Paulus wys dat die viering van die Nagmaal ’n ernstige saak is.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2004-02-01
Teks: 
I Korinthiërs 11
Preek Inhoud: 

1 Korinthiërs 11:27-29

Ds C Kleyn - Sondag 1 Februarie 2004

Lees: 1 Korinthiërs 11:17-34.
Sing: Ps 51:1,2; Ps 51:3,4; Ps 105:5 (na doop
van Marissa Zeevaart); SB 29:8,9; Ps 32:1,2,5,6; Ps 139:1,12 (vir
aanddiens vervang eerste drie Psalms met Apostoliese
Geloofsbelydenis).

Tema: Paulus wys dat die viering van die Nagmaal
’n ernstige saak is.

  1. Wanneer ek dit op onwaardige wyse vier, dan sondig ek
    teen Christus; en
  2. Wanneer ek dit op waardige wyse vier, dan word ek deur
    Christus gevoed.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Vanoggend gaan dit oor ’n toets wat ons moet aflê. Seuns
en dogters, moenie bekommerd wees nie, ons gaan nie praat oor die
skooltoetse wat julle reëlmatig moet aflê nie. Op Sondag is
daardie skole gesluit. Nee, dit gaan nou oor die skool van
Christus. Die skool is nooit gesluit nie. Elkeen van julle is
dissipels, leerlinge van Christus. En as sy leerling het jy nooit
vakansie nie, ook nie tydens jou normale skool vakansies nie. Jy
kan nooit Christus se lesse aan die kant skuif nie. Wanneer die
skoolvakansies aanbreek, kan jy by die dagskole jou boeke en
lesse bêre en dit so los. Voorlopig hoef jy nie meer daaraan te
dink nie. Dis nie so in Christus se skool nie. As Christus se
leerlinge het jy altyd met jou Meester te make, elke dag, ja,
selfs elke oomblik van jou lewe. Jy kan sy lesse, sy leer, die
leer van die skrifte, nooit tersyde lê nie. Dit laat jou nooit
los nie. Jy is voortdurend besig met ’n toets, so te sê. Jy
word getoets voor God.

Paulus noem hierdie toets in sy brief aan die Korintiërs. Die
Christene daar word aangespreek as die geheiligdes in Christus
Jesus, die geroepe heiliges. Hulle is geroep om Christus se
toegewyde leerlinge te wees. Aan die heiliges skryf Paulus in 2
Kor 13:5: "Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel
julself op die proef. Of is julle nie seker van julself dat Jesus
Christus in julle is nie – as julle tenminste nie verwerplik
is nie." Leef jy werklik in die geloof? Is dit sigbaar dat
Christus in jou is? Hoe is dit sigbaar? Bepaal Christus werklik
jou houding en gedrag? Ondersoek jouself om te sien of jy in die
geloof is, toets jouself.

Dit is, broeders en susters, selfondersoek na die Bybel. Dis
nie ’n godsdienstige psigoanalise, nie ’n na
binnegekeerde ondersoek om te sien wat God in my hart gedoen het
nie. Dis geen analise om te bepaal of ek in myself waardig is nie.
Nee, selfondersoek na die skrif is om my lewe en gedrag aan die
Woord van God te toets. Glo ek die woord van God en wys ek dit in
my lewenswandel.

Maar wanneer moet ek myself ondersoek? Slegs een keer in die
drie maande, net voor die viering van die heilige Nagmaal? Is dit
om die rede dat ons probeer om daaraan aandag te gee op die
Sondag voor die viering van die Nagmaal? Natuurlik nie. Die
selfondersoek moet daagliks plaasvind, nie net voor die Nagmaal
of voor die weeklikse erediens nie. Ek moet myself voortdurend
toets in die lig van God se woord. Dis ’n aanhoudende
roeping: ondersoek jouself, bly jouself ondersoek of jy in die
geloof is. Dit sou baie onskriftuurlik wees om dit te beperk tot
net ’n paar keer per jaar. Wanneer jy bv iets teen ’n
broer of suster het, moet jy probeer om dit onmiddellik reg te
maak. Daarvoor moet jy nie wag tot die week voor die Nagmaal nie.
Ek moet myself elke dag ondersoek. Leef ek werklik as ’n
kind van God? Ja, wat beteken God vir my? Glo ek opreg in God? Is
dit werklik my lus en liefde om volgens die wil van God in alle
goeie werke te lewe? Elke dag moet ek myself ondersoek, want elke
dag staan ek voor God. Ook elke Sondag. Gaan ek kerktoe uit
liefde en dankbaarheid jeens God, om Hom te aanbid, om na Hom te
luister en my aan Hom te onderwerp? Of doen ek dit net uit
gewoonte, of omdat dit van my verwag word?

