Die derde bede.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2004-02-08
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 49
Preek Inhoud: 

Sondag 49

Ds C Kleyn - Sondag 8 Februarie 2004

Lees: Matthéüs 16:21-28; 26:36-46; Sondag
49.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 105:1; Ps
105:2; Ps 40:4; Ps 119:4-7; Ps 25:1,2.

Tema: Die derde bede.

  1. Nie my wil nie;
  2. Maar u wil geskied; en
  3. Deur Jesus Christus.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Christus sê: so moet julle dan bid: "laat u wil geskied,
soos in die hemel net so op die aarde." Is jy seker dat jy
weet waarvoor jy bid? Waarvoor bid jy? "U wil geskied",
met ander woorde: mag ek tog u wil doen. Is dit wat jy wil
wanneer jy allerlei keuses in jou lewe moet maak? Is dit wat jy
wil wanneer jy ’n studie rigting kies, wanneer jy ’n
beroep kies, wanneer jy jou vriende kies of jou lewensmaat? Wil
jy werklik God se wil doen wanneer jy jou sake doen of wanneer jy
jou daagliks werk doen?

Ja, dis belangrik om te weet wat jy bid wanneer jy vir God sê:
"laat u wil geskied , soos in die hemel net so op die aarde."

So verkondig ek vir julle: in die derde bede bid ons:

  1. nie my wil nie,
  2. maar u wil geskied,
  3. deur Jesus Christus

Die derde bede is nie ’n maklike bede nie. Feitelik bid
jy teen jouself in. Soos die kat dit formuleer: "Gee dat ons
en alle mense ons eie wil prysgee." Jy bid vir die verloëning
van jou eie wil. En dit kom hierop neer dat jy nee vir jouself sê,
dat jy jou eie begeertes en verlangens prysgee om Vader se wil te
doen.

Wie gaan nou so bid? Wanneer jy as smekeling ’n
hulpverlener benader, dan vra jy tog om iets waar jy baat by
vind? In jou bede plaas jy tog jou wense voor die Here? Jy wil
tog hê dat jou wense vervul word? Hoe kan jy dan bid: gee dat
nie my wense nie, maar u wense vervul word? Dit lyk baie dwaas om
so teen jouself in te bid. Gestel dat jy pragtige geleenthede kry
vir die bevordering van jou loopbaan. Jy kan baie meer geld
verdien, ’n luukse lewe lei in ’n pragtige huis. Gaan
jy dan bid: laat nie my wense nie, maar laat u wil geskied?

Gestel jy is alleen, ongehuud of geskei en jy verlang na
geselskap. Jy ontmoet dan iemand met wie jy onmiddellik ’n
goeie, oop kontak het. Jy voel gelukkig met mekaar. Alleen die
persoon is nie ’n toegewyde Christen nie. Moet en kan jy dan
bid: laat nie my wil nie, maar u wil geskied?

Gestel dat jy baie graag ’n bepaalde artikel, bv ’n
sekere motor wil hê. Jy het genoeg geld op jou spaarrekening om
dit te kan betaal. Moet jy dan bid: laat nie my wil nie, maar u
wil geskied?

Gestel dat jy eg geniet van sekere musiek of vermaak. Dit het
’n deel van jou lewe geword. Jy ervaar dit as iets geweldigs
wat jy nie maklik sou prysgee nie. Gaan jy dan bid: Vader gee dat
nie my wil nie, maar u wil gevolg word.

Gestel jy hou van die hemde wat in die mode is. Dis wel ’n
bietjie bloot, mense kan sommer jou nawel sien, maar dit sit
lekker. Gaan jy dan bid: Vader laat u wil geskied ook in die
keuse van my klere?

Ja, geliefdes, elkeen van ons het sy eie wil en wense. Selfs
’n baba wys dat hy sy eie wil het. As hy nie sy sin kry nie,
kan hy verskriklik krys. Jammer genoeg is daar ouers wat altyd
toegee aan die eise en hulle laat regeer deur ’n kind van
net ’n paar maande oud. Van jongs af aan is dit in ons om
ons eie wil te wil hê. Ons wil moet koning kraai. Ons wense moet
opgevolg word.

Hoe voel jy wanneer jou wense afgewys word, wanneer mense geen
rekening daarmee hou nie? Voel ons ons dikwels nie beledig nie,
seergemaak? Ons kan redelik vies daaroor wees. Ons kan opgewonde
daaroor raak en daardeur baie negatief word. So versuur baie
verhoudings, in gesinne, in die kerk en in die samelewing, enkel
vanweë die feit dat ons nie ons sin kon kry nie.

