Moenie die Naam van die HERE ydellik gebruik nie.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2003-09-28
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 36
Preek Inhoud: 

Sondag 36

Ds. C. Kleyn - Sondag 28 September 2003

Lees: Levítikus 24:10-23; Hebreërs 10:19-31;
Sondag 36.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps. 99:1,2; Ps. 99:3-5; Ps. 145:1-3,10-12.

Tema: Moenie die Naam van die HERE ydellik gebruik nie.

  1. Wat beteken dit?
  2. Hoe aktueel is dit?
  3. Hoe ernstig is dit?
  4. Watter uitkoms is daar?

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

"Jy mag die naam van die Here jou God nie ydellik gebruik
nie." Tereg word by hierdie gebod gedink aan die misbruik
van die Naam deur te laster of te vloek. Die neiging is egter
groot om dan veral na buitestaanders te kyk. Ons dink dan aan al
die godslasterlike taal wat hulle durf gebruik en aan al hul
vloekwoorde.

Maar, gemeente, vir wie is die gebod in die eerste plek gegee?
Vir die buitestaanders? Nee! Hierdie gebod is tog eers vir die
volk van die Here bestem? Juis u en ek as volk van God kom onder
die klem van die 3e gebod te staan. Juis ons kan ons daaraan
skuldig maak. Hoekom? Wel, wie ken die naam van die Here? Is dit
nie juis God se volk nie? Met die woorde van Ps 75:1 sing ons:
"Want u Naam is, troue Heer, vir u volk tot troos naby."
Die Here het sy Naam juis aan sy volk bekendgemaak. Hoe meer ek
die heerlike Naam ken, hoe gevaarliker dit tewens is om die Naam
ydellik te gebruik. Daarom: moenie na buite kyk nie. Laat
inteendeel elkeen homself toets aan hierdie gebod van die Here.

Ek verkondig vir julle: Moenie die Naam van die HERE ydellik
gebruik nie.

  1. Wat beteken dit?
  2. Hoe aktueel is dit?
  3. Hoe ernstig is dit?
  4. Watter uitkoms is daar?

Letterlik staan daar: "Jy mag die naam van die Here jou
God nie ophef tot dit wat ydel is nie. Om die naam op te hef wil
sê: om die naam uit te spreek, om die naam op jou lippe te neem.
Moenie die naam van die Here in verband met dit wat ydel, leeg,
onbeduidend is, noem nie. Moenie die naam met ydelheid verbind
nie. Die naam van die Here jou God en ydelheid staan teenoor
mekaar. Gebruik die naam dan nie op ’n verkeerde manier of
met verkeerde bedoelings nie. Om dinge te bereik waarvan Hy nie
hou nie of om ander daarmee te skaad.

Die 3e gebod gaan dus in die eerste plek oor die uitspreek van
die naam van die Here. En dan moet jy veral dink aan die naam
HERE met hoofletters, wat ’n vertaling van Jahwe is. Dit is
die naam waarmee God Homself by die brandende doringbos aan Moses
bekendgemaak het. God het tot Moses gesê: "Ek is wat Ek is.
So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle
gestuur", Jahwe. ’n Mens kan die naam ook so weergee:
Ek is wat Ek is, Ek is daar, naby. Ek doen wat Ek belowe. Ek sal
bewys dat Ek is wat Ek belowe het te sal wees. Ek gaan die
beloftes wat Ek aan die vaders gegee het waarmaak.

Die misbruik van die naam gebeur wanneer ek die naam noem in
verband met sake waarmee God niks te doen het nie. Dink aan valse
profesie. Ek beweer dan: so sê die Here, terwyl ek die Here nie
eers naspreek nie, maar sy woorde verdraai en dit aanpas aan die
moderne gees, aan wat mense graag hoor. Ek kom met my eie
gedagtes en woorde en dek dit met die naam van die Here. So kry
ons vandag byvoorbeeld ’n totale vertekende beeld van wat
God vir ons sê oor homoseksualiteit en ander etiese sake.

Dink ook aan die valse eed. Leuenagtige woorde word krag
bygesit deur die naam van die Here in die eed daarby te haal. Op
hierdie manier word die naam misbruik in diens van die leuen.

