’n Mens kom tot die fees van die verbond in feesklere.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2003-05-04
Teks: 
Matthéüs 22
Preek Inhoud: 

Matthéüs 22:14

Ds C Kleyn - Sondag 4 Mei 2003

Lees:

Matthéüs 21:45-22:14; Sondag 30, Vraag
en Antwoord 81.
Sing: Ps 84:1,2; Ps 84:5,6; Ps 24:2,3; SB
42:3-5; SB 29:8,9.

Tema:


’n Mens kom tot die fees van die verbond in feesklere

  1. die ernstige uitnodiging;
  2. die vereiste nederigheid; en
  3. die gepaste klere

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Volgende week hoop ons die Heilige Nagmaal te
vier.  Dit beteken dat ons onsself
daarop moet voorberei.  Dit impliseer
selfbeproewing.  U ken die woorde van
die formulier: Om die Nagmaal tot versterking van ons geloof te kan hou, is dit
ten eerste nodig dat ons ons vooraf volgens die Skrif sal ondersoek.

Hierdie selfbeproewing in verband met die
Nagmaal word in die kat genoem wanneer daar gevra word: Wie moet na die
Nagmaalstafel van die Here kom?   As jy
die vraag lees dan dink jy dalk nie onmiddellik aan selfbeproewing nie.  Hier word vereistes genoem vir diegene wat
die Nagmaal vier.  Hulle moet vanweë hul
sondes ’n afkeer van hulleself hê, maar tog vertrou dat dit hulle vergewe is en
ook begeer om hulle geloof te versterk en hulle lewe te verbeter.  Wanneer ’n mens hierdie vereistes hoor, dan
kan die neiging daar wees om na ander te kyk en ander volgens die standaarde te
meet.  Moenie vergeet egter dat die
norme eers vir jouself geld.  Ek moet
eers myself ondersoek.  Myself ondersoek
in die lig van die evangelie wat praat van sonde, verlossing en
dankbaarheid.  Herken jy die vereistes
van die kat by jouself?

Laat ons nader daarop let wanneer ek vir julle
verkondig: ’n mens kom tot die fees van die verbond in feesklere

  1. die ernstige uitnodiging
  2. die vereiste nederigheid
  3. die gepaste klere

Die gelykenis van die bruilof eindig met die
woorde: Want baie is geroep, maar min uitverkies.  Die woorde laat ’n mens dink. 
Is ek een van die min mense wat uitverkies is?  Gestel dat ek nie uitverkies is nie.

Die vraag kan gevra word: is dit wys om by die
voorbereiding op die HN met so ’n Skrifgedeelte te kom?  Sal so ’n Skrifwoord mense nie laat wegskrik
van die Nagmaal nie?  Die teks sê
immers: Baie is geroep tot die fees van God se koninkryk, maar slegs die min
uitverkorenes sal uiteindelik die bruilofsmaal van die Lam vier.  Dit kan dus gebeur, so word geredeneer, dat
iemand nou dink dat dit vir hom is, maar dat hy uiteindelik tog geweier,
uitgesluit word.  Jy dink dat jy hemel
toegaan, maar kom uiteindelik in die hel tereg.  Wat ’n skrikwekkende gedagte. 
Neem die teks nie al jou sekerheid weg nie?  Skep dit nie groot onsekerheid, selfs wanhoop nie?  Hoe moet jy weet of jy werklik op die fees
van God se koninkryk behoort?  Blykbaar
is die nie voldoende om geroep te wees nie. 
Die groot vraag is of ek ook uitverkies is.

In die kerkgeskiedenis was daar baie mense wat
voortdurend gekwel is deur die vraag of hulle werklik uitverkies is.  Hulle het nie gedurf om God se vaste
beloftes te aanvaar nie.  Hoe kan ek
weet dat die beloftes werklik vir my bestem is?  Ek is geroep, maar behoort ek ook werklik by die uitverkorenes?

