Die loflied op die God van die lewe.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-12-01
Teks: 
Psalms 139
Preek Inhoud: 

Psalm 139:13-18

Ds C Kleyn - Sondag 1 Desember 2002

Lees:

Psalm 139.
Sing: Ps 146:1,3; Ps 146:4,8; Ps 105:5; Ps 139:6-9; Ps 115:7,8.

Tema: Die loflied op die God van die lewe.

  1. God het die lewe wonderlik gemaak; en
  2. God sorg ook vir die lewe.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Netnou was ons getuies van die doop van Abrie en Christiaan. Klein wonders
van die Here. Ja, dit geld vir elke kind wat gebore word. Dis elke keer weer
’n wonderwerk van God. Daarop wys die woorde van die teks. Psalm 139 is ’n
bekende en geliefde Psalm. Die Psalm is mos vol ontroering en verwondering.
"Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by
nie." Teer en met eerbied word die wonder van die nuwe lewe in die
moederskoot besing. By hoeveel kraambeddens is hierdie psalm nie gelees nie.
Hoeveel verwondering word nie geuit met die woorde: "Ek loof U, omdat ek so
vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke". Die Psalm help ons om ons
verwondering teenoor die Here ons Skepper te uit. Dawid plaas woorde op ons
lippe, woorde van lof op die Skepper van alle lewe.

Ek verkondig vir julle: die loflied op die God van die lewe

  1. God het die lewe wonderlik gemaak
  2. God sorg ook vir die lewe.

Die hele Psalm praat oor die Here wat sy kinders ken. Dawid begin met die
woorde: Here, U deurgrond en ken my. Die Here ken my van top tot toon. Niks is
vir hom verborge nie. Hy stel belang in alles wat ek is en doen.

Hoekom let die magtige verbondsgod op alles wat in my klein lewe gebeur?
Waarom stel Hy belang in al die normale dinge van ons menslike bestaan? Die
psalmis verwys na die oorsprong van menslike lewe. Vanaf die begin is God
betrokke by die ontwikkeling van my lewe as kind in die liggaam van my moeder.
God is betrokke, nie net as een wat alles observeer en so alles weet nie. Nee,
God is betrokke as die Skepper wat alles formeer. Van die begin tot die einde is
ek God se handewerk. En sou God nie belangstel in sy eie handewerk nie? Sou die
Skepper nie sy eie skepsel deurgrond en in liefde ken nie?

Ons lees: "Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot
geweef." Nadruk val op die voornaamwoord U. U het my gevorm. U het my
geweef. Die Here, my Verbondsgod is my Skepper. God het iets tot stand gebring
wat nog nie was nie. Hy het nuwe lewe gevorm in die skoot van my moeder. Hy het
my gemaak. Daarom is dit nie reg wanneer mense praat van ouers wat kinders maak
nie. In die westerse wêreld het dit ’n gebruiklike uitdrukking geword dat
ouers hul kinders maak. In ’n engelse boek vir kinders word op die vraag wie
het my gemaak, geantwoord: my pa en ma het my gemaak. Dis egter nie ouers wat
kinders maak nie, maar God, ook al maak Hy in die proses wel van ouers gebruik.

Voordat ek gebore was, het God my niere gevorm. Die niere word hier gesien as
die setel van die emosies en die wil. God het my innerlike wese gemaak. As God
my niere gemaak het, dan het God op so ’n manier beheer oor my dit uitstrek
tot die innerlike deel van myself. Dis iets wat mense nie kan sien of deurgrond
nie. My innerlike gevoelens is vir ander verborge. Die Skepper kan egter my
diepste gevoelens en motiewe peil tot die bodem toe. Want Hy is diegene wat my
innerlike gevorm het.

Die Here het my in my moeder se skoot geweef. Hy het alle dele van my liggaam
by mekaar gevoeg. Die Psalmis wei daaroor uit in die verse 15 en 16. Ons ontvang
’n eenvoudige en tog so mooi beskrywing van die vorming van ons lewe voor ons
geboorte. Dawid sê: "My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die
geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde."

’n Groot kunstenaar sal dikwels alleen in sy ateljee werk en sy kunsstuk
vir homself hou totdat dit klaar is. Op ’n vergelykbare manier werk die Here
as 't ware in die geheim in die moederskoot. Dis waar dat moderne tegnologie
teenwoordig iets van die geheim kan ontsluier. Sonar beelde van die ongebore
kind kan nou gemaak word. Maar gewoonlik is die ontwikkeling van die kind in die
moederskoot iets wat buite ons waarneming gebeur. Maar dit is nie vir God
verborge nie. In die geheim maak God ’n mees voortreflike meesterstuk.

