Christus se hemelvaart waarborg vir ons ’n goeie tuiskoms.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2003-02-16
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 18
Preek Inhoud: 

Sondag 18

Ds C Kleyn - Sondag 16 Februarie 2003

Lees:

Johannes 14; Sondag 18.
Sing: Ps 121:1,2; Ps 18:1,14; Ps 47:4; Ps 23:1-3; Ps 121:3,4.

Tema:


Christus se hemelvaart waarborg vir ons ’n goeie tuiskoms.

  1. Christus het as mens van die aarde opgevaar en werk in die hemel; en
  2. Christus het as God by sy kerk gebly en werk op die aarde.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Is die hemelvaart van Christus nie ’n groot verlies vir ons op aarde nie?
Jesus Christus het hier op aarde gewandel, geleef en gewerk. Hy het hier met
mense omgegaan. Hy het Hom die moeites van hul lewe aangetrek. Hy het van die
Vader gepraat en die mense het sy stem gehoor. Hulle was verbaas oor sy leer. Hy
het siekes genees. Hy het wonders en tekens verrig. Dit alles is nou verby.
Christus het opgevaar na die hemel. Ons kan Hom fisies nie meer sien en hoor
nie. Hy kom nie fisies ons siekes besoek en genees nie. So was daar die moeilike
pad wat ons broer Anne de Jong moes stap. ’n Siekte waarvoor daar geen
genesing was nie. ’n Siekte waaraan hy op die leeftyd van net 60 jaar gesterf
het. Die gedagte kan by ons opkom: was die Here Jesus maar hier gewees? Dan kon
dit so anders verloop het. Dan sou hy moontlik beter perspektiewe gehad het. Wys
die hemelvaart van Christus dan nie op ’n groot verlies vir ons op aarde nie?
Is dit nie ’n verdrietige werklikheid nie?

Nee, gemeente, gelukkig nie. Ons het deur die hemelvaart nie armer geword
nie. Inteendeel, ons het juis daardeur ryker geword. Daar is voortgang in
Christus se werk. Hy het tot ons heil hemel toe gegaan. Daar lê die Kat volgens
die Skrifte alle nadruk op. Christus se hemelvaart is net wins vir ons.

Laat ons daarna kyk wanneer ek vir julle verkondig: Christus se hemelvaart
waarborg vir ons ’n goeie tuiskoms.

  1. Christus het as mens van die aarde opgevaar en werk in die hemel
  2. Christus het as God by sy kerk gebly en werk op die aarde.

U ken waarskynlik die uitdrukking: God het geen kalme vaart belowe nie, maar
wel ’n behoue tuiskoms. ’n Uitdrukking wat ons aanspreek, veral wanneer ons
lyding en dood in die gesig staar. Geen kalme vaart nie, maar wel ’n behoue
tuiskoms. Volle werklikheid vir ons broer Anne de Jong. Wel, gemeente, in Joh
14, die hoofstuk wat ons gelees het, praat Christus oor die behoue tuiskoms as
iets waarvoor Hy gaan sorg, wat Hy gaan waarborg.

In die nag waarin die Here Jesus die paasmaal met sy dissipels eet, praat
Jesus oor die huis van sy Vader. Jesus staan voor die dieptepunt van sy lyding.
Hy sal dieselfde nag nog verraai en gevange geneem word. Die laaste paar dae is
daar reeds baie spanning onder Jesus se dissipels. Die Here het meermale gepraat
oor sy naderende dood en vertrek. Hulle kan dit nog nie goed verstaan nie, maar
hulle is nie gerus nie. Daarom sê die Here vir hulle: Laat julle hart nie
ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. Ook al gaan julle nou moeilike
dinge belewe, skokkende dinge, maak julle nie ongerus nie. Hou vas aan die
geloof. Bly fokus op God. In die huis van my Vader is daar baie wonings.

