Die sekerheid van ons verlossing vind ons in Christus.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2004-06-06
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 13
Preek Inhoud: 

Sondag 13

Ds C Kleyn - Sondag 6 Junie 2004

Lees: 1 Johannes 2:28-3:10; 4:7-21; Sondag 13.
Sing: Ps 36:2,3; Ps 38:1,15,17; Ps 22:9,10; Ps 2:4,6;
SB 33.

Tema: Die sekerheid van ons verlossing vind ons in
Christus.

  1. wat God se eniggebore Seun is; en
  2. wat ons Here is.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Besef julle wel wat die Name van ons Heiland: God se
eniggebore Seun en ons Here, vir julle beteken? Daar is baie
mense wat saam met ons die name van Christus erken. Selfs
liberale, modernistiese teoloë. Maar dan kan dit nie anders of
daar is ’n groot verskil in die betekenis wat mense aan die
name gee. Die een sien die Seunskap van Christus as ’n
aanduiding van sy verbondsverhouding met God. Natuurlik wel
’n besondere verhouding. Christus sou ’n unieke
bondgenoot wees. Een deur wie God ’n nuwe begin kan maak met
die herstel van die verhoudings. Daarin sou hy egter tog maar net
’n menslike bondgenoot bly.

Ander beskou Christus se Seunskap as ’n aanduiding van
Christus se Godheid. Dat Hy God uit God is, ware en ewige God.
Gemeente, maak hierdie verskil in opvatting wel saak? Is dit wel
so belangrik? Hierdie verskil is ’n verskil tussen lewe en
dood. Moenie onderskat hoeveel mense verkeerde gedagtes koester
oor die eniggebore Seun van God. En watter fatale gevolge dit het.
Die vraag: wat dink jy van die Christus is van die grootste
belang.

Die ander titel ons Here word ook algemeen aanvaar. Jesus as
Here spreek baie mense nog aan. Baie kerke oor die wêreld het
hulleself aan mekaar verbind in die Raad van Kerke op die basis
van die belydenis: Jesus is Heer. Maar hoe word hierdie naam van
ons Heiland verstaan? Hoe verstaan jy die naam?

Geliefdes, die HK is ’n pragtige gids om ons te help om
die twee titels van ons Heiland op ’n skriftuurlike manier
te verstaan. Sodat jy nie Hom miskien verloor, terwyl jy jouself
nog ’n Christen noem nie. Sodat jy Hom bly vashou soos Hy
homself tot jou redding bekend gemaak het.

Ek verkondig vir julle: die sekerheid van ons verlossing vind
ons in Christus

  1. wat God se eniggebore Seun is; en
  2. wat ons Here is.

Die Kat verbind onmiddellik aan mekaar die feit dat Christus
God se Seun is en ons God se kinders is. Hier sien julle
onmiddellik hoe prakties en ryk ons belydenis is. Ons het hier
nie te doen met abstrakte teorie nie. Elke gelowige is baie
persoonlik hierby betrokke.

Die vraag van die kat gaan daarvan uit dat daar iets
gemeenskaplik is tussen die Here Jesus en die gelowiges. Christus
is die Seun van God, terwyl ons ook kinders van God is. Paulus
skryf meermale dat ons wat glo kinders van God is. Dink aan Rom 8:
14-16: "Want almal wat deur die Gees van God gelei word, die
is kinders van God. Want julle het nie ontvang ’n gees van
slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees
van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader! Die
Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is."
In Gal 3:26 lees ons: "Want julle is almal kinders van God
deur die geloof in Christus Jesus." In hierdie tekste word
dieselfde woord vir kind gebruik wat ook vir Seun gebruik word.
Ons is so te sê saam met Christus seuns van God.

Daar is dus ’n duidelike ooreenkoms tussen Christus en
die gelowige. Hy is die Seun van God en ek is ’n seun van
God. Beteken dit dat Christus dan gelykstaan met die gelowiges?
Baie mense glo dat dit inderdaad so is. Ons het reeds daarna
verwys in die inleiding. Jesus Christus word dan ontdaan van sy
goddelikheid. Hy word gesien as net ’n mens, ook al is hy
dan ’n unieke mens.

Maar, geliefdes, die ooreenkoms tussen Christus as die Seun
van God en die gelowiges as kinders van God, is net moontlik
vanweë die onderskeid wat daar is. En die onderskeid word
aangedui met die naam: eniggebore Seun. Baie hang van die naam af.
My volkome verlossing.

