Verskeie reaksies op God se genadige daad van wedergeboorte.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-04-14
Teks: 
Dordtse Leerreëls 3
Preek Inhoud: 

Dordtse Leerreëls Hoofstuk 3/4 Art. 15

Ds C Kleyn - Sondag 14 April 2002

Lees:

1 Johannes 2:18-3:10; 4:7-21; Dordtse Leerreëls Hoofstuk 3/4 Art. 14,15.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; SB 33; Ps 92:3,6,7; Ps 31:15-17.

Tema: Verskeie reaksies op God se genadige daad van wedergeboorte.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wat is die wedergeboorte tog ’n pragtige, ingrypende saak. "Dit is
’n volkome bonatuurlike, baie kragtige en tegelyk baie aangename, wonderlike,
verborge en onbeskryflike daad van God. Volgens die getuienis van die Skrif is
dit in sy krag nie minder of geringer as die skepping of as die opwekking van
die dooies nie." Daarom word die wedergeboorte ook ’n nuwe skepping
genoem, ’n opwekking uit die dood en ’n lewendmaking. ’n Wonderlike
werklikheid wat elkeen wat waarlik glo, mag ervaar. Iets wat God sonder ons in
ons werk. ’n Volkome bonatuurlike daad van God.

As jy dit so hoor dan sou die gedagte kan opkom: as ’n mens self niks
hieraan kan doen nie, is dit dan wel eerlik dat God sommige mense die geweldige
gawe nie gee nie? Indien daar geen aanleiding of oorsaak vir die wedergeboorte
by onsself is nie, maar alleen in God, is God dan wel regverdig wanneer Hy slegs
vir sommige mense hierdie genade gee en vir ander mense dit onthou? Dis besware
wat die Remonstrante teen die gereformeerde leer geuit het en wat ook maklik by
ons kan opkom.

Ons art begin onmiddellik om ons daaraan te herinner dat God hierdie genade
aan niemand verskuldig is nie. Dit bly die uitgangspunt wat ons so maklik
vergeet. Die hele wêreld is doemwaardig. Die hele wêreld het in Adam die ewige
dood verdien. Ons is van nature almal dood deur ons misdade en sondes. Sou God
dan verplig wees om enige mens die genade van die wedergeboorte te skenk? Dis sy
goddelike reg om aan bepaalde mense die genade van die geloof te gee en aan
ander nie. Wanneer jy die genade ontvang, dan is jy aan God ewige dank
verskuldig.

Ja, hierdie leer maak ’n mens opreg dankbaar. Wie is ek om die genade te
mag ontvang? Terwyl ek soos alle ander mense verdien het om ewig deur God
verlaat, verwerp te wees! Wat ’n groot voorreg het my te beurt geval!
Onverdiende guns. In die gelese skrifgedeelte roep Joh uit: Kyk wat ’n groot
liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word
(3:1). Wat ’n groot liefde, vir u en my. Ek mag ’n kind van God wees. Terwyl
ek my soos die verlore seun gedra het. Terwyl ek my rug hom toe gedraai het. Ons
het mos almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop.

Maar die Here het my in sy groot genade opgesoek. Weer tuis gehaal. Opgeneem
in sy gesin. Lewend gemaak. Hy wou my nie aan die sonde en die dood prysgee nie.
Hy wou my red. Daarom het Hy vir my geloof gegee. Die wedergeboorte. Nou is ons
kinders van God, sê Joh, en ons weet dat ons oorgegaan het uit die dood in die
lewe (3:14). Sou ons God nie prys nie? Soos Petrus dit gedoen het aan die begin
van sy eerste brief met die woorde: Geseënd is die God en Vader van onse Here
Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het
tot ’n lewende hoop. Of soos Paulus dit in verskillende briewe verwoord.
Paulus verwonder hom oor die groot genade wat God vir hom gewys het en dank God
daarvoor. Vroeër was hy ’n lasteraar en ’n vervolger en ’n geweldenaar,
maar God het hom baie oorvloedig genade bewys.

Paulus sien ook die groot genade wat God vir die ander gelowiges gewys het.
Hy begin byna elke brief met ’n woord van dank en lof aan God. So bv sy eerste
brief aan die Korintiërs, hoofstuk 1:4: "Ek dank my God altyd oor julle
vir die genade van God wat aan julle in Christus Jesus gegee is." Of die
brief aan die Efesiërs, hoofstuk 1: "Geseënd is die God en Vader van onse
Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die
hemele in Christus, soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van
die wêreld."

Gemeente, as jy die genade van die geloof ontvang het, dan het jy alle rede
om God te dank en te loof. Doen u dit dan ook, in verwondering oor die genade
vir ’n verlore sondaar soos u was? Ontvang God die dank en lof vir sy genade
in u lewe? Ja, tipeer die dank en lof u lewe as gelowige? Doen ons God hierin
nie baie tekort nie .

