Die ware bekering van die mens.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2004-11-28
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 33
Preek Inhoud: 

Sondag 33

Ds C Kleyn - Sondag 28 November 2004

Lees: Efésiërs 4:17-5:21; Sondag 33.
Sing: SB 27; Ps 25:2,4; Ps 86:3,6; Ps 84:3,6.

Tema: Die ware bekering van die mens

  1. Dit is om die ou mens af te lê
  2. En met die nuwe mens beklee te word

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Dit word ons as vrye gereformeerdes soms verwyt dat ons te
veel sou fokus op die verstand en te min op die hart en lewe.
Word daar by ons nie baie nadruk gelê op die kennis nie? Ons het
ons eie skool, allerlei Bybel studie verenigings, die katkisasies.
Alles is daarop gerig dat ons goed onderlê word in die leer.
Praat ’n mens oor die leer dan het ons in die reël ons
oordeel wel klaar.

Maar nou ons hart en lewe. Hoe is ons in ons daaglikse omgang
met mense? Hoe is ek in my huwelik, in my gesin, by die skool, by
die werk, op die pad? Hoe beleef mense my in daardie situasies?
As ’n voorbeeldige Christen?

Nog iets: by ons word die eredienste in die reël nog goed
bygewoon. Jong en oud gaan Sondags kerk toe, as dit kan meestal 2
keer per Sondag. Dis iets waaroor ons bly mag wees. Maar nou die
vraag: is al die troue kerk besoekers dan ook werklik bekeerd?
Ons hoop so. Maar is dit werklik so? Dit moet u/jy vir jouself
maar beantwoord. Alleen, jy moet nie outomaties daarvan uitgaan
nie. Paulus waarsku ons tav die O.T.iese verbondsvolk: want hulle
is nie almal Israel wat uit Israel is nie (Rom (9:6). En: nie hy
is ’n Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dit is
besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is nie; maar hy
is ’n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is
die van die hart, in die gees, nie na die letter nie (Rom 2:28,29).
Ek kan gedoop wees en in die verbond en kerk grootgeword het, Ek
kan getrou kerk toe gaan. Maar raak dit my ook werklik, in my
hart, in my gees? Sodat ek ook in die diepste sin van die woord
’n kind van God is? Wat dink u van die uitspraak van ’n
jong lidmaat: ek het altyd trou die eredienste besoek maar dit
het my nie geraak nie. Hoeveel van ons gaan nou nou die erediens
verlaat soos ons hier gekom het? Sonder dat dit werklik iets aan
ons gedoen het? Terwyl daar geen sprake is van siekte wat ons
moontlik kan verhinder in ons geloofsbelewing nie.

Ek praat hier oor die hele erediens, die hele verbondsgesprek
met die Here, nie slegs oor die prediking nie. Laat ons onsself
tog bly beproef. Sonder bekering sal niemand salig word nie. Dit
het Sondag 32 van die Heidelbergse Kategismus ons duidelik geleer.
Daarom is dit so belangrik om ons te besin oor die ware bekering
van die mens. Ons moet almal weet wat die bekering tot God inhou.

Ek verkondig aan julle: die ware bekering van die mens

  1. Dit is om die ou mens af te lê
  2. En met die nuwe mens beklee te word

Wat is dan die bekering? Die woord wys reeds daarop: dit is
’n omkering. Jy keer jou lewe om sodat dit die
teenoorgestelde rigting opgaan. Bekering beteken ’n radikale
verandering van jou lewe. Paulus wys daarop o.a. in die gelese
Skrifgedeelte. Die lewe van ongelowiges ’n lewe sonder God,
met jou rug na God gekeer. ’n Lewe sonder Christus. En
daarom ’n verdwaasde lewe. My verstand is dan verduister. Ek
is dan in feite onwetend, hoeveel menslike kennis ek ook mag
besit. Ek ken dan nie werklik vir God nie, God wat alles geskep
het en nog steeds onderhou en regeer. Ek ken so ook nie werklik
die skepping en die skepsels nie. Daarom misbruik ek ook God se
goeie skepping. Paulus skryf dat ongelowiges ongevoelig geword
het en hulle oorgegee het aan die ongebondenheid om in hebsug
allerhande onreinheid te bedrywe (vers 19).

