Dankdag vir gewas en arbeid.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2004-05-02
Teks: 
Deuteronómium 26
Preek Inhoud: 

Deuteronomium 26:10,11

Ds C Kleyn - Sondag 2 Mei 2004 -
Dankdag vir Gewas en Arbeid

Lees: Deuteronomium 26:1-15; 14:22-29; 2
Korinthiërs 8:1-9.
Sing: Ps 65:1,3; Ps 65:2; Ps 85:3,4; Ps 65:6-9;
Ps 133:1,2.

Tema: Dankdag vir gewas en arbeid.

Dit is:

  1. ’n dag om God alleen te eer;
  2. om te geniet van God se gawes; en
  3. om mededeelsaam te wees.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

’n Dankdag vir gewas en arbeid behoort ’n feesdag te
wees. Ons mag geniet van die vreugde van God se sorg. In ons
samelewing sien ons egter dat daar baie armes is, mense wat elke
dag worstel om kos te kry en wat selfs reëlmatig sonder kos die
nag ingaan. Ook in ons eie kring is daar steeds meer mense wat reëlmatig
ondersteuning moet ontvang om die pot aan die kook te hou. Moet
ons, terwille van hulle, nalaat om fees te vier? En moet die
behoeftiges self dan elke fees ontbeer? Beteken hul behoeftigheid
dat hulle nooit mag geniet van die lewe? Ja, mag hulle nog wel by
tye fees vier? Gun ons hulle nog wel ’n fees? Ja, wat
belangriker is, gun die Here hulle nog wel ’n fees? Laat ons
kyk na die woorde van die teks.

Ek verkondig vir julle Dankdag vir gewas en arbeid is:

  1. ’n dag om God alleen te eer;
  2. om te geniet van God se gawes; en
  3. om mededeelsaam te wees.

Deut 26 is ’n blye, feestelike gedeelte van die boek
Deuteronomium. In Deut word meermale gesê: Julle moet voor die
aangesig van die Here vrolik wees. Daardie woorde bereik in ons
teks hul klimaks: "en jy moet vrolik wees oor al die goeie
dinge wat die Here jou God jou en jou huis gegee het" (vers
11). Gemeente, hoewel dit nie uitdruklik genoem word nie, mag ons
aanneem dat dit hier veral gaan oor die Huttefees, die laaste
oesfees vir God se volk. Daar word mos gepraat van die
eerstelinge van al die vrugte van die land. Dit omvat die
opbrengs van die graangewasse, van wingerde en van olyfbome. Die
wyn en olie is in Kanaän eers gereed in die herfs teen die tyd
van die huttefees.

In ons hoofstuk word nie alles genoem wat vir die fees na God
se heiligdom saamgeneem moet word nie. Daar word net ’n
seleksie gemaak. Waarom hierdie keuse? Deur net te praat van die
eerstelinge van al die vrugte van die land benadruk Moses die
feit dat die land Kanaän ’n geskenk van die Here is. God is
die Eienaar van die land en sodra die sover is moet God se
bondgenoot Hom as die Eienaar erken. Hoe? Deur die eerstelinge
van die vrugte van die land vir Hom te gee. Hierdie eerstelinge
verteenwoordig die hele oes. Deur ’n deel mee te bring na
die huis van die Here, bely jy dat jy alles van Hom ontvang het.
En dat jy daarom ook die vreugde oor hierdie seën aan Hom wil
laat blyk.

In die eerste elf verse ontvang ons ’n soort liturgie van
Israel se eerste dankdag vir gewas in die beloofde land. So moet
die Israeliete handel wanneer hulle eenmaal in Kanaän woon en
die goeie uit God se hand ontvang het. Dan moet hulle iets van
die vrugte neem en dit in ’n mandjie in die heiligdom van
die Here na die priester bring. Moses noem verskillende onderdele
in die liturgie.

Eers sê jy vir die priester: "Ek verklaar vandag aan die
HERE u God dat ek in die land gekom het, wat die HERE aan ons
vaders met ’n eed beloof het om aan ons te gee." Jy
erken dat die land aan die Here behoort. Hy het dit vir jou in
bruikleen gegee. Jy is net ’n rentmeester, ’n
beheerder, wat aan jou groot Eienaar erkenning en rekenskap wil
gee.

