In antwoord op die gebed gryp God in om sy vervolgde kerk te versterk.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2005-06-26
Teks: 
Handelinge 4
Preek Inhoud: 

Handelinge 4:23-31

Ds C Kleyn - Sondag 26 Junie 2005

Lees: Psalm 2; Handelinge 4:13-31.
Sing: Ps 33:1,2; Ps 33:7,11; Ps 2:1,2,6; Ps 33:5,6;
SB 43:1,2,4,5.

Tema: In antwoord op die gebed gryp God in om sy
vervolgde kerk te versterk.

  1. Die gebed van die heiliges.
  2. God se antwoord.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Hoe dikwels ervaar julle die teenstand teen God en sy Woord?
God se Woord word dikwels gehanteer asof dit vir vandag nie meer
relevant is nie. Sekere dinge daaruit word as belaglik en outyds
beskou. Wat doen ons dan? Durf ons om vir die Here en sy Woord op
te staan?

As jongmens ontdek jy dat die groep waarmee jy dikwels optrek,
sekere dinge doen waaroor jy nie gelukkig voel nie. Miskien hou
hulle daarvan om na flieks te gaan waarin God en sy mooie
skepping van die mens voortdurend onteer word. Miskien het hulle
plesier daarin om ander jongmense belaglik te maak en te verneder.
Jy weet dat as jy nie saamdoen nie, jy afgewys sal word. Hulle
sal jou dan ’n sissy noem en jou verneder. Wat doen jy dan?
Durf jy om op te staan en die waarheid vir hulle te sê, die
waarheid soos Christus dit vir jou geleer het?

Op ’n Sondagaand gaan jy kuier by familie of vriende.
Daardie aand hoor jy niks anders as afbrekende kritiek nie.
Allerlei gemeentelede of ampsdraers word afgeskryf. Jy voel dat
iets nie reg is nie. Baie van die kritiek klink onbillik en word
nie met feite gestaaf nie. Bowendien, wys God nie in sy woord
watter pad gestap moet word as daar klagtes teen sekere persone
is nie? Jy dink aan die reël van Mt 18. Jy onthou ook die woorde
van Paulus in Ef 4:29: “Laat daar geen vuil woord uit julle
mond uitgaan nie, maar net ’n woord wat goed is vir die
nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor.”
Nou, jy word deur die gesprek allermins opgebou, laat staan dat
jy daardeur genade ontvang. Die gemeente van Christus, jou
medegelowiges word ook nie opgebou nie. Inteendeel. Wanneer jy
daarna luister, dan wonder jy wat jy nog doen in so ’n
gemeente. Wat doen jy dan? Durf jy op te staan vir die Here Jesus
Christus wat Heer is van almal wat Hom liefhet? Ook al beteken
dit dat jy dan baie kritiek oor jou heen gaan kry en dat jy
afgewys gaan word?

Broers en susters, seuns en dogters, hierdie voorbeelde wys
hoe moeilik dit kan wees om vir die Here en sy Woord op te staan.
Ons ervaar dikwels dat ons nie voldoende vrymoedigheid het om God
se woord in die konkrete situasie te spreek nie. En dan sien ons
die moed van die apostels en van die Christene onmiddellik na
Pinkster. Petrus en Joh laat die Sanhedrin verwonderd staan. Kyk
na die vrymoedigheid waarmee daardie ongeleerde en eenvoudige
manne oor Christus praat. Terwyl hulle vervolging in die gesig
staar. Ons sou wens dat ons sulke moed sou hê om God se saak in
hierdie wêreld te bevorder. Mag die Here ons tog met sy Heilige
Gees vul sodat elkeen van ons sy woord vrymoedig spreek.

Ja, ons ervaar dat daar ook in ons midde iets moet gebeur. Ons
moet steeds meer en meer onder die beheersing van die Heilige
Gees kom. Die gesag en krag van die woord van God moet opnuut
ervaar word. Ons moet steeds weer vernuwe word sodat geloof, hoop
en liefde, blydskap en vrede, aanbidding en gebed ons lewens gaan
kenmerk. Ons het nuwe moed en krag van bo nodig.

