Die ontdekkende woorde van die Here Jesus: gaan verkoop jou goed en gee dit aan die armes.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2003-04-06
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 19
Preek Inhoud: 

Matthéüs 19:21a

Ds C Kleyn - Sondag 6 April 2003

Lees:

Matthéüs 19:16-30.
Sing: Ps 105:1,2; Ps 105:3,4; Ps 105:5; Ps 4:3,4; Ps 68:9.

Tema: Die ontdekkende woorde van die Here Jesus: gaan verkoop jou
goed en gee dit aan die armes.

  1. Wat bedoel die Here daarmee?
  2. Wie het die Here daarmee op die oog?
  3. Wat wil die Here daarmee bereik?

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons kan weer gaan dank. Ons het alle rede daartoe. Ook al is nie elkeen
voorspoedig en finansieel onafhanklik nie. Ook al is daar werkloses, mense wat
te min verdien om hul gesin te kan onderhou of ander hulpbehoewendes. Ook al
word in die laaste jare steeds meer ’n beroep op die diakonale fondse gedoen.
Wanneer ons ons situasie vergelyk met baie ander in ons land dan is ons tog wel
af. Ons het mos almal nog kos, klere en onderdak. En watter soort kos, klere en
onderdak in vergelyking met die mense wat in die townships woon of in die
plakkerskampe. Die Here gee ons in ons gemeente rykdom. Hy gee ons ook in ons
land relatiewe rykdom in vergelyking met ons noordelike buurlande waar groot
hongersnood heers, wat as rampgebied verklaar is vanweë die groot droogte of
die vloede of vanweë wanbestuur soos in Zimbabwe. Ons mag dankbaar wees dat ons
in Suid Afrika woon en veral dat ons binne Christus se kerk in plek mag hê. Wat
is ons wat dit betref tog ryk.

Maar nou die vraag: Wat doen ons met dit wat ons gekry het. Hoe staan ek
teenoor my geld en goed, teenoor die moontlikhede wat God nog vir my gee? Sien
ek my rykdom nog wel raak? En watter plek neem die rykdom in in my lewe? Dis
goed om ons daarop te besin. Daartoe wil ek vanoggend vir julle verkondig die
ontdekkende woorde van die Here Jesus: gaan verkoop jou goed en gee dit aan die
armes.

Ons let op drie dinge:

  1. Wat bedoel die Here daarmee?
  2. Wie het die Here daarmee op die oog?
  3. Wat wil die Here daarmee bereik?

Jesus se woorde sit aan die dink, veral as jy die skrynende teenstellings in
die wêreld en in ons land sien, die skrynende teenstelling tussen armes en
rykes. Wat bedoel die Here met sy woorde? Wil Hy werklik hê dat ek my goed
verkoop om dit aan die armes te gee? In Lukas word selfs nadruklik gepraat van
die verkoop van alles wat jy het. Moet ek nou werklik alles wat ek besit wegdoen
terwille van die armes? Geld vir elke christen: weg met alle kapitaal en
besittings?

Maar jy kan tog nie alles wegdoen nie? Veral nie in ’n agrariese samelewing
soos dit vir die tyd van Christus se omwandeling gegeld het. As die boer sy land
verkoop, dan verkoop hy sy bron van inkomste. As hy die opbrengs dan heeltemal
weggee dan word hy self vir sy lewensonderhoud van ander afhanklik. Of as jy as
visser jou skip wegdoen om daarmee die armes te help, dan maak jy jouself
hulpbehoewend.

Geliefdes, om die probleem op te los is daar gesuggereer dat die gebod van
die Here net vir baie besondere persone geld, naamlik vir die sogenaamde
volmaakte christene, christene wat bo die gewone volk uitsteek. Mense wat nie
met die algemene gebooie van God volstaan nie, maar graag meer wil doen. Gewys
word op die inleidende woord van die Here: as jy volmaak wil wees, gaan verkoop
jou goed en gee dit aan die armes. So sou die eis van Christus alleen geld vir
die groep van volmaaktes in onderskeid met die gewone volk. So het in die
geskiedenis ook die kloosters ontstaan.

Maar is dit wat die Here Jesus bedoel? Dit kan om meer as een rede nie die
geval wees nie. Allereers blyk uit die verse 23,24 dat die ryke man al sy
besittings moet verkoop, nie net om die sogenaamde hoë rang van volmaaktheid te
bereik nie, maar om in die koninkryk van die hemele in te gaan. In die tweede
plek geld vir elke christen die roeping om volmaak te wees. Ons lees mos in Mt
5:48: wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is. Met
volmaak wees bedoel die Here dat jy God en jou naaste sonder reserwes liefhet.

