Sagaria sing van die verlossing wat God vir sy volk berei het

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-11-26
Teks: 
Lukas 1
Preek Inhoud: 

Lukas 1:76-79
Ds C Kleyn - Sondag 26 November
2000

Lees: Lukas 1:67-80,
Jesaja 9:1-6.
Sing: Ps. 27:1,2; Ps. 97:1,7;
SB. 22:1-5; SB. 2:4,5; SB. 3:2

Tema: Sagaria sing van die verlossing wat God
vir sy volk berei het.

  1. Die profeet van die verlossing – Joh
    die voorloper;
  2. Die motief van die verlossing – God
    se barmhartigheid; en
  3. Die aard van die verlossing –
    verlossing uit duisternis

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wat beteken die kersfees vir die groot massa?
Is dit nie ’n dag om as familie en vriende gesellig by
mekaar te kuier, om lekker te eet en te drink en om geskenke vir
mekaar te gee? ’n Fees van ligte, van kersbome met toebehore
en kers kerse. Sou kersfees sonder al die dinge nog as fees
ervaar word? Die kersfees word steeds meer gekommersialiseer. Dis
’n tyd van groot uitgawes, van finansiële verkwisting,
oordadig eet en drink. ’n Fees van die mens en vir die mens.

Ondanks alle versierings en lig, het die
kersfees vir baie leeg geword. Na die roes van die kersfees is
daar die kater van die nuwe jaar, wanneer die gewone lewe met al
sy onsekerheid en stryd weer aangaan. Die leë kersfees is
simptomaties vir die leegte van ons samelewing. God se naam, die
geboorte van Christus word daarby miskien nog wel genoem, maar
dit speel geen wesenlike rol nie. Die naam van die Seun van God
word dikwels misbruik vir kommersiële doeleindes en vir die
bevrediging van menslike verlangens. Ja, broeders en susters,
laat ons goed besef: die kersfees is in baie gevalle
godslasterlik. Laat ons daarteen protesteer, teen die misbruik
van God se naam.

Maar ons, wat maak ons met daardie dag? Ons kan
probeer om die dag te ignoreer. Ons kan dit ook gebruik as ’n
geleentheid om die roemryke dade van God te gedenk en om mense te
wys op die ware lig van die wêreld wat nooit dof word nie. Ja,
ons kan teenoor die massale ontheiliging van God se naam die
heilige naam van God met vrees en eerbied gebruik sodat Hy deur
ons reg bely, aangeroep en in al ons woorde en werke geprys word
(Sondag 36 HK). Sal ons ons daarvoor beywer? Sodat ons viering
radikaal anders is as dit van die groot massa? Sagaria kan ons
help om daarby gefokus te bly.

Ek verkondig aan U: Sagaria sing van die
verlossing wat God vir sy volk berei het.

  1. 1. Die profeet van die verlossing –
    Joh die voorloper
  2. 2. Die motief van die verlossing –
    God se barmhartigheid
  3. 3. Die aard van die verlossing –
    verlossing uit duisternis

Nadat Sagaria oor die Here Jesus as die horing
van heil gesing het, rig hy hom tot sy seun: "en jy kindjie,
sal ’n profeet van die Allerhoogste genoem word." Jy
sal nie slegs so ’n profeet wees nie. Jy sal ook as profeet
herken word. Mense sal deur jou die woorde van die allerhoogste
God hoor. Wat is immers die funksie van ’n profeet? Die
profeet moet die woorde van God deurgee. As profeet is ek God se
mondstuk as ‘t ware. So moet Joh God se mondstuk wees om die
evangelie van verlossing bekend te maak.

Sagaria vervolg : "want jy sal voor die
aangesig van die Here uitgaan om sy weë reg te maak." Joh
sal as ’n herout die pad van die Here voorberei. Hy moet
voor die Here uitloop. Hy moet die koms van die Koning uitroep.
Die mense moet hulle klaarmaak om hul koning te ontmoet. Soos U
en ek vandag onsself moet klaarmaak om ons Koning, wat terugkom,
te ontmoet. Onthou dit, broeders en susters, terwyl ons spreek
oor Joh se roeping. U Koning is besig om terug te kom. Alle
hindernisse moet verwyder word. Die harte moet gereed wees. Die
profeet Jesaja het die reeds aangekondig met die woorde: "Berei
in die woestyn die weg van die Here; maak gelyk in die wildernis
’n grootpad vir onse God! Elke dal moet opgevul en elke berg
en heuwel klein gemaak word; en die bult moet ’n gelykte en
die rotsagtige plekke ’n laagte word" (Jes 40: 3,4).

