Paulus se gebed vir die broers en susters in Efese.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2003-02-02
Teks: 
Efésiërs 3
Preek Inhoud: 

Efésiërs 3:14-19

Ds C Kleyn - Sondag 2 Februarie 2003

Lees:

Efésiërs 3:1-21.
Sing: Ps 135:1,2; Ps 6:1,2; Ps 105:5; Ps 111:1,2; Ps 68:9.

Tema:


Paulus se gebed vir die broers en susters in Efese.

  1. Die inhoud van die gebed: Hy bid vir innerlike versterking; en
  2. Die effek van die gebed: ’n oorweldigende kennis.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wanneer ’n mens Paulus se briewe lees, dan ontdek jy hoe intensief Paulus met die broeders en susters van die gemeentes meegeleef het. Dit tref ons hoe persoonlik hy vir hulle gebid het. en sy gebed was werklik ter sake. Paulus het die brs en srs, seuns en dogters met hul node voor die troon van God gebring. Ons teks is so ’n indringende gebed.

Waarom doen Paulus dit vir die broeders en susters? Vanweë hul geweldige posisie as kinders van God. Paulus het in die gedeelte voor die teks daaroor geskryf. Hulle wat dood was deur hul sondes is lewend gemaak saam met Christus, uit genade gered. Hulle is nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God. En dit geld ook vir ons vandag, ook vir Maryna wat nou gedoop is. Mense van heidense oorsprong mag nou erfgename van die ewige lewe wees. Dit is iets geweldigs. Paulus raak nie daaroor uitgepraat nie. Hy bly praat oor die verborgenheid van Christus, soos hy dit noem. Hy gaan op sy knieë daarvoor.

Ek verkondig vir julle:

Paulus se gebed vir die broers en susters in Efese

  1. Die inhoud van die gebed: Hy bid vir innerlike versterking
  2. Die effek van die gebed: ’n oorweldigende kennis

Die apostel gaan op sy knieë vir sy brs en srs wat so ryk bevoorreg is. Paulus weet waar hy moet wees. Naamlik, by die Vader van wie elke geslag in die hemele en op die aarde sy naam ontvang. Daar is geen beter adres denkbaar nie. Alle geslagte dank mos hul bestaan aan Hom.

Wat bid Paulus? Dit: Dat die Vader julle mag gee om versterk te word in die innerlike mens en dat Christus in julle harte kan woon. Eers dus dat God julle mag gee om versterk te word. Hierdie bede is ter sake. Ook vandag. Dit dui aan wat veral nodig is. Versterking is nodig. Waarom? Omdat ons lewe hier op aarde nog ’n stryd is. Hoewel ons in Christus baie ryk is, is ons nog nie tuis nie. Ons leef nog in ’n sondige en gebroke wêreld. Ons is nog op pad na ons ewige erfenis. En op pad dreig daar voortdurend gevare. Satan met sy trawante rus nie. Hulle is wakker en aktief. Hulle doen wat hulle kan om te verhinder dat ons ons erfenis ontvang. En hulle gee nie om watter middele hulle daarvoor gebruik nie. So lank as hulle maar ’n wig tussen jou en jou erfenis kan dryf.

Wel, in hierdie stryd is krag nodig. Jy moet voortdurend versterk word. Anders sal jy gevang word en ’n nederlaag lei. Die brs en srs in Efese is goed bekend met die kragte wat hulle teenstaan. Hul loop gevaar om mismoedig te word. Paulus hul apostel is in die tronk. Die teenstand word sterker. En dit terwyl hulle so te sê nog kinders in die geloof is. Watter perspektiewe het hulle in die situasie? Het hulle nog wel vooruitsigte? Ja, is dit wel die moeite werd om teen die aanvalle van die heidendom te bly stry?

Vandag het ons met die aanval van ’n vernude heidendom te doen. Kan ons dit hanteer? Ja, is die stryd werklik nodig? In so ’n samelewing kan jy tog nie bly praat oor die antitese, die teenstelling tussen geloof en ongeloof nie? Ons ervaar die versoeking. Die lewe sonder God lyk soms so aantreklik. Dis gemaklik vir die vlees. En wie wil nie gemaklik lewe nie?

Daarom bid die apostel: gee dat hulle met krag versterk word deur u Gees. Laat niemand moed verloor nie. Laat niemand deur die gees van die tyd meegesleep word nie. Bekwaam elkeen tot die stryd. Gee krag sodat hulle sterk mag staan, sodat hulle die verleiding kan weerstaan en die teenwerkende kragte kan oorwin.