Hierdie daaglikse selfondersoek is nie net vir ’n
beperkte groep kerkgangers nie. Selfs die kinders, julle, seuns
en dogters, moet leer om jul lewe daagliks aan die Bybel te toets.
Hier het ons as ouers ’n groot verantwoordelikheid. Die
Bybel is die norm vir ons geloof en lewe as ouers en kinders.
Daaglikse selfondersoek kan lei tot opregte nederigheid voor God,
’n opregte bede vir vergewing en vernuwing.

Geliefdes, wanneer Paulus die selfondersoek in ons teks noem,
dan wys hy spesifiek op die manier waarop die Korintiërs die
Nagmaal gevier het. Die Korintiërs moet hulleself ondersoek met
die oog op hul viering van die heilige Nagmaal. Hulle moet nagaan
of hul houding en gedrag ooreenstem met die aard van die Nagmaal.
Die viering mag nie op onwaardige wyse plaasvind nie, op ’n
manier wat vloek met die karakter van die Nagmaal. Om die heilige
Nagmaal te vier is ’n ernstige saak. Dit moet afgestem wees
op die heilige sakrament.

In die teks gee Paulus nie ’n algemene en breë gebod om
jouself te ondersoek om te sien of jy miskien in ernstige sonde
lewe nie. Dit sou nie so reg wees om dit slegs net voor die
viering van die Nagmaal te doen nie. Dit sou beteken dat jy in
die tussentyd rustig kan voortlewe in jou sonde.

Wat is dan die verskil tussen 2 Kor 13 en ons teks? Die
selfondersoek waaroor Paulus praat in 2 Kor 13 is ’n
daaglikse roeping vir jonk en oud, nie beperk tot die
voorbereiding op die Nagmaal nie. Die selfondersoek wat Paulus in
ons teks noem, wys spesifiek op die manier waarop ons die Nagmaal
vier. En die Nagmaal is nie iets wat jy elke dag vier nie.

Laat ons let op wat die teks vir ons wil sê oor die
selfondersoek met die oog op die viering van die Nagmaal. Paulus
wys dat die viering van die Nagmaal ’n ernstige saak is.

  1. Wanneer ek dit op onwaardige wyse vier, dan sondig ek
    teen Christus
  2. Wanneer ek dit op waardige wyse vier, dan word ek deur
    Christus gevoed.

Paulus spreek die ontheiliging van die Nagmaal deur die
Korintiërs aan. In die vroeë kerk het die heilige Nagmaal
aangesluit by ’n gewone maaltyd. Blykbaar het die Korintiërs
die Nagmaal gevier onmiddellik na die sogenaamde liefdesmaal. Die
liefdesmaal was bedoel as ’n gemeenskaplike maaltyd om die
onderlinge band te versterk en om die armes te ondersteun. Die
lidmate het kos saamgeneem om dit met almal te deel, die rykes
het meer gebring en die armes minder of niks nie. Deur dit onder
mekaar te deel kon die lidmate gelykheid onder mekaar ervaar. Die
rykes en die armes, die slawe en die here kon die kos gelykop
deel. So kon hulle die onderlinge band in die Here vier. Aan die
einde van die liefdesmaal, as ’n soort klimaks het hulle dan
die Nagmaal gevier.