"My gebeente was vir U nie verborge nie". Die gebeente wys op die
been en spier stelsel. Dis waar die liggaam begin om saamgestel te word, met die
gebeente. Sonder die gebeente sou ons net balle jelatien wees. "My gebeente
was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie; kunstig geweef in die
dieptes van die aarde." Kunstig aanmekaargeweef soos ’n pragtige
borduurwerk. God het ons met groot kundigheid in mekaar gevleg. Hy het die
verskillende dele van die liggaam: die are, die senings, die spiere, die
senuwees, die longe en hart, die lewer en niere, die maag en derms saamgevoeg in
’n pragtige geheel. Wat ’n wonderlike meesterwerk.

"U oë het my ongevormde klomp gesien." Daarmee word die embrio
geteken, nog in opgerolde toestand. Mense vra somtyds vrae oor wanneer die lewe
begin. Wanneer word ’n embrio ’n mens? God se antwoord via Dawid maak
duidelik dat die vraag nie reg is nie. Die geinspireerde skrywer sê: U het my
geweef. Vanaf die begin was dit ek wat daar was. U oë het my gesien, nie ’n
onpersoonlike klomp selle nie wat nog nie my was nie, in die opgerolde
embrioniese staat. Die wonder van die menslike liggaam, selfs in die eerste
ontwikkelingsstadium, het die psalmis oortuig dat God met hom is en hom in
liefde ken.

Wat het Dawid in daardie tyd van die anatomie van die menslike liggaam
geweet? Tog is hy reeds vol lof en verbasing. Hy kan nie na die menslike liggaam
kyk nie sonder om verwonderd te wees oor sy fyne en kunstige samestelling.
"Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke. En
my siel weet dit alte goed." U Here, U ken my as Die gene een wat my gevorm
het. Ek kan nie begin om die skepsel wat u gemaak het te deurgrond nie. Ek kan
dit slegs met eerbied en verwondering bekyk. Wonderbaar is u werke.

Broeders en susters, as Dawid reeds vol lof is, hoeveel te meer sou ons
vandag nie vol lof op God moet wees oor die wonder van nuwe lewe nie. Sedert
Dawid se tyd het die wetenskap mos ver gevorder. Ons is in staat om vandag baie
meer te weet tot in die kleinste besonderheid van die ontwikkeling en
samestelling van die menslike liggaam. Hoe meer jy as christen daarvan weet, hoe
meer rede het jy om God te loof. Jy kan nooit te vinnig begin om jou Skepper te
loof nie. Hy het onmiddellik vanaf die eerste oomblik begin om jou te seën. Wat
’n belediging van die kunstenaar as jy sy meesterstuk negeer. Hoeveel te meer
beledig ek God wanneer ek sy wonderlike skepping negeer. Wonderbaar is u werk, o
HERE.

Dink vir ’n oomblik na oor die ontwikkeling van die kind van die bevrugting
tot die geboorte. Ja, selfs die bevrugting is op sigself reeds ’n
wonderbaarlike verskynsel. Die saadsel wat gelaai is met enkele tienduisende
gene wat die erflike eienskappe dra, dring deur tot die kern van die eiersel,
wat ook met soveel duisende gene gevul is. Die twee kerne, die van die eier en
die van die saadsel, versmelt spoedig tot een kern, wat reeds al die erflike
eienskappe in hom het van sowel die vader en die moeder. Daarmee het die sel
uniek geword, soos die volwassene wat hom daaruit sal ontwikkel uniek is. Geen
twee mense is aan mekaar gelyk nie.

Wie die sel deur ’n sterk mikroskoop bekyk, sien dat die sel onmiddellik
vol aksie, lewe en beweging is, ook al is dit kleiner as ’n speldekop. Binne
30 ure begin die deling van die bevrugte eiersel in twee dogterselle. Aan die
einde van die eerste week het dit ontwikkel in ’n bal van meer as honderd
selle.

Tydens die tweede week heg hierdie klomp selle hom vas aan die wand van die
baarmoeder. Die plasenta word gevorm. Daardeur kan die embrio in die moederskoot
lewe. Die ongevormde klomp begin onmiddellik vorm te kry. Na ongeveer 5 weke
begin die embrio op ’n mens te lyk. Na twee maande kan die embrio, wat nou die
fetus genoem word, sy kop, mond, arme en bene beweeg. Tydens die 5de maand kan
die ma die kind binne in haar voel beweeg. Na ses maande funksioneer die meeste
van sy organe.

