Die gebed is die geloofantwoord op God se spreke in die verbond.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2005-02-27
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 45
Preek Inhoud: 

Sondag 45

Ds C Kleyn - Sondag 27 Februarie 2005

Lees: Psalm 27; Sondag 45.
Sing: Ps 27:1,2; Ps 9:1,7; Ps 50:7,11; Ps 116:1-4;
Ps 27:4,6.

Tema: Die gebed is die geloofantwoord op God se spreke
in die verbond.

  1. Die noodsaak van die antwoord; en
  2. Die vereistes vir die antwoord.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die wet en die gebed is nou aan mekaar verbind. Die een lei
tot die ander en omgekeerd. Daar is ’n wisselwerking tussen
die twee. Die wet lei ons tot die gebed, wat op sy beurt ons weer
by die wet uitbring. Die wet as reël van dankbaarheid blyk
’n spieël te wees waarin ons ons ellende sien. So dryf dit
ons terug tot God in gebed.

Die vorige Sondag het dit duidelik gemaak. Waarom laat God sy
wet dan so streng verkondig? Ten eerste sodat ons ons sondige
natuur hoe langer hoe beter kan leer ken en met groter verlange
na die vergewing van sondes en na die geregtigheid in Christus
kan soek. Ten tweede moet ons ons sonder ophou beywer en God om
die genade van die Heilige Gees bid sodat ons altyd meer en meer
na die ewebeeld van God vernuwe word. Die vorige Sondag eindig
dus met die gebed. So word die oorgang na die laaste deel van die
Kat gemaak, die gedeelte oor die gebed.

Beide die wet en die gebed behoort by my lewe as ’n
Christen. Ek kan hulle nie skei nie. Sodra ek die wet sien word
ek daartoe gedring om te bid: wees my ’n sondaar genadig en
gee my tog u Gees sodat my lewe vernuwe word. Wanneer ek so bid
dan wil ek ook graag my rig na God se wet, ywerig in goeie werke.
As ek daardie twee skei dan het ek geen van beide verstaan nie.

Broer, suster, hoe is jou gebedslewe? Ken jy ’n lewendige
gebedslewe? Of het jy in ’n groef geraak waardeur die
lewendigheid daaruit verdwyn? Julle weet hoe uitdrukkings wat
baie gebruik word, hul betekenis kan verloor. So kan die
volmaakte gebed, die onse Vader, en ander vaste gebede, as hul
dikwels gebruik word, clichés word. Jy besef byna nie meer
waarmee jy besig is wanneer jy die gebede bid nie. Op vaste tye
word vaste formules geuit. Jy besef byna nie dat jy besig is om
met God jou hemelse Vader te praat nie.

Geliefdes, ons moet voortdurend leer om te bid. Die gebed is
’n belangrik onderdeel van ons lewe met God. Dis die proef
op die som van jou geloof. Jou gebedslewe wys hoe dit met jou
geloof gesteld is. Sonder gebed loop jou geloof dood, tensy daar
natuurlik sprake van siekte is. Daarom noem mense die gebed oor
die asemhaling van die geloof. Om te lewe moet ek asemhaal. Om my
geloof te onderhou moet ek bid. Anders neem die dood oor.

Die gebed behoort by die verbondsverhouding met God. God wil
met my omgang hê. Hy het gepraat en nou wil Hy hê dat ek daarop
reageer. Dit kan nie van een kant bly kom nie. Nee, Hy wil ook hê
dat ek met Hom praat. Daarom is die gebed ons antwoord vir God
wat in die verbond met ons praat. Dis die tema van die preek: die
gebed is die geloofantwoord op God se spreke in die verbond.

