Die Here laat Samuel Isai se jongste seun salf.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-09-29
Teks: 
I Samuel 16
Preek Inhoud: 

1 Samuel 16:1-13

Ds C Kleyn - Sondag 29 September 2002

Lees:

1 Samuel 16.
Sing: Ps 105:1,2; Ps 105:3,4; Ps 105:5; Ps 89:8,9; Ps 89:10,11; Ps 33:6,11.

Tema:


Die Here laat Samuel Isai se jongste seun salf.

  1. Die Here laat Samuel met groot omsigtigheid te werk gaan; en
  2. Die Here lei Samuel gaandeweg na sy keuse.

 

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Hoe vorm ons ’n oordeel oor ander? Watter rol speel die persoon se uiterlik
daarin? Watter soort dinge kyk ons na? Hoe waardeer jy jouself as persoon? Op
watter grond sien jy jouself so? Verder: wat verwag jy van ’n leier? Hoe moet
hy wees? Wanneer ’n mens die lengte en knap vertoning van Saul vergelyk met
dit van die jong man Dawid, wie sou jy die ideale leier beskou?

Gemeente, God kies nie volgens ons menslike maatstawwe nie. Gelukkig nie. Hy
laat hom nie lei deur die uiterlike voorkoms nie. Hy kyk na die hart.

Laat ons hierop let wanneer ek vir julle verkondig: die Here laat Samuel Isai
se jongste seun salf.

  1. Die Here laat Samuel met groot omsigtigheid te werk gaan
  2. Die Here lei Samuel gaandeweg na sy keuse.

In ons teks ontmoet ons Samuel wat treur oor Saul. God se berisping:
"Hoe lank sal jy treur oor Saul" suggereer dat Samuel dit reeds vir
’n behoorlike tyd gedoen het. Ons kan dit verstaan. Samuel sou graag gesien
het dat die dinge anders geloop het. Saul het ’n veel belowende persoon gelyk.
Dit het so goed begin. Die verlossing van God se volk het op gang gekom. Maar
toe was daar die berig van die Here: "Ek het Saul as koning verwerp."
Dit was ’n verskriklik klap vir Samuel. Hy het die hele nag daarvan wakker gelê.
Al sy verwagtings het inmekaar gestort. Samuel is daar kapot van. Hy treur oor
Saul en oor ’n volk wat nou ’n koning het wat deur God verwerp is.

Ons kan dit verstaan. Wat doen jy as jy diep teleurgesteld is in iemand van
wie jy hoë verwagtings gehad het? Jy het groot verwagtings gehad van die
aktiewe broer of suster in die kerk, van die ampsdraer of voorganger. Die
persoon het soveel beteken vir die kerk en vir individuele lidmate. Maar dan val
die persoon van sy hoogte af . Hy laat hom ken as ’n huigelaar, as iemand wat
nie vir God werk nie, maar vir sy eie eer en mag. Wat ’n ontnugtering. Dit
gryp jou diep aan. Jy kan maar nie loskom van die verdriet en teleurstelling
nie.

So het dit met Samuel gegaan. Hy bly steek in sy verdriet. Hy kom daar nie
los van nie. Maar dan kom die Here en roep hom tot die orde: "Hoe lank sal
jy treur oor Saul, terwyl Ek hom verwerp het om koning te wees oor Israel?"
Hou op daarmee. Dit was lank genoeg gewees. Is dit nie ongevoelig van die Here
nie? Nee, die Here het ook verdriet oor Saul, maar Hy laat Hom nie daardeur
ophou nie. Die Here gaan verder en werk verder aan die verlossing. En Samuel
moet saamgaan. Daarom moet hy van die verdriet loskom.

Wanneer ek bly vassteek in my verdriet, dan raak ek agter by God. Want God
bly nie stilstaan nie, maar verder gaan. Dan het ek geen oog meer vir God se
voortgaande werk nie. Dan bly ek van verdriet ronddraai in ’n sirkel en kom ek
nie verder nie. Daarom is dit belangrik vir Samuel om van sy verdriet weggeroep
te word. Samuel mag nie in sy teleurstelling en verdriet bly steek nie. Hy moet
’n horing vol olie neem en op pad gaan Betlehem toe, in geloof aan God se
verlossing, waardeur alle teleurstellings uiteindelik oorwin sal word. Hy moet
die toekomstige koning salf.

