Jesaja se visioen van God.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2004-01-25
Teks: 
Jesaja 6
Preek Inhoud: 

Jesaja 6:1-7

Ds C Kleyn - Sondag 25 Januarie 2004

Lees: Jesaja 40:12-31; Jesaja 6:1-7.
Sing: Ps 99:1,2; Ps 99:3-5; Ps 89:1,3; SB 34; Ps
93:1-4.

Tema: Jesaja se visioen van God.

  1. Wie is God?
  2. Hoe reageer die engele?
  3. Wie is ek?

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

 

Vanoggend het ons hier gekom om die Here God te ontmoet.
Momenteel is ons besig om in God se teenwoordigheid te aanbid.
Kan jy dit voorstel: om te aanbid in God se teenwoordigheid. Wat
is dit? Ja, wie is God? Sou jy nie graag God sien nie? Dis altyd
die moeite werd om ’n persoon met wie jy kontak het, fisies
te ontmoet. Dan weet jy met wie jy te make het. Jy weet dan hoe
hy of sy lyk. Dit help jou in sekere mate om te weet hoe hy of sy
is. Sou jy God nie graag sien nie? As jy Hom sien, dan weet jy
met wie jy te make het, wie jy aanbid.

Wel, gemeente, die profeet Jesaja het die voorreg gehad om God
te sien. En ons mag nou God deur sy oë sien, wanneer ek vir
julle verkondig: Jesaja se visioen van God. Ons let op drieërlei:

  1. Wie is God?
  2. Hoe reageer die engele?
  3. Wie is ek?

Jesaja kan weet wie God is. In die sterfjaar van koning Ussia
sien Hy God op ’n troon sit. Dit is vir hom ’n
oorweldigende ervaring, die ontmoeting met die lewende God. Dit
laat ’n blywende indruk op hom. Na die ontmoeting met God
praat hy voortdurend oor God as die heilige van Israel. Hy is
soseer beïndruk deur sy God dat hy in Jesaja 40 sê: By wie sou
julle God dan vergelyk? Kyk, die nasies is soos ’n druppel
aan die emmer, en soos ’n stoffie aan die weegskaal word
hulle gereken (vs 15). Niks en niemand kan met God vergelyk word
nie. Hy is die almagtige, die heilige.

Wat het Jesaja gesien? Hy sê: Ek het die Here sien sit op
’n hoë en verhewe troon, terwyl sy some die tempel gevul
het. So het Jesaja God gesien. Hy het gekyk en nogmaals gekyk en
verstaan: daar is die Here op ’n hoë en verhewe troon. Dis
opvallend dat hy God nie beskryf nie. Hy noem net die enorme
gewaad wat op die grond sleep en wat die hele tempel vul.

Wat beteken dit vir ons? Wanneer mense God sien dan sien hulle
dat Hy nie beskryf kan word nie, Hy is onbeskryflik. Hy is so
groot dat Hy ons voorstellingsvermoë oortref. Hy is groter as
groots. Daarom skryf Jesaja ook in hoofstuk 40:25: "By wie
sal julle My dan vergelyk, dat Ek net so kan wees, sê die
Heilige."

Broer, suster, hoe raak dit jou? Die Here sê: Kyk, dis hoe Ek
is. Ek oortref alle menslike voorstellingsvermoë en mate.
Bemoedig dit jou nie in jou geloof nie? In hoofstuk 28:29 sê
Jesaja: "die Here van die leërskare is wonderbaar van raad,
groot van beleid." Neem sy werk van verlossing toe Hy sy
Seun na die aarde gestuur het. Hy het sy mees dierbare Seun op
die kruis laat sterwe. Jesus Christus het gesterf vir elkeen wat
in Hom glo. Hy was al jou sondes weg. Wanneer ek nadink oor Jesus
Christus aan die kruis, sal die offer my met God versoen? Dis
iets wat ek nie kan bevat nie. Maar ons God is wonderbaar van
raad en groot van beleid.

