Die nagmaal is ’n gemeenskapsmaaltyd.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2003-06-22
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 28
Preek Inhoud: 

Sondag 28

Ds C Kleyn - Sondag 22 Junie 2003

Lees:

1 Korinthiërs 10:14-22; Sondag 28.
Sing: Ps 133:1,2; Ps 149:1,2; Ps 105:5; Ps 116:7,8; Ps 116:9,10.

Tema:


Die nagmaal is ’n gemeenskapsmaaltyd.

  1. Ons mag geniet van die gemeenskap met Christus
  2. Ons mag geniet van die gemeenskap met mekaar

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Netnou mog ons die doop van ’n kindjie meemaak. Julle het gesien hoe dit gebeur. Marc is deur sy pa na die doopvont gedra. Hy is gedoop. God het vir hom sy liefde verklaar. God het homself aan Marc verbind. Marc mag sy kind wees.

Gemeente, as iets deur die doop van Marc duidelik geword het, dan is dit dit: die doop staan aan die begin van ons lewe met God. Marc is pasgebore. Die doop is ’n teken van die inlywing in die verbond. Tegelykertyd het dit duidelik geword dat alle aksie van God uitgegaan het. Marc was volkome passief. God het in sy genade eensydig ingegryp in Marc se lewe. Eensydig sy liefde verklaar. Daarom praat ons ook van ’n genade verbond.

Wel, ook al het die verbond van een kant begin, moet dit nie eensydig bly nie. Dit moet ’n lewende verbond wees, waar albei partye oor en weer liefde vir mekaar wys. Die mens moet self ook in aksie kom. Met so ’n klein kind gaan dit natuurlik geleidelik. Deur opvoeding en onderrig. Maar die aksie moet daar kom. God sluit sy verbond nie met stokke en blokke, met lewelose objekte nie. God sluit sy verbond met mense wat tot aksie geskep is. God wil dan ook werklik met mense optrek, in wederkerige liefde. Daarin bereik die verbond sy doel en hoogtepunt.

Wel, gemeente, die Heilige Nagmaal behoort nou tipies by die wederkerigheid van die verbond. Wie is by die HN aktief? Tog God en die gelowige? Die beide partye van die verbond. Dis ’n maaltyd. Die brood en die beker word uitgedeel. Maar dit word ook geëet en gedrink. En as jy eet en drink dan is jy aktief.

Reëlmatig vier ons die heilige nagmaal. Ons is gewoond om aan te sit aan die tafel. Is ons egter elke keer ten volle bewus van wat ons daar doen? Wat gebeur daar eintlik? En hoe raak dit my?

Laat ons ons daarop besin wanneer ek vir julle verkondig:

Die nagmaal is ’n gemeenskapsmaaltyd

  1. Ons mag geniet van die gemeenskap met Christus
  2. Ons mag geniet van die gemeenskap met mekaar

Wat hou dit in dat Jesus Christus ’n maaltyd met sy dissipels hou? Is dit slegs ’n kwessie van eet en drink?

In die Bybelse tyd was ’n maaltyd ’n gebeurtenis. Dit was ’n fees van gemeenskap. Dit het gewys op die band wat bestaan het tussen almal wat aan die tafel aansit. Is dit nie ook so in ons eie samelewing wanneer ons ’n maaltyd saam geniet nie? Ons ken ’n maaltyd as ’n uitdrukking van die onderlinge band, byvoorbeeld in die gesin, of as ons iemand uitneem vir ete. Ons ken ook die dieper betekenis van ’n maaltyd. Dit is beslis meer as net ’n kwessie van eet en drink.

Hierdie spesiale waarde van die maaltyd het hulle in die Bybelse tyd nog sterker beleef. Toe het hulle nie restaurante gehad soos vandag nie. Die mense was afhanklik van mekaar se gasvryheid. Gasvryheid was beskou as een van die belangrikste deugde.

Gemeente, die feit dat die onderlinge gemeenskap deur ’n maaltyd uitgebeeld word, is byvoorbeeld duidelik uit gedeeltes in die Bybel waar daar gepraat word van ’n maaltyd na ’n
verbondssluiting. Dink aan die verbond tussen Jakob en Laban, nadat Jakob weggevlug het en Laban hom ingehaal het. Daardie verbond is gevolg deur ’n maaltyd. Hoekom? Om die verbond te bevestig. Om dit te verseël. Daardie gemeenskaplike maaltyd het die verbond
geillustreer.