Gemeente, daar is situasies in die lewe waarin ek die moed kan verloor,
waarin teleurstelling en frustrasies die oorhand kry en waarin ek sinies begin
word. Dan gaan ek my van alles distansieer. Ek voel my steeds minder betrokke.
Langsaam sterf iets by my af. As God nie ingryp en my regruk nie sou ek alles
kwytraak. Maar God gryp gelukkig voortdurend in en ruk my reg: staan op en gaan
op pad. Daar is ’n toekoms. Daar sorg Ek voor. Ek laat die verlossing nie
doodloop nie.

Broeders en susters, in antwoord op die bevel van die Here vra Samuel:
"Hoe kan ek gaan? As Saul dit hoor sal hy my doodmaak." Ja, Saul sal
my doodmaak. Dis nie net ’n verskoning wat Samuel uitdink om die opdrag te
ontduik nie. Samuel weet dat Saul in staat is om presies dit te doen: om hom
dood te maak. Uit Saul se latere optrede blyk dat Saul inderdaad nie daarvoor
terugskrik om mense wat hy as ’n bedreiging sien uit die pad te ruim nie. Na
sy verwerping het Saul wantrouig en agterdogtig geword. Agterdogtige mense kan
moeilik wees, maar wanneer hulle op die troon sit, word hulle gevaarlik. Samuel
is diegene wat vir Saul die berig gegee het dat God hom as koning verwerp het en
dat God vir Hom ’n man na sy hart gesoek het om vors oor sy volk te wees. Saul
het dus ’n rede om wantrouig teenoor Samuel te wees en om die beweging van die
profeet te volg. Samuel se beswaar is dus allermins denkbeeldig. Die opdrag van
die Here is inderdaad lewensgevaarlik.

Hoe reageer die Here op Samuel se beswaar? Neem die Here Samuel kwalik dat hy
so reageer? Sê die Here: Samuel wees stil, doen gewoon wat ek vra. Nee, die
Here erken Samuel se beswaar en Hy kom daaraan tegemoet. Die Here vra nie van
Samuel dat hy hom met ware doodsveragting in die gevaar stort nie.

Maar is dit nie juis ’n bewys van groot geloof as jy jou niks van die
gevaar aantrek nie? Moet jy as gelowige nie jou oë vir die gevare sluit en
gewoon doen wat God sê, sonder om te aarsel nie? Nee, dis nie hoe die Skrif
daaroor praat nie. Om te glo wil nie sê dat jy jou as ’n volstruis gedra en
die oë vir moeilikhede en gevare sluit nie.

God eis nie van Samuel dat hy die gevaar wat aan sy opdrag verbind is, by
voorbaat negeer nie. Wanneer ek ’n gevaarlike opdrag van God ontvang, dan mag
ek terdeë met oorleg te werk gaan. Dan mag ek my ook rustig afvra of ek die
gevaar nie kan verklein nie en die risiko kan beperk. Dit hoef geen ongeloof of
gebrek aan vertroue te wees nie. Die saak is natuurlik anders as God vantevore sê:
Dis is gevaarlik, maar vrees nie, want Ek is met jou. As ek in die geval bly sê:
ek doen dit nie, dit is vir my te gevaarlik, dan is daar inderdaad sprake van
kleingeloof, ’n gebrek aan vertroue. Maar Samuel doen niks anders as om die
gevaar aan God voor te lê nie. By hom is daar geen kwessie van onwil nie. God sê
dan ook: jy is reg Samuel. Dit is gevaarlik. Ons gaan iets daaraan doen.

