Christus se skrywe aan die gemeente van Laodicea.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2003-09-28
Teks: 
Openbaring 3
Preek Inhoud: 

Openbaring 3:14-22

Ds. C. Kleyn - Sondag 28 September 2003

Lees: Openbaring 3:14-22.
Sing: Ps. 36:2,3; Ps. 119:6,7; SB. 44:1,2; SB.
44:3-5; Ps. 33:7,10,11.

Tema: Christus se skrywe aan die gemeente van Laodicea.

  1. Die situasie van die gemeente; en
  2. Hoe Christus daarop reageer.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

"Dit sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die
begin van die skepping van God." So stel Christus homself
aan sy gemeente voor. Die Amen. Hom wat waarheid en sekerheid
verpersoonlik. Jy kan volkome op Hom staatmaak. Die titel Amen
word verder omskryf as die getroue en waaragtige Getuie. Hy praat
van wat Hy sien en hoor. Hy maak geen foute nie. Hy verdraai nie
die waarheid nie. Hy verdoesel nie die feite nie. Hy getuig van
die volle werklikheid. Wat Hy oor die gemeente gaan sê is dan
ook volkome waar. ’n Mens kan sy eie gedagtes oor die
gemeente vorm. Miskien is jy baie tevrede met jouself en met die
gemeentelewe. Ander mense het dalk ’n totaal ander kyk
daarop. Wie is nou reg. Dis moeilik om te oordeel. Elke mens kan
hom immers vergis. Maar Christus die Amen vergis Hom nooit nie.
Hy laat jou weet hoe dit in werklikheid is. Jy kan op sy
getuienis volkome staatmaak. En sy getuienis is die belangrikste.
Hy is immers ook die koning van die kerk. Wat die beslissende
woord spreek.

Hy noem Homself verder: die begin van die skepping van God.
Die oorsprong van die skepping. Ook van die nuwe skepping. Alles
is uit Hom en deur Hom en tot Hom. Hy heers oor alles. Om te leef
is jy van Hom afhanklik. Om opnuut te kan leef is jy op Hom
aangewese. Hy is die bron van alle lewe.

Wat ’n pragtige en indringende selfbenaming van Christus:
Dit sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die begin van
die skepping van God. Sou ’n mens nie na Hom luister nie?

Ek verkondig vir julle: Christus se skrywe aan die gemeente
van Laodicea.

  1. Die situasie van die gemeente
  2. Hoe Christus daarop reageer

Die gemeente verkeer werklik in ’n slegte toestand. In
die ander gemeentes het Christus altyd nog gewys op iets wat
positief was. Nou word egter geen enkele positiewe ding oor die
gemeente gesê nie. Christus berispe net die gemeente dat sy nie
koud, nog warm is nie, maar lou.

Wat bedoel Christus? Ons het gou ons eie idee oor ’n lou
gemeente of lidmate. Ons dink dan aan mense sonder geesdrif vir
die Here, mense wat jy nie vir werk in God se koninkryk kan warm
kry nie. Hulle is laks, traag, onverskillig. Hulle doen wel die
dinge wat van ’n christen verwag word, maar hulle is
middelmatig in alles, hulle doen net die minimum. Die ampsdraers
voel hulle ongelukkig oor die situasie. Die antwoorde op die
huisbesoeke is so voorspelbaar. Alles gaan aan, maar jy voel geen
werklike warmte nie. ’n Situasie wat mense dikwels tipeer as
miserabel, maar nie sensurabel nie.

Is dit wat Christus bedoel met hierdie lou gemeente van
Laodicea? Die tradisionele verklaring lyk inderdaad baie daarop.
Om warm te wees is dan dat die evangelie jou in vuur en vlam sit.
Jy word gedryf deur liefde en ywer vir die Here. Om koud te wees
is die teenoorgestelde. Die evangelie laat jou dan heeltemal koud.
Jy word daar heeltemal nie deur geraak nie. Om lou te wees moet
daar dan tussenin wees. Jy vertoon dan ’n gebrek aan
geestelike ywer en ’n halfslagtige toewyding aan die Here.

