Christus se skrywe aan die gemeente van Thiatire.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2003-08-24
Teks: 
Openbaring 2
Preek Inhoud: 

Openbaring 2:18-29

Ds. C. Kleyn - Sondag 24 Augustus 2003

Lees: Handelinge 15:1-21,28,29; Openbaring 2:18-29.
Sing: Ps. 67:1; Ps. 65:2,3; Ps. 67:2,3; SB. 41;
Ps. 9:6,7

Tema: Christus se skrywe aan die gemeente van Thiatire.

  1. die situasie van die gemeente;
  2. die verleiding van Isebel; en
  3. die belofte vir die getroues.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Christus stel homself voor as die alwetende en almagtige
Koning. "Dit sê die Seun van God wat oë het soos ’n
vuurvlam en sy voete is soos blink koper." Die Seun van God
– die titel herinner ons aan die messiaanse koning van Ps 2,
’n Psalm wat aan die slot van hierdie brief aangehaal word.

Hy het oë soos ’n vuurvlam. Sy oë dring deur alles heen.
Hulle ontbloot die diepste gedagtes. Niks ontgaan hom nie. Sy oë
verteer alles wat sy heiligheid nie kan verdra nie. Hy het ook
voete soos blink koper. Hy is in staat om die magtigste vyand te
vertree. Niemand kan met Hom ’n speletjie speel nie. Niemand
kan hom mislei nie. En niemand kan sy oordeel verdra nie. Hy is
die alwetende en almagtige Koning.

So stel die Here Jesus homself voor aan die gemeente van
Thiatire. Dis hoe hy kerkvisitasie kom bring.

Ek verkondig vir julle: Christus se skrywe aan die gemeente
van Thiatire.

  1. die situasie van die gemeente
  2. die verleiding van Isebel
  3. die belofte vir die getroues

Ook in hierdie brief begin Christus met ’n blyk van
waardering. Dit val des te meer op wanneer jy bedink hoe ernstig
Christus die gemeente moet aanspreek. Tog soos in die ander
briewe, eers waardering vir dit wat positief is. Eers daarna
kritiek. Dis iets waarvan ons kan leer. Hoe gaan die dikwels
wanneer ons krities is oor ’n bepaalde saak of persoon?
Binne korte tyd het ons niks anders as kritiek nie. Die positiewe
dinge word nie meer raakgesien nie. Ons kan slegs kritiseer. Om
waardering uit te spreek lyk by tye baie moeilik of onmoontlik te
wees. Met as gevolg dat ons die persoon net ontmoedig pleks om
hom of haar te bemoedig.

Hoe anders is die benadering van ons groot Leermeester en
Herder Jesus Christus. Hy leer ons die pastorale benadering.
Ondanks al die kritiek vergeet Hy nie die positiewe dinge wat
daar nog is nie. Ondanks sy besware vergeet Hy nie om sy
waardering eers uit te spreek nie. Sodat die hoorders nie
ontmoedig nie, maar juis bemoedig word om voort te gaan met dit
wat goed is.

Christus begin om mooi eienskappe te noem. Ek ken jou werke,
naamlik jou liefde en diens en geloof en lydsaamheid. Hierdie
deugde hang nou saam. Hul liefde vir God en sy koninkryk word in
diens gewys. Hulle is bereid om mekaar te dien. As iemand ly of
in nood verkeer, dan is hulle daar om te help en te ondersteun.
Die gemeenskap van die heiliges funksioneer goed. Liefde is
sigbaar in woord en daad. Die lidmate soek nie eers hul eie
belange nie, maar die van hul mede broers en susters.

Naas die liefde en diens noem Christus ook hul geloof wat hom
wys in lydsaamheid. Hulle moes ly vir hul geloof in Jesus
Christus. Laster en teenstand verdra. Maar hulle het volhard. In
’n samelewing waarin mense dit dwaas ag om Jesus Christus te
dien, hou hulle vas aan hulle geloof.

Dis skitterende eienskappe. Baie ampsdraers en lidmate sou so
’n gemeente beny. Wie sou nie verlang na so ’n
entoesiaste gemeente nie wat deur liefde, diensvaardigheid,
geloof en volharding gekenmerk word nie. So ’n gemeente
waarin liefde in woord en daad sigbaar is en waarin mense volhard
in hul geloof ondanks die druk van de samelewing. Ja, wie sou nie
verlang na ’n gemeente wat geestelik groei nie? Want dit is
wat Christus ook in die gemeente sien. Hy noem dat die laaste
werke meer is as die eerste. Daar is dus ’n groei in liefde,
diens, geloof en volharding. Is dit nie die soort gemeente wat
’n mens soek nie?

