Die Here is ’n intieme vriend van die wat Hom vrees.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2003-02-23
Teks: 
Psalms 25
Preek Inhoud: 

Psalm 25:14

Ds C Kleyn - Sondag 23 Februarie 2003

Lees:

Genesis 18:16-33; Psalm 25.
Sing: Ps 85:3,4; PS 86:3,6; Ps 25:2; Ps 25:6,7; Ps 97:7.

Tema:


Die Here is ’n intieme vriend van die wat Hom vrees.

  1. Die Here maak sy hart vir hulle oop; en
  2. Die Here vra eerbied vir Homself.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

As Jaartema het ons gekies: die lewe van jonk en oud in die verbond. Ons het
reeds eerder gesien hoe bevoorreg ons as kinders van die verbond is. Ons is nie
meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en
huisgenote van God. Ons behoort tot God se huisgesin. Broers en susters van
Jesus Christus, kinders by Vader aan huis.

Vanoggend wil ons let op die omgang binne die huisgesin, met name die omgang
tussen die Vader en ons sy kinders. Die vertroulike omgang in die verbond, soos
die teks daarvan spreek: die verborgenheid van die Here is vir die wat Hom
vrees, en sy verbond om hulle dit bekend te maak.

Hoeveel beteken die vertroulike omgang tussen mense nie reeds vir ons nie.
Ons kan nie voorstel hoe ons sonder die onderlinge omgang sou moet regkom nie.
Hoeveel te meer beteken vir ons die vertroulike omgang met die Here. Dis iets
geweldigs waarsonder ons beslis nie kan regkom nie. Daarop wil ons vanoggend let
wanneer ek vir julle verkondig:

Die Here is ’n intieme vriend van die wat Hom vrees.

  1. Die Here maak sy hart vir hulle oop;
  2. Die Here vra eerbied vir Homself.

In ons teks gaan dit oor vertroulike omgang. Dit word in ons vertaling die
verborgenheid van die Here genoem. Dit sien op vertroulike omgang, dat jy mekaar
in vertroue neem, jou geheime aan mekaar toevertrou, jou diepste gedagtes vir
mekaar uit, jou hart open, in vertroue mekaar raadpleeg. Intieme vriendskap.

Onder die mense het jy ook sulke verhoudings. Dit is ’n eer as iemand jou
in sy vertroue neem, as iemand sy geheime met jou deel.

In die Bybel word Husai, die Arkiet, die vriend van die koning genoem (1 Kron
27:33). Die vriend van die koning is min of meer ’n amptelike titel. Dit sien
op die koninklike dignitaris wat die koning reëlmatig raadpleeg, om raad vra.
Die koning verberg niks vir sy die dignitaris/vriend nie. Hy praat vryuit. Hy
deel met hom sy gedagtes, sy bekommernisse, sy planne. Dis daarom ’n groot eer
om vriend van die koning te wees.

Ons Psalm sê dat daar so ’n verhouding tussen die Here God en sy volk is.
Dit het reeds in die paradys begin. Die Here het dit voortgesit toe Hy met
Abraham sy verbond opgerig het. In die verbond is Abraham ’n vriend van God
genoem (Jak 2:23). ’n Hoë posisie. ’n Geweldige werklikheid. God noem
Abraham sy vriend.

In hul nood het die gelowiges van die Ou Testament ’n beroep op hierdie
vriendskap gedoen. Ons hoor die kerk uit die Ou verbond bid: "Het U, ons
God, nie die inwoners van hierdie land voor u volk Israel uit verdrywe en dit
vir altyd aan die nageslag van Abraham, u vriend, gegee nie?" (2 Kron
20:7). Die Here self troos sy volk in ballingskap met ’n verwysing na die
vriendskap met Abraham: "Maar jy, Israel, my kneg, Jakob wat Ek uitverkies
het, nageslag van Abraham, my vriend"(Jes 41:8).

