Sonder ’n ware geloof geen saligheid

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2004-04-18
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 7
Preek Inhoud: 

Sondag 7

Ds C Kleyn - Sondag 18 April 2004

Lees: Johannes 3:1-21; Sondag 7.
Sing: Ps 105:1,2; Ps 105:3,4; Ps 105:5; Ps 65:2,3; Ps 89:1,6; Ps 31:17-19.

Tema: Sonder ’n ware geloof geen saligheid

1.      Hoe kry ek ’n ware geloof?

2.      Wat is dan ’n ware geloof?

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Alles hang af van ’n ware geloof. Dis ’n saak van lewe en dood. Dis duidelik uit die vraag van die kat: word al die mense dan weer deur Christus salig soos hulle deur Adam verlore gegaan het? Die woorde ‘salig word’ en ‘verlore gaan’ staan hier teenoor mekaar. Alle mense het deur Adam verlore gegaan. Dis die werklikheid sedert die sondeval. Ons mense het ons in die geestelike dood gestort. Dit geld selfs vir die baba wat nou nou gedoop is. Dis nie sonder rede dat die water van die doop gebruik is nie. Ons babas moet simbolies reeds gewas word. Deur die band met Adam is elke mensekind sondig en aan die oordeel onderwerp.

Maar dis nie alles wat ons kan sê nie. Gelukkig nie. Sondag 6 het die Middelaar Jesus Christus genoem. Hy is vir ons tot ’n volkome verlossing gegee. Ons kinders word gedoop. Christus het gekom om van die oordeel te bevry. Hy het gekom om ons weer terug by God te bring.

Maar nou die knellende vraag: vir wie geld dit? Word al die mense dan weer deur Christus salig soos hulle deur Adam verlore gegaan het? Die antwoord is negatief. "Nee, maar slegs die wat deur ’n ware geloof in Hom ingelyf word en sy weldade aanneem." Alles hang dus van die ware geloof af.

Ek verkondig vir julle die evangelie onder die tema: sonder ’n ware geloof geen saligheid

1.      Hoe kry ek ’n ware geloof?

2.      Wat is dan ’n ware geloof?

Rondom my geloof kan baie vrae my pla. Het ek wel ’n ware geloof? Is my geloof wel goed genoeg? Of beeld ek my slegs in dat ek glo? Kan dit gebeur dat ek met ’n ingebeelde hemel tog uiteindelik die hel toegaan? Het die Here Jesus nie gesê: "Want baie is geroep, maar min uitverkies" (Mt 22:14). Moet ek dan nie wag en sien of ek uitverkies is nie? Het God my dan wel ernstig geroep? Is my geloof wel eg? Al hierdie vrae kan ’n mens onseker en bang maak.

Is dit reg? As dit nie tereg is nie, hoe kan my geloof dan ’n ware en goeie geloof wees? My geloof lyk dikwels so swak. Daar kom steeds weer twyfels bo. Is my geloof dan ’n ware geloof? Is dit die werk van die Heilige Gees? Die Heilige Gees moet my immers geloof gee, of nie soms? Hoe kan ek seker wees dat die Heilige Gees die geloof werklik vir my gegee het? Hoe kan ek weet of ek uitverkies is om te glo? Dit is ernstige vrae.

Die geloof moet vir my gegee word. Uit myself kan ek nie glo nie. Uit myself is ek mos dood deur my sondes. Die geloof moet dus vir my gegee word. So praat die Skrif daaroor. Hierdie waarheid kan egter op ’n onskriftuurlike manier gebruik word. As ek daarmee begin, dan word geloof of ongeloof maklik ’n saak van toeval, van geluk hê of geen geluk hê nie. Ek word dan maklik fatalisties, dws ek aanvaar alles wat met my gebeur as ’n onvermydelike noodlot, ek kan tog niks daaraan doen nie. Ek word dan passief onder die prediking, wagtende vir iets om met my te gebeur. Baie is tog geroep, maar min uitverkies?

Geliefdes, moenie ooit so praat en handel nie. Moenie sê: Ek weet nie of die evangelie vir my geld of nie, want ek weet nie of ek uitverkies is nie. Wanneer die Here jou roep en in die prediking aanspreek, dan is Hy ernstig daaroor. In ons Dordtse leerreëls bely ons na die Skrifte: "Almal wat egter deur die evangelie geroep word, word in alle erns geroep. Want in alle erns en waarheid betuig God in sy Woord wat sy wil is: Die geroepenes moet na Hom toe kom. In alle erns belowe Hy ook aan almal wat na Hom toe kom en glo, die rus vir hulle siele en die ewige lewe" (DL 3,4 art 8).