Broeders en susters, om hierdie woorde reg te
verstaan moet ons kyk na die verband van die teks en dit in rekening
bring.  As ons dit nie doen nie, dan vra
ons om moeilikheid.

Die woorde staan aan die einde van die
gelykenis van die bruilof.  Hierdie
gelykenis van die Here Jesus is ’n reaksie op die houding van die owerpriesters
en Fariseërs.  Hierdie leiers weier om
Jesus te volg.  Pleks daarvan wil hulle
Hom gevange neem.  Hulle is egter bang
vir die skare omdat die Hom as ’n profeet beskou.  In die gelykenis wys die Here sy hoorders op sy ernstige
uitnodiging na die vreugde van sy koninkryk met die verskillende reaksies op
die uitnodiging.

Die koning stuur sy slawe uit om die genooides
na die bruilof te roep.  Wat is die
reaksie van die spesiaal genooide gaste? 
Hulle weier om te kom.  Die
koning gee nie onmiddellik moed op nie. 
Hy stuur weer ander slawe om hulle dringend te vra om tog te kom na die
fees wat vir hulle gereed gemaak is. 
Opnuut weier die spesiaal genooide gaste.  Hulle steur hulle nie aan die koning se knegte nie.  Hulle bly gewoon hul eie dinge doen.  Een gaan na sy stuk grond en ’n ander na sy
werkplek of bedryf.  Party mense wat wel
reageer, gryp die knegte van die koning, mishandel hulle en maak hulle dood.

Nie een van die genooides kan sê dat die
uitnodiging nie ernstig bedoel is nie. 
Die koning maak werk daarvan om hulle te nooi, herhaaldelik.  Hy maak ook die feesmaal vir hulle gereed.

Dat die spesiaal genooides uiteindelik nie aan
die fees deelneem is nie die Here se skuld nie.  Dis vanweë hul eie onwilligheid. 
Hulle stel nie werklik belang in die persoon wat hulle nooi nie, in die
koning of bruidegom.  Hulle waardeer ook
nie die uitnodiging nie,  nogal ’n
uitnodiging van die koning na die bruilof van sy seun.  Hulle stel meer belang in hul eie dinge en
besigheid, ja in hulleself.  Ander gaan
selfs so ver dat hulle die koning se knegte mishandel en doodmaak.

Daarom wys die Here hulle af.  Hy het hulle spesiaal genooi na die
fees.  Maar hul botte weiering maak
hulle onwaardig.

Broeders en susters, hier teken Christus die
houding van die Joodse leiers teenoor die evangelie van God se koninkryk.  As geestelik leiers van God se volk
kwalifiseer hierdie mense vir ’n uitnodiging na so ’n belangrike fees.  Hulle ontvang ’n spesiale uitnodiging na God
se koninkryk.  Maar hulle, tenminste die
merendeel van hulle, weier om gehoor te gee aan God se uitnodiging.

Daarom word die knegte uitgestuur om alle
soorte mense te nooi, slegtes sowel as goeies. 
Dit word in die tweede helfte van die gelykenis geteken.  Die knegte gaan uit na die straathoeke en
nooi almal wat hulle kry sonder onderskeid uit.  Selfs mense waarop neergekyk word, mense wat ’n slegte naam hê,
bv prostitute en tollenaars.  Die Here is
nie afhanklik van die onwillige genooides nie. 
Hy is nie afhanklik van die geestelike leiers nie.  Hy sal die feessaal wel vol kry.  So het die feessaal vol gaste geword.   ’n Groot menigte deel in die vreugde van
die Heer.

Hier sien julle, broeders en susters, dat
Christus se uitnodiging na die fees ernstig bedoel is.  Wanneer Christus mense nooi dan bedoel Hy
wat Hy sê.  Julle word ook opreg genooi
na die bruilofsmaal van sy seun.  Wat ’n
groot eer!  Uit die verlore menslike
geslag roep Hy julle.  Hy sê vir julle:
kom na my fees.  Hy roep deur ouers en
ampsdraers, sy dienaars.  Hy doen dit
nie net een keer nie, maar keer op keer. 
Die ampsdraers laat sien en hoor hoe feestelik dit in God se
teenwoordigheid is: genade vir julle en vrede. 
Alles is vir die genooides gereed. 
Danksy Jesus sy werk kan die fees begin.

