Die noue verbinding tussen die Christus en die christen.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-11-24
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 12
Preek Inhoud: 

Sondag 12

Ds C Kleyn - Sondag 24 November 2002

Lees:

Lukas 4:14-21; 1 Petrus 2:1-10; Sondag 12.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; SB 25; Ps 89:6,7; SB 9:4,5.

Tema: Die noue verbinding tussen die Christus en die christen.

  1. Die Christus; en
  2. Die christen.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons is christene. Dis hoe ons onsself aan die mense voorstel. Wanneer jy praat met mense uit die verskillende bevolkingsgroepe van ons land dan sê baie van hulle dat hulle christene is. Is ons dan almal christene? Wat beteken dit om christen te wees? Wanneer is jy ’n ware christen?

Die naam christen kom uit die bybel uit. Dis duidelik dat die naam saamhang met die ander naam Christus. Christene is genoem na Christus. Hulle behoort by Hom. In Hand 11:26 lees ons dat die dissipels in Antiochië vir die eerste keer christene genoem is. Dissipels, leerlinge van die Here Christus word christene genoem. Hulle word genoem na Christus, die naam wat deur hulle bely en gepredik word. Hulle behoort by Christus.

Uit wat ons verder in die bybel lees, weet ons dat die band tussen Christus en die christen ’n baie hegte band is. Jy is eers ’n ware christen as jy nou aan die Christus verbind is. Daar moet selfs van ’n lewenseenheid sprake wees. As jy nie een met Christus is nie, As jy jou nie deur Christus laat beheers nie, dan gebruik jy ten onregte die naam christen. Om christen te wees is nie net dat jy met die sogenaamde christendom simpatiseer nie. Dit beteken dat jy deur die geloof aan Christus verbind is as ’n lewende lidmaat van sy liggaam.

Laat ons nou kyk na die noue verbinding tussen die Christus en die christen.

Ons let eers op die Christus en daarna op die christen.

In die sinagoge van Nasaret stel die Here Jesus homself voor as die Christus. Jesus lees die woorde van die profeet Jesaja: die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het." Jesus pas die woorde op Homself toe wanneer Hy sê: vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul. Die Here Jesus identifiseer Homself as die Christus, as God se gesalfde. Soos julle weet beteken Christus gesalfde. Die hebreeuse woord is Messias.

In hierdie geskiedenis wys die Here Jesus terug na sy doop. Dit was mos by sy doop dat Hy gesalf is. Die Heilige Gees het soos ’n duif op Hom neergedaal en die stem van die Vader het uit die hemel gekom: "U is my geliefde Seun; in U het Ek ’n welbehae."

Daar en dan het God die Vader publiek Jesus geroep en toegerus vir sy messiaanse amp. Wat was mos die betekenis van die salwing in die Ou Testament? Die salwing was ’n teken van jou roeping en toerusting. Deur jou salwing met olie was jy van ander mense onderskei. Daarmee was jy geroep tot ’n besondere amp in diens van die Here. Die salwing met olie het ook gewys op die belofte dat God jou die nodige kragte wou gee om die besonder amp te kan vervul. Die olie was mos ’n teken van die Heilige Gees, ’n teken van sy vernuwende en bekwaammakende krag.

Jesus Christus is egter nie, soos in die OT gebruiklik was, met olie gesalf nie. Hy is met die Heilige Gees self gesalf. Die Heilige Gees het op Hom neergedaal. Daarom lees ons in Lukas 4 dat Jesus vol van die Heilige Gees van die Jordaan af teruggekeer het. Die Heilige Gees het beslag op Hom gelê en hom krag gegee vir sy messiaanse taak.

Vir watter doel het die Vader Christus geroep? Dit word duidelik uit wat volg in die aanhaling uit Jesaja. "Hy het My gesalf," lees Jesus, "om die evangelie aan armes te bring. Hy het my gestuur om die wat verbrysel van hart is, te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig."

