My goeie werke versoen my nie met God nie.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2003-04-27
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 24
Preek Inhoud: 

Sondag 24, Vraag en Antwoord 62

Ds C Kleyn - Sondag 27 April 2003

Lees: Matthéüs 5:17-26;
15:1-9; 23:23-28; Sondag 24, Vraag en Antwoord 62.
Sing: Ps 43:3,4; Ps
56:1,4; Ps 75:1,4; Ps 65:1-3; Ps 135:1,2,11.

Tema: My goeie werke
versoen my nie met God nie.

  1. Die verleiding om te dink dat werke tot my
    heil bydra; en
  2. Die vernederende waarheid dat die werke geen
    jota bydra nie.

 

Geliefde gemeente van ons Here
Jesus Christus,

Die vraag en antwoord van ons kat
is goed bekend.  Dis een van die mees
fundamentele leerstukke van die Reformasie, van ons gereformeerde kerke: ons
goeie werke kan nie die geregtigheid voor God of ’n deel daarvan wees nie.  Ek word nie deur my werke gered nie.  Julle stem tog almal met hierdie waarheid
saam?  Dis ons van jongs af aan geleer.  Nie deur werke nie.  Dis wat ons glo, of nie soms.

Maar nou die praktyk.  Leef ons die geloof uit?  Die werke is in ons lewe baie
belangrik.  Natuurlik!  God wil sien dat ons vir Hom in goeie werke
lewe.  Daarom roep ons mekaar op om
nougeset volgens God se wet te lewe.   
Oor die jare formuleer ons selfs ’n hele aantal  ongeskrewe reëls om ons en ons kinders te
probeer by die wet te hou.  So word dit
duidelik wat van ’n gereformeerde christen verwag word.  As jy aan die verwagtings voldoen dan word
jy beskou as ’n getroue christen.

Dit kan lei tot die gedagte dat
as ons volgens die standaarde lewe, dit met ons in orde is.  Dis waar, ons werke is nie 100% nie, maar ons
is tenminste getrou, ons bid altyd by die maaltye, ons lees aan tafel uit die
Bybel, ons betaal rojaal VVB en vir die formele onderwys van die kinders van
die kerk.  Ons is aktief betrokke by die
bybel studie verenigings.  Ons lees
goeie gereformeerde tydskrifte ens ens. 
So kan ons redelik tevrede met onsself wees.  Ja, die gedagte kan selfs opkom: God self sou alle rede hê om met
ons tevrede te wees.

Hulle wat anders doen, hulle wat
nie na ons standaarde lewe nie word maklik beskou as minder waardige
christene.  Die vraag kan selfs opkom of
hulle nog werklik gereformeerd is. 

Geliefdes is sulke denke werklik
in lyn met ons gereformeerde belydenis? 
Ja, is dit wat God self ons in die Skrifte leer?

Ek verkondig vir julle: my goeie
werke versoen my nie met God nie.

  1. Die verleiding om te dink dat werke tot my
    heil bydra
  2. Die vernederende waarheid dat die werke geen
    jota bydra nie.

Kom ons neem as uitgangspunt Mt
5:20.  Daar sê die Here Jesus: “want Ek
sê vir julle dat, as julle geregtigheid nie oorvloediger is as die van die
skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die koninkryk van die hemele
sal ingaan nie.”

’n Skokkende uitspraak.  Probeer om die impak van so ’n uitspraak in
die kerk van daardie tyd voor te stel. 
As daar mense was wat streng en baie presies geprobeer het om volgens
die standaarde in die kerk te lewe, dan was dit wel die skrifgeleerdes en die
Fariseërs.

Daar is in daardie tyd gesê: as
net twee mense hemel toe mag gaan, dan sal seker een ’n leraar van die wet
wees, ’n skrifgeleerde, en die ander ’n Fariseër.  Met hul leer en lewe is hulle beskou as kandidate vir die
verlossing.  Niemand kon, so het mense
gedink, die vlak van hierdie professionele bereik nie.

Maar nou sê Christus: as julle
geregtigheid nie oorvloediger is as die van die skrifgeleerdes en Fariseërs
nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie.  Christus diskwalifiseer hul geregtigheid as
minderwaardig.  Ek moet hul geregtigheid
oortref.  Wat ’n skokkende, vreeswekkende
gedagte.  Die geregtigheid van die
Fariseërs is reeds gesien as buite die bereik van die gewone lidmate.  Moet ek dit nou oortref?