Die oplossing wat die Here voorstel kan ons verras. Neem ’n jong koei met
jou saam en sê: Ek kom om aan die Here te offer. Die Here laat Samuel met
omsigtigheid te werk gaan. Ja, die Here stel selfs ’n kamoeflage voor, om die
skyn te wek dat hy na Betlehem gaan vir ’n offermaaltyd, om so die werklike
rede vir die reis te verberg. Het ons wel goed gelees? Kan dit wel dat die Here
self ’n kamoeflage voorstel? Is dit wel eerlik? Die missie waarop Samuel
gestuur word, is tog ’n eerbare missie. Dan moet dit tog die lig van die dag
kan verdra?

Wat is die situasie? Die Here is ernstig met die verlossing van sy volk.
Israel het onlangs ’n koninkryk geword. Israel word verhef bo die ander
nasies. Pragtig! Maar die eerste koning blyk ’n mislukking te wees. Die dinge
gaan bergaf met Saul die koning wat verwerp is. Maar die einde van sy regering
is nog nie in sig nie. Voorlopig is die volk onderworpe aan ’n koning wat die
proef gedruip het. Die Here wil nou iets daaraan doen. Die Here het die toekoms
van Israel in gedagte, die toekoms van die kerk van Christus, die goeie herder
van die skape.

Die kerk van die dae het ’n nuwe leier nodig. God het een van Isai se seuns
op die oog. Die Here wil hom laat salf. Die seremonie moet egter in die
privaatheid van ’n klein kring plaasvind. Want daar is nog ’n koning op die
troon en hy sal nie sommer homself laat verdring nie. Pasop! Wanneer jy dit in
rekening bring is jy nie ’n lafaard nie. Samuel ontvang selfs van God
toestemming om baie omsigtig te handel. Wat God gaan doen is ’n eerbare saak.
Maar dit is nog nie geskik vir publikasie nie. Slegs die familielede mag daarvan
getuie wees. Ander moet daarbuite bly. Tenminste voorlopig. So wil God dit hê.
Hy wil nie onnodig die lewe van Samuel en van Dawid, ja van die hele gesin van
Isai in gevaar bring nie. Hierin sien ons God se barmhartigheid en trou jeens sy
profeet en sy volk.

So gaan Samuel dan met ’n jong koei na Betlehem toe. Wanneer die oudstes
van die stad bewend hom tegemoet gaan, vertel hy hulle nie die volle waarheid
nie, maar is hy wel volkome betroubaar. Geliefdes, uit hierdie geskiedenis leer
ons dat die kerk met omsigtigheid mag optree. Neem die situasie waar heerssugtig
leiers die ware verkondiging van die evangelie en die christelike onderrig van
die jeug verbied. Voor die val van kommunisme was daar bv ’n predikant in
Hongarye wat gewoond was om die jeug vir tafeltennis te nooi. Tydens die spel
het hy die jeug dan Bybelonderrig gegee. Indien die polisie onverwags sou
opdaag, dan kon hulle wys op die feit dat hulle saamgekom het om tafeltennis te
speel. Die omstandighede kan soms so wees dat die kerk en christene van
kamoeflage gebruik moet maak. Dit is legitiem so lank as die eer van God en die
heil van die naaste werklik daarmee gedien word.

Gemeente, ons mag veronderstel dat Samuel die offer in Betlehem gebring het
en ’n offermaaltyd daar gehou het, ook al word dit nie uitdruklik genoem nie.
Samuel dra mos die oudstes van Betlehem op om hulleself te heilig en met hom aan
die offermaaltyd te kom. Die aandag is gerig op wat volg: God se keuse en
salwing van Dawid. Dis die tweede gedagte van die preek. Samuel word gaandeweg
gelei na God se keuse.

Die belangrikste dinge gebeur in Isai se huis. God gaan sy keuse wys. Dit
gebeur nie onmiddellik nie. Samuel word stap vir stap daarna gelei. Hy weet nie
vantevore wie dit gaan wees nie. Hy ken die seuns van Isai nie. Die enigste wat
hy weet is dat hy een van Isai se seuns moet salf. Waarom vertel die Here nie
reguit vir Samuel dat dit Dawid, die jongste seun, moet wees nie? Waarom laat Hy
eers al die ander seuns voor Samuel verbygaan? Die Here wil daarmee Samuel, Isai
se gesin en elkeen van ons iets leer.