Hier word ons herinner aan die 6e bede van die onse Vader, soos die Kat dit vir ons verklaar: "Ons is in onsself so swak dat ons nie een oomblik staande kan bly nie. Daarby hou ons doodsvyande, die duiwel, die wêreld en ons eie sondige natuur nie op om ons aan te val nie. Wil U ons tog deur die krag van u Heilige Gees staande hou en versterk sodat ons teen hulle sterk teenstand kan bied en in hierdie geestelike stryd nie beswyk nie totdat ons eindelik die oorwinning ten volle behaal."

So lê Paulus die nood van brs en srs voor die Vader neer. Hy bid vir innerlike versterking deur die Gees. Paulus praat van die innerlike mens. Dis die mens volgens sy innerlike bestaan, die deel van myself waarmee ek my keuses maak, wat die rigting van my lewe bepaal, waar my motiewe te vinde is. Die innerlike deel van myself word dikwels heen en weer geslinger. Ook al is ek ’n kind van God, dit beteken nie dat my innerlike wese altyd vas en sterk is nie. Nee, kinders van God het almal hul hoogtes en dieptes.

Paulus weet dit uit ervaring. Hy weet dat niemand uit homself krag het om in alle omstandighede staande te bly nie. Dit moet vir ons gegee word. Daarom: gee dit Vader, deur u Gees.

Gemeente, behalwe die bede om innerlike versterking, bid Paulus ook dat Christus in julle harte kan woon deur die geloof. Feitelik kom hierdie bede ooreen met die vorige bede, behalwe dat dit van ’n ander kant bekyk word. Terwyl die eerste bede die werk van die Gees benadruk, benadruk die tweede bede die aktiwiteit van die gelowige. Pleks van die woorde "deur die Gees" word nou gepraat van "deur die geloof". Ons het nou te doen met die keersy van die medalje. Die Gees versterk ons innerlik, maar tegelykertyd moet ons onsself laat versterk deur die evangelie te aanvaar, deur te glo. Deur die geloof woon Christus in my hart. Dis my versterking. Met Hom in my is ek sterk. My uitgangspunt, my motiewe is dan anders. Christus bepaal dan my gedrag. Dis nie meer my begeertes wat my lei nie. Maar Christus is in my ’n bron van krag.

Maar gemeente, wanneer ek glo dan woon Christus tog reeds in my hart? Hoe kan Paulus dan bid dat Christus in jou harte mag woon? Wel, die apostel het in gedagte die hoogtes en dieptes in die lewe van God se kinders. Gelowiges is nie altyd ewe sterk en standvastig nie. Een oomblik leef ons uit Christus, in geloof. Die volgende oomblik leef ons uit ons sondig hart, in ongeloof. Ons val nog dikwels in sonde. En dan is dit asof Christus nie meer in ons woon nie. Daarom bid Paulus vir ’n permanente, blywende inwoning van Christus. Laat Christus tog voortdurend, sonder onderbreking, my doen en late bepaal. Gee dat ek, dat ons nie die geloof verloor nie.

Broeders en susters, dis met die oog op die innerlike versterking dat God ons ook vir mekaar gegee het, ook dat Hy ampsdraers aan die gemeente gegee het. Wat ons nodig het, is om steeds weer innerlik versterk te word. Seuns en meisies, dis ook waaroor dit gaan wanneer julle onderrig ontvang in die christelike leer. Dit gaan daaroor dat julle toegerus mag word vir die stryd in hierdie wêreld. Ons wil sien dat julle innerlik sterk mag wees, dat julle goeie keuses kan maak as kinders van God. Dis ons wens dat Christus permanent in julle harte mag woon sodat Hy as julle gids en bron van lewe is.

Daarom word die eredienste belê, word huisbesoek gebring. Daarom word julle aangemoedig om in te skakel by die bybelstudie verenigings. Daarom word christelike lektuur vir julle gegee. Dit gaan daaroor dat julle almal, jonk en oud, vir die stryd gereed mag wees, goed toegerus in ’n wêreld waarin die verwarring en ongeloof toeneem.

Geliefdes, Paulus bid nie net vir die broeders en susters van Efese nie, hy noem ook die effek van die gebed: ’n oorweldigende kennis. Dis die tweede gedagte van die preek: die effek van die apostel se gebed: naamlik ’n oorweldigende kennis.

Die apostel noem eers die omstandighede van die broeders en susters: "julle wat in die liefde gewortel en gegrond is." Dis wat die gelowiges wat innerlik sterk is kenmerk. Paulus gebruik twee beelde: die beeld van ’n boom en die beeld van ’n gebou. ’n Boom is gewoonlik gewortel in die grond., moet in die grond gewortel wees. As die boom ontwortel is, dan gaan die boom dood. So moet ook ’n gebou ’n goeie fondament hê. Sonder die fondament val die gebou in mekaar.

