Die Koning op die troon van Dawid kom as Regter.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2003-12-21
Teks: 
Jesaja 11
Preek Inhoud: 

Jesaja 11:2-5

Ds. C. Kleijn - Sondag 21 Desember 2003

Lees: Jesaja 11.
Sing: Ps. 96:1,2; Ps. 139:1,12; Ps. 72:1,2;
SB. 16:1,4-6; Ps. 96:6-8.

Tema: Die Koning op die troon van Dawid kom as Regter.

  1. Hy is ’n volmaakte regter;
  2. Hy is ’n bevrydende regter; en
  3. Hy is ’n regverdige regter.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Rondom die Kersdag is daar altyd die neiging om Jesus Christus
voor te stel as ’n lieflike persoon. ’n Mens hoor niks
anders as woorde van liefde en vrede wat Hy kom bring. In die
huise en in die winkelsentra word ’n romantiese sfeer geskep.
Dit word gesien as ’n fees van liefde en vrede. ’n
Vrolike en blye fees. So word die woorde na ons teks oor die
vrederyk wel gretig aangegryp. Die beeld van die wolf wat saam by
die skaap wei en die luiperd wat by die bokkie gaan lê spreek
wel aan.

Wat egter vergeet word is dat die liefde en vrede nie vir
elkeen sonder uitsondering is nie. Luister maar na die woorde van
ons teks. Die woorde van oordeel en gerig. Die woorde word
liewers verswyg. Dit pas nie by die romantiese kerssfeer nie.
Merkwaardig is egter dat die beloofde Messias juis as Regter
aangekondig word. Wat kom die wonderlik takkie uit die stomp van
Isai in die wêreld doen? Hy kom om te rig. Hy kom om die werk
van ’n regter-koning doen. Hy kom om die verbondsreg tot
gelding te bring. En dit beteken nie net bevryding maar ook
veroordeling.

By die voorstelling van die beloofde kind in die tempel het
Simeon daarvan gepraat: Kyk, hierdie Kind is bestemd tot ’n
val en ’n opstanding van baie in Israel (Lukas 2:34).
Jesus self het later ook gesê: Moenie dink dat Ek gekom het om
vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te
bring nie, maar die swaard. Want Ek het gekom om tweedrag te
verwek tussen ’n man en sy vader, en tussen ’n dogter
en haar moeder en ’n skoondogter en haar skoonmoeder. En
’n mens se huisgenote sal sy vyande wees (Matthéüs 10:34-36).

Christus se koms op aarde is dus werklik nie net lieflik en
vredig soos gewoonlik voorgestel word nie. Sy koms is ’n
hoogs ernstige saak. Hy bring die swaard. Hy bring skeiding
tussen die mense. Hy kom as Regter.

Ek verkondig vir julle: die Koning op die troon van Dawid kom
as Regter.

Hy is:

  1. ’n volmaakte regter
  2. ’n bevrydende regter
  3. ’n regverdige regter

Daar gaan wat gebeur wanneer die beloofde koning verskyn. Dan
val die beslissings. Hy kom immers as Regter. Hy verskyn as
koning van die reg. En dan kom hy nie allereers reg spreek oor
die volke nie, maar Hy kom allereers onder die verbondsvolk, die
kerk, die reg tot gelding bring. Dit gaan wat word. Die ou norme
herstel in ’n gemeenskap wat daarvan afgewyk het. Jesaja kon
daaroor meepraat. Hoe het die verbondsvolk van die reg afgewyk.
Die reg van die kwesbares, soos die wees en weduwee, word vertrap.
Korrupsie en omkopery is aan die orde van die dag. Vir ’n
omkoopgeskenk word die skuldige regverdig verklaar en die reg van
die regverdige hom ontneem (Jesaja 5:23). En wanneer Jesus
verskyn, is dit nie beter nie. Inteendeel. Die oordeel moet begin
by die huis van God. Alles moet skoon gevee word. Die
tweesnydende skerp swaard van die koning moet daar deurheen. Die
profeet Maleagi het dan ook uitgeroep: "Maar wie kan die dag
van sy koms verdra? En wie kan standhou as Hy verskyn? Want Hy
sal wees soos die vuur van die smelter en soos die loog van die
wassers" (Maleági 3:2). Hy sal die vuil en die
ongeregtigheid aan die oppervlakte bring.