Maar geliefdes, daar is ook ’n ander kant van die saak.
Die Here het ook iets teen die gemeente, ’n baie ernstige
saak. "Ek het enkele dinge teen jou, dat jy die vrou Isebel,
wat haarself ’n profetes noem, toelaat om te leer en my
diensknegte te verlei." Die gemeente tolereer dwaalleer wat
blykbaar ook ingang in die gemeente vind.

Op die eerste gesig sou mens kan dink dat die Thiatire
gemeente gelyk is aan die gemeente van Pergamum. Daar is
duidelike ooreenkomste. Oor albei gemeentes sê Christus dat hul
volhard in hul geloof, terwyl hulle gelyktydig valse leraars
tolereer. Wat is dan die spesifieke kenmerk van die gemeente van
Thiatire? Is dit soos in die Pergamum gemeente dat sy nalatig is
in die beoefening van die tug?

As ons nader let op die gemeente, dan sien ons ’n
duidelik kontras met die gemeente van Efese. Julle herinner
miskien nog dat die gemeente van Efese suiwer in die leer en in
die tug was. Dit was no 1. Hulle het skerp onderskei tussen waar
en vals. Die valse leraars is ontmasker en uitgeban. Maar
Christus het teen hulle dat hulle hul eerste liefde verlaat het.
Dit het kil en hard in die kerk geword. Die lidmate het nie
langer die dinge uit liefde gedoen nie soos voorheen, uit liefde
vir God en die naaste.

In Thiatire sien ons die teenoorgestelde. In Thiatire is die
liefde no 1. Let daarop dat Christus die liefde as eerste noem.
Ek ken jou werke, naamlik jou liefde en diens. Liefde in woord en
daad staan hoog aangeskryf. Mense is entoesiasties. En dit neem
toe, pleks van af te neem, soos in Efese gebeur het.

Hier is hulle egter in onderskeid met die Efese gemeente,
nalatig in die tug. Hulle tolereer ’n valse profetes. Hulle
laat haar begaan. Hulle stop haar verleiding nie. Die vraag kan
gestel word of hulle wel in staat is om die geeste goed te
onderskei. Kan hulle wel goed tussen waar en vals onderskei?
’n Deel van die gemeente laat hom lei deur Isebel se
misleiding. Vers 22 praat van hulle wat met haar owerspel bedryf,
hulle wat deur haar verlei is, in teenstelling tot die ander wat
hierdie leer nie het nie (vers 24).

Lidmate is blykbaar beïndruk deur hierdie profetes Isebel.
Hoekom tolereer die lidmate Isebel en val hulle vir haar leer?
Ondanks hul liefde, geloof, diensvaardigheid en volharding?
Miskien vanweë hul liefde. Ons het reeds genoem dat hul liefde
en diensvaardigheid oorheersend is. Die liefde is no 1, die
liefde soos dit in diensvaardigheid gewys is. En as jy die liefde
te veel benadruk, kan die suiwerheid in die leer maklik na die
agtergrond skuif. Dan neig jy om te fokus op die ervaring ten
koste van die suiwere kennis van die Skrifte. Jy laat jou meer
lei deur jou gevoel pleks van deur die waarheid.

’n Mens sien dit in die geskiedenis van die kerk. Uit
reaksie teen dooie ortodoksie met sy oorbeklemtoning van die
leer, sien jy dikwels groepe of sektes opkom wat juis die
ervaring oorbeklemtoon. Wanneer in die kerke liefde en
entoesiasme ontbreek dan soek mense dit dikwels in die
entoesiaste beweging, ook al mag daar die leer minder suiwer wees.
Dink maar aan die aantrekkingskrag van die charismatiese en
Pinkster beweging.