Dat God ernstig is wanneer Hy roep, kan duidelik wees uit die gelykenis van die bruilof, die gelykenis wat eindig met die bekende woorde: "Wat baie is geroep, maar min uitverkies." Die koning laat sy knegte die gaste nooi met die woorde: "Kyk my maaltyd het ek berei, my beeste en vetgemaakte vee is geslag en alles is gereed. Kom na die bruilof." God kom nie met leë beloftes nie. Sodat wanneer jy aan sy oproep gehoor gee, jy die gevaar loop dat daar niks vir jou is nie. Nee, wanneer die Here roep, deur die predikant op die preekstoel of deur die ouderling op huisbesoek, of deur die pa en ma in die gesin, dan sê die Here: alles is vir jou gereed. My beeste en vetgemaakte vee is geslag en alles is gereed. Daar is oorvloed ook vir jou.

God nooi dus in alle erns. Hy kom nie na jou toe met leë woorde nie. Hy kom na jou toe met woorde wat waar is. Die beeste en vee is geslag. Vandag kan ons sê: Jesus Christus, die Lam van God, is geslag.

Juis daarom is God se roep nie leeg nie. Die Here kom na jou toe met die volle waarheid. Dis opregte woorde, ernstige beloftes. Daarom wanneer die Here jou roep, dan is Hy ernstig daarin.

Gemeente,dat God ernstig is in wat Hy sê, is duidelik in die verbond. Daarin gee die Here sy sakramente: tekens en seëls van sy beloftes. Hy het nou nou Dawid laat doop. Hy het jou laat doop. Daar en dan het Hy vir jou gesê: jy behoort by My. Hy het jou by die naam genoem. Hy het sy naam aan jou naam verbind. By die doop maak God duidelik: Ek rig ’n ewige verbond met jou op. Ek neem jou onder my vleuels. Ek laat jou intree in die gemeenskap van die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Net soos jy is, met al jou sondes en swakhede. As Vader wil Ek vir jou sorg. As Seun wil Ek jou sondes vergewe. As Heilige Gees wil Ek in jou woon en jou lewe vernuwe. Dis geen leë woorde nie. Dis die volle waarheid in Christus Jesus. Dis net so seker as dat die water op jou voorhoof besprinkel is. God is ernstig daarmee.

Alleen, nou moet jy dit wel gaan glo. Jy moet God se aanspraak op jou erken. Baie mense wil daar nie van hoor nie. Hulle vind dit ongelooflik. Ander vind dit dwaas om te glo. Dit stem nie ooreen met menslike logika of met die moderne wetenskap nie, se hulle.

Maar, geliefdes, God wat geloof eis, kom tot jou hulp. Hy laat jou nie in die duister rondtas nie. Hy los jou nie in jou eie onvermoë om te glo nie. Nee, Hy kom tot jou hulp. Met die volle waarheid. Met die belofte van die Heilige Gees. En sy Gees wil aan jou werk. In die kerk. Daar laat Hy jou die Woord van jou God hoor. En dan mag jy weet: die geloof kom deur wat jy uit die woord hoor.

Dis nie so dat God jou ’n bietjie geloof gee en dan jou die res self laat doen nie. Nee die Here bly aan jou werk met sy Gees. Hy bly die geloof in jou hart werk. Hy bly daarmee besig. Elke Sondag. Ook wanneer jy die erediens verlaat om terug huis toe te gaan of terug na die werk. Hy gaan saam met jou. Hy belowe dit aan die einde van die diens in die seën: die gemeenskap van die Heilige Gees is met jou.

Die Heilige Gees is met jou besig wanneer jy die Bybel bestudeer, saam met ander. Wanneer jy daaroor praat. Ook wanneer jy die Bybel vir jouself lees. Dan is jy nooit alleen nie. Die Heilige Gees wil met jou wees, wil in jou werk. Met die Woord wat ’n krag van God is tot redding vir elkeen wat glo.

Maar, broeders en susters, dit kan alles waar wees, maar moet ek nie eers opnuut gebore word nie? Dink aan wat Jesus vir Nikodemus sê: "Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie" (Joh 3:3). Beteken dit dat ek passief moet wag totdat iets met my gebeur, totdat die Heilige Gees my opnuut gebore laat word? Nee, Christus roep Nikodemus op tot geloof, om sy getuienis te aanvaar. Jesus konfronteer hom met die evangelie: "want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê."

