Die Here verenig sy volk in die bou van sy stad.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2004-08-15
Teks: 
Nehemía 3
Preek Inhoud: 

Nehemia 3

Ds C Kleyn - Sondag 15 Augustus 2004

Lees: Nehemia 3.
Sing: Ps 121:1,4; Ps 104:1,2,20; Ps 71:1,2; Ps
71:12,14; Ps 135:1,2,11; Ps 133:1,2; Ps 33:11.

Tema: Die Here verenig sy volk in die bou van sy stad.

 

Inleiding voor skriflesing

Eers enkele opmerking voordat ons die hoofstuk lees. Die
hoofstuk gee ons ’n lys van werkers en poorte van Jerusalem.
Dis ’n hoofstuk wat ons geneig is om oor te slaan. Wie is in
staat om al die name vlot en sonder foute te lees? So ’n lys
van name spreek ons meestal nie aan. Dit word as vervelig beskou.

Is dit waar dat lyste van name altyd vervelig is? Dink aan die
sportwêreld. As jy van sport hou, dan kyk jy met groot
belangstelling na die lyste van die spanlede wat aan wedstryde
deelneem. En na die wedstryd kyk jy met groot belangstelling na
die lys van spelers en hul puntetelling. Welke matrikulant kyk
nie met belangstelling na die lyste van matriek uitslae wat in
die koerante opgeneem is nie?

Wat bepaal dan of ’n lys name vervelig is of nie? Dit is
betrokkenheid, dat jy betrokke is by die situasie of saak.
Waardering of entoesiasme vir die saak waarvoor die mense hulle
ingespan het.

Daarom, om die lys van name in Neh 3 te waardeer, is dit
belangrik om daarby betrokke te wees, om jouself te kan
identifiseer met die saak waarmee hierdie mense besig was. Onthou
dit gaan in Neh 3 oor ’n groot kerkbou projek. Vir 140 jare
het God se stad in puin gelê. Binne twee maande is dit herstel.
’n Verbasende prestasie deur ons mede-gelowiges. ’n
Bewys van God se genade en krag. Laat ons die hoofstuk in daardie
lig lees en sien of ons dinge kan ontdek wat in die hoofstuk
uitstaan.

Neh struktureer sy verslag rondom die 9 poorte van Jer. Die
verslag verloop antikloksgewys en begin en eindig met die
Skaapspoort aan die Noord Ooste van Jer.

Kom ons lees die hoofstuk saam.

Preek

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wat kan ons van die lys van name en aktiwiteite sê? Laat ons
eers noem die waardering wat God vir die arbeid van sy mede-werkers
wys. Die Here prys hulle vir hul werk. Anders sou Hy nooit
hierdie lys in die Bybel opgeneem het nie. Hy gee lof aan hulle
wat lof toekom.

In hierdie hoofstuk word sommige mense selfs afgesonder vir
eervolle vermelding. Van ’n aantal werkers word gesê dat
hulle ’n tweede stuk herstel het. Ons lees bv in vers 20 dat
Barug ’n tweede stuk ywerig herstel het. Individuele ywer
word baie gewaardeer.

Dit is ’n les wat ons moet onthou. Ons het ’n
neiging om die ywerige Christen wat rustig aangaan met sy take,
sonder ophef of klagte, as vanselfsprekend te aanvaar. Wanneer
die persoon siek word of afsterwe, staan ons eers stil by alles
wat die persoon met toewyding en selfopofferende liefde in God se
kerk en koninkryk gedoen het. Die dag kom wanneer ons Meester in
die hemel elkeen van sy getroue dienaars of dienaresse sal beloon.
Laat ons nou ook daaraan dink, om lof te gee aan hulle wat dit
toekom. Om af en toe waardering uit te spreek, kan voorkom dat
getroue en ywerige medegelowiges ontmoedig word.

Maar, geliefdes, beteken hierdie waardering wat God uitspreek
vir die werk van die bouers, dat die lys net ’n gedenkteken
ter ere van die bouers is? Die Bybel waarsku ons teen die
verheerliking van mense. Wanneer gedenktekens in die Bybel genoem
word, is dit altyd daarvoor om die gedagtenis aan God se groot
dade, sy goedheid en krag, lewend te hou. Daarom is hierdie lys
ook opgeteken, om ons te wys hoe God genadig en almagtig is, soos
Hy 2500 jare gelede was, om sy kerk te vergader en te bou.
Wanneer Hy in sy genade aansit om te bou, mag God ons seën, want
dan is ons sy bouers.