  1. die noodsaak van die antwoord
  2. die vereistes vir die antwoord

In die Skrif word die gebed dikwels as ’n eis voorgehou.
Die kat noem dit die vernaamste deel van die dankbaarheid wat God
van ons eis. Is dit nie snaaks om die gebed as ’n eis te
sien nie? Kan jy op bevel bid? Moet jou gebede nie spontaan uit
jou hart opkom nie? Moet jou gebed nie voortkom uit ’n diepe
behoefte om te bid nie? As jy die gebed ’n eis noem, neem jy
dan nie die warmte en die krag uit die gebed uit nie?

Geliefdes, die antwoord is nie moeilik wanneer jy onthou wat
die gebed eintlik is nie. Die gebed is die geloofsantwoord op God
se spreke as Verbondsgod. In die verbond kom God met sy beloftes
en eise. In jou dank en lof, in jou smekinge reageer jy op
daardie belowende en eisende God.

Die respons word nie aan jou eie goeddunke oorgelaat nie, bv
wanneer jy lus daarvoor is of wanneer die nood hoog is. Dis
’n sataniese misleiding om te dink dat jy net hoef te bid
wanneer jy die noodsaak daarvan voel. As dit van jou gevoelens
afhanklik sou wees, dan vrees ek dat nie veel van jou gebed sou
word nie. Want nood leer ’n mens nie om te bid nie, soos
dikwels gesuggereer word. Net God leer ons om te bid, ons
belowende en eisende Verbondsgod. En Hy dring daarop aan dat ek
op sy speke reageer in gebed. As ek, die tweede party van die
verbond, stil bly dan hou die kontak op.

Ons sien dit duidelik in Ps 27:8. Daar sê Dawid tot die Here:
“Van U sê my hart: Soek my aangesig! Ek soek u aangesig, o
Here.” Dawid verwys eers na die eis van die Here om te bid.
God het hom geleer: soek my aangesig. Dis wat die Here wil hê.
Dis wat Hy in die Skrif bekendgemaak het aangaande sy wil. En nou
kom Dawid met die antwoord: Ek soek u aangesig, o Here. Ek sal
doen wat U vra.

Broers en susters, die bevel om te bid het niks met dwang te
doen nie. Hierdie bevel is pragtig. Daarmee beskerm God ons teen
onsself. Nou die eis daar is, kan niemand agter sy slapheid skuil
nie, deur te wys na die gebrek aan nood of behoefte om te bid.
Dit sou baie gevaarlik wees, selfs dodelik. Nee, gebed is ’n
bevel. God self sorg daarvoor dat ons ’n lewendige kontak
met Hom onderhou. Ter wille van ons heil.

Die Here druk ons op die hart: Bid sonder ophou (1 Thess 5:17).
Roep my aan in die dag van benoudheid (Ps 50:15). “Bid, en
vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop en vir
julle sal oopgemaak word” (Mt 7:7). Om te bid, om te soek en
om te klop is ’n bevel.

Gemeente, die kat noem die gebed die vernaamste deel van die
dankbaarheid. Om God se gebooie te onderhou is reeds ’n baie
belangrike deel van die dankbaarheid. Waarom nie die belangrikste
nie? Is dade nie belangriker as woorde nie? Is gehoorsaamheid nie
belangriker as die gebed nie? Nee, tog nie. Die gebed is die
vernaamste deel van die dankbaarheid.

Hoekom? Omdat die gebed die klimaks in jou lewe met God in die
verbond is. Watter waarde van al jou dade sonder ’n
lewendige omgang met God? Sonder gebed sou al ons gehoorsaamheid
aan die wet doods word. Kyk maar na die situasie in ons gesinne.
Hoe sou jy as ouer daaroor voel as jou kind vir ’n hele week
alles sou doen wat jy van hom vra, sonder om ’n woord te sê.
Sou jy daar bly mee wees, met die blinde, stilswyende
gehoorsaamheid? Jou kind sou dan baie lyk op ’n lewenslose
robot. Sou jy nie liewer sien dat jou kind met jou sou praat nie?
Dit is belangriker vir jou. Die feit dat jou kind met jou praat,
ervaar jy as ’n sekere klimaks in jou verhouding. Deur die
spontane gesprekke merk jy hoe jou kind hom voel en wat hom besig
hou. Deur met jou te praat, wys jou kind dat hy vertroue in jou
het. Ja, dit is altyd die groot oomblikke in die gesinslewe
wanneer die kinders vryuit met julle as ouers gesels oor die
dinge wat hulle beleef of oor die vrae waarmee hulle worstel.