Maar dan kom die vraag opnuut bo: moet dan elke christen sy besit verkoop
terwille van die armes? Moet ek vandag bv my huis en my motor verkoop om daarmee
die armes te help? Deur dit te doen gee ek die armes wel ’n tydelike
verligting, maar dit is die vraag of ek die armes werklik daarmee gehelp het. As
die rykes hulleself arm maak terwille van die armes dan sal albei arm wees Om
die armes te kan help moet daar ook rykes oorbly.

Om hierdie moeite met die woorde van die teks op te los het mense ook
gesuggereer dat met die besit nie alles bedoel word nie. Die huis waarin jy
woon, die land wat jy bebou of die besigheid wat jy bedryf sou nie daaronder val
nie. Met jou goed sou dan bedoel wees alles wat jy vry tot jou beskikking het,
wat jy as wins verwerf het, die vermoë wat jy opgebou het. Die Here sou dan in
die teks vra dat ek afstand doen van wat ek oor het nadat ek in my
lewensonderhoud voorsien het en ek my verpligtings teenoor ander nagekom het.
Wat oorbly sou ek dan nie vir myself mag hou nie.

Opvallend is egter dat in Lukas met nadruk gesê word: verkoop alles wat jy
het. Bowendien is dit opvallend dat Jesus nou ’n ander gedragsreël voorskryf
as by die roeping van sy eerste dissipels. Die dissipels het nie alles hoef
verkoop nie, maar hulle moes alles agterlaat. Dit blyk dat Petrus later ook nog
steeds ’n vissersboot besit. Hier in die teks sê die Here Jesus egter:
verkoop jou goed en gee dit aan die armes.

Geld hierdie woord ook vir ons vandag? Moet ek alles wegdoen om die armes in
hul nood te help?

Dit bring ons by die tweede punt: wie het die Here daarmee op die oog?

Voordat ’n mens ’n skrifwoord op die situasie van vandag toepas, moet jy
weet in watter verband die skrifwoord staan. Die Here Jesus uit die woorde
teenoor ’n ryk jongman. Ons sal dus moet besef dat die Here hier in eerste
instansie die ryk jongman op die oog het.

Watter soort man is dit? Dit blyk ’n baie ernstige, godsdienstige man te
wees. Lukas vertel ons dat hy ’n owerste is. Daarmee sal bedoel wees owerste
van die sinagoge. Hy het daar die leiding van die erediens. Hy moet daarvoor
sorg dra dat alles ordelik en tot eer van God verloop. Indien nodig tree hy in
so ’n samekoms ook self op as voorganger. So ’n kerklike leier kom dan by
Jesus met die vraag: Goeie meester watter goeie dinge moet ek doen, dat ek die
ewige lewe kan hê?

Die man wil opreg die Here dien. Hy erken ook die gesag van die Here Jesus.
Hy spreek hom aan as Meester. Markus vertel ons dat hy selfs voor Jesus op sy
knieë val. Sy eerbied vir die meester Jesus blyk dus opreg te wees. Anders sou
hy werklik nie op sy knieë neergeval het nie. Die geknielde houding was ook
ongebruiklik teenoor ’n rabbi. En vergeet nie dat ryk mense nie sommerso op
die knieë voor iemand sou neerval nie. Die man blyk dus ernstig te wees. Hy
soek opreg die hoogste goed. En hy beskou Jesus as diegene wat hier die
verlossende woord kan spreek. Hieruit blyk dat hy veel verder as baie Fariseërs
gekom het, selfs verder as ander volgelinge van Jesus.

Die man het ook goed nagedink oor sy probleem. Hy formuleer sorgvuldig.
Meester, watter goeie dinge moet ek doen, dat ek die ewige lewe kan hê? Of
volgens Markus en Lukas: "om die ewige lewe te beërwe." Hy verstaan
goed dat jy die ewige lewe nie kan verdien nie. Dis iets wat jy kry, wat jy van
God beërf. Tog verwag hy dat hy om daarvoor in aanmerking te kom iets moet
doen.

Christus se reaksie is raaiselagtig. Jesus sê vir hom: waarom noem jy My
goed? Niemand is goed nie, behalwe een, naamlik God? Waarom wys Jesus nie
onmiddellik na die gebooie nie, soos Hy dit effens later doen? Waarom geen
direkte antwoord op die vraag van die jongman nie? Christus wil hom en ons aan
die dink sit. Christus wil die gedagtes op ’n ander spoor sit. Hy sê: man,
weet jy wel waaroor jy praat? Daar is slegs een wat werklik goeie dinge kan
doen, wat goed is, naamlik God. Daarom is Hy ook die enige bron van goeie dinge.
Vir ’n antwoord op jou vraag moet jy by God wees. Hy het bekendgemaak wat goed
is, naamlik dat jy sy gebooie doen. Op die eerste gesig lyk dit asof Jesus
homself tog weer aansluit by die Joodse verlossingsleer: Maar as jy die lewe wil
ingaan, onderhou die gebooie. Die inleidende woorde "Niemand is goed nie,
behalwe een" en die uitwerking in die slotverse maak egter duidelik dat
Christus heel wat anders as die Jode bedoel.