Met hierdie woorde rig die profeet Jesaja hom in eerste instansie tot die ballinge in Babel. Hulle leef in duisternis. Dit lyk asof hulle geen perspektiewe het nie. Hul stad en tempel lê verwoes. Hul beloofde land Kanaän is van hulle weggeneem. Hulle is ballinge in ’n verre en vreemde land. Met sy profetiese woorde moet Jesaja hierdie ballinge bemoedig en hulle nuwe perspektiewe gee. ’n Nuwe tydperk gaan vir hulle aanbreek. ’n Tyd van genade. ’n Tyd van bevryding.

Die gesalfde verlosser word gestuur om vrylating aan gevangenes te verkondig en om die wat gebroke is in vryheid weg te stuur. Mense wat so te sê gevange is in die land van ballingskap sal bevry word. Hulle sal na hul beloofde land, na hul erfdeel terugkeer. Dit sal wees soos tydens die jubeljaar. Ja, Jesaja verwys uitdruklik na die jubeljaar wanneer hy die aangename jaar van die Here aankondig.

Die jubeljaar was ’n geweldige gebeure in Israel. Dit was ’n fees van bevryding. Hulle wat genoodsaak was om hul land of selfs hulleself vanweë armoede te verkoop het hul land en hul vryheid teruggekry. Hulle kan weer na hul familie erfdeel terugkeer. ’n Mens kan dus voorstel dat die jubeljaar ’n groot fees van bevryding was, veral vir hulle wat in armoede en slawerny verval het.

Wel, iets dergeliks sal gebeur met die ballinge in Babel. Hulle sal bevry word van hul slawerny en sal na hul erfdeel terugkeer.

Dis duidelik, geliefdes, dat hierdie profesie van Jesaja verder reik as die bevryding uit die babiloniese ballingskap. Dit blyk uit Jesus se verklaring van hierdie woorde. Wanneer Jesus hierdie gedeelte lees dan sê Hy: "Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul." Jesus verwys na die bevryding wat Hy aan die bring is. Die profesie praat van niks minder as die ewige jubeljaar wat sal aanbreek as gevolg van Christus se verlossingswerk. Die woorde verwys na die bevryding van alle ballingskap en nood.

Wie is dan die armes, die gevangenes, die blindes en die gebrokenes? Dis mense in nood. Mense wat uit hulleself niks het nie. Mense wat uit hulleself geen krag, geen middele, geen geregtigheid het nie. Mense wat hul skuld en hulpeloosheid voor God ken. Hulle is die armes van gees wat sug onder die druk van die sonde en sy gevolge. Mense wat die duisternis van sonde en verderf ervaar en hul eie blindheid bely. Dis vir hulle dat Christus ook vandag die aangename jaar van die Here verkondig. Hulle sal van alle druk en vreemdelingskap bevry word. Hulle sal nie langer as vreemdes in ’n vreemde land wees nie. Hulle sal hul ewige erfenis ontvang.

Hierdie messiaanse jubeljaar het tydens Christus se bediening op aarde begin. "Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul" hoor ons Christus sê. Die fees het begin, die fees van genade en bevryding.

Wat ’n geweldige boodskap, geliefdes, vir die Jode van daardie dae, ja, vir die kerk van alle tye, vir u en vir my. Hoe dikwels het die kerk nie onder die juk van slawerny geleef nie. Hoe dikwels is nie vir mense gesê dat hulle God se guns deur hul eie prestasies moet verdien,. Die Fariseërs, die Judaiste, die RK kerk, die wettisiste het mense as ‘t ware gevange gehou deur hul leer van verdienstelike werke. Langs die pad kon niemand ooit rus vind nie. Mense was belas met ’n ondraaglike las, belas met ’n las van slawerny. Luther het dit in sy tyd gesien en het gepraat van ’n babiloniese ballingskap van die gelowiges.