So gaan dit met christene. As ek nie vas in die liefde gewortel is nie, dan sterf ek as christen af, dan hou ek op om ’n christen te wees. As die liefde van God en die liefde vir God nie die fondament van my lewe is nie, dan hou ek op om christen te wees. Dan is die christelike lewe onmoontlik. Dan is ek ’n gewillige prooi van die teenstander.

Met hierdie woorde wys Paulus op die heerlike fondament van ’n christelike lewe. Tegelykertyd maak hy ’n oorgang na die tweede gedeelte van die gebed. Gewortel en gegrond op so ’n heerlike basis - die onbegryplike liefde van God - moet lei tot verbasing.

Paulus wys dan op die oorweldigende kennis as ’n gevolg van sy gebed. Waar God Paulus se bede verhoor, daar sal die effek wees dat jy as br en sr in staat sal wees om te begryp hoe groot God se werk van genade is en om die liefde van Christus te ken. Innerlike krag maak jou in staat is om die grootheid van jou verhouding met God te verstaan. Die heerlikheid van die nuwe verbond begin vir jou te blink. Jy begin om te besef hoe ryk jy is, wat dit beteken dat jy nou ’n medeburger van die heiliges is en ’n huisgenoot van God is. Jy begin om te sien hoe wonderlik dit is dat jy as ’n kind in en uit Vader se huis mag stap.

Die teks noem die breedte en lengte en diepte en hoogte. Die dimensies wys op die oneindige mate van God se werk. Die apostel noem nie waarvan jy die breedte, lengte, diepte en hoogte sal ken nie. Die onderwerp ontbreek. Die weglating aksentueer des te meer die grootte en verbasingwekkende daarvan. Dis so groot en wonderlik!

Uit die verband is dit duidelik dat Paulus hier praat oor die verborgenheid van Christus. Terwyl Hy jou innerlike krag gee, maak die Gees van God jou oë oop vir die rykdom van die nuwe verbond en laat Hy jou dit waardeer. Die innerlike krag moet dan natuurlik wel aanwesig wees. ’n Mens wat nie met die Gees vervul is nie, sal dit nooit kan verstaan nie. Hoe minder die Gees in jou woon, des te minder sal jy in staat wees om die onmeetlike te begryp. Hoe kan mos ’n christen wat besig is om geestelik te sterwe so ’n groot iets ooit verstaan? Waar die geloof vaag begin word, waar die geloof verwater, ja, waar die geloof besig is om te verdwyn, daar sal die herkenning van die grootheid van God se verlossingswerk ook verdwyn. Daarom kan oppervlakkige christene nie werklik God se werke verheerlik nie. Daarom wys jy in so ’n situasie so min ware verbasing en entoesiasme. Waaroor sou jy met so ’n vaag geloof nog verwonderd moet wees?

As jy egter voortdurend jouself laat versterk deur die Gees, deur sy Woord, dan kan jy nie anders as om God se magtige werke van genade te verheerlik nie. Ons het ook in ’n geslote wêreld ons tuis gevoel. Ons was ook van nature vyande van God, sonder enige vooruitsigte. Maar nou het die hemel vir ons verlore sondaars oopgegaan. Ons ontvang ’n vooruitsig wat nie van ons weggeneem kan word nie. ’n Geweldige toekoms lê voor ons. Ons mag met die lewende God kommunikeer. Ons mag as sy kinders in en uit sy huis stap as 't ware. Hoe onmeetbaar groot is God se werke. Ek kan nooit genoeg daarvan sien nie.

Parallel hiermee noem Paulus ook as effek die kennis van die liefde van Christus. "En die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref." Die liefde is so groot dat jy dit nooit volkome kan ken nie. Deur die Gees is daar egter ’n groei in die kennis. Jou hart word dan meer en meer vervul van lof en danksegging.

Broeders en susters, wat ons ook in Paulus se gebed opval is die woorde: saam met al die heiliges. Ek leer God se groot verlossingswerk nie soseer as ’n individuele gelowige verstaan nie, maar ek leer dit saam met al die heiliges. Die gelowiges het mekaar nodig. Dit geld ook met betrekking tot die heiliges uit die verlede. ’n Nuwe geslag kan nie sonder die ouer geslag regkom nie. Net in gemeenskap met die heiliges uit die hede en uit die verlede kan jy goeie vooruitgang maak in jou verstaan van God se groot liefde en werke. Op myself sal ek dit nooit goed begryp nie.