Dankbaarheid moet dus my lewe as ’n gelowige tipeer, as een wat die gawe
van die geloof ontvang het. Maar wat maak jy as jy nie die gawe ontvang nie? As
jy nie ’n begenadigde van die Here is nie? Het jy dan nie reg om te kla nie?
Jy mis mos die voorreg van geloof en bekering? Reg om te kla is daar in ieder
geval nie. Ons is mos almal van nature doemwaardig voor God. Soms dink mense dat
daar by die gereformeerde leer die moontlikheid bestaan dat iemand wel sou wil
glo maar nie kan glo nie, omdat God sy genade aan die persoon onthou. Is dit so?
Kan die situasie voorkom? Nee. Ons belydenis wys daarop dat die mens wat hierdie
genade nie ontvang nie, geen waarde aan hierdie geestelike dinge heg nie en net
in sy eie dinge behae skep. Die persoon wil ook nie glo nie. Hy voel hom nie
misdeeld omdat hy nie die genade van die geloof ontvang nie. Hy begeer nie die
genade nie. Hy wil nie anders as om sonder God te lewe nie. Hy wil sy eie dinge
doen en jaag nie die geestelike dinge na nie.

Ons belydenis noem ook nog ’n tweede moontlikheid vir die geval dat ’n
mens die genade nie ontvang nie. Die persoon heg geen waarde aan die genade nie
of hy beroem hom, sonder om na te dink, tevergeefs op wat hy het, terwyl hy niks
het nie. Wanneer ons hoor oor mense wat nie die genade van God ontvang het nie,
aan wie dink u dan? Dink ons dikwels nie onmiddellik aan buitestaanders, mense
wat nie aan die kerk behoort nie? Laat ons egter nader by die huis begin. Dit
kan wees dat sulke persone ook hier in ons midde is.

Ons Here Jesus het ’n brief aan die gemeente van Laodicea laat skryf (Openb
3:14-22). Dis mense wat reëlmatig kerk toe gaan en voortdurend die prediking
hoor. Die Here Jesus sê dan vir die lidmate: "Dit sê die Amen, die
getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God: Ek ken jou
werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of
warm." Opvallende en skokkende woorde. Dit sê Jesus vir mense wat doen wat
van hulle verwag word, wat luister na die prediking, wat saamsing in die
eredienste, wat hul gawes vir die Here gee en saam bid. Jesus sê vir hulle: jy
is nie koud en ook nie warm nie. Jy keer jou nie teen die evangelie nie sodat jy
nie meer kerk toe kom nie; maar jy is ook nie in vuur en vlam vir die evangelie
nie. Hoewel God in Jesus Christus soveel vir verlore sondaars gedoen het, is
daar by hierdie lidmate geen verwondering of entoesiasme oor God se genade nie.

Jesus voeg daaraan toe: "want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en
het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en
beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie." Die verwysing na rykdom
word hier nie in ’n materiële sin bedoel nie, maar geestelik. Die lidmate
dink dat hulle geestelik ryk is. Kyk maar na alles wat ons as kerk bereik het en
doen. Maar Christus vertel hulle: julle mag dink dat julle geestelik ryk is,
maar julle is in feite geestelik bankrot. Daarom raai die Here aan "om van
My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere,
dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en
salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien." Vergeet maar van die rykdom
wat julle dink dat julle het en kom na My toe. Die Lam bied die lidmate van
Laodicea wit klere wat in sy bloed gewas is, dws die vergewing van sondes. Daar
was geen bekering nie. Daar is by hulle geen uitgesproke vyandskap teen Christus
nie, maar ook geen ware liefde vir Christus nie.

Gemeente, hierdie brief aan die Laodicense staan in die Bybel tot lering vir
ons. Ook hier in die kerk van Pretoria kan daar huigelaars wees. Die feit dat
ons lidmate van die kerk is en kerk toe gaan waarborg nog nie dat ons ware
gelowiges is nie. Ons kan wel sê en dink dat ons ryk is, maar dit beteken nog
nie outomaties dat ons ook werklik Christus se skatte en gawes besit nie. Ja,
daar kan mense in die kerk wees wat God se genade nie ontvang het nie. Hulle gee
daar nie om nie, of hulle lewe in valse gerustheid dat hulle iets het wat hulle
nie het nie.

