Die redder van die wêreld word as gekruisigde verkondig.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2004-06-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 15
Preek Inhoud: 

Sondag 15

Ds C Kleyn - Sondag 20 Junie 2004

Lees: 1 Korinthiërs 1:17-2:5; Sondag 15.
Sing: SB 27; Ps 40:3,4,5; SB 7:1-4; Ps 40:8.

Tema: Die redder van die wêreld word as gekruisigde
verkondig.

  1. Hierdie verkondiging is ’n dwaasheid vir die
    natuurlike mens; en
  2. Hierdie verkondiging is ’n krag van God tot redding
    van elkeen wat glo.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Is dit nie opvallend dat Paulus sy prediking tipeer as die
woord van die kruis nie? Die evangelie het veral die kruis tot
inhoud, die gekruisigde Christus. Dit is die hart van die
evangelie-verkondiging.

Paulus skryf aan die Korinthiers: "En toe ek by julle
gekom het, broeders, het ek nie aan julle die getuienis van God
kom verkondig met voortreflikheid van woorde of wysheid nie."
Die Griekse wêreld het sy redenaars geken wat met skitterende
betoë indruk op die mense gemaak het. Hulle het hul wysgere en
wysheidsleraars geken wat deur allerlei tegnieke die mense vir
hulle probeer wen het. Soos ons vandag te doen het met
christelike organisasies en leiers wat allerlei tegnieke gebruik
om mense vir hul evangelie te wen, waaronder selfs die rolprent
"The Passion of the Christ" van Mel Gibson.

In so ’n wêreld moes Paulus die evangelie verkondig. Wat
doen Paulus in so ’n situasie? Pas hy hom aan by wat die
hoorders gewoond is om te hoor of wil hoor? Pas hy hom aan by die
metodes en tegnieke van die populêre sprekers? Nee, juis nie.
Paulus pas die inhoud nog die vorm van sy boodskap aan by die
verlange van sy hoorders. Dit sou nie ooreenkom met sy eintlike
taak nie. Hy moet immers ’n getuie van God wees. En wat moet
’n getuie doen? ’n Getuie moet slegs die feite weergee,
die dinge wat werklik gebeur het. ’n Ware getuie het geen
skittering of veelheid van woorde nodig nie. Dit is juis verdag
as ’n getuie baie woorde nodig het en groot woorde gebruik.
Dit gaan oor die feite. Die feite moet noukeurig weegegee word.

Met die oog op die verkondiging van die feite as getuie van
God het Paulus hom voorgeneem om niks anders onder sy hoorders te
weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde. Paulus wil in
Korinte en ook elders niemand anders as Jesus Christus noem nie.
Jesus Christus is die inhoud van sy getuienis. En wel Jesus
Christus as gekruisigde.

Dit beteken natuurlik nie dat Paulus verder niks oor die
verheerliking van Christus of oor die sonde van die mens of oor
die liefde van die Vader, ens te sê het nie. Nee, deur te praat
van Christus as gekruisigde dui Paulus die hart van die evangelie
aan. Juis daarin lê ons heil. Daarom mag die kruis nooit verswyg
word of onder ’n skittering van woorde of beelde bedolwe
word nie. Die kruis moet onomwonde gepredik word. Daarom het
Paulus sy hoorders met die kruis alleen gekonfronteer. ’n
Dwaasheid vir hulle wat alles met hul verstand wil beredeneer of
hulle wat deur voortreflikheid van woorde getrek wil word. Maar
’n krag van God tot redding van elkeen wat glo.

Ek verkondig vir jullle die woord van God onder die tema: die
redder van die wêreld word as gekruisigde verkondig.

  1. Hierdie verkondiging is ’n dwaasheid vir die
    natuurlike mens
  2. Hierdie verkondiging is ’n krag van God tot redding
    van elkeen wat glo.

