Deur die naam van sy vrou te verander, bely Adam dat daar ’n toekoms is.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2005-07-24
Teks: 
Génesis 3
Preek Inhoud: 

Genesis 3:20

Ds C Kleyn - Sondag 24 Julie 2005

Lees: Genesis 2:18-25;3:9-21.
Sing: Ps 146:1,2; Ps 146:3,4; Ps 119:39,62; SB
24:3,6,7; Ps 118:7,14.

Tema: Deur die naam van sy vrou te verander, bely Adam
dat daar ’n toekoms is.

Ons wil dit sien

  1. Teen die agtergrond van Adam se mislukking; en
  2. In die perspektief van Christus se oorwinning.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

As ’n mens sien hoe onseker allerlei dinge in die lewe is,
sou jy dan nog wel nuwe verantwoordelikhede en uitdagings aanvaar?
In die koerante lees ’n mens van baie ellende, armoede,
siekte, werkloosheid, gebroke huwelike misdaad, kapings, moorde,
verkragtings, korrupsie ens ens. Is dit ’n tyd om
inisiatiewe te neem en nuwe verantwoordelikhede te aanvaar? Is
dit nie logieser om tou op te gooi en maar te wag vir beter tye
nie?

Geliefdes, dis duidelik dat ons in ’n gebroke wêreld
leef en werk. In ’n wêreld wat deur sonde, lyding en dood
gekenmerk word. God het vir Adam en sy vrou gepraat van smart,
moeitevolle arbeid, dorings en distels, sweet en dood. Tensy
Christus eerder terugkom sal ons lewe hier op aarde eindig met
die dood. Ons ervaar daagliks hierdie pynlike werklikheid. Die
skaduwees van die dood hang oor ons lewe en werk.

Ons weet ook dat die hele wêreld vir God se vlamme bestem is.
Die wêreld is op pad na sy verwoesting. ’n Universele
katastrofe gaan kom. God se louterende vuur gaan alles tref.

Kan jy dan met sulke perspektiewe, gebrokenheid, dood en
verwoesting nuwe verantwoordelikhede aanvaar? Is dit wys om iets
nuuts te begin? Is dit bv wys om die verantwoordelikhede van die
huwelik, ’n lewenslange verhouding te aanvaar? Hoeveel
huwelike gaan nie stukkend nie? In Suid Afrika praat hulle van
driekwart van die huwelike wat op egskeiding uitloop. Is dit wys
om in so ’n situasie kinders te ontvang en groot te maak? In
watter soort wêreld moet hulle dan grootword? En vir die
Christen kan dit nog moeiliker lyk vanweë die geestelike en
morele verval. Is die verantwoord om in so ’n sondige en
dreigende wêreld kinders te kry?

Geliefdes, die geskiedenis van ons teks kan ons help met die
beantwoording van hierdie vrae. Adam gee sy vrou die naam Eva.
Terwyl God van pyn, lyding en dood gepraat het, sing Adam van
lewe. Eva beteken immers lewe of bron van lewe.

Ek verkondig vir julle die woord van die teks onder die tema:

Deur die naam van sy vrou te verander, bely Adam dat daar
’n toekoms is.

Ons wil dit sien

  1. Teen die agtergrond van Adam se mislukking en
  2. In die perspektief van Christus se oorwinning.

In die teks hoor ons Adam se eerste reaksie op God se oordeel
vanweë die sonde. Adam noem sy vrou Eva pleks van Mannin.

Om hierdie naamsverandering goed te verstaan moet ons let op
alles wat in die tussentyd gebeur het.

In Gen 2:23 lees ons van die eerste naamgewing. Toe God die
vrou gemaak het en haar na die mens gebring het, was Adam verruk.
Hy het gesing van die pragtige geskenk wat hy van God ontvang het:
“Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my
vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem.”

Adam uit sy vreugde oor God se gawe geskenk. Tegelyk sê Adam
wat die vrou vir hom is. Sy ontvang ’n naam wat haar
verhouding tot die man aangee: mannin.

Adam ontvang in haar ’n hulp wat by hom pas. Sy is
volkome op hom afgestem. Sy staan op sy vlak, gelykwaardig. En
tog anders. Sy is daar om hom aan te vul. ’n Hulp wat by hom
pas. ’n Hulp om hom kan help by die vervulling van sy groot
verantwoordelikheid as hoof van die mensheid en onderkoning oor
die skepping.

Ja, geliefdes, dis heeltemal anders as die prentjie wat die
moderne mens van die bybelse verhouding tussen man en vrou gee.
Die vrou is beslis nie geskep as ’n slaaf om al die vuil
werk vir die man te doen nie. Sy is op dieselfde vlak geskep. Sy
deel in die taak van die man. Sy moet hom ondersteun in die
weerspieëling van God. Saam staan hulle in diens van God. God
bring haar na Adam en Adam plaas haar langs hom, die plek wat sy
verdien. Die naam mannin tipeer daarom die vrou volgens haar
verhouding tot die man, volgens haar posisie langs die man. Sy is
na hom vernoem.