Hoe gee God daardie nuwe krag? Meestal in antwoord op gebed.
Ons HK het dit vanuit die Skrif vir ons saamgevat in Sondag 45.
In antwoord op die vraag: waarom is die gebed vir die Christene
nodig, lees ons o.a. “omdat God sy genade en Heilige Gees
alleen aan hulle wil gee wat Hom met hartlike versugtinge sonder
ophou daarom bid en daarvoor dank.”

Ons teks bevestig die waarheid van daardie woorde.

Ek vat die teks as volg vir julle saam:

In antwoord op die gebed gryp God in om sy vervolgde kerk te
versterk.

  1. Die gebed van die heiliges
  2. God se antwoord.

Petrus en Joh was gevange geneem. Die Joodse Raad, die
Sanhedrin het hulle ernstig berispe. Daarna het hulle die
apostels losgelaat, met die gebod dat hulle in die geheel nie in
die Naam van Jesus sal spreek of leer nie. Wat doen die apostels
as hulle vrygelaat is? Hulle gaan onmiddellik na hul eie mense,
na hul medegelowiges in Jerusalem. Na die gemeenskap van die
heiliges. Juis is so ’n situasie het ’n mens die
medegelowiges nodig.

Die apostels doen verslag van alles wat die owerpriesters en
ouderlinge vir hulle gesê het. Hulle vertel ook van die spreek
verbod en van die dreigemente van die outoriteite. Wat doen die
Christene in Jerusalem in die lig van daardie dreigemente? Gaan
hulle breed beraadslaag oor hoe hulle nou verder moet? Bereken
hulle hul kanse? Gee hulle toe aan die druk wat op hulle geplaas
word en besluit hulle om maar stil te bly om erger vervolging te
voorkom?

Nee, die eerste wat hulle doen is bid. Hulle vlug tot God in
gebed. Die gebed wat hulle bid is een van die mees indrukwekkende
gebede vanuit die eerste Christelike kerk. Dis ’n
voorbeeldige gebed.

Hulle begin hul gebed deur God se soewereine gesag te bevestig.
“Here, U is die God wat die hemel en die aarde en die see en
alles wat daarin is, gemaak het.” Here, Heerser aan wie
absolute gehoorsaamheid verskuldig is, almagtige Skepper. Is dit
hoe jy God sien in tye van vervolging, wanneer teenstanders jou
bedreig? Here. Lyk dit nie eerder daarop dat die vyande van die
evangelie in beheer is nie? Die Romeinse owerheid, die Sanhedrin,
die leiers van die groep? Here! Wat ’n mooi belydenis in
’n dreigende situasie. Die teenstanders mag dink dat hulle
oppermagtig is en kan bepaal wat ek moet doen. Maar hulle vergis
hulleself: God is oppermagtig, die soewereine Heerser. Wat in die
gebed volg, bevestig dit.

Die Christene beskou hul situasie in die lig van die Skrifte.
Hulle haal Ps 2 aan en sien hoe daardie Psalm in hul situasie
vervul word. “Waarom het die nasies gewoed en die volke
nietige dinge bedink?” Hulle kan dit liewer laat vaar, want
dit sal hulle niks baat nie. Dis merkwaardig dat die apostels en
die gelowiges hierdie woorde in hulle besondere situasie aanhaal.
Volgens die skyn van dinge wou dit voorkom asof die vyande van
God geslaag het in hulle pogings. Christus was immers om die lewe
gebring en die apostels is vervolg. Die Skrif leer egter dat God
die planne van sy vyande sal verydel.

“Die konings van die aarde het saamgestaan en die
owerstes het saam vergader teen die Here en teen sy Gesalfde.”
Die opstand en verset teen die Here en teen sy gesalfde is
sigbaar. In hul gebed identifiseer hulle die vyande. “Want
waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die
volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf
het.”