Ja, daar is baie meer wat genoem kan word. Alles ontwikkel so mooi totdat die
ongebore kind volledig ontwikkel is en die geboorte kan plaasvind. ’n Groot
verandering in die lewe van die pasgeborene! Maar hoe wonderlik het God ook
hierin voorsien. Ongeveer tien sekonde na die geboorte begin die asemhaling. Die
longe kom in aksie. Die hart pas hom aan by die nuwe situasie, so ook die ander
organe. Wanneer jy na ’n pasgebore baba kyk, sou jy God nie prys vir so ’n
wonderlike skepping nie?.

Kyk bv na die hande, die vingers met sulke klein naeltjies daarop. Kyk hoe
die hande oop en toegesluit word. Kyk hoe die baba sy oë oopsluit en sy kop
omdraai wanneer hy die bekende klank van pa of ma se stem hoor. Ja, kyk na die
ore. Hoe mooi is hulle ontwerp. Soos ’n skulp. Volmaak ontwerp om die
geluidsgolwe in die lug op te vang sodat die deur die brein in klanke vertaal
kan word. Dit het nie toevallig so tot stand gekom nie. Die Here het dit so
ontwerp en geskep. Die pasgeborene is ’n volledige mens, behalwe dat hy nog
baie klein is, met ’n komplekse senu en bloed stelsel, met spiere en beendere
wat wonderlik deur die Here op sy plek gesit is. Juis by die geboorte van een
kind sien ’n mens hoe dwaas die ewolusie teorie eintlik is. Kan so ’n
liggaam per toeval onstaan en ontwikkel? Slegs ’n baie wyse kunstenaar kan so
iets maak. "Ek loof U, Here, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar
is u werke! My siel weet dit alte goed."

Elke nuut gebore baba is werklik ’n wonder, God se wonderbaarlike skepping.
Sou ek Hom nie as die Skepper van die lewe prys nie? Maar, geliefdes, hoeveel
mense doen dit teenwoordig nog? Die humanisme het die mense stomp en ongevoelig
gemaak. Baie mense sien God se wonderlike dade nie meer nie. Hulle wil dit nie
sien nie, anders sou hulle nie die moed hê om aborsie toe te laat nie. Baie
mense sien God nie meer nie. Materialisme en selfsug het die vreugde van die
nuwe geboorte vir baie ontneem. Kinders pas nie of nouliks in so ’n wêreld.
Hulle word as ’n las gesien. Die beskikbaarheid van voorbehoedmiddels kan ook
baie mense die indruk gee dat hulle self in beheer is, dat hulle geen skepper
nodig het nie. Hulle sal self wel kinders maak wanneer hulle daarvoor lus is.

Geliefdes, dit moet julle wel opval dat ons teks God se werk benadruk in die
oorsprong en ontwikkeling van die ongebore kind. Van begin tot einde is dit die
werk van die HERE. Wonderbaar is u werke, Here. God se werk word so sterk
benadruk dat Dawid geen enkele aanduiding gee van die rol wat ouers daarin speel
nie. So oorweldig is hy deur God se aktiwiteit, God se skeppende dade. Natuurlik
sluit dit nie die ouers se betrokkenheid uit nie. Ouers ontvang van God ’n eie
verantwoordelikheid in die proses van die verwekking van kinders. God wil van
ouers gebruik maak om nuwe lewe tot stand te bring. Maar wat die egpaar ook mag
doen, hulle is daarin volkome van God afhanklik. God is uiteindelik diegene wat
die moederskoot ook vandag nog open of sluit, wat vrugbaarheid gee of nie, wat
’n kind laat groei of nie. ’n Mens kan dink dat hy dit in eie hande het,
maar sonder God se werk en seën sal geen enkele mens ’n kind kan kry nie. Dit
bly God wat kinders in die moederskoot vorm. Elke kind is ’n gawe van God, God
se skepping. God se meesterstuk.

Laat ons daarom die lewe van die ongebore kinders beskerm en verdedig. Laat
ons hulle wat ’n kind verwag ondersteun sodat hulle ook die nuwe en wonderlike
skepsel van God as ’n skat koester, ook al sien hulle moontlik allerlei
hindernisse op die pad vorentoe. Of ons vir ’n kind gereed is of nie, die kind
wat eenmaal verwek is, is een van God se skatte, wat deur ons ook gekoester moet
word.

