Die wederkoms van Christus om die lewendes en die dooies te oordeel.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2004-07-25
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 19
Preek Inhoud: 

Sondag 19

Ds C Kleyn - Sondag 25 Julie 2004

Lees: 1 Thessalonicense 4:13-18;
Openbenbaring 19:11-21; Openbenbaring 20:11-15; Sondag 19.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 97:1,2,6;
Ps 96:5,8; SB 41:1,5,6,7..

Tema: Die wederkoms van Christus om die lewendes en
die dooies te oordeel.

  1. Christus verskyn in heerlikheid
  2. Christus verskyn in geselskap
  3. Christus verskyn om te oordeel

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons bely Christus se heerlikheid. Nadat Christus sy werk op
aarde volbring het, gaan die hemel vir Hom oop. Die Vader nooi
Hom uit om langs Hom te gaan sit op sy troon: "sit aan my
regterhand, totdat Ek u vyande maak ’n voetbank vir u voete"
(Ps 110:1). Die Seun aanvaar die uitnodiging en neem sy plek in
aan Vader se regterhand, bo alle magte in hemel en aarde, deur
wie die Vader alle dinge regeer.

God plaas die hemelvaart van Christus onmiddellik in die
perspektief van sy wederkoms. Twee engele verskyn aan die
dissipels wat nog na die hemel kyk en sê vir hulle: Hierdie
Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos
julle Hom na die hemel sien wegvaar het (Hand 1:11).

Vanaand wil ek veral stilstaan by die wederkoms van Christus.
Daartoe verkondig ek julle: die wederkoms van Christus om die
lewendes en die dooies te oordeel.

  1. Christus verskyn in heerlikheid
  2. Christus verskyn in geselskap
  3. Christus verskyn om te oordeel

Gemeente, as daar een bybelboek is wat uitvoerig oor Christus
se wederkoms praat, dan is dit wel die boek Openbaring. Die hele
laaste bybelboek gaan eintlik oor die koms van Jesus Christus.
Joh kondig dit reeds aan in hoofstuk 1:7 wanneer hy uitroep:
"Kyk Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook
hulle wat Hom deursteek het". Hierdie tema deurtrek die hele
boek. Die boek besluit dan ook met die belofte van die Here:
"Ja, Ek kom gou" en die amen van die kerk: "amen,
ja kom, Here Jesus!".

In Openb 19 sien Joh iets van Jesus se verskyning in
heerlikheid. Vooraf wil ek u herinner aan die feit dat ons hier
te doen het met visioene. Visioene is meestal ryk aan simbole,
beelde wat nie toelaat dat alle besonderhede letterlik verklaar
word nie. Joh sien die hemel geopend. Christus kom na buite as
’n ruiter op ’n wit perd. Die perd word met name as
’n dier vir die stryd, as ’n strydros aangedui. Die
Here kom as Stryder vorentoe. Wanneer die Here terugkom dan sal
dit nie wees soos tydens sy intog in Jerusalem, sagmoedig en
sittende op ’n esel, nie. Nee, dan sal dit wees om die stryd
aan te bind teen almal wat Hom teenstaan. Hy kom op ’n perd.
’n Wit perd. Waarom wit? Wit is die kleur van oorwinning. Hy
kom as die groot Oorwinnaar.

Kyk maar na sy persoonlike verskyning. Sy oë is soos ’n
vuurvlam. Daarmee dring Hy deur tot in die diepste skuilhoeke van
die sonde. Niks bly vir Hom verborge nie. Hy deursien alles. Sy
vlammende oë laat ook sy heilige toorn sien. Die maat van die
sonde is immers vol.

Op sy hoof dra Hy baie krone, simbole van sy hoogheid en mag.
Hy besit alle mag in hemel en op aarde. Dis nie vir die eerste
keer dat Hy oorwin nie. In prinsipe het Hy die sonde, die duiwel
en sy hele ryk alreeds oorwin. Die stryd wat Hy nou gaan stry is
die groot klimaks en afronding van die heilige oorlog, wat Hy
deur die eeue heen gevoer het. Kyk maar na sy kleed. Die kleed
drup van die bloed van oorwonne vyande. Hy het alreeds baie
oorwin en verpletter. Nou gaan dit oor sy finale stryd, waarin Hy
finaal die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die
toorn van God trap.

Uit sy mond gaan daar ’n skerp swaard uit. Deur die
woorde van sy mond verslaan Hy sy vyande. Hy hoef net een woord
te spreek en die vyande val neer, magteloos. Daarmee tref Hy
hulle met sy oordeel.

