God gebied: Jy mag die naam van die Here jou God nie ydellik gebruik nie

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-01-07
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 36
Preek Inhoud: 

Sondag 36,37
Ds C Kleyn - Sondag 7 Januarie
2001

Lees: Exodus 2:23-3:15;
Johannes 17:1-8; Sondag 36,37.
Sing: Ps. 135:1-3; Ps. 105:1,2;
Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps. 145:1-5

Tema: God gebied: Jy mag die naam van die Here
jou God nie ydellik gebruik nie.

  1. Met watter naam het ons te doen; en
  2. Hoe gaan ons met die naam om.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wat doen jy as die naam van jou ouers deur die
slyk gesleep word? As jy lief vir hulle is, dan kom jy in verweer.
Jy kan dit nie verdra nie. As iemand jou ouers tref, dan ervaar
jy dit asof hy jou tref. ’n Mens hoor dit soms by kinders
wat baklei. Die een probeer die ander seer te maak deur van sy pa
of ma sleg te spreek. Dit maak die kind seer en kwaad. Jy vind
dit as kind verskriklik as iemand van jou vader of moeder
kwaadspreek. Selfs as dit ten dele waar is wat hulle sê, jy kan
dit nie verdra nie dat mense jou ouers neerhaal.

So gaan dit in die reël ook as iemand aan die
naam van jou man of vrou kom. Wanneer jy iemand lief het, dan kom
jy vir hom of haar op. Elke belediging van ’n geliefde word
as baie pynlik ervaar.

Wel, gemeente, hoe reageer u as iemand die naam
van die Here u God neerhaal? Ken u dan ook die heilige
verontwaardiging, wanneer mense met die Here u God die spot dryf?
Hoe raak dit u wanneer u in boek en blad, op die radio of tv sien
of hoor dat u God bespot of verag word? Loop u nog warm vir die
naam van die Here u God? Wys u dit in u woorde en dade? Of raak u
so gewoond aan die godlasterende taal en voorstellings dat u dit
amper meer opmerk nie? Die name van God en Jesus word dikwels
misbruik as n kragterm, as n uitroep veral in die sogenaamde
bastervloek, n afkortings van die heilige name, soos O jee.
Hoe is dit onder ons? Hoor ons dit nog wel? Of begin dit ook in
ons kring gewoond te raak?

Die derde gebod blyk baie aktueel te wees. God
gebied: Jy mag die naam van die Here jou God nie ydellik gebruik
nie.

  1. Met watter naam het ons te doen
  2. Hoe gaan ons met die naam om.

Die manier waarop ek opkom vir iemand se naam
hang saam met die band wat ek met die persoon het. Hoe hegter die
band, hoe meer ek die persoon sal hooghou en hoe minder ek dit
kan verdra as iemand van die persoon kwaadspreek. Daarom het ek
in die inleiding die voorbeeld genoem van die verhouding tussen
ouers en kinders, man en vrou. Dis beelde wat God self gebruik om
die verhouding tussen Hom en ons weer te gee. God laat Homself
Vader van ons sy kinders noem. Hy noem Homself ook die Man van
ons sy bruid. Hy het ’n hegte band met ons opgebou, ’n
verbond. Hy met ons en ons met Hom. As ek so ’n band met Hom
het, dan kan ek dit tog nie verdra dat sy naam ontheilig word nie?
Ek wil dan niks anders as om sy naam te heilig. Hy behoort aan
ons, ons behoort aan Hom. As iemand Hom tref, dan tref hy my. Ek
is die voorwerp van God se onbegryplike liefde. Hy het ons so
liefgehad dat Hy selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar vir
ons oorgegee het. Wie sou dan nie verwonderd staan, bly wees met
so ’n band nie? ’n Mens verdedig tog so ’n Maker
en Man, so ’n God en Vader!

Gemeente, die manier waarop ek iemand se naam
verdedig hang nie slegs saam met die band wat ek met die persoon
het nie. Dit hang ook saam met die betekenis van die persoon, sy
gewig. Ek sal vinniger ’n betroubare en eerbare persoon
verdedig as ’n onbetroubare persoon. Ek sal eerder ’n
persoon verdedig wat homself in positiewe sin bewys het, as vir
iemand wat homself nog moet bewys. Mense van naam word geëer,
verdedig.

Iemand se naam blyk dan meer te wees as sy
roepnaam. Iemand se naam sluit sy optrede in. Wanneer bv Salomo
’n naam onder die volke het, dan word die naam toegeskryf
aan sy opvallende wysheid. By die woord naam gaan dit nie oor hoe
’n persoon genoem word nie, maar oor wie of wat hy is. As jy
sy naam skend, dan skend jy sy persoon self.