Ja, broeders en susters, ons eie wil is vir ons dierbaar, laat
ons eerlik wees. Is dit dan nie dwaas om te bid: gee dat ek my
eie wil prysgee om aan u wil gehoorsaam te wees? Gee dat ek nee
teen my eie wil sê en doen wat u wil hê ek moet doen.

Julle weet, geliefdes, wat Christus gesê het oor die volg van
Hom. "As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën
en sy kruis opneem en My volg." Ons het geen probleem
daarmee as mense vir ons sê: jy moet jouself verloën nie.
Moenie selfsugtig wees nie. Moenie enkel jou eie belange najaag
nie. Ons kan die algemene uitspraak aanvaar: jy moet jou nie laat
lei deur jou eie gevoelens en wense nie. Jy moet jou laat lei
deur God se wil. Dis bekende klanke. Dit lyk billik en
aanvaarbaar. Dit klink ook bekend as iemand vir jou sê: in die
kerk gaan dit nie oor wat jy plesierig vind nie, maar oor wat God
wil hê en wat God ’n behae in het. Dis bekende geluide.
Algemene woorde. Juis daarom moet gevra word: watter effek het
die woorde nog op jou? Laat jy die woorde nog wel ’n impak
op jou hê? Dink daaroor, wat beteken dit in die praktyk van jou
lewe om jouself te verloën, om jou wil te onderwerp aan God se
wil?

Ja, onthou, ek praat nou nie oor ’n opdrag van God nie.
Ek praat nou oor jou eie bede. Jy bid tog reëlmatig: Laat u wil
geskied? Dis nie so dat ons nou besig is om julle te vertel om
iets te doen nie. Nee jyself is besig om te bid dat jy iets mag
doen. Jy is besig om te bid dat jy gehoor mag gee aan die vermaan.
Vader, gee dat ek nie doen wat ek wil doen nie, wat ek as
plesierig ervaar nie, maar gee dat ek dit doen wat u wil hê ek
moet doen. Die woorde van vermaan vorm die inhoud van jou eie
gebed. Nie iemand anders nie, maar jyself vra: nie my wil nie,
maar u wil geskied. Gee dat ek my wil en wense waarvoor ek lief
is onderwerp aan u wil. Gee dat ek dit by die huis doen, in my
persoonlike lewe, in my huwelik en gesin, by die werk, by die
skool, in my besigheid en my vryetydsbesteding, ja orals en altyd.
Gee dat ek nie net doen wat ek self wil en waar ek self plesier
in het nie, maar dat ek dit alles onderwerp aan u wil. Dat ek
voortdurend vra: wat wil u dat ek sal doen en dit opvolg.

Broeders en susters, seuns en dogters, julle bid tog: Laat u
wil geskied voordat julle vir die dag of aand uitgaan, voordat
julle jul besluite neem? Feitelik is jy dan besig om teen jouself
in te bid, teen jou sondige natuur. Jy is werklik lus vir iets,
maar jy bid: Vader nie my wil nie, maar u wil geskied. So bid jy
ook teen jouself in wanneer jy dink aan jou posisie en houding
binne die gemeente. Na ’n rukkie neem elkeen so sy eie plek
in en neem elkeen ook ’n sekere houding aan. Sommiges is
heeltemal betrokke by die kerklike aktiwiteite, hulle is byna
geen aand meer tuis nie. Ander kies om hulle afsydig te hou. In
beide gevalle word gebid: laat u wil geskied. Gee dat ek nie die
maklikste pad volg nie en doen wat ek die liefste doen nie, maar
dat ek doen wat u graag wil hê, ’n houding sal aanneem wat
u wil hê.

Dan moet jy natuurlik eers by jouself begin. Die kat wys
daarop wanneer dit sê: Gee dat ons en alle mense ons eie wil
prysgee. Nie eers die ander mense nie. In die praktyk van die
lewe pas die laaste ons wel. Ons het ’n neiging om eers na
ander te wys. As ’n preek baie konkreet en prakties is,
luister ons maklik vir ander. Die predikant het dit goed vir die
broer of suster gesê. Laat die persoon maar goed luister en
daarop ag gee. Maar wat van onsself? Jy bid tog: Gee dat ons, ek,
en alle mense ons eie wil prysgee en u wil sonder enige teëpratery
gehoorsaam.

Maar, geliefdes, is dit wel wys om jou eie wil prys te gee? Is
dit wel goed vir jou om nee vir jouself te sê? Die meeste
beraders vertel jou dat jy juis moet leer om assertief te wees,
om jouself voorop te stel. Besluit vir jouself wat jy wil en doen
wat jy wil. Moenie jouself deur ander laat lei nie.

