob
weier om hom te laat troos. Hy het geen vrede. Moontlik bly Josef
se drome hom pla. Volgens vers 11 het Jakob die saak immers in
gedagte gehou. Hoe kan Josef dan sterwe? Jakob het geen vrede nie.
Geen vrede met homself nie. Geen vrede met God nie. Sy weiering
om hom te laat troos is ’n protes teen God. Hoe kan God dit
laat gebeur met sy liefling seun Josef. Waarom het God hom nie
beskerm nie?

Hier het u die man wat eenmaal by Pniel met God
geworstel het en oorwin het. Hoe verskriklik is dit om terug te
val in so ’n lae geestelike staat. Ja, gemeente, wat ’n
situasie daar in Jakob se gesin. Wat ’n situasie in die kerk
van die dae! Haat, wedywer, bedrog, huigelary aan die kant van
die broers. En Jakob self hou aan om te rou, sonder hoop en troos.

En Josef, hy lewe, maar slegs as ’n slaaf,
ver weg in Egipte. Wat ’n ellende!

Waar is dan die Here in hierdie geskiedenis? Sy
naam word nie genoem nie. Ons lees slegs van mense in hul sonde
en swakheid. Ervaar ons dit dikwels ook nie so nie? As ons na die
mense rondom ons kyk, as ons kyk na die ontwikkelinge in kerk en
maatskappy, wat sien ons van God? Waar is God in die huidige
politieke ontwikkelings? Waar is God in die ontwikkelings van die
kerklike lewe in Suid Afrika? Waar is God in ons eie gesin
wanneer daar groot teleurstelling of spanning is? Waar is God in
jou lewe, as jou lewe gefrustreer word of op allerlei maniere die
bodem ingeslaan word? As mense jou seer maak? Waar is God as
Jakob deur sy voortrekkery van Josef die oorsaak van soveel
ellende in sy gesin word? Waar is God wanneer Josef steeds meer
en meer gehaat en geïsoleer word? Waar is God wanneer Josef se
broers vol haat en afguns is?

Dink u dat die broers in die situasie God
herken sal hê? Niks daarvan nie. En wat van Jakob? Miskien dat
hy ’n glimp van God gesien het. Hy het immers die saak van
die drome in gedagte gehou. Maar hy het nie werklik God gesien
nie. Anders sou hy nie aangegaan het met rou sonder om hom te
laat troos nie. En Josef? Het hy God gesien in die verskriklike
dinge wat met hom gebeur het, veral die nare ervaring van amper
gedood word deur sy broers en uiteindelik verkoop word om as
slaaf in Egipte te dien? ’n Mens kan dit moeilik voorstel.

Maar, broeders en susters, in al daardie dinge
is God aan die werk. Ook al sien mense Hom op daardie oomblik nog
nie. God is aan die werk, selfs in die menslike sameswering en
bedrog. U mag dit sien omdat u die res van die Bybel het en die
afloop ken. In lig van die afloop, weet u dat God hier reeds
besig is om heen te werk na die verlossing van Jakob se huis. Hy
is besig om sy planne van verlossing uit te werk. U mag dit reeds
sien in die eerste stappe.

As u egter in daardie tyd geleef het, en as u
die gemors in Jakob se huis gesien het, sonder om die afloop te
ken, wat sou u dan gesê het? dan sou u dalk gesê het: is dit
die kerk? Is dit die erfgename van God se beloftes? Laat God dit
almal sommer gebeur? Waarom maak Hy daar geen einde aan nie?
Waarom doen Hy nie iets nie?

Ons hoor soortgelyke vrae ook vandag. Is
daardie mense Christene? Is dit die kerk? Waarom laat God al die
sameswerings, onreg en huigelary plaasvind? Waarom doen God nie
iets nie?

Maar geliefdes, God is besig om iets te doen?
Meer as mense van daardie tyd besef het. Hy gebruik menslike
trots en haat om sy doel te bereik en om sy verlossing tot stand
te bring. Nee, dit maak die trots, die haat, die bedrog en die
huigelary nie goed nie. God haat dit. Ook vandag. En Jakob en sy
seuns sal ontdek dat dit hulle nie baat nie. Selfsug en haat
bring ’n mens in ’n gemors. Maar dit kan God se planne
nie dwarsboom nie. God maak alle dinge, selfs dinge wat teen sy
wil ingaan, diensbaar aan sy planne van verlossing: die koms van
sy Seun, Jesus Christus.