Ons sien dit ook by die verbondsluiting by die berg Sinai. Kyk maar na Exodus 24. In die verse 3-11 lees ons o.a.: "Toe Moses kom en aan die volk al die woorde van die Here en al die verordeninge vertel, antwoord die hele volk met een stem en sê: Al die woorde wat die Here gespreek het, sal ons doen…..Toe het Moses die bloed geneem en dit oor die volk uitgegooi en gesê: "Dit is die bloed van die verbond wat die Here met julle gesluit het op grond van al hierdie woorde"….Daarop het Moses opgeklim met
Aaron, Nadab en Abihu en sewentig van die oudstes van Israel. En hulle het die God van Israel
gesien...; daarop het hulle geëet en gedrink." Waarom die maaltyd na die
verbondssluiting? Die maaltyd het die verbondsgemeenskap met die Here bevestig.

By die nagmaal sien jy dieselfde. Daar het jy in die eerste plek gemeenskap met Jesus Christus. Want wie is die gasheer by die
nagmaal? Tog die Here Christus? Jy is ’n gas aan sy tafel. Christus wil die maaltyd aanrig sodat jy die gemeenskap met Hom kan vier.

Gemeente, dat die nagmaal die gemeenskap met Christus aandui, is ook duidelik uit 1 Kor 10, wat ons nounou gelees het. Hier stel Paulus die nagmaal van die Here en die heidense maaltye in die tempels van die afgode teenoor mekaar. Die Korintiërs het met afgodsmaaltye te make gehad in hulle daaglikse lewe en werk. Mense van dieselfde beroep het ’n soort vakbond gevorm. Hulle het reëlmatig saam in die tempel van hulle spesifieke beskermgod geëet. Die Christene in Korinte het blykbaar min probleem gehad met hierdie maaltye. Vir hulle was dit nie teenstrydig met die heilige nagmaal nie. Dit sou gewoon ’n deel van hul lewe en werk wees. Hulle het geglo dat jy rustig na die afgodsmaaltye en die heilige nagmaal kon gaan.

Paulus wys hierdie idee nadruklik af. Deelname aan ’n offermaaltyd in ’n heidense tempel is nie so onskuldig as mense dink nie. Wanneer jy aan so ’n maaltyd deelneem, kry jy met duiwels te doen. God wil nie hê dat jy gemeenskap met duiwels het nie. Op dieselfde manier het jy gemeenskap met Christus as jy die heilige nagmaal vier. Dit is die groot verskil tussen die heilige nagmaal en die heidense maaltye in die afgodstempels. Altwee is meer as net ’n maaltyd. Tydens die nagmaal vier jy die gemeenskap met Jesus Christus, en tydens die heidense maaltyd vier jy gemeenskap met die afgode. Daarom kan jy nie die beker van die Here en die beker van die duiwel drink nie. Daarom kan jy ook nie aan die tafel van die Here en aan die tafel van die duiwel deelneem nie. Hulle staan radikaal teenoor mekaar en kan nie saamgaan nie.

Gemeente, hier wys Paulus duidelik wat die heilige nagmaal is. Dit is nie net ’n herdenkingsmaaltyd om jou aan Christus se dood te herinner nie. Nee, dit is ’n
gemeenskapsmaaltyd, waartydens jy die gemeenskap met Jesus Christus vier.

Jesus Christus is die Heer van hierdie maaltyd, die gasheer. Daarom praat Paulus ook van die tafel van die Here, en die beker van die Here. As gasheer, nooi Jesus Christus jou uit na sy maaltyd. Hy wil saam met jou aan die tafel aansit. Hy wil met jou gemeenskap ervaar.

Maar gemeente, Jesus Christus is eintlik ’n baie spesiale gasheer. Hy nooi jou nie slegs na sy tafel uit nie. Hy gee homself ook as spys en drank aan daardie tafel. Deur die brood en wyn wys hy na sy offer aan die kruis. Jy mag geniet van daardie gawe deur die brood en wyn. Jy mag die liggaam van Christus eet en Sy bloed drink. Ja, so sterk mag dit uitgedruk word. Die Bybel, ja, Christus, stel dit ook so sterk wanneer Hy sê: Dit is my liggaam, vir jou.

Nee, dit beteken nie dat die gewone brood verander na Sy liggaam nie. Christus wil die brood gebruik om jou met Hom te verenig. Brood en wyn bly tekens. Maar tekens waarin Christus self teenwoordig is met die Gees. Tekens waarin Hy Homself gee.

Die Kategismus gebruik intieme woorde om die eenheid met Christus aan te gee. "Ons word so met Christus se liggaam verenig dat ons vlees van sy vlees en been van sy gebeente is." Hier word die heilige nagmaal as gemeenskapsfees in ’n verrassende lig geplaas. Want waar vind ons hierdie woorde in die Skrif? En in watter verband? In Genesis 2, in die eerste huwelikslied van Adam. Wanneer Adam sy vrou uit God se hand ontvang, jubel hy: "Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees."