Dit beteken ook dat ons God nie kan nareken nie. Die Here tree
op na die welbehae van sy wil. Dit beteken ook dat jy op God kan
staatmaak. By Hom is jy geborge. Dis dikwels een van die
moeilikste dinge vir ons mense. Ons wil graag self beheer oor die
dinge hê. En dan kan dit gebeur dat ons God ter verantwoording
roep. Waarom doen Hy dit of dat en waarom doen Hy dit so. Waarom
die moeite, teenslag in my lewe of in die kerk. Maar broer,
suster, moenie dink dat jy met jou klein gedagtes die
onvergelykbare God kan nareken nie. Met wie het jy immers te
make? Met die almagtige, soewereine God, waarvan Jesaja in
hoofstuk 40 vers 12-14 sê:

"Wie het die waters met die holte van sy hand afgemeet,
en van die hemele met 'n span die maat geneem, en in 'n drieling
die stof van die aarde opgevang, en die berge geweeg met 'n
weegtoestel en die heuwels met 'n weegskaal?

"Wie het die Gees van die HERE bestier en as sy raadsman
Hom onderrig?

"Met wie het Hy raad gehou, dat dié Hom verstand sou gee
en Hom sou leer aangaande die pad van die reg, en Hom kennis sou
leer en Hom bekend maak die weg van volledige insig?"

Durf jy God ter verantwoording te roep? Nee tog? Vertrou op
Hom, vertrou jouself aan Hom toe. Dit is wat Jesaja jou aanmoedig
om te doen wanneer hy sê: kyk ek het die Here sien sit in sy
grootheid en mag. Ja, ook in sy mag. Jesaja sien die Here as die
almagtige Koning, as die heerser oor alles. Hy sê in vers 5: my
oë het die Koning, die Here van die leërskare gesien. Ons God
het ’n leërskare van engele tot sy beskikking. Die herders
het iets daarvan gesien toe Jesus in Betlehem gebore is. Dikwels
laat die Bybel ons iets daarvan sien. Die koningskap van God en
sy leërskare van engele het ’n blywende indruk op Jesaja
gemaak. Hy het die Here van die leërskare sien sit op ’n hoë
en verhewe troon.

Wat impliseer dit? God het alle mag. Soos Jesaja dit later in
hoofstuk 40: 22,23 sê: "Hy sit bo die kring van die aarde,
en die bewoners daarvan is soos sprinkane; Hy span die hemele uit
soos 'n dun doek en sprei dit uit soos 'n tent om in te woon. Hy
maak die vorste tot niet, die heersers van die aarde verander Hy
in nietigheid."

Hier hoor jy ’n man praat wat voor die troon van God
gestaan het en met verwondering gekyk het. Ongelooflik! Al wat hy
kon sien was die enorme soom van God se koninklike mantel. Wat
’n grootheid, wat ’n mag! Dis hoe jou God is. So geld
die woorde van Jesaja 40:27,28: "Waarom sê jy dan, o Jakob,
en spreek jy, o Israel: My weg is vir die HERE verborge, en my
reg gaan by my God verby? Weet jy dit nie? Of het jy dit nie
gehoor nie? 'n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van
die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding
van sy verstand nie."

Geliefdes, ons is in God se hande. Hoe meer jy deur die
grootheid van God oorweldig word, hoe meer jou geloof kinderlik
word. Jy toon dan kinderlike ontsag en vertroue. Ons God is
onvergelykbaar. Ons kan Hom nie nareken nie. Ons God is die
magtigste in hemel en op aarde. Dit beteken ook dat God aangaan
met sy planne. Dit kom ook na vore wanneer die engele uitroep:
Heilig, heilig, heilig is die Here van die leërskare. Driemaal
heilig. Met ander woorde: allerheiligste is die Here. Daar is
niks en niemand heiliger as die Here nie. Hy is heilig in die
oortreffende trap. Wat beteken dit?

Wanneer die woord "heilig" vir die Here gebruik
word, dan beteken dit: onvergelykbaar. By wie sal julle My dan
vergelyk, dat Ek net so kan wees? Die woord "heilig"
beskryf dit wat God God maak. Sy uniekheid. Sy verhewe
goddelikheid.. Dit wat Hom van ons skepsels onderskei. Daarom kan
Hy in Hosea 11:9 sê: "want Ek is God en nie ’n mens
nie, die Heilige in jou midde." Dis wat dit is. Heilig wil sê
dat die Here God anders as ons is. Hy is groter en magtiger. Jy
verstaan onmiddellik dat jy as mens baie kleiner is. Nie god nie,
maar ’n sterflike skepsel.