Wie durf nou om met so ’n evangelie van ’n
gekruisigde Christus by die mense te kom? Daar is tog baie
interessanter dinge om te bedink om die mense te trek. Jy moet
jou probeer indink hoe so ’n boodskap oorgekom het in die wêreld
van Paulus se dae. Die mense van daardie tyd weet uit ervaring
wat kruisiging beteken. Kruisiging is ’n straf – vanuit
die ooste in die romeinse wêreld ingevoer – vir slawe,
krygsgevangenes en oproerlinge. Die straf is blykbaar veelvuldig
in die openbaar voltrek. Vrywel elkeen sal die skande en
veragting van daardie straf geken het. ’n Mens kan dan ook
verwag dat die prediking van die gekruisigde Christus ’n
indruk van dwaasheid op die natuurlike mens sou maak. Moet ’n
gekruisigde die Redder van die wêreld wees? Dit kan tog nie waar
wees nie?

Tydens Christus se omwandeling op aarde kon mense nog hoë
verwagtings van Hom koester. Dink maar aan sy kragtige prediking
en sy tekens en wonders. Maar wie sou by sy kruisiging sulke
verwagtings nog kan handhaaf? Die kruisiging beteken tog die
einde, die bitter einde van sy werksaamhede? Moet jy dit nie as
’n tragiese gebeurtenis sien nie? Het die mens Jesus nie
hier aan sy strewe na ’n nuwe wêreld ten gronde gegaan nie?

Die natuurlike mens sien die kruisiging as ’n fiasko.
Jode en heidene - die twee groepe van die wêreld van die tyd
– sien geen toekoms in ’n gekruisigde Redder nie. Hulle
dink dat jy van so ’n persoon niks meer kan verwag nie.

Die Jode vra ’n teken, sê Paulus. Hulle wil eers sien
voordat hul wil glo. Wel, watter besonders kan die natuurlike oog
aan die kruis sien? Die kruis praat slegs van swakheid en
magteloosheid, van skande en veragting. Dis vir die ongelowige
Jode duidelik: hierdie persoon kan nie die beloofde Messias wees
nie.

Die Grieke soek wysheid. Hulle wil eers iets met hul verstand
kan beredeneer en begryp voordat hulle bereid is om te glo. Hulle
soek ’n beredeneerbare, verstandelike oplossing vir die
raaisels van die lewe. Hulle verlang logiese bewysvoeringe. Wel,
wat kan ’n mens redelikerwys van ’n gekruisigde verwag?
Tog niks nie?

Broeders en susters, vandag is dit nie baie anders nie. Die
gekruisigde Christus as die Redder van die wêreld is ’n
dwaasheid vir die natuurlike oog en verstand. Ons leef in ’n
tyd waarin die menslike ervaring of die menslike verstand verhef
word. Dit sou die beslissende bron van kennis en sekerheid wees.
Mense wil eers iets kan sien, voel en ervaar voordat hulle dit
wil aanneem (empirisme) of mense wil dit eers met hul verstand
kan begryp (rasionalisme). Dis hoekom dat ook vandag baie mens
hulle aan die aloue evangelie van die kruis stoot. Daarom probeer
mense op allerlei maniere (ook deur die rolprent) die evangelie
vir die moderne mens aanneemlik te maak. Ons sien moderne
christene en teoloë doen wat Paulus beslis geweier het om te
doen.

Waarom het Paulus dit geweier? "Sodat die kruis van
Christus nie verydel mag word nie." of soos dit in die Nuwe
vertaling staan: "want dan sou die kruis van Christus sy
krag verloor." (1 Kor1:17). Is dit nie wat gebeur deur die
fliek: die Passion of the Christus nie? Christus se kruisiging
word in die fliek as ’n puur menslike gebeure geteken en
ervaar. ’n Verskriklike, bloedige gebeure wat ons simpatie
vir die gekruisigde opwek. Wat bly daar egter oor van die ware
saligmakende betekenis van die kruis? Die kruis van Christus
verloor sy krag. Paulus het geweier om die dwaasheid van die
kruis agter meeslepende woorde en beelde te verdoesel.

Wat Paulus geweier het om te doen, doen nou die moderne teoloë.
Die kruis moet vir die mens sin maak, aanneemlik gemaak word. So
kom teoloë daartoe om Christus se kruisdood te verklaar as net
’n gevolg van sy strewe na ’n beter menslike samelewing.
Christus het teen die gevestigde orde durf opstaan. Hy het
opgekom vir reg en geregtigheid, vir die misdeeldes en verdruktes.
Pragtig tog! In sy stryd vir reg het hy nie vir die dood
teruggeskrik nie. ’n Pragtige, ’n inspirerende
voorbeeld, wat mense weer hoop gee.