En nou hoor ons dat die gemeenskap van die heiliges in antwoord op die gebed gegee word. Wanneer Christus se Gees my versterk, word ek nie op my eie sterk nie. Nee, ek word sterk gemaak binne die gemeenskap van die heiliges. Christus se Gees bring ons saam en laat ons saamwerk as medeburgers van die heiliges en huisgenote van God.

Dit sê iets vir ons in ons tyd van individualisme. Dikwels word alle nadruk gelê op ons persoonlike geloof, terwyl mense nie oor die kerk wil praat nie. So lank as Christus maar in jou hart woon, dan sou die kerk nie ter sake wees nie. So gebeur dit dat mense wel sê dat hulle Christus in hul lewe wil aanvaar, terwyl hulle nie die kerk van Christus wil aanvaar nie. Dis nie hoe die Skrif daaroor praat nie. In die bybel word Christus en sy heiliges, Christus en sy kerk in een asem genoem. As Christus in jou hart woon dan sal jy saam met al die heiliges, in die gemeenskap van sy kerk, die skatte en gawes van Christus meer en meer leer verstaan.

Dit is, broeders en susters, waarom die gemeenskap van die kerk so mooi is. Dis waarom dit so ryk is dat Maryna van Deventer en elkeen van ons in die gemeenskap van die kerk opgeneem is. Christus gee die gemeenskap van die heiliges sodat ons saam mag groei. Ons kan die doel nie op ons eie bereik nie. Dis ook nie nodig nie. God plaas heiliges rondom ons, heiliges uit die verlede en uit die hede. Sodat ons saam met hulle in staat sou wees om die breedte en lengte en hoogte en diepte te begryp.

Wat ’n ryke erfenis besit ons ook in die gereformeerde belydenisskrifte. Die heiliges wat ons voorgegaan het, het ons ’n rykdom aan kennis van die skrifte agtergelaat. Hulle het ons ’n groot insig in die onmeetbare liefde van God gegee.

Hoe ondankbaar sou dit dan wees om die skatte van die kerk te negeer. Wat ’n belediging van Christus om te maak asof die gemeenskap van die heiliges nie nodig is nie. Christus wil ons juis in gemeenskap met die heiliges insig in sy groot werk gee. As ek op myself wil bly en die kerk negeer, ook die kerk van die verlede, dan verhinder ek die verhoring van Paulus se gebed.

Christus se Gees dryf ons na die gemeenskap van die kerk sodat ons saam met al die heiliges in staat kan wees om die geweldige verlossingswerk van God te begryp en om die onmeetbare liefde van Christus te ken. Jy kan dit nooit heeltemal verstaan nie of ken nie. Dit is so groot en wonderlik. Dis ’n saak van groei en toeneem sodat jy meer en meer vervul kan word tot al die volheid van God.

Hoe ryk is julle dan broeders en susters, seuns en meisies met die gemeenskap van die heiliges. Die grootste geskenk wat jy besit, God se liefde in Christus, begin om vir jou te skitter. Dis ook waarom dit so geweldig is om saam besig te wees met die oordenking en bestudering van God se woord, as ons dit tenminste op ’n goeie manier doen, uit ware liefde vir God en die naaste. Daarom word daar ook onderrig in die christelike geloof gegee by die skool en in die katkisasie klasse. Nee, seuns en meisies, dis nie so dat ons julle wil vermoei met verouderde waarhede nie. Ons wil juis hê dat die geweldige rykdom wat julle in die verbond besit, vir julle gaan skitter. Julle kan dit vergelyk met die oopmaak van ’n mooi geskenk. Wat doen jy as jou ouers of vriende jou ’n geskenk gee. Dan los jy dit tog nie in die papier waarin dit gewikkel is nie? Jy verlang om te weet wat in die papier gewikkel is. Versigtig haal jy die papier daar af om te sien wat jy ontvang het.

So is julle ouers, onderwysers en ampsdraers besig om die mooiste geskenk wat jy ooit kan ontvang uit te pak. Die onbegryplike liefde van God in Christus word vir jou ontvou. Jy kry God se hart te sien, as jy tenminste goed luister en oplet.

Broeders en susters, seuns en meisies, wees dankbaar vir Paulus se gebed. Paulus bid feitelik ook vir julle. En die gelowiges van alle tye het die gebed oorgeneem. Verhinder die vervulling van die gebed nie. Laat Christus se Gees julle versterk. Laat Christus, laat sy woord, in jou woon. Sodat jy saam met al die heiliges die onmeetlike liefde van God en sy groot verlossingswerk meer en meer mag verstaan. Dan sal jou lewe steeds meer deur verwondering, entoesiasme en dankbaarheid gekenmerk word. Ook jou viering van die Heilige Nagmaal volgende week. Jy sal dan vol van die liefde van God in Christus Jesus wees.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)