Vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2004-02-22
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 51
Preek Inhoud: 

Sondag 51

Ds C Kleyn - Sondag 22 Februarie
2004

Lees: Psalm 51; Matthéüs 18:21-35; Sondag
51.
Sing: SB 27; Ps 51:1,8; Ps 32:1,6; Ps 130:2-4.

Tema: Vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons
skuldenaars vergewe.

Om dit te kan bid moet ons:

  1. ons skuld ken;
  2. ons skuld bely; en
  3. wys dat ons van skuld bevry is.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Gestel iemand kom by jou en vra: vergewe asseblief my skulde.
Jy kyk hom verwonderd aan, jy weet nie waaroor hy praat nie. Het
hy skulde by jou? Dan moet jy weet watter skulde dit is. Daarom
vra jy ook: watter skulde bedoel jy? So ’n versoek maak
slegs sin indien hy konkreet kan aangee watter skulde hy bedoel.
As jy nie bewus van skuld is nie, vra jy nie so ’n vraag nie.
Dit maak mos nie sin nie.

Tog kom ons daagliks by die Here God met die versoek: vergeef
ons ons skulde. Weet jy dan vir watter skulde jy vergewing vra?
Watter skulde het ek, het jy vandag dan gemaak, sodat jy na die
Here moet gaan om vergewing te vra? Kan jy dit konkreet noem? Dit
maak mos nie sin om vir vergewing te vra sonder dat jy van jou
skuld bewus is nie.

En tog, broeders en susters, seuns en dogters, hoe dikwels
gebeur dit nie dat ons die bede tot God rig sonder om van ons
skulde bewus te wees. Die bede word so maklik ’n cliché.
Ons hoor baie oor ons sondes en skulde. In die Skrif en die
belydenis, in die prediking en in ons gebede word dit dikwels
genoem. Maar hoe bewus is ons van ons skuld? Is ons elke keer as
ons die bede bid, bewus van die skulde waarvoor ons vergewing
vra? Hoekom sou ons nie daaraan dink nie om aan mense vir
vergewing te vra sonder om konkreet ons skulde te ken, terwyl ons
wel God dikwels om vergewing vra sonder om van die skulde bewus
te wees? Om die bede te bid moet daar skuldbesef wees en ’n
belydenis van skuld.

Laat ons dan luister na die vyfde bede: vergeef ons ons
skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe.

Om dit te kan bid moet ons:

  1. ons skuld ken;
  2. ons skuld bely; en
  3. wys dat ons van skuld bevry is.

Dit blyk dikwels moeilik te wees om ons skuld teenoor God te
sien en te beleef. Het ons wel soveel skuld teenoor God? Of is
dit ’n waanidee waarvan ons so gou as moontlik bevry moet
word om geestelik te kan groei? Is dit werklik nodig om daagliks
te bid vir die vergewing van ons skulde?

Mense vind dit dikwels moeilik om te glo dat Paulus Rom 7 na
sy bekering geskryf het. Daar sê die apostel mos: as ek die
goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig. Ek, ellendige mens.
Hoe kan ’n bekeerde mens so iets sê? Is die kwaad dan nog
altyd by hom aanwesig? Mense het ook moeite met Fil 3 waar
dieselfde apostel sê dat hy dit nog nie verkry het of al volmaak
is nie, maar dat hy daarna jaag om dit te kan gryp. Trouens Joh sê
dat ons lieg as ons sê dat ons geen sonde het nie.

Jesus het ons geleer om te bid: Ons Vader wat in die hemel is,
gee ons vandag ons daaglikse brood en vergeef ons ons skulde.
Soos ek elke dag my daaglikse brood nodig het, so het ek elke dag
die vergewing nodig. Ek moet daar elke dag opnuut vir bid. Tot my
laaste dag toe.

Maar wat is dan ons skulde? Om dit te verstaan is dit goed om
te kyk na drie woorde wat in die Bybel vir sonde gebruik word.

Die eerste woord beteken: om die doel te mis. Ek bereik nie
dit wat ek moes bereik het nie. Ek bly in gebreke. Ek misluk. Nie
deur ’n noodlot nie, maar deur my eie doen en late. God het
’n doel met ons lewe. Hy wil dat ons die doel nie mis nie.
Wanneer bereik ek die doel? Wanneer ek God en my naaste van harte
liefhê en dien. Wanneer ek maar ’n klein bietjie daarvan
afwyk, dan mis ek die doel, dan is ek skuldig aan ’n misdaad.
Die gawes wat God vir my gegee bereik dan nie hul doel nie. Ek
skend die orde wat God in sy verbond gestel het. Ek bereik dan
nie my bestemming nie. Wie durf nog sê dat hy nooit een sekonde
die doel gemis het nie? Wie is sonder sonde? Sonder skuld? God
het ons goed geskep. Hy het ryke gawes vir ons gegee. Hoekom mis
ek so dikwels die doel wat God voor oë gehad het? Het God dit
verdien? Ek staan skuldig, by God en by mense.