Vervolgens sit die priester jou mandjie voor die altaar neer.
Die altaar is die plek van versoening. Dit wys op die versoening
deur Christus se bloed. Daar gebied die Here die seën. Die oes
van die land word as seën van die Here erken. Vanuit die
versoening kom Israel se welvaart voort. Ons sou vandag sê:
Danksy Christus se bloed ontvang ek vandag nog steeds kos en
klere en onderdak, ja oor die algemeen nog baie meer as dit.
Danksy die bloed van versoening is daar nog steeds in ons lewe
God se seënryke versorging. Dis genade dat ek nog steeds mag eet
en drink. Dink aan 2 Kor 8:9: "Want julle ken die genade van
onse Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille
van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan
word."

Daarna, ten derde, moet jy vir die Here kortliks jou
geskiedenis noem. Ons lees hiervan in verse 5-10a:

"Dan moet jy voor die aangesig van die HERE jou God
verklaar en sê: My vader was 'n swerwende Arameër en het na
Egipte afgetrek en daar as vreemdeling vertoef met min mense;
maar hy het daar 'n groot, magtige en talryke nasie geword. Maar
die Egiptenaars het ons mishandel en ons verdruk en 'n harde
diens op ons gelê. Toe het ons die HERE, die God van ons vaders,
aangeroep; en die HERE het ons stem gehoor en ons ellende en ons
moeite en ons verdrukking aangesien; en die HERE het ons uit
Egipte uitgelei deur 'n sterke hand en 'n uitgestrekte arm en
deur groot skrikwekkende dade en deur tekens en wonders; en Hy
het ons na hierdie plek gebring en ons hierdie land gegee, 'n
land wat oorloop van melk en heuning. Hier het ek dan nou die
eerstelinge gebring van die vrugte van die land wat U, HERE, my
gegee het."

Waarop word in hierdie belydenis die nadruk gelê? Nie op God
se werk as Skepper en onderhouer nie. ’n Mens sou dit op
hierdie feesdag vir die gewas kon verwag het. Maar nee, die
nadruk val juis op die verlossingswerk van die Here. Jy sou kan sê:
Op die dankdag noem jy nie in die eerste plek die eerste
geloofsartikel van ons belydenis nie, naamlik: ek glo in God die
Vader die almagtige Skepper van hemel en aarde. Nee, op die
dankdag vir die gewas pas dit om as eerste die tweede
geloofsartikel te noem: die verlossing deur Jesus Christus. Dis
opvallend. Jy noem eerstens die heilsfeite.

Die oesfees moet ’n herdenkingsfees wees waarop jy besef
dat die seën nie vanselfsprekend is nie. Die Here moes daarvoor
’n lang pad van verlossing stap. So bely die Israeliet die
lang pad van die swerwende aartsvader Jakob via die verdrukking
in Egipte na die verlossing uit Egipte en die inbesitneming van
Kanaän, die beloofde land. Waar bly die roemryke name: Abraham,
Isak en Jakob? Hulle word nie met name genoem nie. As kind van
God kan jy nie roem in jou afkoms nie. Alles wat jy is, is jy
danksy God se genadige ingryping. Dit geld ook vir ons vandag.
Beroem jou nie op jou voorgeslag nie. Hoe vernaam hulle in hul
tyd ook al mog gewees het. Jy is vandag wat jy is danksy God se
leiding en verlossing. Laat die bevoorregte blankes hulle dan ook
nie beroem teen die onbevoorregtes in ons samelewing nie. Voordat
God ingegryp het, was ons voorouers ook barbare, heidene wat in
duisternis en bygeloof geleef het. Niks beter as die swart stamme
wat God nie ken nie en nog leef in vrees vir die geeste van hul
voorouers. Laat ons eerder roem in God. In sy verkiesing en
verlossing. Aan Hom kom alle lof, dank en eer toe.