Misbruik van die naam gebeur egter nie slegs wanneer ek die
naam ten onregte gebruik nie. Die naam van die Here kan ook
misbruik word sonder dat ek die naam uitdruklik noem. Wat is
immers die betekenis van die naam in hierdie geval? As iemand
’n naam het dan beteken dit dat hy bekend is. Sy naam sien
dan op die bekendheid met sy persoon en optrede. By die woord
naam gaan dit dan nie soseer oor hoe iemand genoem word, maar wat
iemand is of wat iemand gedoen het.

So is dit met die naam van die Here. Sy naam gee aan wat Hy is.
Sy naam is sy faam, sy reputasie. Sy naam is sy openbaring, wat
Hy van homself bekend gemaak het. Sy naam is die openbaring van
sy wese. As ek dus ten onregte aan sy openbaring kom, dan kom ek
aan sy naam, dan kom ek aan Homself. As ek speel met wat die Here
oor Homself bekend gemaak het, dan maak ek my skuldig aan die
misbruik van God se naam.

Die naam het deur die geskiedenis inhoud gekry. Die naam het
steeds heerliker en ryker geword. By die skepping was die naam
alreeds heerlik. Dit het nog heerliker geword deur die verlossing.
Daarom het die Here Hom juis aan Moses bekend gemaak as Jahwe.
Hy, die almagtige, gaan Hom nog duideliker bewys as diegene wat
Hy is. Hy gaan inspring vir sy volk en hulle met ’n sterk
arm bevry uit die slawehuis van Egipte. En die Here gaan voort
van verlossing tot verlossing. So is die naam vir ons nog ryker
onthul in Jesus Christus. As die Seun het Christus die naam van
die Vader aan die mense geopenbaar. En wel op so ’n manier
dat Hy kon sê: wie My gesien het, het die Vader gesien. In Hom
staan die Here God self voor jou. So is die naam van God nou
volkome geopenbaar. Jy mag die Here God nou ken uit die volle
rykdom van sy woord.

Gemeente, een van die duidelikste maniere van misbruik van God
se naam is om te laster en te vloek. Ons het daarvan gelees in
Lev 24. Dit gaan daar oor ’n jong man wat die seun van
’n Israelitiese vrou en ’n Egiptiese vader is. Die ou
het ’n plek in die midde van God se volk ontvang. Hy het die
Here leer ken. Hy het die groot dade van die Here gesien. Hoe Hy
die magtige Farao op sy knieë gekry het. Hoe Hy Farao geforseer
het om die volk Israel te laat gaan. Hy het gesien hoe die
wolkkolom Israel begelei het; hoe die Here sy volk droogvoets
deur die see laat trek het; hoe Farao en sy leër in die see
omgekom het.

Ondanks hierdie kennis van die Here en die sien van sy
heerlikheid, durf die ou die Here te kleineer en te versmaai..
Dit blyk wanneer hy veg met ’n Israeliet. Hy het die naam
van die Here gelaster en gevloek, lees ons. Daarby sal hy die
naam van die Here genoem het, maar daar is meer aan die hand.
Letterlik staan daar in die teks dat hy die naam deurboor het. Hy
gee die naam as ‘t ware ’n doodsteek. Hy maak asof God
magteloos is. Die woord vloek kom ongeveer op dieselfde neer. Dit
beteken: iemand as onbeduidend en veragtelik neerhaal. In sy
woede teen die Israeliet ontsien die man hom nie om die God van
Israel te tref nie. Hy noem nie slegs die heilige naam van God
nie, hy sleep die naam ook deur die slyk. Dit volgens die idee
van daardie tyd, as jy jou vyand wil tref dan moet jy sy God tref.
So kan jy die krag van jou vyand breek. Hierdie jongman sê
beledigende dinge oor die Here. Hy kleineer, versmaai die naam
van die Here, ja, die Here self. Die naam wat groot en heerlik
is, word gering geag, as niks werd behandel.

Dit kan ons, broeders en susters, op die spoor bring van
godslastering ook in hierdie tyd. Dit bekyk ons in die tweede
punt: Hoe aktueel is dit?