Maar hoe moet ons die woord "eniggebore" verstaan?
Beteken dit dat Christus letterlik gebore is van die Vader? Hoe
moet ons dit voorstel? Julle sal verstaan dat ons hier staan voor
die grens van ons voorstellingsvermoë. Ons kan nie alles bevat
nie. Die name waarmee God die verhouding tussen die Vader en die
Seun aangee, is aanpassings aan ons menslike denkvermoë. Indien
God op ’n goddelike vlak met ons sou praat, dan sou ons
heeltemal niks daarvan verstaan nie. Daarom buig God Hom neer na
ons toe en spreek ons aan in ons eie menslike taal, wanneer Hy sy
hemelse verhouding vir ons omskryf. Natuurlik kan hierdie
beperkte menslike woorde God se situasie nie heeltemal dek nie.
Die woorde gee egter wel ’n indruk daarvan.

God gebruik menslike uitdrukking. Laat ons egter nie op ’n
aardse en menslike manier dink oor die verhouding tussen die
Vader en die Seun nie. By God is alles goddelik. Onder ons mense
is die vaderskap baie beperk. ’n Aarde vader het altyd
’n tyd geken waarin hy nog geen vader was nie. Dis nie so
met God die Vader nie. Hy was altyd Vader, van ewigheid. Om hier
op aarde vader te word moet daar altyd ook ’n moeder wees.
’n Vrou is onmisbaar. Hoe anders is dit met God. Ons moet
daarom die ontstaan van die seunskap van Christus nie op ’n
menslike manier ons probeer voorstel nie.

Wat leer die titel eniggebore Seun ons dan? Wanneer iemand
’n seun kry, dan is dit altyd so dat die natuur van die
vader aan die seun oorgedra word. Die kind ontvang dieselfde
natuur as sy ouers. Ons kan daarom van die eniggebore Seun van
God sê dat Hy die natuurlike Seun van God is. Met die
Geloofsbelydenis van Nicea bely ons: "Christus is God uit
God, lig uit lig, ware God uit ware God, gebore, nie gemaak nie,
een in wese met die Vader." Hebreërs 1 sê van die Seun dat
Hy ’n afskynsel van God se heerlikheid is en ’n
afdruksel van sy wese. As Jesus die eniggebore Seun van God
genoem word, dan word daar na sy goddelike natuur verwys. Dan kan
ek nie oor Jesus praat asof Hy net ’n mens is nie.

Christus word die eniggebore Seun genoem. Met ander
woorde: Hy is daarin volstrek alleen. Daar is niemand soos Hy nie.
Die Vader het net een natuurlike Seun. Hy is die enigste, die
eniggeborene. Watter ooreenkomste daar ook al mag wees tussen Hom
en ons, in hierdie opsig bly Hy altyd volkome uniek as die ewige
en natuurlike Seun van God.

Geliefdes, as die eniggebore Seun van God geniet Christus ook
op ’n unieke manier van die liefde van die Vader. Hoe gaan
dit onder ons mense? As ek net een kind het, dan beteken daardie
kind alles vir my. Die kind is my mees dierbaar besit. ’n
Eniggebore kind is ’n baie geliefde kind en daarom ook die
erfgenaam. So beteken die Seun ook alles vir die Vader. Hy is
Vader se innig geliefde seun. God die Vader sê dit ook
uitdruklik na Christus se doop in die Jordaan: "Dit is my
geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het." Wanneer
Christus die klimaks van sy lyding in die gesig staar, dan
herhaal die Vader die woorde op die berg van verheerliking. Dis
’n week na Petrus se pragtige belydenis in Cesarea-Filippi:
U is die Christus, die Seun van die lewende God. Christus het
daarna gepraat oor sy lyding. Petrus wou nie daarvan hoor nie.
Maar nou praat die hemel self daarvan. Moses en Elia verskyn aan
Christus op die berg om oor sy uittog wat Hy in Jerusalem sou
voltooi te praat (Lk 9:31). Daarna hoor ons die stem van die
Vader: "dit is my geliefde Seun; luister na Hom."

Die uitdrukking: die eniggebore Seun van God herinner ons
daaraan dat Hy die Seun van God se liefde is. Dis nie toevallig
dat die Vader juis by daardie twee geleenthede Jesus as sy
geliefde Seun aangewys nie. God se liefde word sigbaar in sy Seun
wanneer die Seun toon dat Hy bereid is om alle geregtigheid te
vervul, eers by sy doop en later op die berg van verheerliking.

God self kom in sy geliefde Seun na ons toe om ons te red.
Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun
gegee het. Hoe skitter hier God se liefde vir elkeen wat glo. God
het nie sy enigste, innig geliefde Seun gespaar nie, maar Hom vir
ons oorgegee.