Een probleem met hierdie verklaring is dat Christus se: was jy
tog maar koud of warm. Dit impliseer dat Christus voorkeur gee
aan albei uiterste posisies bo die lou posisie. Dit word meestal
so verklaar dat warm wees die enigste positiewe posisie is en
alleen vir die Here welgevallig kan wees. Die Here soek immers
brandende harte. Daarom is dit op sigself ook negatief as iemand
koud vir die Here is. In ons gedeelte sou die Here egter duidelik
wil maak dat Hy die halfpad posisie, lou wees, nog meer verafsku
as koud wees. Die Here sou liewer met mense te doen het wat
heeltemal koud teenoor die evangelie staan, as met mense wat
onder die skyn van godsdiens ’n koud hart vir Hom hê.
Miskien kan jy dit vergelyk met die uitspraak van Christus dat
dit in die dag van die oordeel draagliker vir Sodom en Gomorra
sal wees as vir God se afvallige verbondsvolk.

Broeders en susters, die ongemaklikheid van hierdie verklaring
kan oorkom word as ons die woorde van die Here verstaan as
beeldspraak oor drinkwater. ’n Mens kan geniet van ’n
warm drink. Dit verkwik jou. ’n Koue drink is ook aangenaam
en verfrissend. ’n Lou drink is egter nie lekker nie. Dit
maak ’n mens siek. Dit krap jou maag om. Deur hierdie beeld
beskryf die Here die algemene situasie van die gemeente en hoe
dit hom raak. Hy sê in feite: jul situasie is sulks dat dit my
siek maak. Daarom sê die Here ook: ek sal jou uit my mond spuug.

Hierdie verklaring pas ook goed by die situasie van Laodicea
en omgewing. Dis ook opvallend hoe baie Christus in hierdie brief
hom in sy woorde en beelde aansluit by die situasie van Laodicea.
Dit blyk ook uit die verse 17 en 18. In daardie eerste eeu was
warm, koud en lou water blykbaar ’n unieke kenmerk van
Laodicea en sy omgewing. Hiërapolis, ongeveer 20 kilometer ten
noorde van Laodicea was bekend vir sy warm water. Dit sou
geneeskundige krag gehad hê. Kolosse, ongeveer 20 kil ten ooste
van Laodicea, was bekend vir sy lekker, skoon, koud water.
Laodicea het egter blykbaar geen goed water gehad nie. Die stad
het gegroei vanweë sy handelsposisie, maar die water wat daar
was, was lou en onsmaaklik. Die effek wat die gemeente van
Laodicea op Christus het, is soos die effek van hul eie water.
Christus staan op die punt om hulle uit sy mond te spuug. Die
gemeente is vir hom walglik, weersinwekkend.

Waarom dan? Christus verklaar dit in vers 17: "Want jy sê:
Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy
weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en
blind en naak is nie."

Soos die stad van Laodicea is, so is ook die kerk van Laodicea.
Laodicea kan pog op baie rykdom. Die stad is in daardie tyd veral
oor drie dinge beroemd: sy goed georganiseerde bankwese, sy
tekstiel industrie (met sy pragtige wol en linne klere) en sy
mediese skool en apteke. Die welvarendheid van die stad blyk ook
uit hul herstel van ’n groot aardbewing in die jaar 60
’n.C.. Sonder enige steun van buite het hulle die stad weer
opgebou. Terwyl Sardis na ’n aardbewing enkele jare
daarvoor, slegs met groot steun van buite herbou kon word. Die
mense in Laodicea is nie sonder energie of sonder ideale nie.
Hulle is hardwerkende mense wat weet wat dit is om die hand aan
die ploeg te slaan. Hulle is ondernemend. So kry jy ’n baie
ryke, voortvarende stad. En hulle is trots op wat hulle
gepresteer het. Selfvoldaan.

Soos die stad is, so is blykbaar ook die kerk daar in Laodicea.
"Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks
gebrek nie." Die gemeentelede pog oor hul geestelike rykdom.
Hulle is trots, selfvoldaan. Hulle is heimlik of openlik baie
tevrede met hulleself. Hulle is gearriveerde christene. Hulle is
nie net trots op wat hulle bereik het nie, maar ook dat hulle dit
op hulleself bereik het. Ek is ryk, ek het my verryk. Hulle gaan
nog ’n stap verder: hulle het niemand of niks nodig nie:
"en ek het aan niks gebrek nie."