Die tweede woord wat vir sonde gebruik word, beteken om af te
wyk van die weg van die Here. Ek buig van die goeie pad af. By
hierdie woord kom nie net die sondige daad nie, maar ook die
sondige wil binne die gesigsveld. Ek doen met opset verkeerd,
terwyl ek beter weet. Ek oorskry die grens wat God vir my gestel
het. Durf ek vol te hou dat ek nooit van die pad van heil afwyk
nie?

Die derde woord wat in die Bybel vir sonde gebruik word,
beteken om in opstand te kom. Soms gee ons daaraan uiting in
woorde waarvoor ons skrik. Maar meer as eens bly die woorde
agterweë, maar is dit wel aan ons te sien. Wat word daar gekla
en gemopper. Daar hoef maar iets te gebeur en daar kom die
opstand, wat so diep in ons hart sit, na buite. Elke opstand teen
die Here is skuld voor die Here.

Wat moet ek verder nog sê om duidelik te maak dat ons tog
baie skulde voor die Here het? Bereik ek in my lewe altyd die
volmaakte doel wat God beoog? Wyk ek nooit van God se pad van
heil af nie? Is daar nooit in my hart en lewe die opstand teen
God nie?

Maar broeders en susters, hoe kom ek sover om my skulde te
erken? Hoe kom ek aan skuldbesef?

Om ten diepste my skuld te ontdek, is ek op God aangewese.
Anders bly dit net bekende, holle klanke. Die Here Jesus het die
Heilige Gees belowe. Die Gees het gekom. Hy gaan in ons lewe aan
die werk. Dit is Hy wat oortuig van sonde en van geregtigheid en
van oordeel (Joh 16:8). Die Heilige Gees open my oë vir my skuld.
Hy laat my my skuld so sien dat ek my skuld gaan erken. Ek kan
nie daaraan ontkom nie. Ek word ’n skuldenaar voor God.

Selfs ’n kind van God het van homself nie die sondebesef
nie en kom nie uit homself tot skuldbelydenis nie. Kyk maar na
Dawid. Hy was ’n man na God se hart. Hy het egter die pad
van sonde gevolg. Nie net terloops nie. Hy het nie net na Batseba
gekyk nie, hy het ook gemeenskap met haar gehad. Nadat allerlei
ander gemene planne misluk het, het hy selfs Batseba se man laat
doodmaak. Tog kom Dawid nie onmiddellik tot berou nie.

God moet daarvoor die profeet Natan na hom stuur. Natan kom
met die woord van God. Al is dit dan in die vorm van ’n
verhaal. Dawid word baie kwaad op die ryk boer wat die
ooilammetjie van die arm boer vat. Die man moet sterwe. Maar dan
wys die profeet hom met die vinger aan: U is die man. Eers dan,
wanneer Dawid deur die Woord van die Here aan sy sonde ontdek
word, gaan hy sy skuld erken en bely. Soos ons dit vind in Ps 51.
Hy weet dat hy skuldig voor God staan.

Elkeen van ons moet voortdurend aan sy sonde ontdek word.
Daarvoor gee God sy Woord en die verkondiging daarvan. Daarvoor
gee God ons ook broers en susters, ampsdraers sodat ons ons
sondes mag raaksien en bely. Die Heilige Gees oortuig van sonde
deur die Woord. Dan gaan ons met Dawid bely: ek erken my skuld.
Het u/jy al sover gekom?

Dit blyk nie ’n eenvoudige saak te wees om ons skuld te
bely nie. In die eerste plek moet ek van my skuld oortuig wees.
Maar selfs wanneer ek van my skuld oortuig is, kos dit dikwels
die grootste moeite om die skuld te bely. Veral om dit onomwonde
te doen. Soms gebeur dit dat baie woorde gebruik word. Maar deur
die veelheid van woorde word die skuld omsluier en bely ek
feitelik nie my skuld nie. In wese het ek niks bely nie.

Ons kan so maklik skuld afskuif. Daarvoor is ons so te sê in
die wieg gelê. Kinders is daar goed in: hy het begin, hy het dit
gedoen, sê hulle dan. Hoekom? Omdat hulle dikwels geen ander
voorbeelde het nie. Adam en Eva was in die paradys reeds daarmee
besig. Daarom is ons so handig daarin om alle skuld af te skuif
op ander mense, op die omstandighede, op ons omgewing. Daarom is
dit dikwels so moeilik om versteurde verhoudings weer heel te
maak. Ons is geneig om die tekortkomings van die ander party
onder die vergrootglas te plaas, pleks dat ons eers ons eie
tekortkomings in die spieël van God se wet bekyk, bely en ons
daarvan te bekeer.