Gemeente, die kruis van Christus is op hierdie wyse vir die
natuurlike mens aanneemlik gemaak. Wie sou nie simpatie vir so
’n held hê nie? Wie sou so ’n bevryder, wat martelaar
geword het, nie wil aanbid nie? Maar wat bly dan van die boodskap
van die kruis oor? Die boodskap is op hierdie wyse kragteloos
gemaak. Dit is hoogstens ’n aanmoediging tot maatskaplike
vernuwing, maar dit het niks meer met die redding van mense te
doen nie. Christus die gekruisigde is so nie meer die Redder van
die wêreld nie, maar slegs ’n sosiale profeet of ’n
voorbeeld. Die poging van die moderne teoloë om die kruis
aanneemlik te maak het die kruis van sy krag beroof. Hulle staan
in feite - ook al wil hulle die kruis nog handhaaf – op een
lyn met die ongelowiges van Paulus se dae. Die Skriftuurlike
woord van die kruis is en bly ’n dwaasheid vir die
natuurlike mens. Ook vandag, maak nie saak hoe veel mense die
fliek oor Christus wil sien nie

Dit geld veral wanneer ons die wesenlike van Christus se kruis
sien. Hoe praat die Skrif oor die kruis? Die Skrif verbind die
oordeel van God aan die kruis. Die kruisiging van Jesus Christus
beteken sy vervloeking. God laat ons weet: Vervloek is elkeen wat
aan ’n hout hang (Gal 3:13). Daarom: vervloek is die
gekruisigde Jesus Christus.

En daardie vloekdood van Jesus Christus word amptelik
bekragtig. Die regter Pontius Pilatus vel sy vonnis. En daarmee
doen God dit, sê Christus. Want Pontius Pilatus funksioneer as
’n owerheidspersoon in diens van God. Jesus erken dit tydens
sy verhoor as Hy tot Pilatus sê: U sou geen mag teen My hê as
dit u nie van bo gegee was nie (Joh 19:11). Christus herken sy
Vader in die oordeel wat hom tref. Dit maak Hy nog duideliker as
Hy na die drie ure duisternis uitroep: My God, my God, waarom het
U my verlaat?

Wat is dan die hoofsaak van die kruis van Christus? Dis dat Hy
onder die toorn van God ly. Hy is nie net ’n slagoffer van
mense nie, maar Hy is – en daar kom dit op aan – ’n
deur God veroordeelde. Wat sien ’n mens daarvan in die
rolprent oor Christus se passion? Jesaja het reeds geprofeteer:
"dit het die Here behaag om Hom te verbrysel" (Jes 53:10).

Dit het nie slegs aan die einde van Christus se lewe op aarde
werklikheid geword nie. Die kruis is wel die klimaks, alles het
daarop uitgeloop, daar het alles teen Hom gekeer. Maar die
verwerping deur God het reeds by die aanvang van Jesus se lewe op
aarde begin. God begin onmiddellik alles van Hom weg te neem.
Daar is geen plek vir Hom in die herberg nie. Hy moet as kind na
Egipte toe vlug. Hy word deur mense verwerp. Kort voor die
klimaks hoor ons Jesus uitroep: die jakkalse het gate en die voëls
van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek
waar Hy sy hoof kan neerlê nie (Lk 9:58). Dit loop dan uit op
die kruisiging: deur God en mense verstoot, as ’n vervloekte
uitgewerp. God het Hom in sy toorn verbrysel.

Waarom doen God dit? Jesaja het daarvan gesê: Hy is ter wille
van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is
Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op
Hom (Jes 53:5). God het Christus dus in ons plek, ter wille van
ons sondes, verbrysel. Die straf wat ons verdien het, was op Hom.

