Wys dat die christelike hoop julle lewe as gelowiges tipeer.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-11-03
Teks: 
I Thessalonicense 5
Preek Inhoud: 

1 Thessalonicense 5:4-11

Ds C Kleyn - Sondag 3 November 2002

Lees:

Lukas 21:25-36; 1 Thessalonicense 5:1-28.
Sing: Ps 98:1,2; SB 14; Ps 98:3,4; Ps 96:5-8; Ps 134:4; SB 27:4,5.

Tema: Wys dat die christelike hoop julle lewe as gelowiges tipeer.

  1. Julle posisie;
  2. Julle roeping; en
  3. Julle bestemming.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

In Paulus se briewe aan die Thessalonicense lees ons baie oor die wederkoms
van Christus. Die christelike gemeente leef in die perspektief van die
wederkoms. Julle doen ook belydenis met die oog op die dag. Jy lê mos die
belydenis van sy geloof af om toegang te verkry tot die nagmaal van die Here. En
wat doen jy aan die tafel van die Here? Jy verkondig die dood van die Here
totdat Hy kom. Jy sien uit na die bruilofsmaal van die Lam, wanneer Hy die wyn
saam met ons sal drink in die koninkryk van sy Vader. Ons sien uit na die dag
van die Here. So leef en werk ons, so lê ons ons belydenis af en vier ons
nagmaal met die oog op die dag van die Here. Die verwagting van die dag
bestempel die ware gelowige.

Ek verkondig vir julle: wys dat die christelike hoop julle lewe as gelowiges
tipeer.

  1. Julle posisie
  2. Julle roeping
  3. Julle bestemming

"Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos ’n
dief sou oorval nie." Julle is nie in duisternis nie." Die duisternis
dit is die leefplek van die ongelowiges. Deur die sondeval het dit op aarde
donker geword. Die duisternis het oorgeneem, die duisternis van sonde en dood.
Dit tipeer die lewe van die ongelowiges. Hulle leef in duisternis. Hulle sien
niks nie. Hulle besef nie eers dat hulle in duisternis verkeer nie. Daarom praat
hulle van vrede en veiligheid. Maar hulle besef nie dat die donker wolke van God
se toorn besig is om saam te pak nie.

In die dae van Jeremia het God se eie volk in duisternis geleef. Die
verbondsvolk roep: vrede, vrede (Jer 6:14). Die volk gee hulleself oor aan ’n
weelderige lewe. Hulle dien die Here nie met ’n toegewyde hart nie. Hulle
bekommer hulle nie oor God se gebooie nie. Hulle is nie bang vir ’n oordeel
van die Here nie. En Jeremia? Hy het die oordeel aangekondig. Maar hulle laat
Jeremia maar praat. Jeremia praat van onweersbuie, terwyl hulle geen wolkie aan
die lug sien nie. Daar is mos vrede en geen gevaar nie. ’n Selfvoldane rus het
oor die volk van God gekom. ’n Rus gekenmerk deur die loslating van God se
Woord.

Paulus waarsku die Thessalonicense vir die mentaliteit van die mense wat in
die duisternis is. Die mense let nie op nie. Hulle verwag die Here Jesus nie.
Die Thessalonicense was vroeër ook in die duisternis, maar nou nie meer nie.
Hulle behoort aan die dag. Hulle weet dat die dag van die Here kom. Die dag is
ook hul dag. Hulle sien daarna uit. Daarom sal die dag hulle nie soos ’n dief
oorval nie.

Christus kom as ’n dief. Hy kom onverwags. Die dief kondig sy koms nie aan
nie. Hy stuur geen beriggie dat hy op die dag en uur sal kom nie. Hy lui nie
eers beleef die klokkie nie. Wie geen rekening met die dief hou nie, word oorval
en beroof voordat hy dit besef. As jy egter voorberei en dus wakker is wanneer
die dief kom, hoef jy niks te vrees nie. Die kinders van die lig word deur die
dief nie oorval nie. Seker, ook vir hulle kom Christus onverwags. Maar hulle
weet, dat Hy kom. Hulle reken daarop. Hulle het hul voorsorgmaatreëls getref.
Daardeur sal Christus se koms hulle nie oorval nie.

