Christus is in die hemel ontvang met die oog op die wederoprigting van alle dinge.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2004-07-11
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 18
Preek Inhoud: 

Sondag 18

Ds C Kleyn - Sondag 11 Julie 2004

Lees: Handelinge 3:11-26; Sondag 18.
Sing: Ps 47:1,2; Ps 68:1,2; Ps 68:8,9; Ps 47:3,4;
Ps 68:15,16.

Tema: Christus is in die hemel ontvang met die oog op
die wederoprigting van alle dinge.

  1. Sy ontvangs in die hemel; en
  2. Sy wederoprigting van alle dinge.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons bely nou die hemelvaart van ons Here Jesus Christus. Lukas
gee aan Christus se hemelvaart ’n sentrale plek in die twee
boeke wat Hy skryf. Lukas omskryf die hemelvaart as ’n
opneming. Vanaf Lukas 9:51 is alles gefokus op Christus se
ontvangs in die hemel. Ons lees daar – as ’n soort
opskrif bo wat volg: "En toe die dae van sy opneming nader
kom, het Hy sy aangesig gerig om na Jerusalem te reis."
Terwyl Lukas se eerste boek met Christus se hemelvaart eindig,
begin sy tweede boek daarmee. Lukas skryf in Hand 1 dat hy in sy
eerste boek alles opgeteken het wat Jesus begin doen en leer het
tot op die dag dat Hy opgeneem is. Die boek Handelinge is ’n
vervolg op die geskiedenis. Hand 1 vertel ons dat Christus
opgeneem is voor die oë van sy dissipels. Twee engele berig sy
aankoms in die hemel. Hulle noem ook sy wederkoms. "Hierdie
Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos
julle Hom na die hemel sien wegvaar het."

Petrus gaan in op die boodskap in die pilaargang wat Salomo s’n
genoem word. Ons het daarvan gelees. Die apostel sien die verband
tussen hemelvaart en wederkoms. In vers 21 lees ons: "Hom
wat die hemel moet ontvang tot op die tye van die wederoprigting
van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die
mond van al sy heilige profete." Christus se ontvangs in die
hemel word verbind aan die wederoprigting van alle dinge. Die
hemel moet Jesus Christus ontvang met die oog op die herstel van
alle dinge.

Hier het ons weer te doen met ’n goddelike "moet."
Christus se program en tydsberekening word deur God die Vader
bepaal. Dis veral Lukas wat dikwels van ’n "moet"
praat in verband met Christus se werk. Wat in die boeke van
Moses, in die profete en in die Psalms geskryf is, moet vervul
word. Daarom moes Christus ly en in die hemel opgeneem word.
Alles is volgens plan, volgens God se plan van verlossing.

Ek verkondig vir julle: Christus is in die hemel ontvang met
die oog op die wederoprigting van alle dinge.

  1. Sy ontvangs in die hemel
  2. Sy wederoprigting van alle dinge

Christus is voor die oë van sy dissipels van die aarde af na
die hemel opgeneem. Die dissipels het ’n wolk sien verskyn,
’n teken van die heerlikheid van die Here. Hulle het met hul
eie oë gesien hoe die wolk Christus opgeneem het uit hul gesig.
En die engele – God se boodskappers – het vir hulle sy
aankoms in die hemel meegedeel.

Geliefdes, hierdie berigte is van onskatbare waarde, vir ons,
Christus se kerk. Die Menseseun het opgevaar na die hemel.
Christus se woorde het werklikheid geword: Ek vaar op na my Vader
en julle Vader, en my God en julle God (Joh 20:17). Hier sien ons
dat een van ons, ons vlees en bloed, opvaar na die hemel.

Verbly jou daaroor. Die pad na die hemel is weer oop. Deur die
sondeval het hemel en aarde teenoor mekaar te staan gekom. Wat
God in goeie harmonie geskep het, is deur die sonde bederf. Hemel
en aarde is vanmekaar losgeskeur. Die aarde het in sy emansipasie
sug teen die hemel in opstand gekom. Die mens wou sy eie God en
meester wees.