Wat is dus die kenmerk van ’n ongelowige? Dat jy sonder
God lewe, met jou rug na God toe, verduister in jou verstand. Jy
is dan jou eie god en ’n wet vir jouself. Teenoor die
selfsugtige, sondige lewe van die ongelowiges, teken Paulus
vervolgens die nuwe lewe van die gelowiges. Hy begin met ’n
opmerking wat die lesers onmiddellik raak: "Maar julle het
Christus nie so leer ken nie". Ons sou ook kan vertaal:
"Maar julle nie so nie, julle het Christus leer ken."
In plaas van om met jou rug na God toe te leef, moet jy jou juis
op God rig. Moet jou lewe omgekeerd wees. Van rigting dood na
rigting lewe.

Paulus vervolg dan: soos die waarheid is in Jesus: "dat
julle wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê
wat deur die begeerlikhede van die verleiding ten gronde gaan en
julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware
geregtigheid en heiligheid."

Paulus plaas hier teenoor mekaar die ou mens en die nuwe mens.
Die een moet afgelê word en die ander aangetrek word. Dis soos
’n kledingstuk wat uitgetrek of aangetrek moet word. Waarom
hierdie beeld? Die beeld het te doen met die betekenis van klere
mbt iemand se waardigheid. Jou klere gee dikwels jou posisie of
funksie aan, in wie se diens jy staan. Dink aan die uitdrukking:
"Klere maak die man", waarmee ons wil sê dat ’n
persoon se kleredrag sy stand wys. Jy kan kinders van ’n
sekere skool herken aan hul klere, aan hul uniform. So kan jy
’n polisieman, militêr of vlieënier aan sy ampsklere
herken. So ken die Bybel ook klere wat pas by die gelowige. Van
Christus se bruid, wat genooi is na die bruilof van die Lam, lees
ons: "En aan haar is gegee om beklee te wees met rein en
blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van
die heiliges." (Openb 19:8). ’n Mens kan die bruid van
Christus herken aan haar kleding, aan haar regverdige dade, aan
haar goeie werke.

So word in Ef 4 die beeld van kleding gebruik om ons posisie
aan te dui. Die manier waarop ek myself aanbied, vertoon, wys by
wie ek behoort, in wie se diens ek staan, Satan of God.

Eers is daar dan die ou mens wat afgelê moet word. Maar wat
is die ou mens? Is ek self die ou mens? En word ek as ek die nuwe
mens aantrek ’n ander persoon? Nee, dit nie. Ek bly tydens
my bekering dieselfde persoon. My ou en nuwe mens dui ’n
bepaalde staat van lewe aan.

Maar waarom praat Paulus van ’n ou en nuwe mens? Paulus
gebruik hier die woord mens om aan te dui dat heel my mens wees
deur die staat van lewe bestempel en beheers word. Die ou mens is
bv nie maar ’n bestaanswyse wat op ’n afstand staan,
waarmee ek kan doen wat ek wil, waarteenoor ek vry staan nie.
Nee, die ou mens deurtrek my hele bestaan. Dit beheers my
gedagtes, woorde en dade. So is ek van nature.

Die ou mens is die verdorwe aard, die sondige natuur, die
skuldige bestaan van die mens. Dit word oud genoem omdat dit wys
op my oorspronklike toestand sedert die sondeval. So is ek van
nature. So is ek voor my bekering. Ek dra dan die ou mens soos
’n kleed. My uniform wys my as ’n dienaar van Satan.
Sonder God, in diens van die sonde.

Die evangelie leer ons egter dat die sondige bestaanswyse
afgelê moet word. "Soos die waarheid is in Jesus: dat
julle, wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê."
Gemeente, uit hierdie woord sou ’n mens die indruk kan kry
dat dit almal nog moet gebeur. Tog gaan Paulus daarvan uit dat
die aflegging van die ou mens reeds begin het. Die ou mens moet
afgelê en die nuwe mens moet aangetrek word. Dit is die onderwys
van die evangelie. Dis ’n bevel wat in die verlede en in die
hede klink. Dit het ook metterdaad begin gebeur in die lewe van
elkeen wat glo.

