Die Verbondsgod leer sy volk om Hom op die regte manier te dien.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2003-09-07
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 35
Preek Inhoud: 

Sondag 35

Ds. C. Kleyn - Sondag 07 September 2003

Lees: Exodus 32:1-6, 1 Samuel 4:1-11; Sondag
35.
Sing: Ps. 95:1,2; Ps. 105:1,2; Ps. 95:4,5;
Ps. 27:2,4; Ps. 149:1,2.

Tema: Die Verbondsgod leer sy volk om Hom op die regte
manier te dien.

  1. Die verbondsvolk moet God se heiligheid eer; en
  2. Die verbondsvolk mag van sy teenwoordigheid geniet.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die eerste twee gebooie hang nou saam. Beeldediens blyk
dikwels afgodediens te wees. Onder die heidene het daardie twee
onafskeidelik bymekaar behoort. Dit was vir hulle ondenkbaar om
gode te dien sonder beelde nie. En omgekeerd was dit ondenkbaar
om beelde te dien sonder om die gode wat die beelde
verteenwoordig het, te dien.

Ondanks die noue samehang tussen die eerste en tweede gebod is
daar tog ’n duidelik verskil tussen die twee. Wat is dan die
verskil? In die eerste gebod reken God met alle afgode af: jy mag
geen ander gode voor my aangesig hê nie. Jy mag Hom alleen dien
en op Hom alleen jou vertroue stel. In die tweede gebod vervolg
die Here: Jy mag geen beeld maak om jou daarvoor neer te buig nie.
In die eksklusiewe diens aan die Here, mag jy geen beelde gebruik
nie. God se volk sou die voorbeeld van die heidene kon gaan volg
en dink dat hulle God deur beelde kan dien. Nee, sê die Here, Ek
wil nie deur beelde gedien word nie. Die Kat vat die gebod mooi
saam met die woorde: "Ons mag God op geen enkele manier
afbeeld nie en Hom op geen ander manier vereer as wat Hy in sy
Woord beveel het nie. In die tweede gebod gaan dit dus oor die
manier waarop ons die enige ware God dien.

Ek verkondig vir julle: die Verbondsgod leer sy volk om Hom op
die regte manier te dien

Die verbondsvolk moet God se heiligheid eer en mag van sy
teenwoordigheid geniet.

Wanneer jy oor die tweede gebod praat, moet jy onthou dat die
Verbondsgod jou hier aanspreek. Die God wat sy volk tot stand
geroep het. Die God wat kan sê: Ek is jou Man en Maker. Ook in
hierdie gebod soek God die hart van sy kinders. Hy het jou uit
die slawerny van die sonde bevry. Hy het jou oorgeplaas na die
vryheid van die kinders van God. Hy wil daarom nie graag sien dat
jy jou vryheid sou bederf en dit sou inruil vir ’n nuwe
slawerny nie. Deur agter ander minnaars aan te gaan. En
beeldediens lei so maklik, haas onherroeplik, tot afgodery. Die
woorde: "want Ek, die HERE jou God, is ’n jaloerse God"
getuig van God se liefde vir sy volk. Hy soek jou liefde, in
antwoord op sy liefde. Hy alleen wil in jou liefde deel. Geen
derde party mag daartussen kom nie.

Daarom is dit so belangrik dat God se verloste kinders hulle
nie laat mislei deur wat hulle onder die heidene sien nie. En hul
ydele paaie volg. Moenie die heidene naboots nie. Moenie jou God
gaan dien soos hulle hul afgode dien nie. God se verloste kinders
moet juis in hierdie wêreld die voorbeeld gee. En die enige ware
pad volg. Die enige pad omdat jy die enige ware God ken en sy
Seun wat die weg, die waarheid en die lewe is.

Geliefdes, om die 2de gebod goed te verstaan moet julle eers
weet watter funksie die beelde vroeër vervul het. Wat het die
heidene met hul beelde bedoel?