Broers en susters, wat ons opval by die lees van Neh 3 is dat
die inwoners van Jer nie alleen hul stad hoef te bou nie. Hulle
ontvang hulp van Jode uit die omliggende dorpe. Daar word verwys
na owerstes, manne of inwoners van Jerigo, Tekoa, Gibeon, Mispa,
Sanoag, Bet-Hakkerem, Bet-Sur en Kehila. Die mense wat in daardie
dorpe of stede woon, het nie tot Jer se hulp hoef spring nie.
Hulle kon in hul eie dorpe rustig bly leef en werk het, ook al
was daar geen mure rondom Jerusalem nie. Die slegte toestand van
Jerusalem sou vir hulle moontlik selfs voordeel kon beteken.

Dat hierdie hulp van buite Jer nie vanselfsprekend is, blyk
uit een van die plekke wat genoem word, Tekoa in vers 5: "En
naas hulle het die Tekoïete herstel; maar hulle vername manne
het hulle nek nie gebuig onder die diens van hulle Here nie."

Die leiers uit Tekoa wil nie help nie. Die woorde van die teks
gee die indruk dat hul weiering ’n gevolg van hul hoogmoed
is. Hulle wil hulle nek nie buig nie. Gebrek aan medewerking kan
dikwels teruggevoer word tot hoogmoed.

Dis in ieder geval duidelik dat die hulp van volksgenote uit
die omliggende dorpe nie vanselfsprekend is nie. Mense moet
’n bewuste keuse maak: ek gaan help of ek gaan nie help nie.
Elke keer as ons hulp of ondersteuning gevra word, moet ons
’n keuse maak. God weet hoe ons kies. Vandag geld dieselfde
as in Neh se tyd. Soos die Here Jesus dit verwoord in Mt 25:
"Vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes
van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen."
Wat ek vir my broers en susters in die geloof doen, doen ek vir
die Here."

Uit die lys van werkers val dit ons ook op dat daar ’n
samewerking was tussen mense van elke rang en stand. Neh noem die
hoëpriester en die priesters in vers 1. Hulle gee so te sê die
toon aan, deur die gedeelte van die muur wat hulle herstel te
heilig. Miskien kan ’n mens dit vergelyk met wat ons vandag
ken as ’n soort eerste steenlegging seremonie.

Neh noem die priesters en die owerstes. Geen groep het dit
benede sy stand geag om saam met die gewone arbeiders sy hande
vuil te maak aan die bou van Jer se mure nie. Die goudsmede,
beroem vanweë hul fyne kunswerk, vervuil hul hande aan sware
messelwerk. Salfmengers, Leviete, handelaars en die bewaker van
die Oospoort werk almal saam aan die bouprojek.

Neh noem selfs vroue. Vers 12: Sallum, owerste van die halwe
distrik Jer, roep die hulp van sy dogters in. Hierdie jong vroue
wys dat hulle nie bang is om werk te doen wat gewoonlik aan manne
oorgelaat word nie. Christelike vroue kan baie meer doen as net
koppies tee of koffie inskink by kerklike funksies. Godvresende
vroue het in die lewe van die NT iese kerk ’n vitale rol
gespeel, vroue wat verdruktes gehelp het en elke goeie werk
nagestreef het (1 Tim 5:10).

So sien ons, broers en susters, dan in Neh 3 mense van elke
rang of stand saamwerk aan die mure van Jer: priesters, inklusief
die hoëpriester, Leviete, goudsmede, handelaars, owerstes,
gewone arbeiders, manne en vroue. Hulle het langs mekaar gewerk.
Meer as 20 kere lees ons uitdrukkings soos "naas hom"
of "hulle" en "na hom." So ’n 40 groepe
mense is besig met die herbou van die mure, skouer aan skouer.

Hoe het hierdie samewerking en harmonie ontstaan? Dikwels moet
baie gebeur voordat mense skouer aan skouer staan en werk. Ons
kan dikwels mekaar hinder, teen mekaar in werk. Dan kan jy
terugdink aan tye toe dit nog anders was. Soms sien jy mense
opvrolik wanneer hulle jou herinner aan vroeëre tye: ons was in
dieselfde klas. Ons het langs mekaar gesit. Ons het saam gespeel.
Of ons het saam gewerk. Ons was saam op die bybelstudievereniging.
Maar ons het heeltemal uit mekaar gegroei. Die skeiding het
steeds groter en sterker geword. Of ons het in bitterheid ons aan
mekaar onttrek. Nou, dan moet baie gebeur om ons weer by mekaar
te bring, om weer skouer aan skouer te werk.