Broeders en susters, die gehoor in die sinagoge van Nasaret merk dat Jesus heeltemal anders as die Fariseërs praat. Hulle merk dat Hy woorde van genade spreek. "Hulle was verwonderd oor die aangename woorde wat uit sy mond kom," lees ons in Lukas 4:22. Sy woorde was so anders as die ontmoedigende en veroordelende woorde van die Fariseërs.

Christus verkondig die bevryding deur Hom alleen. As ons hoogste profeet en leraar. Hy bring goeie nuus vir hulle wat in duisternis verkeer. Hy maak aan ons die verborge raad en wil van God aangaande ons verlossing ten volle bekend.

Christus verkondig nie net die verlossing nie. Hy verwerklik dit ook. As ons enigste Hoëpriester bring Hy dit tot stand. Hy aanvaar die duisternis van God-verlatenheid sodat ons in die lig mag ingaan. So bevry Hy in ooreenstemming met die profesie die gevangenes, herstel Hy die gesig van blindes, en gee Hy vryheid aan die gebrokenes. Is dit nie wat ons mag ervaar nie, geliefdes. Ek moet bevry word. Ek is bevry. Deur Christus my profeet, priester en koning.

Ja, Hy is ook ons koning, ons ewige koning, wat leef en regeer in ewigheid. My bevryding is in goeie hande. Hy sal my by die verlossing wat Hy vir ons verwerf het, beskerm en bewaar. Deur sy Woord en Gees.

Gemeente, hoe geweldig is dit om Jesus Christus besig te sien in sy drievoudige amp vir ons verlossing. Hoor hoe Hy die verlossing verkondig. Hy het reeds daarmee begin by my doop en Hy gaan nog steeds aan met die verkondiging van die goeie nuus. Kyk hoe Hy die verlossing tot stand gebring het en steeds weer werklikheid laat wees in my lewe. Kyk hoe Hy ons by die verlossing bewaar. Deur sy Woord en Gees. Sien hoe aktief Hy in jou lewe besig is.

Dis waar, julle leef nog steeds soos vreemdelinge hier op aarde. Ook al word julle erfgename van die wêreld genoem. Julle erfenis word nog bestry. ja, julle word nog bestry, versoek, verneder. Maar in Christus mag julle weet van die aangename jaar van die Here. Die groot fees van bevryding het in beginsel reeds begin. Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul. En niks kan Jesus Christus stop om sy werk te voltooi en om jou na die finale fees van oorwinning, die bruilofsmaal van die lam, te nooi nie. Onthou Hy is nie net jou hoogste profeet nie. Hy is ook jou enigste Hoëpriester en jou ewige Koning.

Gemeente, ek het die Christus vir julle verkondig. Nou wil ek let op die christen. As christen word jy na Christus genoem. Jy behoort by Christus. Jy is slegs ’n ware christen as jy deur die geloof aan Christus verbind is.

Christus beteken gesalfde. In die naam christen hoor jy ook die eggo van die salwing. Wanneer jy aan Christus behoort, is jy ook self ’n gesalfde. In Hom is jy herstel in jou oorspronklike amp van profeet, priester en koning. In Christus word jy weer geroep en bekwaamgemaak om die drievoudige amp wat Adam in die paradys gehad het, te vervul.

In 1 Pt 2 word verskillende elemente van die drievoudige amp genoem. Die apostel Petrus sê pragtige dinge oor die christene. Hulle word in hoofstuk 1 vreemdelinge van die verstrooiing genoem. Vanweë hul geloof in die Here Jesus word hulle verwerp, verag. Hulle ly vir hulle geloof. ’n Droewige situasie, sou ’n mens sê. Maar wat sê Petrus? Hy praat van ’n voorreg. Hy sê: sien jou isolasie en vervreemding as ’n eer. In hoofstuk 1:3 skryf hy: "Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy groot barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ’n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode, sodat ons ’n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat is die hemele bewaar is vir ons."

