God se voorbereiding van Nehemia die kerkbouer.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2004-07-25
Teks: 
Nehemía 1
Preek Inhoud: 

Nehemia 1

Ds C Kleyn - Sondag 25 Julie 2004

Lees: Nehemia 1.
Sing: Ps 122:1; Ps 122:2; Ps 80:1,8,10; Ps 79:1,3,5,6,9;
Ps 138:1,4.

Tema: God se voorbereiding van Nehemia die kerkbouer.

  1. Nehemia se besorgdheid oor God se stad
  2. Nehemia se gebed tot God
  3. Nehemia se skuldbelydenis
  4. Nehemia se vertroue op God

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Nehemia die kerkbouer, dis hoe ons Nehemia mag tipeer, as
kerkbouer. Nehemia is bekommerd oor die kerk. Hy is opgewonde oor
die kerk.

Hoe kan ek dit sê? Dis waar Nehemia is bekommerd oor die
toestand van Jerusalem. Is dit dan dieselfde as om oor die kerk
bekommerd te wees? In die OT is Jerusalem die plek wat God
verkies het om sy Naam daar te laat woon. Jerusalem is Israel se
godsdienstige sentrum, waar die offers gebring moet word, waar
die teenwoordigheid van God gesoek en geniet kan word. Onder die
NT sien ons dat in Christus God se eie volk sy tempel is. God se
teenwoordigheid mag nou orals geniet word waar sy volk Hom in
Christus aanroep. Jerusalem en Sion het name geword vir ’n
gemeenskap wat nie van hierdie wêreld is nie, name vir die kerk.

Nehemia die kerkbouer. Wanneer ons praat van kerkbou dan dink
ons meestal aan bakstene en hout waarmee ons ’n gebou optrek.
Wanneer Christus egter praat van die bou van sy kerk dink Hy in
ander terme. Hy dink aan ’n geestelike proses waarin mense
tot geloof geroep word en hul lewens na sy beeld vernuwe word.

Nehemia is betrokke in beide soorte kerkbou. Hy herbou
Jerusalem se mure met steen en hout (hoofstukke 1-6). Hy werk ook
aan die vernuwing van Jerusalem se erediens (hfst 8-10,13).
Daarom is die boek Nehemia gelyktydig die verhaal van die
lettelike herbou van Jer, die stad in Palestina, en die verhaal
van die geestelike opbou van Jer, die verbondsvolk, die OT iese
kerk.

Deur Nehemia bou God sy stad en volk op.

Nehemia is ’n fassinerende figuur. Hy blyk ’n
uitstekende leier te wees, toegewy en dinamies, nederig, ywerig,
wys en geduldig. Hoekom is hy so? Dis net moontlik deur God se
vernuwende en bekwaammakende Gees. Daarom moet julle die boek
Nehemia lees as ’n getuienis aangaande God se werk in beide
Nehemia en sy volk. Die boek getuig van God se vernuwende werk.

Kom, laat ons kyk na die eerste hoofstuk. Ek verkondig vir
julle: God se voorbereiding van Nehemia die kerkbouer.

Ons let vervolgens op

  1. Nehemia se besorgdheid oor God se stad
  2. Nehemia se gebed tot God
  3. Nehemia se skuldbelydenis
  4. Nehemia se vertroue op God

Nehemia 1 plaas ons in die winter verblyf van die Persiese
koning Artasasta. Dis 445 jare voor Christus. Nehemia het ’n
belangrike posisie aan die Persiese hof. Hy is die skinker van
die koning. Met sy direkte toegang tot die koning word hy as
belangrik en invloedryk beskou, ’n vertrouensman van die
koning.

Hoe het hy daar gekom? Ons weet nie. Al wat ons kan sê en wat
belangrik is, is dat God sy mense op plekke sit waar Hy hulle wil
hê. Uiteindelik is dit nie iets waaroor die Persiese koning
besluit nie. Dis iets wat God besluit. Hy wil hierdie man Nehemia
in die hof van die magtige koning hê. God is oppermagtig. Hy
regeer. In die hof van die groot Persiese koning berei God vir
homself ’n kerkbouer.