Opvallend is dat die volke van Israel nou onder die opposisie
genoem word. Die teenstand het verskerp. Die wêreldlike leiers
en die kerkleiers van Israel het teen die gesalfde van die Here
saamgespan. Die meervoud “volke van Israel” is ontleen
aan Ps 2 maar gee ook die intensiteit van die offensief aan. Heel
Israel is vergader. Ja, veral daarin lê die verskerping van die
revolusionêre aksie in Hand 2. Hulle het mekaar gevind in een
bondgenootskap teen die Here en sy gesalfde Jesus Christus: Die
wêreld en die valse kerk, heidene en afvallige bondgenote is
vandag een in hul opstand teen God se gesalfde. Die gemeente van
Christus deursien die situasie en trek die lyne deur. Die
dreigemente van die geestelike leiers is ’n bewys dat die
revolusie van Ps 2 verbreed en verskerp is: dis nou ’n
koalisie van die wêreld en die verwêreldlikte kerk, van die
dier en die hoer van Openb 17.

Maar geliefdes, “Hy wat in die hemel woon, lag; die Here
spot met hulle” (Ps 2:4). Die teenstanders kan niks doen nie,
behalwe wat God vantevore bepaal het wat sou gebeur. God bly in
beheer as die soewereine Heer. Hy vervul sy planne. Alles gebeur
en sal bly gebeur volgens sy plan. Wat ’n pragtige belydenis
van ’n vervolgde kerk.

Broers en susters, nadat die Christene God aan sy eie woorde
herinner het, vra hulle die Here om aandag aan die dreigemente te
gee. Let daarop dat hulle die Here nie vra om hulle van die
lyding te verlos nie. Lyding, vervolginge moet kom. Dis
onvermydelik wanneer die antitese en opstand vererger. Maar die
Christene is nie in die eerste plek bekommerd oor hul eie lewe
nie. Hulle is as sodanig nie die belangrikste nie. Dis God se
werk wat in geding is, die voortgang van God se koninkryk. Dis
die belangrikste. Die Gesalfde van Ps 2 is besig om nasies en die
eindes van die aarde tot sy erfdeel te maak. Met Pinkster het Hy
sy groot offensief begin. Sy woord moet die nasies verower.

Die Christene weet dat hulle ingeskakel is in daardie groot
offensief van die evangelie. Die woord moet verder. Maar nou is
daar die dreigemente van die outoriteite. Hulle bedreig die
voortgang van God se werk: daarom, Here, let op hulle dreigemente
en gee aan u diensknegte om met alle vrymoedigheid u woord te
spreek. Laat die dreigemente u werk nie hinder nie, maar help ons
om vrymoedig voort te gaan as u ambassadeurs hier op aarde.
Petrus en Joh is verbied om in die naam van Jesus te spreek en te
leer. Daarom bid hulle vir die vryheid om te spreek, vir die
moontlikheid en die moed om aan te gaan met preek en leer in die
Naam van hulle Heer.

Hulle vra God ook om hul prediking deur tekens en wonders te
bevestig. “deurdat U u hand uitstrek tot genesing en tekens
en wonders deur die naam van u heilige Kind Jesus plaasvind.”
Bewys aan die teenstanders dat U alle mag het en dat U in beheer
is. Laat so die teenstanders tot swye gebring word. Skep so
ruimte vir die prediking. Soos U dit gedoen het nav die genesing
van die verlamde man in Hand 3.

Gemeente, God verhoor hulle gebed. Ons lees: “En toe
hulle gebid het, is die plek geskud waar hulle saam was, en hulle
is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met
vrymoedigheid gespreek.”