Wanneer Samuel die huis binnegaan, het hy so sy eie idee oor wie gesalf moet
word. Hy laat homself lei deur uiterlike kenmerke. Wanneer hy die oudste Eliab
sien, is hy onmiddellik onder die indruk en dink: "gewis, hier staan voor
die Here sy gesalfde." God laat hom egter weet: "Kyk nie na sy
voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die
mens sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die Here
sien die hart aan."

Bekende woorde. Verstaan ons egter goed wat God hier sê? Samuel was
onmiddellik onder die indruk van die voorkoms en hoë gestalte van Eliab en
oordeel volgens die uiterlike maatstawwe. Volgens die maatstawwe was Saul ’n
gebore koning. Tog was hy ’n mislukking.

Broeders en susters, seuns en dogters, laat ons ons nie dikwels lei deur
uiterlike voorkoms nie? Waarom voel sommige mense, veral jong mense, sleg oor
hulleself? Omdat hulle dink dat hulle lelik is. Hulle vergelyk hulleself met
ander wat mooi of knap lyk. Wat sou dit tog mooi wees om soos die sterre of
helde te wees. Dan is jy mos werklik iets. Maar God kyk nie na die dinge waarna
ons mense kyk nie. God sien die hart aan. Dis beslissend. Daarom kan jy werklik
iets wees, belangrik wees, ja God se uitverkorene wees, maak nie saak hoe
minderwaardig jou uiterlike verskyning lyk te wees nie. Ons hou van sterk,
indrukwekkende leiers. Mense wat iets kan wys. Ek wil nie sleg oor sulke leiers
praat nie. Ons het leiers nodig wat die pad wys. Maa onthou dat God sy keuse
anders bepaal as ons dit doen. Hy kies anders. Hy kyk anders. Hy kyk na die
hart. Die hart. Dis die persoon sy innerlike bestaan. God alleen ken ons
innerlike self. Die innerlike bestaan is so belangrik vir God dat dit ons waarde
voor Hom bepaal. Die hart. Daaruit is die oorspronge van die lewe (Spr 4:23).
Daar word die besluite geneem. Daar word die verhouding met God ervaar.
Bowendien, God, wat die hart ken, laat homself nie mislei nie. Hy weet hoe ons
werklik is. Hy sien die hart aan.

Besef jy dit wel, broer of suster. Jy gaan ook voor God se keurende oë
verby. Hoe sal Hy jou beoordeel? Hoe is jou hart? Is dit reg met God?

Ons het vinnig ons oordele klaar. Ons gee ons oordeel oor allerlei mense en
sake. Hoe dikwels laat ons ons nie lei deur wat voor oë is, deur uiterlike
voorkoms nie, deur ’n woord, ’n gebaar, ’n gelaatsuitdrukking. Ons trek
dan onmiddellik ons konklusies. Ons is van mening dat die persoon so is. En dan
is hy of sy ook so, punt. Laat ons tog beskeie wees. Die uiterlike kan
bedrieglik wees. Ons kan ons vergis.

Die 7 broers van Dawid gaan voor Samuel verby. Nie een daarvan is vir die
koningskap uitgekies nie. Hoe moet Samuel gevoel het om een na die ander te moet
afwys? God stel Samuel op die proef. Maar Samuel wys geen twyfel nie. Ook
wanneer al die sewe voor hom verbygegaan het, bly hy seker van God se woord.
Daarom kan daar slegs een konklusie wees: dit is nie al die seuns van Isai nie.
Daarom vra hy vir Isai: Is dit al die seuns?

Isai sal ook verras gewees het. Ja, hy het nog een seun, die jongste. Hy het
dit nie nodig geag om die jongste te roep nie. Bowendien, een moes by die skape
bly. En die Here sou tog nie die jongste uitverkies nie, hy is onder die
volwassenes nog nie in tel nie. Deur Isai te vra om Dawid te laat haal, handel
Samuel teen die algemene persepsie oor wie in die gesin belangrik is.
"Stuur en laat hom haal, want ons mag nie om die tafel gaan sit voordat hy
hier kom nie."