Hoe belangrik is dit, broers en susters, om vas te hou aan die
Godheid van hierdie Seun. Hoekom? Omdat net God ons kan red. As
Jesus Christus net ’n mens is, maak nie saak hoe uniek nie,
dan sou daar nog geen hoop vir my wees nie. Want verlossing kan
nie by mense gesoek of gevind word nie. Maar nou het God self
verskyn in sy eniggebore Seun. Sodat ek werklik gered kan word.

Eers is daar dan die onderskeid: Jesus is die eniggebore Seun
van God, ware God uit ware God, een in wese met die Vader. Daarna
en op grond daarvan is daar die ooreenkoms: ons is ook kinders
van God. .Dis nie iets wat ons van nature is nie. Dis deur
genade, om Christus ontwil.

Ons mag dus kinders van God genoem word Soos die apostel Joh
skryf: Kyk wat ’n groot liefde die Vader aan ons bewys het,
dat ons kinders van God genoem kan word! Geliefdes nou is ons
kinders van God. Daar is niks in onsself waarop ons ons kan
beroem nie. Ons verdien dit nie. Ons kan net roem in die liefde
van God. Kyk wat ’n groot liefde die Vader aan ons bewys
het, dat ons kinders van God genoem kan word.

In die volgende hoofstuk skryf Joh: "Hierin is die liefde
van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld
gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe. Hierin is die liefde:
nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het
en sy Seun gestuur het as ’n versoening vir ons sondes."

Besef tog mooi die liefde van die Vader dat Hy sy eniggebore
Seun gestuur het, sodat ons weer as kinders kan lewe. Let op sy
liefde waardeur ons die heerlike posisie van die paradys terugkry.
Nou as mede-erfgename van Christus. Soos Paulus skryf: "en
as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename
van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam
met Hom verheerlik kan word."

Kan jy dit voorstel, broer, suster, om erfgename van God te
wees en mede-erfgename van Christus. Ja, erfgename van die wêreld.
God behandel my asof ek sy natuurlike kind is. Hy behandel my
soos Hy sy eie Seun behandel. Ek mag mede-erfgename wees. Wat
’n rykdom! Vir mense wat van nature kinders van die toorn is.

Geliefdes, hierdie heerlike posisie as God se aangenome
kinders het alles te doen met Christus se verhouding met ons. Dis
waaroor die tweede titel praat: Hy word ons Here genoem. So kom
ons by die tweede gedagte: die sekerheid van ons verlossing vind
ons in Christus wat eerstens God se eniggebore Seun is en
tweedens ons Here is.

In die Bybel word die naam Here dikwels gebruik vir ons
Verlosser. Dink aan die kombinasie van die name: ons Here Jesus
Christus. Dit sal duidelik wees dat hierdie Here nie dieselfde is
as die naam HERE met hoofletters nie. HERE met hoofletters is
’n weergawe van die naam van ons Verbondsgod, Jahwe. Here
met kleine letters beteken: eienaar, meester, heerser.

Die Here Jesus word Here genoem omdat Hy as Heerser oor alles
regeer. Na sy volbragte werk, het Christus ’n naam bo elke
naam ontvang, lees ons in Fil 2:9-11, sodat in die Naam van Jesus
sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die
aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sal bely dat
Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader. Aan
Hom is gegee alle mag in hemel en op aarde, Hy is dus die Heer
van alles, die eienaar, die Heerser oor alles en almal.

Gemeente, die naam Here wys ook op iets wat baie persoonlik
vir elke gelowige geld. In geloof mag ek sê: my Here. Wat
bedoel ek daar dan mee? Ek bedoel dan dat ek die persoonlike
eiendom van hierdie magtige Heerser is. Hy is my Eienaar, my
Meester.

Die kat praat van vrygekoop na liggaam en siel, dus heeltemal.
Hy moes my vrykoop. Van nature is ek en elkeen van julle slawe
van die sonde, in die mag van Satan. Jesus het self ook gesê:
"elkeen wat die sonde doen, is ’n dienskneg van die
sonde" (Joh 8:34). Joh voeg daaraan toe: Hy wat die sonde
doen – hy wat daarin leef – is uit die duiwel. Hy is
’n kind, ’n slaaf van die duiwel. Want die duiwel
sondig van die begin af.

Ek kan dalk dink dat ek sonder Christus vry is, dat ek kan
doen wat ek wil. Ek kan dink dat ek my eie heer en meester is.
Maar juis dan bewys ek dat ek in die mag van Satan en die sonde
is. Dis juis die emansipasie van God wat die ergste slawerny
veroorsaak.

Maar, broers en susters, wanneer ek deur Christus vrygekoop
is, dan het ek ’n ander Heer en Meester. Dan behoort ek nie
langer aan die moordenaar en leuenaar Satan nie, dan behoort jy
nie langer aan die mag van die duisternis nie. Dan is ek Christus
se eiendom.

