Ons begin die erediens deur te bely dat ons hulp in die Naam van die Here is wat hemel en aarde gemaak het.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2004-02-29
Teks: 
Psalms 124
Preek Inhoud: 

Psalm 124:8

Ds C Kleyn - Sondag 29 Februarie 2004

Lees: Openbaring 12:13-17; Ps 124.
Sing: Ps 121:1,2; Ps 66:1,2; Ps 66:7,9; Ps 124:1-4;
Ps 121:3,4.

Tema: Ons begin die erediens deur te bely dat ons hulp
in die Naam van die Here is wat hemel en aarde gemaak het.

  1. Ons is hulpbehoewend;
  2. Die Here het ons gehelp; en
  3. Ons vertrou op sy hulp.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

As jy in die ou tyd in die teenwoordigheid van ’n groot
koning gekom het, het jy ontsag en eerbied gewys. Jy moes die
eerste gebaar maak. Jy het voor die koning neergebuig en hom
hulde gebring. Deur diep te buig het jy erken dat jy en alle
burgers aan die koning onderworpe is en van die koning afhanklik
is.

Wanneer ons op die Sondag in erediens saamkom behoort ons
dieselfde besef van ontsag en eerbied te hê. Ons kom immers in
die teenwoordigheid van die groot Koning van alle konings. Dit is
’n ontsagwekkende gebeure. Daarom moet ons die eerste
beweging maak en ons eerbied wys. Ons moet Hom hulde bring. Dit
doen ons ook. Ons begin ons erediens met die sogenaamde votum. In
die votum bely ons: Ons hulp is in die Naam van die Here wat
hemel en aarde gemaak het.

Hierdie votum is belangrik om die basiese toon en karakter van
die erediens aan te gee. Die voorganger verklaar namens die
gemeente dat ons verwagting van die Here is. Ons geloof en
vertroue is op Hom gerig. Die votum is eintlik ’n korte
geloofsbelydenis wat ons gemeenskap met God inlui. Ons sê as
’t ware: "ons kom in u teenwoordigheid, Here God, in
die erkenning dat U ons enigste hulp is; ons sien in geloof op na
U om ons te ontmoet en ons te seën."

Die votum maak duidelik dat die samekoms van God se gemeente,
’n geloofssamekoms is. ’n Erediens is nie vir
toeskouers nie. Dis ook nie primêr ’n evangelisasie
byeenkom nie. Dit is ’n samekoms van mense wat in geloof
verenig is en wat na God opsien as hul hulp.

Laat ons nou stilstaan by hierdie vreugdevolle en
vertrouensvolle begin van die erediens. Ons begin die erediens
deur te bely dat ons hulp in die Naam van die Here is wat hemel
en aarde gemaak het.

Ons let op drieërlei:

  1. Ons is hulpbehoewend;
  2. Die Here het ons gehelp; en
  3. Ons vertrou op sy hulp.

Ps 124 is ’n loflied op die Here as Redder van sy volk.
Die spesifieke situasie in Israel se geskiedenis word nie genoem
nie. Dawid gebruik hier algemene terme. So is die Psalm toepaslik
vir allerlei situasies.

Dawid gebruik sprekende beelde om die gevare vir God se volk
te teken. ’n Mens sien die dinge gebeur. Die eerste beeld
vind ons in vers 3. As die Here nie vir ons was nie, as die Here
nie vir sy volk ingespring het nie, dan het die vyande ons
lewendig verslind. Die vyande word geteken as wilde diere,
roofdiere. Op soek na prooi. Wat met oopgesperde bek aanval om
ons lewend te verslind, ja veral lewend. Ons situasie is dus
lewensgevaarlik.

Die tweede beeld om die noodsituasie van die kerk te teken is
dit van ’n wild stromende watermassa. Dit het in die berge
baie gereën. Die water kom via klein stroompies by mekaar. Dit
word een groot stroom wat met woes geweld na benede raas. Wat
alles meesleep wat op sy pad kom. Waar mense vroeër veilig langs
die oewer van die riviertjie kon woon daar kan jy nou nie meer
wees nie. Mens en dier word meegesleur. Die onstuimige watermassa
laat niks as vernieling en dood agter. So word die kerk ten dode
toe bedreig. As die Here nie vir ons was nie, dat het die waters
ons oorstroom, dan het die trotse waters oor ons siel gegaan.