Dit geld vir mense. Des te meer geld dit dan
vir die Here ons God. God se naam wys op wie Hy is. Sy naam is
’n aanduiding van sy optrede, van sy reputasie. Hierby dink
ons in die besonder aan die naam HERE met hoofletters, Jahwe in
die Hebreeus. Die Here wys uitdruklik op die naam in die derde
gebod. In die eerste twee gebooie het God oor Homself in die
eerste persoon gepraat. Hier in die derde gebod gebruik Hy
skielik die derde persoon. Hy sê bv nie jy mag my naam nie
ydellik gebruik nie. Hy sê inteendeel: jy mag die naam van die
Here jou God nie ydellik gebruik nie. God wil daarmee nadruklik
die aandag op sy naam HERE vestig. Dit kom daarop aan dat ons die
kosbare naam nie misbruik nie.

Die naam Here met hoofletters wys wie of wat
God is. So is Hy. Die vier letters word so verklaar: Ek is wat Ek
is. Die Here het vir Homself ’n naam gemaak as Skepper en
Verlosser. Eers as Skepper. Wanneer die digter van Ps 8 met God
se skepping en die plek van die mens onder die skepsels beïndruk
is, dan begin en eindig hy met die woorde: o HERE, onse Here, hoe
heerlik is u Naam op die ganse aarde! As ek let op alles wat God
aan die hemel en op die aarde geskep het, as ek let op die mens
in die groot geheel, dan besef ek van hoeveel gewig die naam van
my God is.

God maak vir Homself nie slegs ’n naam as
Skepper nie, maar ook as Verlosser. Daarom het Hy juis Homself
aan Moses bekendgemaak onder die naam Here, Jahwe. U ken die
geskiedenis. Israel sug alreeds jare lank onder die tirannie van
Egipte. Maar die Here gaan ’n keer bring in die lot van sy
volk. Hy gaan sy volk red soos Hy dit aan die aartsvaders beloof
het. Daarom verskyn God aan Moses uit die brandende doringbos.
Moses moet God se werktuig word om die volk uit Egipte te bevry.
Moses maak egter beswaar daarteen om na Farao te gaan. Dan gee
die Here die immanuël belofte: Ek sal met jou wees. Moses bly
egter beswaar maak en sê: "Maar as ek by die kinders van
Israel kom en aan hulle sê: die God van julle vaders het my na
julle gestuur en hulle my vra: hoe is sy naam? - wat moet ek
hulle antwoord?" Daarop sê die Here: "Ek is wat Ek is;
'Ek is' het my na julle gestuur."

Jahwe, Ek is wat Ek is of ook: Ek sal wees wat
Ek is. Die God wat kan sê: Ek is naby as Redder. Ek realiseer
wat Ek sê. Ek doen wat Ek beloof het. Ek sal bewys dat Ek is wat
Ek beloof het te sal wees.

Die God wat Hom aan Moses vertoon is nie ’n
onbekende nie. Hy is nie anoniem nie. Nie sonder rede verwys Hy
na die aartsvaders. Hy het Homself aan Abraham bekend gemaak as
God die Almagtige. Nou stel Hy homself aan Moses voor: "Ek
is die God van jou vader, die God van Abraham, die God van Isak
en die God van Jakob" (vers 6). Hy het Homself aan die
vaders verbind. Hy het sy beloftes gegee. Hulle het sy roemryke
dade gesien. Die Here het reeds bewys wat Hy is. Soos Hy by die
skepping sy almag gewys het, so ook in die geskiedenis van sy
heil. Dit het gelyk asof alles sou doodloop. Toe het God ingegryp.
Hy het dit wat na menslike maatstawwe onmoontlik was, moontlik
gemaak. Hy het steeds weer dit wat nie bestaan nie, laat bestaan.
Hy het alle belemmerings deurbreek. Dink maar aan die geboorte
van Isak uit die bejaarde egpaar Abram en Sara. Dit terwyl Sara
nooit kinders kon kry nie en sy nou reeds bejaard was. Dink maar
aan die geboorte van Jakob. Toe God sy belofte aan Abraham gegee
het, het Hy verwys na die skepping, na die sterre aan die hemel.
God het homself bewys as die almagtige tot heil van sy volk.

Wanneer die Here homself aan Moses bekendmaak
met die naam Jahwe, dan gryp Hy terug na die verlede met die
aartsvaders. Dan wys Hy ook vooruit. Sy naam gee aan wat Hy is en
wat Hy sal wees. Sy naam wys as 't ware op sy program. Ek is wat
Ek is. Ek doen wat Ek beloof het. Die beloftes, wat Ek aan u
voorouers gegee het, gaan Ek nou vervul. Ek gaan tot dade oor,
deur My volk uit Egipte te bevry en hulle in die beloofde land te
bring. Ek maak opnuut dit wat onmoontlik is, moontlik. Ek gaan
Myself opnuut bewys as die troue God van die verbond, op wie jy
altyd kan staatmaak. So gaan Ek van verlossing tot verlossing
steeds voort.