Gemeente, hier ontdek u waarom die natuurlike mens ten diepste
aanstoot neem aan die woord van die kruis. Die kruis praat immers
van sonde en straf. Die kruis praat van die oordeel van God oor
my sonde. Die kruis van Christus wys my aan as die skuldige. Ek
moes deur God verwerp word. Ek moes daar gehang het. Die kruis
roep my toe: jy is slegs gered as jy erken dat jy die skuldige is
en dat Jesus Christus jou plek ingeneem het en jou skuld betaal
het. Is dit wat die rolprent oor Christus die kykers leer? Wek so
’n rolprent nie eerder ’n afkeer van die martelaars en
moordenaars van Christus nie, waarby ons dan ons hande in onskuld
was?

Vir die wyse en verstandiges van hierdie wêreld is dit ’n
vreemde boodskap. Dit gaan direk teen my eergevoel in, teen my
waardigheid. Watter natuurlike mens wil hoor van die oordeel van
God wat hy verdien het? Watter natuurlike mens wil hoor dat hy
volstrek nie in staat is om homself te red nie? Watter natuurlike
mens wil hoor dat ’n ander, Jesus Christus, vir hom aan die
kruis God se toorn gedra het? Van nature sê ons hart: dit kan
nie nodig wees nie. So sleg is ek tog nie? En dit kan tog nie in
ooreenstemming met die liefde van God wees nie?

Ja, gemeente, so het die Jode en die Grieke die woord van die
kruis verwerp. Hulle het gedink dat hulle nie so ’n redder
nodig gehad het nie. Dit was vir hulle ’n aanstoot en ’n
dwaasheid. So verwerp ook baie moderne christene die woord van
die kruis. Hulle wil die indruk wek dat hulle die evangelie van
die kruis nog handhaaf. Kyk maar na die film wat juis Christus se
kruisiging vir die breë publiek wil uitbeeld. Hulle kom tog met
die kruis van Christus? Maar dis ’n vervorming, uitholling
daaraan. Daarmee word die evangelie van sy krag beroof. En laat
ons, broeders en susters, eerlik wees. So praat ook ons
natuurlike hart. Jy kan wel met die mense praat oor vernuwing en
verandering van die lewe. Jy kan sonder probleem by die mense
aankom met die liefde van God. Maar die woord van die kruis,
waarby God sy Seun vir ons sondes straf, lyk tog nie baie
aantreklik nie. Kan jy met so ’n boodskap nog wel die mense
aanspreek?

Ja seker, sê die apostel Paulus, die woord van die kruis is
’n boodskap wat jy moet bly uitdra in alle tye en plekke.
Daar kom dit op aan. Dit is wat die mense juis nodig het. As jy
die mense deur jou indrukwekkende verhale, jou meeslepende woorde
of beelde wen, sonder dat hulle die kruis werklik verstaan en
aanvaar, dan het hulle nog niks nie. Dan het jy hulle wel vir
jouself maar nie vir Christus gewen nie. Ook al sê hulle dat
hulle bekeerd is. Bekeerd tot wie? Tot die Christus van die
Skrifte? Of tot ’n Christus wat die mens gevorm is? Jesus
Christus die gekruisigde is die hart van die evangelie. Die heil
van mense hang daarvan af. So, op daardie manier, is Hy die
Redder van die wêreld.

Die woord van die kruis is immers ’n krag van God tot
redding van elkeen wat glo. Die tweede gedagte.

Hier sien julle gemeente dat God die wysheid van die wêreld
vernietig. Waar bly die wyse? Waar bly die skrifgeleerde? Waar
die redetwister van hierdie eeu? Waar bly hulle met hul
oplossings vir die raaisels van die lewe en sterwe? Waar is die
nuwe wêreld wat hulle sou bring? Dink maar aan al die ideologieë
wat deur die eeue voorgestel is as die oplossing. Wat het geword
van die sosialisme, die kapitalisme, die kommunisme. Het dit
werklik redding gebring? Kan die wyse mense werklik die wêreld
bevry van die ellende wat daar is? Wat bereik hulle met al hul
wysheid? God laat sien dat hulle wysheid dwaasheid is.