Dikwels sien jy dat rampe mense weer by mekaar bring. As daar
’n groot brand of oorstroming is, wat sien ’n mens
dikwels gebeur? Bure, wat gewoonlik niks met mekaar te doen het
nie, werk skielik saam om die vuur of die oorstroming te bestry.
Vroeëre vyande word skielik maats in hul stryd teen ’n
gemeenskaplike vyand. Dit kos baie om mense weer by mekaar te kry.

Mense wat dieselfde lot deel word kamerade. Wel, in Neh 3 is
daar seker ook iets van die kameraadskap aanwesig, soos dit
dikwels ontstaan in noodsituasies. Maar gemeente, as dit al was,
dan kon ons hierdie hoofstuk net so goed uitgelos het. Die
gemeenskap, wat in die hoofstuk beskryf word, is dieper.
Kameraadskap deur dieselfde lot te deel is pragtig, maar verdwyn
dikwels wanneer die ramp verby is. Dan doen die mense weer hul
eie ding en neem hulle weer afstand van mekaar.

In Jer was daar meer as net kameraadskap deur dieselfde lot te
deel. As dit al was, dan sou die mense dit reeds jare eerder kon
gewys het. Die mure van Jer het mos reeds 140 jare in puin gelê.
Hier word die werkers aan mekaar verbind deur God se profetiese
woord, op God se bevel, deur God se Gees gedryf om God se stad te
herbou.

In die vorige hoofstuk het ons gesien hoe God Neh, die skinker
van die Persiese koning, geroep en bekwaam gemaak het om die taak
te vervul. Neh het Jer toegegaan met die goeie nuus: God wil Jer
se mure herstel. Ja, God wil dit. Dis nie net ’n menslike
onderneming nie. Die God van die hemel wil dit en Hy sal ons dit
laat geluk. Wel, dis vanweë hierdie hemelse roeping dat daar die
verenigde klomp werkers is. Dis waar hulle deel dieselfde lot.
Maar die gemeenskap is, ten diepste, ’n geestelike
gemeenskap, ’n eenheid in die geloof. Daar is ’n groot
verskil tussen kameraadskap en die gemeenskap van die heiliges.
Daardie werkers uit elke rang en stand, wat eensgesind bou, is
’n duidelike bewys van God se werk van kerkvergadering. Deur
sy woord en Gees vergader God vir homself ’n volk wat Hom
met vreugde dien. Dis sy wil dat Jer se mure nie in puin bly lê
nie, maar dat hulle herbou word.

Bo Jer se mure het God verstrekkende bouplanne. Hy wil hier op
aarde onder die nasies sy koninkryk van geregtigheid en vrede bou.
Mbt Jer sy mure beteken dit: God sit daardie werkers aan om Jer
se mure te herbou, sodat 400 jare later die Here Christus in sy
stad verwelkom kan word as die Erekoning. Jer moet herstel word
met die oog op Goeie Vrydag, Pase en Pinkster. Daarom is dit hier
nie net ’n kwessie van Neh se ideale wat gerealiseer word
nie. Nee, dis ’n kwessie van God se verstrekkende bouplanne.
400 jare later maak ons Here Jesus sy intog in sy stad.

Sindsdien is die bou van sy koninkryk nog steeds aan die gang.
Ook al is die mure van die aardse stad Jer na Christus weer
afgebreek, Christus gaan aan met die bou van sy kerk en koninkryk.
Ons kan amper nie indink hoe groot sy bou aktiwiteite onder die
volke is. Al die kontinente is betrokke. Oor die hele wêreld het
God sy bouers aan die werk.

En broer, suster, seun, dogter, jy is geroep en bevoorreg om
God se medewerkers te wees, om saam, skouer aan skouer, te bou.
Dink vir ’n oomblik daaroor na: jy is geroep om vir God te
bou, skouer aan skouer.

Wat is dit wat ons dikwels verhinder om te doen wat ons moet
doen? Wat is dit wat ons van mekaar skei en ons verhinder om
eensgesind aan God se koninkryk te bou? Nie net vooroordele en
klas verskille nie. Daar kan honderd en een klein dinge wees wat
ons uit mekaar dryf. Ons gedagtes. Verborge gedagtes teen een of
ander broer of suster. Gedagtes waarvoor ons ons moontlik skaam,
maar wat tog die verhouding versteur. Dan is daar die onbesonne
en onwyse of onvriendelike woorde wat eintlik nie geuit moes
gewees het nie. Maar hulle is tog geuit met alle gevolge daarvan
in die verhoudings. Daardie gedagtes en woorde is reeds genoeg om
die onderling band te verniel. Maar dan is daar ook nog die dade
wat die verwydering erger kan maak. So kom dit dat mense mekaar
teenwerk. Ons weet amper nie meer hoe dit ontstaan het nie, maar
die verwydering is daar tog maar.