Gemeente, dat die Ruiter inderdaad ons Here Jesus is, blyk ook
uit die name wat Hy ontvang. Hy word eerstens Getrou en Waaragtig
genoem. Hy is Getrou, jy kan volkome op sy woorde staatmaak.

Die gelowiges het deur die eeue heen na sy verskyning
uitgesien. Hy het immers belowe: Ek kom gou? Die profete het ook
reeds oor sy koms geprofeteer. Tog duur sy koms vir ons gevoel so
lank. Die eeue gaan verby. Die generasies volg mekaar op. Die
gelowiges het donker en moeitevolle tye geken, waarin hulle
vervolg en gedood is terwille van die woord van God en hul
christelike getuienis.

Ware Christene word nou nog verag en verneder. Dink ook aan
die vervolging in Moslem lande. Hoor die siele onder die altaar
uitroep: "Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel
en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie"
(Openb 6:10). Hulle neem voortdurend toe. Tog kom Christus nog
nie terug nie. Is Hy dan nog wel die Getroue? Seker, in sy laaste
verskyning sal Hy Homself vir goed bewys as die Getroue wat al sy
woorde, ook die woorde wat Hy deur die profete en apostels
gespreek het, waarmaak. Hy sal kom om die lewendes en die dooies
te oordeel. Hy sal die smaad, die bloed en die trane van sy volk
wreek. Daaraan hoef jy nie te twyfel nie.

Hy word ook Waaragtig genoem. In teenstelling tot die magte
wat Hom weerstaan (die dier en die valse profeet), is Hy die ware
profeet en die ware Koning. Die antichris matig homself aan dat
hy die Christus is, die maghebber van die wêreld. En dan het jy
ook nog sy assistant, sy propogandis: die valse profeet. Baie
valse christusse het opgestaan. Daar is baie skynvertonings en
die massa glo hulle ook nog. Maar hierdie ruiter uit die hemel is
Waaragtig, hy is die waarheid self, die vervulling van alle
profesiee.

Nog meer: Hy kom as die Woord van God. Veral in die naam
herken ons ons Here Jesus. Hy is die Woord van God wat vlees
geword het (Joh 1:1-14), die afskynsel van God se heerlikheid en
die afdruksel van sy wese, in wie die Vader Hom volkome uitspreek.

Gemeente, behalwe die naam, die Woord van God, het Hy nog
’n ander naam wat niemand ken nie, behalwe Hy self (vers 12).
Die naam behoort uitsluitend by Hom. Dis die naam wat Hom verhef
bo elke ander naam wat genoem word. Niemand kan Hom in sy volle
rykdom en heerlikheid ken of ewenaar nie. As sodanig is Hy die
Koning van die konings en die Here van die here.

In die loop van die geskiedenis was daar talryke konings en
maghebbers hier op aarde. Baie maghebbers het geweier om hulle te
onderwerp aan Christus se gesag. Hulle het daarna gestreef om die
wêreld vir hulself te verower. Soos Mugabe Zimbabwe vir homself
wil hou. Hulle het Christus geignoreer en bestry, en dit doen
hulle nou nog, maar Hy is en bly die Koning van die konings en
die Here van die here. So sal Hy aanstons tot hul verskrikking
verskyn. Dan sal Hy laat sien en voel wie Hy werklik is, die
Koning van die konings.

Broeders en susters, wanneer Christus verskyn in heerlikheid
dan sal Hy nie alleen verskyn nie. Hy verskyn in geselskap. Die
tweede gedagte.

Openb 19:14 spreek van die hemelse leërs wat Christus op wit
perde volg, bekleed met wit en rein fyn linne. Wie word hiermee
bedoel? Baie verklaarders dink hier aan engele. Dis begryplik,
want ander skrifgedeeltes maak duidelik dat die heilige engele by
Christus se wederkoms ook op die toneel sal verskyn. Tog is dit
nie net engele wat Christus vergesel nie. Dis moontlik dat die leërs
van Openb 19:14 sien op die heiliges wat in Christus gesterf het.
Let maar op hul kleding. Die wit en rein fyn linne is wel
opvallend. Op ander plekke in Openb is dit tipies die kleding van
die heiliges. In Openb 7:9-14 lees ons van die groot menigte wat
niemand kan tel nie, uit alle volke en tale voor die hemelse
troon. Hulle is bekleed met wit klere, wat hulle gewas en wit
gemaak het in die bloed van die Lam (vers 9, 14). Van hulle wat
aansit aan die bruilofsmaal van die Lam word gesê dat hulle
gegee is om bekleed te wees met rein en blink fyn linne (Openb 19:8).
Dis dus goed moontlik dat die leërs wat Christus op die laaste
dag volg die gestorwe heiliges is.