God het met Abraham vertroulik omgegaan. Die Here het hom sy planne van
verlossing vertel. Abraham sou die vader van ’n menigte van nasies word. Hy
sou ’n talryke nageslag ontvang plus die land Kanaän as ’n ewige besitting
(Gen 17). En dan sien jy in Gen 18 hoe reëel die vriendskap, die vertroulike
omgang is, wanneer die Here kom om Sodom en Gomorra te straf.

Op pad na Sodom sê die Here: Sal Ek vir Abraham verberg wat Ek gaan doen?
(Gen 18:17). Het Ek Abraham nie self betrek by my planne vir die redding van die
wêreld nie? Waarom sou Ek dan nou my planne vir hom verberg, my planne om Sodom
en Gomorra te verwoes? Daarom neem die Here Abraham in sy vertroue en onthul sy
planne. Die Here laat ook ruimte vir Abraham se bydrae. Hy laat Abraham vir
Sodom pleit en Hy gaan serieus daarop in. Hulle praat oor en weer. God gaan met
Abraham om soos ’n intieme vriend.

Miskien dink u: ja, dit was Abraham. Ek is nie Abraham nie. Hy was ’n
uitsondering. Dit gebeur vandag nie meer so nie. Abraham het inderdaad ’n
uitsonderlike posisie gehad. Maar daarin was hy die vader van alle gelowiges.
Die gelowiges word kinders van Abraham genoem, net soos die Ou Testamentiese
volk van God kinders van Abraham genoem is, kinders van Abraham, die vriend van
God. Daarom praat die Ps in die meervoud: die verborgenheid van die Here, waarin
Abraham gedeel het, is vir die wat Hom vrees, en sy verbond om hulle dit bekend
te maak. So was dit reeds in die Ou Testament.

Daarom is daar ook die bede in Ps 25: "Here, maak my u weë bekend; leer
my u paaie." Daarom het jy ook die geloofsvertroue: "Die Here is goed
en reg; daarom sal Hy sondaars leer aangaande die weg" (vs 8) en "Wie
tog is die man wat die Here vrees? Hy sal hom leer aangaande die weg wat hy moet
kies." (vs 12). Buite die vriendskap van die Here is daar die duisternis.
In die duisternis sien jy geen pad nie. Buite die omgang met die Here ken jy nie
sy weë nie, sy weë wat na sy toekoms lei, die toekoms vir mens en wêreld.
Buite Hom ken jy ook nie sy goeie en volmaakte wil nie.

In die omgang met die Here word dit egter lig. Jy sien dan die pad wat die
Here besig is om met hierdie wêreld te volg. Jy sien wat Hy besig is om te doen
ook in jou eie lewe en waar alles na toe lei. Jy sien die Here besig met die
verwerkliking van sy verlossingsplan. Jy sien ook wat God van jou verlang, die
pad van sy gebooie, wat goed vir jou is. God maak sy hart oop vir die wat Hom
vrees. Hy gaan vertroulik met hulle om.

Geliefdes, dit het in Jesus Christus volle werklikheid geword. In Jesus
Christus het God se hart oopgegaan. Daarom kon Jesus Christus sê: "Hy wat
My gesien het, het die Vader gesien" (Joh 14:9). En die Heilige Gees maak
die omgang in die verbond realiteit vir U en my.

Broeders en susters, jy kan nooit te hoog dink oor die vertroulike omgang
nie. Soos dit tussen die Here en Abraham in Gen 18 was, so is dit vandag ook
’n wederkerige saak, ’n kwessie van twee partye wat mekaar in vertroue neem.
God praat met jou in vertroue. Jy mag met Hom vertroulik praat.

In hierdie laaste dae het God deur sy Seun tot ons gepraat. En die Seun het
vir ons die Heilige Gees as Raadsman gestuur. Van die Heilige Gees sê Jesus: Hy
sal julle in die volle waarheid lei - dieselfde waarheid waaroor Ps 25 praat:
lei my in u waarheid - want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy
hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig (Joh 16:13).

Ons staan in dieselfde posisie as Abraham, God se vriend. Ons deel mos in die
groot belofte van die verbond, dat God ons God wil wees en ons sy kinders mag
wees. Daarom is ons kinders van die toekoms, kinders van die lig.

