Die heilige kus beseël die gemeenskap terwyl die vloek daardie gemeenskap beëindig.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2004-02-08
Teks: 
I Korinthiërs 16
Preek Inhoud: 

1 Korinthiërs 16:20b,22

Nagmaalspreek - Ds C Kleyn - Sondag 8
Februarie 2004

Lees: 1 Korinthiërs 16:13-24; 1:1-9 (1ste
tafel); 12:12-20 (2de tafel); 12:21-27 (3de
tafel).
Sing: Ps 122:1; Ps 31:15,19; Ps 122:2; Ps 116:1,7;
SB 27:4 (1ste tafel); SB 27:5 (2de tafel);
Ps 149:1,2 (3de tafel); Ps 133.

Tema: Die heilige kus beseël die gemeenskap terwyl
die vloek daardie gemeenskap beëindig.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Twee uiterstes word in ons teks genoem: ’n kus en ’n
vloek. Die apostel plaas hulle langs mekaar: "Groet mekaar
met ’n heilige kus" en "As iemand die Here Jesus
Christus nie liefhet nie, laat hom ’n vervloeking wees."
Die twee uiterstes het een ding gemeen: ’n kus beseël die
gemeenskap; ’n vloek beëindig die gemeenskap.

"Groet mekaar met ’n heilige kus." Gestel dat
ek vir julle sou sê: staan asseblief op en groet die persone wat
langs jou sit met ’n heilige kus. Is ek verkeerd as ek
vermoed dat die meeste van ons met so ’n opdrag verleë sou
wees? Wie gaan nou die ander lidmate met ’n kus begroet? Dat
doen ’n mens net met persone waarmee jy ’n hegte band
het. Tog het dit groot waarde in die kerk van Christus. Paulus
sluit ’n aantal briewe af met die opdrag. Blykbaar het dit
in die vroeë Christelike kerk vir die lidmate ’n gewoonte
geword om mekaar voor die viering van die Heilige Nagmaal ’n
kus te gee.

Die kus het niks te make met natuurlike liefde, geneentheid
nie. Dit was ’n heilige kus, ’n kus wat pas by die
gemeenskap van die heiliges, ’n kus van gemeenskap, van
samehorigheid. Dis hoe mense in daardie tyd hul verbondenheid aan
mekaar en hul aanvaarding van mekaar uitgedruk het. In die midde
ooste doen mense dit nog op daardie manier. Jy sou dit miskien
kan vergelyk met ons handdruk.

Die gebaar beseël die verbondenheid met mekaar, die
onderlinge liefde. Om mekaar met ’n heilige kus te groet is
nie iets wat jy sommerso, terloops doen nie. Daarvoor moet jy
moeite doen. Jouself oorwin. Dit veronderstel dat jy belang in
die ander stel. Dit wys dat jy die ander werklik verwelkom en
aanvaar in die Here. Dis jammer dat ons vandag nie so ’n
gebaar het nie. Dis baie maklik om te sê dat ek die ander
aanvaar. Maar om die aanvaarding met ’n positiewe gebaar,
met ’n kus of ’n handdruk, te wys is baie moeiliker.
Dit wys op ’n verbintenis. En dis waartoe God ons roep. Dis
nie die bedoeling dat ons op ’n vryblywende manier langs
mekaar sit en God aanbid nie. God wil hê dat ons onsself daartoe
verbind om mekaar te aanvaar en ons ons moeite getroos om die
verbondenheid as broeders en susters in die Here te bevestig. Dit
sou daarom nie onvanpas wees om die praktyk van ’n handdruk
of ’n kus by sekere geleenthede weer in te voer nie. So sou
ons die onderlinge verbondenheid wat ons bely tot uitdrukking kan
bring.

Paulus maak dit nie maklik vir die Korintiërs nie. Soos julle
weet was daar verdeeldheid in die gemeente, groepvorming,
opgeblasenheid, jaloesie, gebrek aan liefde, selfs aan die
Heilige Nagmaal. Juis vir die gemeente skryf Paulus: Groet mekaar
met ’n heilige kus. Neem mekaar heeltemal aan as broeders en
susters in die Here. Bewys dit, beseël dit met ’n heilige
kus. Daar is geen manier daar jy dit kan ontduik nie. Daar is
geen manier dat jy die woord kan hoor verkondig en die Nagmaal
kan vier net vir jouself, sonder op jou broeders en susters ag te
gee nie. Jy kan nie die heilige Nagmaal toegaan sonder dat jy jou
brs en srs aanvaar nie. Die verlossing is iets wat jy saam vier.
Jy kan die ander wat saam met jou in die verlossing deel nie
ignoreer nie. Daarom groet ons tog mekaar in die gemeente?

Die woord sny diep. Dit dwing ons daartoe om mekaar werklik te
aanvaar en met mekaar rekening te hou. Dis nie moontlik om die
Heilige Nagmaal te vier en dan voort te gaan met ’n lewe in
afsondering nie, vanweë wrok wat gekoester word, ’n ou seer
of met ’n onverskillige houding na mekaar toe. As ek dit
doen, dan is ek soos iemand wat in die gemeente insluip sonder
groet en dan die gemeente weer stilletjies verlaat as ’n
wegloper.