Die koninkryke van hierdie wêreld kan indrukwekkend lyk, maar
God se koninkryk is die enigste blywende koninkryk. Dit sal hemel
en aarde omvat. En God bly daaraan werk. Ondanks die drukte van
die groot leiers van die wêreld. Alles moet die koms van God se
koninkryk dien. Dis soos ons lees in Spreuke 21:1 "Die
koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome: Hy
lei dit waarheen Hy wil."

Artasasta, die koning van die groot Persiese wêreldmag, kies
Nehemia, die Jood, as sy skinker, as sy vertroueling.

Op ’n sekere dag ontvang Neh besoek van ’n groep
Jode uit Juda onder leiding van Hanani. Waarom hierdie besoek?
Ons weet nie. Wat ons wel weet is dat die Here hierdie besoek
gebruik om Neh as kerkbouer in aksie te bring.

Let op Nehemia se belangstelling in en besorgdheid oor die
kerk. Hy verkeer in ’n gerieflike en belangrike posisie aan
die hof van die koning. Tog is Neh se hart nog steeds by sy volk
daar in Jerusalem. Ons lees dat hy die besoekers ondervra oor die
Jode wat uit ballingskap teruggekeer het en oor Jerusalem. Neh
het ’n lewendig belangstelling in die welstand van God se
volk en stad.

In antwoord op sy vraag hoor hy die slegte nuus: "Die
teruggekeerde ballinge verkeer in groot ellende en in smaad, en
die muur van Jerusalem lê stukkend en sy poorte is met vuur
verbrand." Na die terugkeer na Jer uit die ballingskap 90
jare gelede, is Jer en sy bewoners, die Jode, nog steeds ’n
maklike prooi vir die vyande. Bowendien is die moreel van die
teruggekeerde Jode baie laag. Die omliggende volke maak hul lewe
ellendig. Die tempel is wel herstel, maar Jer self lê nog in
puin. Die spot van die bure. ’n Hopeloos gesig van wat eers
so ’n veilige stad was, die stad van Israel se groot koning.
Wat ’n skande. En hulle word deur ’n bevel van die
koning verbied om die mure te herbou.

Let hier op God se tyd skedule. God het 90 jare gewag met die
herbou van Jer se mure en poorte. Ons kan soms so ongeduldig met
God wees wanneer hy nie onmiddellik ingryp om die kerk te herstel.
Maar in sy wysheid het God se eie tyd skedule. Hy leer ons om op
Hom te wag.

Wanneer Neh hierdie verslag hoor, dan is hy ontstel. Ons lees:
"Toe ek hierdie woorde hoor, het ek gesit en ween, en ek het
dae lank getreur; en ek het gevas en gebid voor die aangesig van
die God van die hemel."

Waarom? Nie net vanweë die menslike nood in Jerusalem nie.
Maar ook, en veral, omdat God onteer word so lank as Jer in puin
lê en sy volk smaad ly. Jer is mos die heilige stad, die
godsdienstige sentrum wat God gekies het, die plek waar God onder
sy volk wil woon. Die Psalmiste verstaan dit. Daarom spreek hulle
hul opgewondenheid oor Jer uit. Dink aan Ps 122: "Ek was bly
toe hulle vir my gesê het: Laat ons na die huis van die HERE
gaan! Ons voete staan in jou poorte, o Jerusalem."

Nehemia is bekommerd oor God se eer en lof. Daarom ween, vas
en bid hy. Daarin is hy ’n voorbeeld vir ons.

Wanneer jy werklik die Here liefhet, is jy besorg oor die kerk.
Want die kerk is die voorwerp van God se liefde. Christus het sy
gemeente so liefgehad dat Hy homself vir haar oorgegee het om
haar te heilig en haar voor Hom te kan stel as ’n stralende
bruid (Ef 5:25-27).

Wanneer jy goed oplet en luister, dan merk jy dat die kerk van
vandag ook in nood is. Die kerk is geen sterk en verenigde
liggaam in hierdie wêreld nie. Onskriftuurlike idees en
onskriftuurlike praktyke verwoes wat so mooi behoort te wees, wat
’n stralende bruid van Christus behoort te wees. As jy
Christus liefhet, sal jy sy kerk ook liefhê, sy wêreld wye
Christelike gemeenskap.