Wat was dan verkeerd met die
geregtigheid van die skrifgeleerdes en Fariseërs om dit minderwaardig te
maak?  Laat ons eers kyk na die leringe
van die kerkleiers.

Die Fariseërs was nie dom in die
formulering van hul leringe nie.  Hul
was gedryf deur hul begeerte om die wet van Moses te onderhou.  Hulle het geglo dat die Babiloniese Ballingskap
veroorsaak was deur Israel se nalatigheid om die wet van Moses te
onderhou.  En nou wou hulle probeer
voorkom dat iets dergeliks weer sou gebeur.

Die wet van Moses moet ten alle
koste onderhou word.  Die wet bestaan
nie net in vaste voorskrifte nie, maar is ook aanpasbaar in veranderende
omstandighede.  God se wil moet duidelik
wees vir die konkrete situasies van die lewe. 
Daarom het hulle dit as hul plig gesien om uit die geskrewe wet
gevolgtrekkings te maak en om die vir die gewone lidmate te formuleer.  Die bybelse beginsels moet vir die
spesifieke situasies toegepas word.  Jy
kan dit vergelyk met die begeerte ook vandag om duidelike reëls te formuleer
vir alle soorte van gevalle, om ’n lys op te stel van dinge wat wel of nie mag
nie, sodat die mense kan weet wat van hulle verwag word. 

Om wêreldgelykvormigheid in die
kerk te bestry kan daar by die kerkraad die verlange wees om allerlei soorte
etiese reëls te formuleer bv met betrekking tot kleding, haarstyl, vermaak,
musiek. So was daar in die verlede reëls soos: lidmate gaan nie na die kroeg of
fliek toe nie; lidmate mag geen TV hê nie, alle soorte van dans is verbied
ens.  Dink ook aan die reël wat met
betrekking tot formele skool onderwys gegeld het: lidmate behoort waar moontlik
hul kinders na die skool te stuur wat deur die gemeenskap van die heiliges
opgerig is.  Sulke reëls is as sodanig
nie dwaas nie.  Mense het hul goeie
redes gehad om  sulke reëls te formuleer.   Dis ’n poging om praktiese gevolgtrekkings
te maak van die bybelse beginsels.

Wel op ’n vergelykbare manier was
die fariseërs nie dom toe hulle die wet verdeel het in ’n uitgebreide sisteem
van 613 gebooie en verbooie nie.  Hulle
wou duidelik en konkreet vir die volk wees. 
Hulle het selfs ’n stap verder gegaan. 
Hulle het gevoel dat hulle ’n soort omheining rond die 613 gebooie moes
maak.  Dit sou dit moeiliker maak om per
ongeluk of deur onkunde die gebooie te oortree.  Daarom het hulle ook nog ’n verdere verklaring van die wet gegee.  Die mees bekende voorbeeld is die lys van
verbode handelinge op die sabbat.  Die
reëls was nie noodwendig onbillik of onlogies nie   As jy ten minste eenmaal die letterlike verbod om op die sabbat
te werk aanvaar het.  Die Fariseërs was
oortuig dat hulle die regte interpretasie van die wet gegee het.  Hulle het hul interpretasies gelykgestel aan
die wet self.  Hulle het dus gedink dat
hul oorlewerings feitelik van Moses self gekom het.  Vir hulle was dit gelyk aan die skrif self.

Wel, wat was dan verkeerd met
hulle geregtigheid?  Die probleem was
dat hulle in die slaggat van wettisisme geval het.  Al hul gevolgtrekkings uit die wet het begin om ’n eie lewe te
lei.  Dit het ’n selfstandige geheel
geword, los van God.  Hulle het blinde
gehoorsaamheid daaraan geëis, ongeag die houding van die hart teenoor God.  Iets wat mense moet opvolg om weer God se
guns te wen. 

Ja, broeders en susters, daar is
’n aantal dinge wat wettisisme tipeer. 
Kom, ons kyk na enkele van die kenmerke en sien of ons iets daarvan
herken in ons eie hart en lewe.

Wettisisme het die skyn van
wysheid.  Maar onder die sisteem dien al
die reëls net om die gevoel van eie belangrikheid te bevredig.  Ek dink dan by myself: solank as ek maar dit
doen of dit nalaat, dan is ek ’n voorbeeldige christen. 

