Met sy hemelvaart het Christus ons lewe veilig in die hemel veranker.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-12-04
Teks: 
Hebreërs 6
Preek Inhoud: 

Hebreërs 6:19,20

Ds C Kleyn - Sondag 9 Mei 2002

Lees:

Hebreërs 6:9-20; 9:11-15, 24-28..
Sing: Ps 47:1,2; Ps 47:3,4; SB 11; SB 24:1,6,7; Ps 134:1-3.

Tema:


Met sy hemelvaart het Christus ons lewe veilig in die hemel veranker.

  1. Die noodsaak van die verankering; en
  2. Die werklikheid van die verankering.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die brief aan die Hebreërs is een groot evangelie oor die hemelvaart. Dit
gaan voortdurend oor die hemelse heerlikheid van ons Hoëpriester Jesus
Christus, wat die hemelse heiligdom ingegaan het.

Die skrywer verwys onmiddellik daarna in hfst 1: "God het in hierdie
laaste dae tot ons gespreek deur die Seun….Nadat Hy (dis Jesus Christus) die
reiniging van ons sondes bewerk het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die
Majesteit in die hoogte, terwyl Hy soveel uitnemender geword het as die engele
namate Hy ’n voortrefliker naam geërf het as hulle." Mens sou kan sê
dat Christus se ingang in die hemelse heiligdom as ons hoëpriester die sentrale
tema van hierdie boek is, die sentrale belydenis.

Laat ek enkele tekste aanhaal. Hebr 3:1: "Daarom, heilige broeders,
deelgenote van die hemelse roeping, let op die Apostel en Hoëpriester van ons
belydenis, Christus Jesus." Hebr 4:14: "Terwyl ons dan ’n groot Hoëpriester
het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat
ons die belydenis vashou." Hebr 8:1,2: "Die hoofsaak nou van wat ons
gesê het, is dit: Ons het so ’n Hoëpriester wat gaan sit het aan die
regterhand van die troon van die Majesteit in die hemele, ’n Bedienaar van die
heilige dinge en van die ware tabernakel wat die Here opgerig het en nie ’n
mens nie."

Dit word die hoofsaak van wat ons gesê het genoem, die tema van hierdie
geskrif. Ons sou nog baie meer kan aanhaal. Dink maar aan die skrifgedeelte wat
ons gelees het. Daarin word die sentrale gedagte uitdruklik genoem.

Dit val op dat die hemelvaart van Christus vir ons, gelowiges, heel konkreet
gemaak word. Dit is allermins ’n abstrakte leerstuk. Christus se hemelvaart
word midde in ons lewe geplaas. Die feit van die hemelvaart het alles met die
konkrete lewe van elke dag te doen. Hemelvaart sonder ’n christelike lewe hier
op aarde is ondenkbaar. En omgekeerd: ’n christelike lewe sonder hemelvaart is
ook ondenkbaar.

Hebr 6 wys op die sentrale betekenis van die hemelvaart, wanneer dit die hoop
’n anker van die siel noem, wat veilig en vas is en ingaan tot binnekant die
voorhangsel.

Ek verkondig vir u: Met sy hemelvaart het Christus ons lewe veilig in die
hemel veranker.

  1. Die noodsaak van die verankering
  2. Die werklikheid van die verankering.

Wat is die nut van ’n anker? Waarom het ’n skip ’n anker? Die anker
moet sorg vir vastheid en veiligheid. Wanneer jy die skip midde op die water wil
laat stillê, dan werp jy die anker uit om ’n vaste bodem te vind. As die
anker hom aan die bodem van die rivier of see heg, dan is die skip nie langer
oorgelewer aan die stroming van die water nie. Die skip lê vas. So ook by storm
wanneer die stuurman geen regte koers kan hou nie. Die anker wat die skip aan
die bodem verbind, gee die enigste houvas. Die skip dobber nie langer stuurloos
heen en weer, na beliewe van die wind en stroming nie. Dit lê vas. Die vastheid
wat die skip self nie kan gee nie, word nou deur die anker in die grond gegee.
Jy sou kan sê: die skip het nou ’n vaste bodem.

Wel, so moet ook ons siel, so moet ook ons lewe vastheid en veiligheid vind.
Ons lewenskip ken mos die storms en stromings. Vanweë die sonde word ek op en
neer, heen en weer geslinger. Van alle kante word daar aan my getrek. Sonder
anker, sonder vaste bodem sou ek soos ’n stuurlose skip ’n prooi van die
golwe, strome en winde wees.

Dis opmerklik dat die meeste mense ook na ’n vaste bodem verlang. Mense is
op soek na veiligheid en vastheid. In al die beweging en storms van die lewe
soek hulle houvas. Hulle gryp na bepaalde ideale of ideologieë. Hulle dink dat
hulle daarmee hulleself staande kan hou.