Waar sien ek dan God in Gen 37? Ek sien God in
Josef sy houding teenoor sy broers se gedrag. Josef is ontsteld
oor hul slegte gedrag. Hy vind dat sy pa dit moet weet en daaraan
iets moet doen. Slegs God kan so ’n afwysing van kwaad
bewerk. Ek sien ook God in Josef se drome. Die feit dat hy twee
drome ontvang met dieselfde boodskap bevestig dat die drome nie
as onsin afgedaan kan word nie. Nee, God het twee maal gespreek
en sy plan met Josef bekendgemaak.

God is aan die werk wanneer Josef gewillig sy
vader gehoorsaam en na sy broers gaan. Josef koester geen wrok
teen sy broers nie, ook al wys hulle voortdurend hul haat vir hom.
Josef is nog bereid om hulle met vriendelike woorde te groet,
hoewel hulle nie vriendelik met hom kan praat nie.

God is besig om Josef na Sigem te stuur sodat
hy uiteindelik in Egipte beland. Daar wil God hom gebruik. Kyk
hoe wonderlik Ruben se teenvoorstel om Josef lewend in die put te
gooi en Juda se idee om Josef te verkoop inpas in God se plan.
Toe Jakob Josef uit gestuur het, het hy geen idee gehad dat
’n belangrike stap geset sou word in die vervulling van God
se verlossingsplan nie. Dit het so eenvoudig en onbelangrik gelyk.
Maar dit sou verstrekkende gevolge hê.

Gemeente, deur Jakob se seuns hul sondige en
bedrieglike planne te laat uitvoer, is God besig om Jakob en sy
seuns te tugtig. Jakob het te veel vertrou in sy eie insig. Hy
het volgens sy eie voorkeur en gevoelens gehandel, pleks van hom
werklik aan God te onderwerp. Hy wou self beslis wat die toekoms
van sy seuns sou wees. Wel, Jakob moes op die harde manier leer
dat nie hy nie, maar God die toekoms van sy volk bepaal. God laat
die lewe in Jakob se gesin vasloop, doodloop. So dat vader Jakob
rou sonder troos en die 10 broers voortdurend herinner word aan
hul goddelose misdaad. God is besig om hulle almal te verneder
sodat ter syne tyd Hy hulle opnuut kan verhoog as ’n
verenigde gesin rond Josef in Egipte. Uiteindelik wil Hy die name
van die seuns op die poorte van die Nuwe Jerusalem geskrywe hê (Openb
21:12).

So sien ons in hierdie geskiedenis God besig om
Jakob en sy seuns te tugtig. En tugtiging beteken dat God altyd
iets goeds voor oë het. Hy laat hulle teen ’n muur vasloop
sodat hulle uiteindelik sal treur oor hul sondes en hul vertroue
in Hom alleen sal stel.

Deur Jakob en sy seuns te tugtig, is God besig
om sy plan van verlossing uit te voer. Daardeur lei Hy Josef na
Egipte. Hy stuur Josef vooruit sodat Jakob en sy gesin later kan
volg. Alles geskied volgens God se plan. Reeds in Gen 15 het die
Here vir Abraham gesê dat sy nakomelinge vreemdelinge sal wees
in ’n land wat aan hulle nie behoort nie en dat hulle daar
diensbaar sal wees en verdruk sal word vierhonderd jaar lank.
Waarna God hulle met baie goed sal laat uittrek (Gen 15:13,14).
Wel, God is besig om die woorde waar te maak. Jakob se gesin moet
na Egipte toe sodat ter syne tyd die groot eksodus en die intog
in Kanaän kan plaasvind. Ja, sodat uiteindelik Jesus Christus in
Betlehem gebore kan word.

As ons kyk na die gemors wat mense daarvan maak,
as ons hulle sonde en huigelary sien, dan kan ons dink dat dit
’n verlore saak is. Wat ’n miserabele sondaars.

Ja, as dit van kerkmense sou afhang, dan sou
daar nooit iets van die verlossing tereggekom het nie. Dan sou
dit ’n gemors gebly het. Maar dank aan God, dit hang nie van
ons mense af nie, maar van die Here ons God. Al die sondes kan sy
plan van verlossing nie vernietig of dwarsboom nie. Inteendeel.
God alleen kan dit doen. Hy laat alles die uitvoering van sy
verlossingsplan dien.

Daarom het ons ook vandag ’n toekoms en
perspektief. Nie omdat ons die dinge so goed doen nie. Of omdat
die kerkmense sulke brawe mense is nie. Maar omdat God genadig en
getrou is. Hy laat sy planne nie dwarsboom nie. Deur niks en
niemand nie. Hy is in beheer. Hy is besig om sy verlossingsplan
uit te voer.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)