Gemeente, as die Here dan die derde gebod gee,
dan is die naam van die Here reeds baie heerlik. Die magtige
bevryding uit Egipte het reeds plaasgevind. "Ek is die Here
jou God, wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het."
Deur wonders en tekens. Met ’n magtige arm. En daarna: op
droë grond deur die Rooisee gelei, terwyl Farao met al sy manne
verdrink het.

Wel, wie My ken, my groot naam, my faam, die
kan my naam tog nie misbruik nie. Wie my roemryke dade sien, die
kan my tog nie minag en versmaad nie.

En broeders en susters, die naam van die Here
het vir U veel meer inhoud gekry. Die Here het Homself in die
geskiedenis voortdurend ’n naam gemaak. Let op sy werke soos
dit in die Bybel beskryf is. Onvoorstelbaar! Ek is perpleks. Wat
’n magtige en troue God. Die bybelse geskiedenisse is nie
sonder rede vir u gegee nie. Sodat u u God kan leer ken. So is u
God.

En in Jesus Christus het die onthulling van God
se naam ’n hoogtepunt bereik. In sy hoëpriesterlike gebed sê
Christus vir sy Vader: "Ek het u Naam geopenbaar aan die
mense wat U My uit die wêreld gegee het." In Jesus Christus
ken u God soos Hy is. In Hom ken u God se gedagtes, sy
onbegryplike liefde, sy magtige dade van verlossing, sy nabyheid,
sy almag, sy regverdigheid, sy toorn, sy genade ens. God se naam
is onvoorstelbaar groot en goed, werklik heerlik. "En dit is
die ewige lewe", sê Christus in die gebed, "dat hulle
U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur
het" (vers 3).

Wel gemeente, as u so ’n God ken, dan kan
u sy naam tog nie neerhaal, versmaad nie? Tensy u u eie lewe
versmaad. Sedert Christus se verskyning geld die dreiging van die
derde gebod des te skerper: "want die Here sal die een wat
sy naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie." As jy
die naam van die Here jou God aanraak, dan raak jy aan God self.
En wie God skend, God sal hom skend. Wie met God se naam ’n
speletjie speel, speel met vuur, met ’n verterende vuur,
ewige vuur.

Maar gemeente, as dit so nou let met die
gebruik van God se naam, is dit dan nie veiliger om die naam
heeltemal nie meer te gebruik nie? Die Fariseërs het reeds met
die oplossing gekom. Maar dit is geen oplossing nie. Dit behoort
by die spitsvondige vervorming van die goddelike wet. Om die naam
van die Here te verswyg kan ook ’n godslastering wees. Wie
God doodswyg, laster Hom, laat weet dat hy God van min waarde ag.

Die Here het sy naam nie sonder rede aan ons
bekendgemaak nie. Dit is vir Hom geen ydel gebaar nie. Die Here
het daardeur Homself aanspreekbaar wil maak, aanroepbaar. Hy wil
dat ons vir Hom bid en dat ons sy naam bely. Dit bring ons by die
tweede gedagte van die preek. Hoe gaan ons met die naam om.

God het sy Naam aan ons gegee om dit te gebruik.
Die Kat vat dit saam met die woorde: "Kortom, ons mag die
heilige Naam van God nie anders as met vrees en eerbied gebruik
nie, sodat Hy deur ons reg bely, aangeroep en in al ons woorde en
werke geprys word."

"Nie anders as met vrees en eerbied
gebruik nie." U ken tog die Here u God. U weet tog met wie u
te make het as u Hom daarby roep? Dan is daar geen ruimte vir
’n ligvaardige gebruik van sy naam nie, ook nie vir ’n
gebruik van sy naam sonder dat jy jou gedagtes daarby het nie.
Die gebeur wanneer dit by jou nie vanuit die hart kom nie. Jy sit
dan miskien wel in die kerk. Jy luister na die preek, jy sing
saam en bid saam met die ander. En tog luister, sing en bid jy
nie werklik nie. Met jou hart ver van God. Dit is dan ’n
afskuwelike lippediens. Leeg, ydel. Dit het dan holle klanke
geword. Sy naam, sy woorde word dan miskien wel vlot uitgespreek,
die mense kan daardeur onder die indruk kom, maar dit is ydel,
’n leeg gebaar.

Dis radikaal anders as om met vrees en eerbied
die naam te gebruik. Dan erken ek Hom as die heilige God. Dan
aanbid ek Hom as die HERE, die God van my verlossing. Ek gee aan
Hom die verhewe plek wat Hom toekom. Ek roep Hom in verwondering
aan. Ek ruim al my eie heilige huisies op. Dit word aan die eer
van sy naam onderwerp.