Geliefdes, hoe raak die sonde hierdie mooi, harmoniese
verhouding? Die sonde verwoes dit heeltemal. Dit begin reeds
wanneer die vrou, los van die man begin om met die slang te
onderhandel en wanneer sy sy voorstel aanvaar. Die vrou neem die
leiding, hoewel die bevel van God om nie van die boom van die
kennis van goed en kwaad te eet nie, oorspronklik aan Adam gegee
is. Sy verwys die slang nie na Adam, wat as hoof van die mensheid
uiteindelik verantwoordelik is, nie. Wat doen sy? Sy stem saam
met Satan se voorstel. En nadat sy dit gedoen het, kry sy haar
man sover om ook dieselfde te doen. Nadat sy self verlei is, word
sy ’n verleier van haar man. Sy trek hom weg van sy God
vandaan. Sy laat hom sondig. ’n Pragtige hulp wat by hom pas.
Pleks om Adam te help in sy godgegewe taak, help sy hom om die
teenoorgestelde te doen, sy lei hom weg van die diens aan God.
Met ander woorde ’n baie slegte hulp.

Die gevolge word in die eerste huwelik sigbaar. Hulle begin om
hulle vir mekaar te skaam. Hulle is skuldig teenoor die Here. Dit
lei tot skuld teenoor mekaar. Iets wat nog daagliks gebeur.
Vervreemding van God lei dikwels tot vervreemding van mekaar.
Waarom is daar soveel vervreemding hier op aarde in die
verskillende verhoudings? Mense wat God die rug toekeer, keer
mekaar die rug toe. Daarom is daar soveel gebroke huwelike en
gesinne.

Wat het oorgebly van die pragtige huwelikslied van Gen 2?
Wanneer die Here Adam ter verantwoording roep, hoor ons Adam sê:
“Die vrou wat U gegee het om by my te wees, sy het my van
die boom gegee, en ek het geëet.” Die huweliks-verhouding
is versteur. Verwytend plaas Adam sy vrou op ’n afstand: nie
“my vrou” nie, maar “die vrou wat U gegee
het”, sy het dit gedoen.

Hierin is ook ’n verwyt na God toe: watter soort vrou het
U my gegee. Die sonde plaas die ander op ’n afstand, dis
verwytend en probeer om agter die skuld van ander te skuil.

Hierna hoor ons die oordeel van God oor die slang, die vrou en
die man. Die geskiedenis sal altyd beheers word deur die stryd om
lewe en dood tussen die saad van die slang en die saad van die
vrou. Die harmonieuse lewe in die paradys verander in ’n
slagveld.

Betreffende die vrou hoor ons van die moeite en smart rondom
die kry van kinders. Die verhouding tussen man en vrou sal
versteur word deur onderlinge wedywer en die man se magswellus.
Hoe waar blyk dit te wees in die geskiedenis. Hoe dikwels het
mans hul vroue nie verlaag tot slawediens nie. Hoeveel vroue word
ook vandag nie verneder en misbruik nie.

Adam self hoor dat die aarde om sy ontwil vervloek is. Deur
moeisame arbeid sal hy daarvan eet. Dorings en distels sal dit
voortbring. In die sweet van sy aangesig sal hy brood eet totdat
hy terugkeer na die aarde toe. Alles eindig hier met die dood en
die graf. Ons hoor die doodsvonnis: want stof is jy, en tot stof
sal jy terugkeer.

Adam en sy vrou word met hul eie mislukking gekonfronteer.
Deur hulle skuld is daar nou die straf van die Here op ’n
vervloekte aarde. Vanweë hul mislukking, is daar nou die somber
uitsig, die verdrietige lewe. Al wat hulle nou kan doen is om
vloek en dood deur te gee.

Adam moes die groot leier gewees het om sy nakomelinge na die
ewige lewe te lei. Maar vanweë sy sonde is hy nou vir die dood
bestem. Hy kan nie anders as om die dood aan sy nakomelinge
deurgee nie. Elke kind van hom sal ’n kind van die dood wees.
Binne elke huwelik, in elke kraamkamer, bo elke wieg is daar van
nou af die vloek. Elke kind word groot in ’n wêreld van
sweet, lyding en dood.

Tog sing Adam van lewe. Hy gee sy vrou die naam Eva wat lewe
of bron van lewe beteken.

Broers en susters, moet ons dit sien as Adam se protes teen
God se oordeel? God het tog van dood gepraat? Roep Adam nou in
protes daarteen: nee, nie die dood nie, maar lewe, ons sal lewe?
Dis hoe sommige mense hierdie woorde van die Skrif wil verklaar.
Adam sou hier teen sy doodsvonnis opstaan.