"Want wat dwaas is by God, is wyser as die mense; en wat
swak is by God, is sterker as die mense." (1 Kor 1:25). Wat
al die mense met hul wysheid en ervaring nie kan bereik nie, dit
bereik God. Deur die gekruisigde Christus kom daar die vergewing
van sondes en die vernuwing van die lewe, ja die ewige lewe. Hy
bevry van die ellende. Wat dwaas is in die oë van mense blyk
oneindig meer werd te wees as die wysheid van die hele mensheid
saam. In die gekruisigde is daar werklik verlossing.

Hoe so? Daar aan die kruis is die sonde vernietig. En God se
toorn oor die sonde is tot swye gebring vir elkeen wat glo. Die
apostel Petrus skryf oor Jesus Christus: wat self ons sondes in
sy liggaam op die kruishout gedra het (1 Petr 2:24). Al ons
sondes het as ‘t ware op Hom gelê. En Hy het hulle in sy
liggaam saamgeneem, toe Hy aan die kruis gespyker is. Belaai met
ons sondes hang Hy aan die kruis. As Hy daaraan sterf dan sterf
ook in Hom my sonde. So het Hy die skuldbrief van ons sonde
weggeruim deur dit aan die kruis vas te nael (Kol 2:14).

Daarom kan Petrus ook van ’n afsterwing van die sondes
praat, vir hulle wat in Christus ingesluit is. "Wat self ons
sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die
sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe." (1 Petrus
2:24).

Hier vind ’n wonderlike wisseling plaas. Jesus Christus
wat geen sonde geken het nie, het God vir ons tot sonde gemaak,
sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom (2 Kor 5:21). Hy
wat volmaak heilig is, word deur God beskou en behandel as een en
al sonde. Hy word behandel soos ons behandel moes word. Die ewige
oordeel van God, wat ons verdien het, tref Hom. Die vervloeking
wat op ons was, is op Hom gelaai.

Hy neem die verskriklike dinge van ons af. Hy laat hom
verbrysel. "Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor,
ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat
vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar
vir ons genesing gekom." (Jes 53:5).

My groot plaasvervanger. Hy neem op Hom wat ek verdien het en
gee aan my terug wat ek juis nie verdien het nie: God se genade,
geregtigheid en die ewige lewe; bevryding van die streng oordeel
van God, seën pleks van vloek.

So het ons geregtigheid van God geword in Christus. In Hom is
ek regverdig, het ek die vryspraak van sonde en die lewe. Ek kan
weer voor God bestaan. Ek hoef die oordeel nie meer te vrees nie.
Onder Pontius Pilatus het die regsgeding teen my reeds
plaasgevind. Daar het God die regsgeding teen my geopen en beëindig.
Daar is my sonde teen die heilige God veroordeel. Na daardie
regsaak hoef ek geen ander regsaak te verwag nie, behalwe die
allerlaaste definitiewe vryspraak op die dag van Christus. So mag
ek in geloof sonder verskrikking voor die regterstoel van
Christus verskyn. Hy het immers reeds my plek ingeneem.

Gemeente, hierdie woord van die kruis is ’n baie ernstige
saak. Jou hele verlossing hang daarmee saam. Laat die woord van
die kruis jou nie ontneem of ontkrag word nie. Wil jy Christus
sien, gaan nie na die fliek nie, maar gaan terug na die Bybel en
luister na die getroue bediening van die woord. Wil jy die
betekenis van Christus se kruisiging verstaan, kyk dan nie na die
rolprent the passion of the Christ nie. Die rolprent kan juis
’n struikelblok wees vir die reg verstaan van Christus se
lyding en dood. Die eenmalige en unieke kenmerk van Christus se
offer aan die kruis kom immers nie in beeld nie, naamlik dat Hy,
wat tegelyk God en mens is, die toorn van God teen die sonde van
die hele menslike geslag gedra het. Terwyl jou verlossing juis
daarvan afhang. Laat jou nie verlei deur die middele wat aan die
vermaaklikheidswêreld ontleen is nie. Laat jou nie vang deur
beelde nie, maar gee jouself gewonne aan die woord van God. Sodat
jou geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die
krag van God. Die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die
wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag
van God. Deur die dwaasheid van die prediking wil God die wat
glo, red.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)