Die woord heilig bepaal ons ook by God se afkeer van die sonde.
Hy kan die sonde nie verdra nie. Hy beywer Hom om sy wil te doen.
God se heiligheid gaan voor alle dinge. Jy kan dit lees in Jesaja
5:16 waar daar geskrywe staan: "Maar hoog sal die Here van
leërskare wees deur die strafgerig, die heilige God sal Hom as
Heilige laat ken deur geregtigheid." God wys dus sy
heiligheid deur strafgerig en geregtigheid. Dis hoe God is. Hy
kom op vir Homself, vir sy reg en die hele wêreld sal dit weet.

Broeders en susters, hoe raak dit julle? Wat gaan jy daarmee
maak? Wel, wat doen die serafs? Daarop let ons in die tweede punt:
hoe die engele reageer.

Die serafs fokus op God. Hulle vereer die Here. Wat doen jy
wanneer jy God vereer? Jy sê dan dat God bo alles gaan. Hy is no
1 in jou lewe. Dis jou lus en lewe om sy wil te doen. Dink
daaroor na: hoe leef jy met jou God? Is Hy werklik die middelpunt
van jou lewe en eerbetoon. Kyk maar na die serafs in Jesaja 6.
Hulle fokus op God. Hulle weet, Heilig, heilig, heilig is ons God.
Die engele leer ons ware aanbidding. Luister maar. Hoe reageer
die serafs op God se verskyning?

Ons lees in vers 3: En die een het die ander toegeroep. Is dit
nie opvallend nie? Moet ware aanbidding nie uitsluitend op God
gerig wees nie? Maar geliefdes, die aanbidding van God hou ook in
dat jy mekaar toeroep, bemoedig. Soos die serafs die een die
ander toeroep: sien jy dit, heilig, heilig, heilig is die Here
van die leërskare. Dis hoe die engele mekaar toeroep. Dis
aansteeklik. Wanneer jy in die kerk sing, sing jy tot eer van God.
Maar jy spreek ook mekaar aan, jy neem die ander saam in jou lied.
Jy bemoedig die ander tot ware aanbidding.

Maar wat is ware aanbidding? Dit begin hiermee dat jy, so te sê,
vol is van wat God is en wat God vir jou doen. Jy is vol van
vreugde in God. Dis wat die engele in Jesaja 6 is. Wanneer God in
sy mag en heerlikheid verskyn, dan kan hulle nie anders as sing
nie. Heilig, heilig, heilig is die Here van die leërskare. Hulle
is vol van wat God is en wat God wil doen.

Nou wil ek u/jou vra: het jy dit ook, daardie oomblikke waarin
jy deur dank en lof oorweldig word? Dat jy God jou lof bring?
Vertel jy vir God hoe bly jy met Hom is, hoe bly jy daaroor is
dat Jesus Christus ook vir jou gesterf het, hoe bly jy is dat die
Heilige Gees besig is om jou lewe te vernuwe? Sê jy vir God hoe
geweldig dit vir jou is dat Hy vir jou sorg?

Ja, broeder, suster, het jy ook daardie oomblikke? Dat jy vol
daarvan is, dat jy dit voor God bring in jou lied en gebed? Jy
het alle rede daartoe. Die Bybel is vol van jou God as jou groot
en ontsagwekkende God. En elke oomblik van jou lewe is God daar
– as jy net jou oë oopmaak. Wie sou nie aanbid by die sien
van so ’n God nie?

Die teks vertel ons nog meer oor die aanbidding van die serafs.
In vers 2 lees ons: "Serafs het bo Hom gestaan; elkeen het
ses vlerke gehad: met twee het hy sy aangesig bedek, en met twee
het hy sy voete bedek." Probeer om dit voor te stel. Die
engele is sonder sonde, hemelbewoners. Tog bedek hulle hul
aangesig met hul vlerke. Daarmee sê hulle as 't ware: God is so
groot en magtig, jy kan as skepsel nie sommer na Hom kyk nie.
Calvyn het dit vergelyk met die strale van die son. Die strale is
so skitterend dat jy as skepsel nie daarin kan kyk nie. So is dit
met God. Selfs die sondelose engele waag dit nie om God reg in
die gesig te kyk nie. Hulle wys eerbied en vrees. Is dit wat jy
doen wanneer jy die Here God aanbid? Ontsag behoort by ware
aanbidding. Want God is die heilige God, driemaal heilig, heilig
in oortreffende trap. Dit vereis dat ek ontsag vir God wys.