So ’n liefde en entoesiasme is op sig pragtig,
prysenswaardig. Ons kan nog baie uit hierdie kringe leer. Maar as
die waarheid van God se woord nie goed bewaak en onderskei word
nie, is dit baie gevaarlik. Dit kan die probleem van die Thiatire
gemeente gewees het. Geloofservaring, liefde, diensvaardigheid is
pragtig, ja selfs onmisbaar. Maar die geloofservaring moet wel
aan die toets van die Skrif onderworpe bly. As jy dit nie doen
nie, word jy ontvanklik vir allerlei subjektiewe ervarings wat as
profesie voorgestel word. Dis wat gebeur het in Thiatire. Met hul
beklemtoning van liefde en diens het hulle ontvanklik geword vir
Isebel se valse profesie. "Dit luk Isebel om my diensknegte
te verlei", sê Christus, om te hoereer en afgodsoffers te
eet.

Broeders en susters, Hoe kan sulke dinge in die gemeente
getolereer word? Dis tog duidelik dat seksuele losbandigheid en
afgodery deur God verbied is? Ons kan ons moeilik voorstel dat
lidmate sou glo dat Isebel ’n profetes is en dat hulle haar
leer ernstig sou opneem nie.

Geliefdes, om dit te verstaan moet ons kyk na die samelewing
waarin hierdie mense geleef het. Anders as die vorige stede was
Thiatire geen stad wat bekend gestaan het vir sy tempels en
kultuur nie. Thiatire was by uitstek ’n nywerheidstad,
’n stad van handel. Dit was een van die grootste sentrums
waar tekstielware gemaak is. Linne, allerhande geweefde
materiaal, kledingstowwe, gordyne en matte is hier geproduseer.
Daar was ook groot fabrieke vir metaalwerke, o.a. yster en koper.
Wat in die samelewing ’n groot rol gespeel het was die
verskillende vakbonde. Elke ambag het sy eie vakbond gehad. As jy
êrens gewerk het, was jy outomaties ingedeel in een van die
vakbonde. As jy nie aan die kant gesit wou word, dan moes jy by
een van die vakbonde behoort. Sou jy dit weier, dan sou jy jou
werk of kliënte kan verloor.

In Thiatire het die christene te make met ’n sosiaal
ekonomiese probleem. Die groot vraag waarmee hulle daagliks moes
worstel was of hulle lid van sulke vakbonde kon bly. Mag jy
saamdoen of nie? Waarom is dit so ’n probleem? Hulle moet
tog leef en werk in die samelewing, binne die sosiale strukture?
En is dit nie ’n mooi geleentheid om as christene in die
organisasies te getuig nie?

Maar, broeders en susters, die saak is nie so onskuldig as dit
lyk nie. Die vakbonde het ’n duidelike godsdienstige
karakter gehad. Wat dit betref was die ongelowiges uit daardie
tyd baie duideliker en eerliker as die ongelowiges vandag. Vandag
hoor jy ongelowiges steeds praat van neutraliteit. Die
ongelowiges uit die verlede het eerlik erken dan niks neutraal
kan wees nie. Hulle het erken dat alles wat hulle gedoen het deur
hul godsdiens bepaal is. Hulle het erken dat hul hele lewe deur
die gode beheers was. Daarom was die vakbonde meestal aan ’n
sekere god gewy, ’n god wat as die beskermer van die vakbond
aanbid is.

Bowendien, die vakbonde het hul maaltye en feeste gehad waarin
allerlei heidense rituele in ag geneem is. Die kos wat geëet is,
was eers aan die afgod gewy. Die feeste het ook dikwels gelei tot
oormatige drankgebruik en seksuele losbandigheid. Dit was dus nie
’n onverskillige saak of jy by die vakbonde behoort het of
nie. As jy daarvan lid wou bly, moet jy volledig deelneem aan die
aktiwiteite, waaronder die aanbidding van die beskermgod.

Broeders en susters, julle moet besef dat die praktyke van
ontug en die eet van afgodeoffers in daardie tyd en samelewing
gewoon by die lewe behoort het. Seksuele omgang voor of buite die
huwelik is as normaal beskou. Ons is vandag terug na die situasie.
Ons huidige samelewing vertoon hierin opnuut die kenmerke van die
heidendom.

Die vraag is: moet jy as christen jou heeltemal onthou van
sulke algemeen aanvaarde praktyke? Dieselfde geld vir die eet van
kos wat aan die afgode geoffer is. Dit was in daardie tyd ook
gewoon deel van daardie lewe. Jy het daarmee te doen gehad in die
vakbonde, maar ook in jou kontakte met familie en vriende. Die
meeste van die familie feeste was soos die vakbond feeste
georganiseer. Sou jy jou daaraan onttrek, dan het dit ’n
radikale breuk met jou omgewing beteken. Dit het beteken dat jy
die bande met jou familie, vriende, kollegas verbreek het. Jy kom
aan die kant te staan. Jy kan jou werk verloor, jy word van
allerlei dinge uitgesluit, jy ly armoede.