Sorge van die kant van ouers kan baie reëel wees. Dis nie so dat elke egpaar
onmiddellik gereed is om die kind te ontvang wat hulle verwag nie. Maar hierdie
probleme is daar om op ’n christelike manier opgelos te word, met die
ondersteuning van die christelike gemeenskap. Ook al is die situasie van my lewe
nie altyd wonderlik nie - daar is nog baie gebrokenheid - dan nog bly God se
werke wonderlik. Ek loof U, Here, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar
is inderdaad u werke.

Geliefdes, God het nie net die lewe wonderlik gemaak nie. Hy sorg ook vir
daardie lewe. Dis die tweede gedagte.

Ons hoor Dawid sê: "U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek
is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle
daar was nie."

Vanaf die eerste begin, voordat my ma besef het dat sy van my swanger was,
het die Here my geken. Toe al het God ’n lewendige belangstelling in my gehad.
Sy vingers het my in liefde gevorm. Sy oë het my ontwikkeling gevolg en oor my
gewaak, toe ek nie meer as ’n ongevormde klomp was nie. Dit was reeds in sy
boek geskryf dat ek ’n seun of ’n dogter sou wees, voordat enige mediese
ondersoek dit kon bepaal. Alles was reeds deur God bepaal. Die verskillende fase
van ontwikkeling wat ek moes en sou deurgaan. God werk nie willekeurig nie. Hy
laat dit nie oor aan toeval nie. Nee, God het reeds die skets van my lewe
vantevore geteken. Soos ’n goeie argitek, teken God sy planne en stel Hy sy
spesifikasies vantevore op. Hy volg sy ontwerp vir ons. God se liefde en sorg
was aanwesig voordat ek iets kon doen. Dit was alles opgeskryf in sy boek. So
het Hy my voortdurend omring met sy liefdevolle sorg, ook toe ek nog nie buite
die moederskoot kon leef nie. Hy het my in liefde geken. Daarom het Hy my nie
verwaarloos nie, geen enkele oomblik nie. Sy oog was voortdurend op my.

In hierdie lig kan ons sê dat wat met Abrie en Christiaan by die bevalling
gebeur het, nie toevallig is nie. God het dit so bepaal. So het Hy ook bepaal
wat verder in hul lewe sal gebeur. Hoe lank hulle sal lewe en onder watter
omstandighede.

Geliefdes, as God so wonderbaarlik vir ons gesorg het voor ons geboorte, sal
Hy dan nie voortgaan om vir ons en ons geliefdes te sorg nie? Sal Hy wat ons so
wonderbaarlik geskep het, nie voortgaan met sy werk aan ons totdat Hy dit
voltooi het nie? Wat ’n groot troos en bemoediging wanneer ons ons kinders
moet grootbring in hierdie tyd en wêreld. In watter soort wêreld sal ons
kinders groot word? Sal ons hulle wel afdoende kan voorberei op hierdie
sogenaamde postchristelike en postmoderne tydperk.

Maar nou weet ons: God het alles in sy boek opgeskrywe, elke ontwikkeling,
elke dag. Ons mag ons kinders aan Hom toevertrou. Hy sal sorg. Om in gebed ons
taak te vervul maak die las baie ligter: Ons hoef nie ons kinders of hul toekoms
te maak nie. Dit is die Here, ons getroue Verbondsgod, wat dit wil doen. Al wat
ons hoef te doen is om Hom ootmoedig en getrou te volg en te dien met die
talente en moontlikhede wat Hy ons gegee het. Ons lewe en die lewe van ons
kinders is in sy hande. Hy is in beheer. Gelukkig maar! Gestel dat ek self in
beheer sou wees. Ek sou senuagtig wees en my daaroor kwel. Gestel dat ek diegene
sou wees wat moet sorg dat my hart bly klop. Op die oomblik klop my hart nog
steeds. Dit sou verskriklik wees as ek dit met my verstand en wil sou moet
beheer. Hoe sou jy dit vind om steeds vir jouself te moet sê: nou klop, klop,
bly klop.

Nee, dis wonderlik, vind u nie. Iemand anders dryf my lewe. Die Here is in
beheer, die Skepper van hemel en aarde. Wat ’n vrede kan dit gee. Met die
Psalmis kan ons konkludeer: "Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God!
Hoe geweldig is hulle volle som nie! Wil ek hulle tel, hulle is meer as die
sand; word ek wakker, dan is ek nog by U."

Hoe dierbaar is vir my U aandag, Here, U liefdevolle sorg, u vergewing, u
vernuwing, u ontelbare gedagtes terwille van my. U gedagtes is van ewigheid tot
ewigheid. Hulle sal my nooit verlaat nie. Hulle is altyd daar om my te lei en te
ondersteun. Wonderbaar is u werke , Here. Loof die Here.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)