Miskien dink ons dat die beeld bloot ’n voorstelling van
die god moet wees. So sou die god dan lyk. Dis egter nie die
geval nie. Dit blyk daaruit dat die afgodsbeeld dikwels ’n
gruwelike misvorming geken het. Bepaalde liggaamsdele is dikwels
benadruk deur oordrywing en oortolligheid. Die beelde het
daardeur abnormale proporsies ontvang.

Sulke beelde is geen voorstellinge, portrette van die afgode
nie. Hulle is aanduidings van die tipiese eienskappe van die
bepaalde afgod. Wanneer Aaron ’n beeld van die Here maak in
die vorm van ’n kalf, wil hy daarmee nie sê dat die Here
soos ’n kalf lyk nie. Hy wil eerder deur die sterk jong bul
die groot krag van die Here voorstel.

Die beelde was dus eerder ’n soort simbool van die gode.
Wat was dan die waarde van die simbool? Mense het gedink dat die
gode in die beeld aanwesig was. So kon mense hul god naby hulle
kry. So kon die afstand wat jou van jou gode geskei het, oorbrug
word. Die god self is immers ver weg en buite bereik. Maar in die
beeld kan ’n mens die verre en vae god naby bring. Waar die
beeld is, daar is glo ook jou god aanwesig. Daar is ook die
kragte van jou god aanwesig en aktief.

Vergelyk dit maar met iets wat elektries gelaai is. Die beeld
is so te sê elektries gelaai. Die elektriese lading is dan die
kragte van die godheid. ’n Mens kan dit ook vergelyk met die
verhouding tussen die menslike liggaam en siel. Soos ons siel in
ons liggaam aanwesig is, so het hulle gedink is die godheid in
die liggaam van die beeld aanwesig. En soos my siel hom hier op
aarde nie buite my liggaam om kan uit nie, so kry die gode
geleentheid om hulle te uit deur die beeld. Die beeld wat die
mense aan die gode ter beskikking stel.

Gemeente, as die god in die beeld aanwesig is, beteken dit ook
dat die mens ’n sekere beheer oor sy god ontvang. Die gode
het binne sy bereik gekom. Die mens kan so maklik sy godheid beïnvloed,
manipuleer. Dis die situasie wat Israel se profete ontmasker
wanneer hulle spottend beskryf hoe heidene hul gode op hul
skouers saamneem. Stel jou voor: jy maak vir jouself ’n god
en dra hom rond op jou skouer waar jy hom wil hê. Wat sou dit
’n belediging vir die enige ware God wees. Hy dra sy volk.
Afgode kan gedra word, maar niemand kan God ooit dra nie. Hy dra
juis sy kinders.

Wel, in die beeld het die mens hom van sy god meester gemaak.
Hy het hom in sy beheer. Hoewel hy die indruk skep dat daar nog
’n sekere afstand is en hy nie self die situasie beheer nie.
Die beeld het mos ’n eie bestaan, buite die van die mense.
Die beeld is so die instrument waardeur jy jou god kan beïnvloed
en met jou god kan doen wat jy wil. So kan jy as mens jou god
gebruik soos dit jou pas. Jy kan daardeur die godheid aan jouself
verplig. Die beeld is immers ’n waarborg van die
aanwesigheid van die god. Neem jy die beeld saam, bv in die
stryd, dan moet die god ook saamgaan en saam stry. Deur die beeld
kan jy jou verseker van jou godheid. Jy behoef nie bang te wees
dat jy jou godheid sal verloor nie.

Broeders en susters, in hierdie lig word die aanbidding van
die goue kalf in die woestyn duidelik. Die Jode vra vir Aaron:
Kom maak vir ons gode wat voor ons uit trek. Hulle is bang noudat
Moses so lank wegbly en moontlik nie weer terugkom nie. Hulle
voel hulleself onveilig, onseker. Toe Moses nog onder hulle was,
het hulle seker gevoel oor God se nabyheid. Moses was vir hulle
so te sê ’n sigbare waarborg van God se nabyheid. Maar nou
Moses so lank wegbly sê hulle: maak vir ons gode. Daarmee bedoel
hulle: maak ons beelde. Die kalf moet Moses vervang. Dit moet
’n sigbare bewys van God se teenwoordigheid wees. Die kalf
moet die Here hul God naby bring.