Wettisisme konsentreer ook op die
uiterlike gedrag.  Ek fokus dan op hoe
mense my sien.  Wat moet ek doen om
beskou en aanvaar te word as ’n goeie christen?  Jesus het hierdie aangespreek toe Hy van die uiterlike vertoon
van die Fariseërs gepraat het, terwyl hulle bid, vas en hul liefdadigheid
bewys.  Christus waarsku: "Pas op
dat julle nie jul liefdadigheid voor die mense bewys om deur hulle gesien te
word nie; anders het julle geen loon by julle Vader wat in die hemele is
nie." (Mt 6:1).

Terloops, hierdie gedeelte wys
hoe die praktyke van die Fariseërs aan God se geskrewe wette verbind was.  God het geëis dat ’n mens sou bid, sou vas
en liefdadigheid sou bewys.  Maar hier
word die reëls opgevolg om ’n goeie indruk op mense te maak.

Wettisisme het die neiging om die
belangrikste dinge oor die hoof te sien en teveel nadruk te lê op minder
belangrike dinge.  Dink aan wat ons in
Mt 23 gelees het.  Daar sê Christus: Wee
julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle gee tiendes van
kruisement en anys en koljander, en die swaarste van die wet laat julle na: die
reg en die barmhartigheid en die trou. 
Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te
laat."  Julle hou nougeset die wet
wanneer dit gaan oor die tiendes sodat julle selfs ’n tiende van die kruide wat
julle in jul klein tuintjie groei gee. 
Op sigself is dit nie verkeerd nie. 
Maar julle laat na dit wat baie belangriker is: reg, barmhartigheid en
trou.

Die essensie van die wet is mos
liefde: jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel
en met jou hele verstand en jy moet jou naaste liefhê soos jouself (Mt
22:37-40).  Christus sê feitelik: In al
jul wettisistiese nougesetheid vergeet julle die hart van die saak, naamlik die
liefde.  Julle is besig om My dood te
maak en julle veroordeel My omdat Ek barmhartigheid wys aan prostitute en
tollenaars.  Reg, barmhartigheid en trou
is baie belangriker as dat jy bv die tiendes tot die uiterste deurvoer.  In teenstelling tot die tradisies van mense
wys die wet van God wat God as die belangrikste sien: dat jy regverdig met
ander mense handel, dat jy jou huweliksmaat en kinders liefhet, dat jy eerlik
by die werk is en in jou besigheid, dat jy barmhartig en betroubaar in alle
verhoudings is, ens.

Wettisisme het die neiging om jou
trots te maak.  ’n Lys van reëls is mos
iets wat jy kan onderhou.  Dit laat die
gedagte ontstaan: ek hou die reëls, dis reg met my.  Sulke reëls beskerm jou teen die vernietigende oordeel van God se
wet self.  Dit laat jou gelukkig en
tevrede met jouself voel.

Wettisisme bevorder ook ’n baie
kritiese houding teenoor ander.  As ek
voortdurend my lewe aan die hand van die reëls en voorskrifte beoordeel, dan
gaan ek ook maklik my prestasies met die van ander vergelyk.  Onder die fariseërs het dit gelei tot die
houding: "o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie -
rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie. Ek vas mos
twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry.  (Lk 18:11). 
Ek besoek elke samekoms van die gemeente, ook die deur die weekse
byeenkomste.  Ek is altyd betrokke by
die bybelstudieverenigings, ek betaal rojaal vir die kerk, vir die diakonie en
vir die skool ens ens.  God het elke rede
om bly met my te wees, so ’n troue, voorbeeldige Christen soos ek is.

Daarom versteur die wettisisme
ook die eenheid van die kerk.  Dit
veroorsaak verdeeldheid.  Hulle wat
volgens jou standaarde lewe, is 'in', hulle wat dit nie doen nie is 'uit'.  Ek beskou my interpretasie en toepassing van
die Bybel immers as die norm self, op dieselfde vlak as die Skrif self.  Net soos die Fariseërs hul sisteem van
regulasies beskou het as iets wat van Moses self afkomstig was.  Met as gevolg dat hulle die onkundige volk
wat nie op hul vlak geleef het nie veroordeel het. 