Groet mekaar met ’n heilige kus. Doen die moeite om te
wys dat jy die ander lidmate aanvaar. Dis die maniere van die
kerk van Christus. Dis die wyse waarop ons ons gedra ook aan die
Nagmaal. Indien die praktyk anders is, dan moet dit verander word
sodat ons nie diewe word nie, diewe wat die Heilige brood en
drank net vir onsself sou steel.

In vers 22 noem Paulus die verskriklike moontlikheid van die
vloek: "As iemand die Here Jesus Christus nie liefhet nie,
laat hom ’n vervloeking wees."

Die persoon wat net aan homself dink aan die tafel waaraan die
gemeenskap met die Here en met sy volk gevier word, laat hom
’n vervloeking wees. Ek kan tog nie weier om liefde te wys
aan ’n tafel wat van niks anders as liefde praat nie? Dan
gaan die deur toe. Ek is dan sonder Christus en so ook sonder
verlossing. ’n Gebrek aan liefde was die diepste oorsaak van
die verdeeldheid binne die gemeente en die wantoestande aan die
heilige Nagmaal. Die gebrek aan liefde vir die mede-gelowiges is
ten diepste ’n gebrek aan liefde vir die Here self. "As
iemand dan die Here Jesus Christus nie liefhet nie, laat hom
’n vervloeking wees." Laat elkeen homself beproef. Gaan
dit vir jou in die kerk werklik om die Here Christus of om
jouself? Jy wys jou liefde vir die Here o.a. deur jou liefde vir
jou mede-gelowiges te wys.

Hier is dit of ’n kus of ’n vloek. As ek die kus
weier dan is ek op pad na die vloek. Dis ’n saak van lewe of
dood. In die kerk verkeer jy in die huis van Christus se liefde.
Daar word die begin van die ewige lewe ervaar. Maar ook die begin
van die ewige dood. Want daar gee ek myself aan Christus en sy
volk. Of ek laat myself geld en word aan die vloek oorgegee. Daar
word ek geleer om die kus van verbondenheid te gee of ek roep die
vloek oor myself.

Die Here Jesus roep jou aan sy tafel. Hy het eers alles
daarvoor gegee. Daarom praat die tafel van sy verreikende liefde.
Die belangrike ding is nou hoe ek op die liefde reageer. Wys ek
liefde vir Hom met woord en daad? Het ek Hom werklik lief as die
Heer van my lewe en as die Heer van sy volk. Dan sal ek sy seën
ervaar. Dan sal ek ook uitsien na sy wederkoms. Kom Here Jesus.
Paulus roep dan ook uit: Maranata. Maranata is die aramees woord
is vir: ons Heer, kom.

Aan die Heilige Nagmaal verlang die kerk na Christus se
wederkoms meer as op enige ander plek. Aan die tafel word die
gemeenskap met Christus en met mekaar immers gevier. Die maaltyd,
die gemeenskap, die vrede en die vreugde aan die tafel is ’n
voorsmaak van die groot bruilofsmaal van die Lam.

Die Here het elders in die brief (11:26) gesê dat ons die
dood van die Here moet verkondig totdat Hy kom. Terwyl ons
terugkyk na sy dood vir ons, die grootste bewys van liefde, kyk
ons ook vooruit na sy wederkoms, wanneer Hy heeltemal met ons
verenig sal wees.

As ek die Here van harte liefhet, sou ek dan nie verlang na
die dag van die groot hereniging nie? Die HN is mos ’n beseëling
van die gemeenskap met Christus. Wanneer ek dit verstaan, dan
sien ek ook uit na die volmaakte gemeenskap met Hom.

So roep ons uit: Maranata, ons Heer, kom. Dis die laaste woord
wat ons van God se volk in die Bybel hoor. Die Gees en die bruid
sê: Amen, kom, Here Jesus. Die bruid verlang daarna om saam met
die bruidegom te wees. Die bruid wil hê dat die bruidegom
blywend by haar is. Dan sal die gemeenskap vir altyd verseker
wees. Die kus sal dan puur en heilig wees soos nooit tevore nie.
Die gemeente sal gereinig wees. Dan sal niks tussen Christus en
sy volk in kom nie. Dan sal daar ook niks tussen God se kinders
inkom nie. Daar sal ’n volmaakte eenheid wees.

Onthou dit geliefdes, wanneer julle die Nagmaal vier. Geniet
van die voorsmaak van die volmaakte gemeenskap. Geniet van die
gemeenskap met jul Here Christus en met mekaar. Neem werklik
mekaar aan as broeders en susters in die Here. Bemoedig en
ondersteun mekaar op pad na die groot dag van Christus se
wederkoms, die geweldige bruilofsmaal van die Lam.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)