Die apostel roep tot die arbeid kragtens Christus se oorwinning oor die dood.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2005-04-10
Teks: 
I Korinthiërs 15
Preek Inhoud: 

1 Korinthiërs 15:58

Ds C Kleyn - Sondag 10 April 2005

Lees: 1 Korinthiërs 15:12-34; 50-58.
Sing: Ps 115:1,2; Ps 115:6-8; Ps 118:7,8; Ps 126;
Ps 90:9.

Tema: Die apostel roep tot die arbeid kragtens
Christus se oorwinning oor die dood.

  1. Die goeie basis vir ons arbeid;
  2. Die karakter van ons arbeid; en
  3. Die sin van ons arbeid.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Hoe sien julle julle werk en toekoms hier in ons land en
samelewing? Het al jou inspanning nog wel sin? Om die woorde van
die Prediker te gebruik: “Watter voordeel het die mens van
al sy moeite waarmee hy hom vermoei onder die son?” Moet ons
ook met die Prediker konkludeer: “alles is tevergeefs en
’n gejaag na wind?” Is dit nie hoe ons soms voel in
Suid Afrika? Watter frustrasies kan daar soms wees. Wat jy met
groot inspanning probeer opbou, word soms sommer afgewys,
ongedaan gemaak. Ons kan ons ook voorstel dat werkloses die moed
laat vaar. Watter sin het dit om steeds maar weer na werk te soek
en te sollisiteer as jy tog voortdurend afgewys word? En wat moet
ons dink van jongmense wat hulle vir hulle studies moet inspan
terwyl hulle nie weet of hulle die werk gaan kry wat hulle met
hul studies beoog nie? Dit kan veral vir blanke seuns moeilik
word. Die onsekere toekoms sou jou kan demoraliseer sodat jy nie
meer lus is om te werk of te studeer nie.

Hierby hoef ons nie net te let op negatiewe ontwikkelings in
die politieke en maatskaplike lewe nie. Wat van al die werk en
inspanning vir God se saak in hierdie land? Hoeveel inspanning
lyk nie vas te loop teen ’n harde muur van onmag of onwil
nie? Watter nut het dit om God se woord, God se duidelike norme,
aan buitekerklikes, ja selfs aan medechristene, voor te hou,
wanneer jy merk dat die sonde bly voortwoeker? Ook in die kerk
kan sekere sondes baie hardnekkig wees. Maak dit nog wel sin om
te bly preek en te bly vermaan? Ons kan ook dink aan die gebed en
inspanning vir ons kinders, familielede of vriende? Watter sin
het dit, as alles tog op dieselfde manier bly aangaan? Moet ons
dan tog nie met die Prediker konkludeer: alles is tevergeefs en
’n gejaag na wind nie? Moet ons dan tog maar nie tou opgooi
en dinge laat soos dit is nie?

Gemeente, op al hierdie vrae het die Here God reeds lank
gelede antwoord gegee in ons teks. Laat ons dan hierdie woorde
oordink sodat ons opnuut gereed is vir die dienswerk waartoe God
elkeen van ons roep

Ek vat die teks as volg vir julle saam: Die apostel roep tot
die arbeid kragtens Christus se oorwinning oor die dood.

  1. Die goeie basis vir ons arbeid;
  2. Die karakter van ons arbeid; en
  3. Die sin van ons arbeid.

Die apostel spreek sy hoorders liefdevol aan. Hy noem hulle my
geliefde broeders, oftewel my geliefde broers en susters. Die
Griekse meervoud van die woord kan immers beide broers en susters
omvat. Dis geliefdes om Christus ontwil. Mense na wie die hart
van die apostel uitgaan. So wil Paulus die harte, ook julle harte
bereik. Geliefdes in die Here stel tog hul harte oop vir die
woord van die apostel van die Here?

Die oproep waarmee die apostel die hoofstuk afsluit, dra
’n algemeen karakter. Nie dat die teks ’n losse teks is
wat heeltemal op sy eie staan nie. Die inleidende woord “daarom”
wys op ’n verbinding met die voorgaande. Die oproep steun op
die voorgaande en maak daaruit sy gevolgtrekkings. Met die
voorgaande word m.n. aan vers 57 gedink. Daar lees ons: “Maar
God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus
Christus.” Op sy beurt is hierdie vers 57 ook weer verbind
aan die hele betoog van Paulus in hoofstuk 15. Daarom kan gesê
word dat die oproep van ons teks steun op die hele betoog van
Paulus in 1 Kor 15.