Wat ’n belediging vir Christus sou dit dan
wees om die ernstige uitnodiging te ontkrag deur te kom met die vraag na die
uitverkiesing: is ek werklik uitverkies? 
Wanneer Christus jou nooi, dan bedoel Hy wat Hy sê.  Christus sê: "Kom na My toe, almal wat
vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee." (Mt 11:28)  Genade vir julle en vrede.  Waar twee of drie in my Naam vergader, daar
is Ek in hul midde (Mt 18:20).  Ek is in
jul midde met my woorde van lewe. 
Luister na My en leef.  Geniet
van die gemeenskap met My en met mekaar. 
Jul weekliks byeenkomste, eredienste, behoort ’n fees te wees.  Laat ons ons onderlinge byeenkomste nie
versuim nie.  Woon getrou die
kerkdienste by.  Kom en geniet van jou
band met My saam met my volk.  Vier jou
weeklikse fees. 

Bowendien, gedenk en verkondig my dood totdat
Ek kom.  Ontvang aan my tafel ’n
voorsmaak van die oorvloedige vreugde wat Ek jou belewe het.  Eet, drink, gedenk en glo.  Vier die voorsmaak van die bruilof van die
Lam.

Broeders en susters, wat is julle
reaksie?  Volg jy die ernstige
uitnodiging op en kom jy na die fees? 
Kom jy na die kerkdienste, kom jy na die Heilige Nagmaal?  Is jy bereid om alles daarvoor te laat
staan?  Om jou stokperdjies, jy sport,
jou werk te los om na die fees van jou Heer te gaan?   Is jy bereid om daarvoor jouself te verloën, jou koppigheid te
laat vaar en jouself in ootmoed met jou naaste te versoen?  Besef jy wie jou uitgenooi het en waarvoor
Hy jou genooi het?  Dis nie niks nie,
dis onvoorstelbaar: God self nooi jou na die fees van sy eniggebore Seun.  Wat ’n voorreg!

Dis logies, geliefdes, wanneer jy na so ’n
fees gaan, dat jy dit op ’n waardige manier doen, op ’n manier wat pas by so ’n
groot fees.  Dink aan die man in die
gelykenis wat nie die bruilofsklere dra nie. 
Hy wil geniet van die eer en vreugde van die fees maar weier die houding
van ’n geëerde gas.  Hy beskou sy eie
informele klere as goed genoeg.  Hy
beskou homself goed genoeg.  Die
ontbreek hom aan die vereiste nederigheid, ootmoed.  Wanneer ek na die fees gaan, moet ek my nederige posisie teenoor
die Gasheer wat my genooi het, besef . 
Vir die fees van die verbond moet ek my eie sondigheid en onwaardigheid
ken.  Nederigheid is vereis.  Die kat wys daarop wanneer dit sê dat net
hulle wat vanweë hul sondes ’n afkeer van hulleself het tot die Nagmaalstafel
van die Here mag kom.

Let daarop jy moet werklik ’n afkeer van
jouself hê, nie van ander nie.  Nie
vanweë die sondes van ander nie, nee, vanweë jou eie sondes.  “Hulle wat vanweë hulle sondes ’n afkeer van
hulleself het.”  Jy moet jouself ken as
’n onwaardige sondaar, afhanklik van genade. 
Jou sondes is so groot dat Jesus Christus daarvoor moes sterf aan die
skandelike kruis.  Sou iemand homself
dan durf verhef by die feesmaal van die verbond?  My eie klere is vuil.  My
eie lewe is sondig.  Uit myself is ek
onwaardig om voor God te verskyn.  Hy
het my nie genooi omdat ek so braaf is nie, of omdat ek soveel beter as ander
is nie.  Ek ontvang nie my plek aan die
tafel omdat ek so belangrik is nie, of omdat ek in die samelewing, in die
besigheidswêreld of in die kerk ’n gesiene man is nie.   Ek ontvang ’n plek slegs uit genade.  Sou dit ons nie waarlik nederig maak nie en
dankbaar?  Sonder die nederigheid is daar
geen toegang tot die fees van die Here nie.

