Eiesinnige godsdiens is beeldediens.

Predikant: 
Ds RM Retief
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-03-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 35
Preek Inhoud: 

1 Samuel 15:23 /
Sondag 35 Vraag & Antwoord 96

Prop. R.M. Retief - Sondag 20 Maart 2000

Lees: Exodus 20:1-6; 32:1-6; 1 Samuel 15:1-35;
Sondag 35 Vraag en Antwoord 96.

Tema: Eiesinnige godsdiens is beeldediens

  1. Saul wil die Here dien
  2. Saul wil die Here op sy eie manier dien
  3. Saul aanbid ‘n ander god

 

Inleiding

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Beeldediens is iets uit die gryse verlede; wat het dit met ons
te doen? Niemand van ons aanbid beelde van houd of goud nie.
Selfs nie die ongelowige samelewing om ons nie. Wat is dan die
betekenis van hierdie gebod?

Die Skrif leer ons dat beeldediens ook in ons hart en in ons
gedagtes plaasvind, en tot uiting kom in die wyse waarop ons God
aanbid. Ek verkondig daarom die Woord van die Here aan u met die
tema: Eiesinnige godsdiens is beeldediens

Ons wil hier op drie sake let:

  1. Saul wil die Here dien
  2. Saul wil die Here op sy eie manier dien
  3. Saul aanbid ‘n ander god

Saul wil die Here dien

Die profeet Samuel kom na Saul en sê vir hom: jy is besig met
afgodery en beeldediens. Maar Saul het geen sigbare beeld of
gelykenis van God gemaak nie, of voor ‘n beeld gebuig nie.
Hy wou geen ander god aanbid nie. Hy wou aan die Here offer. Hoe
kon Samuel hom dan beskuldig van afgodery en beeldediens?

Ons vra om ‘n verduideliking, maar dit is opmerklik dat
Saul nie om ‘n verduideliking vra nie. Saul bely sy skuld en
sê: "Ek het gesondig, omdat ek die bevel van die HERE en u
woorde oortree het..."(:24). Dit lyk dan of Saul wel die
aanklag begryp het.

Dit behoort ons ook nie te verbaas nie, want Saul het die
wetboek van Moses gehad. Die Here self het deur die diens van
Moses aan Saul bevel gegee om al die dae van sy lewe uit dié
wetboek te lees (Deut.17:14-20). In die wetboek van Moses,
waaruit Saul moes lees, is die sonde van beeldediens en die aard
daarvan genoegsaam geopenbaar.

Saul was bekend met die gebeure toe Israel ‘n goue beeld
gemaak en dit aanbid het.

U onthou hoe Aäron ‘n goue kalf gemaak het en ‘n
altaar waarop die volk vir die kalf kon offers bring. Aäron het
die volk toe opgeroep met die woorde: "Môre is daar fees
tot eer van die HERE"(Ex.32:5).

Die volk wou dus nie ‘n ander god aanbid nie. Hulle wou
die HERE vereer deur die afbeelding wat hulle van Hom gemaak het.
Dat dit nié Aäron se bedoeling was om ander gode te aanbid nie,
blyk ook daaruit dat hy die beeldediens ‘n fees tot eer van
die HERE noem. HERE (Jawe in Hebreeus) is die naam waarmee God
Homself aan Israel bekend gemaak het veral toe Hy hulle uit
Egipte verlos het en sy verbondstrou getoon het. Daarom sê die
volk ook, toe hulle die goue kalf sien: "Dit is jou God, o
Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het". Die ou
vertaling het vertaal met "dit is jou gode".

Die woord vir God en vir gode is presies dieselfde woord in
Hebreeus, en daar is nie hoofletters nie, sodat dit op twee
maniere vertaal kan word. Die volk dink egter nie hier aan ander
gode nie. Hulle wil dié God aanbid wat hulle uit Egipte verlos
het. Hulle maak vir hulle ‘n beeld van Hom soos hulle Hom in
hul gedagtes voorstel. En Aäron noem dit dan ‘n fees tot
eer van HERE, ‘n fees tot eer van die Verbondsgod, die God
van Abraham, Isak en Jakob, wat hulle uit Egipte verlos het.
Hulle wou Hóm dien deur die goue beeld wat hulle van Hom gemaak
het.

Beeldediens word dus duidelik beskryf in die wetboek van Moses.
Israel wou die HERE dien. Hulle wou nie deur die goue kalf ‘n
ander god dien nie. Die goue kalf was ‘n sigbare en tasbare
beeld van hoe hulle die HERE in hulle gedagtes voorgestel het.
Hulle het gestalte gegee aan hulle voorstelling van God, en hulle
het hul eie voorstelling aanbid.