Maar, geliefdes, die teenoorgestelde is waar. Hier seëvier
die geloof in Adam, die geloof in God se beloftes. Deur die
geloof sien Adam ’n toekoms en sing hy van lewe. Dis wat ons
wil sien in die tweede punt.

Deur die naam van sy vrou te verander, bely Adam dat daar
’n toekoms is, dit was die tema. In die eerste punt het ons
dit gesien teen die agtergrond van Adam se mislukking. Nou in die
tweede punt wil ons dit bekyk in die perspektief van Christus se
oorwinning.

Wat het Adam daartoe gelei om in sy nuwe situasie met ’n
vervloekte aarde van lewe te sing? Hoekom sy veranderde houding
teenoor sy vrou? Daar is geen verwyte meer nie. Die versteurde
verhouding is herstel. Wanneer Adam sy vrou sien, begin hy weer
te sing. Hy sing van haar moederskap. Hy verander haar naam in
Eva. Sy vrou word nie langer na hom “mannin” genoem nie,
maar sy ontvang ’n naam wat verband hou met haar moederskap:
Eva, bron van lewe. Blykbaar gee die moederskap Adam rede om te
juig. Alles hang blykbaar van die moederskap af.

Waarom is dit nou die belangrikste vir Adam? Adam weet dat hy
en alle mense afhanklik is van die moederskap. Via die moederskap
ontvang hulle nuwe perspektiewe. Adam het immers die belofte
gehoor, die belofte wat vervat was in die woorde wat God vir
Satan gespreek het oor die vyandskap tussen die saad van die
slang en die saad van die vrou. Die saad van die vrou sal die kop
van die slang vermorsel. Ondanks al die pyn en verwoesting is
daar ’n toekoms: die saad van die vrou sal die slang
verwyder. Daardie toekoms sal ontstaan deur die moederlike
aktiwiteit van Eva. Daarom gee Adam sy vrou ’n naam wat haar
volgens haar moederskap tipeer. Die moederskap beteken lewe vir
hom, die oorwinning oor sonde en dood.

Deur geloof herken Adam ook die genade van God in die oordeel
wat God oor hom en sy vrou uitspreek. Daar is genade, vergewing.
In teenstelling tot die slang, word Adam en sy vrou nie vervloek
nie. Seker, hulle sal moeite en lyding ontvang, maar die oordeel
wat hulle verdien het, naamlik onmiddellike dood, word uitgestel.
God gaan verder met die mens. Hy handhaaf sy verbond. En Hy wil
die mens in sy diens hou. Ondanks die sonde, die verbondsbreuk
van die mens.

Die omstandighede waaronder die diens gelewer moet word, het
drasties verander. Daar is nou die pyn, sweet en verderf. Maar
die mens se roeping bly dieselfde. Die vrou mag nog kinders baar.
Hulle mag hulle nog vermeerder en die aarde vul. Geslagte mag
aantree. Die kultuur opdrag bly: vul die aarde, onderwerp dit en
heers oor alles. Adam en sy vrou ontvang albei weer hul plek en
taak.

En hoe anders tree die dood in: nie as ’n onverbiddelike
einde van alle lewe nie, maar as die limiet van hul werk hier op
aarde. Die mens sal werk en eet totdat hy terugkeer na die aarde
toe. Met ander woorde: die mens sal sterf aan die einde van sy
werksessie hier op aarde. Dit bly ’n moeilike pad, die
afbraak van die lewe, die terugkeer tot die aarde. Maar wanneer
jy glo in die evangelie wat reeds in die paradys bekendgemaak is,
weet jy dat die dood nie die laaste woord het nie. Die dood is
dan nie ’n betaling vir jou sondes nie, maar net ’n
afsterwing van die sonde en ’n deurgang tot die ewige lewe.
Deur sy oorwinning oor die slang sal die saad van die vrou dood
en graf oorwin.

Geliefdes, in ’n wêreld van sonde en dood juig Adam oor
’n toekoms. Hy gooi nie tou op nie. Hy trek hom nie terug
nie om te sit en wag tot dinge beter word. Hy staar hom nie blind
op die moeite, verdriet en pyn nie. Hy laat hom nie daardeur
verlam nie. Iets wat maklik gebeur. Wanneer ons groot moeites in
ons lewe ervaar, wanneer ons negatiewe ervaring het, kan ons
maklik daarin bly steek sodat dit ons heeltemal beheers en ons
ongeskik vir diens maak.

Pleks daarvan is Adam weer vol van lewe en ywer. Hy kan weer
sy taak vervul vanweë die verlossing wat hy voor oë het. Die
lewe sal die oorhand kry en die dood sal oorwin word. Daardie
geloof gee hom krag en moed om te werk en te stry in ’n
wêreld vol van pyn en verdriet.