In vers 5 noem Paulus ons as gelowiges kinders van die lig en kinders van die
dag. Sommige mense staan douvoordag op. Terwyl ander mense nog slaap, is hulle
reeds wakker. Hul dag begin terwyl dit vir hul omgewing nog nag is. As christen
lyk jy op sulke mense. Paulus noem ons mense wat tuishoort by die lig, wat vir
die nuwe dag bestem is. Hy herinner ons aan ons groot voorreg. Ons sal dit sien
wanneer ons sy beeldspraak op ons laat inwerk.

Paulus bepaal ons by die dag van die Here: die dag dat Jesus Christus as
koning sy intog in die wêreld kom maak. ’n Dag van toorn vir die teenstanders
en van verlossing vir die burgers van sy ryk. Die dag is die NT iese
konkretisering van die dag van die Here wat die profete reeds aangekondig het.
’n Bepaalde deur God vasgestelde dag. Om ons te leer om die dag blywend te
verwag, gebruik Paulus die beeld uit Jesus se eie onderwys, die beeld van die
dief wat snags kom. Met die dag van die Here op die agtergrond skuif die beeld
oor na ’n nuwe beeldspraak: die van die duisternis wat vir die lig plek moet
maak, die dag wat die nag kom aflos. Bekende beeldspraak in die Bybel. Soos
Paulus dit ook gebruik in Rom 13:12 "Die nag het ver gevorder en dit is
amper dag. Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die
lig aangord." Die beeldspraak lê agter die groot voorreg waaraan Paulus
die gemeentelede, julle, herinner: julle is mense van die nuwe dag.

Oor die lewe in hierdie wêreld het die nag geval. Deur ons sonde het ons die
lig van God se vriendelike aanwesigheid verspeel. Ons het in die greep van die
vors van die duisternis gekom. Ons het onsself verkoop aan die gode en magte wat
hy ons voorgehou het.

Maar God kom ’n einde aan die nag maak. Hy werk heen na die nuwe, ewige
dag, onder die son van sy genadige aanwesigheid. In Christus se werk op aarde
het Hy die lig definitief laat deurbreek in die duisternis. Christus is die lig
van die wêreld. Wanneer Christus kom, dan laat Hy die nag ophou ten gunste van
die dag. Die daglig is al gesien, die Son is reeds gesinjaleer. Daarom weet die
gemeente van Christus: die nag loop na die einde toe, die dag is aanstaande.
Hoewel dit min daarop lyk, sien die geloof dat niks die lig meer kan keer nie,
die dag kan sommer aanbreek. Hou dus elke oomblik rekening met die dag van die
Here Jesus waarop dit heeltemal dag word.

Wat ’n voorreg om die dag te mag verwag. Julle is mense van die nuwe dag.
Van myself is ek ’n langslaper in ’n lewe waarin die nag donker lyk. Sonder
oog vir die lig wat in Christus opgegaan het. Sonder benul van die aanstaande
einde van die nag. Uit myself leef ek asof die greep van die vors van die
duisternis met sy magte normaal is. Asof die moeite en sorge van die lewe altyd
daar sal wees. Uit myself sou ek nooit die nuwe dag ingaan nie, maar die ewige
nag in die buitenste duisternis, ver van God se vriendelike aangesig vandaan. Ek
het ’n wekker nodig, anders slaap ek deur saam met die ander.

Wel, God het my en julle wakker gemaak, terwyl ander nog slaap. Hoe? Met die
wekker van sy Woord. Hy het julle uitgekies om mense van die nuwe dag te wees.
Hy het julle gewys op die lig wat in Christus reeds opgegaan het. deur die
prediking van die evangelie; in krag en in die Heilige Gees. Daardeur het julle
jul bekeer van die afgode tot die lewende God. Terwyl die mense rondom julle nie
verder as die nag sien nie, mag julle dag reeds begin. Julle is wakker gemaak om
God se Seun uit die hemel te verwag, wat julle van die komende toorn verlos.