Wie kan die dag van sy koms verdra? Watter sondige
verbondskind kan bestaan wanneer Hy verskyn?

Hierdie regter is nie sommer enigiemand nie. Nie sommer ’n
regter nie. Hy is ’n volmaakte regter. Die volheid van die
Gees van die Here rus op Hom. Ons lees in vers 2: "en
op Hom sal die Gees van die HERE rus, die Gees van wysheid en
verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en
van die vrees van die Here." Die begaafdheid van hierdie
regter-koning is soos die menora, die sewearmige kandelaar. Regop
in die midde staan die Gees van die Here. Aan weerskante is daar
drie ligte wat daaraan ontspring.

As ons die beeldspraak aanhou dan sien ons as eerste die
buitenste paar arme: die Gees van wysheid en verstand. Die Gees
skenk hom die vermoë om die regte besluite op die regte tyd te
neem. Die vermoë om die situasies goed in te skat en skerp te
onderskei tussen goed en kwaad. Helder insig in die lewe, in die
sake waaroor hy moet regspreek, in die aard van die mens. So lees
ons in Johannes 2:25 dat Jesus Christus nie nodig gehad het
dat iemand van die mens sou getuig nie; want Hy self het geweet
wat in die mens is.

So kom ons by die tweede paar arms: die Gees van raad en
sterkte. Hy is nooit raadop nie. Vir elke situasie weet Hy ’n
goeie plan te bedink Saam met die raad het Hy ook die vermoë om
dit uit te voer. Ons word herinner aan die pragtige name wat
Jesaja reeds eerder vir die Messias gegee het: Wonderbare
Raadsman en sterke God.

Ten slotte, die laaste paar arms, aan weerskante van die
sentrale arm: die Gees van kennis en van die vrees van die Here.
Alles wat tot nou toe genoem is, is gewortel in die kennis en
vrees van die Here. Hy ken die Vader en dien die Vader soos geen
ander nie. Hy leef in ’n innige verhouding met die Vader. Hy
het volmaakte liefde vir die Vader. Dis sy lus en lewe om die wil
van sy Vader te doen. Daarom volg daar in vers 3a: en Hy het
’n welgevalle aan die vrees van die Here. Sy hele persoon,
al sy gedagtes, woorde en dade is gerig op sy Vader. Hoe
opvallend is hierdie Regter-Koning. Werklik ’n volmaakte
regter. Wat ’n kontras met alle aardse leiers.

So vervolg Jesaja dan ook: Hy sal nie regspreek na wat sy oë
sien nie, en nie oordeel na wat sy ore hoor nie. Aardse regters
is afhanklik van wat hulle oë sien en hul ore hoor. Hulle kan
nie verder as die bewysbare feite gaan nie, die openbare
getuienisse. Hierdie regter sal egter nie afhanklik wees van wat
hy sein en hoor nie. Hy het geen menslike getuienis nodig nie,
want Hy weet wat in die mens is. Daarom kan geen bedrieglikheid
Hom mislei nie. ’n Verkeerde voorstelling van sake word deur
Hom onmiddellik onderken. Hy sal dwars deur mooi en skoon skyn
heenstoot na die waarheid. Hy deursien die man en vrou wat ’n
pragtige vertoning opsit. Sy oor luister skerp. Daarom maak
’n mooi verhaal geen indruk op Hom nie. Hy kyk daardeur heen.
Hy hoor die onwaarhede wat daarin skuil, hoe goed jy dit ook dink
te kan kamoefleer.