Maar, broers en susters, daar is niks mooier op aarde as ware
gemeenskap nie. In die hart van die gelowige – en u is tog
’n gelowige? – is daar die verlange om eensgesind te
bou in ons gesinne en in die kerk. Tog is daar herhaaldelik die
dinge wat skeiding bring. Die Bybel noem dit sonde. Sonde hinder,
versteur die bou in eenheid. Rampe, moeilikhede kan kom, maar
daardie kan die sonde nie oorbrug nie. Meer is daarvoor nodig:
Jesus Christus. Hy het gekom. Ons verkondig Hom aan julle,
Christus alleen. Want Hy het gekom om dit wat ons van mekaar skei
te verwyder. Sy verlossingwerk skep gemeenskap in die diepste sin
van die woord, gemeenskap in skuld en in vergewing, die
gemeenskap wat ons aan die tafel van die Here vier.

Ja, daar aan die HN, waar ons die teken van brood eet en uit
die beker drink, in Christus se teenwoordigheid, daar word die
ware gemeenskap ervaar, die gemeenskap van verloste sondaars.
Hierdie gemeenskap ontstaan deur Christus, wat Hom nie geskaam
het om ons broer te word nie. Dit was ’n behoorlike stap vir
die priesters, die goudsmede en die handelaars om te daal na die
vlak van die arbeiders. ’n Baie groter sogenaamde
klasverskil moes egter oorbrug word toe die volmaakte Seun van
God homself met ons sondaars geïdentifiseer het. Christus het
nie net neergedaal na die arbeiders in die bou nie. Hy het self
’n timmerman in Nasaret geword. Hoewel Hy van nature God
was, het Hy neergedaal uit die hoogste hemele en het Hy langs ons
sondaars gaan staan en werk. Sindsdien mag jy weet wat dit
beteken om naas mekaar te werk, skouer aan skouer. Christus het
geleer wat dit beteken om ’n naaste vir ander te wees en om
’n naaste te hê, iemand waarvan geen sonde ons kan skei nie.
Deur geloof in Christus is ons nie net metgeselle nie, ja, dit
ook. Ons het broers en susters van mekaar geword. Mede-bouers van
God. So bou God sy kerk en koninkryk.

Die vraag klem dan: hoe is die samewerking tussen jou en jou
man of vrou? Hoe is die samewerking tussen jou en jou broers en
susters? Hoe is jou verhouding met jou klasmaats, met jou
studiegenote aan die bybelstudieverenigings? Werk jy werklik saam
skouer aan skouer in gemeenskap met Christus? Hoe is die situasie
in die gemeente? Watter rol vervul jy? Hoe aktief is jy besig om
die gemeente te bou? Wat doen jy met jou talente? En hoe werklik
bou ons saam, in eensgesindheid? Werk ons wat saam in die
kerkbanke sit, werklik saam, een van hart en een van siel? Laat
ons Christus die dinge, wat ons van mekaar skei, verwyder in
skuldbesef en met ’n vergewensgesinde hart?

Broers en susters, dit het God behaag om die name van hulle
wat gehelp het aan die herbou van die aardse stad Jer te noteer.
Hoeveel te meer sal God dan hulle wat deelneem aan die bou van sy
geestelike stad noteer? God waardeer getroue arbeid in sy diens.
Niemand het ooit so ’n lys gesien nie. Ons weet nie wie se
name daarop sal staan nie. God sal ook rekord hou van hulle wat
nie hul skouers onder die werk wil sit nie. God se rekords is
daarom beide vertroostend en vreeswekkend. Vertroostend wanneer
ek gewillig en getrou Hom en sy volk dien. Vreeswekkend wanneer
ek die werk in God se kerk en koninkryk weier.

Daarom, broers en susters, fokus op Jesus Christus. Hy is onse
vrede. Hy het die probleem van die sonde aangespreek. Hy het dit
reg gemaak tussen God en my en tussen my en my broers en susters
in die geloof. Laat sy vrede regeer in julle harte. Laat sy Gees
jou tot dienswerk bekwaam. Wees besig vir God, wat jou posisie en
take in die kerk en in die samelewing ook al mag wees. Dan sal
Christus eendag die boeke oopmaak en sê: Kom, julle geseëndes
van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die
grondlegging van die wêreld af. Oor weinig was jy getrou, oor
veel sal Ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer. (Mt
25:34, 21).

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)