In die geskiedenis van 1 Sam 4 word die ark van die Here deur
God se volk as ’n beeld gebruik. God se volk het in die
stryd teen die Filistyne ’n verpletterende nederlaag gely.
Hulle sien dit as ’n gevolg van die feit dat God nie vir
hulle gestry het nie. Hulle oorweeg: wat kan ons doen om te
verseker dat die Here die volgende keer wel met ons is? Hulle
dink nie daaraan om hulle voor die Here te verootmoedig nie.
Hulle dink nie daaraan om hulle te bekeer van hul sondes en om
ootmoedig die Here te smeek om met hulle te wees nie. Nee, wat
doen hulle? Hulle sê: "Laat ons die verbondsark van die
Here uit Silo na ons toe bring dat dit onder ons inkom en ons
verlos uit die hand van ons vyande." Israel verwag dus van
die ark wat die heidene van hul beelde verwag. Hulle dink dat
hulle hulleself so kan verseker van God se aanwesigheid. Hulle
glo dat hulle so die Here aan hulleself kan verplig.

Gemeente, as jy hierdie funksie van die beelde sien, dan kan
jy verstaan waarom die lewende God die gebruik van beelde verbied.
Die lewende God kies vrymagtig sy eie geleenthede om homself
bekend te maak, om sy krag te openbaar. Hy sal self bepaal waar
en wanneer Hy teenwoordig is. Hy is soewerein, volkome
onafhanklik van enigiemand. Hy kan nie mense toelaat om oor hom
te beskik nie. Hy wag nie tot mense aan Hom die woord verleen
nie, maar Hy neem self die woord, ook wanneer ons dit in eiewaan
nie meer wil hoor nie, of in ons wanhoop dit nie meer verwag nie.
Hy is die soewereine verbondsgod, wat in vryheid alle inisiatiewe
neem, die God wat die eerste en die laaste woord het. Hierdie
soewereine God kan hom nie deur die mens laat bind, soos die
heidene dit deur hul beelde met hul gode probeer doen het, nie.
Ek kan God nie aan myself verbind nie, maar Hy verbind Homself in
die verbond aan my.

So word ook duidelik, broeders en susters, dat die tweede
gebod nog baie aktueel is. Nee, vandag dink ons nie daaraan om
letterlik ’n beeld van God te maak nie. Wie maak nou nog
beelde van hout of klip om God daardeur te dien? Dit behoort tot
die verlede, dink ons dan. Maar God ken sy kinders. Die kwaad sit
van nature ook in ons. Daarom kom Hy ook vandag met sy tweede
gebod na ons toe. Waarom het die heidene mos hul beelde gehad?
Tog om hulleself te verseker van die aanwesigheid van hul god?
Wel, is daar ook by ons nie dikwels die neiging om God aan
onsself te wil bind nie? Ons sal daarvoor sorg dat God by ons bly.
Ek vervul dan allerlei godsdienstige pligte met die gedagte: dan
sal die Here tog wel by my wees? Hy kan my wat soveel vir Hom
doen tog nie verlaat nie? Vergelykbaar met wat die Jode gedink
het, toe hulle in hul stryd teen die Filistyne die ark van die
Here in die laer gebring het. God moes dan tog wel met hulle
wees?

Geliefdes, pas op dat jy nie probeer om God aan jouself te
bind deur allerlei godsdienstige handelinge nie. As jy dink dat
jy God kan verplig om met jou te wees deur jou manier van
huisgodsdiens of deur jou styl van erediens - of dit nou baie
strak of baie vry is - dan is jy skuldig aan beeldediens. Dis wat
die heidene met hul beelde wou doen. God laat ons nie deur ons
roetine van hom meester maak nie. Hy laat hom nie aan ons bind
nie.