Op ’n vergelykbare manier is die gebed die belangrikste
deel van die dankbaarheid in die verhouding met God. Deur jou
gebed wys jy vir jou hemelse Vader jou vertroue in Hom en jou
dankbaarheid. Vader is bly daarmee as jy na Hom toekom met die
dinge waarmee jy besig is. Deur om te bid wys jy dat jy jou band
met Hom waardeer, dat dit ’n vreugde vir jou is en nie net
’n saak van slaafse, uiterlike gehoorsaamheid nie.

En geliefdes, dis ook geweldig dat juis die gebed die
vernaamste deel van die dankbaarheid is. Dis tenminste ’n
dankoffer wat elkeen van ons kan gee. Elkeen is nie in staat om
vir God ’n groot finansiële offer te gee as blyk van dank
nie. Nie elkeen kan baie tyd gee vir spesiale werk in God se
diens nie. Nie elkeen kan aktief in die samelewing wees ter wille
van die Here nie.

Die offer van gebed is egter iets wat elkeen kan gee. Die ryke
en die arme, die sterk jongmens en die bejaarde, die gesonde en
die sieke, jonk en oud. Niemand hoef hiermee verleë te wees nie.
Niemand hoef te vra: wat sal ek vir die Here aanbied? Bid! Bied
as dankoffer vir die Here aan, die vrug van jou lippe.

Ja, dan is jy besig om die grootste offer aan te bied, die
belangrikste deel van die dankbaarheid.

Gemeente, die tweede rede vir die gebed wat die kat noem is:
“omdat God sy genade en Heilige Gees alleen aan hulle wil
gee wat Hom met hartlike versugtinge sonder ophou daarom bid en
daarvoor dank.”

In die verbond kom God met sy beloftes en eise. Ja, eerstens
met sy beloftes. Die beloftes word nie outomaties vervul nie. Dit
het God behaag om die gebed daartussen te plaas, tussen die
belofte en sy vervulling. God wil ons geloofsantwoord sien en
hoor. Die Here het die nou band tussen gebed en vervulling gewys.
As jy wil ontvang, sal jy moet bid. As jy wil hê dat die deur
vir jou oopgaan, dan sal jy moet klop. “Want elkeen wat bid,
ontvang; en hy wat soek vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak
word.”

Deur die gebed wil God beweeg van die belofte na die beloofde
werklikheid. Christus het dit in Lk 11:13 so gesê: “As
julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te
gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee
aan die wat Hom bid?”

Daarom, broers en susters, as daar onder ons geestelike
armoede en vrugteloosheid is, wat kan die oorsaak wees? Is dit
dalk ’n gevolg van ’n arm gebedslewe? In die stryd teen
sonde en Satan kan jy nie sonder gebed nie. Dis ’n baie
belangrike wapen. As ek nie bid nie of nie voldoende bid nie, dan
is ek besig om myself te ontwapen. Dan maak ek myself ’n
maklike prooi vir die vyand. Immers deur nie te bid nie skakel ek
God, die bron van alle krag en wysheid, uit. En hoe kan ek in die
geestelike stryd stand hou sonder God? Hoe kan ek die versoeking
weerstaan sonder God se hulp?