Maar nou sien die dissipels met hul eie oë hoe die kloof
tussen hemel en aarde oorbrug word. Een van ons, die Menseseun,
word in die hemel opgeneem. Die teenstelling deur die sonde is
blykbaar oorwin. Hier sien jy mos dat ’n mens vrymoedig die
hemelse paradys ingaan. Die verbode toegang teken is verwyder.
Hemel en aarde word weer verenig.

En geliefdes, diegene wat opgeneem is, is nie net enigiemand
nie. Hy is diegene wat eers neergedaal het uit die hemel. Hy is
die Middelaar tussen God en mense. Ja, Hy is God self, wat die
inisiatief geneem het tot die verlossing van die wêreld in nood.
Die wêreld het God nie gesoek nie, kon Hom nie soek nie. Tog het
God die Seun self neergedaal om ons mense te verlos. Hy het ons
vlees en bloed aangeneem. Hy het een van ons geword om ons met
God te versoen. Om die kloof tussen hemel en aarde te oorbrug.

Wel, broers en susters, op die Hemelvaartsdag is dit jou
Middelaar wat in die hemel ontvang word. Jou middelaar wat jou
deur sy bloed tot sy eiendom gemaak het. Jou Here, jou hoof
ontvang toegang tot die hemel. Die feit dat jou hoof die hemel
binnegaan het, het ook groot gevolge vir jou. Jou hoof is nie
alleen nie. Hy is nooit sonder sy eiendom nie. Wanneer Hy toegang
tot die troon van God ontvang, dan ontvang jy ook toegang.
Christus gaan nie op sy eie nie.

Paulus skryf hieroor in die brief aan die Efesiërs. Hy skryf:
"Toe Hy opgevaar het in die hoogte, het Hy die gevangenes
gevange geneem." Christus het dus ’n menigte gevangenes
saamgeneem. Net soos ’n veldheer in sy segetog sy
krygsgevangenes saamneem.

Wie is dan Christus se gevangenes? Wie het Hy gevange geneem?
Hy het, in ieder geval, die gelowiges gevange geneem. Jesus
Christus het my uit die mag van Satan geruk. Hy het my deur sy
evangelie gevange geneem. Hy het ons aan homself onderwerp as
mense wat aan Hom hulde moet bring. Christus het dus ons as
gevangenes na die hemel gelei.

Die klink vreemd in ons ore. Is ons die gevangenes van
Christus wat hemel toe gelei word? In die lig van ander
Skrifgedeeltes is dit egter nie so vreemd nie. Paulus noem
homself dikwels ’n slaaf van Christus. En in 2 Kor 10:5
gebruik hy ook die beeld van gevangenskap wanneer hy praat van
gedagtes wat gevange geneem word tot die gehoorsaamheid aan
Christus. As jy aan Christus onderwerp is om Hom te gehoorsaam,
dan is jy deur Christus gevange geneem. Dan het Hy jou uit die
hande van Satan geruk.

Christus neem die gelowiges saam met hom as gevangenes na die
hemel. Daarom lees ons in Ef 2:6 dat God ons saam met Christus
opgewek het en saam laat sit het in die hemele in Christus Jesus.
Om dit in beeld te kry moet jy dink aan die taak van die hoëpriester
in die Ou Testament. Wanneer die hoëpriester voor God se troon,
in die allerheiligste, verskyn het, het hy altyd die borskleed
gedra met die name van die twaalf stamme daarop. Hy
verteenwoordig God se volk en bring die volk voor die troon van
God. Christus ons hoëpriester neem op vergelykbare wyse ons name
saam wanneer Hy op Hemelvaartsdag die hemelse heiligdom ingaan.
Daarom kan Paulus ook skryf dat ons burgerskap in die hemele is.
As Christus se gevangenes is ons burgers van die koninkryk van
die hemele.

Geliefdes, dis hoe reëel Christus se hemelvaart vir jou is,
dat jy kan sê dat jy met Hom opgevaar het na die hemel en dat jy
reeds daar sit in die hemele in Christus Jesus. Geen mag in die wêreld
kan dit ongedaan maak nie. Niks kan jou skei van jou oorwinning
in Christus Jesus nie.