Sy naam is alles in my lewe. Daarom kan ek Hom
in die daaglikse lewe, ook in die publieke lewe, nie verswyg nie.
Daarom sou dit vir my ’n eer wees om by die naam van God
’n eed te sweer as owerheid dit van my vra. Ek wil Hom bely.
Daartoe roep die 3e gebod my op. Om Hom reg bely. Soos Hy Homself
in die Bybel bekendgemaak het, so wil Hy bely word. ’n Mens
mag met sy naam, sy openbaring nie knoei nie. Daarom het die
kerke oor die belydenisskrifte geformuleer. Die erns van die 3e
gebod het die kerk daartoe gedring. God se naam moet reg bely
word. Daartoe moet alle misbruik, alle vervorming van die naam
aan die kaak gestel en bestry word.

So kry ons ook die stryd op alle fronte van die
christelike lewe. Die ware belydenis laat hom nie opsluit binne
die vier mure van die kerkgebou nie. Dit het betrekking op die
hele breë lewe. Die Here ons God is immers geen dooie afgod nie,
maar ’n lewende God. ’n God wat oral teenwoordig is en
kragte gee. Nêrens mag Hy verswyg word nie. Daar is niks wat
buite Hom omgaan nie. Op geen enkele gebied laat Hy Hom
doodverklaar nie. Sou die Here jou God, jou Skepper en Verlosser,
Hom van ’n deel van jou lewe afsydig hou? Sou Hy niks het om
te sê oor die konkrete politieke en maatskaplike lewe nie? Sy
naam wil oral reg bely word, op alle terreine van die lewe. Daar
is niks wat nie van die Here is nie. Daarom het ons ook ’n
roeping op alle terreine van die lewe. Ek weet: die Here ons God
leef. Hy regeer. Ek wil my deur Hom laat regeer. Ek veg dan nie
vir my eie saak nie, ook nie vir my eie standpunte nie. Ek veg
vir die saak van die Here my God. Sy Naam is ons naby. En die
naam wat heilig is, dring my daartoe om voor die forum van ons
land en volk die naam te bely.

Dit plaas ons, broeders en susters, voor ’n
groot verantwoordelikheid. Veral nou ons in ons land ’n
massale afwyking van die regte belydenis van die Naam sien. Daar
is baie oppervlakkigheid en leegheid. Ons moet daarteen
protesteer. Maar ons protes sal wel ingebed moet wees in ’n
christelike lewenswandel, waarin dit gaan oor die eer van God.
Anders word ons protes ’n ydele gebaar.

Die kat waarsku ons daarvoor dat ons nie deur
stil te bly of dit toe te laat ons ook aan sulke verskriklike
sondes skuldig maak. As God se naam ligvaardig of spottend
gebruik word, dan mag God van sy kinders verwag dat hulle vir sy
naam opkom. Dit kan egter gebeur dat ons banger vir die toorn van
ons naaste is, ons naaste wie se afkeuring ons moontlik oor ons
haal as ons hom aanspreek, as vir die toorn van God.

En hoe is dit met die moderne misbruik van God
of Jesus se naam as kragterme of stopwoorde. Die moderne misbruik
van die heilige name is ’n duidelike simptoom van ongeloof,
van ’n verwêreldliking van die samelewing. Mense wat van
God vervreemd is, gaan God se naam as kragterm of stopwoord
gebruik. God het immers vir hulle lug geword. Helaas kom die tipe
bastervloek ook onder christene voor. Hulle vergeet of besef
onvoldoende dat ook ’n nette vloek tog ’n vloek is en
bly. God se naam mag met vrymoedigheid gebruik word in gebed en
lofprysing en in ons gesprekke oor God. Maar die naam is nie
alledaags, vulgêr nie.

Juis van u, die gemeente van Christus, mag en
moet verwag word dat u versigtig met die naam van God omgaan.
Indien u dit nie doen nie, hoe sou u ooit vir buitestaanders leer
hoe om die naam met vrees en eerbied te gebruik? Eerbied vir die
naam van God moet ons kopsku maak vir bastervloeke. Dit het min
seggingskrag te waarsku teen godslastering as ons self
voortdurend bastervloeke soos o jee sou gebruik. Sulke woorde
bring God se naam in diskrediet. En as die naam van God vir ons
dierbaar is, dan wil ons tog vermy wat die naam in diskrediet sou
bring?

Die naam van die Here u God is vir u tog
dierbaar? Hy is tog u God? U ken tog die noue liefdeband wat Hy
met u in die verbond gesluit het? Wat ’n naam! ’n Naam
bo alle ander name. Let maar op sy dade van Skepping en
Verlossing. Lees die Bybel daarop na. Onvoorstelbaar! ’n
Mens raak nooit daarop uitgekyk nie. Wat ’n Naam! Daarvoor
tree ’n mens in die bres. So ’n roemryke naam, dit wil
jy grootmaak.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)