Gemeente, as die Israeliete God alleen die lof en eer moes gee
vir sy verlossing uit Egipte, hoeveel te meer is ons dan
verskuldig om die lof en dank aan God alleen te gee. Hy het ons
immers, na sy groot barmhartigheid, die wedergeboorte geskenk tot
’n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit
die dode, sodat ons ’n onverganklike en onbesmette en
onverwelklike erfenis kan verkry wat in die hemele vir ons bewaar
is (1 Petr 1:3,4). In vergelyking met Christus se opstanding uit
die graf verbleek selfs die glans van die magtige bevryding uit
Egipte. Ons is bowendien bevry uit die juk van Satan en die mag
van die duisternis. Ons erfenis is ook baie ryker as die erfenis
wat die Ou Testamentiese verbondsvolk in Kanaän ontvang het. Ons
erfenis is onverganklik, ewig. Hoeveel te meer pas dit ons dan om
God te loof en dank.

Sien daar die aanbieding van die veelbetekenende mandjie.
Moses vat dit saam in ons teks met die woorde: "Dan moet jy
dit neersit voor die aangesig van die Here jou God en jou
neerbuig voor die aangesig van die Here jou God." Ja, jy
moet jou diep neerbuig voor die Here. In lof en aanbidding.

Nou kom ons by die tweede punt: die dankdag vir gewas en
arbeid is ’n dag om te geniet van God se gawes. Die teks
praat hiervan met die woorde: "En jy moet vrolik wees oor
die goeie dinge wat die Here jou God jou en jou huis gegee het."

In Deuteronomium word die uitdrukking: "Jy moet voor die
aangesig van die Here vrolik wees", meermale gebruik. Uit
Deut 14:26 is dit duidelik dat verwys word na ’n vrolike
offermaaltyd. Dit gaan daar oor die eerstelinge en tiendes wat
die Israeliete, veral op die Huttefees, na die heiligdom moet
bring. Die Israeliete word beveel om noukeurig die hele opbrengs
van hul saad te vertien en dit voor die aangesig van die Here te
bring. Daar moet jy, sê die Here, die tiendes eet van jou
koring, van jou mos en van jou olie en die eersgeborenes van jou
beeste en van jou kleinvee. Die Here mergel sy volk nie uit deur
sware laste op hulle te lê nie. Die Here gun sy volk ’n
blye fees waarin hulle voor sy aangesig mag eet en drink en
vrolik wees.

Die tiendes was bestem vir die heiligdom. Vir die onderhoud
van die Leviete, wat op hul beurt weer ’n tiende deel moes
afstaan aan die priesters. Die tiendes was dus bestem vir die
ampsdraers. Elke Israeliet of hy nou baie verdien het of min moes
die tiendes afdra. Soos die Here vandag ook vir elkeen van ons
wat inkomste het ’n kerklike bydrae verwag. Die erediens
moet onderhou word. As jy dit, terwyl jy inkomste het, weier,
oortree jy die gebod van die Here, maak nie saak wat jy verder
met die geld doen nie. Laat tog elkeen erns hiermee maak.

Gemeente, uit Deut 14 blyk dat ’n deel van die tiendes by
die heiligdom vir ’n feesmaal gebruik mag word. Iets waarvan
jy as gewer ook self mag geniet. Dis natuurlik nie die bedoeling
dat die volle tiende van die jaarlikse opbrengs in ’n fees
van een of meerdere dae deurgebring word nie. Dit gaan om ’n
deel van die tiendes wat in dankbare vreugde gebruik mag word.
Die res moet aan die Leviete toekom. Die uitbundigheid van die
fees moet dus wel in ’n gesonde verhouding tot die totale
inkomste van die jaar staan. Tog mag daarmee wel werklik fees
gevier word. Sonder skroom. Met dankbaarheid en vreugde. Die Here
wil dat elkeen so voor Hom feesvier.

In sy liefdevolle sorg tref die Here ook reëlings vir die
geval dat die afstand na die heiligdom te ver sou wees om alle
tiendes en eerstelinge daarna saam te neem. Die Here wil al sy
verlostes daar voor Hom sien met ’n vrolike hart. Daarom reël
die Here dat in so ’n situasie die tiendes en eerstelinge in
geld omgesit kan word. Dan hoef jy net die geld na die heiligdom
saam te neem. En dan lees ons in Deut 14:26: "Dan moet jy
die geld gee vir alles wat jou siel begeer, vir beeste en
kleinvee en wyn en sterk drank en vir alles wat jou siel van jou
begeer, en jy moet daar eet voor die aangesig van die Here jou
God en vrolik wees, jy en jou huis." Jy kon dus alles wat
vir die feesmaal nodig was koop en die res aan die Leviete gee om
in die toekoms daarvan te kan lewe. Nadruk val op die feit dat
God se kinders in sy nabyheid vrolik moet wees.