Die situasie herinner ons aan wat op die Pinksterdag gebeur
het. Voor Pinkster was daar ook die gebedshouding van die
dissipels. Hand 1 vertel ons dat hulle almal eendragtig in gebed
en smeking volhard het. Die Gees is toe uitgestort volgens die
belofte maar ook in antwoord op die gebed. Hier in Hand 4 sien
ons iets dergeliks gebeur. In antwoord op die gebed gryp God in.
Hierdie keer skud die plek waar hulle saam is. In sy antwoord op
die gebed beklemtoon God sy soewereiniteit en mag. Hy is hier aan
die werk as die soewereine God. Wat hier gebeur is nie uit die
mens nie. Dit is God self in aksie. Hy is die Heer van die hele
aarde. Wat ’n bemoediging vir die kerk wat vervolg word. God
is inderdaad soewerein en almagtig. Niks en niemand kan sy planne
verhinder nie.

So gryp God in met ’n bewys van krag en vul Hy opnuut sy
vergaderde gemeente met die Heilige Gees. Is dit nie vreemd nie?
Hulle was tog reeds met die Gees vervul op die Pinksterdag? Hoe
kan hulle dan vir ’n tweede keer vervul word? En wat van
Petrus en Joh? Eerder in dieselfde hoofstuk (in vers 8) lees ons
dat hulle met die Heilige Gees vervul was en vrymoedig voor die
owerstes en ouderlinge van Israel gepraat het

Hierdie mense ontvang so te sê ’n nuwe vulling van die
Gees. Hieruit blyk dat “om met die Gees vervul te word”
nie dieselfde is as om “die Gees te besit” nie. Elke
gelowige besit die Gees. Maar om met die Gees vervul te wees is
iets meer as dit. Dit wys daarop dat God sy kinders ekstra krag
gee in verband met hul konkrete situasie en taak, hier ivm hul
getuienis van Christus. Dis omdat Petrus en Joh met die Heilige
Gees vervul is dat hulle in staat is om vrymoedig voor die
Sanhedrin te spreek. Die Gees neem beheer oor hulle en stel hulle
in staat om te doen wat hulle normaalweg nie sou doen nie. Daarom
is die Sanhedrin ook verwonderd. Hulle kan nie verstaan hoe sulke
ongeleerde en eenvoudige manne so kan spreek nie.

In antwoord op die gebed, word die Christene opnuut met die
Heilige Gees vervul. Hulle ontvang nuwe energie om die woord van
God vrymoedig te spreek. Hierdie gewone mense word toegerus om
die Skrifte uit te lê, om met groot krag en met buitengewone
vrymoedigheid te spreek. God gryp in om sy vervolgde kerk te
versterk. Deur die uiterlike tekens verseker hy hulle van sy
teenwoordigheid en krag. Deur sy Gees gee Hy hulle nuwe krag om
die Woord van God vrymoedig te verkondig, ondanks groeiende
opposisie. God wys dat Hy die vryheid en die vrymoedigheid om te
spreek gee.

Christus se werk sal voortgaan, ondanks die opposisie. Die
woord gaan verder. Die getuies gaan uit. Christus verower die
nasies. Geen Sanhedrin gaan dit hinder nie. Hy vergader sy kerk
uit alle stamme en volke en tale. Die algemene, wêreldwye,
Christelike kerk verrys, deur Christus se Gees en Woord. Die
sameswering teen die Here en sy Gesalfde blyk opnuut ’n
mislukking te wees. God vervul sy planne. Hy het oorwin en sal
aanhou oorwin totdat sy program voltooi is, totdat Hy die eindes
van die aarde tot sy erfdeel gemaak het.

Maar broer, suster, wat van ons hier en nou? God wil elkeen
van julle inskakel in hierdie offensief van die evangelie. Die
apostels en profete het die fondament gelê. Ons het nou die
voltooide woord van God. Julle het dit ontvang om deur te gee, om
die boodskap in woord en daad uit te dra. Sodat God se krag en
genade hier in ons omgewing sigbaar mag wees.

