Die drie-enige God groet sy gemeente met sy seën.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2004-03-07
Teks: 
Openbaring 1
Preek Inhoud: 

Openbaring 1:4,5a

Ds C Kleyn - Sondag 7 Maart 2004

Lees: Openbaring 1.
Sing: Ps 100:1,2; Ps 37:1,2; Ps 46:4,6; Ps 89:6,7;
Ps 84:3,4,6.

Tema: Die drie-enige God groet sy gemeente met sy seën.

  1. die inhoud van die seëngroet;
  2. die bron van die seëngroet;
  3. die toe-eiening van die seëngroet; en
  4. die waarborg van die seëngroet.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wat doen ’n mens wanneer jy mekaar ontmoet? Die eerste
wat jy dan doen is tog om mekaar te groet? Die Here doen
dieselfde. Wanneer Hy ons sy volk ontmoet, dan groet Hy ons. Dit
gebeur in elke erediens. Ons het dit nou nou ervaar. Ons het die
diens begin met die sogenaamde votum, die korte belydenis: "ons
hulp is in die naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het".
Onmiddellik daarna is ons aangespreek met die woorde: "genade
vir julle en vrede." Die Here groet ons.

Hierdie groet van die Here kom uit die woord van God self.
Wanneer God sy volk met sy woord tegemoet tree, dan laat Hy sy
volk groet. Dit sien ons in die Nuwe Testamentiese briewe. Die
meeste briewe begin met ’n groet. Formeel is dit ’n
groet van die skrywer aan die lesers. Aangesien die skrywer egter
met goddelike gesag skryf, is dit feitelik ’n groet van die
Here self. Hierdie groet neem altyd die vorm van ’n soort seën.
Sulke seëninge of begroetinge is nie net vroom wense nie, maar
dis die Woord van God. Wat God uitspreek dit is werklikheid. Hy
maak waar wat Hy sê. By Hom is dit nie ’n: mag dit so wees
nie. Maar: so is dit vir elkeen wat glo.

Die teks van vanoggend vorm as groet ’n inleiding tot die
hele boek Openbaring. Johannes, wat homself in vers 1 dienskneg
van Jesus Christus genoem het, groet die sewe gemeentes in Asië.
Dis die Romeinse provinsie Asië, ’n deel van Klein Asië.
Die getal 7 is die getal van die volheid. Hierdie sewe gemeentes
verteenwoordig die kerk van alle plekke en tye. So word ook ons
vandag met die seëngroet van Johannes aangespreek. Dit is ’n
apostoliese groet, dws Johannes groet hier as ’n gesondene
van die Here. Deur hom groet God self sy volk.

Ek verkondig vir julle: die drie-enige God groet sy gemeente
met sy seën.

  1. die inhoud van die seëngroet
  2. die bron
  3. die toe-eiening
  4. die waarborg

"Genade vir julle en vrede", dis die inhoud van die
seëngroet. Genade is die eerste woord waarmee Christus ons
aanspreek. Die woord genade herinner aan die Griekse groet wat
praat van vreugde en blydskap. Die gewone Griekse groet word
egter in die NT verdiep in die bekende woord genade. Genade praat
van die guns van God, onverdiende en verbeurde guns. So word ons
aangespreek in ons sonde en skuld. God is gunstig gesind teenoor
ons wat skuldige sondaars is.

Christus praat onmiddellik van genade. Terwyl ons Hom daagliks
deur ons sondes beledig. So is God. Hy begin nie met die donder
van sy gerig nie. Ook al is die donder ’n werklikheid as ek
in die sonde volhard. Maar Hy begin met die woord genade.

Die woord genade wil sê dat die Here die sonde vergewe, dat
Hy telkens weer ’n nuwe begin wil maak. Wat ’n ryke
troos, wanneer ons weer sondes gedoen het, wanneer ons weer geval
het. Genade wil sê: God het ons nie opgegee nie. Daar is vir ons
nog ’n pad terug. Ondanks ons sondes wil Hy ons nog ontvang
en vergewe.