Hoe het ’n slaaf die eiendom van iemand anders geword? Sy
nuwe Meester moes vir hom betaal, silwer of goud. Vir ons het
Christus ook moet betaal. Sy eie bloed was die prys. Sy kosbare
bloed. Vir ons wat glo is die hoogste prys betaal. Want bloed
beteken hier lewe. Christus het sy lewe vir my gegee. Die apostel
Petrus herinner ons aan die Paaslam wat vir die Pasga geslag is.
Die Israeliete kon nie met silwer of goud hulleself van die
Egiptiese slawerny red nie. Die doodsengel het slegs die huise
verbygegaan van hulle wat die bloed van die Paaslam aan die
deurposte en aan die bo-drumpel gestryk het. Die mense was veilig
agter die bloed. Die bloed het hulle gered. Ja, die bloed van
Jesus Christus, waarvan dit ’n voorafskaduwing was, het
hulle gered. So het Christus nou jou en ek wat glo vrygekoop uit
alle heerskappy van die duiwel. Hy het eerlik die volle prys
daarvoor betaal om jou en ek weer te laat deel in die vryheid van
die kinders van God. Jy het sy wettige eiendom geword. Hy, jou
Losser, het gesag oor jou gekry. Jy mag nou sy dienaar of slaaf
wees.

Maar, geliefdes, is dit wel so positief om ’n slaaf van
die Here Jesus te wees? Moet ek daaroor bly wees dat ek nou tot
sy beskikking, onder sy gesag staan. Ek kan dan nooit my eie pad
gaan nie, ek kan dan nooit kies wat ek wil nie. Alles moet dan
volgens die wil van my nuwe Meester Jesus Christus gedoen word.
Is dit wel so mooi om ’n slaaf van Christus genoem te word?

Ja, gemeente, dis ’n erenaam. Christus maak my werklik
vry. En met so ’n meester is ek in veilige hande. Wie is
immers hierdie nuwe Meester? Hy is Heer oor alles en almal. Aan
Hom is gegee alle mag in hemel en op aarde. En hierdie eienaar
misbruik nie sy slawe soos die slawedrywers uit die verlede nie.
Nee, Hy laat juis Homself mishandel word, ja, Hy laat homself aan
die kruis spyker ter wille van sy slawe. Waar vind jy ooit so
’n Meester? Wat het ons tog ’n geweldige Meester!

En, broeders en susters, wat ’n groot troos is dit dat
die nuwe Meester seggenskap in my lewe het. So word die werke van
die duiwel tenminste gebreek. Ek word bevry van allerlei slawerny.
Ek hoef nie langer slaaf te wees van sondige magte nie, van
sondige begeertes, van my selfsug, van my eersug, van my geldsug,
van my loopbaan, van my klasmaats, van my vriende of kollegas nie.
Ek mag geniet van die vryheid van die kinders van God. Ek kan
weer rustig asem skep.

Hoe ryk is jy, broer, suster, met die wete dat Jesus Christus
God se eniggebore Seun en jou Here is. In die belydenis lê die
sekerheid van jou verlossing. Jesus Christus is my Here. Ek
behoort aan Hom, ek is sy kosbare besit. ’n Eiendom wat Hy
as ’n skat bewaar, wat Hy nie sal verwaarloos of loslaat nie.
Hy het mos sy lewe vir my gegee! En wie is hierdie nuwe eienaar?
Hy is die Seun van God wat aan die boesem van die Vader is. Hy is
die Seun van God se liefde. My meester is die mees geliefde van
die Vader. So weet ek seker dat my saak by die Vader veilig is.
Wat dink jy: sou die Vader hulle wat by sy innig geliefde Seun
behoort weier? Sou die Vader kan weier om die kosbare eiendom van
sy geliefde Seun te aanvaar?. Diegene vir wie sy Seun sy lewe
oorgegee het? So mag ek seker van my saligheid wees in Christus
wat eerstens die eniggebore Seun van God is en tweedens my Here.
In Hom ontvang ek volkome verlossing.

Hoe dwaas en verskriklik is dit dan om een van die name van
ons verlosser prys te gee of uit te hol. Daarmee plaas ’n
mens sy hele verlossing op die spel. Deur te beweer dat Jesus net
’n mens is, ontneem ek myself alle uitsig. Dan word ek
teruggegooi op myself en sal ek nooit sekerheid van my redding
ontvang nie. Alleen in Christus is daar redding te soek en te
vind.

Laat ons dan vashou aan die Christus van die Skrifte. En Hom
bly aanbid as God se ewige en natuurlike Seun en ons Eienaar. In
daardie Here Christus besit ek volkome verlossing.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)