Dis ’n groot troos vir ons terwyl ons nog hier op aarde
leef en stry. Dikwels lyk dit asof die hemel ver weg is. Daar is
’n geografiese afstand. Christus is in die hemel en ons is
op aarde. Ons is nog op aarde waar die stryd teen die sonde
aanhou en selfs intensiewer word. Ons verkeer nog midde in die
stryd teen siekte en dood. Ons ervaar daagliks die gebrokenheid
van die lewe. Dit kan by tye baie moeilik en donker word, veral
as ons die gevoel hê dat ons steeds verder en dieper wegsink.
Die hemel lyk so ver weg, onbereikbaar. Wat ’n kontras
tussen die hemelse heerlikheid en ons lewe hier op aarde. Dit lyk
soos ’n kloof wat nie oorbrug kan word nie.

Maar, broers en susters, jou hoof is opgeneem in die hemel.
Die teenstelling, wat deur die sonde ontstaan het, is opgehef.
Hemel en aarde is in beginsel weer verenig. Die afstand is
oorbrug. Die hemelvaart van jou hoof is ’n waarborg van jou
hemelvaart. Ja, in Hom, het jy reeds ’n plek in die hemel.
Te midde van jou stryd teen sonde en sy gevolge mag jy weet dat
jy reeds ’n burger van die koninkryk van die hemele is. Geen
sonde of swakheid wat nog teen jou wil in jou oorgebly het kan
die burgerskap van jou wegvat nie. Verhef jou harte na bo. Sien
op Jesus Christus jou Here. Jou vlees en bloed is reeds in die
hemel.

Julle sal verstaan dat dit nog ’n saak van geloof is.
Deur geloof is jy vry van ’n geëmansipeerde en geslote wêreld.
Deur geloof ontvang jy ’n ruimer uitsig, selfs tydens die
grootste teleurstellings en beproewings. Jou lewe hoef nooit meer
sonder uitsig te wees nie. Jy ken tog Jesus Christus wat as jou
heer en hoof na die hemel opgeneem is? Die hemel is so naby
gebring. Die geloof hou ons op die been in ’n wêreld vol
stryd.

En geliefdes, noudat Christus in die hemel is en ons in hom,
beteken dit dat die sentrum van ons lewe verhuis is van die aarde
na die hemel. Ek is in die eerste plek ’n burger van die
hemelse koninkryk. Daarom, soek wat daar bo is waar Christus aan
die regterhand van God sit en nie wat op die aarde is nie. Laat
alles wat jy bedink en doen deur die hemelse troon van God bepaal
word. Daar is jou hoofkwartier, waarvan jy jou instruksies
ontvang. As jy regtens in die hemel behoort, dan beteken sy wette
alles vir jou, jy het dit dan lief. Hy, jou hoof, behoort by jou
en jy behoort aan Hom. Doen daarom alles in jou lewe in sy krag
en tot sy eer.

Beteken dit dat jy jou nou afsydig van hierdie wêreld moet
hou? Nee, beslis nie. Juis in hierdie wêreld moet jy jou plek
inneem as burgers van God se ryk. Jou hoof Christus wil jou hier
en nou besig sien. Christus het nie sy rug na hierdie wêreld
gekeer nie. Nee, Hy het na die hemel opgevaar met die oog op die
dinge wat nog in hierdie wêreld moet gebeur. Hy moes sy troon
bestyg om aan die werk te gaan, om die ontwikkelinge van die wêreld
te beheers. Om die eindes van die aarde tot sy besit te maak. Die
hemel moes sy hoofkwartier word, van waaruit Hy sy groot en
finale offensief moes lei.

Daarom sou dit kortsigtig wees, broers en susters, om te wens
dat Jesus Christus hier en nou fisies in ons midde sou wees. Ons
sou hom ophou, ons ou hom verhinder in sy wêreldwye herstelwerk.
Ons sou hom hinder in die voltooiing van sy werk van verlossing.
Moes die hemel hom nie opneem met die oog op die wederoprigting
van alles dinge nie?