Genade beteken ook dat die Here ons weer in sy diens wil
gebruik. Wat doen ’n baas wanneer sy werker dit herhaaldelik
verknoei? Die baas wil hom nie langer in diens hou nie en
ontslaan hom. Gelukkig is die Here nie so nie. Hy wil dit telkens
opnuut met ons probeer. Hy stuur ons nie weg nie, maar begroet
ons elke keer weer met die woord genade.

Hierdie genade word aan ons wat glo voorgehou en uitgereik.
Genade vir julle. In die oorspronklike taal word geen werkwoord
gebruik nie. Dit maak die seëngroet des te kragtiger. Dis meer
as ’n wens of bede. Die genade word metterdaad aangebied en
gegee. Ons vertaling gee dit mooi weer deur eenvoudig te
formuleer: genade vir julle. God het die vir julle gereed. Julle
mag en moet dit aanneem.

Ons het as kerk die genade voortdurend nodig. Genade is immers
nie ’n gawe wat aan die gelowiges eens en vir altyd geskenk
word nie. Ek het dit steeds weer nodig. So alleen kan ek lewe.
Van genade.

Daarom gee God die middels van genade, sy woord en sakramente.
Hy wil steeds weer die genade aan ons voorhou en aan ons uitreik.
Aanvaar tog sy heil en troosryke woord. Doen jy dit nie, dan keer
die seëngroet terug na God toe en word dit vir jou ’n vloek
pleks van ’n seën.

Gemeente, die verdiepte Griekse groet word in ons teks verbind
met die ou Joodse groet: vrede vir julle. Vanweë Christus se
verlossingswerk kry ook daardie vredegroet ’n verdiepte
inhoud. Dis feitelik die eerste en belangrikste vrug van God se
genade. Dit sien op die herstelde verhouding met God. Die
vyandskap tussen God en ons is weggeneem. In die klimaat kan die
lewe weer bloei voor God se aangesig. Daar is vrede vir julle.
Ware welsyn word aan jou voorgehou en geskenk.

Die sondige wêreld jaag ook na vrede. Mense soek welsyn en
geluk. Maar dit bly vir hulle ’n ydele droom, ook as dit oënskynlik
’n tyd van rus en vrede is. Vanweë die sonde is daar nog
steeds die disharmonie wat die lewe versteur. Mense staan nie in
die regte verhouding tot God nie. Daardeur ontbreek ook die regte
verhouding tot die medemens en die skepping. Buite Christus bly
ware vrede en lewensharmonie ’n illusie. U/jy wat glo mag
egter hoor: genade vir julle en vrede. God het ook die vrede vir
jou gereed as gevolg van sy genade.

Die vrede kan dan ook nie los van die genade gesien word nie.
Om vrede te ontvang moet die Here eers sy genade bewys. Genade
wil sê: die sonde self word weggeneem. Vrede wil sê: die
gevolge van die sonde word weggeneem. As my sondes vergewe is,
dan begin die lewe weer te bloei. So beloof die Here aan u en my:
sondevergewing en lewensherstel. Met die gawes word ons in elke
erediens begroet.

Daar is vrede met God. Dit gee ’n innerlike rus, hoe die
uiterlike omstandighede ook al mag wees. Selfs by swaar lyding
mag jy weet: God is nie teen my nie, maar vir My. Hy is by my as
my liefdevolle Vader. En as God vir ons is, wie kan teen ons
wees? Alles, selfs die dinge wat ons as die grootste teenslae
beskou, werk mee ten goede vir hulle wat God liefhet, vir hulle
wat na sy voorneme geroep is (Rom 8:28).