Ja, gemeente, juis die Huttefees was ’n uitbundige fees.
Huttefees was die laaste oesfees en dus van die hele oes, van die
dorsvloer tot de wynpers, dws, van die graanoes tot die wynoes.
Dit was daarom die mees uitbundige fees in Israel. Daarom praat
Deut 16 van "net maar vrolik wees." Luister maar na
Deut 16:14,15: "En jy moet vrolik wees op jou fees, jy en
jou seun en jou dogter en jou slaaf en jou slavin en die Leviet
en die vreemdeling en die wees en die weduwee wat in jou poorte
is. Sewe dae lank moet jy vir die Here jou God fees hou op die
plek wat die Here sal uitkies; want die Here jou God sal jou seën
in al jou inkomste en in al die werk van jou hande; en jy moet
net maar vrolik wees."

Wat ’n teenstelling met die heidense godsdienste. Die
Kanaänitiese godsdiens het die mense voortdurend met sorg en
angs vervul. Sentraal in hul feeste was die magiese poging om die
lewe vir die komende seisoen te verseker. Hulle is in die waan
gelaat dat hulle hulleself deur offers en rituele van ’n
goeie opbrengs van die land moes verseker. Volgens heidense
gedagtes het in die herfs en winter die veld en akker onder die
mag van die dood kom lê, vanweë die jaarliks sterwende god. Oor
die Kanaänitiese oesfeeste het so die stank van die dood gehang.
Daarom het hulle die bokkie in sy moeder se melk gekook en die
melk dan op die land gesprinkel. Deur daardie seremonie het hulle
gehoop om hulleself van die nuwe lewe te verseker. Die moedermelk
was mos ’n simbool van lewe soos die bokkie ’n simbool
van jonkheid en onsterflikheid was.

Broeders en susters, onder God se volk is so ’n angs vir
die toekoms onvanpas. Israel is mos die volk van die Here God.
Die Here het in Egipte gewys dat Hy magtiger as die dood is. En
Hy het belowe om vir sy volk te sorg. Die HERE, Jahwe, die
Verbondgod wat Homself bewys het as die onderhouer en verlosser
van sy volk. Die God van die lewe. As jy hierdie God ken dan hoef
jy nie oor die toekoms angstig te wees nie. Jy mag weet dat Hy
sal sorg. Daarom het Moses ook beveel om weg te bly van die
heidense feesgebruike en om getrou na die heiligdom van die Here
te gaan met die vereiste tiendes en eerstelinge en om bly en
opgewek te wees. Voor God se aangesig kan en mag jy vrolik
feesvier. Ook al was die opbrengs en inkomste in die afgelope
seisoen teleurstellend. Jy kan nie en hoef nie ’n toekoms
vir jouself te waarborg nie. Die toekoms is in die hande van jou
lewende verbondsgod. Hy sal sorg. Dit het Hy belowe. Daarom kan
jy in geloof ook rustig feesvier, ook by skaarste. Hy sal jou seën.

Dink aan die woorde van Christus uit Mt 6 gesê het: "Daarom
moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons
drink, of wat sal ons aantrek nie? Want na al hierdie dinge soek
die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie
dinge nodig het. Maar soek eers die koninkryk van God en sy
geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word."
Let op die woorde: "en al hierdie dinge sal vir julle
bygevoeg word." Sou ons met sulke beloftes dan nie rustig
feesvier nie en rustig die toekoms tegemoet gaan. Dink ook aan
die belofte van God in Rom 8:32: "Hy wat selfs sy eie Seun
nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal
Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie." Het
ons nog rede om bekommerd en angstig te wees. Laat ons eerder
dankbaar en vrolik wees, geniet van sy gawes en onsself
toevertrou aan Hom en sy beloftes.

Nou die derde punt. Die dankdag vir gewas en arbeid is ’n
dag om mededeelsaam te wees. Ons lees in ons teks: "En jy
moet vrolik wees oor al die goeie dinge wat die Here jou God jou
en jou huis gegee het; jy en die Leviet en die vreemdeling wat by
jou is."