Dit bring ons by die tweede gedagte: Christus se
wederoprigting van alle dinge.

Petrus het van die wederoprigting van alle dinge gepraat in
die pilaargang wat Salomo s ’n genoem word. Die aanleiding
daartoe was die genesing van die kreupel gebore man by die
tempelpoort en die reaksie van die mense daarop. Hulle was vervul
met verwondering en verbasing oor wat met hom gebeur het. Hulle
het toe rondom die apostels saamgestroom. Die apostels gryp die
geleentheid aan om die Christus te verkondig. Hulle verkondig
Jesus as die messias wat aan die vaders belowe was. Hulle sê o.a.
die God van Abraham en Isak en Jakob, die God van ons vaders, het
sy Kind Jesus verheerlik. Julle het hom oorgelewer om gedood te
word. Maar op hierdie manier het God vervul wat Hy deur die mond
van al sy profete tevore verkondig het dat die Christus sou ly.
Van daaruit roep Petrus op tot bekering: "Kom dan tot inkeer
en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word en tye van
verkwikking van die aangesig van die Here mag kom, en Hy Hom mag
stuur wat vooraf aan julle verkondig is, naamlik Jesus Christus."
Langs die pad van geloof en bekering ontvang ’n mens Jesus
Christus. En dan kan jy weer asem skep. Dan kan jy werklik rus
vir jou siel vind. Want dan is jou sondes vergewe.

Gemeente, die herstel van die kreupele man is ’n teken
van die verkwikking wat Christus kom bring. Die verhoogde
Christus seën die lewe onder sy regering. Hy herstel die lewe.
God se volk kan hom weer verheug. Hoewel hulle skuldig is aan die
afwysing en dood van Christus. God gee nog ’n tyd van genade.
Hulle kan, indien hulle hul bekeer, bevry word van die las van
die sonde en skuld en rus vind vir hul siele. Net soos die
kreupele man opnuut hom kon verbly deur Christus se herstelwerk.

Geliefdes, wanneer Petrus praat van die wederoprigting van
alle dinge, moet ons dink aan die vervulling van die
verbondsbeloftes. Die dissipels het daarna gevra, kort voor
Christus se hemelvaart. "Here, gaan U in hierdie tyd die
koninkryk vir Israel weer oprig?" (Hand 1:6). Die
wederoprigting van alle dinge is die wederoprigting van die
koninkryk wat aan God se volk belowe is. Die herstel van God se
koninkryk. Het Christus self ook nie, tydens die 40 dae tussen
opstanding en hemelvaart oor die dinge van die koninkryk van God
gepreek nie? (Hand 1:3).

Vanuit die hemel gaan die koninkryk van God herstel word. Dit
behels o.a. die terugkeer, bekering van ’n oorblyfsel van
die Jode. Petrus rig hom daarom in die eerste plek tot die Jode:
Kom dan tot inkeer en bekeer julle... Julle is kinders van die
profete en van die verbond wat God met ons vaders gesluit het....God
het, nadat Hy sy Kind Jesus opgewek het, Hom eers vir julle
gestuur om julle te seën deur elkeen van sy booshede te bekeer."

Die wederoprigting van alle dinge behels ook die terugkeer
oftewel die bekering van die volke. Petrus noem die belofte aan
Abraham: en in jou saad sal al die geslagte van die aarde geseën
word. Vanuit sy hemelse troon maak Christus die eindes van die
aarde tot sy besit. Die groot offensief van die evangelie moet
plaasvind. Met die oog daarop het Christus opgevaar na die hemel.
Die dissipels moet gaan van Jerusalem na Judea, Samaria en tot
aan die uiterste van die aarde (Hand 1:8). Langs die pad sal
Christus alle dinge herstel, sy koninkryk oprig. God se kinders
uit alle dele van die wêreld word vergader. Die hemel moet
Christus ontvang totdat die laastes vergader is.