Wat ’n geweldige seëngroet vir ons as gemeente. Genade
vir julle en vrede. Dit terwyl die kerk in die wêreld altyd
’n strydende kerk is. Die kerk verkeer in ’n wêreld
waaroor God besig is om sy oordeel te voltrek. Die boek
Openbaring staan daar vol van. Dink aan die 7 seëls, die 7
basuine, die 7 skale van God se grimmigheid. Vir die kerk is daar
op aarde geen gerieflike plek nie. Hoe het die kerk van Johannes
se dae dit nie ervaar nie? Die antichristelike wêreld stel hom
op teen die Here en sy gesalfde, Jesus Christus. Die bees woed,
bedreig of verlok die kerk. Hy wil hê dat ons sy merkteken
aanvaar. En hoeveel word daardeur nie verlei nie? Ter wille van
’n skynbare gerieflike lewe is daar ook vandag baie wat die
merkteken van die bees aanvaar. Kerkmense trek dan die kleed van
die hoer aan en word aan die wêreld gelyk. Broeders en susters,
in hierdie onrustige, sondige en vyandige wêreld sê Christus
steeds weer: genade vir julle en vrede. Dis die eerste woorde wat
ons van Hom hoor in elke erediens. Wat ’n bemoediging!

Maar, gemeente, kan ons in so ’n wêreld van vyandskap en
disharmonie werklik van genade en vrede geniet? Ja seker. Kyk
maar waar die seëngroet vandaan kom. Die bron van die seëngroet
verseker ons van die werklikheid daarvan.

Genade en vrede kom van die drie-enige God self, die Vader,
die Seun en die Heilige Gees. Niemand anders kan dit vir ons gee
nie. Maar nou weet ons dat dit volle werklikheid is. God self
staan garant daarvoor.

As diepste bron waaruit die genade en vrede voortkom word
genoem: van Hom wat is en wat was en wat kom. Hierdie uitdrukking
herinner ons aan die Naam waarmee God homself aan Moses
bekendgemaak het: Jahwe, Ek is wat Ek is, Ek sal wees wat Ek is,
die altyd aktief aanwesige. God wys met nadruk op sy
betroubaarheid. By elke uitdrukking staan daar ’n lidwoord
sodat ons letterlik sou kan vertaal: van diegene wat is, diegene
wat was en diegene wat kom.

As diegene wat is, is God die absolute wese, wat ewig is. Hy
is die lewe self, sonder oorsprong of einde, sonder verandering
of skaduwee van ommekeer. Daar is geen ontwikkeling in sy wese of
deugde nie, soos dit by alle skepsels wel die geval is. Mense
groei op en verander. Wat vandag van iemand gesê kan word, geld
more miskien nie meer nie. Jy kan dus nooit volkome op mense
staatmaak nie. Maar God die ewige ken geen ontwikkeling nie. Wat
Hy vroeër na sy wese was, dit is Hy nou en dit sal Hy altyd wees.
Ons kan heeltemal, vir die volle 100%, op Hom staatmaak. By Hom
weet jy waar jy aan toe is.

Hierdie ewige God is nie ’n star, onbewoë God nie, wat
êrens bo die wolke woon nie. Hy is die lewende, aktiewe God wat
Homself in die tyd bekendgemaak het. Hy maak steeds sy beloftes
waar. Hy is diegene wat was en diegene wat komende is. In die
verlede het Hy homself gewys as die helper en Verlosser van sy
volk. Dink aan die geskiedenis van Israel. Ons ken Hom as die God
van die verbond wat trou bly tot in ewigheid, wat sy volk verlos
en versorg. Hy het tot ons gekom in sy Seun. So het Hy sy
onbegryplike liefde sigbaar gemaak. Hy is nog steeds die komende.
Ook nou in hierdie diens kom Hy met sy genade en Gees. En Hy sal
nie ophou om te kom nie, totdat Hy ewig by ons woon.

Broeders en susters, wanneer ons as volk van die Here in
moeite verkeer, dan is die groot vraag: wat gaan God doen. ’n
Ingeslote leër het niks daaraan as daar ’n sterk bevriende
leër in die nabyheid is wat nie ingryp nie. As hulle egter laat
weet: hou vol, ons is op pad na julle toe om julle te ontset, dan
word die moreel van die ingeslote soldate gesterk.