Ja, geliefdes, as jy eenmaal jou
standaarde - hoe waardevol die ook al mag wees - as ’n selfstandige geheel gaan
behandel, loop jy die gevaar dat jy die bo die Skrif gaan verhef.  So kry jy die situasie wat in Mt 15 genoem
word.  Daar word van die Fariseërs gesê
dat hulle die wet van God oortree ter wille van hul oorlewering. Hulle het
bepaal dat as ’n seun formeel sy besit of inkomste aan die Here wy as ’n
offergawe hy vry is van sy verpligting om sy ouers te onderhou.  Die Fariseërs was nie dom toe hulle dit
bepaal het nie.  Geloftes moet mos
nagekom word ook wanneer jy dit in onbesonnenheid geuit het.  En moet God nie voorrang bo jou ouers
ontvang nie?  Maar Christus wys dat so
’n oorlewering, ook al kom die ooreen met die letter van die wet, die gees van
die wet ignoreer en daarom feitelik in stryd met God se wet is.  Die duidelike opdrag van God: eer jou vader
en jou moeder word geïgnoreer ter wille van hul oorlewering.    Maar tradisies, gebruike moet altyd aan
God se woord self getoets en onderwerp word. 
Wanneer dit daarmee in stryd is, dan moet die tradisie altyd vir God se
wet wyk

Broeders en susters, laat ons ook
oppas dat ons ons gewoontes nie bo die skriftuurlike norme verhef nie, hoe
waardevol die tradisies ook al mag wees. 
Mag ek as voorbeeld noem die onderwys van ons kinders.  Wat die onderrig van ons kinders betref het
ons ’n paar duidelike skriftuurlike beginsels. 
Neem Deut 6:6,7: "Hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in
jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in
jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan."  Let daarop hoe verstrekkend hierdie gebod
is.  Neem ook Ps 78: 3,4:"Wat ons
gehoor het en weet en ons vaders ons vertel het, sal ons nie verberg vir hulle
kinders nie, maar aan die volgende geslag vertel die roemryke dade van die Here
en sy mag en sy wonders wat Hy gedoen het."   Hier blyk dat nie net die ouers nie, maar ook die ouere
generasie vir die onderrig van die jongere generasie verantwoordelik is.   Vandaar dat ons ook vanuit die gemeenskap
van die heiliges ’n gereformeerde dagskool opgerig het. 

En wat is die doel van die
onderrig?  Die skriftuurlike doel van
die onderrig is volgens Ps 78:7: "sodat die kinders hulle vertroue op God
kan stel en die dade van God nie vergeet nie, maar sy gebooie kan
bewaar."   Hierdie bybelse norme is
wat ons eerstens in gedagte moet hê wanneer ons praat van die onderrig van ons
kinders.  Dit is beslissend.  Dit is die norm.  Alles moet daaraan ondergeskik wees.  Daarom is daar ook die doopvraag: Belowe u en neem u dit op u om
hierdie kind van wie u die vader en moeder is, wanneer hy sit kan verstaan, in
die genoemde leer na u vermoë te onderrig en te laat onderrig? 

Let daarop dat in die aangehaalde
tekste nie direk oor formele skool onderwys gepraat word nie.  dit gaan hier oor die geestelike onderrig
van die kinders.  Die Skrif skryf nie
die een of die ander onderwys model voor nie. 
Ons as ouer het die plig om te soek watter model in ons situasie en met
ons gawes en verantwoordelikhede die beste is. 
Daarom kan ’n mens nie op grond van die tekste konkludeer dat tuiskoling
of skoling by die geref Laerskool Joh Calvyn ’n verpligting van die Here is
nie.  Daarom mag ons ouers wat kinders
tuisskoling gee of ouers wat hul kinders na die Joh Calvyn skool stuur nie
sommer veroordeel nie.  Ons moet mekaar
aanspreek op die beginsels: ouers is die eerstes wat verantwoordelik is, ons is
ook saam verantwoordelik as gemeenskap van die heiliges en alles moet daarop
gerig wees dat die kinders die Here mag leer ken, vertrou en dien.  Daarom geld vir ouers wat hul kinders na die
Gereformeerde Laerskool stuur dat hulle nie ontslaan is van hul
verantwoordelikheid teenoor hul kinders deurdat hul hul kinders na die skool
stuur nie.  Hulle bly as eerste
verantwoordelik.  Jy los nie sommer jou
kinders by die Geref Laerskool nie, asof die onderwysers jou kinders maar vir
jou moet regmaak nie.  Jy bly self
verantwoordelik om betrokke te wees by die geestelike groei en ontwikkeling van
jou kinders. 