Laat ons hieroor met mekaar praat. En so mekaar bemoedig. Laat ons deur die
beeld van dag en nag ons lewe leer sien in die juiste verhoudings. Mekaar se oë
oophou vir die voorreg om mense van die nuwe dag te wees. Mekaar so aanspreek,
juis wanneer die nag nog donker lyk. Dit bemoedig en bou op.

Nou die tweede gedagte: ons roeping.

Paulus sê: Aangesien julle aan die dag behoort, moet julle nie gaan slaap
nie, maar wakker en nugter wees. Keer jou oë nie af van die lig weg nie. Sorg
dat jy nie slaperig word soos die ander wat hulleself nie deur die wekker van
God se woord laat wek nie. Die apostel sê letterlik: "Laat ons dan nie
slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees. Want die wat slaap,
slaap in die nag, en die wat dronk word, is in die nag dronk." Om te slaap
beteken hier om te leef asof Christus nie daar is nie en nie sal kom nie. Hulle
wat slaap hou geen rekening met Christus, dat Hy rekenskap vra nie. Hou jy wel
rekening daarmee? Hoe? Wys in jou lewe dat jy ’n kind van die dag is. Die
verwagting van die dag moet jou lewe as gelowige bestempel. Jou geloof en
belydenis moet jou lewenstyl bepaal.

Die Thessalonicense het dit reeds gewys. Let maar op die prysende woorde van
hoofstuk 1:2,3 "Ons dank God altyd oor julle almal as ons aan julle dink in
ons gebede en onophoudelik in gedagte hou die werk van julle geloof en die
arbeid van julle liefde en die lydsaamheid van julle hoop op ons Here Jesus
Christus." As hulle reeds in hul lewenstyl wys dat hulle glo en kinders van
die lig is, waarom dan die oproep van ons teks?

In die lewe van die christen is daar die gevaar dat louheid en
onverskilligheid ons hart tog weer besluip. Dan word die christelike lewe ’n
sleur. Dan word die wederkoms van Christus slegs ’n leerstuk. Dit verloor sy
onmiddellike betekenis vir ons lewe hier en nou. Wie eenmaal wakker geword het,
is nie immuun vir die slaap nie. As jy douvoordag gewek is, terwyl alles nog in
diepe rus is, kan die suigkrag van die slaap sterk wees. Jy dommel maklik weer
in om eers veel later wakker te word. Dalk te laat. Om gewek te word het eers
sin vir wie vervolgens nie meer slaap nie.

Laat ons die suigkrag van die slaap tog onderken. Waarom is die suigkrag soms
so sterk? Dis omdat ons self ook kom uit die sfeer van die vors van die
duisternis. Die suigkrag ontvang sterk impulse vanuit ons omgewing wat in diepe
rus is; die ander, die ongelowiges. Hulle suggereer: om te slaap is gewoon.
Hulle sluit hul horison af vir die lig wat in Jesus Christus opgegaan het. Hulle
sluit hulleself op in ’n geslote wêreld. ’n Wêreld wat homself moet red.
Hulle is vol van sake van die ou lewe wat verbygaan: geld, seks en mag. Daaroor
praat hulle, dit bepaal hul kyk, lees en luistergedrag. Hulle laat hul lei deur
die norme van die vlees. Die allesbeheersende feit van Christus se aanstaande
wederkoms het vir hulle geen nuuswaarde nie. Hulle is bekommerd oor allerlei
probleme en gevare, maar hulle dink nie aan die groot risiko van die naglewe
self nie, hulle wil nie daaraan dink nie. So slaap hulle en hou mekaar in slaap,
totdat Christus skielik hulle oorval.

As mense van die nuwe dag moet ons elke dag teen hierdie lewenshouding veg.
So leef die ander. En dis geen anonieme versameling van mense nie. Dis mense
waar ons elke dag mee te make het. Dis mense uit die straat, vriende op die
universiteit of tegnikon, kollegas. Dit kan selfs familielede wees en
huisgenote. Hul lewe is nou met ons lewe verstrengel. Wat hul lewe vul en sin
gee, domineer ook maklik ons lewe. Sou hul vredige rus ons nie beinvloed nie?
Sal ons die slaap uit ons oë vryf?