Wel, so is die Here besig om sy volk te verlos. Die kerk lyk
dikwels na ’n omsingelde vesting. Maar nou is die Here op
pad om die omsingelde volk te bevry. Hy ruk aan om die vyande
definitief te verslaan. Soos Hy eenmaal sy volk uit Egipte bevry
het. Daarom sal ons nie moed verloor nie. "Gewis die HERE
Sebaot, sal sy gedugte mag laat blyk; in nag en storm sal Jakobs
God, ons rotsburg wees, wat nooit beswyk." Die God wat sy
verlossende dade in die verlede gewys het. Hy is in die hede en
in die toekoms dieselfde. Die getroue Verbondsgod. Hy haas hom na
sy groot dag, die dag van die groot en finale bevryding.

Maar broeders en susters, hoe kom die seën van die drie-enige
God dan in ons besit? Ons lees van die sewe Geeste wat voor sy
troon is. Die sewe Geeste sorg vir die toe-eiening van die seën.

Uit die verband kan dit duidelik wees dat met die sewe Geeste
die Heilige Gees bedoel word. Dit gaan in die teks juis oor die
goddelike bron van die seën. En die sewe Geeste word genoem
tussen die 1st Persoon van die goddelike wese en die
Here Jesus Christus.

Waarom word hier gepraat van 7 Geeste? Die Heilige Gees is tog
een Persoon? Die getal sewe is opnuut die getal van die volheid.
Net soos die uitdrukking "Hom wat is en wat was en wat kom"
wys op God in sy verhouding tot en sy bemoeienis met die wêreld,
so word hier die Gees ook aangedui na sy werkinge in die wêreld,
met name in die gemeente. 7 Geeste sien dan op die Heilige Gees
in die volheid van sy werkinge. Die Gees van die verhoogde
Christus word in die gemeente ryklik uitgestort, om die genade en
vrede uit te deel. Hy maak tot ons eiendom wat ons in Christus
het, naamlik die afwassing van ons sondes en die daaglikse
vernuwing van ons lewe.

In die vervolg van ons tekshoofstuk word oor die 7 goue
kandelare gepraat. Dit laat ons vermoed dat die aanduiding 7
Geeste ook saamhang met die 7 lampe van die goue kandelaar wat
die heilige gestaan het. Daardie gedagte word bevestig in
hoofstuk 4:5 waar gesê word dat 7 vuurfakkels voor die troon
brand en dat dit die 7 Geeste van God is. Ons moet hier dink aan
die situasie in die tabernakel. Ons begin met die agterste
gedeelte, naamlik die allerheiligste. Daar het die ark, die troon
van God, gestaan. Voor die ark in die Heilige het die kandelaar
met sy sewe lampe gestaan. Sewe lampe wat brand voor die troon.
Dit is nou ’n aanduiding van die sewe Geeste van God.

Die lig van die kandelaar is ’n beeld van die verligting
deur die Heilige Gees, wat vanuit die heilige na die volk
toestroom. Die 7 gemeentes word verlig deur die 7 Geeste om op
hul beurt as die 7 kandelaars te brand.

So sien die 7 Geeste op die Heilige Gees soos Hy in die
volheid van sy werkinge die kerk van alle plekke en tye vervul.
Dis die Gees van Christus. Ons lees in die brief aan die gemeente
te Sardes: Dit sê Hy wat die 7 Geeste van God en die 7 sterre
het. Christus die verhoogde Koning van die kerk het die krag
ontvang om die heil wat Hy verdien het toe te pas. Die Heilige
Gees is die instrument van God se genade en vrede. Hy sorg
daarvoor dat die na ons toegebring word, ons toegeëien word. En
Hy doen geen halwe werk nie. Dit is immers 7 Geeste wat voor die
troon staan. Kan daaroor nog enige twyfel bestaan dat die genade
en vrede in my besit kan kom?

Maar, broeders en susters, ons is tog volkome onwaardig? Ons
sondig nog daagliks. Selfs ons beste werke is met sonde bevlek.
Hoe kan die seëngroet van genade en vrede aan ons persoonlik
geadresseer word? Is dit werklik vir my? Genade vir julle en
vrede. Lê ek nie midde in die dood nie en sit die sonde nie aan
my vas sodat dit elke stap wat ek doen besmet nie? Hoe kan
daardie goddelike genade dan vir my persoonlik bestem wees?