Christus het gekom om sondaars te red, nie
hulle wat hulleself reeds regverdig beskou nie.  Wanneer ek na die HN gaan dan moet dit duidelik en sigbaar wees
dat ek my heil buite myself in Jesus Christus soek.

Waardige gaste is hulle wat in nederigheid hul
eie vuilheid erken en daarom niks anders wil doen as om Christus se feesklere
aan te trek nie.  Jy haat jou sondes,
ook die sondes wat steeds maar weer terugkeer. 
Jy haat jou sondige natuur. 
Daarom ontwyk jy die sondes, vlug jy daarvan weg, veg jy daarteen en wil
jy jou lewe verbeter.  Jy vlug na
Christus om met Hom beklee te word en deur Hom vernuwe te word.  By Hom is geen ruimte vir onverskilligheid,
vir ’n lakse houding nie.  Wanneer ek
die Here ontmoet en die fees van die verbond vier, dan berei ek myself daarop
voor.  Ek trek aan vir so ’n fees.  Doen ons nie dieselfde wanneer ons na ’n
bruilofsfees gaan nie?  Dikwels koop
mense vir so ’n geleentheid selfs nuwe klere. 
Jy wil op jou beste wees, afgestem op die fees.

Terloops, sou dit ook nie iets vir ons sê met
betrekking tot die klere wat ons aantrek vir die eredienste nie?  Kan ek onverskillig wees oor hoe ek aantrek
vir die weekliks ontmoeting met my Here God en oor hoe ek die fees van die
verbond vier?  Onthou dat die Here God
self jou nooi en dat Hy jou nooi na die vreugde van sy gemeenskap, na die fees
van die verbond.  Behoort ek my dan nie
op ’n gepaste manier aan te trek nie?  
Dis nie ’n alledaagse en onbelangrike fees waar ek na toegaan nie.  Dink aan die gelykenis.

Die klere van die man wys op ’n houding. Dit
toon ’n gebrek aan respek vir die Gasheer en ’n gebrek aan waardering vir die
uitnodiging.  Dit wys op ’n gebrek aan
nederigheid en verwondering.   Bedink
tog: sondaars mag die fees van die Here God vier. 

Kom ons keer terug na die gelykenis.  Kyk na die man wat sonder die spesiale
bruilofsklere na die fees kom.  Wanneer
hy gevra word om sy gedrag te verklaar, kan hy niks sê nie.  Hy het geen verskoning nie.  Dis sy eie skuld dat hy nie die spesiale
feesklere dra nie.  Die Gasheer het
spesiale bruilofsklere verskaf en aangebied. 
Maar hy het geweier om dit aan te neem. 
Hy het sy eie klere, ja hy het homself, as goed genoeg beskou.  Hy het geweier om sy eie sonde en ellende te
erken.  Hy het allermins vanweë sy sonde
’n afkeer van homself gehad.  Hy is juis
baie tevrede met homself.  Hy laat
daarom na om homself te verneder.  Hy
weier om homself te bekeer en sy lewe te verbeter.  Hy hoef tog nie te verander nie?

Broeders en susters, die Bybel gebruik dikwels
die beeld van wit feesklere om die geregtigheid van ons Here Jesus Christus te
wys, die geregtigheid wat ons uit genade gegee word om ons vuiligheid, vuil
sondes te bedek.  Die persoon wat weier
om die feesklere aan te trek, hy wat die vergewing van sondes en die vernuwing
van sy lewe deur Christus bloed en Gees nie nodig ag nie, maak homself
onwaardig vir die fees.  Hy sal buite
gegooi word.  As ek myself waardig ag en
weier om te verander, weier om my ou, vuil klere uit te trek en die feesklere
van Christus te aanvaar, sal ek geen deel in die vreugde van God se koninkryk
ontvang nie.  Sonder bekering (en dit is
’n radikale verandering van gesindheid) en vernuwing van lewe (verandering van
gedrag) sal niemand God se koninkryk ingaan nie.