Daar is vandag baie oppervlakkigheid in die aanbidding van die
Here. Ons verhouding met God het te gewoon geword. Vir die
moderne mens het God byna menslik geword, gelyk aan jou maat of
makker. So gaan jy dan met Hom om. Mense verstaan nie meer sy
heiligheid nie. Die bybel praat anders oor God. God is eindeloos
heilig. Sy heiligheid vra om eerbied en ontsag.

Hoe doen jy dit? Tydens die eredienste gebeur dit soms dat
mense ’n slaperige of onverskillige houding wys of met ander
dinge besig is, soos die skryf van briefies of die speel met die
selfoon. Of dit kan gebeur dat lidmate staan en rondkyk terwyl
die gemeente tot lof van die Here sing. Is dit eerbied, ontsag
vir God? Weet ons nog wel wat dit is? Die serafs plaas twee
vlerke voor hul gesig en ook twee vlerke voor hul voete. Hulle
wil nie hulleself op die voorgrond plaas nie. Soos paslik is
wanneer jy jou God aanbid. Dan is Hy belangrik, sy eer, sy
heerlikheid. Jy maak dan jouself as skepsel onopvallend. Jy bedek
selfs jou voete omdat jy nie die aandag op jouself wil trek nie.

Die serafs het ook twee vlerke om mee te vlieg. Daarmee sê
hulle as ‘t ware: spreek Here en ons sal vlieg waar u ons
ook stuur. Ons staan tot u diens gereed. Ja, dis eerbied. Dat jy
gereed is om die wil van die Here te doen, om Hom te dien.

Aanbidding van God word dus gestimuleer deur die medebroers en
susters. Dit behels vreugde in God en dit wys homself in ’n
eerbiedige houding van een wat tot God se beskikking staan. Het u/jy
dit? Die reaksie van die engele leer ons wat aanbidding is.

Dan is daar ook die reaksie van die skepping. Ons lees: "En
die drumpelposte het gebewe van die geluid van die roepers, en
die huis het vol rook geword." Soms lyk dit asof die res van
die skepping beter weet om op God te reageer as ons mense. Hoe
dikwels lees ons nie in die Bybel dat die aarde bewe wanneer die
Here verskyn nie. Wanneer die engele uitroep: Heilig, heilig,
heilig is die Here van die leërskare, dan bewe die drumpelposte.
En die tempel het vol rook geword. Dit onderstreep God se
heiligheid. En dat die sondige mens nie sommerso in God se
teenwoordigheid kan kom nie.

So kom ons by die derde punt: Wie is ek?

Ons lees van Jesaja se reaksie in vers 5: Wee my, ek is
verlore! Ellendeling wat ek is. Nog ’n rukkie en ek sal
sterwe. Deur die sien van God is Jesaja verpletter deur ’n
besef van sy eie sondigheid. Broeders en susters, vergelyk
hierdie "wee my" met die "wee" wat in
hoofstuk 5 oor mense uitgespreek word. Daar spreek Jesaja ’n
wee uit oor hulle wat hul skuldig gemaak het aan ernstige sondes.
6 weë word uitgespreek:

  1. Vers 8: "Wee hulle wat huis aan huis trek, akker aan
    akker voeg, totdat daar geen plek meer is nie, en julle
    alleen grondeienaars in die land is."
  2. Vers 11: "Wee hulle wat vroeg in die môre klaarmaak
    om sterk drank na te jaag, wat in die nag láát opbly
    terwyl die wyn hulle verhit."
  3. Vers 18: "Wee hulle wat die ongeregtigheid nader
    trek met koorde van goddeloosheid, en die sonde soos met
    wa-toue."
  4. Vers 20: "Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg,
    wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat
    bitter soet maak en soet bitter."
  5. Vers 21: "Wee hulle wat in eie oë wys en na eie
    oordeel verstandig is."
  6. Verse 22-23: "Wee hulle wat helde is om wyn te drink
    en wakker manne om sterk drank te meng; wat vir 'n
    omkoopgeskenk die skuldige regverdig verklaar en die reg
    van die regverdige hom ontneem."

Dan kry ons hoofstuk 6. Jesaja staan nou self voor die heilige
God. Dan kan hy niks anders sê as: wee my. Besef jy wat dit
beteken? Hierdie "wee my" is opmerklik na die "wee
hulle" in Jesaja 5. Dis so maklik om ons eie sondes te
verdoesel. En om ander mense te kritiseer en veroordeel. Kyk maar
na die broer of suster. Dis maklik om te skuil agter jou regte
leer, agter jou ywer vir die Here.