Om te leef in die lig van die groot dag van Christus, beteken nie dat ons ons
onttrek aan die volle lewe nie. Om te studeer, om opleidings te kies en te
voltooi, om te werk, om geld te maak, om te trou, om kinders groot te bring, om
belangstelling te hê vir die dinge rondom ons, is nie in stryd met die
verwagting van Christus se koms nie. As ek dit maar sien en doen in
verbondenheid aan Christus, as ek dit maar waardeer volgens die norme van
Christus, volgens die lig wat in Christus skyn. Stel alles in sy diens; doen jou
studies en werk, verdien jou geld en gee dit uit tot eer van Hom, gewillig en
met vreugde. Wys jou christelik hoop in ’n christelike lewenswandel. Laat dit
jou lewe bestempel,

Wat maak jy wanneer jy weet dat ’n baie belangrike persoon aan die kom is?
Wat sou ons bv by die Laerskool Johannes Calvyn doen as ons weet dat die
President dit kom besoek? Sou ons nie baie besig wees om alles gereed te maak
nie? Jy sorg daarvoor dat die geboue netjies is, skoon en goed geverf, jy sorg
dat die kinders op hul bes is en die tuine mooi. Hoeveel te meer moet jy jou dan
nie voorberei op die koms van die koning van die konings, Jesus Christus nie.
Wees waaksaam en nugter omdat jy Christus se heerlike wederkoms verwag. Dit
beteken dus: breek met die sonde, leef gedissiplineerde lewens, laat jou nie
aflei van die doel van jou lewe nie, laat jou nie bekoor of bedwelm deur die
sonde nie. Breek met alles wat Christus se eer in die pad staan. Mense van die
nuwe dag kan tog nie die werke van die duisternis liefhê nie?

Dit sal nie maklik wees nie. Die mense rondom jou lag jou uit. Wanneer jy jou
werklik op Christus rig, word jy soms as dom en ouderwets gesien, wêreldvreemd,
nie in voeling met die werklikheid nie. Die lewe van die christen bly ’n
stryd. Doodsvyande bly ons belaag: die duiwel, die wêreld en selfs ons eie
vlees. Daarom vervolg Paulus ook met die woorde: "Maar laat ons wat van die
dag is, nugter wees, met die borswapen van die geloof en liefde aan, en as helm
die hoop op die saligheid." Ons harte en gedagtes moet beskerm word.

Geloof, liefde en hoop is verdedigingswapens. ’n Christen trek die
wapenrusting van God aan, trek die wapens van die lig aan, trek die Here Jesus
Christus aan. Paulus weet van die vors van die duisternis wat as versoeker
aktief is. Met die borswapen en helm is jy veilig teen sy aanslae.

Geloof en liefde, die twee is nou aan mekaar verbind. Waar die een ontbreek
daar kan die ander nie bloei nie. Geloof is onmisbaar om Christus se koms in
heerlikheid te bly verwag. Om te glo is mos om God se ryke beloftes aan te neem,
om Hom te vertrou, om jouself aan Hom oor te gee. Die geloof hou ’n mens
staande, hoe sterk die verleiding ook mag wees. En die verleiding sal sterk
wees! Joh skryf in 1 Joh 5:4: "Dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin
het, naamlik ons geloof." ... Dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin
het, naamlik ons geloof. Onthou dit! Deur God op sy woorde aan te neem, deur op
Hom en sy woord te vertrou, oorwin jy die wêreld. Ja deur in Christus te bly
(dis mos wat die geloof doen, dit verbind jou aan Christus) deur in Christus te
bly, kan jy die verleiding van die sonde weerstaan. Met Christus staan jy sterk.

Maar vergeet daarby nie die liefde nie. Liefde vir Christus, liefde vir sy
saak, sy ryk, sy kerk. Die is ewe onmisbaar as die geloof. En dit moet nie net
in woorde nie, maar ook in dade gewys word. Dit hoef nie altyd in groot dinge te
gebeur nie. Juis in die kleinighede, in die lewe van elke dag sal dit openbaar
word dat die liefde in jou hart heers.

Staan vas in geloof en liefde, ook al sê mense rondom jou dat jy niks
daarmee bereik nie. Met die borswapen kan jy heen lewe na die dag van Christus
se koms.