Die apostel Paulus neem daardie lied oor in Efesiërs 5. Daar skryf Paulus oor die huwelik tussen man en vrou. Oor die sterk band wat hulle verbind. Hulle is een. Op so ’n manier dat jy hulle nie meer as los individue kan sien nie. As jy met een te doen kry, het jy ook met die ander te doen. Hulle is een vlees. Hulle vorm een lewe, ’n twee-eenheid.

Wanneer Paulus oor die huwelik tussen man en vrou praat, dink hy ook aan die liefdeband tussen Christus en Sy Kerk. Die kerk is tog die bruid van Christus? Wel, in daardie diepe eenheid tussen Christus en Sy Kerk kom die huwelikslied van die paradys tot vervulling. Die Kerk van Christus is vlees van Sy vlees en been van Sy gebeente.

Gemeente, by die nagmaal mag jy die diepte van daardie woorde ervaar en geniet. Dit is die fees van gemeenskap. Gemeenskap tussen Christus en Sy bruid.

Is dit egter nie oordrewe om so oor die nagmaal te praat nie? Wie ervaar so ’n hegte eenheid daar? Wie sou daar sing: Christus is nou vlees van my vlees en been van my gebeente?

Kom ons kyk eers mooi na die nagmaaltekens. Die tekens van brood en wyn. Tekens van Christus se liggaam en bloed. Word die eenheid met Christus nie duidelik uitgebeeld as jy daardie tekens neem en daarvan eet en drink nie? Hoe werk dit met jou daaglikse kos? Word die kos nie deel van jou liggaam nie? Dit word in jou liggaam opgeneem. Dit word deel van jou. Net so word alles wat jy drink ook deel van jou liggaam. Hierdie reël van jou daaglikse lewe word nou op die nagmaal toegepas. Wanneer jy in geloof die brood eet en uit die beker drink is jy verseker van die eenheid met Christus. Christus is een met jou. En jy is een met Hom. Dit is so seker as wat die brood en wyn in jou liggaam opgeneem word. Christus is inderdaad vlees van jou vlees en been van jou gebeente.

Maar, gemeente, hoe kan jy dit ervaar? Christus is tog ver weg in die hemel? Kan jy dan regtig met Hom verenig word? En verheug word in daardie diep band met Hom?

Die formulier wys tereg daarop: "Om met die ware hemelse brood, Christus, gevoed te word, moet ons nie net ons oë rig op die sigbare tekens van brood en wyn nie, maar ons harte ophef na die hemel waar Jesus Christus ons Voorspraak aan die regterhand van Sy hemelse Vader is."

Gemeente, hoekom word daardie eenheid met Christus dikwels nie feestelik aan die tafel ervaar nie? Sou dit wees omdat ons dikwels te besig is met dinge rondom ons, met onsself of met ander? Senuwees kan ’n rol speel. Jy kan dalk bang wees dat jy ’n flater begaan soos byvoorbeeld wyn mors voor so baie mense. Die stilte kan jou ook dalk ongemaklik maak. Of jy is dalk besig om te wonder wat ander van jou dink, of wat jy van ander dink.

Maar gemeente, wat as ek my aandag êrens anders rig, op Jesus Christus in die hemel? Is die stilte dan so erg? Is dit dan nie ’n fees as ek Hom in die hemel besig sien as my voorspraak nie? Is dit dan nie ’n fees as ek Hom hier op aarde besig sien om Sy gawes uit te deel nie?

In die hemel is Christus besig om vir my, sondaar, te pleit. Hier op aarde is Hy besig om die tekens en seëls van my verlossing aan my uit te deel. Ek ontvang die uiterlike tekens uit die hand van die predikant of uit die hand van ’n broeder of suster. Maar daaragter sien ek Christus besig. Hy is besig om Homself vir my te gee. Is dit nie iets om oor bly te wees nie?

En met watter doel gee Christus Homself in die tekens van brood en wyn? Dink maar aan daardie gewone brood. Jy eet brood om jou liggaam te onderhou. Om jouself te versterk. Om nuwe energie te verkry. Net so kom Jesus Christus na ons toe in die heilige nagmaal. Hy wil jou geloof voed en verkwik. Jou eenheid met Hom word uitgebeeld, bevestig. Alle twyfel kan verdwyn. Jy mag weer seker wees: Christus is in jou, en jy in Christus. Deur die Heilige Gees. Jy hoef nie alleen deur die lewe te gaan nie. Jy hoef nie in eie krag verder te gaan nie.

Dink terug aan die brood en wyn wat jy geneem, geëet en gedrink het. Die eenheid met Christus is so intiem dat alles wat Christus gedoen het vir jou geld. Jy is saam met Hom gekruisig, saam met Hom het jy gesterf. Saam met Christus is jy opgewek, lewend gemaak en saam met Hom verheerlik. Gemeente, gee dit jou nie nuwe krag en moed nie?