Tydens sy omwandeling op aarde het Christus sy dissipels ook sy vriende
genoem toe Hy gesê het: "Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat die
dienskneg nie weet wat sy heer doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem, omdat
Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het" (Joh
15:15).

God het sy hart vir jou oopgemaak. Hy het sy geheime bekendgemaak, die
geheime van sy koninkryk. "Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en
in die hart van ’n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom
liefhet. God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar" (1 Kor 2:9,10).
Daarom deel ons in die geheime, die verborge wysheid van God (vs 7).

Gemeente, hierdie wysheid is vir julle vasgelê in die Bybel. Deur die Bybel
bly God nog steeds tot jou spreek. Daarin maak Hy sy hart oop, maak Hy sy
verbond bekend, sy belofte en eise. Daarom hou ons soveel van die Bybel. God
gaan nie net soewerein sy eie gang, terwyl Hy ons in die duister laat nie,
geheel onkundig. Nee, jy mag sy weë ken, jy mag weet waar God mee besig is. Jy
mag sy verlossingsplan ken maar ook sy oordele. Jy is op die hoogte gestel deur
sy Gees. Daar is geen rede om nog in die donker te verkeer aangaande God se
werk, die ontwikkelinge in die wêreldgeskiedenis, wat

God besig is om in die wêreld te doen nie. God het jou in vertroue geneem
soos Hy Abraham in vertroue geneem het soveel eeue gelede.

Maar gemeente, nou wil die Here ook hê dat jy Hom in vertroue neem, dat jy
jouself voor hom oopmaak in gebed. God stel jou bydrae op prys. Hy gee jou ’n
stem, soos Hy dit met Abraham gedoen het. Dit is die geweldige van die lewe met
die Here in die verbond. God nooi jou uit om te sê wat jy op die hart dra, om
jouself voor Hom oop te maak. Jy moet dan nooit dink: God gaan soewerein sy eie
gang, daarom het dit geen nut om te bid nie. Nee die teenoorgestelde is waar:
God is so soewerein dat Hy sy eie pad volg, terwyl Hy tegelyk ook jou ’n stem
gee in die omgang van die verbond.

In Joh 16:26 sê die Here Jesus: "In daardie dag sal julle in my Naam
bid; en Ek sê nie vir julle dat Ek die Vader aangaande julle sal vra nie; want
die Vader self het julle lief." Maar Christus is tog ons pleitbesorger in
die hemel? Hoe kan hy dan sê "Ek sê nie vir julle dat Ek die Vader
aangaande julle sal vra nie?" Ons moet die woord van Jesus mooi verstaan.
Hy sê nie: Ek sal nie langer julle saak bepleit nie. Nee, hier praat Hy soos
’n ma dit teenoor haar kinders doen. ’n Kind kom by sy ma met die vraag of
ma vir hom iets aan pa wil vra. Wat sê ma dan: Gaan maar self na pa toe en vra
hom self maar. Sy sê nie dat sy van haar kant nie met pa daaroor sal praat nie.
Maar sy wil dit nie doen pleks van die kinders nie. Hulle moet self na pa toe
want pa self het julle lief. Pa wil ook graag sien dat jy vertroue in hom stel.
So wil die Vader hê dat ons na Hom toegaan want die Vader self het ons lief.

Geliefdes, die omgang in die verbond maak nietige mense groot: jy word
kinders van Abraham, God se vriend. Jy word intieme vriende van God self. Wat
’n eer! Dit is reeds ’n eer wanneer mense jou in vertroue neem. Dit is ’n
nog groter eer wanneer ’n koning of regeringsleier sy geheime aan jou
toevertrou. Hoeveel groter eer is dit dan wanneer die Here God jou in vertroue
neem en sy hart en planne vir jou bekendmaak. Groter eer is nie moontlik nie.
God almagtig neem jou in vertroue. Probeer om dit voor te stel. Jy mag
vertroulik met die Here omgaan.