Ek gaan inderdaad weg, sê die Here Jesus. Maar dit is beter vir julle dat Ek
weggaan. Ek vertrek om my verlossingswerk te voltooi. Om die einddoel daarvan
vir julle te verwesenlik. Ek gaan na die huis van my Vader sodat julle
uiteindelik daar ook kan wees. Ja, om by Vader tuis te wees is die hoogste doel
van enige lewe. Dit is jou redding. Ongelooflik! Dit gaan oor Vader se eer en
heerlikheid. En daarom ook die eer en heerlikheid van al Vader se kinders.

Gemeente, hoe moet ons die huis van die Vader voorstel? Wanneer ons praat van
ons eie huis, dan praat ons meestal nie net oor die vier mure met ’n dak
daarbo nie. Dan gaan die meestal oor ons tuiste. Dan dink ons veel meer aan die
inrigting en die sfeer van ons huis. ’n Huis word my tuiste deurdat ek op die
hele huis my stempel druk, deurdat ek my eie dinge daarin plaas. ’n Huis word
my eie huis deurdat ek self daar die sfeer bepaal.

Dit geld eweseer vir die huis van die Vader. Jy moet dan nie dink aan ’n
kil, karakterlose woning nie. Nee, dis werklik Vader se huis. Dis die huis waar
alles spreek van die Vader. Dit moet ons natuurlik nie te letterlik opvat nie en
gaan dink aan ’n huis met meubels en skilderye ens. Maar dit gaan wel deeglik
om Vader se huis. Hy druk daar sy stempel op deurdat Hy daar is en Hy die sfeer
bepaal, deurdat sy reëls daar geld, deurdat sy liefde daar heers.

Gemeente, van die Vaderhuis word gesê dat dit baie wonings het. Juis omdat
daar baie wonings is gaan Christus na die Vaderhuis toe om daar plek te berei.
Vir wonings kan ’n mens ook lees: vertrekke, kamers. Wat bedoel Christus met
die baie kamers? ’n Voorbeeld. Wanneer jy ’n klein gesin het, hoef jy nie
’n baie groot huis te hê nie. Jy kan jouself goed red met ’n paar
slaapkamers. Wanneer jy egter ’n groot gesin het, dan moet die huis ook groter
wees. Elke persoon moet mos ’n eie plekkie hê. Jy sien dan ook dikwels dat
mense hul huis uitbou of na ’n groter huis gaan wanneer hul gesin uitbrei.

Dis die beeldspraak wat Christus gebruik: in die huis van my Vader is daar
baie wonings. Vader reken op ’n groot gesin. In die groot Vaderhuis hoort baie
kinders tuis. Christus is by die Vader kind aan huis. Maar Hy het sy hemelse
woonplek verlaat sodat daar in die Vaderhuis nog baie broers en susters sou kom
woon. Dit wil Christus sy leerlinge hier ook duidelik maak. Daar is in die
vaderhuis baie ruimte wat opgevul en bewoon moet word. Christus gaan nou huis
toe met die doel dat al die woonvertrekke vol word. Kyk ook na Psalm 87.

Die dissipels mag ongerus wees oor sy vertrek. Die Here dink daar nie aan om
sy dissipels in die steek te laat nie. Hy gaan selfs sy lewe vir hulle gee. Nou
nou hang Hy aan die kruis. Hy gaan betaal vir die deurtog van sy volgelinge na
die Vaderhuis. En daarna sal Hy hulle voorgaan na die Vaderhuis toe. Die Here
gaan nie weg om alleen in die Vaderhuis te bly nie. Hy sal weg om te sorg dat
ander saam met Hom kan deel in die vreugde van die Vaderhuis.