Samuel kom na Saul en sê vir hom dat hy nou presies dieselfde
gedoen het. Hy wou aan die HERE offers bring. Saul wou nie ‘n
ander god aanbid nie. Maar hy het vir homself sy eie voorstelling
van God gemaak.

Saul wil die Here op sy eie manier dien

Die Here het Homself aan Saul bekend gemaak deur die wetboek
van Moses en deur die profeet Samuel. Die Here het self gesê wie
Hy is en hoe Hy gedien wil word. Maar Saul wou die Here op sy eie
manier dien.

Om hierdie gedeelte reg te verstaan, moet ons eers vra wie was
hierdie Amalek wat Saul met die banvloek moes tref? Ons lees in
die wetboek van Moses dat die Here Amalek gehaat het. Reeds in
die dae van Moses het die Here oorlog verklaar teen Amalek en
beloof om hom totaal te vernietig en hom uit te wis van die aarde
af. In Ex.17:14-16 lees ons: "Toe sê die HERE vir Moses:
Skrywe dit as ‘n aandenking in ‘n boek en prent dit
Josua in, dat Ek die gedagtenis van Amalek onder die hemel
heeltemal sal uitdelg. En Moses het ‘n altaar gebou en dit
genoem: Die Here is my banier. En hy het gesê: Waarlik, die hand
op die troon van die Here! Oorlog het die HERE teen Amalek van
geslag tot geslag." Verder het die Here aan Moses in Deut.25:17-19
gesê: "Dink aan wat Amalek op die pad by julle uittog uit
Egipte aan jou gedoen het, hoe hy jou op die pad teëgekom het en
by jou die agterhoede, al die swakkes agter jou, verslaan het
terwyl jy moeg en mat was, en hy God nie gevrees het nie. As dan
die HERE jou God vir jou rus gee van al jou vyande rondom, in die
land wat die HERE jou God jou as erfenis sal gee om dit in besit
te neem, dan moet jy die gedagtenis van Amalek onder die hemel
uitdelg; vergeet dit nie."

Die tyd het dus ryp geword. Meer as vierhonderd en vyftig jaar
het verloop (Hand.13:19,20). Dit was tyd om af te reken met
Amalek, die vyand van die Here. Saul het die wetboek van Moses
gehad, en daarom was hy seker nie verbaas toe die profeet Samuel
na hom toe kom en sê dat hy al die Amalekiete met die banvloek
moet tref nie. So is dit reeds deur Moses verkondig. Die Here het
deur Moses sy opdragte laat neerskryf wat sou geld vir die
konings van Israel, van wie koning Saul die eerste was.

Hy het die opdrag gehad om al die dae van sy lewe in die
wetboek van Moses te lees. Daarin sou hy dan ook Amalek leer ken
as die vyand van die Here en die opdrag vind om hom uit te roei.
Samuel kom en sê vir Saul: Die tyd het aangebreek. Die HERE het
jou koning gemaak, gaan nou en delg hierdie vyand van die HERE
uit.

Teen hierdie agtergrond sien ons hoe belaglik Saul se antwoord
was toe hy vir Samuel sê: "Ek het na die stem van die HERE
geluister en gegaan op die pad wat die HERE my op gestuur het, en
Agag, die koning van Amalek, gebring; maar die Amalekiete het ek
met die banvloek getref. Maar die manskappe het van die buit
kleinvee en beeste geneem, die beste van die bangoed, om aan die
HERE u God in Gilgal te offer" (15:20,21). Wat ‘n offer!
Saul was ongehoorsaam, nou wil hy dit wat hy deur sy
ongehoorsaamheid verkry het aan die Here offer! Het hy vergeet
wat met Agan gebeur het toe hy van die bangoed gevat het? Het hy
vergeet wat in die wetboek van Moses staan, dat die Here oorlog
verklaar het teen Amalek om sy gedagtenis onder die hemel uit te
delg? Hy het tog die Here se opdragte duidelik ontvang, ook deur
die profeet Samuel. Hoe kan hy die Here se woorde verag en dan sê
dat hy die Here dien? Duidelik het Saul nie die Here se vyand as
sy eie vyand beskou nie. Saul spaar Agag se lewe. Saul bewys
barmhartigeid aan die Here se vyand. En dan wil hy sy eiesinnge
optrede regverdig deur aan die Here te offer.