Die Laodicense voel hulleself gelukkig en voldaan met hul
geestelike prestasies. Is hulle nie trou nie? In die kerklike
lewe gaan dit goed. Hulle het alles goed vir mekaar. Daar is geen
groot sondes nie. Geen ketterye nie. Die lidmate kom getrou
kerktoe. Die predikant hou goeie preke. Die lidmate luister goed
na die prediking en vier die nagmaal. Die geld wat nodig is vir
die onderhouding van die eredienste en vir ander kerklike
doeleindes kom goed binne. Geen tekorte nie. Kyk wat hulle bereik
het. Wie sou nie tevrede wees nie? Of self ’n bietjie trots
nie?

Christus is egter nie trots op hulle nie. Hy sê: omdat jy lou
is sal Ek jou uit my mond spuug. Jy weet nie dat dit jy is wat
ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie.
Christus stapel woorde op mekaar om die armoede van hierdie lou
gemeente aan te gee. Die gemeente is nie bewus van sy ellendige,
sondige en behoeftige staat nie. Blykbaar word Christus uit die
prentjie gehou. Die christene is tevrede met hulleself. En waar
die besef van eie waarde groter word, word die waarde van Jesus
Christus al kleiner.

Is dit ook nie opvallend dat Christus by die deur staan nie?
Moes Christus nie binne die deur, in hul midde wees nie? Maar
hier in Laodicea staan Hy daarbuite. Dis feitelik ’n kerk
sonder Christus. Ja, hulle gaan kerk toe en luister na die
prediking. Maar of Christus word nie meer werklik gepreek nie of
die prediking van Christus dring nie meer deur nie. Selfvoldane
mense is mos onaandoenlik vir die evangelie? Jy hoor dan die
evangelie maar dit gaan die een oor in en die ander oor uit. Jy
doen niks daarmee nie. Dit raak jou nie werklik nie sodat jy
daardeur vir die Here in vlam sou staan. Jy sit nie in die kerk
as mense wat honger en dors na die geregtigheid nie. Jy ken geen
honger of dors nie. Daarom maak die verkondiging jou nie ryk nie.
Die kerk self is ’n verworwenheid. Iets wat jy nie graag sou
prysgee nie. Iets waarvoor jy bereid is om jou in te sit, om
offers te maak. Maar iets waarin jyself sentraal staan, pleks van
Christus. Soos ’n besigheid wat jy self opgerig het en
onderhou.

Gemeente, hierdie wêreldse houding blyk ook in hul daaglikse
lewe. Hulle lewenstyl is nie anders as die van hulle wat Christus
nie ken nie. Jy doen jou besigheid, jou werk en jou studie op
dieselfde manier as die ander burgers van Laodicea. Dit is nie
spesifiek christelik nie.

Broeders en susters, Christus roep ook ons op om onsself te
beproef. Hoe sou jy die gemeente tipeer? Wat is ons/jou
geestelike toestand? Is ons ’n lewende Christelike gemeente,
waarin Christus sentraal staan? Gaan dit in ons gemeente werklik
oor Christus en sy eer? Is dit vir Hom dat ons die dinge doen?
Dit kan gebeur dat ek vandag die prediking van Christus hoor en
met die mond Christus se naam bely, maar more weer aangaan met my
lewe soos enige burger dit doen, sonder Christus. Ons lees dan
dieselfde koerante, ons luister en kyk na dieselfde programme,
ons het dieselfde belangstellings, ons is besig met dieselfde
dinge as die ongelowiges. Die enige verskil is dat ons lid van
’n kerk is en kerk toe gaan.

Laat ons tog oppas. Is ons soos ’n gearriveerde gemeente?
Daar is mense wat dit so stel. Is dit waar? As dit waar is, is
ons walglik vir Christus. Of is Christus bly met ons? Julle het
gekies om hier in die erediens aanwesig te wees. Waarom? Waartoe?
Omdat jy jou lewe buite jouself in Christus soek? Omdat jy
Christus liefhet en wil dien, hier en in jou hele lewe? Of omdat
dit wel lekker is om deel van ’n gemeenskap te wees? Is jy
betrokke ter wille van Christus of omdat dit vir jou ’n
heerlike gevoel oor jouself gee?