Dis broeders en susters, ’n waarskuwing vir elkeen van
ons. Die Heiland kyk deur al die godsdienstigheid wat mense kan
beïndruk en meesleep heen. Hy deursien ook alle onsuiwere
motiewe in die stryd vir die waarheid. Hierdie regter los niemand
uit nie. Hy deurgrond die hart van elke verbondskind, ja van elke
mensekind. Hy stoot deur na die volle waarheid. Alle mooi skyn,
kamoeflage verdwyn as sneeu vir die son. Met mooi woorde bly ons
by Hom nêrens. Besef daarom die groot erns van die verskyning
van Jesus Christus. Niemand kan agter mooi woorde, agter ander
mense se sonde skuil nie. Jou diepste gedagtes en motiewe lê vir
Hom oop en bloot. As die verskyning van die Here maar geen
ontnugtering vir ons blyk te wees nie. As Hy maar nie ons
aanklaer hoef te wees nie pleks van ons verlosser. Ware geloof
laat ons ootmoedig met Psalm 139 sing: Deurgrond, o Here en
ken die swart, verborge dieptes van my hart; of diep in my, waar
U kan lees, ’n skadelike weg mag wees. En lei voortaan my
wank’le skrede tog op die weg van eewge vrede.

In die twee punt wil ons sien dat die regter ’n
bevrydende regter is.

Hoe is dit moontlik, sou ’n mens se. Die vrae van Maleagi
is tog ernstige werklikheid: Wie kan die dag van sy koms verdra?
En wie kan standhou as Hy verskyn? Voor sulke deurdringende oë
van daardie regter bly ek tog nêrens? Tog blyk dit dat dit die
Regter allereers gaan om sy verlossende reg.

"Aan die armes sal Hy in geregtigheid reg doen en die
sagmoediges van die land met billikheid oordeel." Hy kom om
armes en sagmoediges te bevry.

Wie is dan die armes en sagmoediges? Dit is die vromes wat nou
nog onder druk lewe. Hulle verkeer nog in die nood, dikwels vanweë
die onreg wat hulle aangedoen word. Of as gevolg van die oordeel
wat God oor sy afvallige volk laat kom. Maar hulle dra hul nood
op die regte manier. Hulle is nie opstandig nie, maar hulle hoop
op God, hulle verwag dit van die Here.

Maria het van die oormoediges gesing in haar lied: Maghebbers
het Hy van trone afgeruk en nederiges verhoog. Die armes waar Jes
van praat is die nederiges. Mense wat hier op aarde dikwels nie
baie ryk is nie, mense wat dikwels sosiaal gesien gering is, maar
wat hulle veral klein en gering teenoor die Here weet. Hulle
praat nie groot van hulleself nie. Hulle dink nie allereers aan
hul eie regte nie. Hulle neem ook nie die reg in eie hande nie.
Hulle weet dat hulle van God afhanklik is en stel hul vertroue op
Hom.

Wel, die ootmoediges gaan die Messias verlossend rig. Hy gaan
hulle reg herstel en hulle verhef. Hy haal hulle onder die druk
waarmee die hoogmoedige goddeloses hulle verdruk, vandaan.

Wanneer Maria daarvan sing dan sing sy van die Messiaanse
werklikheid asof dit reeds geskied het. Hoogmoediges in die
gedagtes van hulle hart het Hy verstrooi….en nederiges
verhoog. Die wonderlike begin by haar – sy dra immers die
beloofde koning in haar skoot – die wonderlike begin is vir
haar ’n waarborg van die voltooiing van God se
verlossingswerk. Sy sing in die verlede tyd. So seker is sy van
God se saak.

Die ootmoediges ontvang dikwels nou nog nie hul reg nie. Hulle
word geïgnoreer of verag, of selfs vervolg. Na die stem van die
getroue Christene word nie geluister nie. Hulle word oorstem deur
die geskreeu van die valse Christendom. Ja na die geskreeu word
wel geluister omdat dit aansluit by die grootspraak en hoogmoed
van die massa. Christus sê in sy bergrede: Salig is die wat arm
van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.
Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe. Salig
is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan
hulle behoort die koninkryk van die hemele. Salig is julle
wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande
kwaad teen julle spreek om My ontwil. Verbly en verheug julle
omdat julle loon groot is in die hemel; want so het hulle die
profete vervolg wat voor julle gewees het."