Ja, broers en susters, is jy opgewonde oor Christus se kerk in
hierdie wêreld? Is jy besorg oor die welsyn van Christus se
kerk? Hoe wys jy dit? Sou dit nie gepas wees om die ween, te vas
en te bid vir Christus se kerk nie?

Let op Neh se gebed. Dis die tweede gedagte van die preek. God
het Neh gekies om sy OT iese kerk te bou. God vul Neh met liefde
vir Jer. God roep by hom die sterk emosionele reaksie op, op die
slegte nuus oor Jer. God werk in Hom om te wil sowel as om te
werk na sy welbehae (Fil 2:13). God roep hom tot die spesifieke
taak van kerkbou.

God bring tot goddelike berou. Vir verskeie dae treur en vas
Neh. Die Here stop egter nie daar nie. Hy laat hom nie in
moedeloosheid vassteek nie. Hy hef Nehemia se siel op. Neh bid.
Terwyl die droewige nuus aangaande Jer swaar op hom weeg, gaan
Neh tot God in gebed. Is dit nie pragtig nie?

God het groot planne vir die herbou van sy kerk. God wil dat
die mure herstel word en die volk geestelik vernuwe word. Wel,
wat is die eerste ding wat God tot stand bring, ter voorbereiding
op die groot bouprojek? Nie ’n ondernemingsgees nie. Nee,
dit begin met ’n gees van gebed. Besef hoe belangrik en
fundamenteel gebed is, wanneer jy die kerk wil opbou. Eers gebed.
Sonder gebed sal al ons werk nutteloos wees, want dan is die werk
net ons persoonlike werk. Ons wil dit dan self doen. Ons sal dit
of dat doen. Dis die taal van ’n doen dit selfer. Nie die
taal van ’n kerkbouer. Neh begin met gebed. Voordat hy
beplan en iets doen, gaan hy op sy knieë voor God in gebed. Hy
dra alles na God in gebed.

Ja, sy wandel met God is deurweek met gebed. Baie gebede word
in sy boek genoem. Hy verstaan en wil ons laat verstaan dat net
ondernemings wat met gebed begin en met gebed begelei word, God
se seën kan verwag. God wil werk en seën in antwoord op gebed.
Dis die gebed wat die kerklike lewe verander. Sonder gebed is
daar geen hoop nie. Wil jy hê dat dinge in die kerk verbeter?
Wil jy geestelik groei? Bid daarvoor, bid vurig en aanhoudend.

Neh se publieke lewe is ’n uitvloeisel van sy persoonlik
lewe. Sy persoonlike lewe is deurweek met gebed. Gebed waarin hy
sy toewyding aan die Here uit, asook sy afhanklikheid van God en
sy strewe na die eer van God. Sulke gebede het sy persoonlike
lewe geskaaf en hom toegerus vir sy publieke lewe. Bid sonder
ophou, sê Paulus, "terwyl julle met alle gebed en smeking
by elke geleentheid bid in die Gees" (Ef 6:18). Voortdurende
private omgang met God is ’n natuurlike uitdrukking van
’n wedergebore hart. Dis ’n noodsaaklike dissipline vir
al God se kinders.

Geliefdes, wat merk jy wanneer jy kyk na Neh se gebed? Dit
begin met ’n skuldbelydenis. Dis die derde gedagte van die
preek. Neh se skuldbelydenis. Dis ’n eerlike belydenis. Hoe
gaan dit wanneer jy met die kerk teleurgestel is? Word soms nie
gedink of gekla: "hoe kan God so iets laat gebeur? Maar die
slegte toestand van die kerk is op geen manier God se skuld nie.
Luister maar na Neh: "Ag, Here, God van die hemel, grote en
gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die
wat U liefhet en u gebooie onderhou." Het jy die woorde
gehoor: "Wat die verbond en die goedertierenheid hou."
God bly trou aan sy verbond. Jy kan altyd op Hom staatmaak. Die
ellendige toestand van die kerk is nooit vanweë gebrek aan trou
by God nie.