Om hierdie beswaar te besweer rig God ons geloof op Jesus
Christus, ons hoogste Profeet, enigste Hoëpriester en ewige
Koning. Daarom word ten slotte gesê: "En van Jesus
Christus, die getroue getuie, die eersgeborene uit die dode en
die Owerste oor die konings van die aarde." Jesus Christus
het deur sy offer ons sondes versoen. Vanuit die allerheiligste
het ons via die Heilige in die voorhof van die tabernakel gekom.
Daar het hulle die offers gebring: ’n afskaduwing van die
offer van Jesus Christus.

Jesus Christus word eerstens die getroue getuie genoem.
Christus wat deur Johannes vir ons die seëngroet gee, kom nie
met fabeltjies nie. Hy is geen mens dat Hy ons sou troos met
’n halwe waarheid nie. Dat Hy ons goeie dinge sou voorhou,
terwyl Hy weet dat die heeltemal nie so goed is nie. Nee, Hy is
die getroue getuie. Hy praat oor wat Hy by die Vader gehoor en
gesien het. Hy is God se profeet wat ons die wil van God
aangaande ons verlossing ten volle bekend maak. Hy doen dit
volkome suiwer en betroubaar. Daar is geen enkele vervalsing of
verdraaiing by. Hy getuig van die volle werklikheid. Hy het dit
tydens sy verblyf op aarde gedoen. Hy was getrou selfs tot die
dood aan die kruis. En Hy doen dit nog. Ons kry geen gekleurde
informasie nie. Ons hoor deur sy Woord en Gees die volledige
werklikheid. In lewe en sterwe kan jy op sy woord staatmaak:
genade vir jou en vrede.

Die getroue getuie het self die grond gelê onder die
sekerheid. Hy is die eersgeborene uit die dode. As ons enigste Hoëpriester
het Hy ons met die enige offer van sy liggaam verlos. Hy was dood.
Maar Hy het ook opgestaan. Nou leef Hy. Hy het die deur na die
lewe oopgemaak. Soos die eersgeborene die moederskoot open. Hy
het die moederskoot van die dood geopen vir elkeen wat die Vader
vir Hom gegee het. Daar is nou ’n pad uit die dood vir
elkeen wat in Hom glo. Die dood het nie die laaste sê nie, maar
ons lewensvorst. Hy is nie net die eersgeborene uit die dode nie,
wat impliseer dat baie nog gaan volg. Hy het daardeur ook die
sleutels van die dood en die doderyk ontvang het.

Die opstanding van Christus moet, broeders en susters, die
grond van julle hoop wees. Rig julle geloof op Christus wat dood
was en nou leef tot in alle ewigheid. Geen mens kan die genade en
vrede waarborg nie. Net Christus kan dit doen. Deur sy dood en
opstanding waarborg Hy God se genade en vrede. Hy het daarvoor
betaal. Vir elkeen wat by Hom behoort. Vir elkeen wat glo. Daarom
sal die dood en die graf ons nie verskrik nie. Christus, die weg,
die waarheid en die lewe het die laaste woord.

En geen mag ter wêreld kan ons die genade en vrede ontneem
nie. Hy wat dit toesê is immers die Owerste oor die konings van
die aarde. Ons ewige Koning. Selfs die felste vyande staan onder
sy mag. Hulle staan wel teen Hom op, maar hulle bly onder Hom.
Sonder Hom kan hulle niks doen nie. Hulle kan slegs sover gaan as
wat Hy hulle toelaat. Dit geld vir ’n Nero, ’n Hitler,
’n Saddam Hoessein, ’n Mugabe, ja enige maghebber.
Uiteindelik sal Christus volgens Ps 2 die vyande verpletter met
’n ysterstaf en hulle stukkend slaan soos ’n erdepot.
Ons is by Hom volkome veilig. Hy waarborg die genade en vrede. Hy
beskerm en bewaar ons by die verlossing wat Hy verwerf het.

Daarom, gemeente, genade vir julle en vrede van Hom wat is en
wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is,
en van Jesus Christus, die getroue getuie, die eersgeborene uit
die dode en die Owerste oor die konings van die aarde.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)