Watter soort hindernisse praat Jesaja van? Uit
die aanhalings in die Nuwe Testament is dit duidelik dat die
profeet nie dink aan fisiese of geografiese hindernisse nie. Die
profeet dink aan menslike, geestelike hindernisse –
belemmerings soos ongeloof, sondige harte en sondige lewens.
Hierdie belemmeringe moet verwyder word. Die harte en lewens moet
op die komende Koning afgestem word. Daarom roep Joh die volk
later ook voortdurend op tot geloof en bekering. As die koning
kom, moet jy gereed wees. Daar is geen tyd om te verloor nie.
Verander jul harte en lewens vir jul koning. Daar is geen plek
vir vergenoegdheid nie. Dra dan vrugte wat by die bekering pas.
Sodat sy koms julle nie tref as ’n groot ontnugtering nie.
Want dis wat dit sal wees as jy nie gereed is nie. ’n
Verskriklike ontnugtering, skok, ramp. Soos Joh dit later
formuleer: "Die byl lê ook al teen die wortel van die bome.
Elke boom dan wat geen vrugte dra nie, word uitgekap en in die
vuur gegooi." En: "Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy
dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring saambring in sy
skuur, maar die kaf met onuitbluslike vuur verbrand." (Lk 3:9,17).
Daarom, wees gereed sodat jy die koning met vreugde kan ontmoet.

Broeders en susters, dit sal Joh se taak wees
as ’n profeet van die Allerhoogste. Mense moet bewus wees
van hul sondes. Hulle moet uitsien na die koms van hul koning, na
die verlossing wat hy kom bring. Hulle moet hul huis op orde
bring sodat hul koning kan inkom.

Sagaria sing hiervan. Hy sluit aan by die
woorde wat die engel Gabriël vir hom gesê het: "Hy sal
voor Hom uit gaan in die gees en krag van Elia, om die harte van
die vaders terug te bring tot die kinders en die ongehoorsames
tot die gesindheid van die regverdiges, om vir die Here ’n
toegeruste volk te berei" (Lk 1: 17). Soos Elia, sal Joh die
ontroues oproep om terug te keer tot die Here deur die krag van
die Gees en woord.

Joh se voorbereidende werk word verder verklaar
in ver 77: "om kennis van saligheid aan sy volk te gee in
die vergifnis van hulle sondes." Hoe sal die volk die koning
ontvang? Hoe sou dit wees sonder die verligting van die H Gees,
waardeur Hy hulle bewus maak van wat gaande is? Onder God se volk
het dit mos donker geword. Hulle is soos skape sonder Herder wat
in die duister rondtas. Oor die jare het die mense hul eie idee
gevorm oor die messiaanse verlossing. Israel is onderworpe aan
die Romeinse mag. So gaan hulle nasionalistiese verwagtings
koester. Hulle sien die Messias as ’n bevryder van die
romeinse juk. So het hulle ’n aardse en materialistiese
visie van die Messiaanse verlossing. Dit sou bestaan in nasionale
vryheid en voorspoed.

Maar, broeders en susters, hoe anders is God se
Messias. Met hul verkeerde idee oor die verlossing kan hulle God
se Messias nie herken nie en sal hulle hul selfs aan hom vererger.
Daarom moet Joh hulle voorberei op die ware Messias. Hy moet die
volk ware kennis van die saligheid gee. Die saligheid bestaan nie
primêr in materiële en aardse welvaart nie. Wanneer ek dit so
verstaan, dan het ek nog niks daarvan verstaan nie. As ek slegs
aan materiële en liggaamlike welvaart dink, dan het ek die
oorsaak van alle ellende en duisternis vergeet. Dan sien ek slegs
die simptome en dan wil ek die simptome bestry, sonder om die
oorsaak van alles aan te spreek.