Wat doen die lasteraar? Hy skryf ongerymde dinge aan die Here
toe. Hy verklaar dat God magteloos is, ja, onbeduidend. Hy sê:
die god van jou beteken eintlik niks nie. Hy is niks, Hy kan niks
nie. Wel, hoor ons ook vandag nie dieselfde verwyte teen die Here
ons God nie? Daar word dan gesê: as die Here ’n troue en
liefdevolle God is, hoekom help Hy dan nie? Hoekom dan al die
ellende? Korrupsie, geweld, vigs ens. Nee, in die wêreld vol
ellende blyk Hy magteloos te wees. So sien baie mense, waaronder
mense wat hulle christene noem, die Here as ’n magtelose,
weerlose God. Hy sou graag help maar Hy kan nie. Terwyl God Hom
in die Bybel en in die skepping as die Almagtige bekend gemaak
het.

En laat ons nie slegs na buite kyk nie. Hoe sien en ervaar jy
self die Here onse God? Wat beteken die selfopenbaring van die
Here vir jou? Ek dink hierby nie slegs oor die manier waarop oor
God gepraat word nie, maar ook oor hoe oor Hom gedink word, ja
oor ons hele lewe. Is die praktyk van my daaglikse lewe wel
afgestem op my goeie belydenis? Ek kan wel trou in die leer wees.
Maar is my lewe ook aan die leer afgestem? Leef ek werklik in
afhanklikheid van Hom, in vertroue op Hom? Ek is nie klaar
wanneer ek die moderne teologie, wat aan God se eer tekort doen,
afwys nie. Ek is nie klaar wanneer ek beswaar maak teen die God-is-dood
teologie nie. Ek is nie gereed wanneer ek protesteer teen die
verloëning van Christus se offer tot versoening van die sonde
nie. Die afwysing en die protes is ’n goeie saak. Maar
daarmee is ek nog nie klaar met die 3e gebod nie. So ’n
oortuiging moet ook blyk in ’n christelike lewenswandel.
’n Lewenswandel waarin dit gaan om God se eer.

Gemeente, hoe gaan dit met ons op hierdie punt? Is leer en
lewe ’n skone eenheid waarin God se naam hooggehou,
verheerlik word? Ek kan die God-is-dood teorie wel verwerp en tog
in die daaglikse praktyk van my lewe maak asof God dood is. Hoe
dan? Dit kan gebeur deur God in die daaglikse lewe dood te swyg,
deur bepaalde terreine van die lewe vir myself te reserveer,
byvoorbeeld my geldsake, my vermaak en vriendskappe. Dit kan
gebeur deur te maak asof God vir bepaalde beslissings in my lewe
nie relevant is nie. Paulus sê duidelik: daar is geen terrein
vir onsself nie: of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen
alles tot verheerliking van God (1 Kor 10:31). Anders doen jy
tekort aan God se naam.

Die Kat werk die 3e gebod positief uit in die woorde: "Kortom,
ons mag die heilige naam van God nie anders as met vrees en
eerbied gebruik nie, sodat Hy deur ons reg bely, aangeroep en in
al ons woorde en werke geprys word." Die heilige naam nie
anders as met vrees en eerbied gebruik nie. Ek kan die naam dus
nie op ’n ligvaardige manier gebruik nie. Eerbied vir God se
naam, vir sy selfopenbaring, vereis dat ek baie noukeurig lees
wat daar staan en ook noukeurig God se woorde weergee. God se
naam laat hom nie bind aan my teorieë of gedagtes nie. Dan sê
ek dat God iets wil of nie wil nie, terwyl dit heeltemal nie die
geval is nie. Ek dryf dan my wil deur met die gebruikmaking van
God se naam. God se naam word dan gebruik om my sake en idees te
bevorder. Die noem van die naam van die Here gee ’n sekere
gewig aan my woorde en planne. En die mense durf my nie
teenspreek nie. Dit is immers wat God wil. So word, selfs met
edele bedoelings, mag uitgeoefen deur misbruik van God se naam.