Wat is dan die oorsaak van die ellende? Is dit veroorsaak deur
die vyande van God se volk? Het Nebukadnesar die stad nie verwoes
nie? Het die buur volke nie die herbou van die stad verhinder
nie? Hulle is tog verantwoordelik vir die skade wat hulle God se
volk en stad aangedoen het? Inderdaad. God sal hulle
verantwoordelik hou vir wat hulle gedoen het. Maar kan God se
volk skuil agter die skuld van hul vyande? Gaan God se volk
vryuit? Beslis nie! Hulle is self die uiteindelike oorsaak van
hul ellende.

Luister na Neh se belydenis: "Terwyl ek die sondes van
die kinders van Israel bely wat ons teen U gedoen het; ook ek en
my familie het gesondig. Ons het baie verkeerd gehandel teenoor
U, en ons het die gebooie en insettinge en verordeninge wat U aan
Moses, u kneg, beveel het, nie gehou nie." Met ander woorde:
ons het u gebooie nie gehou nie, maar ernstig daarteen gesondig.

In sy skuldbelydenis sluit Neh nie homself of sy familie buite
nie. Hy verwys nie eers na ander nie. Is dit dikwels nie wat
gebeur wanneer ons kla oor die toestand van die kerk nie? Dan het
ons die neiging om ander die skuld te gee en om na ander te
verwys, so van: dis nie my skuld nie, maar dis hulle skuld. Neh sê
nie: die ongehoorsame Jode, lidmate, hulle het dit gedoen, hulle
is die oorsaak van die huidige ellende en skande. Nee, hy sluit
homself in. Hy weet dat hyself en sy vader se huis nie vryuit
gaan nie, ondanks al hul vroomheid.

Neh is ’n man van groot gawes. Hy is ’n man met
’n hoë posisie, die skinker van die groot koning. Dit plaas
hom uiterlik op ’n afstand van die ander Jode. Maar Neh hou
homself nie op ’n afstand van sy volk nie. Hy identifiseer
homself met hulle in hul sonde en nood. Hy gee uitdrukking aan sy
volkome solidariteit met die Jode in Jer. "Terwyl ek die
sondes van die kinders van Israel bely wat ons teen U
gedoen het; ook ek en my familie het gesondig. Hy erken
solidariteit (wat ons gedoen het, nie net hulle nie)
omdat hy weet dat dit is hoe die heilige God dit sien. So aanvaar
hy sy aandeel aan die skande waaronder die volk nou verkeer.

Geliefdes, in ons moderne kultuur verstaan ons die
solidariteit nie mooi nie. Ons het die neiging om onsself as
losse individue te beskou. Ons het die neiging om geen
solidariteit met enige groep te aanvaar nie, veral as die
solidariteit een van smaad is. Ons wil nie met die groep sondaars
geïdentifiseer word nie. Nee, ons is nie so nie.

Neh weet egter dat God die Jode beskou as Abraham se saad, as
een groot familie, met ’n gemeenskaplike verantwoordelikheid
en ’n gemeenskaplike bestemming. Daarom aarsel hy nie om
homself met hulle te identifiseer in die skuld, wat hulle onder
die oordeel gebring het nie.

Broer, suster, is jy bereid om dit te doen, wanneer jy let op
die toestand van die kerk van vandag? Elkeen van ons het ’n
groter aandeel aan die kerk se tekortkomings en ontrou as ons
besef. Wanneer jy die kerk se tekortkomings sien, praat jouself
nie vry van medepligtigheid aan die verval nie. Keer ook nie jou
rug na die kerk toe in ongeduld nie. Bid en werk eerder aan sy
vernuwing. Laat die vernuwing, die reformasie van die kerk jou
sorg en verlange wees.

Ja, bid en werk. Daar is geen rede om ’n fatalis te wees
nie. Daar is geen rede om te kla en dan te konkludeer: dis hoe
dit is, daar is niks wat ek daaraan kan doen nie. Kyk na wat Neh
gedoen het. Hy het sorg vir die kerk gewys. Hy het vurig tot God
gebid. Hy het die sondes van God se volk en van homself bely. Hy
het ook volle vertroue in God gewys. Dis die vierde en laaste
gedagte van die preek: Neh se vertroue in die Here.