Dit is Christus se begeerte dat hulle wat deur sy bloed gekoop is, ook by Hom
sal wees. Dit het Hy ook uitgespreek teenoor sy dissipels: sodat julle ook kan
wees waar Ek is. Hy spreek die begeerte ook uit teenoor sy Vader: "Vader,
Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees, sodat
hulle my heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het." (Joh 17:24). Ook al
gaan die Here weg, sy volgelinge sal Hom weer sien en dan in die volle
heerlikheid as die Seun by die Vader tuis.

Die Here gaan naamlik weg om plek te berei. Ons moet dit nie so sien dat die
Here die hemel self nog in orde moet bring nie. Dit beteken eerder dat Christus
eers deur sy lyding voor ons ’n plek in die Vaderhuis moet verdien. En dat Hy
daarna aan die werk gaan om ons in die Vaderhuis te bring.

Broeders en susters, Christus is nou in die hemel besig om jou plek te berei.
Hoe doen Hy dit? O.a. deur jou saak voortdurend by die Vader te bepleit. Die Kat
noem Hom ons Voorspraak by die Vader. Wat ’n gerusstelling is dit wanneer jy
op aarde ’n goeie advokaat het wat jou saak voor die regter kan bepleit. Jy
weet dat jou saak in kundige en veilige hande is. Hoeveel te meer geld dit vir
ons hemelse advokaat. Hier staan ewige belange op die spel. En watter advokaat
het ons nie in die hemel nie? Ons Here Jesus Christus wat eers alles vir ons
verdien het. Ons Here wat hierdie menselewe ingegaan het om ons vry te koop. Hy
staan daar voor die aangesig van die Vader met die offer wat Hy vir ons sondes
gebring het. Hy het iets waarop Hy met reg kan pleit. Wanneer ek vir die
soveelste keer struikel en God met my sonde beledig en vertoorn, dan tree Jesus
Christus voor sy Vader op en sê: Vader, wees nie toornig op hom of haar nie,
straf hom of haar nie, U het My reeds gestraf. Daarmee het ek sy of haar sonde
reeds versoen. Vergeef hom of haar op grond van my verdienste.

Gemeente, Christus mag voortdurend voor die Vader sy reg vra: Vader, Ek wil
dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees. Ek wil dat
hulle My volg en My woord gehoorsaam is. En dat hulle nou nou hier by My kom in
heerlikheid. Vader, Ek het daar reg op, want Ek het die volle prys daarvoor
betaal. Wat ’n troos om so ’n Voorspraak in die hemel te hê. Daar word goed
na ons belange gekyk. Geen sonde of swakheid wat teen ons wil oorgebly het, kan
verhinder dat God ons in genade aanneem en waardig maak om deel te hê aan
daardie hemelse heerlikheid nie. Christus waarborg ons tuiskoms by die Vader.

Nou die tweede gedagte: Christus is nie net in die hemel nie, Hy het ook by
sy kerk gebly en werk op die aarde.

Gemeente, as Christus in die hemel is, hoe staan dit dan met die belofte dat
Hy altyd by ons sal wees tot aan die voleinding van die wêreld? Christus het
die belofte aan sy dissipels en so ook aan ons sy kerk gegee: "En kyk, Ek
is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld."

Hierdie belofte van Christus se nabyheid is ’n belofte wat niemand graag
sou prysgee nie. Is dit nie geweldig dat Christus elke dag by ons is nie? Dis
tog geweldig dat ons in blye maar ook in droewige dae van sy teenwoordigheid
verseker mag wees? Ek hoef nooit bang te wees dat Christus my sal verlaat nie.
Hy is daar vandag, more en oormore tot aan die voleinding van die wêreld. Tot
my redding. Ek weet nie wat die toekoms sal bring nie, watter stryd nog voorlê,
maar Hy is in beheer en Hy is met my. Daarom: hou goeie moed. Wees sterk en laat
julle hart sterk wees, almal wat op die Here wag.