Vergeet dan ook nie die helm nie: die hoop op die saligheid. Die realiteit
van die christelike hoop is so sterk dat ons ondanks teëwerking en verdrukking
kan volhou. Op die dag van Christus wederkoms sal ons die volle saligheid
ontvang. Ons hoopvolle verwagting sal nie beskaam word nie.

So kom ons by die laaste gedagte: ons bestemming.

"Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te
verkry deur onse Here Jesus Christus." Daarom moet ek waaksaam en nugter
wees, daarom moet ek die wapenrusting van geloof, liefde en hoop aantrek. Ek
weet wat aan die einde van die pad lê. Ek weet dat die pad splits in toorn of
saligheid. God het ons nie bestem tot toorn nie. Die dag van Christus se
wederkoms sal wel die volle ontlading van God se toorn saambring. Wie kan
bestaan voor sy gramskap?

God het egter ons, dit is die mense van die dag, nie tot toorn bestem nie,
maar tot saligheid. Hier is sprake van God se verkiesende liefde. Ek het nie die
saligheid gekies nie. Dis ook geen vrug van my waaksaamheid en selfbeheersing
nie, van my aantrek van die wapenrusting nie. Die eindpunt van die lewe: die
verkry van die volle saligheid moet ons altyd in verbinding sien met die
beginpunt daarvan: God se soewereine verkiesende liefde.

God het my, het jou, ’n kind van die nuwe dag, tot Christus en tot die
saligheid in Hom gekies, voordat jy self vir Christus en sy saligheid kon kies.
Wat ’n ryke troos. Wat lê my saligheid nou vas. Dis nie ’n miskien nie,
’n vae hoop, ’n onsekere "mog dit nog eers gebeur" nie. Ware
gelowiges het ’n bestemming van God, wat nooit verander nie, wat Hy nie sal
herroep nie. Christene weet nie net dinge wat ongelowiges nie weet nie, hulle is
ook die enigste mense wat werklik vaste grond onder hulle voete het.

Gemeente, hierdie saligheid word verkry deur ons Here Jesus Christus wat vir
ons gesterf het. Vir ons, dit kan ek alleen in die geloof verstaan. Wie net met
sy verstand Golgota beoordeel kan net konstateer dat Jesus deur die Romeine daar
gedood is. Verder kom hy nie. Maar as jy die werklikheid wat daar plaasgevind
het wil sien, dan moet jy glo en God se verklarende woorde by die dood aanvaar.
Dan alleen beteken die gebeure saligheid vir jou. Golgota, my sonde is versoen,
die dood is oorwin en die ewige lewe verwerf. Nou is die ware lewe weer
moontlik. Dit vloei na my toe uit die lewende Christus. Want Hy het nie in die
dood gebly nie. Hy leef en deel die saligheid uit.

Sodat ons, of ons waak( dit is, hier op aarde nog bly) en of ons slaap ( dit
is of ons in Christus ontslaap het) saam met Hom, Christus kan lewe. Lewe met
Christus, daaroor gaan dit in ons, in julle lewe. Dis elke dag weer jou hart vir
sy Gees en Woord oopstel, om te luister na sy stem, om te dink wat Hy eers
gedink het, om te doen wat Hy sê, om te begeer wat Hy begeer. Lewe met
Christus, dit is met Hom omgaan, met Hom praat, om alle gebeure op Hom te
betrek, om alles in sy lig te sien. Lewe met Christus, dit is om te weet dat Hy
altyd by jou is; die vreugde, maar ook die lyding en smart uit sy hand te
aanvaar in die wete dat ’n onbeskryflike heerlikheid jou wag. En die lewe met
Christus eindig nie, ook nie by die dood nie. Want God het ons bestem om die
saligheid te verkry deur ons Here Jesus Christus.

Daarom bemoedig mekaar en bou die een die ander op met hierdie woorde.
Herinner mekaar aan julle geweldige posisie. Julle mag mense van die nuwe dag
wees. Herinner mekaar aan die roeping wat daaruit volg: waak en wees nugter, met
die wapenrusting aangetrek. Herinner mekaar aan jul bestemming: julle is nie
bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)