Die derde beeld wat gebruik word is die vangnet van die voëlvangers.
Op ’n verleidelike manier word daar voer neergelê om die voël
te lok en as hy eenmaal gelok is, word hy in die vangnet gevang.

Die beelde maak duidelik: as die Here nie met ons sou wees
nie, dan sou ons situasie hopeloos wees. Die vyand soek ons
ondergang. Hy kom met geweld en met lis. In eie krag kan die kerk
nooit die vyand oorwin nie. Ons is uit onsself magteloos,
kwesbaar. Die oopgesperde bek van die vyand sou ons sommerso
verslind. Die woeste watermassa sou ons sommerso meesleur. Ons
sou sommerso in die lokval teregkom.

Waarom die vyandskap? Ps 2 gee die antwoord. Die wêreld is in
opstand teen die Here en sy gesalfde. Mense wil hulle nie aan die
Here onderwerp nie. Geen wonder dat hulle ook die volk van die
Here nie kan verdra nie. Die volk waaroor die Naam van die Here
uitgeroep is. Die vyandskap gaan terug na die vyandskap tussen
slangesaad en vrouesaad waar Gen 3:15 van spreek en wat in Openb
12 uitgewerk word. Die duiwel se volgelinge kan dit nie verdra
dat daar nog mense is wat die Here alleen dien, met uitsluiting
van alle ander gode. Die duisternis haat die lig. Wanneer ons as
ligte skyn, dan sal die donkere wêreld altyd probeer om die lig
te doof. Wanneer ons vir waarheid en reg opstaan, dan val die
leuen en onreg van die wêreld so duidelik op. Mense sal ons
daarom haat. Hulle kan dit nie uitstaan dat ons vir die Here en
sy koninkryk wil leef en stry nie. Hoe durf ons sê dat die woord
van God die waarheid is? Dis die laaste wat Satan, die vader van
die leuen, kan verdra. Daarom word God se volk telkens weer
belaag, ten dode toe bedreig.

En, broeders en susters, dis nie net ’n kwessie van bruut
geweld nie, ook van lis en geruislose verleiding. Soos ons dit
vandag sien. Die vyand kan baie beleefd wees, welwillend,
goedaardig. Christus waarsku ons: "Pas op vir die valse
profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofgierige
wolwe is." Die vyand is daarop uit dat die volk van God sal
ophou om volk van God te wees, dat die kerk nie langer ware kerk
sou wees nie. En die lis, die skaapsklere kan dikwels baie
bereik, soos ons in ons eie land duidelik sien. Daarmee kan
duisende, miljoene mense geruisloos oorwin word, gelyk aan die wêreld
word, ook al dink hulle dat hulle nog christelik is. Let maar op
die verskillende krisisse in die bestaan van God se Ou
Testamentiese volk. As die Here nie vir haar was nie, dan het die
vyande die kerk lewendig verslind. Die geestelike watermassa van
die omringende heidendom sou haar oorstroom en meegesleur het.

In die NT is die dreiging nie minder nie. Die Here Jesus het
vir sy dissipels gesê: "As die wêreld julle haat, moet
julle weet dat hy My voor julle gehaat het. As julle van die wêreld
was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van
die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het,
daarom haat die wêreld julle" (Joh 15:18,19).

Die haat van die wêreld teen die kerk van Christus kan dus
nie uitbly nie. Mense wil die Here nie aanvaar nie, dan wil hulle
ook nie sy kerk aanvaar nie. Die kerk moet as ’n
afsonderlike orgaan opgehef word. Die spelbrekers, wat nie
meedoen met wat die wêreld bied, moet uitgeskakel word.