In die 15de hoofstuk van sy eerste brief aan die Korinthiërs
skryf Paulus breed oor die opstanding van Christus uit die dode
en in samehang daarmee oor die opstanding van die gelowiges tot
’n nuwe lewe. Daar was mense wat die opstanding uit die dode
ontken het. Paulus wys op die konsekwensies van so ’n
dwaling (vers 16,17). “As die dode nie opgewek word nie, dan
is Christus ook nie opgewek nie; en as Christus nie opgewek is
nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in die
sondes.” Die aardse lewe met al sy moeite en inspanning is
dan uitsigloos en sinloos. Dan bly die sonde en die verderf heers.
Dan is dit ook sinloos, sê Paulus, om elke uur in gevaar te wees
en dag vir dag te sterf en met wilde diere te veg. As die dode
nie opgewek word nie, laat ons dan eet en drink, want more sterf
ons.

Teenoor die dwaalleer met sy ingrypende konsekwensies,
verkondig Paulus: Maar nou, Christus is opgewek uit die dode, as
eersteling van die wat ontslaap het. Die dood plaas nou nog sy
stempel op hierdie aardse lewe; die lewe is ’n voortdurend
sterwe. Ons het daagliks met die geskondenheid en gebrokenheid
van die lewe te make. Die dood moet nog as laaste vyand vernietig
word. En dit doen Christus, sê Paulus. Sy opstanding uit die
dode is daar ’n waarborg van. Die opstanding wil sê dat Hy
in beginsel die tydelike dood in sy hande het en hou. Hy het die
lewe en die onverderflikheid aan die lig gebring. En nou nou aan
die einde gee Hy die dood vir ewige die genadeslag. Want dan sal
ten volle werklikheid word die woord wat geskrywe is: Die dood is
verslind in die oorwinning. Hierdie perspektief roep by die
apostel die lofsang op: “Dood, waar is jou angel? Doderyk,
waar is jou oorwinning? Die angel van die dood is die sonde, en
die krag van die sonde is die wet.” Paulus sluit dan die
lofsang af met die bewoë woorde: “Maar God sy dank, wat ons
die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus.”

Die apostel verbind Christus se oorwinning van die dood aan
die oorwinning van hulle wat aan Hom behoort, van u en my. God
gee ons reeds hier en nou deel aan die oorwinning deur die Here
Jesus Christus. Hoe doen God dit? Langs die pad van die geloof in
Christus, ons opgestane Here. Dit is die geheim van my lewe en
werk hier op aarde, ook al dra dit nou nog die merkteken van die
tydelike dood. In Christus ontvang ek die oorwinning, ontvang ek
nuwe kragte. Christus se opstandingskrag deurstroom my lewe.

Daarom, my geliefde broers en susters, wees standvastig,
onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat
julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.

Dit kom daarop aan dat jy standvastig moet wees, onbeweeglik.
Standvastig in die geloof, stabiel in leer en lewe. Bly stewig
staan met beide voete op die vaste grond van God se woord. Laat
jou nie afbring van die basis nie. Laat die harde werklikheid van
die daaglikse lewe jou nie van jou stukke bring nie. Die lewe het
toekoms omdat Jesus Christus oorwin het en ons die oorwinning gee.

Daar word van alle kante aan ons getrek. Die kat praat van die
duiwel, die wêreld en ons eie sondige natuur wat nie ophou om
ons aan te val nie. Ons word daagliks met die mag van die dood en
die verderf gekonfronteer. Die lewe dra die merk van gebrokenheid
en verganklikheid. Die kan ons beangstig. Is hierdie lewe van my
dan tog aan die nietigheid onderworpe? Hoe groot is nie die
verleiding om as dit misluk, as ek en my werk geïgnoreer of
misken word, om te sê: wat maak dit nog saak?