Die Korintiërs het egter die viering van die Nagmaal op
’n verskriklike manier ontheilig. Hulle het ’n
karikatuur van die liefdesmaal gemaak. Dit was veronderstel dat
die rykes meer sou saamneem om dit met die armes te deel. Maar in
die praktyk het dit geword: elkeen vir homself. Die rykes het
baie geëet, die armes het honger gely. Mense het geëet om te
eet en gedrink om te drink en nie om die gemeenskap met die Here
en met mekaar te vier nie. Daarom sê Paulus, as julle dit so
doen, kan julle net sowel tuis bly en daar jou maaltyd eet.

So was daar verdeeldheid, vorming van klieke en groepe. Die
eenheid ontbreek. En dan durf hulle om saam die heilige Nagmaal
te vier. Wat ’n gebrek aan geestelike fyngevoeligheid. Wat
’n ontheiliging van die Nagmaal.

Daarom waarsku Paulus: "Wie dan op onwaardige wyse
hierdie brood eet of die beker van die Here drink, sal skuldig
wees aan die liggaam en bloed van die Here."

Besef tog waar jy mee besig is, sê Paulus. Deur julle gebrek
aan onderlinge liefde en aandag, deur jul nalatigheid om die
eenheid te wys, deur jul selfsug, deur jul partygees maak julle
nie net ’n klug van die liefdesmaal nie. Julle ontheilig
daarmee die Nagmaal, ja julle is besig om te sondig teen die
liggaam en bloed van die Here. Dis feitelik godslastering. Jy
misbruik die naam van die Here. En die Here sal nie onskuldig hou
wie sy naam ydellik gebruik nie.

In die voorgaande verse het Paulus reeds die waarde van die
brood en wyn van die Nagmaal aangedui. Christus het dit ‘my
liggaam’ genoem en die beker ‘die nuwe testament in my
bloed’. Die Nagmaal is nie maar net ’n gewone maaltyd
nie. Dit is ingestel ter gedagtenis aan Christus sy lyding en
dood: sy liggaam en bloed wat vir jou gegee is. So verkondig jy
aan die tafel die dood van die Here.

Wel, as die sakrament so ’n groot waarde het, dan kan jy
dit nie sommer gebruik nie, op ’n onverskillige manier asof
jy net besig is om ’n stuk brood te eet en ’n bietjie
wyn te drink. Paulus verklaar die aard en doel van die sakrament
sodat die Korintiërs kan verstaan waar hulle mee besig is.

Die Nagmaal is na sy aard ’n verkondiging van Christus se
dood. Dan kan ek die Nagmaal nie net gebruik soos enige ander
maaltyd nie. As ek dit wel doen, dan eet en drink ek op
onwaardige wyse., dan ontheilig ek die heilige sakrament.

Geliefdes, dit sal duidelik wees dat hierdie eet en drink op
onwaardige wyse niks te make het met die gevoel van onwaardigheid
voor die Here nie. So ’n gevoel van eie onwaardigheid is
’n vereiste vir die goeie viering van die Nagmaal. Christus
het gekom om verlorenes te red en nie hulle wat hulleself as
regverdiges beskou nie. Die vraag van die teks is nie of jy
waardig is of nie om die Nagmaal te vier nie, maar of jy die
Nagmaal op ’n waardige manier vier.

Paulus verwys na die oneerbiedige en selfsugtige maniere wat
sommige van die Korintiërs gekenmerk het. Wanneer ek nie Nagmaal
toegaan om die dood van die Here te verkondig as offer vir my
sonde, wanneer ek weier om my houding en gedrag af te stem op die
heilige Nagmaal, dan vier ek op ’n onwaardige wyse. So
’n onverskillige houding pas nie by die heilige tekens en
seels van die Nagmaal nie. So ’n houding vloek met hierdie
heilige instelling van Christus.