Wat ’n pragtige vertroosting vir God se volk, ook in die
tyd waarin ons nou lewe. Alles word gedoen om die stryd van God
se getroue kinders belaglik te maak. Die sogenaamde wetenskaplike
teologie moet help om te wys hoe sleg die ouderwetse Christene
hul Bybel verstaan. Mense beredeneer alles op so ’n manier
dat God se gebooie heeltemal nie meer sê wat hulle bedoel was om
te sê nie. In die naam van die skynbare wetenskap word die
dwaasheid en onbarmhartigheid van wat die gemeente bely ten toon
gestel. En wat kan ons daarteen doen? Maar onthou, broeders en
susters, Christus rig in geregtigheid. Hy oordeel die sagmoediges
met billikheid. Hierdie regter is eerlik en opreg. Hy luister nie
na die massa nie, Hy kyk nie met een oog na die massa nie om die
reg van die ootmoediges daarna te buig nie om so politiek korrek
te wees nie. Sy regspraak stel die ootmoediges, die getroue
kinders van God in die gelyk, nou reeds deur sy woord en later by
sy wederkoms in die openbaar wanneer die saak van die getroues
bekend sal word as die saak van die Messias self.

Maar gemeente, hoe kan die deurdringende regspraak vir die
ootmoediges ’n bevrydende regspraak wees? Die ootmoediges,
die ware gelowiges is tog ook met sondes bevlek?

Die geheim van die verlossende regspraak lê in die term
"geregtigheid". Hy sal in geregtigheid reg doen. En
later sal Jes dit nog eers benadruk: Geregtigheid sal die gordel
van sy lendene en trou die gordel van sy heupe wees. Hierdie
regter is ’n regverdige regter, die derde punt. Die optrede
van hierdie regter sal hom kenmerk deur geregtigheid en trou.

En dit wil sê: hierdie regter sal die verbonds- eise en
beloftes in ag neem. By Hom en deur Hom sal die hele verbond tot
sy reg kom. Christus sê dan self ook: "Moenie dink dat Ek
gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie
gekom om te ontbind nie, maar om te vervul." Om te vervul:
by Hom kry die wet, die verbondsreg eindelik die syne. Hy gee die
wet die volle som. Daarom kan Hy die verbondsheil waaroor die
profete praat ook aan die ootmoediges uitdeel. In die
saligsprekings word dit genoem: salig is die wat honger en dors
na die geregtigheid, want hulle sal versadig word.

Ek kan die verskyning van die Regter verdra, nie omdat ek in
my hart en wandel vlekkeloos sou wees nie, maar omdat ek die
geregtigheid in Christus soek. Die ootmoediges besef hul eie
sondigheid en nietigheid, die ootmoedige verneder hom onder die
hand van die Here en verwag alles van Hom. Hy beywer hom nie vir
eie regte nie, maar hy hunker na die reg wat hy uit genade
ontvang. Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid wat
in Christus geskenk word, want hulle sal versadig word.

Hierdie regverdige regspraak van die Christus het egter ook as
keersy dat dit vernietigend is vir al sy vyande.

"Sion sal deur strafgerig verlos word en die van hom wat
terugkeer, deur geregtigheid. Maar daar sal verbreking wees van
die oortreders en die sondaars almal saam," sê Jesaja in
hoofstuk 1:28, en "die wat die Here verlaat, sal omkom."
Dis ’n hoogs ernstige boodskap vir die afvallige volk van
God. Die oordeel begin by die huis van God. So verwys ook Maria
in die eerste plek na die vernedering van die hoogmoediges in
Israel, om te begin by Jerusalem.: skrifgeleerdes en Fariseërs
kom bv onder die oordeel. Christus slaan hulle met die roede van
sy mond. Lees maar die agvoudige wee julle, skrifgeleerdes en
Fariseërs in Matthéüs 23. Christus kom met sy
vernietigende oordeel.