Ja, Saul wil die Here dien, maar hy wil dit op sy eie manier
doen. Hy wil die Here dien soos hy goeddunk. Saul het gereken dat
stiptelike gehoorsaamheid aan die Woord van die Here nie so
belangrik is nie, net solank jy die Here tevrede hou met offers.
Hierdie eiesinnige godsdiens noem die Here beeldediens. Dit is
oortredeing van die tweede gebod.

Die Here mag net op een manier gedien word, en dit is soos Hy
sê. Wie die Here op sy eie manier wil dien, is besig met
beeldediens.

Die tweede gebod is nie ingewikeld nie. Daar is in beginsel
geen verskil tussen ‘n konkrete beeld uit goud en ‘n
denkbeeld nie. Albei is voorstellings van God wat die mens self
uitgedink het. Saul het vir homself ‘n beeld van God gemaak
wat in sy smaak val. Hy het vir homself ‘n god voorgestel
wat omgekoop kan word met offers, ‘n god wat sal instem met
Saul se eie wil.

Saul aanbid ‘n ander god

U sal sien dat daar ‘n noue verband is tussen die eerste
en die tweede gebod. Die eerste gebod sê dat daar net een God is;
die tweede gebod sê dat daar net een manier is om dié God te
aanbid. Die een God het net een beeld, en dit is die beeld wat Hy
van Homself skets in die heilige Skrif. Wie ‘n ander beeld
van God skep as wat die Skrif aan ons voorhou, oortree die tweede
gebod. Die oortreding van die tweede gebod is egter ook die
oortreding van die eerste gebod. Want elke denkbeeld wat die mens
self van God bedink, is noodwendig ‘n ander god. Daarom
bestraf Samuel nie net vir Saul oor sy beeldediens nie, maar kla
hy hom ook aan van afgodery. Beeldediens is afgodery.

Die lyn van Ex.20:4 na 1Sam.15:23 is duidelik. Israel wou nie
deur die goue kalf ‘n ander god aanbid nie. Die goue kalf
was ‘n sigbare en tasbare beeld van hoe hulle die Here in
hul gedagtes voorgestel het. Saul se beeld was nie sigbaar en
tasbaar nie. Dit het wel duidelik geword uit sy optrede, dat hy
‘n ander beeld van God gehad het as wat die wetboek van
Moses voorgehou het. Die eiesinnigheid van sy godsdiens getuig
van beeldediens in sy hart. Sy optrede is eiesinnig omdat dit in
stryd is met God se geopenbaarde Woord.

Eiesinnigheid is die begeerte om jou eie wil te soek.
Eiesinnige godsdiens is om die Here te wil dien op jou eie manier.
Dit is hierdie eiesinnige dien van God, wat deur die tweede gebod
verbied word.

Die tweede gebod eis dus dat ons die Skrif moet ken. As ons
God anders dien as wat Hy in die Bybel voorskryf, aanbid ons ons
eie denkbeeld van God. Dit gebeur dus ook binne die kerk. Die een
lidmaat skep vir homself ‘n beeld van ‘n god wat net
liefde is, en daarom nie die goddelose sal straf nie. Aanbid hy
dan die God van die Bybel? Nee, dit is ‘n god wat hy self
geskep het. Of ‘n ander persoon hou van vuil grappies, nou
reken hy dat God net soos hy is, dat die Here nie te erg teen
vuiltaal is nie. Aanbid hy dan dieselfde God as wat die Skrif aan
ons openbaar? Nee, hy aanbid ‘n god wat in sy smaak val.
‘n God wat hy na sy eie beeld geskep het.

‘n Ander persoon aanbid weer ‘n god wat daarmee
tevrede is dat hy nie gereeld saam met die heiliges vergader nie.
Maar dit is nie die God van die Bybel nie. Die mens vorm graag
‘n beeld van God wat hom pas. Dan aanbid hy ywerig sy eie
denkbeeld.

Saul se optrede is ‘n verklaring van die tweede gebod,
juis omdat Samuel hier Saul se eiesinnige godsdiens beskryf as
beeldediens. Ons sien dus dat hierdie gebod nie net die uiterlike
afbeelding van God verbied nie, maar ook die innerlike beelde wat
die mens in eiesinnigheid versin. Elkeen maak vir hom ‘n
beeld van God wat by homself pas. Daardie beelde moet vernietig
word, en dit word net vernietig wanneer ons nederig buig voor die
beeld van God wat die Skrif aan ons voorhou. Wie die Skrif nie
ken en stiptelik gehoorsaam nie, is noodwendig besig met
beeldediens – met eiesinnige godsdiens.