Maar, broeders en susters, Jesus Christus het tog na die hemel gegaan? Hy het
tog uitdruklik gesê: Ek gaan na die Vader toe? Hoe kan Jesus een oomblik sê:
Ek is altyd met julle en ’n ander oomblik: Ek gaan weg na die Vader toe? ’n
Mens kan tog maar op een plek tegelyk wees? Inderdaad, as mens kan jy net op een
plek tegelyk wees. Daarom het Jesus ook gesê: "Dit is vir julle voordelig
dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom
nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur" (Joh 16:7). As mens het
Jesus Christus na die hemel gegaan.

Maar Jesus Christus is nie net ’n mens nie. Hy is ook God. En as God kan Hy
by ons bly. Ek is met julle alle dae. Ek bly by julle. Die Kat formuleer dit so:
"Wat sy menslike natuur betref, is Christus nie meer op aarde nie, maar wat
sy Godheid, majesteit, genade en Gees betref, gaan Hy nooit meer van ons af weg
nie."

Na sy menslike natuur het Christus nou sy plek in die hemel en werk Hy in die
hemel. Maar na sy goddelike natuur is Hy oral teenwoordig en oral aktief. Die
goddelike natuur ken naamlik geen begrensing van tyd of plek nie. Dit kan deur
niks ingeperk word nie en is oral teenwoordig. So kan Christus na sy godheid ook
hier op aarde by sy kerk wees en werk Hy hier op aarde.

Wil julle, broers en susters, ’n bewys van sy teenwoordigheid en
werksaamheid hier op aarde hê? Let maar op die bestaan van die kerk. Hoe het
die christelike kerk ontstaan in die wêreld, uit alle volke en tale? Wie het al
die broers en susters in die eenheid van die geloof vergader, beskerm en
onderhou? Tog die Seun van God, Jesus Christus? Die kerk was deur die eeue heen
gehaat, vervolg en bedreig gewees. Sonder Christus se goddelike teenwoordigheid
sou die kerk reeds lank verdwyn het. Indien Christus nie aktief aanwesig was
nie, dan sou daar geen gelowige meer wees nie. Die feit dat jy in God en in
Christus glo, en dit doen jy tog, is dit geen duidelike bewys dat Christus met
sy Gees en genade hier werksaam is nie?

Hier op aarde is Christus deur sy Gees besig om ons te bewaar by die
verlossing wat Hy vir ons verwerf het. Hy is hier besig om ons tot Hom te trek.
Die Kat wys in hierdie verband op die Gees wat Christus as waarborg na ons toe
stuur, deur wie se krag ons soek wat daar bo is waar Christus aan die regterhand
van God sit. Die kat het reeds eerder gepraat van ’n waarborg. Christus het
ons menslike natuur as ’n waarborg saamgeneem na die hemel toe. Hier op aarde
het ons sy Gees as waarborg ontvang.

Wat is die funksie van sulke waarborge, pande? Jy kan dit vergelyk met die
ringe wat ’n verloofde of gehude paar vir mekaar gee. Die ou gee vir sy meisie
’n ring as ’n sigbare waarborg van sy liefde en trou. Elke keer as sy meisie
die ring sien of voel word sy herinner aan die liefde en trou van haar geliefde,
ook al word hulle moontlik deur groot afstande van mekaar geskei. Omgekeerd geld
dit ook vir die ring wat die meisie aan haar ou gee. Die ring herinner hom
steeds weer aan haar liefde en trou vir hom.

So is dit met die waarborge wat die kat noem. Christus het iets van ons, ons
menslike natuur, saamgeneem hemel toe. Hy word steeds aan ons, sy gemeente,
herinner. Hy sal aan ons bly dink, ons nooit verlaat nie, maar ons uiteindelik
bring waar Hy nou is. En die kerk op aarde het ook ’n pand ontvang, Christus
se Gees. Die kerk op aarde mag van haar kant die Here, haar bruidegom, ook nie
vergeet nie. Daarom gee Christus sy Gees as ’n waarborg. Die Gees laat ons
voortdurend aan Christus dink. So is daar ’n hegte band tussen die bruidegom
in die hemel en die bruid op die aarde. Ons bly op mekaar gerig, na mekaar
verlang. Die bruidegom bid: Vader, Ek wil dat hulle wat U my gegee het by My sal
wees. Die bruid bid deur die Gees: Kom Here Jesus, kom gou.