In daardie lig kan ek nie sê: dit moet vir my gegee word, daarom sal ek wag en kyk of dit gebeur. Nee, wanneer God met sy evangelie na my kom, dan behoort ek slegs op een manier te reageer: geloof, aanvaarding van wat Hy sê. Dis waar God reg op het. Dis ’n bevel. Maar God gee ook baie: sy Heilige Gees. En die Heilige Gees wil my gee wat ek in eie krag nooit kan bereik nie, naamlik geloof.

Maar wat is ’n ware geloof? Dis die tweede punt.

Die HK omskryf die ware geloof as ’n vasstaande kennis en ’n vaste vertroue. "Dis nie alleen ’n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het, vir waar aanvaar nie. Dit is ook ’n vaste vertroue." Albei moet daar wees. Indien dit net ’n kwessie van kennis is, dan staan my hart daarbuite. Dis hoe die duiwel ook glo en hy sidder. Geloof wat slegs ’n verstandelike saak is, is geen geloof nie. Miskien weet ek baie uit die Bybel, dalk lees ek baie goeie gereformeerde lektuur, miskien neem ek graag deel aan teologiese diskussies, miskien is ek baie betrokke by die bybelstudie verenigings, miskien is ek een van die beste katkisante om die kategismus uit die kop leer. As dit egter nie meer as ’n verstandelike saak is nie, dan is dit geen ware geloof nie. Miskien dink ek dat ek alles wat God in sy Woord geopenbaar het vir waar aanvaar. Maar as dit nie meer as abstrakte verstandelike kennis is nie, dan lieg ek as ek sê dat ek alles as waar aanvaar.

Hoekom? Omdat die Bybel nie ’n abstrakte, onpersoonlike verhaal is nie. Die Bybel is God se aanspraak aan elkeen van ons, ’n brief waarmee Hy my hele persoon aanspreek. Ons kat wys daarop dat die geloof ’n saak van ons hele wese is. Dit raak ons verstand, maar ook ons gevoel en ons wil en dade.

Geloof is immers beide ’n vasstaande kennis en ’n vaste vertroue. Daardie twee behoort by mekaar. Die kennis is nie net ’n abstrakte, wetenskaplike kennis nie. Dis ’n kennis van liefde. Dis iets heeltemal anders. Liefde-kennis is baie meer persoonlik. Dink net hoe twee mense wat mekaar liefhet, bv ’n man en sy vrou, mekaar ken. Hulle kennis van mekaar omvat volkome vertroue in mekaar. Dis nie net ’n ken met jou verstand nie. Dis ook ’n ken met jou hart en gevoel. Jy vertrou jouself aan die persoon toe, aan sy of haar woorde. So beteken ’n ware geloof dat ek myself ten volle aan God toevertrou. Ek weet dat wat Hy sê waar is. Ek kan daarby sweer. Ek weet seker dat alles waar is, nie omdat ek dit alles kan verstaan of verklaar nie. Ek weet dit seker omdat my getroue God dit bekend gemaak het. Hy kan nie lieg nie. Hoewel alle mensekinders van nature onbetroubaar is, Hy is altyd volkome betroubaar. Wanneer Hy iets sê, kan ek daarop staatmaak.

Geliefdes, om alles wat God in sy woord bekend gemaak het vir waar te aanvaar, is nie so maklik as die lyk nie, veral nie as jy let op die woord ‘alles’, "alles wat God in sy woord aan ons geopenbaar het." Oor die algemeen is dit nie so moeilik vir ons om te aanvaar dat God alle dinge geskep het en dat Hy nog alle dinge regeer. Alhoewel ook dit kan soms as problematies ervaar word, veral as jy baie narigheid meemaak. Maar wat van die wonders in die Bybel, bv ’n son wat oordag stilstaan en ’n donkie wat met Bileam praat? Wat van al die woorde wat vir ons nie so aantreklik is nie? Hoe maklik ignoreer ons nie sulke woorde nie? ’n Ware geloof aanvaar egter alles wat God in sy Woord geopenbaar het, sonder voorbehoud. ’n Ware geloof selekteer die woord nie eers nie en kritiseer dit nie, dit aanvaar en gehoorsaam die woord.

Gestel iemand sê vir jou: ek aanvaar alles wat jy sê vir waar, behalwe die dinge wat ek nie kan verstaan en die dinge wat my nie pas nie. Wys dit op volkome vertroue? Sou jy nie beledig wees nie, asof sekere dinge wat jy gesê het nie waar is nie.