Ons leer God se beeld nie ken deur ons oë nie, maar deur ons
ore, wanneer ons luister na die verkondiging van sy Woord. Saul
se eiesinnigheid word juis hier gestel teenoor gehoorsaamheid aan
die Woord: "Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers
soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? (:22).

As ons nie Sy Woord stiptelik gehoorsaam nie, is selfs ons
aanbidding en lofprysing ‘n gruwel.

Die Here soek nie mense wat Hom elkeen op sy eie manier wil
dien nie; daar is net een manier, en dit is soos Hy in die Bybel
voorgeskryf het.

Nadab en Abihu, die seuns van Aäron, het aan die Here offers
gebring wat Hy nie voorgeskryf het nie, daarop het die Here hulle
met vuur verteer – Lev.10:1,2. Wanneer ons Hom dien soos ons
dit goeddunk, wek dit sy toorn op. Ons mag Hom net dien soos Hy
dit voorskryf.

As ons nou nadink oor die gedeelte wat ons saam gelees het,
dan het Saul sekerlik nie gedink dat hy besig is om ‘n ander
god te aanbid nie. Hy was nie bewustelik besig met beeldediens en
afgodery nie. Hy het homself bedrieg. Hy het gereken dat sy eie
wil die wil van God is. En dit het vandag nog nie verander nie.
Ons word in sonde gebore en is daarom van nature vervreemd van
God. Ons kan Hom nie ken as Hy nie Homself aan ons bekendmaak nie.
Dit het Hy gedoen deur die heilige Skrif. As ons Hom wil ken,
moet ons dus die Skrif ken. Het Saul tog maar die wetboek geken
en geglo! Dan sou hy nie so dwaas wees om offers te bring aan sy
eie denkbeeld nie.

Die Skrif is voortdurend besig om die beelde af te breek wat
ons uit ons eie hart versin; dit is nie net Saul se hart wat
‘n afgodefabriek was nie. Voordat ons die ware God kan
aanbid, moet ons Hom in waarheid ken; sy Woord is die waarheid.
God sê self wie Hy is en hoe Hy gedien moet word.

Dit is duidelik wat die tweede gebod beteken. Ons mag God op
geen enkele manier afbeeld nie, ook nie in ons gedagtes ‘n
ander beeld van Hom vorm as wat Hy in die Skrif aan ons openbaar
het nie. Dit beteken dat ons Hom op geen ander manier mag vereer
as wat Hy in sy Woord beveel nie.

Dit geld nie net vir die erediens nie, maar vir alles wat ons
dink, doen en sê. Ons leef in ‘n tyd waar hierdie gebod
juis weer misken word. God se Woord word verag, terwyl die offers
vermeerder. Dieselfde mense wat die gesag, die volkomenheid, die
noodsaaklikheid en die duidelikheid van die Skrif bevraagteken en
aanval, dieselfde mense is besig met lofprysing en aanbidding.
Die offers word belangriker as gehoorsaamheid aan die Woord.

Maar luister weer wat antwoord die Here deur Samuel: "Het
die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in
gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te
wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van
ramme" (15:22).

Die Here is ‘n jaloerse God. Dit geld vir sy hele wet,
dat Hy jaloers is op ons trou aan Hom. Dit word egter spesifiek
hier genoem by die tweede gebod. Dit wek sy ywer op as ons Hom
anders voorstel as wat Hy is. Ons mag dink dat dit belaglik was
en ‘n belediging om God voor te stel as ‘n goue kalf.
Maar is die moderne mens se denkbeelde van God miskien minder
belaglik? Die mens besluit vandag nog hoe hy dink die God moet
lyk wat hy aanbid. Dan skep die mens ‘n god na sy eie beeld
wat hom pas. Hy doen dit in sy godsdiens, wanneer gehoorsaamheid
aan die Woord nie meer voorop gestel word nie, wanneer God en sy
Woord moet aanpas by die denke en begeertes van die samelewing.

Dan reken die mens dat sy eie wil en sy eie begeertes, die
begeertes en die wil van God is. Ons kry dit vandag veral waar
God se Woord en Gees van mekaar geskei word. Die mens skryf dan
sy eie idees, drome, ervarings en gevoel toe aan die werk van die
Gees, sonder om dit aan die Skrif te toets. Of die Skrif word
bloot verklaar volgens eie gevoel. Sodra die Skrif nie ons
enigste maatstaf vir reg en verkeerd is nie, is ons godsdiens
noodwendig beeldediens.