Geliefdes,  ons is nog nie klaar nie wanneer ons formeel
ons hou aan ’n stel reëls nie. God vra veel meer van ons: as julle geregtigheid
nie oorvloediger is as die van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, sal julle
nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie.  Die geregtigheid van die skrifgeleerdes en fariseërs is
verleidelik.  Dit laat ons belangrik
voel.  Dit laat ons maklik en tevrede
met onsself voel.  In die lig van die
menslike reëls doen ek nie so sleg nie. 
Ek sien dan egter nie my ware self nie. 
Ek verloor die sig op die wet van God, waaroor dit in die wet gaan.

God stel egter belang in my
hart.  Ek moet die Here met my hele
hart, siel en verstand liefhê en my naaste soos myself.  God is nie tevrede met net ’n strenge
nalewing van die artikels van die wet nie. 
Hy wil sien dat ek Hom en die naaste in liefde dien.  Belangrik is: reg, barmhartigheid en
trou.  So ’n verstrekkende wet maak my
ootmoedig.  Dit deurdring my van die
vernederende werklikheid dat my werke nie een jota bydra aan my verlossing
nie.  Ek leer om met Paulus te sê: Ek,
ellendige mens!  Wie sal my verlos van
die liggaam van hierdie dood?  Ek dank
God deur Jesus Christus, onse Here! 
(Rom 7:24,25).  God se wet dryf
my na Jesus Christus, na God se genade. 
Ek besef dat selfs my beste werke in hierdie lewe almal onvolmaak en met
sondes besmet is.  Die kwaad is
voortdurend aanwesig.  Voordat ek dit
besef, bederf sondige gedagtes, motiewe, doelstellings my goeie werke.

Van sulke mense wat hul eie
bankrotskap erken, sê die Here Jesus: salig is die wat arm van gees is, want
aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.  Die tollenaar het nie gedurf om sy oë na die hemel op te hef nie,
maar het homself op sy bors geslaan en gesê: o God wees my, sondaar, genadig.  Hy kon toe geregverdig na sy huis gaan,
eerder as die Fariseër.  Want elkeen wat
homself verhoog sal verneder word, en hy wat homself verneder sal verhoog
word.  Die geregtigheid is nie deur
werke nie, maar enkel uit genade.

Ja, gemeente, die genade maak ’n
ander mens van jou.  Jy dien God dan uit
dankbaarheid, omdat jy dit wil doen, en nie net omdat jy die moet doen
nie.  Genade maak jou ootmoedig,
barmhartig, vriendelik.  Wanneer jy jou
eie sondes besef het jy mos geen rede om op ander neer te sien nie.  Jy weet dat jy self van genade afhanklik is,
net soos die ander.  Genade verander jou
in jou gedrag by die huis.  In jou
verhouding met jou man of vrou, jou kinders ken jy jouself in die eerste plek
as mede sondaar, van genade afhanklik. 
Jy gaan daarom nie oorreageer wanneer jou kinders hulle soms nie aan die
reëls hou nie.  En jy is ook nie bang
dat jy jou gesag ondermyn deur eerlik verskoning te vra wanneer jy as ouer
verkeerd gedoen het nie.

Genade bevry jou.  Bevry jou van allerlei soorte slawerny.  Bevry jou van die slaafse gehoorsaamheid aan
’n stel reëls.  Bevry jou om te leef
soos God wil hê dat jy sal leef.  Bevry
jou om Hom met vreugde te dien.  Genade
herstel die eenheid en die vrede.  Die
wysheid  van bo is mos ten eerste rein,
dan vredeliewend, vriendelik, geseglik, vol barmhartigheid en goeie vrugte,
onpartydig en ongeveins (Jak 3:17).  Jy
besef weer dat die liefde die vervulling van die wet is.  Liefde vir God en jou naaste.  Jy doen aan ander wat jy wil hê dat die
mense aan jou doen. (Mt 7:12).

Bekeerde, verloste sondaars kan
nie hoogmoedig wees nie.  Hulle leef mos
uit genade.  Hulle het mekaar opreg lief
vanuit die hart.  Hulle dra mekaar se
laste.  Hulle veroordeel nie ander net
omdat die persone God se wet anders toepas nie.  Hulle kritiseer ander nie tensy hulle ook bereid is om die ander
uit liefde te help nie.

Daarom, broeders en susters, die
feit dat goeie werke nie een jota bydra aan jou verlossing maak jou nie
onverskillig nie.  Inteendeel.  As jy uit genade gered is, word jy steeds
versigtiger en vromer, jy begin om na alle gebooie van God te lewe uit vreugde
en dankbaarheid.  Tot eer van God en tot
heil van die naaste.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)