Nou terug na die voorbeelde in die inleiding. Dikwels ervaar
ons ’n gebrek aan vrymoedigheid, krag en ywer. Dikwels durf
ons nie om op te staan vir ons Here en om sy Woord te spreek. Wat
kan ons daaraan doen?

Wat jy ook al doen, laat nooit na om te bid nie. Bid dat God
sy Gees mag gee en jou weer mag opwek. Dat Hy jou nuwe krag en
moed wil gee. Julle moet dus vir die Gees bly bid. Laat ons
mekaar hierin ondersteun. Bid voordat jy gaan kuier of uitgaan.
Bid voordat jy skool of werk toegaan. Bid Satan van jou weg. Bid
vir vasberadenheid en krag om nee vir die sonde te sê. Bid vir
en saam met ons jong mense, sodat hulle deur die Gees in staat
mag wees om teen die negatiewe groepsdruk op te staan en vir hul
Here op te kom. Hoe belangrik is ons gebede voor ons enigiets
doen. Om sterk te kan wees, het ek God se hulp nodig. En Hy het
belowe om sy hulp te gee aan almal wat Hom daarom bid en daarvoor
dank.

En wanneer jy tot die Here bid, erken sy soewereine mag en
regering. Hy is die almagtige Heer van elkeen en alles. Hy is in
beheer. Sonder sy wil kan niemand hulle roer of beweeg nie. Sou
ek dan bang moet wees vir my groep, vir mense wat my teenstaan?
My God is soewerein en almagtig!

Laat ons ook ons situasie in die lig van die Skrif beoordeel.
God het reeds gepraat van die opposisie teen sy Woord en teen
hulle wat trou aan Hom bly. Dink aan Openb 12:17 “En die
draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te
voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar
en die getuienis van Jesus Christus hou.”

Die Skrif praat ook duidelik oor die gevaar van
gelykvormigheid. In sy wysheid het God geweet dat sosiale en
maatskaplike druk ons sou kan weerhou om die goeie te doen. God
spreek dit aan in Rom 12:2: “en word nie aan hierdie wêreld
gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle
gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en
volmaakte wil van God is.”

In 1 Joh 3:13 lees ons: “Verwonder julle nie, my broeders,
as die wêreld julle haat nie.” En onthou, die wêreld kan
soms selfs in die kerk aanwesig wees. Ef 5:11: “en hou nie
gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar
bestraf dit liewer.” En wat van 1 Petrus 5:8,9: “Wees
nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond
soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet
julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat
dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat die
wêreld is.”

Daarom, probeer altyd om God se Woord op jou situasie toe te
pas. Jou beproewinge hoef jou nie te verras nie. God het reeds
daaroor gepraat in die Bybel. Hy is inderdaad in beheer.

Geliefdes, in jou gebed tot God herinner God aan sy eie woorde
en fokus op die voortgang van sy saak in hierdie wêreld. Dis wat
in die lewe die belangrikste is: dat ek sy saak en koninkryk kan
dien.

Sulke gebede sal sekerlik deur verhoor word. Ook al weet nie
wanneer of hoe nie. Vandag hoef ons nie sulke uiterlike tekens
soos in die vroeg Christelike kerk plaasgevind het, te verwag nie.
Daardie tekens en wonders is vir ons vasgelê in die Bybel. As
’n bevestiging van God se soewereiniteit en mag. Maar onthou,
ook vandag wanneer die Gees ingryp, gebeur sigbare veranderinge
in die lewe van ons Christene en van die Christelike kerk. Jy is
dan meer bewus van God se teenwoordigheid. Jy ervaar sterker die
gesag en krag van God se woord. Jy sien en voel met groter
duidelikheid hoe lelik die sonde is en hoe skuldig jy daaraan is.
Geloof, hoop en liefde, blydskap en vrede, aanbidding en gebed
gaan jou lewe meer en meer bestempel. Inderdaad, hemelse kragte
word sigbaar. Die magtige vrugte van die Heilige Gees.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)