En die Here meen dit wanneer Hy sê dat die gebed van ’n regverdige groot
krag het (Jak 5:16). So ’n gebed is mos gerig tot Hom wat in die verbond ’n
intieme vriend wil wees.

Gemeente, die feit dat die Here so met jou wil omgaan en sy hart wil oopmaak,
het ook ’n keersy: die Here vra eerbied vir Hom. Dis die tweede gedagte van
die preek.

Die vertroulike omgang is nie outomaties nie. In die verbond gebeur niks
outomaties nie. In die verbond behandel die partye mekaar nie soos robots nie
sodat alles outomaties op ’n bepaalde manier verloop nie. So gaan dit nie in
ons menslike verhoudings nie. Dan seker nie in die verhouding tussen God en sy
volk nie.

Die teks gee aan dat die vertroulike omgang van die Here is vir die wat Hom
vrees. Daarvoor moet jy die Here vrees. Net as jy die Here vrees, sal jy die
intieme omgang beleef. Die Here vrees, wat is dit? Dit beteken dat jy eerbied
vir die Here het, kinderlike ontsag en vertroue. Jy buig eerbiedig voor sy hoë
majesteit. Tegelykertyd vertrou jy op sy groot barmhartigheid.

In ’n sekere mate herken jy dit in die verhouding tussen ouers en kinders,
wat ook so ’n intieme verhouding is. As dit goed is, is kinders nie bang vir
hul pa en ma nie. Hulle het wel eerbied. Daarom is jy as kind ook bang om iets
te doen wat teen die wil van pa of ma ingaan. Daar respekteer jy hulle te veel
voor. Jy het geen rus totdat jy dit weer reggemaak het nie. Kinderlike ontsag
gaan hand in hand met kinderlike vertroue.

So is dit met die vrees van die Here. Jy dink baie hoog van die Here jou God.
Jy eer Hom as hemelse Vader. Jy verwag baie van sy liefde, maar jy dink ook nie
lig van sy toorn, van sy afkeer van die sonde nie. Jy neem die Here ernstig op
in alle dinge, in sy liefde en in sy toorn. Jy eer en vertrou Hom. Jy neem sy
woorde ernstig op, die woorde wat Hy in die laaste dae in sy Seun deur sy Gees
gespreek het. Jy wil volgens die woord lewe. Anders sou die vertroulike omgang
in gevaar kom of selfs ophou.

Die vertroulike omgang van die Here is met die wat Hom vrees. Om met God te
wandel is die beste manier om God se hart te ken. Vriende wat saam wandel deel
mekaar se geheime. Noag het met God gewandel en God het sy groot geheim
meegedeel dat Hy die goddelose wêreld sou verwoes, maar Noag en sy mense in die
ark sou red. Abraham het met God gewandel en God het hom in vertroue geneem. God
het sy planne aan hom onthul, sy planne van verlossing en van oordeel oor Sodom
en Gomorra. Om die Here te vrees is om met die Here te wandel, om met Hom deur
die lewe te gaan. Dan hoor jy Hom met jou praat van hart tot hart. Jy leer sy
planne ken, sy weë en die weg wat jy self moet volg. "Wie tog is die man
wat die Here vrees: Hy sal hom leer aangaande die weg wat hy moet kies."
(Ps 25:12).

Ken daarom jou plek teenoor God. Die omgang is wel vertroulik maar nie
kameraadskaplik sodat jy God as jou gelyke behandel nie, as jou makker. Wanneer
Abraham met die Here vir Sodom pleit dan noem hy homself in Gen 18:27 stof en
as. Hy ken sy nederige posisie teenoor die Here. Wanneer jy die Here vrees, dan
ken jy ook jou nederige posisie voor sy hoë majesteit. Jy erken dan ook jou
sondes. Soos die digter van Ps 25 "Om u Naam ontwil, Here, vergeef my
ongeregtigheid, want dit is groot" (vs 11). God se heiligheid verdra geen
sonde nie. Wanneer jy God ernstig opneem, dan neem jy ook sy liefde ernstig op,
sy liefde wat Hy in Jesus Christus gewys het. Sy liefde waardeur Hy sy Seun vir
ons sonde gestraf het. As jy die liefde ernstig opneem dan kan dit nie anders as
dat jy jou eie sonde en skuld erken. Waarom het God mos sy Seun in hierdie wêreld
gestuur om te ly en te sterf? Ontkenning van eie sonde en skuld maak God tot
’n leuenaar. Sou jy dan nog ’n intieme verhouding met God kan hê? Waar jy
egter jou eie nederige plek ken, daar kom God baie naby. Hy fluister sy woord in
jou ore as 't ware. So intiem en vertroulik wil Hy wees.