Laat die voorbeelde uit die verlede ons tog versigtig en
beskeie maak. Niemand sal vandag die kruistogte nog verdedig met
die leuse: God wil dit? Niemand sal vandag nog durf beweer dat
God ons verbied om op Sondag die motor te ry nie. Ons het leer
sien dat die Skrif op hierdie punt heeltemal nie so stellig
spreek nie. Ons het ontdek dat die motor ook as gawe van God
gebruik kan en mag word. Laat ons tog versigtig wees met stellige
uitsprake soos: so sê dit Here, God beveel dit of God verbied
dit. Dan moet ek wel baie goed weet dat die Here dit inderdaad so
sê en bedoel. Gee ek werklik deur wat God wil en sê of sit ek
daardeur slegs krag by aan my feilbare gedagtes?

Gemeente, as ek vandag met stelligheid beweer dat God iets
gebied en more my woorde weer moet insluk, dan doen ek groot
skade aan God se naam. Deur sulke teenstrydige uitinge word God
se naam onteer. Die ergste is dan nie dat ek ongelyk blyk te hê
nie. Die ergste is dat ek daardeur die mense die indruk gee dat
God Homself teenspreek. Beide kere het ek immers gesê: so wil
die Here dit. Laat ons die Skrif tog noukeurig lees. En eerbiedig
verklaar. Sodat God om ons ontwil nie gelaster nie, maar juis geëer
en geprys word.

"Die heilige naam nie anders as met vrees en eerbied
gebruik nie" sluit ook uit die hol gebruik van sy naam. Die
laaste is die geval wanneer my hart nie meer daarby is nie. Dit
het dan vir my ’n soort uitwendige vorme-diens geword. My
belydenis en lied het dan ’n holle frase geword. Ek besef
byna nie meer waarmee ek besig is nie.

Nou die derde punt: Hoe ernstig is dit?

In die O.T. het God bepaal dat die lasteraar gedood moes word.
In die midde van God se volk is daar geen plek vir iemand wat God
smaad en tot niks verklaar nie. Wie God se naam skend, skend God
self. En dan geld die reël: oog vir oog, tand vir tand. As
iemand enige mens doodslaan, moet hy sekerlik gedood word (Lev 25:17).
Sal dan die persoon wat God dood verklaar, nie die dood verdien
nie? Geen sonde is groter en vertoorn God meer as die lastering
van sy naam nie. Daarom het Hy ook beveel om dit met die dood te
straf.

Broers en susters, hoeveel ernstiger is dit in hierdie ryke
Pinkster bedeling. God se naam is nou so heerlik onthul in Jesus
Christus. Die woord het vlees geword en onder ons kom woon. Hy
het gesterf, het opgestaan en het sy Gees uitgestort. Alles is
nou baie ryker en voller. God se naam skitter soos nooit tevore
nie. En via die komplete bybel besit julle die volle kennis van
sy Naam: so is die Here ons God. Hy het nie slegs bevry uit die
slawehuis van Egipte nie, maar Hy het in Christus bevry uit die
slawehuis van die sonde. Hy het Hom bewys as diegene wat Hy
belowe het te sal wees. En Hy gaan sienderoë voort van
verlossing tot verlossing totdat al sy beloftes definitief vervul
sal wees in die nuwe hemel en nuwe aarde.

Dit maak die 3e gebod vir ons des te ernstiger. "Jy mag
die naam van die Here jou God nie ydellik gebruik nie." Dit
let nou veel nouer, nou die naam baie ryker geopenbaar is. Die
brief aan die Hebreërs wys daarop as daar geskryf word: "Daarom
moet ons des te meer ag gee op wat ons gehoor het … Want as
die woord deur engele gespreek, onwankelbaar was, en elke
oortreding en ongehoorsaamheid regverdige vergelding ontvang het,
hoe sal ons ontvlug as ons so ’n groot saligheid veronagsaam
wat, nadat dit eers deur die Here verkondig is, aan ons bevestig
is deur die wat dit gehoor het, terwyl God ook nog saam getuig
het deur tekens en wonders en allerhande kragtige dade en
bedelinge van die Heilige Gees volgens sy wil? (Hebr 2:1-4).

"Die Here sal die een wat sy naam ydellik gebruik, nie
ongestraf laat bly nie." Hy sal nie ongestraf laat bly
diegene wat sy volle openbaring – alles wat Hy laat sien en
hoor het – ydellik gebruik nie. In Hebr 10: 28,29 lees ons:
"As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder
ontferming op die getuienis van twee of drie; hoeveel swaarder
straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap
het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is,
onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?"