Daar aan die tafel het jy mos met Christus self te doen, met
sy liggaam en bloed. Jy kan tog nie onverskillig wees teenoor
Christus nie? Aan die Nagmaal word juis uitgebeeld en verseël
dat Christus gesterf het om jou, ’n sondaar, te red. Hoe kan
jy onverskillig bly in die lig van so ’n genade? Christus se
dood moet jou houding en gedrag bepaal. Wanneer jy bewus van sy
dood vir jou is, dan sal dankbaarheid, vreugde en liefde jou
viering kenmerk. Dit sal ook jou houding teenoor jou medelidmate
kenmerk Sondaars wat weet dat hulle deur genade gered is, is
nederig teenoor mekaar, geduldig en sorgsaam. Wanneer jy besef
wat jy aan die Nagmaal vier, sal jy ook werklik omgee vir die
eenheid van God se volk. Jy sal daaraan uitdrukking wil gee. Alle
selfsug en partygees aflê. Dan sal jy met vreugde met die armes
deel, met mekaar deel. Dan sal jy elke geleentheid gebruik om aan
die eenheid in die Here, uiting te gee. Verloste sondaars soek
mekaar op, gee om vir mekaar. Dis net in die gees dat die Nagmaal
op waardige wyse gevier kan word. Jy wys dan dat jy weet waaroor
dit aan die tafel gaan.

Maar geliefdes, nalatigheid daarin maak ’n mens skuldig
aan sonde, nie net teen die tekens van brood en wyn nie, maar
teen die Here self. Jy kruisig dan Christus opnuut, so te sê.
Aan die tafel het jy met Christus self te make. Daar is geen
manier dat jy Hom kan ontduik nie. Christus sal jou nie los nie.
Hy sal of jou seën of jou vervloek. Daarom is dit geen
onverskillige saak hoe jy aan die tafel van die Here aansit. Om
die brood en wyn te ontvang sal jou op een of ander manier raak,
in positiewe of negatiewe sin. Jy het immers te doen met Christus
se liggaam en bloed. Wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet
of die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan die liggaam
en bloed van die Here.

Paulus onderstreep dit in vers 29 wanneer hy sê: "want
wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink ’n oordeel
oor homself, terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei nie."
Letterlik sê hy selfs: jy mag dan die brood eet en die wyn
drink, maar in werklikheid eet en drink jy jou oordeel. Jy bring
die oordeel oor jouself.

Watter soort oordeel Paulus aan dink, kan duidelik wees uit
die verse wat volg. Blykbaar was daar baie gevalle van swakheid
en siekte in die gemeente, selfs opvallende sterfgevalle. Paulus
dink hier nie onmiddellik aan God se ewige oordeel nie, maar aan
God se tydelike tugtiging soos siekte en dood. Jy sou dit ook kan
vergelyk met wat Dawid in Ps 32 noem. Julle weet dat Dawid
aanvanklik geweier het om sy sonde te erken Daaroor skryf hy:
"Toe ek geswyg het, het my gebeente uitgeteer in my gebrul
die hele dag. Want u hand was dag en nag swaar op my; my murg het
verander soos deur somergloed." Dawid ervaar dat sy weiering
om sy sondes te bely, fisies en psigies verwoestend werk. Om te
weier om jou sondes te bely, kan jou stukkend maak. Dis dan God
se tugtende hand. ’n Opregte belydenis van skuld bevry jou
egter van ’n sware las en gee jou weer blydskap, soos Dawid
dit ervaar het. Daarom kon hy die Psalm eindig met die woorde:
"Wees bly in die Here en juig, o regverdiges! En jubel, alle
opregtes van hart!" Want daar is vergewing.

Broeders en susters, om ’n geseënde viering van die
Nagmaal te kan hê, is dit nodig dat elkeen homself eers beproef.
Dit geld nie net vir hulle waarvan bekend is dat hulle in sondes
lewe nie. Dit geld vir elkeen wat wens om te vier.

Oordink op watter wyse julle gaan vier. Besef tog die karakter
en doel van die sakrament. Ken jy ’n houding van eerbied en
ontsag, van dankbaarheid en liefde wat by so ’n heilige
maaltyd pas? Is dit jou begeerte om die dood van die Here te
verkondig as jou lewe? Aanvaar jy opreg die belofte en die eis
van die verbond van genade? Is die jou begeerte om die gemeenskap
met Christus en so ook met die ander lidmate van sy liggaam, die
kerk, te onderhou en te vier?