So kan Paulus in die parallel gedeelte uit Kol 3 skryf: "Lieg
nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê
het en julle jul met die nuwe mens beklee het. Paulus sien dit as
iets wat reeds gebeur het in die lewe van die gelowiges. So kan
ek ook wys op Rom 6:6 waar Paulus skryf: "aangesien ons weet
dat ons oue mens saam gekruisig is." Dit het reeds gebeur.
Wanneer het dit dan gebeur? Heilshistories gesien het dit
plaasgevind met die kruisiging en opstanding van Jesus Christus,
ongeveer 2000 jaar gelede. Die praktiese uitwerking daarvan in
die tyd geskied wanneer die Heilige Gees ons wedergebore laat
word en ons dus metterdaad gaan glo. Deur geloof kry ek deel aan
Christus se dood en opstanding. Daarmee het ek in prinsipe die ou
mens afgelê en die nuwe mens aangetrek.

Broeders en susters, in Jesus Christus het ek as gelowige
’n nuwe staat van lewe ontvang. Ek staan nou in die diens
van God. Ek behoort aan Hom. Nie langer in diens van die sonde
nie, maar in diens van die geregtigheid. Vanuit hierdie ryk
posisie roep Paulus ons op om dit te wys in ons lewe. Jou nuwe
staat moet jou stand word. Dit moet in jou daaglikse lewe vorm
kry. Daarom die blywende oproep van die evangelie om die ou mens
af te lê en ons met die nuwe mens te beklee. Daarom die oproep:
lê die leuen af ens. Jy het die ou mens afgelê, jy het die
uniform van Christus aangetrek, wys dit dan in jou lewe. Lê
metterdaad die sonde af. Laat die een wat steel, nie meer steel
nie. Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie. Alle
bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van
julle verwyder word, saam met alle boosheid (verse 28-32). Hier
hoor u/jy die oproep tot daaglikse bekering. Bekering is nie
’n saak van eenmaal bekeerd, altyd bekeerd nie. Waar
bekering begin het daar moet jy jou voortdurend bekeer. Want die
sonde bly jou belaag. Daarom wys Paulus nie slegs op wat eenmaal
in Christus gebeur het nie, maar gee hy ook ’n lewensprogram.
Jy moet die sonde steeds weer aflê. Dis ’n lewenslange
proses. Die prinsipiële begin moet voortvloei in jou hele
verdere lewe.

En, gemeente, dit is ook nie slegs ’n kwessie van
uiterlike gedrag nie. Die feit dat jou dade uiterlik ooreenstem
met die letter van God se wet is op homself nog geen bewys van
ware bekering nie. Kyk maar na die humanis met sy soms
voorbeeldige lewensgedrag. Bekering is iets anders as goeie,
beskaafde maniere. Dit is in die eerste plek ’n verandering
van gesindheid. Daar moet ’n innerlike breuk met die verlede
kom. Ek moet anders gaan dink en begeer. Daarom praat Paulus in
vers 23, voordat hy die bekleding met die nuwe mens noem, van
’n vernuwing in die gees van julle gemoed oftewel verstand.
Die vernuwing begin dus in my gees. My instelling en gerigtheid
moet steeds vernuwe word.

Van daaruit word my insig en verstand ook anders. Voor die
bekering is daar die verduistering in die verstand, die
vervreemding, die onkunde (vers 18). Ek lewe dan sonder God, in
’n geslote wêreld, ek leef dan vir myself. My verstand moet
dus verlig, vernuwe word. As ek Christus ken dan kyk ek anders na
die dinge. My gedagtes kom dan op ’n ander spoor. Op God se
spoor. Dit is vir jou en my ’n lewenstaak. Nie altyd maklik
nie, maar wel onmisbaar. As gevolg van die feit dat ek Christus
ken en in Hom wedergebore is, of geld dit nie van jou nie?