Vergeet nie, gemeente, dat die gestorwe heiliges tydens die
simboliese 1000 jaar tussen Pinkster en die wederkoms van
Christus saam met Christus regeer (Openb 20:4). Ons geliefdes wat
in die Here gesterf het, regeer nou saam met Christus in die
hemel. Sou hulle wat saam met Christus regeer dan ook nie saam
met Christus wees, wanneer Hy terugkom om te oordeel nie? In sy
brief aan die gemeente van Thiatire sê die Here: Aan hom wat
oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die
nasies gee, en hy sal hulle regeer met ’n ysterstaf; soos
erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader
ontvang het (Openb 2:26,27). Die heiliges ontvang dus die belofte
dat hulle sal deel in Christus se heerlikheid en bevoegdheid. Die
woorde "die nasies met ’n ysterstaf regeer" word
in Openb 19 ook letterlik toegepas op Christus by sy wederkoms (Openb
19:15). Die heiliges ontvang, na Christus se belofte, dieselfde
mag en heerlikheid as Christus. Ook hulle mag die nasies met
’n ysterstaf regeer.

Gemeente, iets soortgelyks lees ons alreeds in 1 Kor 6:2,3.
Daar skryf die apostel: Weet julle nie dat die heiliges die wêreld
sal oordeel nie? Daar is dus niks vreemds aan die gedagte dat die
heiliges saam met Christus sal verskyn om die nasies te oordeel
nie. Hoe dit presies gaan gebeur weet ons nie. Openbaring is
’n boek vol van visioene, simbole en beeldspraak. Wat in elk
geval wel duidelik is, is dat die gestorwe heiliges nou saam met
Christus regeer en dat alle gelowiges aanstons saam met Christus
sal wees by sy verskyning in heerlikheid. Vergeet nie dat die
opstanding van die gestorwe heiliges en die gedaanteverandering
van die heiliges wat nog lewe onmiddellik voor die terugkeer van
Christus sal plaasvind.

Ons het daarvan gelees in 1 Thess 4. Christus sal uit die
hemel neerdaal met ’n geroep, met geklank van die basuin van
God. En die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan (1
Thess 4:16). Hulle moet daar wees om Jesus te begroet wanneer Hy
in heerlikheid verskyn. Die wat in Christus gesterf het, staan op.
En dan? Dan sal ons wat in die lewe oorbly, sê Paulus, saam met
hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug. Saam
in wolke weggevoer word. Die glorieuse hemelvaart van die kerk.
Ons gaan die Here tegemoet, sê Paulus. Nie om in die hemel
opgeneem te word nie, maar die Here tegemoet in die lug.

Ja, ons haal, so te sê, die Here feestelik in. Soos die mense
vroeër uitgetrek het om hul nuwe leiers feestelik in die stad
binne te haal. So sal ons die Here inhaal, verwelkom. Die
ontmoeting vind plaas in die lug. Maar ons bly nie in die lug nie.
Ons haal Hom immers in, terwyl Hy neerdaal. Daarom daal ons
daarna ook weer saam met Hom na die aarde. Saam na die aarde wat
nou vir goed gesuiwer word. Die dier – die antichristelike
mag waaronder die kerk sug – en die valse profeet – wat
die kerk van binne uit probeer te verwoes – word dan sonder
verskoning lewend in die vuurpoel gewerp. Dis dan finaal verby
met hul geweld en misleiding. Die kerk wat deur die eeue heen
gely het onder hul geweld en misleiding mag nou saam met Christus
hul oordeel voltrek. En die massa, wat die antichristelike magte
en die valse profesie gevolg het, sal deur die swaard van
Christus – dws deur die woord van sy mond – gevel word.

Hierna volg die laaste oordeel. Ons lees daarvan in Openb 20.
Die regterstoel staan gereed. God gaan deur sy Seun regspreek.
Eers word alle dooies opgewek. Die see en die aarde moet die
dooies wat in haar is prysgee. Ons het reeds gepraat oor die
opstanding van die gestorwe heiliges. Na die laaste
suiweringsaksie sal ook die ongelowiges uit die dood opstaan. En
almal, klein en groot, aansienlikes en onaansienlikes sal voor
God se troon verskyn. Nie slegs die ongelowiges nie, maar ook die
gelowiges.