Ja, ek moet werklik Jesus Christus
aantrek.  Ek moet werklik Christus se
lyding en dood my sondes laat dek.  Ek
moet werklik my lewe laat vernuwe deur sy Gees.  Slegs dan is ek ’n waardige gas. 
Nie waardig in myself nie, maar waardig in Jesus Christus.  Dan dra ek die gepaste klere.  By die fees van die verbond is die wit klere
wat Christus die Gasheer aanbied die enigste passende klere.  Sonder die feesklere, behoort ek nie daar
nie.  Moet ek uitgesluit word.  Daarom sê die Kat dat hulle wat met hulle
belydenis en lewe wys dat hulle ongelowig en goddeloos is van die tafel van die
Here uitgesluit moet word totdat hulle verbetering van hul lewe bewys.

Broeders en susters, in die lig van wat ons
reeds genoem het, kan dit duidelik wees wat bedoel word met die woorde: Want
baie is geroep, maar min uitverkies. 
Die evangelie van God se koninkryk het na baie uitgegaan, eers die Jode,
dan die Grieke en so die eindes van die aarde. 
Maar slegs ’n betreklik klein deel daarvan sal aan die bruilof van die
Lam deelneem.

Hoekom is dit maar min?    Is dit vanweë God se roeping?  Is sy uitnodiging soms nie ’n ernstige
uitnodiging?   Die gelykenis maak duidelik
dat God se roeping ernstig bedoel is. 
God doen van alles om hulle wat Hy geroep het by die fees te kry.  Die Here is ernstig daarin.  Hy ag hulle waardig vir die spesiale
uitnodiging.  Ook al is hulle in
hulleself beslis nie waardig nie.

Waarom is dan soveel verwerp?  Baie wat geroep is, neem hul roeping nie
ernstig op nie.  Hulle weier die uitnodiging.  Hulle beskou hul eie dinge as
belangriker.  Of hulle stem hulleself
nie af op die fees deur die feesklere te weier: Jesus Christus ons
geregtigheid.  Baie maak hulleself
onwaardig vir die fees deur onwillig en eiesinnig te wees.  Blykbaar beskou hulle hulleself belangriker
as hul Heer.

Broeders en susters, laat dit ’n waarskuwing
vir ons wees.  Dis geweldig om na God se
fees genooi te word.  ’n Groot
voorreg!  Maar ook iets om ernstig te
neem.  Jy kan dan nie onverskillig of
laks daaroor wees nie.

Geliefdes, wanneer julle die laaste woorde van
die gelykenis so verstaan dan is daar geen rede om die woorde julle moedeloos
of self wanhopig te laat maak nie.  Die
woorde is nie bedoel om jou te laat twyfel aan God se roeping nie of te laat
twyfel aan God se beloftes nie.  Die
roeping, die beloftes blyk ernstig bedoel te wees.  Die woorde wil jou nie bang maak om die roeping/uitnodiging op te
volg nie.  Inteendeel, deur die woorde
bind God ons dit op die hart dat ons die roeping moet opvolg.  God wil nie jou eie verantwoordelikheid
verlam deur oor uitverkiesing te praat nie. 
Nee, Hy wil jou daardeur aanvuur tot groter aktiwiteit.

Laat ons daarom God se uitnodiging ernstig
opneem.  Gee gehoor daaraan.  Verneder jouself voor Hom, bewus van die
feit dat jy uit jouself onwaardig is om voor Hom te verskyn, sondig as jy
is.  Trek jou ou, vuil klere uit en trek
aan die feesklere: Jesus Christus ons geregtigheid.  Met die klere kan jy geniet van die fees aan die tafel van die
Here en uiteindelik die groot bruilofsfees van die Lam.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)