Dan kan dit nie anders nie of ek sal ’n hartlike berou
daaroor hê dat ek God deur my sondes vertoorn het. Nee, geen
verdriet soos dit by die ongelowiges ook dikwels voorkom nie.
Hulle ken immers ook verdriet en spyt oor verkeerde dinge wat
hulle gedoen het. Hulle kan ongelukkig met hulself wees en skaam.
Hierdie verdriet het dikwels te doen met die gevolge van die
misstap. Niemand vind dit prettig om die gevolge van verkeerde
dade te moet dra nie. Jy moet dan boet vir jou foute.

Jou verdriet as Christen moet egter anders wees. Geen verdriet
in die eerste plek vanweë die gevolge of vanweë persoonlike
skade nie. Dit moet in die eerste plek wees ’n verdriet
vanweë die belediging van God. Deur bekering is my lewe op God
gerig, teosentries, nie egosentries nie. Ek weet dat my sonde
juis God seermaak. Daarom haat ek die sonde en vlug ek daarvan
weg hoe langer hoe meer. Ek walg daarvan.

Ken jy dit, broer, suster? Ken jy die hartlike berou daaroor
dat jy God deur jou sondes vertoorn het? Haat jy werklik die
sonde en vlug jy daarvan weg? Ook die boesemsondes? Die selfsug,
die eiewilligheid, die skinder, die slapheid, die gierigheid, die
ondankbaarheid ens. Wat doen jy daaraan om die sonde te ontvlug?
Om te voorkom dat jy opnuut die sonde begaan? Laat jy jou
teregwys?

Dis waar, in hierdie lewe sal ons die volmaaktheid nie bereik
nie. Dit bly ’n stryd solank as ek lewe. Daarom moet ek bly
kies, haat en ontvlug. Dit is my lewensprogram. Wat ek in
Christus ontvang het, moet in my lewe sigbaar word. Hoe langer
hoe meer. Laat jou nuwe staat van lewe jou stand word.

Gemeente, by die bekering behoort nie alleen dat ek die ou
mens aflê nie, maar ook dat ek met die nuwe mens beklee word.
Dis die tweede gedagte.

Die nuwe mens is die nuwe staat van lewe, gerig op Christus.
Ek dra sy uniform. Aan my uniform kan ’n mens my ken as een
wat by Christus behoort. Ook al is die uniform nog deur die sonde
besmet. Daarom die daaglikse oproep om die nuwe mens aan te trek.
Om vir God te lewe.

Gemeente, as ons by die bekering die afsterwing van die ou
mens en die opstanding van die nuwe mens noem, dan praat ons nie
van twee fases of twee trappe in die bekering nie. Dis werklik
nie so dat eers die ou mens heeltemal moet afsterf sodat daarna
die nuwe mens kan opstaan nie. Die bekering ken nie een fase van
hartlike berou vanweë die sondes en daarna eers die fase van
hartlike vreugde in God deur Christus nie. Die twee elemente van
die bekering kom gelyktydig voor. Hulle vorm die twee kante van
die een lewensvernuwing soos die twee kante van die een medalje.
Terwyl ek die ou mens aflê, trek ek die nuwe mens aan. Terwyl ek
my rug na die sonde keer, keer ek my gesig na God toe. Die twee
gaan saam op, hulle vind gelyktydig plaas.

Waarom noem ek dit? Omdat waar die twee uit mekaar gehaal
word, ernstige ongelukke gebeur. As ek die berou as eerste trap
van die bekering sien, dan loop ek die gevaar dat ek in die berou
bly steek. Dan sien ek niks anders as die sonde in my lewe, my
verdorwenheid my doemwaardigheid nie. So kry jy die tobber wat sy
hele lewe gebuk gaan onder die las van die sonde. Die tobber wat
Christus nie durf toe-eien nie. Die tobber wat in feite sonder
evangelie lewe. Hy sien slegs sy eie sondes en tekortkomings. Hy
weet wel dat die Bybel ook oor die vergewing praat, maar hy durf
dit nie vir homself te aanvaar nie. Dit sou slegs vir ander mense
wees, vir vergevorderdes, wat bo hul sondes uitgekom het.