Wanneer Petrus aan die vreemdelinge in die verstrooiing skryf
oor die duiwel wat rondloop soos ’n brullende leeu en soek
wie hy kan verslind (1 Petr 5: 8), dan vertel hy niks nuuts nie.
Na die sondeval is dit altyd reeds so gewees. En dit sal so bly
tot Christus terugkom. Satan gebruik voortdurend mense om God se
kinders lewendig te verslind, soos Dawid dit noem in Ps 124.

Joh op Patmos het dieselfde gesien. Hy het die slang gesien
wat uit sy bek water soos ’n rivier agter die vrou aan
uitgegooi het, om haar te laat wegvoer deur die rivier (Openb 12).
Ons word herinner aan die oorstromende water van Ps 124. Satan
wil die kerk uit haar isolement haal. Hy wil die antitese, die
teenstelling tussen kerk en wêreld ophef. Daarom probeer hy om
die woestyn, die plek waar die kerk deur God onderhou word, te
neutraliseer. Hy wil die kerkvrou met sy verleidelike waterstroom
meesuig sodat sy ophou om kerk te wees.

So word, broeders en susters, die kerk nog steeds bedreig. Die
nette van die voëlvangers word uitgesit. Dit word ongemerk,
heimlik uitgesit, midde in die gewone lewe. Die verleidelike
stroom kom dikwels via gewone mense. Via mense wat simpatiek
oorkom. Via mense wat baie vriendelik is en wat opkom vir die
medemens, ook vir die christen. Hulle gun die christen ’n
minder bekrompe lewe, vryheid en blyheid.

Julle herken dit tog, gemeente? Die mensliewende humanis met
sy edele en aanlokkelike bedoelings. Die verdraagsame christen
wat elkeen laat glo wat hy wil en niks of niemand oordeel nie.
Die verleidelike ekumenisiteit, die samewerking van alle kerke
wat kerkmure omverhaal en vir jong mense die wêreld oopgooi. Die
interkerklike vroomheid wat christene uit alle kerke wil verenig
in ’n subjektiewe godsdienstigheid.

So spoel die vloedgolf van ’n nuwe etiek oor ons land.
Die valse kerk en die wêreld werk saam om die kerk te oorspoel
met moderne gedagtes. Die Skrif word aangehaal om ons en ons
kinders daarvan te oortuig dat dit in hierdie tyd anders kan en
moet. God is tog ’n God van liefde? Sou so ’n God van
liefde bv die seksuele omgang voor of buite die huwelik verbied?
Sou Hy, die God van liefde, homoseksuele verhoudings afkeur?
Julle ken die manier van praat. Een teks van die bybel word
misbruik om ander duidelike skrifgegewens te ontkrag. Nie wat God
wil nie, maar wat die mens wil en voel word tot norm verhef,
dikwels selfs met ’n beroep op die Skrif.

So gaan dit op alle terreine van die lewe. Die Skrif moet
aangepas word aan die eise van die moderne mens, pleks dat die
moderne mens hom aanpas aan die Skrif. Vriendelike mense, selfs
eie vriende of skoolmaats val jou aan, nie met wapens nie, maar
met duiwelse lis om ons uit die isolement weg te lok, om ons
karakter as kinders van God prys te gee. Hulle probeer ons en ons
kinders van die eksklusiewe diens aan die Here weg te trek. Hulle
het die Here feitelik losgelaat, daarom moet ons ook van die Here
weggelok word. Dit gebeur op skynbaar onskuldige manier, maar
daar sit die prinsipiële haat agter, ook al besef hulle dit
dikwels self nie eens nie, die haat teen God en sy gesalfde. So
word op die universiteite en by die werk ons aandag afgetrek van
die Here weg in die rigting van die moderne afgode. Die moderne
mens is tog mondig, kan tog self ook iets bereik? Jy kan tog nie
altyd aankom met die wil van die Here nie? Jy moet hier op aarde
en in die samelewing tog ook meetel, meedoen?