Hebr 13:15,16 noem as twee kenmerke van die Christen:
aanbidding van God en mededeelsaamheid. Hebr 13:15: "Laat
ons dan gedurig aan God ’n lofoffer bring, dit is die vrug
van die lippe wat sy Naam bely". ’n Pragtige
samevatting van ons eerste punt. Daarna Hebr 13:16: "Vergeet
die weldadigheid en mededeelsaamheid nie, want God het ’n
welbehae aan sulke offers". ’n Mooi samevatting van
hierdie laaste punt. Daardie twee dinge: aanbidding van God en
mededeelsaamheid gaan altyd saam. As ek in my hart vol van lof op
God is, dan staan my hart ook oop vir die nood van ander. Al is
ek nie ryk in aardse goedere nie, ek het dan tog wel ’n
meegevoel en ’n vriendelike woord. Dit bied dikwels ook meer
troos vir ’n gevoelige hart as geld. Let op die volgorde:
eers aanbidding, daarna mededeelsaamheid. God wil dat ons ons
dank en lof vir Hom wys deur ander mense te laat deel in die
vrugte van sy weldadigheid.

Behalwe dat jy self van God se gawes mag geniet, moet jy ander
ook daarin laat deel. Op verskillende plekke noem Deut die Leviet
wat geen erfdeel het nie, die vreemdeling wat onder God se volk
vertoef sonder besittings, die wees en weduwee. Net na ons teks
word ook gewys op die arme tiendes wat elke drie jaar in die eie
woonplek vir die Leviet, die vreemdeling, die wees en die weduwee
gegee moet word. God leer ons om hart te hê vir die behoeftiges.

Die hele erediens praat van die mensliewendheid van God. Dit
kom egter juis by die tiendes sterk na vore. Die tiendes was vir
die Here bestem en moes elke jaar, behalwe elke derde jaar, na sy
heiligdom gebring word. ’n Deel daarvan moes daar dan met
die behoeftiges in die gemeente gedeel word, terwyl die res
heeltemal vir die behoeftiges bestem was. Hoe skerp moet dan die
verwyt van die Here Jesus teen die Joodse leiers geklink het:
"Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want
julle gee tiendes van kruisement en anys en koljander, en die
swaarste van die wet laat julle na: die reg en die barmhartigheid
en die trou." (Mt 23:23). Hoe bestaan dit om wel die tiendes
te gee en tog die barmhartigheid te vergeet. ’n Mens sou die
ware godsdiens so kan tipeer: Die hemelse Vader vra nie baie vir
Homself nie. Hy gee baie aan jou. Laat jou naaste dit ook bemerk.

Dis pragtig hoe ons God leer ken in sy genade en goedheid. Wat
’n verademing in ’n materialistiese en selfsugtige
samelewing. God leer ons om te dink aan hulle wat arm is en om
vir hulle te sorg. Die tiendes behoort aan Hom. Maar Hy wil
daarmee baie bly maak. Hy vind dit ’n vreugde om in die
behoeftes van al sy kinders te voorsien. Hy maak sy hand oop en
versadig al wat leef.

En nie net dit nie. Dit is ook vir Hom ’n vreugde om ons
te gebruik om sy goedheid na ander te laat toestroom. Hoe heerlik
is dit om te mag gee. Om mildelik te gee aan kerk en diakonie.
Wat ’n voorreg om deur God gebruik te word om sy liefdegawes
aan die behoeftiges te gee. Om uitdelers te wees van sy
goedertierenheid, om diaken in Christus se kerk te mag wees.

Nou terug na die begin. Is dit verkeerd om fees te vier terwyl
daar nog soveel armes is? Dit hoef op sigself nie verkeerd te
wees nie. Ons mag by sekere geleenthede fees vier, ook al is daar
baie armes. Armes sal daar altyd wel wees. Dit weerhou ons nie om
ons dankfeeste te vier nie. Ons teks het ons geleer dat die
dankdag ’n dag is om die Here alleen te eer, om te geniet
van sy gawes en om mededeelsaam te wees. Is dit wat ons doen
wanneer ons feesvier? Ook wanneer ons ons verjaarsdae of jubilea
vier? Laat ons dan ons dankfeeste vier voor die aangesig van die
Here. Hom alleen die eer gee. Met ’n vrolik hart. Met ’n
hart wat oopstaan vir die nood van ander, veral vir die
huisgenote van die geloof.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)