Sodra Dawid arriveer, sê die Here vir Samuel: staan op salf hom, want dit is
hy.

Wie is Dawid? Ons het netnou gehoor dat die Here na die hart kyk. Dan sou jy
eienskappe verwag soos: onberispelik en opreg, Godvresend ens. Maar wat lees
ons? "Hy was rooierig, met mooi oë en ’n mooi voorkoms." Hoe kan
dit nou? Mbt tot Eliab mog ons nie sy uiterlike voorkoms in rekening bring nie.
Mag dit dan wel mbt Dawid? Is hier nie sprake van dubbele standaarde nie?

Nee, tog nie. Dat God na die hart kyk, beteken nie dat die uiterlike voorkoms
geen waarde het nie. Dit beteken nie dat Dawid geen uiterlike kwaliteite het
nie. As dit so was dan kon ons onmiddellik weet wie God sou moet kies: naamlik
die mees lelike en onaantreklike persoon. Maar dis nie hoe God werk nie. Die
bybel waardeer ’n mens se uiterlik. Ons mag aandag daaraan gee, veral mbt
onsself. Ons moet onsself, ons voorkoms en verskyning nie veronagsaam nie. ’n
Bietjie persoonlike sorg is op sy plek. Ons liggame word mos tempels van die
heilige Gees genoem. Maar dit is wel ondergeskik aan dit wat werklik tel, die
staat van ons hart.

By al die aandag wat ons aan ons uiterlik gee, mag ons dit nooit verafgod
nie. Dawid se verskyning was aantreklik, maar nie direk iets wat ’n mens sou
verafgod nie. Sy kwaliteite is nie so opvallend as die van Saul nie. Dit maak
nie saak nie: sodra hy gesalf word, werk die Heilige Gees kragtig in hom en
beheers hom. Die Heilige Gees sal daarvoor sorg dat wat aanvanklik verborge is,
uit sal kom. In die 2de gedeelte van ons hoofstuk sien ons dit reeds gebeur
terwyl Dawid in Saul se paleis dien.

Dawid, miskien nie ons keuse nie. Maar hy is God se keuse. Sonder God sou ek
hom nouliks opgemerk het. Wie is Dawid? Met God is Dawid werklik iets en in
staat om groot dinge te doen.

Geliefdes, waarom word Dawid nou reeds gesalf? Kon die Here nie wag tot die
einde van Saul se regering nie? Die Here wil Dawid voorberei op sy toekomstige
taak. Hy wil hom oefen onder die regerende koning Saul. Dit sal ’n sware
training wees. Hy wat wil regeer, moet eers wys dat hy kan dien. Die verhoging
kom eers na ’n periode van vernedering. Hierin weerspieël Dawid se lewe die
van sy groot Seun ons Here Jesus Christus. Jesus moet homself verneder selfs tot
die dood aan die kruis om sy troon te ontvang.

Wat is dan die bedoeling van ons teks? Deur Dawid te kies wil die Here sy
volk voorberei op die koms van Dawid se seun Jesus Christus. Soos Israel moet
ons ook leer om nie te kyk na uiterlike voorkoms mbt God se Messias nie.
Beslissend is die hart. Oordeel nie volgens wêrelds standaarde nie. Onderskei
op ’n geestelike manier. Dan kan jy in die jong man Dawid God se toekomstige
leier herken. Dan kan jy ook in die man van smarte, wat geen gestalte of
heerlikheid gehad het nie, die Christus van God herken.

Christus het in vernedering gekom, in die gestalte van ’n dienskneg. Hy is
nou verhef aan God se regterhand. Wat jy vandag van hom sien is o.a. sy kerk, sy
volk. Onbeduidend in die oë van mense. Nie indrukwekkend nie. Wie sou ooit die
christene as erfgename van die wêreld beskou? Die teendeel lyk waar te wees.
Die ware gelowiges is ’n minderheid waarmee die groot leiers in hierdie wêreld
min rekening hou. Maar, geliefdes, in Christus mag u konings wees en erfgename.
Groot in die oë van God. Die wêreld en die toekoms is vir u. Deur Christus,
Dawid se groot seun.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)