Wel, in Thiatire was daar ’n vrou wat met ’n
oplossing vir daardie probleem gekom het. In die gees van die
Nikolaïete het sy geleer: bly gewoon lid van die heidense
organisasies. Die praktyk van die lewe vereis dit. En die Here
verbied dit nie. Die vrou bied haar leer dus aan as die Woord van
God, as profesie. Sy beweer dat sy ’n profetes is. Dat sy
openbaring van God ontvang het. En die gemeente vind dit blykbaar
moeilik om haar af te wys. Sy sê dat sy die Gees van God het.
Hoe moet jy weet of dit waar of vals is? Waarom kan sy nie ’n
openbaring van God ontvang het nie? ’n Deel van die gemeente
volg haar.

Onder die dekmantel van profesie kom hierdie vrou met ’n
nuwe teologie. Sy stel die aanpassing aan die heidense wêreld
voor as iets wat teologies korrek is. Sy skyn selfs so ver te
gaan dat sy die losbandigheid van die heidense feeste verdedig.
Dis vir christene nie verkeerd om by sulke feeste aan die vlees
toe te gee nie. So leer jy die dieptes van satan ken. Moontlik
het sy soos volg geredeneer: as jy wil weet hoe groot God se
genade is, dan moet jy eers daal na die dieptes van satan. Om
genade te waardeer moet jy weet wat in die wêreld aangaan en
moet jy dit proe. Dit klink vroom. Jy gee jou oor aan die sondige
begeertes van die vlees om die volgende oggend met ’n kater
op te staan. Maar dit is juis goed vir jou sodat jy des te meer
in die genade van God kan roem. So weet jy wat genade werklik
beteken. En onthou, jou vlees is nie meer jouself nie. Dit
behoort by die lae orde wat sal verdwyn. Wat belangrik is, is die
hoë orde: jou nuwe lewe in Christus.

Dis ’n briljante teologie. Briljant omdat dit loon. Nou
kan jy jou besigheid bedryf soos die ander burgers sonder om bang
te wees dat jy jou kliënte sal verloor. Jy word volkome aanvaar.
Jy kan handel bedryf sonder verhindering. En jy kan jou
christelike gewete sus.

Geliefdes, Christus ontmasker die huigelary. Hy wat oë het
soos ’n vuurvlam ontbloot elke valsheid. Hy noem die vrou
Isebel. ’n Veelseggende naam. Wat het die berugte vrou van
Koning Ahab gekenmerk? Dit, dat sy alles in haar vermoë gedoen
het om God se volk te verlei om die Baals te dien. Sy het die
sintese gepropageer, dat jy die diens aan die Here moet vermeng
met die diens aan die heidense afgode. Die sintese wat feitelik
beteken het dat die ware dien aan God alleen verdwyn het. So is
die vrou in Thiatire besig om die lidmate te verlei om die afgode
te dien pleks van die enige ware God.

Christus vel sy vonnis teen Isebel en haar volgelinge. Nou die
gemeente nalaat om op te tree, sal Christus in eie persoon optree.
Hy sal Isebel met siekte tref, haar kinders sal sterf. Haar
volgelinge, hulle die nuwe aanpassings teologie aanhang, sal deur
God in groot verdrukking gebring word, as hulle hul nie bekeer
nie. Wat ’n ontnugtering. Hulle – en dit geld ook vir
ons moderne samelewing – hulle het die nuwe teologie, die
nuwe vryheid gekies omdat dit vir hulle voordeel sou bring. Omdat
dit hulle van verdrukking sou bevry. Maar nou gebeur die
teenoorgestelde. Vanweë hul nuwe teologie sal hulle juis groot
verdrukking ly. Vanweë hul seksuele losbandigheid word baie
vandag deur geslagsiektes getref of deur vigs. Mense wil vry wees
om hul begeertes uit te leef. Christus laat hulle voel dat die
vryheid ’n mens uiteindelik skaad, verwoes.