Ja, gemeente, as die Here nie vir ons was nie, dan was ons
heeltemal meegesleur met die verleidelike stroom, dan sou ons
heeltemal saamgegaan het met die gees van die tyd. As die Here
nie vir ons was nie, dan was ons en ons kinders lewendig
verslind, dan sou die kerk opgehou het om kerk van Christus te
wees, dan sou ons hier nie meer gewees het nie. Sonder sy hulp en
nabyheid was ons totaal verlore.

Geloofd sy die Here vir sy magtige bevryding. Ons is en bly
hulpbehoewend. Maar God het gehelp. Ps 134 benadruk juis die feit
dat die Here gehelp, verlos het. Ons het langs die grens van die
afgrond gegaan. Ons kon dit self nie red nie. Ons was uit onsself
magteloos. En wat nog erger is: ons het onsself dikwels ook laat
verlei. Nie sonder rede word in die tweede helfte van die Psalm
die beeld gebruik van die voël wat uit die vangnet van die voëlvangers
vrygeraak het. Ons is dikwels soos die dom en argelose voël wat
hom laat lok deur die saadkorrels wat onder die vangnet gestrooi
word. Sonder om iets te vermoed stryk die voël neer om die
saadkorrels op te pik. Maar nog voordat hy die in sy bek kry, val
die vangnet bo hom. Hy sit gevange. Daar is geen uitweg meer nie.
’n Weerlose prooi van die voëlvanger.

So is dit dikwels met ons kerkmense. Ons val dikwels nog in
die strikke wat die bose vir ons uitsit. Ons laat ons verlok deur
die verleidings van die wêreld. Dit lyk so onskuldig. En dit
spreek ons hart en gevoelens wel aan. Om ’n bietjie te
geniet van wat die wêreld bied kan tog geen kwaad nie?

En elke keer as ons dit doen, elke keer as ons gehoor gee aan
die bedrieglike verleidings, is dit net deur ’n wonder van
God dat ons verlos word. As die vangnet eenmaal bo ’n voël
toesluit, dan is hy verlore. Dit is dan ’n wonder as hy nog
die vryheid terugkry.

So maak Dawid met die beeld duidelik dat ons bevryding ’n
wonder is, ’n wonder van die Here. Na die mens was ons
verlore, maar God het uit die nood gered. Deur eie skuld het ons
dikwels in die mag van die sonde en van God se vyande tereggekom.
Hoe groot is dan God se genade dat Hy ons steeds weer uitgered
het. Hoe groot is sy genade dat ons nie heeltemal aan die sonde
oorgelewer is nie. Dis soos ons so pragtig in Klaagliedere 3 lees:
"Dit is die goedertierenhede van die Here dat ons nie
omgekom het nie, want sy barmhartighede het geen einde nie; hulle
is elke more nuut; u trou is groot." Hoe groot is God se
genade dat ons en ons kinders nie heeltemal deur die wêreld
opgesluk is nie, dat ons vir die kerk van Christus bewaar gebly
het. Ons het die ondergang nie deur eie slimheid of krag
afgewentel nie, ook nie deur eie geloofsmoed nie. Dis net aan die
Here te danke.

En waarom het die Here dit gedoen? Dit bevryding vind sy grond
hierin, dat Hy vir Homself ’n volk tot sy eiendom gemaak het.
Deur die bloed van sy Seun, ons Here Jesus Christus. Sou Hy sy
eiendom, die besit wat Hy so duur gekoop het, prysgee? So het sy
verkiesende liefde God gedryf om sy volk aan die tande van die
vyand te ontruk. Aan God kom die lof toe vir sy groot genade.

Ons siel het vrygeraak, ondanks ons sonde en swakheid, die
vangnet is gebreek, en ons, ons het vrygeraak. Danksy die Here,
die almagtige verbondsgod, wat wonders werk. Danksy die Here wat
geloof en bekering werk. As Hy dit nie gedoen het nie, dan sou
die kerk al lank verdwyn het. Maar die kerk bestaan nog steeds.
En ons mag lidmate daarvan wees. Danksy hierdie almagtige God wat
steeds weer die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle
bestaan.