Geliefdes, wanneer die Here Jesus sê dat jy jouself moet
verloën, dan bedoel Hy nie dat jy jouself moet weggooi en
jouself moet laat misbruik nie. Daar is niemand wat jou hoër
waardeer as die Here nie. Hy het jou geskep en Hy wil jou verlos.
Jy is sy meesterstuk, sy kosbare eiendom. Dierbaar vir Hom.

Daarom wil die Here jou nie verneder en diskwalifiseer nie.
Inteendeel, Hy is besig om jou te leer om voorrang aan God se wil
te gee omdat die wil alleen werklik goed vir jou is. Op ’n
manier is jy juis besig om jou lewe te red, ook al lyk die
teendeel waar te wees. Dink maar aan wat ons in Mt 16 lees.

Petrus wil nie daarvan hoor dat die Here Jesus moet ly en
gedood word nie. Petrus wil Jesus hier op aarde by hom hou.
Petrus dink net in puur menslike terme. Van nature dink ons in
terme van eer en heerlikheid, van voorspoed en veiligheid. Ons
vind dit moeilik om die dinge te bedink vanuit die perspektief
van die regverdige God. Ons vind dit moeilik om te verstaan dat
die regverdige God die pad van lyding kies terwille van ons
verlossing.

Gelukkig het God anders besluit as Petrus. Indien Petrus sy
sin sou gekry het, sou Jesus nie gely het nie en nie gesterf het
vir ons sondes nie. Dan sou daar vir niemand van ons verlossing
wees nie. Ons sou nog sonder God en sonder hoop wees.

Daarom wys die Here Jesus Petrus met skerp woorde af: "Gaan
weg agter My, Satan. Jy is vir My ’n struikelblok, omdat jy
nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense."

Daarna sê Jesus: "As iemand agter My aan wil kom, moet
hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg." Met die
woorde beskerm Jesus ons teen onsself. Die Here ken baie goed die
mag en invloed van die sonde en Satan, iets waar baie beraders
geen rekening meer hou nie. Dit verklaar hul eensydig advies:
kies wat jy wil en doen wat jy kies. Die Here Jesus is volkome
bewus van die sonde en Satan. Hy het ’n volledige prentjie
van die lewe. Hy neem alle dinge in rekening. Daarom sê Hy:
"jy moet nie altyd doen waar jy lus vir is nie. Dit kan sleg
vir jou wees, selfs rampspoedig. Jou eie wil is dikwels sondig en
kortsigtig." Sê nee vir jouself terwille van die Here.
Onderwerp jou wil aan die wil van God, ja, wees bereid om selfs
vir jou Here te sterf. Volg die Here Jesus. Wy jou lewe aan Hom.
Laat die ego vaar, alle vorme van selfsug en neem jou kruis op.

"Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar
elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor sal dit vind." As jy
daarop uit is om vir jouself die beste uit die lewe haal, sal jy
die lewe verloor in die volste sin van die woord, naamlik die
lewe met God. As jy kies wat jy graag wil, ook al gaan dit teen
God se geopenbaarde wil, dan kies jy teen die lewe, die lewe met
God. "Maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit
vind" sê Christus. As jy die diens van die Here voorrang
gee bo alles, dan sal jy die lewe vind.

Christus gaan verder: "want wat baat dit ’n mens as
hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly?" Wat
baat dit jou as jy alle mense, alle maats aan jou kant kry, as jy
hier groot mag en invloed het, maar jou lewe met God verloor? Wat
baat dit jou as jy al jou verlangens hier bevredig sien, maar die
Here verloor? Wat baat dit as jy groot bevordering in jou
loopbaan maak, as jy jou besigheid uitbrei, geselskap vind ten
koste van jou lewe met God?

"Wat sal ’n mens gee as losprys vir sy siel?"
Niks in hierdie wêreld het ’n waarde vergelykbaar met dit
van jou siel, jou lewe met God nie. Niks kan vergoed vir die
verlies van die lewe nie.

Jesus benadruk dit verder deur te wys op sy tweede koms:
"want die Seun van die mens staan gereed om met sy engele in
die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal Hy elkeen vergeld
volgens sy dade." Na ’n tyd sal die wêreld met al sy
waardes verdwyn. Dan sal die wins wat ons hier en nou gemaak het,
gesien word in sy juiste waarde. Dan sal daar die eindafrekening
wees. Het jy vir jouself geleef, jy sal daar ewig vir boet. As jy
vir Christus geleef het, sal sy ewig geseën, beloon word.