Daarom word ek ook voortdurend opgeroep tot selfbeproewing. Ons formulier vir
die viering van die heilige Nagmaal vat dit selfbeproewing mooi saam. Ten
eerste: elkeen moet nadink oor sy sondes en vervloeking en besef dat hy die
toorn van God verdien. Vanweë die sonde sal hy ’n afkeer kry van homself en
hom voor God verootmoedig. Ten tweede: Elkeen moet homself ondersoek of hy die
vaste belofte van God glo dat al sy sondes hom vergewe is. Ten derde eis die
selfbeproewing dat elkeen homself sal ondersoek of hy van voorneme is om van nou
af met sy hele lewe uit ware dankbaarheid God te dien en opreg voor Hom te
wandel. Wanneer ek myself op so ’n manier beproef, dan kan ek nie lou wees
nie, dan is daar geen plek vir valse gerustheid nie. Of jy glo van harte en wil
vir God lewe of jy weier om gehoor te gee en kies vir jou eie dinge. In die
eerste geval hoef jy nie bang te wees dat jy ’n huigelaar is nie. In die
tweede geval moet jy dit goed besef: sonder ware bekering kan niemand die Here
sien nie en sal niemand lewe nie.

Broeders en susters, ons het nou gekyk na die houding van hulle wat nie die
genade ontvang nie. Hulle is onverskillig of hulle leef in valse gerustheid.

Maar hoe moet nou ons houding wees teenoor medelidmate in die kerk? Ons
belydenis sê dit daaroor: "Verder moet oor hulle wat hulle geloof in die
openbaar bely en hulle lewe verbeter, volgens die voorbeeld van die apostels,
baie gunstig geoordeel en gepraat word, want die binneste van die hart is aan
ons onbekend."

Gemeente, daar is altyd van die geestelike keurders wat klaar staan om ander
mense te keur en te veroordeel. Hulle meet die ander mense aan hulleself. Hulle
het hul eie gedagtes oor hoe ’n gelowige of bekeerde persoon moet lyk. Of hoe
’n werklik gereformeerde persoon moet lyk. Daaraan word die ander dan gemeet
en dikwels te lig bevind. Aan hul woorde en aan hul houding teenoor jou kan jy
weet of jy te lig bevind is of nie. Hulle is die geestelikes in die gemeente,
die getroues, die mense wat dit kan weet. Tenminste so dink hulle. So word baie
Christene en lidmate wat nie aan hul maatstawwe voldoen nie, wat nie hulle
kennis of ervarings het nie, afgeskryf as tweederangs lidmate, as onbekeerdes of
as nie-gereformeerdes. Dikwels het hulle dan ’n kring van soortgenote rondom
hulle, ’n soort geestelike elite.

Gemeente, die apostel Joh het reeds te doen gehad met sulke geestelike
keurders. Hulle het gespog oor hul kennis. Hulle maak daarop aanspraak dat hulle
ware kennis van God het en met God gemeenskap het. Hulle is die geestelikes,
mense wat die Gees van God het. Maar wat blyk nou? Hulle is valse profete wat
die gemeentelede probeer om te mislei. Hulle gaan fout in hul leer oor Christus.
Daarom word hulle selfs antichriste genoem. Hul verkeerde leer het ook gevolge
vir die praktyk van die lewe. Dit blyk uit hul gebrek aan broederliefde. Hulle
sien uit die hoogte neer op die ander gelowiges wat nie hul vlak van kennis en
ervaring het nie. Hulle skryf die ander af as mense wat die gees nie het nie.

Wat maak Joh hiermee? Joh laat sien dat die werklikheid totaal anders is as
wat die geestelike keurders dink. Hulle dink dat hulle in die lig is, maar hulle
is nog in die duisternis. Kyk maar na hoofstuk 2:9: "Hy wat sê dat hy in
die lig is en sy broeder haat, is in die duisternis tot nou toe." Teenoor
die pretensies van die hoogmoedige keurders, benadruk Joh dat juis die gewone
gelowiges die ware kennis van God en die Gees het. Bv 2:20,27: "En julle
het die salwing van die Heilige en weet alles." "En die salwing wat
julle van Hom ontvang het, bly in julle, en julle het nie nodig dat iemand julle
leer nie; maar soos die salwing julle aangaande alles leer, so is dit ook waar
en geen leuen nie; en soos die julle geleer het, so moet julle in Hom bly."

Hoe kan ’n mens weet of iemand werklik ’n kind van God is, werklik uit
God gebore is en so die genade van God ontvang het? Joh wys daarop dat ons dit
kan toets aan iemand se belydenis en lewens wandel. Elkeen wat bely dat Jesus
die Seun van God is – God bly in hom en hy in God (4:15). En elkeen wat die
Seun loën, het ook nie die Vader nie (2:23). Die ware belydenis moet dan ook
saamgaan met ’n christelike lewenswandel. Daarom skryf Joh in 2:10
"Hierin is die kinders van God en die kinders van die duiwel openbaar:
elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie, en hy wat sy
broeder nie liefhet nie." En: "elkeen wat liefhet, is uit God gebore
en ken God. Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is
liefde" (4:7,8).