Om slegs die simptome te bestry, bring geen
ware genesing en geluk nie. ’n Mens moet eers die oorsaak
van die ellende bestry. Want wat is die ware nood van God se volk?
Dit is die sondes. Vanweë die sondes is daar die duisternis.
Daar kom alle ander slegte dinge vandaan. Dit is die oorsaak van
die Romeinse besetting. Dit is die oorsaak van die vernedering
van Dawid se koningshuis. Daarom moet die sonde eers bestry word,
die sonde met sy skuld en vloek. Die ware verlossing is daar in
die vergifnis van ons sondes. Soos Sagaria sing: "om kennis
van saligheid aan sy volk te gee in die vergifnis van hulle
sondes."

Dan is daar weer ’n herstelde verhouding
met God. Dan is God weer met ons. Immanuël. Dan word ook die
gevolge van die sonde aangespreek, sodat ’n mens uiteindelik
van alle ellende verlos word. Joh moet die volk die kennis
bybring, sodat wanneer die Messiaanse Koning kom, hulle Hom kan
herken en verwelkom. Joh moet hulle hul skuld laat besef en bely.
Hy moet hulle laat besef dat hulle veral van die geestelike
vyande verlos moet word, van die sonde en die magte van die
duisternis, sodat hulle die toorn van God kan ontgaan. Dan kan
hulle gereed wees om die koning te ontmoet, die koning wat as die
Lam van God die sonde van die wêreld wegneem.

Geliefdes, Joh moet God se volk voorberei op
die eerste koms van Christus. Vandag moet u uself voorberei op sy
tweede koms. Want Hy sal terugkom om te oordeel die lewendes en
die dooies.

God gebruik ook vandag heroute, ampsdraers.
Sodat julle gereed kan wees. Hy kom gou. Dit kan enige oomblik
gebeur. Is u gereed om Hom te ontmoet? Daar is geen tyd om te
verloor nie. U kan nie wag tot later nie. Dan kan dit te laat
wees. U moet vandag uself aan die Here verbind. Wat u vandag doen,
het alles te make met die manier waarop u Hom later sal ontmoet.
Verwyder alle geestelik verhinderings. Stem u harte en lewe af op
die komende Koning. Sodat u Hom met vreugde kan ontmoet, en nie
met verskrikking nie.

Broeders en susters, dank God vir sy sorg dat
Hy die Jode op Christus se koms wou voorberei, en dat Hy nou u
voorberei op sy tweede koms. Die kennis van saligheid in die
vergifnis van u sondes is nie vanselfsprekend nie. Hoeveel mense
is vandag nie verwar nie, verwar deur die teenstrydige uitsprake
van teoloë, verwar deur die ellende wat hulle ondervind, sien of
hoor. Baie mense verstaan nie meer reg waaroor die verlossing
gaan nie. Hulle word groot met verkeerde persepsies oor Christus
en die christelike geloof.

Ware verlossing bestaan nie in die eerste plek
uit liggaamlike en aardse welsyn nie, gesondheid en voorspoed nie.
Ja, die dinge is ook belangrik. Christus wil ook dit aan ons gee,
op sy tyd en wyse, in elk geval in die hiernamaals. Maar ware
verlossing begin by die vergifnis van ons sondes. Dit is die
belangrikste en primêre saak waaroor ons bekommer moet wees. Ons
geestelike nood kom eers. Die res sal uiteindelik volg. Dan kan u
u verheug in die Here, in sy verlossing, ook al sou u ’n
slegte gesondheid en min welvaart hê. Deur die vergewing van
sondes is u reeds meer as oorwinnaar. Die oorwinning is in
beginsel reeds bereik. Die res sal volg. Daaroor is geen twyfel
nie. As die oorsaak, die sonde, weggeneem is dan sal die gevolge
van die sonde ook mettertyd verdwyn. Prys God daarvoor! Om die
saligheid te ken is reeds ’n groot gawe van God. Die kennis
verander my lewe.

Nou die tweede punt: die motief van God se
verlossing. Wat bring God daartoe om ons te wil verlos?