Die oplossings van benede uit blyk egter ydel te wees. Die een ideologie moet
vir ’n ander plek maak. Ook mbt die nuutste ideologieë blyk dit ’n kwessie
van afwag te wees. Die tyd sal leer of die verwagtings gegrond is of nie.
Duursame vastheid en veiligheid ontbreek.

Daarteenoor staan die vastheid wat God gee. ’n Anker van die siel wat
veilig en vas is. Wat is nou die anker? Die hoop word die anker genoem. Die hoop
het ons as ’n anker van ons siel. Die hoop, dit is die verwagting van die
vervulling van God se beloftes. Die hoop wat hom vasklem aan die beloftes van
God en weet dat dit wat belowe is, sal kom. Die hoop gee so ’n vaste bodem
waarop geleef, gewerk en gestry kan word.

Dis op hierdie punt dat die verslapping onder die Hebreërs dreig om in te
sit. Die hoop blyk nie kragtig genoeg te wees nie. Hulle sien nie vol vertroue
uit na die vervulling van God se beloftes nie. Hulle leef nie in gespanne
verwagting nie. Met die gevolge daarvan.

Die brief aan die Hebreërs roep hulle voortdurend op om te bly glo, om vol
te hou tot die einde toe. Die lesers dreig om te verslap. Hulle het reeds soveel
meegemaak. Eers die oorgang na die christelike geloof. Kort daarna reeds sware
beproewings. In die begin het hulle dit goed deurstaan. Hulle het in gespanne
verwagting geleef, in hoop. Ons lees daarvan in hoofstuk 10: 32-34: "Maar
onthou die vorige dae waarin julle, toe julle verlig geword het, ’n groot
lydensworsteling deurstaan het, gedeeltelik omdat julle deur smaad en
verdrukkinge ’n skouspel geword het, gedeeltelik omdat julle deelgenote geword
het van die wat in so ’n toestand verkeer het. Want julle het ook saam met my
gevoel in my boeie, en julle het die berowing van julle goed met blydskap
aanvaar, omdat julle geweet het dat julle in julself ’n beter en blywende
besitting in die hemele het." Hul vaste hoop het hulle, so te sê, staande
gehou. Dit het hulle moed gegee, selfs om die beproewings blymoedig te aanvaar.

Daar het egter ’n verandering daarin gekom. Die geesdrif is besig om te
verdwyn. Die eerste liefde en ywer is besig om te taan. Verslapping word
sigbaar, nalatigheid, onverskilligheid, veragting in die genade, afval. Hoe kom
dit? Die hoop, die verwagting van die vervulling van God se beloftes, is aan die
verdwyn. Die mense is besig om die uitsig te verloor. Gemeentelede weet geen
raad meer met die storms en golwe nie. Waarom tog moet dit so met ons gaan?
Waarom tog al die beproewings, die teleurstellings, die verdriet? Watter nut het
dit nou? En waar bly die Here met sy skitterende beloftes? Is die toekoms
eintlik wel so seker? Die uitsig op die doel van hul lewe vervaag.

Daarom lees ons herhaaldelik die oproep om tot die einde toe in die geloof,
in die hoop, te volhard. "Werp dan julle vrymoedigheid, wat ’n groot
beloning het, nie weg nie. Want julle het lydsaamheid nodig, om, nadat julle die
wil van God gedoen het, die belofte te verkry." (Hebr 10:35,36). Ons lees
daarvan kort voor ons teks, in verse 11 en 12: "Maar ons verlang dat elkeen
van julle dieselfde ywer mag toon om te kom tot die volkome sekerheid van die
hoop tot die einde toe, sodat julle nie traag word nie, maar navolgers van hulle
wat deur geloof en lankmoedigheid erfgename van die belofte is."

Die hoop moet tot sy hoogtepunt gevoer word, volhard tot die einde toe.
Moenie julle blind staar op die hede nie, op jul huidige omstandighede nie. Rig
julleself op wat gaan kom, op wat belowe is. Op wat nog nie vervul is nie, maar
wat sekerlik gaan gebeur. Die hoop moet lewend bly. Anders word dit vir jou
onmoontlik om as ’n christen hier op aarde te lewe. Dan het jou lewe geen
houvas meer nie. Jy word oorgelewer aan die golwe. As jy nie meer in gespanne
verwagting leef nie, dan verloor jy die geesdrif, die besieling, ywer, moed, dan
word jy traag, slap. Jou lewe raak afgestomp, futloos, doelloos.

U merk, broeders en susters, dat dit ’n baie gevaarlike situasie is. Met
die verkwyning van die hoop, verkwyn ook die geloof en die liefde. Jou hele
christelike lewe staan op die spel.

Maar kan hulle, kan ons nog wel bly hoop? Ons het tog reeds lank genoeg
gehoop, sonder om verandering te goede te sien. Kan ons dit wel langer waag met
die beloftes van God?