Maar dan vergeet ek dat my lewe en werk binne die ligkring van
Christus se oorwinning getrek is. Dan verlaat ek die goeie basis
van my arbeid. Pleks daarvan begeef ek my op die dryfsand van
onsekerheid, wat vreet aan die wortels van my bestaan. Hoekom
verval ’n mens soms in algehele pessimisme? In wese is dit
te danke aan die ontkenning van Christus se opstanding en
oorwinning. Waar die opstanding nie as ’n lewende
werklikheid in ons lewe gesien en ervaar word nie, daar kan dit
nie anders of ons gaan ons blind staar op wat ons hier sien en
ervaar. Dan gaan dit ons houding bepaal. Pleks van Christus se
oorwinning. Dan is die pessimisme wat die lewe en die lewenslus
verlam nie vreemd nie.

Daarteen is daar maar een remedie: die geloof in Jesus
Christus die opgestane. Paulus sê: laat jou nie daarvan aftrek
nie. Paulus weet hoe sterk die druk van die daaglikse praktyk is.
Ook hoe helder die taal van die menslike verstand is. Die
menslike redenering: ons het nog nooit iemand uit die dood sien
terugkeer nie en dis onmoontlik dat hierdie liggaam van ons sal
opstaan.

Broer, suster, Christus het jou lewe en stryd ’n vaste
basis gegee, die basis van die geloof in sy oorwinning. Bly dan
op die vaste grondslag van die hoop staan. Wys dat jy vasstaan en
dat jy jou nie deur die tydelike nood of dood van jou stukke laat
bring nie. Selfs die gedagte aan ’n moontlike tweede
Zimbabwe moet jou nie van jou stukke laat bring nie. Die
opgestane Koning werk immers na sy doel, mede langs die pad van
katastrofes. Sonder rampe kom daar geen nuwe hemel en nuwe aarde
waarop geregtigheid woon nie.

Christus het julle op die standplaas gesit van die geloof in
die werklikheid van sy oorwinning. Wees standvastig, onbeweeglik.
In Rom 8 laat Paulus o.m. sien wat dit inhou: “Want ek is
versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of
teenwoordige of toekomende dinge, of hoogte of diepte of enige
ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in
Christus Jesus, onse Here, is nie.” Dan leef ek mos in die
ligkring van Christus se oorwinning van die dood. Dan het ek
daaraan deel deur die geloof in Hom. En deur die geloof is ek in
dit alles meer as oorwinnaars deur Hom wat my liefgehad het.

Gemeente, nadat ons gelet het op die goeie basis van ons
arbeid wil ons aandag gee aan die karakter van die arbeid waartoe
die apostel ons, kragtens Christus se oorwinning, oproep.

Paulus vermaan die broers en susters om altyd oorvloedig te
wees in die werk van die Here. Die “werk van die Here”
wys op die karakter van ons arbeid. Dis die saak van die Here
waarmee ons op aarde besig mag wees.

Die werk van die Here is nie beperk tot wat dikwels genoem
word werk in kerk en koninkryk nie. Hier is geen beperking nie.
Alle werk wat in diens van die Here verrig word, is ’n besig
wees met die werk van die Here. Daaronder val ewegoed die werk in
die samelewing as die werk in die kerk. Ons mag hier dink aan
goeie werke: werke wat uit ’n ware geloof, volgens die wet
van God tot sy eer gedoen word. Alles wat in geloof gedoen word
is geen eie werk nie, maar werk van die Here.

Christus skakel elkeen van ons wat glo in. Hy neem elkeen in
diens, nie net die ampsdraers nie, maar ook die huisvroue, die
sakemanne, die werknemers, die studente, ja selfs die lerende en
spelende kinders. As jy die eiendom van die Here Christus is, dan
staan jy in sy diens. Dan is dit sy werk wat jy mag doen, in die
ruimste sin van die woord.

Die roeping is mooi maar ook moeilik. Dit is mooi. As gelowige
weet jy immers dat alles wat jy doen ingeskakel is in die wêreldwye
werk van jou Here Jesus. Jy is betrokke by sy saak in hierdie wêreld.
Hy wil al jou arbeid gebruik vir die einddoel wat Hy op die oog
het: die nuwe hemel en nuwe aarde. Dis pragtig! Want die sonde
van elke dag laat ons maklik wanhoop oor die sin van al wat ons
moet doen. In Christus het jou werk ewige waarde. Die arbeid wat
die mees vernederend of sinloos lyk (bv om aan ’n siekbed
gekluister te wees of selfs in die tronk te sit) word betrek op
die saak van die Here in die wêreld. Jy is dan as Christen besig
met die saak van die Here.