Wanneer die skuld werklik tot skuld vir ons word, dan kom daar
die skuldbelydenis. Dan gaan ek dit beaam. En wat is dit om te
bely anders as om heeltemal met God saam te stem. Om te bely is
in wese: om dieselfde te sê, dus om God na te praat. Dan word
ons dit met God eens. Dan staan die gebed van Dawid in Ps 51 nie
ver van ons af nie. Ons maak dit ons eie. Ons skaam ons oor ons
sondes, ons sien dit voortdurend voor ons. "Teen U alleen
het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë." So bely
ons dit van harte.

Ons word arme sondaars. Die uitdrukking word dan nie as ’n
cliché gebruik nie. Al my sondes staan voor my as skuld teenoor
God. Ek kan dit nie ontken nie. Ek kan daarmee geen kant meer op
nie. Dis vreeslik om so met al my misdade gekonfronteer te word.
Dis nie net ’n swart bladsy in my lewe nie, maar daar is
voortdurend die sonde. Veral die boosheid wat my nog aankleef.
Soms dink ek dat dit anders sal word wanneer ek met ander mense
te make kry of in ’n ander situasie mag leef, maar oral neem
ek myself saam. Tot selfs in my gebed is daar die sonde.

Waar kan ek dan heengaan? Tot God alleen. Daar is maar een
manier om werklik van my skuld af te kom. Deur dit opreg aan God
te bely. By die Here is daar vergewing. Dis die wonder van die
evangelie. Dis die wonderlike verrassing waaroor ons bv in Ps 130
lees. Hoe kan ’n heilige en regverdige God my skuld vergeef?
Ter wille van die bloed van Christus. Met volle vrymoedigheid mag
ek daarom bid: vergeef ons ons skulde. Jesus het vir ons gesê
dat ons so mag en moet bid. En wie bid, ontvang. Ontvang volkome
vergewing.

Broeders en susters, as ek in die vergewing van sonde deel,
dan word ek ’n gelukkige, bevryde mens. Ek kan dan ook die
sondes van my naaste vergewe. So kom ons by die derde punt. Om
die vyfde bede te bid moet ons wys dat ons van skuld bevry is.

As ons deel kry aan die vergewing van sondes, kom daar iets
van God in ons lewe. Iets wat nie onopgemerk bly. Ons vind in ons
die bewys van God se genade. Van binne gebeur daar dus iets. My
hart word gebreek. Wanneer ek God se groot liefde sien, dan word
ek nie net klein voor God nie, maar dan word my harde hart sag en
mild.

Is dit nie geweldig nie dat God al my sondes vergewe? Dat Hy
daar nooit meer aan dink nie. Dit agter sy rug gewerp het. Ek
gaan verstaan wat genade is. Dan voel ek dit ook Dan ken ek God
se gunstige gesindheid. Wat ’n magtige wonder as Hy vir my
sy milde hande en vriendelike oë wys. Dat God nooit meer op my
toornig sal wees nie. Dat ek tot in ewigheid sy liefde mag ken.
Dit is onbegryplik. Ek kan dit byna nie glo nie. Ek kan Hom
alleen maar aanbid en Hom daarvoor hartlik dank.

Dit maak my tot ’n werklik bevryde mens. So ervaar ek dit
dan ook. Hierdie ervaring sal ook na buite toe sigbaar word. Want
wanneer ek ander mense so sleg kan vergewe, vind ek tog nie
werklik die genade van God in my hart nie. As God my egter soveel
vergewe het, word ek ook gunstig gestem teenoor ander. Dit blyk
dan in my alledaagse lewe.

Die Here Jesus laat in die gelykenis van Mt 18 sien wat dit
beteken. Daar was iemand wat ’n skuld van miljoene rande
gehad het. Dis geen kleinigheid nie. Die man daaraan vas. Hy
vraag aan die skuldeiser om geduld met hom te hê. Tot sy
verbasing word die skuld kwytgeskeld. ’n Mens sou verwag dat
daardie man so vol daarvan sou wees, dat hy dit vir iedereen sou
vertel. Maar wat doen hy? Hy ontmoet iemand wat vir hom ’n
paar rand skuld. In die lig van wat met hom gebeur het, sou jy
verwag dat hy nie eers oor die skuld sou wil praat nie en dit
onmiddellik sou kwytskeld. Maar die teendeel gebeur. Hy moet en
hy sal die paar rand terugkry.