Hoe wonderlik en nuttig is dan die bede wat Christus ons
geleer het om te bid: "laat u wil geskied soos in die hemel
net so op die aarde" dus, hier en nou. Nie my wil nie, maar
u wil geskied.

Maar, geliefdes, hoe kan ek doen wat God wil, dit waarvoor ek
bid, by alle keuses in my daaglikse lewe en werk. Ek kan dit net
doen deur Jesus Christus. Dit bring ons by die derde punt. Jesus
Christus het die voorbeeld gegee en die pad gebaan. Luister na
Hom in Getsemane. Hy wil niks anders doen as die wil van sy Vader
nie. Maar Hy huiwer as Hy dink aan wat dit vir Hom gaan beteken.
Hy moet ly en gedood word vir die sondes van sy volk. Hy moet die
beker van God se toorn drink. Daarom is sy siel tot die dood toe
bedroef. Hy worstel in gebed met sy Vader. "My Vader, as die
moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan." ’n
Verstaanbare versoek vir ’n lydende en strydende siel. Maar
dis nie al wat Hy sê nie. Hy voeg daaraan toe: "nogtans nie
soos Ek wil nie, maar soos U wil." Hy onderwerp Hom aan
Vader se wil. Ook al beteken dit vir Hom die dood aan die kruis.

Iets later herhaal Hy die bede in ander woorde, woorde wat sy
onderwerping aan God se wil nog sterker uitdruk. Hy sê: "My
Vader, as hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit
drink nie, laat u wil geskied." Jesus erken dat dit
inderdaad Vader se wil is dat Hy die beker van sy toorn moet
drink. Hy aanvaar dit: laat u wil geskied. Hy aanvaar dit
terwille van u en my. Om u en my van die toorn van God te bevry.
Om jou te red. Hy offer alles op vir jou en my. Kan jy dit
voorstel? Wel, broeders en susters, seuns en dogters wanneer jy
dit sien, so ’n self opofferende liefde, sou jy dan nie
gewillig jouself verloën en Hom volg nie?

Christus het nie net ’n duidelike voorbeeld agtergelaat
van wat dit is om jou aan Vader se wil te onderwerp nie. Niemand
van julle sal geroep word om so ’n offer te maak nie. Sy
offer is uniek, dit het die toorn van God gestil. Hoe onbeduidend
is dan die offers wat ons vandag vir Christus en sy diens moet
maak. Die offer van aardse geriewe, luukse, geselskap mag vir ons
groot lyk. Maar dis niks in vergelyking met wat Christus vir ons
gedoen het nie. Hy het ons nie net ’n voorbeeld agtergelaat
nie. Hy het Vader se wil vir ons sonder teëpratery gehoorsaam,
in ons plek. Hy het die straf vir ons ongehoorsaamheid betaal
Daardeur kan ons ’n nuwe begin maak. Deur sy gehoorsaamheid
mag ons weer tot God gaan, by God behoort, die lewe ontvang.

Daarom maak dit weer sin om te bid: "laat u wil geskied,
soos in die hemel net so ook op die aarde." Nie my wil nie,
maar u wil geskied. Ek kan dit nie uit myself doen nie. Maar
Jesus Christus het dit gedoen, en Hy wil hê dat ek Hom volg.
Verbind jouself aan Hom. Laat Hom die leiding in jou lewe neem.
Put kragte uit Hom. Laat sy werk van verlossing jou inspireer.
Ja, dis die enigste manier dat jy jou eie wil kan verloën en
sonder enige teëpratery sy wil gehoorsaam kan wees. Kyk wat
Christus vir jou gedoen het. Gehoorsaamheid tot aan die dood van
die kruis. Leef vanuit sy volbragte werk. Vind daarin jou rus en
krag.

En wanneer ek weer faal, wat dan? Hoe dikwels struikel en val
ek nie. Dan het ek my voorloper, my verlosser in die hemel wat
vir my pleit. Hy ken my swakheid, my stryd soos niemand nie. Hy
het dieselfde stryd deurstaan en het dit vir my oorwin. Op grond
van sy offer sal die Vader my vergewe. Ek kan weer opstaan. Ek
mag en moet weer opstaan en Hom volg. Daar is hoop. Ek het ’n
pragtige uitsig. Een dag sal die bede wat Christus my geleer het
volkome werklikheid word. God se wil sal uiteindelik geskied,
soos in die hemel net so ook op die aarde. Christus sal sy
bevrydingsoperasie voltooi. Daarom, bid, bly bid: "u wil
geskied soos in die hemel net so ook op die aarde." Nie my
wil nie, maar u wil geskied, deur Christus.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)