Wel, hoe veel te meer geld dit vir God wat die waarheid self is. Elke voorbehoud beteken dat jy nie ten volle die spreker vertrou nie, dat jy God se woord nie aanvaar vir wat dit is nie. Daarom benadruk ons kat ’n aanvaarding van alles wat God in sy Woord geopenbaar het. Ek vertrou myself nie net toe aan sommige van die woorde nie, of aan 90% daarvan nie. Ek vertrou myself toe aan God self en daarom aan al sy woorde, ook al is en bly daar dinge wat ek nie goed kan verstaan nie. Ek glo God in alles wat Hy sê.

En, broeders en susters, wanneer jy goed oplet, dan sien jy dat God se woord vol beloftes is. Daarom word daar in die Kat gesê dat ’n Christen alles moet glo wat in die evangelie aan ons beloof word. Die Bybel is geen abstrak verhaal nie. In die Bybel kom die lewende God na my toe. God is besig om met my te praat. Hy is besig om vir my geweldige beloftes te gee. God kom my lewe binne as die belowende God. Dink net aan die eerste woorde wat Hy vir ons in die kerk gespreek het: Ek doop jou in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.

Hy bring my in sy gemeenskap. Hy belowe homself aan my. Dis feitelik ’n samevatting van die hele evangelie: God belowe om Homself aan my te gee. As ons daarom in ons belydenis die Christelike geloof saamvat dan noem ons die 12 artikels van geloof wat rondom die drie Persone van die Goddelike Drie-eenheid opgebou word: die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Dis ’n uitwerking van die doop formule. God die Vader wil ’n Vader vir my wees en as Vader vir my sorg. God die Seun wil my sondes in sy bloed was. God die Heilige Gees wil in my woon en my lewe vernuwe. Dit is beloftes wat God vir my gegee het, toe ek nog maar net ’n baba was. Toe ek gedoop was. Hy het my by die naam genoem soos Hy dit nou nou vir Dawid gedoen het. Hy het water op my voorhoof laat sprinkel. As teken en seël van die beloftes. Sodat ek seker daarvan mag wees.

En Hy bly my met die beloftes aanspreek. In die Christelike opvoeding. In die prediking. Deur my persoonlike lees van die Bybel. Hy bly na my toekom met dieselfde woord. Daarom let goed daarop. Aanvaar dit. Vertrou daarop. Gee jou antwoord van geloof. Vertrou jouself toe aan die belowende God. Ook wanneer jy weer in sonde val. Of wanneer jy in twyfel verstrik raak. Hy wil jou Vader wees, Hy wil jou sondes vergewe, Hy wil jou lewe vernuwe. Gryp die beloftes vas. Dis hoe jy jou doop gebruik. Op daardie manier bring God jou rustelose siel tot rus.

Die ware geloof is ’n vasstaande kennis en ’n vaste vertroue. Of soos Heb 11:1 dit formuleer: "Die geloof dan is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie." Wanneer ek glo, dan vertrou ek op die dinge wat ek hoop en is ek seker van die dinge wat ek nog nie sien nie. Ja, daar is nog baie dinge wat ek nog nie sien nie. Selfs die vergewing van sondes is iets wat ek nie kan sien nie. Maar as ek glo, dan weet ek dit seker. God het dit gesê. Dit is voldoende. Daarom is dit waar. Ook al sien ek op hierdie oomblik nog niks daarvan nie. Ook al het ek die skyn van die dinge teen my. God het gepraat. Daarom is dit waar. Daarom sal dit ook gebeur.

In die verbond het God my die vergewing van sondes en die ewige lewe belowe. Om te glo beteken dat ek seker is ook van die beloftes. Om seker te wees dat God my sondes vergewe het en vergewe. Hy het dit tog belowe? By my doop? En as ek soms uit swakheid in sondes val, dan hoef ek nie aan die genade van God te twyfel nie. Nee, God het dit gesê en Hy bly dit herhaal: Ek wil jou sondes vergewe, ook jou sondes van twyfel.

Ja, my ongeloof en twyfel moet oorwin word en kan oorwin word. Hoe? Deur myself opnuut aan God en sy woord toe te vertrou. Geen van God se beloftes is onmoontlik nie, selfs nie die vryspraak van so ’n groot sondaar soos ek is nie.

Aanvaar jy dit? Dan mag jy sing: Ek is gered. My sondes is vergewe. Die volkome verlossing, ook van die swakheid van my geloof, moet nog kom. Maar ek weet, dit sal kom. God het dit belowe. Daarom mag ek daarvan seker wees.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)