Dis daarom ’n ernstige saak dat ek nie in die gebed
verslap nie. As ek dit wel doen, vra ek om moeilikheid, vra ek om
geestelike armoede en swakheid. Maak nie saak hoe besig jy in die
lewe is, moenie ooit dit laat gebeur dat jy geen tyd vir gebed
het nie. As jy dit wel doen, dan is jy besig om die bron van jou
lewe en krag toe te maak. Dan is jy besig om al die nodige
voorsienings van bo af te wys. Dan eindig jy magteloos en eensaam.
Jy het die belangrikste ding in jou lewe met God vergeet. Is die
vreemd dat God bly kom met die bevel: bid sonder ophou en bid en
dit sal vir jou gegee word?

Geliefdes, ons het nou stilgestaan by die noodsaak van die
gebed as geloofsantwoord. Ons wil nou let op die vereistes van so
’n geloofsantwoord.

Nie elke gebed verdien die naam gebed nie. Nie elke gebed
behaag die Here nie. Dit let nou hoe ek bid. Daar is gebede wat
God werklike nie aanstaan nie. Hy sal sulke gebede dan ook nie
verhoor nie.

Om ons te help in ons gebedslewe, noem die kat drie vereistes
waaraan ons gebede moet voldoen om God te behaag. Die eerste
vereiste wat genoem word is die regte adres. Dis natuurlik baie
belangrik na watter adres jy jou gebede stuur. Neem byvoorbeeld
’n brief of epos wat jy verkeerd adresseer. Miskien het jy
’n baie belangrike boodskap geskryf, maar dit was alles
verniet. Vanweë die verkeerde adres het die brief nooit die
persoon bereik wat jy wou bereik nie.

So kan dit ook gaan met ons gebed. As jy God die Vader wil
bereik dan moet jy jou gebed wel goed adresseer. Net dan kan dit
Hom behaag en sal dit deur Hom verhoor word. Die enigste regte
adres is, ons gebruik hier die taal van die Kat, die enige ware
God wat Hom in sy woord geopenbaar het.

Is dit nie vanselfsprekend nie? Jy is tog geen heiden wat
afgode aanroep nie? Maar geliefdes, dit is nie so vanselfsprekend
as dit lyk nie. Dink net aan hoe mense vandag God beskou en hoe
hulle vir Hom bid. Vir baie mense is God ’n ‘iets’,
’n ‘hoë mag’ of ’n opperwese wat bo alle
dinge staan, maar soos alle skepsels tog ook beperk is. Hoe
maklik vorm ons ook nie ’n sekere idee van God om Hom dan
daaraan te meet. Dis die oorsaak van baie teleurstellings in die
gebedslewe. Ek ontvang nie wat ek van die god van my voorstelling
verwag het nie. Hy doen nie wat ek dink Hy sou moet doen nie.
Daarom word ek teleurgestel in die God en verloor die gebed sy
waarde vir my.

Gemeente, daar is baie gebede wat die indruk skep dat hulle
geadresseer is aan ’n onbekende god. Daar is baie gebede wat
lyk na ’n sprong in die duister, ’n dobbelspel, ’n
avontuur. Jy weet nie wat die uitkoms gaan wees nie. Dit kan
positief verras maar ook teleurstel. In ieder geval, dis die
moeite werd om te probeer, jy het nou ’n nee, jy kan
moontlik ’n ja ontvang.

Wie so bid, bid nie tot die enige ware God wat Hom in sy woord
geopenbaar het nie. God is nie ’n onbekende god nie. Hy is
nie die onvoorspelbare god nie. Nee, Hy is die Verbondsgod, wat
homself in sy woorde en werke bekendgemaak het. Hy is diegene wat
eers gespreek het. Wat ons antwoord bepaal en uitlok. Hy is die
bekende God van wie jy weet wat jy mag verwag. Die bekende God
waarop jy kan staatmaak. Daarom kan jou antwoord vir Hom nooit
’n sprong in die duister wees nie. Die gebed is nie ’n
kansspel nie. Dis ’n antwoord van die geloof. En wanneer dit
die geval is, weet jy waar jy aan toe is en sal jy nooit beskaamd
staan nie.