Die jongman weet nog nie presies wat Jesus bedoel nie. Sou Jesus, wat meer as
die Fariseërs geëis het, die bekende gebooie bedoel? Daarom die vraag: watter
gebooie moet ek dan onderhou? Die antwoord van Christus klink gerusstellend:
Christus bedoel inderdaad die bekende gebooie: jy mag nie doodslaan nie, jy mag
nie egbreek nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie; eer
jou vader en moeder. Gebooie wat mens kan saamvat met die woorde: Jy moet jou
naaste liefhê soos jouself.

Dis opvallend dat Jesus hom tot die tweede tafel van die wet beperk. Jesus
spreek hom aan op sy konkrete gedrag teenoor sy naaste. Die gebod van liefde vir
die naaste vorm ’n uitwerking van die gebod om God te dien. Die liefde tot God
moet heel konkreet blyk in die liefde tot die naaste.

In die lig van die opsomming lyk die man tevrede met homself te kan wees. Die
man leef keurig en vroom. Hy kan volmondig sê, tenminste so dink hy, "Al
hierdie dinge het ek onderhou van my jeug af." Ons mag aanneem dat hy
daarin opreg is. Mk noem nog dat die Here Jesus die man liefgekry het. Dis nie
slegs skyn nie, terwyl hy in werklikheid deur leuen en bedrog sy besit sou
vermeerder. Ons mag aanneem dat hy ’n voorbeeldige lewe gelei het. Hy lê
gekniel voor die Here uit eerbied en liefde vir die Here. Mens sou sê: dit is
met hom wel in orde. Ja, so gaan dit dikwels in ons lewe. Ons dink: dit val bes
mee met ons. Ons doen nie groot sondes nie. In ’n samelewing vol onreg en
bedrog kom ons eerlik aan ons besit en betaal ons eerlik dit wat ons aan ander
instansies of persone verskuldig is. Ons doen ons bes vir die naaste. Wat kan
’n mens dan op ons aanmerk? So kan ook die ongelowige humanis bes tevrede met
homself wees. In naasteliefde kan hy selfs voorbeeldig wees. Wat is dan nog
fout?

Geliefdes, is dit werklik in orde met die ryk jongman? Is daar inderdaad niks
om aan te merk oor hom nie? Die vraag kan ook vir jou en my gestel word: is dit
werklik in orde met jou dien van die Here en die naaste? Het jy jou naaste
werklik lief soos jouself?

Luister maar na Christus se woorde: As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou
goed en gee dit aan die armes. Wat beoog die Here met hierdie woorde? Dis die
derde punt: wat wil die Here met hierdie woorde bereik?

Christus pas die gebooie van God baie konkreet toe op hierdie ryk jongman.
Sodat die man dit nie kan ontwyk nie. Hy sê as 't ware: jy het God en die
naaste sonder reserwes lief? Wel, wys dit nou deur al jou goed te verkoop
terwille van die armes. Die Here neem ’n steekproef om te sien hoe diep die
liefde vir God en die naaste in werklikheid is. Die Here wil daarmee die man
ontdek aan sy tekort aan ware liefde vir God en sy naaste, ondanks sy skynbare
nougesette onderhouding van die wet. Die Here weet dat hy nog teveel vassit aan
sy besit. Die Here wil hom daarvan bevry. Daarom die spesiale opdrag: verkoop
jou goed en gee dit aan die armes. En dan blyk die teleurstellende werklikheid:
die man het bedroef weggegaan. Hy is nie in staat om die vereiste liefde te wys
nie. Hy skrik terug vir ’n radikale keuse vir die Here. Die lewe met sy rykdom
is nog te dierbaar vir hom.

Opnuut die vraag: geld die eis van Christus ook vir ons vandag? Moet ook ons
as proef op die som van ons geloof alles verkoop om dit vir die armes te gee?
Geliefdes, die teksverband gee aan dat ons die woorde nie sommerso na vandag kan
oorplaas nie. Die Here praat hier tot ’n konkrete persoon in ’n konkrete
situasie. Ons het reeds gesien dat die eis vir die man bestem was, omdat hy aan
sy goed vasgesit het. En wat spesiaal vir die man bedoel is, mag ’n mens nie
sommer veralgemeen nie. Van die spesifieke eis mag jy nie sommer ’n algemene
eis maak nie, geldend vir alle mense.

Bowendien, Christus stel die eis in verband met die volg van Hom. Daaroor
gaan dit in die teksverband. Christus is op pad na Jerusalem om daar te sterwe.
Op die pad nooi hy die ryk jongman uit om Hom te volg. Dit het dan ook gevolge.
Christus laat alles agter, gee alles prys, word arm. As jy Hom wil volg op die
pad dan moet jy ook bereid wees om alles prys te gee.