Wanneer ons ’n groot geskenk vir iemand
gee, dan word ons meestal gemotiveer deur iets wat ons in die
persoon sien. Daar is iets in die persoon wat ons aantrek. Of die
persoon vra ons om hulp. Ons reageer meestal op iets in die
persoon wat ons help.

Hoe is dit met God? Is daar iets in ons wat God
motiveer om ons te wil verlos? Het ons Hom gesoek, gevra om hulp?
Het die wêreld werklik uitgesien na Christus se koms, soos die
kersliedere suggereer? Hoeveel mense het werklik verlang na die
Christus en was gereed om Hom te begroet?

Dis duidelik dat daar niks in die mens self
aanwesig was, om God te motiveer om ons te verlos nie. God het
nie sy herout gestuur omdat die mense Hom wou hê nie. Hy het nie
die kennis van saligheid gegee omdat ons dit begeer het nie. Nee,
wanneer God tot ons verlossing ingryp, dan vind Hy slegs redes in
Homself. Hy kom na ons toe vanweë sy innige barmhartigheid vir
sondaars soos u en ek. Hy het geen behae daarin dat ons sal
sterwe nie, maar daarin dat ons ons sal bekeer en lewe.

Sagaria sing daarvan wanneer hy sê: "deur
die innige barmhartigheid van onse God." God is nie ’n
koue en ongevoelige God nie, sonder emosies nie. Hy word deur ons
situasie bewoë. Hy kan dit nie verdra om die slegte staat van sy
volk aan te sien nie. Hy kan dit nie verdra nie dat hulle in
duisternis lewe sonder hoop, ookal is dit hulle en ons eie skuld.
Hoe reageer ons op mense wat nie positief teenoor ons is nie? Het
ons nog simpatie vir sulke mense? God het ’n groot hart en
sy emosies word nie vlak nie. Sy toorn is soos ’n verterende
vuur. Sy liefde soos ’n warme son.

So het Hy na ons gekom. Hy het ons gesien in
die duisternis. Dit het Hom diep getref. Hy was ontstel sê
Jesaja. God het Homself met ons geïdentifiseer: "In hulle
benoudheid was Hy benoud" (Jes 63:9). Hy het Homself so met
ons geïdentifiseer dat Hy sy Seun een met ons laat word het, en
ons skuld laat dra het. Wat ’n bewys van God se innige
barmhartigheid!

Let wel, dit het Hy vir ons gedoen toe ons nog
sy vyande was. Ons het Hom nie gesoek of vir Hom gevra nie. Hy
het ons gesoek. Hy het ons tot kennis van saligheid gebring. Moet
ons nie verbaas wees nie?

In sy barmhartigheid besoek die opgaande lig
uit die hoogte ons, sê Sagaria. Die opgaande lig is ’n
verwysing na die komende Messias. Hy is soos ’n opgaande son.
Deur God gestuur, vanuit die hemel. Gewoonlik word elke
sonsopgang gevolg deur sonsondergang. Maar hier gaan die son
slegs op. Hy gaan nooit onder nie. Hy bly altyddeur skyn. En Hy
skyn vir ons. Die opgaande Lig besoek ons. In sy barmhartigheid
verskyn God om ons te red.

Wat is dan die aard van die verlossing. Dit
sien ons in die derde punt.

Die Messias kom uit die hoogte "om te skyn
oor die wat in duisternis en doodskaduwee sit." Let op hoe
ons situasie geteken word: dis ’n sit in duisternis en
doodskaduwee.

Sagaria leen die beeld uit die Ou Testament, bv
uit Jes 9. Om in die duisternis te sit is ’n beeld van
hulpeloosheid, dat jy sonder hoop is, deur God verlaat. Die lewe
sonder God is ’n lewe in duisternis. Sagaria gebruik sterk
woorde om die erns van die situasie te teken. Van nature leef ons
in duisternis, val die skaduwee van die dood op ons, is ons op
pad na die ewige dood. Alles is donker en dreigend.