Dit kan natuurlik nie. Die Here Jesus laat duidelik sien dat
die een aan die ander verbind is. Wie werklik die vergewing van
sy onnoemlike skuld by God ken, het geen moeite meer met die
klein bietjie wat mense jou aandoen nie. Dan word jy rojaal om
skuld te vergewe.

Gemeente, daar is mense wat nie daaroor pieker om ander iets
te vergewe nie. Nooit nie. So dink hulle nie net nie. So praat
hulle ook. As een om vergewing sou vra, sou hulle dit weier. Nee,
dit kan nie. Wanneer ’n ander nie om vergewing vra nie, meen
hulle heeltemal te mag volhard in hul houding. Hulle is nie
bereid om maar iets te vergewe nie. Hul hart is bitter, hard,
selfs verhard. Hulle het niks van die hemel nie. En hulle mis die
bewys van God se genade in hul hart. Dan sou dit anders lyk in
hul lewe. Dan sou hulle hul kop nie omdraai voor ander nie. Arme
mense. Hulle weet nie wat vergewing is nie, omdat hulle God se
vergewing nie ken nie.

Wanneer jy egter weet hoe God jou vergeef, dan kan daar baie
verander. Dan kan jy die ander ook van harte vergewe. Dan is jy
in jou hart reeds bereid om te vergewe voordat die ander nog
bereid is om vir vergewing te vra. In jou hart het jy dit vir hom
vergewe. Jy is bereid om nog steeds jou sondige naaste te ontmoet.
Daarom groet jy hom of haar ook. Omdat daar iets in jou van God
kom, God wat sondaars wil vergewe, wat Hom met goddeloses wil
versoen.

Jy vergeef jou naaste. En jy het daar geen moeite mee wie jou
naaste is nie. Dis wel ’n probleem vir die Fariseër. Hy
beperk sy naaste tot sy soortgenote. Die heiden hoor daar nie by
nie, ook nie die tollenaar en die sondaar nie. Maar Jesus sê in
die Bergrede dat ons selfs ons vyande moet liefhê. Lees maar Mt
5:44-48. Om vyande te vergewe is moeiliker as om vriende te
vergewe. Tog kan dit.

Indien ek myself ken as van nature ’n vyand van God en
desondanks mag weet dat God my al my sondes vergewe, kry ek
’n milde hart teenoor mense wat my vyandig bejeën.

Maar hoe dikwels moet ek vergewe, vra Petrus. Dit is reeds
’n groot ding om een keer te vergewe. Dis wel besonder om
iemand drie of vier keer te vergewe. Maar dan moet dit daar wel
ophou. Petrus vra of jy dit sewe keer moet doen. Is dit nie die
getal van die volheid nie? Is dit dan nie genoeg nie? Maar die
Here Jesus weet dat sy Vader elke dag miljoene kere moet vergewe.
Hom word baie onreg aangedoen. En tog vergeef Hy. Onbegryplik en
onnoemlik baie. Daarom Petrus, broer, suster: nie sewe keer nie,
maar sewentig maal sewe keer. Met ander woorde: daar is geen
einde aan nie.

Kyk wat God gedaan het en doen. Daarop moet jy fokus. As jy
jou broer nie wil vergewe nie, dan is die liefde van God nie in
jou nie, sê die apostel Joh. Jy kan nie jou broer haat nie en
die bewys van God se genade in jou hê nie. Die innerlike
bevinding sal sigbaar word in die uiterlike bewys van liefde vir
die naaste. Hieraan kan die genade geken word. Dis die kenmerk
van hulle wat deel in God se vergewing. Daarom: "Vergeef ons
ons skulde soos ons ook ons skuldenaars vergewe."

Al is die naaste nog soveel verskuldig, al is dit so ’n
groot sondaar, ons is deur God se genade bereid om hom van harte
te vergewe. En my voorneme kom uit in my houding en gedrag.

"Soos ons ook ons skuldenaars vergewe." In die
manier waarop ons vergewe lyk ons op God. Moenie sê: ek vergeef
dit wel, maar vergeet dit nooit nie. Nee, so radikaal, so finaal
vergewe as God. Daar nooit meer op terugkom nie. Wanneer van jou
geld: jou sondes het Ek ewig agter My gewerp, dan vergeef jy jou
naaste eweso.

Elke dag moet ons, God se kinders, bid vir vergewing. Daar
gaan geen dag verby nie. Elke dag moet ons, God se kinders, ook
soveel vergewe. Daar gaan ook in die opsig geen dag verby nie.
Daarom sê Jesus vir sy dissipels van alle tye: so moet julle dan
bid: Onse Vader wat in die hemele is, vergeef ons ons skulde soos
ons ook ons skuldenaars vergewe.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)