En wat dink u van die gedagte om oor God te kan beskik? Ons
haal God daarby en ons dien God dan soos dit ons pas. Hoe dikwels
gebeur dit nie dat ons self die diens wil uitmaak nie? Ons sal
God so en so dien. Laat niemand hierin meng nie. Praat bv nie oor
die diens van die Here buite die sondagse eredienste nie. Ons
dien tog die Here. Dit moet genoeg wees. Hoe ons dit doen, sal
ons self uitmaak.

Maar broeders en susters, die tweede gebod beteken die
doodsteek vir alle eiewillige godsdiens. In die verbond maak nie
die skepsel die diens uit nie, maar die Skepper. As ek God wil
dien soos dit my pas of slegs wanneer dit my pas, dan dien ek in
feite myself, met ’n skyn van godsdienstigheid.

Ons Verbondsgod is ’n heilige, soewereine God met wie
geen mens ’n speletjie kan speel nie. Oor wie geen mens kan
beskik nie. In die verbond bly Hy die eerste en die laaste. Hy
het sy volk uitgekies. Hy het ons geskep en verlos. Hy het ons
gedra en bly ons dra. Daarom mag ons ons nie verbeeld dat ons Hom
aan onsself kan bind en verplig nie. Jy mag geen gesnede beeld
maak of enige gelykenis van enige skepsel om God daardeur te dien
nie. Jy moet nie dink dat jy van jou kant uit die kloof tussen
God en jou kan oorbrug nie. Dat jy beheer oor God kan kry nie.
Dat jy God kan verplig om met jou te wees nie.

As jy dink dat dit moontlik is, dan ken jy jou heilige God nog
nie. Dan het jy nog niks verstaan van die manier waarop God
homself aan sy volk bekend gemaak het nie. Dis ’n belediging
van sy goddelike majesteit. Ons hoor die profeet Jesaja sê: By
wie sal julle My dan vergelyk, dat Ek net so kan wees? sê die
Heilige. God is verhewe bo alle dinge. Hy sit bo die kring van
die aarde, en die bewoners daarvan is soos sprinkane. ’n
Ewige God is die Here, Skepper van die eindes van die aarde. Daar
is geen deurgronding van sy verstand nie. Hy is so majestueus dat
ons daarvan geen voorstelling, geen beeld kan maak nie. Wie God
in ’n beeld probeer vang, verloën sy soewereiniteit en sy
vryheid. In ’n beeld probeer ’n mens greep te kry op
wat by God nooit begryp kan word nie. Mense probeer om God tot
hulle beskikking te kry. Maar die teenoorgestelde is waar. God
het die mens tot sy beskikking. God laat homself nie deur mense
gebruik nie. Hy laat hom nie manipuleer nie. Hy bepaal self in
volkome vryheid waar en wanneer Hy gaan optree. In vryheid kies
Hy sy eie volk. En bepaal Hy die manier waarop hulle hom sal dien.