Die oordeel is nie beperk tot die ontroue verbondsvolk nie. Hy
sal die aarde slaan met die roede van sy mond en met die asem van
sy lippe die goddelose doodmaak. Die woord van die messias Regter
word voorgestel as ’n roede waarmee geslaan word. In
Openbaring word van die Christus gesê dat ’n skerp
tweesnydende swaard uit sy mond uitgaan. Die woord wat van Hom
uitgaan is ’n swaard, ’n roede. Daarmee slaan Hy en
verslaan Hy. Die woord kan dodelik wees. Die woord is dodelik as
jy jou nie daaraan onderwerp nie.

Die woord word op die aarde gehoor. Die aarde is immers die
opstandige gebied. Vanweë die sonde en afval moet nog geslaan
word. Alle goddeloosheid en goddeloses moet verslaan word.

Broeders en susters, moenie die vervulling van hierdie woorde
uitstel na Christus se wederkoms nie. Tydens Christus se
omwandeling op aarde het die woord reeds geslaan. Wie die woord
nie aanvaar het, het daarmee sy vonnis ontvang: "Hy wat nie
glo nie, is alreeds veroordeel" sê Christus. en van die
Heilige Gees sê Hy: "as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig
van sonde en van geregtigheid en van oordeel" (Johannes 16:8).

Die woord van Christus wat Hy aan sy gemeente gegee het, is in
die geskiedenis ’n magtige swaard, wat die sonde ontmasker
en veroordeel. Goddeloses, hulle wat in hul sonde volhard,
ontvang hul doodsvonnis. Ook vandag wanneer die woord getrou
verkondig word. En uiteindelik by Christus se wederkoms sal die
vonnis definitief uitgevoer word. Die goddeloses wat nog nie
gestraf word nie, wat nou nog kans sien om die reg van die
ootmoediges te vertrap, sal vir goed uitgeskakel word. So praat
God in 2 Thessalonicense 2:8 van die vernietiging van
die wettelose by Christus se wederkoms: "Dan sal die
ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy
mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet
sal maak." Die hoogmoediges word in ’n oogwenk gevel.
Hoogmoediges word van hul troon afgeruk en nederiges verhoog.

Daarom is die gedagte aan die oordeel vir die oortreders en
goddeloses met reg ontsettend en skrikwekkend, maar vir die
vromes en uitverkorenes begeerlik en troosryk. Want dan sal jou
volle verlossing voltooi word, jou reg vir goed herstel word.

Gemeente laat ons by ons herdenking van die geboorte van
Christus hierdie erns van Christus se verskyning goed voor oë
hou. Dis werklik nie alles pais en vree rondom die geboorte van
Christus nie. Christus se koms is nie net liefde en vrede nie. Hy
het gekom nie net om vrede te bring nie, maar ook die swaard. Hy
het as Regter gekom om God se reg weer tot gelding te bring. En
daarmee het Hy gekom om skeiding onder die mense te bring. Aan
die een kant is dit: Salig is die sagmoediges, salig is die wat
honger en dors na die geregtigheid. Aan die ander kant is dit
egter: Wee die goddeloses, wee die huigelaars wat skuil agter
’n vrome vertoning.

Broeders en susters, laat ons in ware geloof as ootmoediges
ons Regter Koning uit die hemel verwag. Sy volmaakte,
deurdringende regspraak sal dan ’n verlossende regspraak
wees. Die sagmoediges sal die aarde beërwe. En die wat honger en
dors na die geregtigheid sal versadig word. Wie is mos die
volmaakte, regverdige regter koning? Is dit nie my verlosser nie
wat Hom tevore in my plek voor die regbank van God gestel en alle
vervloeking van my weggeneem het nie. Wie op Hom vertrou sal nie
beskaamd word nie. Reg sal geskied.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief Ds. C. Kleijn.

Liturgie: 

(kyk in preek)