Wel, Jesaja is een van God se groot profete. Wanneer Hy egter
voor God staan sê hy: wee my. Hoekom? Hy staan voor die
oneindige heiligheid en heerlikheid van sy God. So ’n
grootheid lê my kleinheid bloot. So ’n heiligheid wys my in
my sondigheid. So ’n lig onthul my duisternis. ’n Mens
staan voor God se heiligheid en besef dat hy ’n sondaar is.
En hy sê: "Wee my, ek is ’n man onrein van lippe."

Moet Jesaja die profeet hieroor so bekommerd wees? Die
sondaars wat in hoofstuk 5 genoem word, het tog baie meer waaroor
hulle bekommerd moet wees? Jesaja se spesifieke sonde word
blootgelê. Hy is ’n profeet, ’n mondstuk van God. Ja,
dit behoort hy te wees. Maar waar hy sterk behoort te wees, met
sy tong, daar is die sonde aanwesig. "Wee my, want ek is
’n man onrein van lippe en woon onder ’n volk wat
onrein van lippe is."

Let op hoe Jesaja homself met sy volk identifiseer. Dit leer
ons ware ootmoed voor God. Wanneer jy voor God staan en sy
heiligheid jou deurskyn, dan isoleer jy jouself nie van God se
volk nie. Dan voel jy jouself nie verhewe bo die res nie. Maar
dan staan jy langs jou broer of suster. Dit tipeer heilige manne
van God.

Herinner hoe Nehemia homself met sy volk geïdentifiseer het,
toe hy gehoor het dat die mure van Jerusalem nog in puin lê.
Nehemia het geween, gevas en gebid en die sondes bely wat ons
Israeliete, ook ek en my familie, teen u gedoen het (Neh 1:4-7).
Dis hoe die vromes handel. Hulle sit tussen God se volk. Hulle is
gebroke en sit onder hulle wat voor God gebroke is. Hulle
identifiseer hulleself met die sondes van die volk.

Geliefdes, dis iets wat julle moet onthou wanneer julle dink
dat daar dinge is wat in die kerk verkeerd gaan en wat verander
sou moet word. Dit kan so maklik gebeur dat ek myself verhef bo
die ander. Dan is ek hier op die verhoog en die gemeente daar.
Dis dan ek en hulle. Ek staan hier en hoef nie te verander nie,
hulle daar moet verander.

Dis nie hoe God se profete dit doen nie. God se profeet sê:
wee my, want ek is ’n man onrein van lippe. Dan wil jy van
jou hoogte af. Vervolgens is daar die: ek woon onder ’n volk
wat onrein van lippe is. Ek is bewus van my eie sonde en skuld.
Ek ken ware nederigheid. Wie is ek om voor God te kan staan? Wie
is ek om myself bo ander te verhef?

Geliefdes, wat kan ons meer sê? Wee my, sê Jesaja. En ek
herhaal dit vir myself: wee my. Maar dan is daar ook goeie nuus:
Christus was my van al my sondes. Dis wat ek ook kan sê. Hoe het
ek Christus nodig! En hoe groot is Jesus Christus, my Verlosser,
wat my van die "wee my" red.

Kyk ’n engel vlieg na Jesaja met ’n gloeiende kool
is sy hand en raak daarmee Jesaja se mond. Hy sê: Kyk , dit het
jou lippe aangeraak, en jou skuld is weg en jou sonde versoen. Ek
is inderdaad ’n sondaar. Wee my. Maar ek is ook ’n
verloste sondaar. Danksy Jesus Christus. So groot is ons heilige
God. Hy lê die sonde bloot, maar hy verwyder ook die sonde deur
sy Seun.

Neem hierdie leer dat ons sondaars is ons vreugde uit ons lewe
weg? Die teendeel is waar. Hierdie leer maak my inderdaad klein
en nederig. Gelukkig maar, dit laat my besef hoe afhanklik ek van
God en sy genade is. Dit laat my na genade verlang. Dit leer my
om heilbegerig te wees. Dit laat my ook bid om die vernuwende
werk van die Heilige Gees. Ek verlang en ontvang vergewing en
vernuwing.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)