Daarom: Geloofd sy die Here wat ons nie laat ondergaan het nie.
Wat ons ooreind gehou het in die stryd van die geeste. As Hy nie
vir ons was nie, dan het ons ondergegaan onder die vloed van die
moderne ongeloof en valse godsdienstigheid.

So kom die digter uit by die pragtige belydenis: Ons hulp is
in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Hy het in
die verlede, tot vandag toe, sy hulp gewys. "Hy kan en wil
en sal in nood, selfs as ons sidder vir die dood, volkome uitkoms
gewe." Hy is mos die almagtige verbondsgod wat hemel en
aarde gemaak het. Die God van skepping en herskepping. As Hy die
mag het om alles in hemel en op aarde te maak, sou Hy dan nie in
staat wees om elke vyand wat sy volk bedreig te oorwin nie? Wie
sou nie op die God vertrou en Hom nie prys nie?

Ons hulp is in die Naam van die Here. Ons praat van die Naam
van die Here. Dit wys op die Here soos Hy homself bekend gemaak
het. Ons beroep ons op die bekende verbondsgod, wat hom in die
geskiedenis steeds weer bewys het as die bevryder van sy volk.
Die God wat altyd aktief aanwesig is tot verlossing van sy volk.
Dink aan Egipte. Dink aan die redding uit ballingskap. Dink veral
aan die bevryding uit die slawehuis van die sonde deur Jesus
Christus. Dink aan die bevryding van ’n sondig hart en lewe
deur sy Gees.

Geliefdes, elke Sondag kom ons saam as mense wat hulpbehoewend
en kwesbaar is. Ons kom saam as ’n strydende kerk. Die ou
vyand is nog steeds daarop uit om ons te verslind en te vang met
sy leuen en bedrog. Ons kom ook saam as mense wat weet van hul
nederlae. Hoe dikwels het ons nie in die afgelope week weer
gestruikel nie? Wat het tereggekom van die radikale en volkome
diens aan God en die naaste?

Hoe heerlik is dit dan om die diens te begin met die belydenis:
Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak
het. Ons bely ons diepe afhanklikheid van Hom. Vir liggaam en
siel. Vir tyd en ewigheid. Ons vertrou op sy hulp. Op grond van
die hulp wat ons reeds ervaar het. Ons erken dat alles uit Hom,
deur Hom en tot Hom is.

Hier hoor ons nie die versugting van die individuele siel wat
nog vol van sy persoonlike moeite en stryd is nie. Ook nie die
woorde van iemand wat aarselend voor God verskyn: miskien dat ek
nou nie teleurgestel word nie en God sal vind.

Nee, hier hoor ons die vergaderde gemeente, wat in vertroue
bely dat ons nie tevergeefs staat maak op die hulp van die Here
nie. Sy Naam is mos oor ons uitgeroep. Hy het sy Naam waargemaak
en sal dit ook nou weer waar maak.

So begin ons met die naam van ons Here God. Alles begin by Hom.
Vol verwagting klop ons hart. Hy skenk alles. Dis net deur Hom
dat hierdie verbondsontmoeting en gesprek moontlik is. Alles wat
volg geskied in sy Naam. Alles staan in die ligglans van sy Naam.
Ons stel ons op voor die Here na wie ons wil luister. Tot wie ons
ook wil bid. So word die vergadering van die gemeente
gekonstitueer. A Kuyper vergelyk die votum met die hamerslag van
die voorsitter van ’n vergadering. Die kerk as vergadering
van gelowiges is nou wettiglik byeen in openbare erediens.

Gemeente, wanneer ons so die ryke inhoud van die votum besef,
dan verstaan ons ook hoe hierdie woorde die toon en karakter van
die erediens aangee. Ons gedagtes en harte word gefokus op die
Here deur wie en tot wie alle dinge is.

Ons kom saam om die God en Vader van ons Here Jesus Christus
te aanbid. Ons hulp is mos in die naam van die Here wat hemel en
aarde gemaak het.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)