Geliefdes die selfondersoek word verder in vers 29 verklaar
wanneer Paulus praat van ’n onderskeiding van die liggaam
van die Here. Besef dat jy nie net tafel toegaan om ’n
stukkie brood te eet en ’n bietjie wyn te drink nie. Jy het
te doen met tekens en seels van Christus se liggaam, Christus in
sy offerande. Skat dit tog op sy juiste waarde!

So kry jy die ware selfondersoek wat pas by die viering van
die Nagmaal. Hierdie selfondersoek het nie as doel dat jy van die
tafel wegbly nie. Dit het as doel dat jy aan die tafel gaan sit
met die regte houding, op die regte manier. Alle onheilige
elemente moet eers verwyder word. Sodat jy aan die tafel kan sit
heilig vir die Here, beproef. Dan vier ek nie die Nagmaal op
’n selfversekerde manier asof ek in myself waardig sou wees,
in lig van my kwaliteite of my prestasies nie. Dan vier ek die
Nagmaal as ’n mens wat roem in Christus alleen. As ’n
mens wat sy saligheid buite homself in Jesus Christus soek. Met
die erkenning dat ek uit myself dood is deur my sondes. Die Here
verwelkom sulke nederige heiliges en sondaars. Hy sal jou dan aan
sy tafel verkwik tot die ewige lewe. Hy sal jou band met Hom en
met mekaar versterk.

Geliefdes, die formulier vir die viering van die heilige
Nagmaal gee ’n meer algemene strekking aan die selfondersoek
wat Paulus in 1 Kor 11 noem. Paulus spreek ’n verkeerde
houding en gedrag aan wat voortspruit uit ’n verkeerde
persepsie van die gemeente en van die Nagmaal. Die formulier maak
dit breër en meer algemeen. In die kort formulier lees ons:

"Om tot versterking van ons geloof die Nagmaal te kan
hou, is dit nodig dat ons ons vooraf reg sal ondersoek. Daarom
moet ons nadink oor ons sonde en vervloeking, sodat ons ’n
afkeer kry van onsself en ons met diepe berou voor God
verootmoedig.

Elkeen moet homself ondersoek of hy die vaste belofte van God
glo dat al sy sondes hom alleen op grond van die lyding en dood
van Jesus Christus vergewe is en dat die volkome geregtigheid van
Christus hom as sy eie toegereken en geskenk is.

Ook moet elkeen sy gewete ondersoek of hy van voorneme is om
van nou af met sy hele lewe uit ware dankbaarheid God te dien en
opreg voor Hom te wandel. Ook moet hy homself ondersoek of hy
ernstig van voorneme is om eerlik alle vyandskap, haat en nyd te
laat vaar en voortaan in liefde en vrede met sy naaste te lewe."

Dis nie ’n statiese ondersoek nie, nie ’n kliniese
versameling van die feite wat dan tot die konklusie moet lei: of
ek mag aan die tafel of ek mag nie.

Nee, ware selfondersoek behoort net een gevolg te hê: dat ek
aan die tafel gaan met die regte ingesteldheid. Luister maar na
Paulus: "Maar die mens moet homself beproef en so van die
brood eet en uit die beker drink." Bybelse selfondersoek
bring jou daartoe om jouself opnuut voor God te verootmoedig,
bewus van jou eie sondes en swakhede. Bybelse selfondersoek bring
jou daartoe om God se belofte van vergewing opnuut te omhels.
Bybelse selfondersoek roep opnuut die begeerte op om God en die
naaste uit liefde en dankbaarheid te dien.

Jy ondersoek jouself dan immers voor die Here. Jy rig jou op
die Here, jy open jou hart vir Hom, jy soek by Hom jou troos, jy
onderwerp jou aan Hom.

Om so te eet en te drink aan die tafel van die Here is ’n
voorreg en ’n eis. Dis ’n gebod: "doen dit tot my
gedagtenis" en ’n fees. Jy vier die heerlike gedagtenis
van die bittere dood van jou Verlosser as jou lewe.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)