Hierdie oordeel van die Here sal vir elke gemeente ’n les
wees: "en al die gemeentes sal weet dat dit Ek is wat niere
en harte deursoek" sê Christus. Die kerke sal weet dat sy oë
soos ’n vuurvlam deur al die godsdienstige maskers
deurdring, die maskers waaragter valse leraars probeer skuil.
Niemand kan Christus mislei nie. En Hy sal niemand toelaat om met
sy diens te speel nie. Met sy voete soos blink koper sal Hy sy
oordeel voltrek. Isebel en haar volgelinge mag hulleself wys maak
dat dit geen skade kan doen om die sonde te proe nie. Maar, sê
Christus. Ek sal aan elkeen van julle gee volgens sy werke. Ek
sal die sedeloos gedrag straf. Jou werke het dan rampsalige
gevolge.

Ten slotte het Christus nog ’n aparte boodskap vir die
getroues. Dis die derde gedagte.

"En Ek sê vir julle en die ander wat in Thiatire is,
almal wat hierdie leer nie het nie, en die wat die dieptes van
die satan, soos hulle dit noem, nie leer ken het nie: Ek sal op
julle geen ander las lê nie. Hou maar net vas wat julle het,
totdat Ek kom." Die enige las wat Christus op sy kerk lê is
die las wat Hy eerder in Handelinge 15 deur die apostels beskryf
het. Christene moet hulle onthou van die dinge wat deur die
afgode besoedel is en van hoerery. Daar is absoluut geen ruimte
vir die sintese nie. Die diens van die Here sluit alle
afgodediens uit. Jy kan geen gemeenskap met die Here hê en met
die afgode nie. Die twee kan nie saamgaan nie. Selfs nie wanneer
jou sosiaal ekonomiese situasie jou daartoe sou dring nie. Jy kan
nie God dien én bv die god van die vakbonde: die mammon, die
geldgod nie. Jy kan nie God dien én die seksgodin nie. Jy kan
nie God dien én die sportgod nie. Jy kan nie God dien én die
gode wat in ons samelewing hul aanbidding opeis nie.

Deur ’n radikale standpunt in te neem kom jy miskien aan
die kant te staan. Allerlei moontlikhede word jou miskien ontneem.
Dit kan beteken dat jy afgedank word, uitgesluit word. Die
heidendom kan spelbrekers nie gebruik nie. Hulle wat nie bereid
is om hulle heeltemal aan die groep aan te pas, word
gediskwalifiseer.

Christus laat egter die groot prentjie sien. Die posisies sal
eendag omgekeer word. Die groep gelowiges wat volhard teenoor die
oormag van ’n heidense samelewing, ontvang die belofte dat
hulle mag oor die nasies sal hê. Vandag word jy verneder, maar
jy sal gaan heers. Die vervolgdes sal regeer. Jy sal deel in die
oorwinning van Christus.

Wanneer ek sterf en uiteindelik wanneer Christus terugkom sal
ek oor die nasies wat my vandag verdruk, regeer met ’n
ysterstaf. Ek sal hulle soos erdegoed verbrysel. Hulle wat nou
soveel invloed en mag het, sal dan blyk nikswerd te wees. En ek
as gelowige sal die simbool van mag ontvang, die morester, die
teken van die nuwe dag, wat die oorwinning volg.

Geliefdes, ons verkeer nou nog midde in die stryd. God vra een
ding van ons: om ons te onthou van alle ou en moderne afgodery.
Dit kan jou baie kos: jou sosiale kontakte, jou werk, jou
kontrakte. Hoe massale die afgodery, hoe minder tolerant sal
mense wees. En die verleiding is groot om maar net ’n klein
bietjie saam te doen om jou posisie en besigheid te red. Om
’n klein bietjie toe te gee sodat jy nie heeltemal
uitgesluit word nie.

Vandag is daar ook mense wat met ’n teologiese oplossing
probeer kom. Dis tog nie so sleg nie. God verbied dit nie. God is
mos ’n God van liefde. Solank as jy ander nie daarmee skaad
nie.

Maar as jy eenmaal gehoor het wat die Gees aan die gemeentes sê,
dan hou jy vol: nooit. Nooit wil ek my stort in die dieptes van
satan nie. Ek sal nie toegee aan sedeloosheid en afgodery nie.
Jesus Christus het my van die blinde slawerny verlos. Deur Hom is
ek profeet, priester en koning. Daarom bid ons:

Lei ons nie in die donker land,

die wêreld van versoeking , want

ons is so swak. Verlos ons van

die Bose as hy sy vangnet span

Want U kom toe die majesteit

En krag en eer in ewigheid.

(SB 28:4)

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief Ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)