Maar as jy Christus se woorde nie sommerso op ons situasie vandag mag toepas,
wat beteken dit dan vir ons? Deur die ontdekkende woorde ontdek Christus ook ons
aan onsself. Hoe is dit gestel met jou liefde vir God en die naaste? Is dit ’n
radikale liefde? Sonder reserwes? Blyk dit ook uit jou omgang met geld en goed?
Hoe staan jy teenoor jou besit, teenoor die standaard van lewe wat jy opgebou
het? Hoe vas sit jy daaraan vas? Is jy bereid om ’n stap terug te doen indien
dit nodig is vanweë die situasie waarin jy teregkom of vanweë die situasie of
nood van die gemeenskap waarin jy verkeer? Is ek bereid om alles prys te gee
terwille van Christus? Ook my luukse standaard van lewe, my dure huis of motor,
my dure gewoontes, gebruike of stokpertjies? Christus stap nou nie rond om my
direk te vertel wat ek vandag wel of nie moet prysgee nie. Tog bly Hy my
aanspreek op my konkrete verantwoordelikhede deur sy Woord en deur die
lewenssituasies wat Hy vir my hier op aarde beskik. So het hierdie teks ook ewe
goed ’n boodskap vir mense wat minder bedeel is. Wanneer God my swaar laat
kry, wat is ek bereid om prys te gee? Is ek uiteindelik bereid om alles prys te
gee indien God dit van my vra? Ja wat sou ek kies indien God my voor die
radikale keuse sou plaas: jou skat hier op aarde of jou skat in die hemel.

Die Here wys voortdurend op die gevaar van die rykdom, so ook na die vertrek
van die ryk jongman. Hy doen dit verbasend skerp wanneer hy sê: dit is makliker
vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan as vir ’n ryk man om in
die koninkryk van God in te gaan. Tereg trek die dissipels die gevolgtrekking:
Wie kan dan gered word? As dit selfs moeiliker vir ’n ryk man is om die
koninkryk in te gaan as vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan,
dan moet daar ook voor mense wat minder ryk is, geen skyn van kans wees nie. Die
vertroue op besit mag by mense wat min goed het, minder wees, maar ook ’n
donkie, selfs ’n muis kan nie deur die oog van ’n naald nie. Wie kan dan wel
gered word?

Christus kom dan met die verlossende woord: by mense is dit onmoontlik, maar
by God is alle dinge moontlik. Tereg sien jy voor jouself ’n doodloop pad. Die
ingang in God se ryk is volkome van God afhanklik. Ek moet afsien van myself en
op God sien. Redding kan alleen van Hom kom. By mense is dit onmoontlik, maar
nie by God nie. Het God nie voortdurend die onmoontlike moontlik gemaak nie? Het
Hy nie voortdurend verlore sondaars lewend gemaak nie? So wil die Here ons die
spieël voorhou, nie om ons wanhopig te maak nie. Maar Hy wil jou op Hom laat
sien sodat jy dit van Hom verwag. So bewerk Hy vandag geloof en bekering. So
laat Hy rykes en armes hul vertroue op aardse besittings prysgee. Soos Paulus
dit in sy eie lewe ervaar het. Hy skryf in Phil 4 dat hy geleer het om vergenoeg
te wees met die omstandighede waarin hy is. "Ek weet om verneder te word,
ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig:
om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om
gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee." Let
op die laaste woorde. Hoe kon Paulus vernedering en verhoging, armoede en rykdom
goed hanteer? Deur Christus wat hom krag gegee het. Hoe kon hy in alle
omstandighede vergenoeg, tevrede wees? Net deur Christus wat hom krag gegee het.

’n Christen mag alles besit as mens wat niks het nie, sê Paulus. Jy kan
dan ook arm wees maar baie ander ryk maak, bedroef wees, maar altyd opgeruimd
(vgl 2 Kor 6:10). Die besit van aardse goed mag nooit die doel van my lewe word
nie, maar is net ’n middel wat aan my gegee is. Soos Paulus dit aan Timotheüs
skryf: Beveel die rykes in die teenwoordige wêreld om nie hoogmoedig te wees
nie en ook nie hulle hoop te stel op die onsekerheid van die rykdom nie, maar op
die lewende God wat alles ryklik verleen om te geniet; dat hulle goed moet doen
en ryk wees in goeie werke, vrygewig, mededeelsaam.

Broer en suster, seun en dogter: Staan jy so teenoor jou aardse besittings.
Kan jy dit werklik loslaat, indien dit moet? Dan kan jy God van harte dank. En
dan laat die nood van die armes jou nie koud nie. Jou liefde vir God bewys hom
dan in jou liefde vir die naaste.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)