Hoor hom as hy met God pleit.

"Ag, Here, God van die hemel, grote en gedugte God,wat
die verbond en die goedertierenheid hou." Sou jy so bid, in
die omstandighede waarmee Neh te make het? Sou jy so bid wanneer
jy na soveel jare Jer nog in puin sien? 90 jare na die terugkeer
uit ballingskap en nog lê die stad in puin. Soveel jare na die
terugkeer na God se woord, na reformasie van die kerk, en nog lyk
die kerk maar klein en magteloos. Kan jy dan in so ’n
situasie God nog aanspreek as die almagtige en getroue God? Waar
blyk dan sy almag en trou, na soveel jare ellende? So het
verskeie mense moed opgegee om nog tot God te bid of om nog iets
van Hom te verwag. Hulle is teleurgestel in God.

Hoor hoe anders Neh reageer: "Ag, Here, God van die
hemel, grote en gedugte God,wat die verbond en die
goedertierenheid hou." Neh ken sy God. Daarom bly hy vol
vertroue in Hom. Hoe die omstandighede ook al mag wees, Hy is en
bly die almagtige en getroue God. Sonder die wete sou ’n
mens nooit enige uitsig hê nie. Wanneer jy God as die groot en
gedugte God ken, dan weet jy dat niks onmoontlik is nie. Wanneer
jy weet dat God die getroue Verbondsgod is, dan gooi jy nie tou
op nie.

Neh pleit by God op grond van die verbond. Vers 10: "Hulle
is tog u knegte en u volk, wat U verlos het deur u grote krag en
deur u sterke hand." Neh herinner God daaraan dat hierdie
volk met hul sondes sy knegte en sy volk is. Hulle is sy eiendom.
’n Bewys daarvan is dat Hy hulle eeue gelede uit die
Egiptiese slawerny verlos het. ’n Bewys daarvan vind hulle
ook daarin dat Hy hulle weer uit die ballingskap terug gebring
het, ongeveer 90 jare gelede, en sommiges ongeveer 13 jare gelede
onder Esra. Neh sê as ‘t ware: Here U kan tog nie die werk
van u hande, die volk van u keuse, laat vaar nie.

Broers en susters, vandag kan julle ’n stap verder gaan.
Jy kan pleit op Christus se verlossingswerk op Goeie Vrydag, Pase
en Pinkster. Wat ’n groot en gedugte en getroue Verbondsgod
het ons! Jy kan jou ook beroep op die reformasies van die kerk.
Jy kan jou beroep op God se eie eer. Here, ek kan nie aanvaar dat
U dit alles gedoen het om nou u volk en u saak in hierdie wêreld
te los nie. Here bly u naam tog grootmaak in hierdie wêreld. Bly
u kerk bou. Herstel u volk..

Wat sou dit ’n seën wees as alle Christene op so ’n
manier met God sou pleit. God gee sy krag van vernuwing in
antwoord op die gebed. Ons bely tog met ons kategismus dat God sy
genade en die Heilige Gees alleen wil gee aan hulle wat Hom met
hartlike versugtinge sonder ophou daarom bid en daarvoor dank (Sondag
45).

Jy mag daarvan seker wees: God is groot en gedug. Hy is die
Getroue wat die werke van sy hande nie laat vaar nie.

Gemeente, die geskiedenis van Neh leer ons dat hierdie gebed,
so ’n gebed, met God se hulp tot diens bekwaam maak. Neh
gaan ’n ywerige bouer en bewaarder van God se kerk word.
Wanneer jy so bid, wanneer jy jouself so aan die almagtige en
getroue Verbondsgod toevertrou, dan kan jy bou en bewaar. Met God
se hulp. Nee, jy is nie ’n Neh nie. Jy word nie geroep om
die rol wat hy moes vervul, in te neem nie. Maar jy word wel
geroep om hier op aarde God se medewerker te wees, om aan sy kerk
te bou met die gawes wat Hy jou gee. Sien daar jou lewenswerk.
Bid en werk. Bou in God se krag en volgens sy bestek.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)