Maar broeders en susters, is dit nie ietwat vreemd nie? Maak
so ’n oordeel wel sin? Die skeiding tussen die mense wat
gered of verdoem word is reeds voltrek by hul dood. Die gelowiges
mog immers onmiddellik by hul dood tot Christus hul Hoof opgeneem
word. En die gelowiges het reeds saam met Christus neergedaal.
Moet hulle dan voor die regterstoel van God verskyn? Die vonnis
kan tog nie anders wees as wat die Here al daarvoor reeds gewys
het nie?

Dis inderdaad reeds bepaal wie vrygespreek word en wie skuldig
verklaar word. Die een het opgestaan tot heerlikheid en die ander
tot rampsaligheid. As gelowige hoef jy dan ook nie bevrees te
wees vir die laaste oordeel nie. Jy deel alreeds in Christus se
heerlikheid. Aan die ander kant het die onregverdiges geen enkele
grond vir hoop nie.

Maar waarom dan die laaste oordeel? Dit moet nou vir elkeen
blyk dat God regverdig in sy oordeel en suiwer in sy gerig is.
God moet openbaar word as die regverdige Regter. Daarom gaan die
boeke oop. Daar is niks wat God hoef of wil verberg nie. Hy
oordeel op grond van die feite. En die feite staan genoteer.
Niemand kan daar omheen nie. So was elkeen en so was hul werke.
Daar is by God geen enkel onreg nie. Die uitspraak van die Regter
sal op daardie dag deur niemand bestry word nie. Selfs die
ongelowiges sal Christus erken as die Regverdige en in wanhoop
oor Hom rou bedryf (Openb 1:7).

Gemeente, op hierdie oomblik het die ongelowiges op die aarde
nog ’n groot mond. Hulle het nog baie pretensies. Hulle maak
asof hulle self die diens uitmaak. Christus word verag en sy
diens in verskeie lande bestry. Die troue gelowiges word ’n
steeds kleiner wordende minderheid. Die onreg vier nog hoogty. En
baie gelowiges word verag of vervolg. Maar by die laaste oordeel
sal vir elkeen duidelik word hoe die werklike stand van sake is.
Die groot monde sal tot swye gebring word. En God sal in sy Seun
Jesus Christus Homself wys word as die Regverdige wat na reg
veroordeel en vryspreek. Die een sal in die vuurpoel gewerp word,
die ander sal ingaan in die hemelse blydskap en heerlikheid.

Maar, broers en susters, as God ons almal na ons werke
oordeel, hoe kan dit dan wees dat sommiges ingaan in die hemelse
heerlikheid? Niemand gaan immers vryuit nie. As God my na my
werke oordeel, dan moet ek tog veroordeel word? U vind die
antwoord in die ander boek, naamlik die boek van die lewe. Daarin
staan die name van hulle wat by Christus behoort, wat glo en
toerus by Hom gesoek het, hulle wat met reg vrygespreek word.
Immers: Christus het Hom tevore in my plek voor die regbank van
God gestel. Hy het Homself in my plek en vir my sondes laat
veroordeel sodat ek vrygespreek sou word. So kan ek na reg
vrygespreek word. Dit geld tog ook vir U, of nie soms? U glo to
ook?

So beteken Christus se wederkoms vir u en my wat glo,
allermins ’n verskrikking. Hy wat as Regter verskyn is geen
vreemde nie. Hy is die Hoof van sy kerk. Hy het haar met sy bloed
gekoop het. Ek behoort aan Hom. Sou ek dan met vrees voor sy
regterstoel moet verskyn? As ek in Christus geheilig is, dan is
ek ook in Hom beveilig.

So mag jy wat glo in alle omstandighede jou hoof ophef. In
Christus is jou toekoms gewaarborg. Jou Hoof sit aan Vader se
regterhand, bo alles. In Hom staan ook jy wat glo, bo alles. Saam
met Hom sal jy die aarde rig. Daarom laat ons onsself die moed
nie ontneem nie, ook al is ons, na wêreldse maatstawwe, klein en
magteloos. Ons hef ons harte omhoog en sien op Jesus Christus wat
regeer, ja wat alles regeer met die oog op sy koms. Ons sien ook
met groot verlange uit na Christus se verskyning in heerlikheid.
Dan sal ons heerlikheid kompleet wees, saam met Hom. Alle
teenstand en stryd sal verby wees. Hy sal dan my saam met die
uitverkorenes na Hom in die hemelse blydskap en heerlikheid neem.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)