Wat is fout as daar jong mense en ouer mense van die kerk is
wat hulle liewer inspan vir hul sport, vermaak, musiek en
vakansie as dat hulle hul inspan vir die eredienste en vir die
bestudering van die Skrif? Wat is fout as hulle liewer vir die
aardse dinge hul geld uitgee as vir die kerk van Christus? Sien
ons nog wel die rykdom van die geloof en van die diens aan die
Here? Baie van ons is dalk welvarend in materiële sin. Ons
kinders is goed af. Verstaan ons egter nog wat dit is om van
nature arm, blind en naak te wees?

Let op die teenstelling tussen die gemeente van Smirna en die
van Laodicea. Van Smirna sê die Here: Ek ken jou werke en
verdrukking en armoede, maar jy is ryk, jy is geestelik ryk. Van
Laodicea sê die Here egter: Jy sê: Ek is ryk en het verryk
geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is
wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie.
Wie is werklik ryk onder ons? En wie is dit wat feitelik arm is?

Broeders en susters, hoewel die Here walg oor die gemeente van
Laodicea, wys Hy nog sy geduld en liefde. Dis die tweede gedagte:
hoe Christus op die situasie van die gemeente reageer.

In die oorspronklike teks staan nie: Ek sal jou uit my mond
spuug nie, maar: Ek staan op die punt om dit te doen. Die Here
los sy gemeente nog nie. Hy gee nog tyd vir bekering. Hy stuur
hierdie brief om die lou gees uit te dryf. Die Here was skerp in
sy kritiek, in sy teregwysing. Dit moet maar vir jou gesê word:
Omdat jy lou is, staan Ek op die punt om jou uit my mond te spuug.
Want jy sê Ek is ryk en het aan niks gebrek nie, maar jy besef
nie dat jy ellendig, arm, blind en naak is nie. Dis werklik harde
woorde. ’n Ernstige bestraffing. Maar dit is ’n teken
van Christus se liefde. Sê Christus nie in vers 19: "Almal
wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer
jou." Christus is nog met hulle besig in sy soekende liefde.

Hoor hoe Hy hulle aanspreek in vers 18: "Ek raai jou aan…"
Nie "Ek gebied julle" nie, maar Ek raai julle aan. En
luister na wat Christus dan aanraai. "Ek raai jou aan om van
My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word;
en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou
naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf,
sodat jy kan sien." Christus het aangegee dat hulle feitelik
arm, blind en naak is, ook al dink hulle dat die teenoorgestelde
waar is. Christus laat hulle nie in die kou staan nie. Hy gee nou
die oplossing vir hul ellendige en beklaenswaardige toestand.

Christus praat ’n taal wat die gemeente uit hul daaglikse
lewe kan verstaan. Hy stel homself voor as ’n koopman. Hy
het drie artikels te koop. Drie artikels wat in verband staan met
die dinge waarvoor Laodicea beroemd was. Onthou julle nog wat die
dinge was? Die florerend bankwese, tekstiel industrie en die
mediese skool met sy beroemde apteke.

Christus sê: Koop van My goud wat deur vuur gelouter is,
sodat jy kan ryk word. Ja, gelouter goud, puur goud. Goud wat jou
lewe werklik ryk kan maak. Hemelse skatte.

Koop ook wit klere, dan jy jou kan aantrek en die skande van
jou naaktheid nie openbaar word nie. Wit klere, ’n teken van
reinheid, van afwassing van jou sonde en skuld. Die wit klere van
My geregtigheid en heiligheid. Feesklere waarmee jy later aan my
bruilofsmaal kan aansit.

Koop ook salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien. Julle is
feitelik blind. Julle sien jul sorgwekkende situasie nie raak nie.
Ek het egter die resep vir blinde oë: my evangelie wat jou aan
jou sonde ontdek en die weg van verlossing wys.

Daar is geen rede om arm, naak en blink te bly nie. Koop van
My die skatte, die wit klere en die oësalf. In kort: koop van my
verlossing. Neem dit in jou besit. Jy hoef niks daarvoor te
betaal nie. Dis verniet. Soos die uitnodiging van Jes 55: 1:
"o Almal wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld
het nie, kom koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder
prys, wyn en melk." Jy moet sonder geld koop. Met geld kan
jy immers nie regmaak wat geestelik met jou verkeerd is nie. Dit
wat jy nodig het, kan geld nooit koop nie. Naamlik die skatte van
Christus, die wit klere van sy geregtigheid en heiligheid om jou
sonde en skuld te bedek. En die salf van evangelie wat jou oë
weer werklik laat sien.