Na die koms van die Seun van God, na die vergieting van sy
bloed en na die uitstorting van sy Gees is die 3e gebod des te
klemmender. Die naam wat so heerlik is, kan ook dodelik wees. Ek
kan my dodelik daaraan verwond. Ek kan my dodelik daaraan
verbrand. Dit is ’n verterende vuur vir diegene wat daarmee
spot en speel. Laat ons daarom erns maak met die heilige naam van
die Here onse God. Ek kan ’n oordeel oor myself uit roep,
indien ek wel sy naam dra, maar my lewe nie werklik afstem op sy
goddelike openbaring nie. As leer en lewe nie een is nie. As my
hart nie daarby is nie, as ek ligvaardig met die heil omgaan.

Staan jy in vlam vir die eer van God se naam? Wys jy dit in
jou lewenstyl, ook in jou taalgebruik? Laat daar geen vuil woord
uit julle mond uitgaan nie, laat staan ’n vloek, ook al word
die vloekwoorde alom gehoor as kragterme of stopwoorde. God se
naam, die name Jesus en Christus is vir jou tog dierbaar en
heilig. As ek nie eerbiedig met God se naam en openbaring omgaan
nie, van wie mag ek dit dan wel verwag? En hoe sou mense vrees en
eerbied vir die naam kan leer as ek dit self te pas en te onpas
gebruik? Laat ons tog wys dat die naam van die Here onse God ons
dierbaar is, in ons woorde en werke.

Gemeente, as ons ons lewens aan die strenge eis van hierdie
derde gebod toets, moet ons bely dat ons almal skuldig is. Wie
kan dan bestaan voor hierdie heilige God? So kom ons by die
vierde punt: watter uitkoms is daar?

Welke sondaar kan bestaan voor hierdie heilige God? Hy of sy
wat by Jesus Christus dekking soek. Christus het die plek van my,
’n sondaar, ingeneem, ook in die verheerliking van God se
Naam. Hy is die enigste mens van wie gesê kan word dat Hy God se
naam reg gebruik, bely, aangeroep en geëer het. Hy het in alles
volkome aan God die eer gegee.

Dit alles het Hy borgtogtelik gedoen. Die straf op ons
misbruik van die Naam van die Here het Hy gedra. Trouens Jesus
Christus is juis vanweë beweerde godslastering tot die dood
veroordeel. Kajafas, die hoëpriester, het immers aan Hom gesê:
"Ek stel jou onder eed by die lewende God dat jy vir ons
moet sê: Is jy die Christus, die Seun van God?" Jesus
antwoord hom: "dit is soos u sê. Daarby sê Ek vir julle:
Van nou af sal julle die Seun van die mens sien waar Hy aan die
regterhand sit van Hom wat magtig is, en julle sal Hom sien kom
op die wolke van die hemel." Toe skeur die hoëpriester uit
verontwaardiging sy klere en sê: "Hy het God gelaster.
Waarvoor het ons nog getuies nodig? Daar het julle nou net die
godslasterlike woorde gehoor. Wat dink julle?" Hulle het tot
geantwoord: "Hy verdien die dood" (Mt 26: 63-66).

Gemeente, met hierdie valse beskuldiging van oortreding van
die derde gebod is Jesus Christus tot die dood veroordeel. Maar
ook daarvan geld die uitspraak deur Jesaja: "Hy is ter wille
van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is
Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring was op Hom"
(Jes 53:5). Hy wat geswyg het toe Hy moes swyg en gepraat het,
toe Hy moes praat, hy het gesterwe om te betaal vir ons wat
geswyg het toe ons moes praat, en ydellik gepraat het toe ons
moes swyg of met eerbied van God moes gepraat het.

Om God se naam te heilig moet jy daarom by Christus wees. Jy
mag heeltemal skuil agter sy volbragte werk. Hy het ook my
oortreding van die derde gebod versoen. Wie in Christus is, is
vry van die vloek. Want wie in Christus is, is ’n nuwe
skepsel. Die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut
geword (1 Kor 5:17). In Christus is ek voor God regverdig en
heilig.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief Ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)