Uit jou konkrete lewenswandel blyk dit wie jou Vader is. Wie bv sy broer of
suster in die kerk nie liefhet nie, dus haat, is ’n moordenaar. En u kan raai
by wie so ’n persoon behoort. So ’n lidmaat het die duiwel, die moordenaar
van die begin, as vader. Joh spits hom toe op die konkrete sonde van
liefdeloosheid wat by die geestelike keurders tiperend was. Wie nie liefhet nie,
behoort by Satan tuis. Sterk woorde. Ernstige woorde. Indien ek my broer of
suster nie liefhet nie, dan behoort ek by Satan tuis. Uit my werke kan blyk waar
ek tuis hoort, of ek wel of nie oorgeplaas is uit die dood na die lewe.

Joh formuleer homself nog sterker. Hy skryf: "Elkeen wat in Christus bly
sondig nie. Elkeen wat sondig, het Hom nie gesien en Hom nie geken nie. Hy wat
die sonde doen, is uit die duiwel (3:6,8). Beteken dit dan dat ek wanneer ek by
God behoort sonder sonde moet wees? Nee. Dit kan nie die bedoeling wees nie. Om
nie te sondig beteken hier om nie in die sonde te bly lewe nie. Om nie aan te
hou sondig nie. Verloste kinders kan nie in hul element wees wanneer hulle
sondig nie. Hulle is in hul element wanneer hulle die Here dien. Dink aan wat
die bekeerde Paulus in Rom 7 skryf oor die stryd tussen vlees en gees. Wanneer
Paulus sondig, is dit nie volgens sy wil nie, maar teen sy wil. Hy haat die
sonde. Hy gaan dan ook nie rustig en sorgeloos aan met die sonde nie. Hy stry
daarteen, om in die krag van die Gees steeds weer te oorwin.

Broeders en susters, hoe staan ons dan teenoor mekaar in die gemeente? Hoe
beoordeel ons mekaar? Ons kan nie mekaar sy harte lees nie. Ons kan slegs
uitgaan van wat ons sien en hoor. Van iemand se belydenis en wandel. Dit beteken
dat ons oor hulle wat hul geloof openlik bely en hul lewe verbeter altyd gunstig
sal praat en oordeel. Ons verwag nie ’n volmaakte lewe nie, ook nie ’n lewe
wat identiek is aan ons eie lewe nie. Ons besef dat ons ook nog daagliks baie
vergewing nodig het. Daarom sal ons beslis nie uit die hoogte op die ander
neersien nie. Wanneer ons die begin van die nuwe gehoorsaamheid sien, die
begeerte om volgens God se woord te lewe, dan is ons bly en dankbaar. Daarin
herken ons die werk van die Gees van God. Ons wil dit dan ook erken, ondersteun
en verder opbou.

Daarin het ons die voorbeeld van die apostels. Lees maar hoe hulle skryf vir
die gelowiges in die verskillende gemeentes. Ondanks al die gebreke en sondes
wat hulle in die gemeentes moet aanspreek, oordeel hulle en praat hulle baie
gunstig oor die gemeentes. Ek noem enkele voorbeelde. In Ef 1:13 spreek Paulus
die Efesiërs aan as julle wat geglo het en verseël is met die Heilige Gees. In
Ef 2 skryf hy: julle het God lewend gemaak. Uit genade is julle gered. Oor die
Filippense skryf Paulus dat hy voortdurend God vir hulle dank en dat hy hierop
vertrou dat Hy wat ’n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op
die dag van Jesus Christus (Fil 1:3-6). Vir die Kolossense skryf hy: Want julle
het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God (Kol 3:3).
Petrus skryf vir die vreemdelinge in die verstrooiing: Maar julle is ’n
uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as
eiendom verkry (1 Pt 2:9). So sou nog tallose voorbeelde genoem kan word. Op
grond van hul belydenis en wandel praat die apostels baie gunstig oor die
gemeentes en gelowiges vir wie hulle skrywe. Daarin het hulle ’n voorbeeld vir
ons gegee.

Wat is dan u reaksie op die genade van die geloof wat God vir u gegee het?
Verwondering? Dankbaarheid? Lof? Daar is alle rede toe. Wat ’n groot voorreg
het my, ellendige sondaar, te beurt geval!

En hoe is dan u houding teenoor ander? Getuig dit van ootmoed en liefde? En
bewoënheid oor die lot van hulle wat nie die genade ontvang het nie? Laat ons
wat so ’n genade ontvang, dank en bid, mekaar positief ondersteun en uitreik
na ander. Sodat meer mense daaraan mag deel kry en God die lof ontvang wat hom
toekom.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)