Die roeping is egter ook moeilik. Dit beteken ’n
voortdurende selfverloëning. Ek moet immers altyd daaraan dink
om Christus se koningskap oor die lewe te bevorder. Om die
heiliging van die breë lewe te soek. Ek moet myself dus altyd
positief opstel vir die goeie opbou en opheffing van die
samelewing. Dit is heeltemal anders as om voortdurend te kla of
af te breek. Wat ander ook al mag afbreek, ons soek die opbou in
Christus. Daar is geen neutrale area nie, geen neutrale besigheid
nie. Christus wil alles in die samelewing vir Hom opeis, heilig.
In al my werk moet ek dus positief ingestel wees. Geen maklike
opgaaf nie. By alles dien ek daarvan af te sien om my deur my
gevoelens te laat heers. Dit is die saak van die Here waar ek mee
besig moet wees, ook in my beroep, in my besigheid, in my studie,
in my huwelik en gesin.

Dis geen kleinigheid nie. Hoe dikwels staan my eie gevoelens
en belange nie op die voorgrond nie. Waar werk ek voor? Waar
studeer ek voor? Waarom skep ek ’n tuiste? Is dit werklik om
die Here daarmee te dien, om sy saak in hierdie wêreld te
bevorder?

Gemeente, in die werk van die Here moet ons oorvloedig wees, sê
Paulus. Hier pas geen mondjiesmaat nie. Trae arbeiders wat daarop
uit is om so min as moontlik werk te doen, kan die Here nie
gebruik nie. Van elkeen word die uiterste inspanning gevra. By
die oorvloedige genade van God pas tog geen luiheid of traagheid
nie. Dan pas dit ook nie om steeds op die ander te wag totdat hy
of sy eers wat gedoen het. Iets dergeliks sien ’n mens soms
in gesinne of huwelike. Die een wag op die ander. Maar in
Christus is die presies omgekeerd. Omdat jy aan Christus die
oorwinnaar behoort gaan jy aan die slag, oorvloedig in goeie
werke. Jy oorwin die teensin deur gewoon in geloof te doen wat
Christus van jou verwag.

Dis ook nie voldoende om so nou en dan oorvloedig in die werk
van die Here te wees nie, wanneer dit jou pas of by werksaamhede
wat jy lekker vind. Dit moet altyd so wees, sê Paulus,
voortdurend. Ons is nooit daarvan ontslae nie. Jy wil tog nie
opnuut slaaf van die sonde en verderf word nie?

Hier op aarde gaan die arbeid nog met moeite en stryd gepaard.
God se kinders moet so te sê swaard en troffel gelyktydig
hanteer. Maar ons kan oorvloedig in die werk van die Here wees,
omdat ons weet dat ons arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.
Ons arbeid het sin, hoe vernederend dit is en sinloos dit mag lyk
in die oë van mense.

Die woord wat vir arbeid gebruik word benadruk juis die
moeitevolle van die werk, die stryd en inspanning waarmee dit
gepaard gaan. Die Here ken die harde werklikheid van die lewe met
sy sweet en trane. Maar niks daarvan is tevergeefs nie. Die is
vrugbaar, dit het blywende waarde, vir tyd en ewigheid, die werke
volg ons immers na.

As dit tenminste in die Here verrig word. Dit is die
voorwaarde vir vrugbare arbeid. Wat buite die gemeenskap met die
Here gedoen word is ydel, lewer geen blywende resultate op nie.
So is alle arbeid wat gaan om eie roem en eer ydel, tevergeefs.
Dit eindig in vuur en vlam. Dit word getref deur God se oordeel.

Gemeente, so mag ons aan die werk spring, elkeen in sy eie
situasie en met sy eie moontlikhede. Ook al misluk ons werk
volgens menslike maatstawwe, ook al lyk ons inspanning vrugteloos
te wees, die arbeid is sinvol, as dit tenminste in die Here
verrig word. Christus se oorwinning van die dood gee ons nuwe
moed en kragte. Hy wek op tot nuwe lewe en tot nuwe lewenslus

Sonder geloof in Christus se oorwinning sou ons
lewensgenieters word wat eet en drink want more sterf ons. Of ons
word mense wat opgejaag word en geen raad meer weet met die
aardse bestaan nie. Maar nou, Christus is opgewek as eersteling.
En reeds hier en nou wil Hy jou deel gee aan sy oorwinning.

Daarom, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die
werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here
nie tevergeefs is nie.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)