Daarom aanvaar Adam sy posisie weer as die hoof van die
mensheid. Hy neem weer die leiding. Hy wys sy vrou weer haar plek.
En as profeet wys hy ons die weg na die toekoms, deur ons aandag
te vestig op die moeder, die moeder van die verlosser Jesus
Christus. Deur die Heilige Gees sê Adam meer as wat hy op
daardie oomblik besef het.

Eva ontvang haar geweldige taak: sy mag moeder word. God gee
haar die geleentheid daarvoor. Hy stel die dood uit. So kan
kinders gebore word. Die menslike geskiedenis word moontlik
gemaak. Geslagte kom en gaan. En die vyandskap tussen die saad
van die vrou – die kerk – en die saad van die slang
– die ongelowige wêreld – word volle werklikheid. Eva
bring twee geslagte voort wat teenoor mekaar staan. Dit blyk
’n stryd om lewe en dood te wees, wat die geskiedenis
beheers. Die Bybel is daar vol van. Die saad van die vrou, God se
kinders, kan nie op hul eie oorwin nie. Hulle het ’n
baanbreker, ’n Verlosser nodig. Daarom word alle aandag
gerig op die een saad van die vrou, Jesus Christus. Alles is van
Hom afhanklik. Daarom is die aanslae van Satan juis op Hom gerig.

Vandag mag ons baie meer sien as wat Adam kon gesien het toe
hy sy vrou Eva genoem het. Ons weet van die geboorte van ons Here
Jesus Christus, die groot seun van Eva. Gebore uit ’n vrou.
Om deur lyding en dood die lewe aan Eva se kinders te gee.

Hierdie seun, Jesus Christus, het nie net gely en gesterf nie,
maar ook opgestaan. Hy het die mag van sonde en dood gebreek. Hy
het ’n toekoms ontsluit. In Hom mag ons nou reeds opgewek
word tot ’n nuwe lewe. Hierdie evangelie gee nuwe
lewensvreugde. Hoe die omstandighede ook al mag wees. Die dood en
die graf hoef ons nie meer bang te maak nie. Ook nie die moeites
en die sorge nie. Daar is ’n toekoms. Jy mag weer aan die
werk spring, doen wat jou hand vind om te doen. Inisiatiewe neem.
Die uitdagings van die samelewing aanvaar. Laat die boodskap van
ellende en ondergang jou nie verlam nie. Ons het nog ’n taak.
Ons het ons verstand en hande gekry en geleenthede om te gebruik
tot eer van God. Die evangelie bly ons bemoedig en aanvuur.

Maak gerus jou planne. Aanvaar nuwe verantwoordelikhede. Maak
gerus ’n plan om te trou as jy sover is. En as die Here jou
die moontlikheid gee om kinders te kry aanvaar die kinders as
geskenke. Hoe onseker die toekoms in ons land en samelewing, in
die wêreld, ook al mag wees. Terwyl Adam geweet het dat hy net
sonde en dood aan sy kinders kon oordra, het hy van lewe gesing.
Hoeveel te meer kan ons nou sing van lewe, noudat ons Jesus
Christus ken.

Adam het geweet: elke nuwe geboorte beteken: ’n nuwe
kandidaat vir die dood. Elke kind moet grootword in ’n
wêreld van sweet, gespanne verhoudings, lyding en dood. Tog het
hy sy verantwoordelikhede blymoedig aanvaar. Hy het gefokus op
Jesus Christus, die saad van die vrou. Daar is bevryding van die
vloek. Daardie kinders is kinders van die dood, maar in Christus
is hulle geheilig. Rondom elke nuwe geboorte mag daar weer
vreugde wees.

Daarom geliefdes, laat jou nie ontmoedig deur wat jy rondom
jou sien en ervaar, die gebrokenheid van jou lewe. Laat dit jou
nie verlam nie, ook al weet jy dat die wêreld op pad na sy
ondergang is. Die ondergang het nie die laaste woord nie. Jesus
Christus het die laaste woord. En Hy sal God se koninkryk herstel.

Met nuwe moed en ywer mag jy jou roeping vervul, so lank as
God jou hier op aarde roep. Terwyl jy pyn en verdriet,
teleurstelling en dood in die gesig staar. Tog mag jy nog rustig
verantwoordelikhede aanvaar. Dis nie ’n sprong in die
duister nie. Jesus Christus het gekom en sal terugkom. In Hom het
jy ’n toekoms. In Hom maak jou lewe en werk weer sin. Dis
diens aan God, is wie se gemeenskap jy weer mag lewe. Verbly
julle daarom in die Here. Ek herhaal: verbly julle.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)