Petrus beskryf in hoofstuk 2 verder die heerlike posisie van die vervolgde christene. Dit begin reeds in vers 7: "Vir julle dan wat glo, is Hy, die steen, kosbaar." Die steen. Waarop wys Petrus? Hy verwys hier na die uitverkore en kosbare hoeksteen Jesus Christus. Die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie. Wanneer jy op Hom bou, sal jy nooit teleurgestel wees nie. "Vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar." Die eer is vir julle. Dit in teenstelling met die ongelowiges. Vir hulle is Christus ’n steen van aanstoot en ’n rots van stuikeling. In ongeloof en ongehoorsaamheid val hulle oor hierdie steen wat deur God gekies is. Hulle verwond hulleself aan die Verlosser van die wêreld.

Maar julle, vervolg Petrus in vers 9, "julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig." Wat ’n voorreg is dit om christen te wees, ook al word jy moontlik verwerp en vervolg deur mense, selfs deur jou klasmaats of kollegas. Ek weet dat dit nie altyd so voel nie. ’n Voorreg? Dis nie hoe ons dit gewoonlik ervaar wanneer mense ons pla, bespot, verneder vanweë ons geloof nie. Maar dit is tog die werklikheid. Dis ’n voorreg. Hoe dan? Jy is ’n christen. Mense hoef jou nie jammer te kry nie. Jy moet die mense wat jou pla jammer kry. Hulle leef nog in duisternis. Daarom reageer hulle ook op daardie manier. Jy is uit die duisternis geroep na God se wonderbare lig. Jy is bevry deur Christus. Verlos van die dodelike duisternis en gevangenskap, van die slawerny van sonde en satan. Jy het lig en lewe ontvang.

Julle is ’n uitverkore geslag. God het jou uit die verlore menslike geslag uitgekies om jou te bevry. Wat ’n onverdiende guns en voorreg. Waarom jy wel en soveel ander nie? Hulle bly in hul ellende lê terwyl jy daaruit gered is.

Julle word verder ’n koninklike priesterdom genoem. Christene is priesters. Wat tipeer ’n priester? Dit, dat jy naby God mag wees, dat jy Hom mag nader, dat jy in die heerlikheid van sy nabyheid mag staan en werk. In Israel mog net priesters God in sy heiligdom nader. Dis hoe dit ook vandag is. Alleen nou het alle ware gelowiges priesters geword. Daar is geen spesiale klasse priesters meer nie. Sedert Christus se voltooide werk mag al God se kinders na vore kom as priesters en konings. Jy het vrye toegang tot sy troon.

Om ’n priester voor God te wees het ook gevolge. Petrus het reeds eerder daaroor geskryf in hoofstuk 2:5. "Laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ’n geestelike huis, ’n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus." Om geestelike offers te bring. Jy hoef nie meer diereoffers te bring nie, soos dit in die Ou Testament gebruiklik was. Bring geestelike offers. Wys dat jy geestelik is, gevul met die Gees van God. Bied die Here die vrug van die Gees aan. Dan gee jy nie net uit gewoonte dinge aan God, omdat dit van jou verwag word nie. Nee, jy doen dit van harte, uit geloof, gedryf deur die Gees.

En jy gee nie net iets van jou self nie, jou tyd of geld nie. Gee jouself. Plaas jou hele lewe op die altaar. Soos Paulus skryf in Rom 12:1: "Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God dat julle jul liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer – dit is julle redelike godsdiens." Wat is dan jou redelike erediens? Dat jy jou liggaam stel as ’n lewende offer. Jou hele persoon moet op die altaar, jou liggaam met al sy lede en vermoëns. Daar is niks vir jouself oor nie.

Kan jy jou dit voorstel? Om so priester te wees? Om jou hele persoon aan God te gee. Dit impliseer totale selfverloëning, totale oorgawe aan God. "Here, hier is ek, tot u diens. Wat wens u dat ek sal doen? Vra en ek sal dit vir U gee. By die skool as leerling of onderwyser. By die technikon, universiteit of enige ander tersiêre onderwys instelling as dosent of student. By die werk, by die huis, in die kerk en in die samelewing. Niks is van my nie. Dis alles van U. My verstand, my tong, my hande en voete, my oë en ore, my tyd en geld. Alles behoort aan U. Dis ’n vreugde om u as priester te dien met alles wat ek is en besit. Uit dank vir u reddingsoperasie in my lewe. Uit dank vir Christus se lyding en dood om my lewe te red."