Positief eis die tweede gebod dat ons God wel moet aanbid en
aan Hom moet offer. Dit eis verder dat die beeld van God, sóós
dit in die Skrif geopenbaar is, ook in ons lewe gestalte sal vind;
dat sy heilige wil ons wil sal beheers, dat ons bly sal wees oor
die dinge wat Hom verbly, sal haat wat Hy haat, liefhê, wat Hy
liefhet. In kort, dat ons nie Hom na óns beeld sal vorm, sodat
óns wil geskied nie; maar dat ons na sy beeld herskep sal word,
sodat sy wil geskied. Dan is ons hele lewe ‘n offer aan God,
‘n offer volgens die voorskrifte van sy Woord.

Ons het reeds daarop gewys dat ons van nature ons eie
denkbeelde van God aanbid. Ons kan ook nie onsself daarvan bevry
nie; ons sal selfs die Skrif gebruik om ons beeldediens te
regverdig en sê: Dit is ‘n fees tot eer van die Here! Net
God kan ons oë en ore gee om te luister na sy Woord en sy beeld
daarin te vind. Net Hy kan ons herskep na sy beeld. Hy doen dit
deur sy Gees en Woord wat ons aan Christus bind. Die hele Skrif
wys ons op Christus, en in Christus leer ons God se beeld ken.
Ons ken God se liefde en genade wanneer ons sien dat Hy óns
sonde en óns skuld op sy eie Seun gelê het, en Hom in ons plek
gestraf het. Christus het Homself uit liefde aan ons oorgegee. In
Christus sien ons ook die gestrengheid van God en sy geregtigheid,
dat die Vader eerder as om die sonde ongestraf te laat, sy eie
Seun vervloek het in ons plek. Sy heerlikheid, sy grootheid, sy
ewige krag en majesteit, sy heiligheid, sy geregtigheid, sy
goedheid en lankmoedigheid, dit alles sien ons die duidelikste
wanneer ons op Christus let. Hy is die Beeld van God. Daardie
openbaring vind ons vandag net in die Skrif – die hele Skrif
wat van Christus getuig. Daarin leer ons God se beeld ken, en
daardeur herskep Hy ons na sy beeld.

Ten slotte

Die Skrif is soos ‘n skildery waarin God Homself openbaar.
Alles in hierdie skildery is volmaak. Maar die gevalle mens reken
dat hy die skildery kan verbeter. Ons leef tog in die 21ste eeu! Ons het byvoorbeeld nou neonkleure
waarmee ons die skildery kan ophelder. Stel uself ‘n
Rembrand-skildery voor en ‘n moderne kunstenaar wat dit dan
oorverf en verander na eie smaak. Al die donker skadu’s in
die skildery van lydsaamheid en beproewing kan ons nou met die
glansverf van die voorspoedsteologie oorverf. En waar die
skildery ‘n streng beeld aan ons voorhou van ‘n heilige
God wat sonde haat en straf, daar kan ons met ‘n breë kwas
‘n glimlag inverf. En as die mens klaar is met die skildery,
om dit aan te pas by die denke van ons eie tyd en eie bose hart,
dan bly daar min oor van die oorspronklike beeld.

Wanneer ons vandag ‘n Christelike boekwinkel instap en
ons kyk na die leesstof op die rakke, die Bybel in Praktyk, Die
Bybellennium, Die Nuwe Testament vir Kinders, dagstukkies ens.,
dan is dit meestal hierdie verminkte beeld wat ons op elke bladsy
aanstaar – ‘n god wat die mens vir homself uitgedink
het. ‘n Ander god, al noem hulle hom nog Here en Jesus.

Broers en suters, ons het die Skrif, ons het die oorspronklike
skildery, waarin God Homself helder en duidelik geopenbaar het en
waarin sy verlossing en ook sy wil vir ons uitgespel is.

Laat ons dan nie soos Nadab en Abihu vreemde offers aan die
Here bring nie. Ons het niks nuuts om te verkondig nie, ons het
niks nuuts om te glo nie, daar is net maar een geloof in een God,
die God van Abraham, Isak en Israel – die God wat Homself in
die Skrif geopenbaar het. Die oproep is dus: Terug na die Skrif!
Laat ons onsself aan die Here offer, ons hart, siel en verstand,
ons geld, tyd en energie; nie op ons manier soos ons dit wil nie,
of soos die tydsgees dit voorskryf nie, maar stiptelik volgens
die voorskrifte van sy Woord.

AMEN

 

Liturgie: 

(kyk in preek)