Dit is die situasie van die Ou Testamentiese
volk van God. Daar is geestelike duisternis. Die skrifgeleerdes
en Fariseërs het die lig weggeneem. Daarom verkeer die volk in
geestelike blindheid. Israel se godsdiens het ’n slegs
’n uitwendige saak geword, ’n saak van dit of dat doen,
sonder lewe en lig. Dit is so sleg dat die berge van onkunde en
dwaalleer vlak gemaak moet word. Anders kan die mense die ware
Messias nie herken nie. Daar is nie slegs geestelike duisternis
nie, ook politieke duisternis: die romeine het hulle onderwerp.
Dawid se huis het tot niks gekom nie. Daar lyk geen hoop op
bevryding te wees nie. In watter rigting ’n mens ookal kyk
daar is duisternis en die dreiging van die dood.

Gemeente, duisternis tipeer al die moeites en
ellende wat in hierdie wêreld gekom het as gevolg van die sonde.
Dit tipeer die situasie waarin ons van nature verkeer. Ondanks
alle mooie skyn, ons natuurlike situasie is niks anders nie as om
in ’n donker sel opgesluit te wees. Van nature val die
skaduwee van die dood oor ons. Ons is ten dode toe opgeskryf.
Enige oomblik kan dit ons tref. Daar is werklik geen ander uitsig
as dood en verderf nie, tensy die lig verskyn.

En die Lig het verskyn in Jesus Christus. Die
opgaande Lig het ons vanuit die hemel besoek, om te skyn oor die
wat in duisternis en doodskaduwee sit. Van benede uit kon daar
geen lig kom nie, ookal dink die mense dikwels dat hulle hul
ligte gevind het, hul sterre. Lig kan slegs van bo kom, vanuit
die hemel. En dit het gekom. Ons lees in Jes 9: "Die volk
wat in duisternis wandel, het ’n groot lig gesien; die wat
woon in die land van die doodskaduwee, oor hulle het ’n lig
geskyn….Want ’n kind is vir ons gebore, ’n Seun is
aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word
genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors.
(Jes 9: 1,5)

Hierdie Seun, God se Seun, is aan ons gegee as
’n lig om die duisternis te verjaag. Om ons uit die
duisternis te red. Om ons te plaas in die lig van God se
gemeenskap. Die lig wil ook rigting aan ons gee, "om ons
voete na die pad van vrede te rig".

Rondom kersfees word baie oor vrede gepraat.
Maar die vrede waar die wêreld na soek bly ver weg. Selfs in ons
eie lewe is dit nie almal ewe vredig nie. Waar is die volmaakte
harmonie in alle verhoudings? Die skaduwee van die dood kan baie
skade doen: gebrokenheid, siekte, ouderdom. God se lig skyn, maar
daardeur val die skaduwee wat daar nog is, des te meer op. Daarom
is Sagaria se woorde so passend. Die effek van die lig is nie dat
ons lewe hier en nou reeds volkome lig en vrede is nie. Nee, die
effek is dat ons voete nou in die juiste rigting gaan, "om
ons voete na die pad van vrede te rig."

Ons bly met ons twee voete op die grond, op
hierdie grond. Dit beteken dat die skaduwees nog veel in ons lewe
kan verdonker. Maar met beide voete op die grond gaan in wel in
die goeie rigting. Van die duisternis na God se volmaakte vrede.
Vanweë die bestemming gaan dit nou reeds goed met my, watter
omstandighede ookal. Dis nie langer pik donker voor my nie. Ek
het nog nie gearriveer nie. Maar ek sal daar kom. My pad word
bepaal deur die opgaande Lig, Jesus Christus. Hy is die ware lig
wat nooit verdwyn nie.

Rondom kersfees het baie mense hul spesiale
liggies. Alles word lekker, gesellig en romanties gemaak. Maar na
die kersdae gaan die ligte uit. Dan keer alles weer terug soos
dit voorheen was. Alles word weer donker. Maar Christus, die ware
Lig, bly skyn. Om die duisternis van sonde en dood te verjaag. Hy
is die weg, die waarheid en die lewe. Laat uself daarom lei deur
die lig. Dan hoef daar geen ontnugtering, geen kater na die
kersdae te wees nie. Vestig U oog op Jesus, die Leidsman en
Voleinder van u geloof. Dan bly u in die lig wandel, op pad na
die ewige volmaakte vrede.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)