Maar gemeente, wanneer gebeur dit dan? Wanneer jy die Here soek met ’n oop
Bybel. Deur sy woord praat God met jou en deur sy Gees verlig Hy jou verstand
sodat jy dit wat Hy vir jou sê kan verstaan. Dit kan enige oomblik van die dag
gebeur, waar jy ook al is. Byvoorbeeld, wanneer jy op jou siekbed lê en worstel
met God se pad in jou lewe. God kan jou opeens sy aanwesigheid en sy leiding
skerper laat ervaar. Jy sien dan weer die lig. Die woorde uit die Bybel word
duideliker vir jou. Jy sien die weë van die Here, ja, jy sien weer raak hoe die
Here self in jou lewe besig is in goeie en kwade dae. Die Here is werklik daar.
Naby jou.

Dit begin alles met ’n oop Bybel. Jy lees dit, bestudeer dit, oordink dit.
Jy laat ander jou daaraan herinner.. Jy wil ook daar wees waar die woord getrou
gepreek word. Jy herken die stem van jou Vader wat alles weer in perspektief
plaas. God is besig om met jou te kommunikeer, sy hart vir jou oop te maak. En
jy mag daar ook met Hom praat. As jy die Here vrees, dan wil jy van die
vertroulike omgang geniet, die ontmoeting met God, dat jy Hom hoor praat en dat
jy self met Hom praat. Wat ’n geweldige ervaring. Wat ’n voorreg! Wat ’n
eer! Jy mag deel in die geheime, die verborge wysheid van God.

Maar broeders en susters, is dit nie so dat baie mense die kennis van God het
nie. Selfs onbekeerde mense hoor en ken die evangelie, hoor van God se
verlossingsplan, van die geheime van sy koninkryk. Inderdaad, baie hoor die
evangelie, ook al ken hulle nie die vrees van die Here nie. Met my verstand kan
ek dan miskien baie van die Bybel weet. Ek kan miskien baie vertel oor die
verbond, oor genade en verkiesing ens. Miskien kan ek pragtig daaroor debatteer
op die studieverenigings. Ja, miskien weet ek dit alles baie goed met my
verstand. Maar ken ek dan ook werklik God se hart as ek die Here nie vrees nie?
Die vertroulike omgang van die Here is vir die wat Hom vrees. Daar praat die
Here van hart tot hart. Daar word die harte bewoë. Jy weet dan uit ervaring
waaroor dit gaan in God se koninkryk, die geheime daarvan.

Jy kan dit dalk vergelyk met ’n kind en ’n juwelier wat albei na
dieselfde pêrel kyk. Uiterlik sien die kind en die juwelier dieselfde. Hulle
praat albei van ’n pêrel. Tog ken die kind die pêrel nie in sy waarde as
’n pêrel nie, soos die juwelier dit ken nie. Daarom kan jy van ’n kind sê
dat hy dit nie werklik ken nie. So is dit met iemand wat nie werklik glo nie. Hy
weet miskien allerlei dinge oor God, maar hy ken nie God se hart nie.

Die vertroulike omgang van is vir die wat Hom vrees.

Daarom: vrees die Here. Het ontsag vir Hom en vertroue. Neem hom ernstig op
in al sy woorde en werke. Dan sal jy die vertroulike omgang van die Here beleef:
Hy maak sy hart vir jou oop en jy mag jou hart vir Hom oopmaak. Dan is daar
betekenisvolle kontak: die twee partye van die verbond kommunikeer van hart tot
hart.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)