Broeders en susters, Petrus noem die gemeente ’n koninklike priesterdom. Verbind aan die koning Jesus Christus word jy self ook koninklik. Jy deel in die heerlikheid van die koning. Jy regeer saam met Christus. In Hom leer jy en word jy in staat gestel om jou situasies in die lewe te hanteer. Jy leer om jou gevoelens te beheers. Jy leer om nee te sê teen die sonde en ja teen God. Deur Christus word jy ’n oorwinnaar. Soos Joh die skryf in 1 Joh 5:4: "Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof." Jou geloof maak jou sterk. Jou geloof maak jou oorwinnaar. Waarom? Omdat jou geloof jou met Christus verbind.

Dis alles deel van koning wees, saam met Christus regeer, nou nog in onvolmaaktheid, maar later in volmaaktheid.

Dan is daar ook nog die amp van profeet. Petrus verwys daarna wanneer hy skryf: "Julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig." Jy ontvang nie so ’n heerlike posisie vir die sier nie. God het jou afgesonder vir homself sodat jy Hom as priester gaan dien en as profeet sy lof gaan verkondig. God het jou uit die duisternis na sy wonderbare lig geroep. Jy mag die aangename jaar van die Here vier. Sy genade. Jou bevryding. Verbasend. Oorweldigend. So ’n genade. Loslating uit gevangenskap om God se heilige nabyheid in te gaan. Wat ’n lig en lewe.

Wel, as jy deur jou God en sy genade oorweldig is, dan kan jy nie stilbly nie. Jou hart en gedagtes is daar vol van. Jou hele lewe is daar vol van. Dit word weerspieël in alles wat jy sê en doen. Om in God se lig te leef kan nie verborge bly nie. Jy kan dit nie wegsteek vir jou klasmaats, vir jou kollegas nie. Tensy jy weer vir die duisternis kies. God se lig maak jou tot ’n lig. Wanneer jy deur God gered is, sal jy sy deugde verkondig. Dis die doel van jou verkiesing deur God: dat jy die deugde verkondig van Hom wat jou uit die duisternis tot sy wonderbare lig geroep het. Met woord en daad. Jy behoort aan God. Jy is sy verteenwoordiger hier op aarde. Jy wil jou God verheerlik. As profeet gaan jy sy Naam bely. Jy gaan praat van sy roemryke dade. Jy is trots op so ’n magtige Skepper en Verlosser. Jy wil dit met ander mense deel. Jy wil hê dat ander ook Hom leer ken en saam met jou Hom verheerlik.

Broeders en susters, so kom daar iets terug van die paradys situasie. Deur Christus, die gesalfde, word jy herstel in jou oorspronklike drievoudige amp van profeet, priester en koning. Is dit iets wat jy herken in jou lewe? Is dit iets wat ander mense in jou herken? Jy is mos ’n christen?

So kan ons ook sing in antwoord op hierdie boodskap met die woorde van psalm 89:6 en 7:

Hoe salig is die volg wat luister na u woord,
hul wandel in die lig wat van U afstraal, voort.
Hul sal hul in u diens, waaraan hul toegewy is,
die ganse dag verheug, omdat hul in U bly is;
hul prys u grote krag wat alle krag oortref het,
en u geregtigheid wat hul weer opgehef het.

U tog, U is hul roem, hul sieraad en hul prag,
wat hul beklee met sterkte en onverwinb're mag.
Uit vrye guns alleen, uit eewge mededoë,
hef ons die hoof omhoog, weer sterk deur Gods vermoë.
Want God is ons 'n skild, die weerkrag van ons lewe;
en onse Koning is deur Isr'els God gegewe.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)