Gemeente, dit sal duidelik wees dat die Here Jesus deur sy hemelvaart ons nie
in die steek gelaat het nie. Die Here wil ons daardeur juis verseker van die
heerlike toekoms wat Hy vir ons verdien het. Hy wil daarvoor sorg dat ons veilig
die Vaderhuis sal bereik. Hy wil ons tuiskoms by Vader waarborg. Die feit dat Hy
liggaamlik in die hemel is, kan ons onrustig of onseker maak, soos dit die
dissipels onrustig gemaak het. Hoe sal dit verder met ons en ons kinders gaan?
Ons sien nie altyd ’n duidelike uitweg nie. Ons kan ons in hierdie lewe soms
as vreemdelinge voel wat in ’n groot stad ronddwaal. Probeer maar om uit te
vind waar jy moet wees.

Maar die Here laat ons nie verdwaal nie. Hy wys op ons bestemming, die
Vaderhuis. Hy wys ook op die pad na die Vaderhuis. Jesus Christus is die weg,
die waarheid en die lewe. Wanneer ons midde in die lewe met sy hoogtes en
dieptes staan, is daar dikwels baie wat die uitsig belemmer. Maar Christus laat
ons daaroorheen kyk. Hy laat ons die weg sien wat Hy volg. Dis ’n baie
doelgerigte weg. Die werkprogram ken geen dwaalweë en geen ompaaie nie. Die
Here wil graag saam met ons sy volgelinge wees. Hy werk daar sonder oponthoud na
toe. Hy gaan heen. Hy berei ’n plek. Hy berei ons voor op die plek. Hy kom
weer en dan begin die groot fees, die bruilof van die Lam.

Ons kan soms angstig na die toekoms kyk. Ingrypende dinge kan in ons lewe
gebeur. Hoe nou verder? Wat sal nog volg? Die Here bespaar ons gelukkig die
kennis. Maar Hy wys ons wel op sy weg en werk en ook op die einddoel daarvan.
Daarmee skets Hy ook ons lewensweg. Die einddoel van beide paaie is die saamwoon
in die Vaderhuis.

Laat ons die groot einddoel tog voor oë hou. Christus laat ons nadruklik
weet: daar is plek vir jou in die huis van my Vader, plek vir elkeen wat glo. En
wanneer ek deur ’n moeitevolle lewe daarheen op pad is, dan hoef ek nie
daaraan te twyfel nie. Christus sal my nie vergeet of verstoot nie. Hy het my
menslike natuur saam met Hom hemel toe geneem. Hy word steeds aan my herinner.
En Hy is besig om my voor te berei deur sy Gees en Woord, sodat ek koers hou en
’n behoue tuiskoms ontvang.

Wie in die Seun glo, sal ook self by die Vader tuis kom. Wie in geloof
sterwe, sterf as 't ware met die sleutels van sy nuwe woonplek in sy hande. So
het die Here ons broer Anne de Jong tuisgehaal. Christus het hom hier op aarde
deur sy Gees en Woord gelei om hom daarna in heerlikheid op te neem. Ons wat
hier op aarde agterbly, ons mag in geloof weet: daar is ’n woonplek vir my in
Vader se huis waar my naambordjie so te sê reeds ophang. Elkeen wat in die Seun
glo, mag saam met Hom werklik ’n kind van Vader wees. Hy strek sy hand na jou
uit. Hy wil jou lei en bewaar. Deur se Gees en Woord. Sodat jy doelgerig bly
lewe en eendag veilig mag tuiskom.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)