So ’n onbegryplike werklikheid moet jou êrens raak. Op hierdie manier is Christus besig met jou, om jou geloof te onderhou. Jy put jou krag uit Christus alleen. Uit sy oorvloed. Net soos ’n loot sap uit die wynstok put. Want sonder Hom is jy tot niks in staat nie.

Broeders en susters, ervaar julle die heilige nagmaal ook op hierdie manier? Beteken die heilige nagmaal werklik iets vir jou? Dit kan net gebeur as jy fokus op Christus, jou Verlosser. As jy in geloof Christus besig sien – in die hemel – maar ook hier op aarde, deur sy Gees. Dan kan jy verheug wees oor jou gemeenskap met Christus.

En dan gebeur die tweede deel amper outomaties: die gemeenskap met mekaar. As jy jou rykdom in Christus ken, kan jy ook aanklank vind by jou broeders en susters. Jy is immers nie alleen ryk nie. Die gemeenskap met Christus is nie net ’n persoonlike saak nie. Julle sit nie aan die tafel as individuele wat net vir julleself omgee nie.

Dit is opvallend dat Paulus skielik hierdie aspek noem in 1 Kor 10:17. In vers 16 praat hy oor die deelname of gemeenskap met die bloed en liggaam van Christus. Dan vervolg hy: "Omdat dit één brood is, is ons almal één liggaam, want ons het almal deel aan die een brood." ’n Merkwaardige oorgang. Ook ’n betekenisvolle oorgang. Paulus praat nie meer oor Christus se gebroke liggaam nie maar oor die kerk as liggaam. Ons, wat baie is, as lede van die Kerk van Christus, vorm een liggaam, naamlik Christus se liggaam.

Ek ontvang die gemeenskap met Christus in die gemeenskap van die Kerk. In die gemeenskap van die één liggaam wat saam eet van die een brood en saam drink uit die een beker.

Jy is nie alleen nie. Jy vier nie die nagmaal alleen nie. Nee, jy vier dit as lid van Christus se liggaam. Christus kom as bruidegom na sy bruid. En die bruid is nie net jy nie. Jy is bruid saam met ander. Saam met die ander is jy op pad na die bruilofsfees van die Lam.

Jy mag saam met ander geniet van Christus se weldade. Vergewing van sondes en die ewige lewe. Waardeur word ons verenig? Paulus skryf: "Want ons het almal deel aan die een brood." Ons het almal Christus nodig. Ons is almal sondaars, wat na die tafel toegaan om ons verlossing buite onsself, in Christus, te soek. Ons neem almal van die brood en wyn. Ons deel almal aan Christus se weldade. Dit verenig ons. Wie sou dan nie bly wees by die gemeenskapsmaaltyd nie?

Tog kan dit gebeur dat party mense nie werklik die gemeenskap saam met hulle mede broeders en susters kan geniet nie? hoekom? Kan individualisme nie dalk die oorsaak daarvan wees nie? Die gedagte dat dit net gaan oor jou persoonlike band met Christus, waarby ander nie so belangrik is nie? Kan dit aan so ’n gemeenskaplike maaltyd? Terwyl jy van dieselfde brood eet en deel het aan dieselfde Here?

Kan die gebrek aan vreugde nie dalk wees agv die feit dat jy die sondes en swakhede van ander duidelik raaksien nie? Gebreke wat jy nie versin het nie, maar wat werklik probleme is. Wat het jy egter gedoen om die ander te help in sy of haar stryd teen die sonde? As ’n liefdevolle en sorgsame broeder of suster? En het jy ook daaroor nagedink wat jy self by die tafel maak? Het jy gekom omdat jy self so goed was? Jy het mos gekom om van die brood te eet en van die beker te drink? Om jou lewe buite jouself in Christus te soek? Dis wat ons verenig aan die
tafel.. Saam soek en ontvang ons ons lewe buite onsself in Jesus Christus. Ons getuig saam dat ons uit genade alleen gered word. Dis elke keer weer ’n geweldige ervaring.

Gemeente, laat ons bly wees dat ons nie die enigste sondaars is waarmee Christus gemeenskap wil hê nie. Is dit nie ’n groot wonder dat die gemeente bestaan nie? Sou ek nie verwonderd wees oor die onbegryplike genade wat ek saam met ander mag ontvang nie? Wat ’n fees om één in Christus te wees!

By elke nagmaal leer ons om mekaar, alle broeders en susters, as geskenke van bo te ontvang; geliefdes. Geliefdes in die Here. Daarom, gemeente, moet ons probeer om van elke nagmaal ’n fees te maak. Die nagmaal is werklik iets om te vier. Dit is ’n
gemeenskapsmaaltyd. Gemeenskap met die Here en gemeenskap met mekaar. Daarin mag jy jou verheug. Daarin moet jy ook verheug wees. Julle is immers saam op pad na die bruilofsmaal van die Lam.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)