Om te laat sien dat dit wel moontlik is, wys die geinspireerde skrywer op
Abraham. Deur geduldig te wag het Abraham die belofte verkry. Langs die pad van
geloof en geduld sal die belofte ook vir u werklikheid word.

Daartoe word ons des te kragtiger aangespoor deur die eed van God. God het
geen eed nodig gehad nie. ’n Enkele woord of belofte van Hom is reeds genoeg.
Jy kan volkome daarop staatmaak. God kan mos nie lieg nie. Hy doen wat Hy sê.
Waarom dan die eed? Terwille van ons. "Om des te kragtiger aan die
erfgename van die belofte die onveranderlikheid van sy raad te toon, het God
Homself met ’n eed verbind." Ons het nou twee onveranderlike dinge waarop
ons kan vertrou: God se belofte en sy eed. Vaster, sekerder kan dit nie wees
nie. ’n Kragtiger bemoediging om die hoop wat voorlê vas te hou, is
ondenkbaar. Daarom: bly onder alle omstandighede tog hoop, volhardend hoop tot
die einde toe. Wat God belowe het, sal kom.

Die hoop word nou ’n anker van die siel genoem. Die hoop gee immers die
nodige vastheid en veiligheid aan jou lewe. En die anker lê vas in die hemel.
Dit reik tot binnekant die voorhangsel waar Jesus met sy hemelvaart as voorloper
vir ons ingegaan het. Ons lewe lê daarom veilig veranker in die hemel. Dit
bring ons by die 2e punt. Nadat ons gelet het op die noodsaak van die
verankering wil ons praat oor die werklikheid van die verankering.

Om vastheid te vind werp die skipper sy anker uit. So werp die siel van die
gelowige, ja, die gelowige self, die anker uit. Maar dan word die beeld wel baie
vreemd, amper dwaas. Wat maak die skipper mos met sy anker? Hy werp dit in die
diepte van die see. Die wet van die swaartekrag sorg daarvoor dat dit die bodem
vind, waaraan die anker hom moet heg. Dit verdwyn in die diepte, waar dit nie
meer gesien kan word nie.

Die anker van u lewe gaan egter omhoog. Daar verdwyn dit, tot agter die
voorhangsel. Daar gaan dit binne, in die hemelse heiligdom. Dit word nou die
dwaasheid van die evangelie: wie werp nou ’n anker omhoog, in die lug? Dit
doen die kerk, wanneer sy hoop op God en die hoop vashou. Dan lê ons anker vas,
nie hier benede of in die diepte nie, gelukkig nie, maar die anker lê dan vas
daarbo by God.

Gelukkig nie hier benede nie, het ons gesê. Want hier van benede uit het ons
geen vastighede of blywende sekerhede nie. Hoe gaan dit mos met die anker wat
die skipper uitwerp? Dit verdwyn in die diepte. Maar sal dit wel op die bodem
vashaak? Sal die ankergrond wel goed wees? Dit kan ’n mens vantevore nie weet
nie. Dit is ’n kwessie van probeer en sien of die anker hou. In die sin van:
ek hoop dat dit luk, die tyd sal dit egter leer. En selfs dan is dit moontlik
dat ’n anker wat eers vasgesit het, vanweë die storm tog weer losraak.

So is dit nie met die anker van ons lewe nie. Ons het ’n anker wat veilig
en vas is. Sondige mense wat self geen enkele houvas het nie, ontvang in die
hoogte, in die hemel, houvas. Dit is geen kwessie van eers probeer, die tyd sal
leer of dit hou of nie. Nee, hier is die ankergrond bekend. Dit is die
heiligdom, binnekant die voorhangsel, by God self.

Binnekant die voorhangsel, u ken die uitdrukking vanuit die Ou Testament.
Binnekant die voorhangsel, dit was die allerheiligste, die gebied wat afgesluit
was, in duisternis gehul, waar slegs die hoëpriester mog kom en wel eenmaal per
jaar op die groot versoendag, met die bloed van versoening. Want daar wou die
Here self woning maak op die ark van die verbond.

Toe Christus op Golgota gesterf het, het die voorhangsel van bo na benede
geskeur. Die aardse heiligdom, afbeelding en skaduwee van die hemelse, het
afgedaan. En Jesus Christus het op die dag van sy hemelvaart as ons voorloper
die ware, hemelse heiligdom ingegaan. Hy het tot binnekant die voorhangsel
ingegaan, in die hemelse allerheiligste, die intiemste plek by God die Vader.

Toe het Christus vir u die verbinding gelê, die vaste verbinding van hier
uit na bo toe. Christus het van hier na bo gegaan, tot binnekant die heiligdom,
met die bloed van versoening. Die bloed van die nuwe verbond. Op die
hemelvaartsdag het Hy as ‘t ware u anker saamgeneem om dit daarbo vas te lê,
in die binneste heiligdom waar God is, in wie alles vaslê. Hemel en aarde word
aan mekaar verbind.