Gemeente, wie dink dat Hy God in ’n beeld kan vang het
ook die erns van die sonde vergeet. Die sonde het die afstand
tussen God en die mense tot ’n kloof gemaak. ’n Kloof
wat slegs God kan oorbrug. Dis daarom dwaas om te dink dat jy van
jou kant die kloof kan oorbrug, dat jy God naby kan bring ,. Dis
gewoon onmoontlik. Niemand kan omhoog tot God klim om Hom af te
bring na ons toe nie. Dis ook nie nodig nie. God het reeds na ons
neergedaal. Ondanks ons sondes. Hy het homself bekendgemaak. By
die berg Horeb het Hy aan sy volk verskyn. Hy het sy verbond
bevestig. Hulle het geen gedaante gesien nie. Hulle het slegs
’n stem gehoor. God het Homself nie laat sien nie. Die
heilige God het homself laat hoor. Hierdie heilige God het
voortgegaan om Homself bekend te maak. Op sy eie manier. Deur
visioene en drome, deur woorde. Mense kon slegs deurgee wat Hy
eers vir hulle gespreek het. God het ook middels gebruik.
Seremonies van die wet. Hy het aanwysings vir die tabernakel
gegee. Hy het plekke en tye ingestel. Daar en dan mag sy
verbondsvolk kontak met Hom hê. Ondanks sy verhewe posisie, is
Hy nie ver weg nie. Die ark van die verbond was ’n teken van
sy nabyheid. Sy volk kon weet dat Hy naby was, in hul midde. Die
diens van versoening was ’n bewys daarvan.

Stom beelde hoef Hom nie naby te bring nie. Jou verbondsgod is
naby. Hy het homself bewys as die lewende God wat altyd aktief
aanwesig is tot verlossing van sy volk. Die geloof het geen
beelde nodig nie. Dit het meer as voldoende aan die lewende en
kragtige woord van God.

Broeders en susters, in die laaste dae het God tot ons
gespreek deur die Seun. Hy gee Homself in die Seun, ons Here
Jesus Christus, die afskynsel van sy heerlikheid en die afdruksel
van sy wese. God het baie naby gekom. En Hy bly naby in die woord
van Christus. Soos Paulus in Rom 10 skryf: "Maar die
geregtigheid wat uit die geloof is, sê dit: Moenie in jou hart sê
nie: Wie sal in die hemel opvaar, naamlik om Christus af te bring
nie. Of: Wie sal in die afgrond neerdaal, naamlik om Christus uit
die dode op te bring? Maar wat sê dit? Naby jou is die woord, in
jou mond en in jou hart." Jy hoef die Here nie uit die hemel
te haal of uit die dieptes op te trek nie. Jy het Hom in die
woord wat naby is, in jou mond en in jou hart. Deur die woord wat
jy by die huis, by die skool of op die vereniging lees en
bestudeer, wat jy in die kerk hoor lees en verkondig, deur die
woord bly die Here jou God homself aan jou gee, Hom aan jou
verbind. Jy mag sy heerlikheid sien. Jy mag God self sien.
Niemand hoef meer te kla: toon my die Vader nie. Want wie
Christus in die prediking gesien en gehoor het, het die Vader
gesien. En elkeen wat in Hom glo sal nie beskaam word nie.

Waar die lewende woord gehoor en geglo word, daar is beelde
onvanpas, selfs beelde as sogenaamde boeke van die leke. Die kerk
van Christus ken geen leke wat met beelde moet volstaan nie. Die
lewende woord van God is aan die hele kerk toevertrou, aan al God
se kinders. Dis nie net ’n voorreg van ’n geestelike
elite nie. Laat niemand die kerk weer onmondig maak nie. Deur die
bybel van haar weg te vat. Vandag is baie teoloë juis daarmee
besig. Deur te maak asof die verklaring van die bybel van moderne
teoloë, die moderne spesialiste, afhanklik is. Net die
spesialiste sou in staat wees om die waarheid van die Skrif te
bepaal. Wat ’n arrogansie. Juis die teendeel is waar. Mense
het blykbaar die les van die groot Hervorming van die 16 de eeu
vergeet.

Laat ons dankbaar wees dat die Skrif aan die kerk gegee is..
Jy leef tog in die bedeling van die Gees? Wanneer jy God se Woord
lees dan mag jy God sien. God soos Hy homself in Jesus Christus
bekend gemaak het. Dan het jy geen behoefte aan bedrieglike,
menslike idees en beelde van God nie. Jy het ’n Verbondsgod
wat altyd aanwesig is tot verlossing van sy volk. Sou jy dan nie
sy heiligheid eer nie, en van sy teenwoordigheid geniet nie?

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief Ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)