Die tweede vereiste van ’n gebed wat God behaag is die
regte houding. As jy op jou Verbondsgod reageer, dan moet jy jou
eie plek ken. Jou eie nederige plek. Want ons is en bly sondige
mensekinders, afhanklik van genade.

Dawid noem dit in Ps 27. Die Psalm begin met ’n verhewe
toon. Dawid gaan sy vyande opgeruimd en sonder vrees tegemoet.
Niks kan hom klein kry nie. “Al word ’n laer teen my
opgeslaan, my hart sal nie vrees nie; al staan ’n oorlog
teen my op, nogtans vertrou ek” (vers 3). Dawid begin sy
Psalm dus op ’n verhewe toon. In vers 7 hoor ons opeens
Dawid uitroep: “Hoor, o Here, ek roep luid; en wees my
genadig en antwoord my.” Wees my genadig. Dawid is bewus van
sy plek as smekeling voor die Here, ’n nederige smekeling.
Dis asof ons skielik in Dawid die tollenaar ontmoet wanneer hy na
die tempel gaan om offers aan die Here te bring. Die tollenaar
bly van ver staan en wil nie eers opkyk na die hemel toe nie,
maar slaan homself op sy bors en sê: O God, wees my, sondaar,
genadig! (Lk 18:13)

Nee, Dawid is nie ’n tollenaar nie. Hy is een van God se
gunsgenote. Tog is hy ’n gunsgenoot in die verbond van
genade. Hy gaan na die Here in sy tempel. En as jy die lig
betree, sien jy die duisternis van jou sondes. Tensy sy regop
voor die heilige God wil staan soos die Fariseër. As gelowige
weet jy egter dat jy teenoor die Here ’n smekeling is: o
God, wees my, sondaar, genadig. En dan mag jy geregverdig na jou
huis gaan.

Gemeente, as derde vereiste vir ’n gebed wat God behaag
noem die kat vertroue. “Ten derde het ons hierdie vaste
grond dat Hy ons gebed, hoewel ons dit nie verdien nie, tog ter
wille van die Here Christus sekerlik wil verhoor, soos Hy dit vir
ons in sy Woord beloof het.”

Hoewel Dawid bewus daarvan is dat hy ’n smekeling is,
sing hy voortdurend in geloofsvertroue. Die Verbondsgod het mos
gepraat. Daarom kan Dawid midde in die stryd sing:”Die Here
is my lig en my heil: vir wie sou ek vrees? Die Here is die
toevlug van my lewe: vir wie sou ek vervaard wees?” “Want
Hy steek my weg in sy hut in die dag van onheil; Hy verberg my in
die skuilplek van sy tent; Hy verhef my op ’n rots. En nou
sal my hoof hoog wees bo my vyande rondom my.”

Dawid het die lieflikheid van die Here in sy tempel aanskou.
Hy het God weer gesien in sy heiligheid en genade. Dink aan die
ark van die verbond en aan die bloed van diereoffers wat daagliks
gevloei het om sondes te versoen. Dawid kan weet dat hy met God
versoen is en dat hy daarom by God geborge is. Daarom mag hy
seker weet dat die Here sy gebed sal verhoor.

Geliefdes, so mag julle ook in gebed na jul Verbondsgod gaan.
Ja, julle moet so tot Hom gaan: in nederigheid en vertroue. God
wil hê dat julle soos kinders met Hom kommunikeer. Dis die eer
van Vader dat jy Hom in gebed nader.

Gee dan daardie vereiste geloofsantwoord aan jul Verbondsgod.
Sonder uitstel. Gee dit soos Hy dit graag ontvang. Roep Hom, die
enige ware God wat Hom in sy woord geopenbaar het, aan, in
nederigheid en vertroue. As jy so bid, dan mag jy daarvan seker
wees dat Hy jou sal hoor. As jy so klop sal die deur vir jou
oopgemaak word. Want Christus het die pad oopgemaak.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)