Broeders en susters, gaan jy die raad van Christus opvolg? Dis
geen sagte aanrading nie. Dis evangelie wat kom met die eis tot
bekering en geloof. Dit kom ook van die Amen, die getroue en
waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God. As jy dit
besef, dan laat jy Christus tog nie buite die deur staan nie.

"Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop." Miskien het
jy my buite jou lewe gehou, my as ‘t ware buite geplaas.
Maar Ek los jou nie alleen nie. Ek staan by die deur en Ek klop.
Op grond van hierdie teks word Jesus dikwels geteken as iemand
wat aan die deur van jou hart klop. Hy wil toegang tot jou hart
kry. Jy moet Hom dan in jou hart binnelaat, jou hart vir Hom
oopmaak. So kom ons uit by die arminiaanse dwaling wat beweer dat
dit in die mens se eie vermoë lê om God in jou hart binne te
laat of nie. God sou afhanklik van my keuse vir Hom wees.

Ons teks bied geen steun vir daardie gedagte nie. Dit gaan
hier nie soseer oor individuele mense harte nie, maar oor die
deur van die gemeente waaraan Christus klop. Dit gaan ook nie oor
mense wat vir die eerste keer met God in aanraking kom nie. Dit
gaan oor mense wat reeds ’n band met Christus gehad het. Dit
gaan hier oor ’n herstel van die gemeenskap met Christus.
Christus voeg daaraan toe: As iemand my stem hoor en die deur
oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom ’n maaltyd
hou, en hy met My.

Miskien moet ons hier dink aan wat die Here eerder, in Lukas
12:35-37, gesê het oor die klop op die deur. Daar lees ons:
"Laat julle heupe omgord wees en julle lampe aan die brand.
En julle moet wees soos mense wat op hulle heer wag wanneer hy
van die bruilof terugkom, sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak
as hy kom en aanklop. Gelukkig is daardie diensknegte vir wie die
heer wakker sal vind as hy kom. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal
hom omgord en hulle aan tafel laat gaan en hulle kom bedien."

In Lukas gaan dit oor die wederkoms van Christus. So ook in
Openbaring, wat as tema het: "… kyk, Ek kom gou".
Die lou gemeente moet opnuut besef dat hulle met Christus te doen
het. Kyk, Ek staan by die deur. Ek laat my stem nog hoor. Luister
na my stem, wees dan ywerig en bekeer jou. En soek opnuut my
gemeenskap. Die tyd dring. Staan in my diens as waaksame
diensknegte wat meteen oop kan maak.

"As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek
ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My."
Hoe geweldig! Christus daal so te sê van sy hemelse troon neer
om te eet saam met hulle wat uit hulleself arm, naak en blind is.
Die gemeenskap met Hom word herstel vir hulle wat glo en dit moet
gevier word. Wat ’n wonder van genade. Christus praat dan
nie meer oor die verlede nie. Dat ek hom as ‘t ware buite
die deur geplaas het nie. Dat ek hom buite my daaglikse lewe en
praktyk gesluit het nie. Hy skenk vergewing en vernuwing. Die wit
klere van sy geregtigheid en heiligheid.

So is daar die hernude belewing van ons gemeenskap met die
Here, soos dit elke keer weer aan die nagmaalstafel gevier word.
Later sal dit gevolg word deur die bruiloftsmaal van die Lam.
Christus belowe tewens dat hulle wat oorwin saam met Hom op sy
troon sal sit. Saam met Hom oorwinnaars. Saam met hom heersers,
hier in beginsel, later in volkomenheid.

Geliefdes, Christus het weer gepraat. Hy het ernstig gepraat.
Ons ernstig opgeroep. Watter effek het die woorde op ons as
gemeente en as lidmate van sy kerk? Besef ons opnuut hoe maklik
dit is om sonder Christus te lewe, ook om sonder Christus ’n
kerklike lewe in stand te hou? Besef ons wel hoe arm so ’n
lewe is, ook al mag ons in materiële sin ryk wees? Wie ’n
oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief Ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)