Die beeld wat hier gebruik word, gee u, broeders en susters, ’n diep insig
in die betekenis van die hemelvaart van Jesus Christus. Dit laat ons sien dat sy
werk ’n geweldige effek het. Want die verankering gaan inderdaad van hier uit,
dus van ons kant. Dit is nie ’n anker wat deur God neergelaat is nie. God lê
nie aan ons veranker nie, maar ons aan God. En van hier uit is die anker na God
toe gedra. Die duursame, houdbare verbinding tussen ’n sondige volk en God in
die hemel lê veranker in die versoening deur Christus.

Jesus Christus is as voorloper God se heiligdom ingegaan. Hy het voorop
gegaan. Dit beteken: ons kom agter hom aan. Voorloper, die woord skyn ’n militêre
term te wees. Ons kry die beeld van ’n oprukkende leer in die oorlog. Eers
word ’n patrollie vooruit gestuur, om die situasie te verken, om ’n veilige
pad vir die soldate te waarborg. So is Christus as ‘t ware voor die soldate
uitgegaan. En die soldate volg Hom, hulle kom agter Hom aan. Waar die Generaal
die eerste is, daar kom die leer vervolgens ook, vas en seker. Die voorloper
baan die weg, ruim die hindernisse op, breek deur die versperrings heen en sorg
vir ’n vry pad.

So het Christus na die hemel opgevaar. Hy het nie slegs vir homself opgevaar,
om daar met sy heerlikheid te pronk nie. Wat daar op die Olyfberg op die
hemelvaartsdag gebeur het, was geen privaat gebeure nie. Nee, daar het die
Middelaar van die kerk gestaan, tussen sy volk in. Toe Hy opgevaar het, toe het
Hy gesê: Ek gaan voorop, volg my. U sal my volg. Waar ek is, daar sal ook my
volgelinge wees.

Die Here Jesus laat die elf dissipels nie los nie. En in hulle hou hy die
hele kerk vas. Hy veranker julle lewe. "Ek gaan om vir julle plek te
berei" (Joh 14:2). "Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee
het, ook saam met My sal wees" (Joh 17:24). Die hemelvaart van Christus
waarborg die hemelvaart van die hele kerk. Ons het ons menslike natuur in die
hemel as ’n betroubare waarborg dat Hy as die Hoof ook ons, sy lede, na Hom
toe sal neem.

So lê dus ons anker vas, in die hemel, in Christus en so in God. So lê ons
hoop op God, ons christelike verwagting, vas. Dit wat beloof is, sal kom. Let
maar op die aanvanklike, prinsipiële vervulling in die verheerliking van u
voorloper Jesus Christus.

Gemeente, u mag van die wieg tot die graf onder God se beloftes leef. Die
groot belofte, die nuwe hemel en die nuwe aarde, moet nog vervul word. In die
tussentyd bly daar die storms hier op aarde, moet dit selfs storm. Moenie moed
verloor nie. Moenie u hoop laat vervaag nie. U weet watter gevolge dit het. As
die hoop, die verwagting verkwyn, dan verkwyn ook die christelike lewe. Die
anker raak los. Die vastheid en vaart verdwyn. Pleks daarvan gaan jy dan
stuurloos heen en weer gedryf word. Jy word ’n slagoffer van die
omstandighede, ’n slagoffer van jou tyd.

Gemeente, as die hoop tot die einde toe nie lewend bly nie, as die sig op die
doel vervaag, dan verdwyn die geesdrif. Dan tree die verslapping in, die
vertraging, die moederloosheid, die gebrek aan ywer en liefde. Wat kan ’n mens
anders verwag! As jy jou toekoms en rigting vergeet, dan is jy mos in die hede
verlore.

Bly daarom die hoop vashou tot die einde toe, as anker van u siel. Hou die
einddoel van u lewe, die vervulling van God se ryke beloftes, skerp voor oë.
Leef werklik in die perspektief. Laat die gespanne verwagting u hele lewe
beheers, bestempel. Dan laat u u nie ophou deur u wel en wee hier op aarde nie,
deur die teleurstellings en stryd wat u hier ervaar nie. Deur op die belofte
gerig te wees, ontvang u lewe vastheid en vaart. Wat aanvanklik oor die Hebreërs
gesê kon word, geld dan vir u: julle het die beproewinge met blydskap aanvaar
omdat julle geweet het dat julle in julself ’n beter en blywende besitting in
die hemele het. U weet tog dat Christus in die hemelse heiligdom ingegaan het as
u Hoof en voorloper? Dan is daar geen twyfel daaroor nie: die res sal volg,
inklusief u onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis?

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)