Op die eerste gesig lyk so ’n houding baie nederig en
beskeie te wees. Maar, gemeente, as jy beter kyk dan sien jy dat
dit tog ’n stuk ongeloof en ongehoorsaamheid is. In plaas
van om te vlug na Jesus Christus, bly die persoon kyk na homself.
Asof Christus nie juis gekom het om sondaars te red nie. So word
die waarde van Christus se soenoffer verloën. So ’n lewe
bly egosentries in plaas van teosentries. Sonder God, sonder
Christus. Dit het niks te doen met bekering nie, ook nie met die
eerste aspek daarvan nie.

Gemeente, as jy die twee aspekte van die bekering uit mekaar
haal, as twee fases, dan kan jy ook verval in die ander uiterste.
Dan kan jy uitkom by oppervlakkige en blye gevoelschristen. Ek
kan dan dink: ek het die eerste fase – die fase van die
berou oor die sonde - gepasseer. Ek het die sonde ontgroei. Ek is
mos bekeerd. Nou is daar slegs plek vir hartlike vreugde vanweë
die verlossing. So kom jy uit by die optimistiese mens wat hom
nie meer bekommer oor sy sonde nie. Ek is tog reeds verlos! Niks,
geen satan of sonde kan my iets maak nie. Selfoorskatting,
hoogmoed kom egter voor die val.

Nee, beide elemente van die bekering moet gelyktydig aanwesig
wees. Hulle kan nie sonder mekaar nie. Sonder kennis van
Christus, sonder hartlike vreugde in God, kan ek onmoontlik
hartlike berou oor my sondes hê nie. Dis mos Christus wat my oë
vir die sonde oopmaak? Tegelykertyd kan daar geen hartlike
vreugde vanweë die verlossing wees as ek nie ook my sonde ken
nie. Die een kan nie sonder die ander nie.

Waar beide elemente van die bekering aanwesig is, daar kan die
vrugte van die bekering tot volle ontwikkeling kom en sigbaar
word. Dit kan nie anders nie. Jou nuwe staat in Christus word hoe
langer hoe meer jou stand. Jy haat en ontvlug die sonde meer en
meer. Jy trek ook steeds meer Jesus Christus aan. Jy wil steeds
meer vir God lewe, die beeld van God vertoon. Daarom spreek ek
die waarheid in plaas van die leuen. Daarom werk ek liewer met my
hande pleks van om te steel. Daarom laat ek geen vuil woord uit
my mond uitgaan nie, maar net ’n woord wat goed is vir die
nodige stigting. Daarom word ons vriendelik en vol ontferming
teenoor mekaar, vergeef ons mekaar soos God in Christus ons
vergewe het. Of geld dit nie vir ons nie? Tog is dit tekens,
bewyse van bekering.

Nou terug na die vraag van die inleiding: is jy bekeerd? Is
dit so dat dit by jou meer ’n saak van jou verstand is en
nie van jou hart nie? Is dit so dat dit hier in die kerk koud en
liefdeloos is? Ware bekering kan nie verborge bly nie. Watter
uniform dra jy, die van Satan of die van Christus? Hartlike
droefheid vanweë die sonde en hartlike vreugde in God deur
Christus moet tog sigbaar wees? Hier, in jou gesin, in die
samelewing? Jy het Christus tog leer ken, of nie soms? Hy het jou
vrygemaak van die diensbaarheid aan die sonde. Leef dan vanuit
die verlossing. In dankbaarheid, tot eer van God. Dan is die
Sondagse eredienste geen oorbodige luukse nie. Dan praat ek nie
spottend oor die bybelstudie verenigings of oor die Gereformeerde
Laerskool Johannes Calvyn nie. Ek wil God steeds beter leer ken
en laat ken. Om my in die daaglikse lewe steeds beter te kan rig
op God. Dit het tog jou lus en liefde geword om volgens die wil
van God in alle goeie werke te lewe?

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)