Daarom, broers en susters, verloor nie geduld nie wanneer dit
lyk asof Christus nog lank wegbly. Hy kan nie eerder kom as
wanneer hy al die uitverkorenes vergader het nie. In sy tweede
brief skryf Petrus: "Die Here vertraag nie die belofte soos
sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en
wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot
bekering moet kom." Dit sou selfsugtig wees om te verlang
dat Christus nou reeds fisies aanwesig is. Nie een van diegene
vir wie Hy gesterf het, mag ontbreek nie. Almal moet na Hom
gebring word. Niemand mag probeer om hom daarin te verhinder deur
kortsigtige en selfsugtige verlangens nie. Wanneer ons bid vir
Christus se wederkoms, dan bid ons vir die voortgang en
voltooiing van sy werk. Feitelik bid ons dan: sorg daarvoor dat
almal vergader word, bewaar en vermeerder u kerk. Laat die
volheid van u koninkryk kom, waarin u alles in almal sal wees.

Geliefdes, uit wat ons reeds genoem het is dit duidelik dat
Christus vanuit die hemel nog steeds aktief op aande besig is.
Sedert sy hemelvaart is Hy nie die groot afwesige nie. Dis waar,
Hy is nou liggaamlik, na sy menslike natuur in die hemel, in sy
hemelse residensie. Maar wat sy Godheid, majesteit, genade en
Gees betref, gaan Hy nooit meer van ons af weg nie. Deur sy Woord
en Gees bly hy aktief aanwesig tot die wederoprigting van alle
dinge.

Petrus het daaroor gepraat toe hy genoem het dat God die Vader
die Christus stuur vir hulle wat hulle bekeer. "Kom dan tot
inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word en
tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom, en Hy
Hom mag stuur wat vooraf aan julle verkondig is, naamlik Jesus
Christus." En in vers 26 lees ons: "God het, nadat Hy
sy Kind Jesus opgewek het, Hom eers vir julle gestuur om julle te
seën deur elkeen van sy booshede te bekeer."

Jesus Christus het dit reeds gewys toe hy na die hemel
opgevaar het, terwyl Hy besig was om hulle te seën. Dit was die
laaste wat die dissipels van Hom gesien het: sy seënende hande.
"En terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle geskei en is in
die hemel opgeneem" (Lukas 24:51). So val jou lewe onder die
seën van die Here. Sy krag, genade en Gees gaan saam met jou
deur die lewe. Daarom het die apostels aan die werk gespring deur
die krag van hul Here. Die boek Handelinge beskryf hoe hulle hul
taak as Christus se getuies vervul het. Christus self is in hulle
aktief aanwesig. Die boek Handelinge beskryf daarom feitelik die
handelinge van ons verhoogde Here. Die evangelie gaan uit van
Jerusalem – die eerste hoofstukke – na Rome – die
laaste hoofstuk. Die verheerlikte Christus is besig met die
herstel van alle dinge.

So moet ons ook aktief bly in die krag van ons verhoogde Here.
Hy gee ons ’n plek hier op aarde en daarom ook ’n taak.
Hier wil Hy ons sien werk as burgers van sy hemelse koninkryk. Te
midde van die gewone, daaglikse lewe. Hy wil hê dat ons hemels
gefokus is. Om alles van Hom te verwag en om alles op Hom te rig.

Gemeente, julle lewe onder Christus se seënende hande. Sy
vernuwende kragte, sy genade en Gees vloei voortdurend van Hom in
jou lewe. Laat ons dan sy medewerkers wees in die wederoprigting
van alle dinge. En wanneer ons tekortskiet, wanneer ons weer deur
ons sondes faal, weet dan dat ons Here in die hemel vir ons pleit
by die Vader. Ons saak is in goeie hande, veilig in Christus se
hande. Hy kan verwys na sy volbragte werk, die betaling wat Hy
reeds gemaak het. Daarom, verhef julle harte tot Hom. Sien Jesus
Christus jul hoof in die hemel. Jul hoof is bo water. Om van
daaruit alles vir jou te gee wat nodig is. En om daarvoor te sorg
dat julle, sy liggaam, Hom sal volg.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)