Die Here God plaas sy gerubs tussen die sondaar en die boom van die lewe.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2005-08-07
Teks: 
Génesis 3
Preek Inhoud: 

Génesis 3:22-24

Ds C Kleyn - Sondag 7 Augustus 2005

Lees: Openbaring 22:1-15; Génesis 3:22-24.
Sing: Ps 31:1-3; Ps 31:17-19; Ps 100:2,4; Ps 72:1,2;
Ps 72:4,6,9; Ps 72:10,11.

Tema: Die Here God plaas sy gerubs tussen die sondaar
en die boom van die lewe.

  1. Hy versper die pad na die boom van die lewe.
  2. Hy introduseer die ompad langs Jesus Christus.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Is daar enige mens wat nie verlang na die paradys nie? Wie in
hierdie gebroke wêreld verlang nie na ’n staat van vrede en
geluk nie? Deur die eeue heen het baie skrywers en digters
daardie verlange verwoord. Mense lees nog steeds hul werke om bo
die harde werklikheid van die lewe uit te styg. Baie mense het
gedroom van ’n paradys op aarde. Die verskillende politieke
sisteme word gedryf deur die verlange na ’n ideale staat
hier op aarde.

Watter pogings was daar nie om die ideale staat te bereik nie?
Dink aan die rewolusie van die anabaptiste in die 16de eeu. Dink
aan die opkoms van kommunisme, die opkoms van die Duitse
nasionaal Sosialisme, ook die opkoms van die ANC. Hul aanvanklike
sukses was net moontlik vanweë die verlange van mense na ’n
paradys op aarde. Mense doen vandag nog steeds alles wat hulle
kan om die paradyslike toestand binne hul bereik te kry.

Maar, broers en susters, wat het van al die menslike pogings
geword? Keer op keer het hulle in ’n fiasko beëindig. Dit
het alles te make met die geskiedenis van ons teks. Sedert die
verbanning uit die paradys het dit vir die mens onmoontlik geword
om die paradys in eie krag terug te wen. God wys ’n ander
weg: die enigste weg, die weg van die geloof in Jesus Christus.

Ek verkondig vir julle: die Here God plaas sy gerubs tussen
die sondaar en die boom van die lewe.

  1. Hy versper die pad na die boom van die lewe.
  2. Hy introduseer die ompad langs Jesus Christus.

In ons teks het ons met ’n baie ernstige situasie te doen.
Wat die Here nou sê en doen is van groot belang. Dit raak ons
hele toekoms hier op aarde. God bepaal nou definitief ons
verhouding tot die paradys. In die oorspronklike teks vestig God
spesiale aandag op wat Hy gaan sê en doen. Die woord wat in ons
vertaling met “nou” vertaal word, kan ook vertaal word
met “kyk” of “let op”. Let goed op wat nou
gaan kom. Dis ’n belangrike keerpunt in die ons geskiedenis.

Die HERE God sê: “Kyk, die mens het geword soos een van
Ons.” God gaan nie onmiddellik tot aksie oor nie. Hy oordink
eers die situasie, voordat Hy tot aksie oorgaan. Dit onderstreep
die gewig van die oomblik. Ons lees net van sulke beraadslaginge
wanneer belangrike, verstrekkende besluite geneem word in die
geskiedenis van die mensheid.

Die HERE konstateer: “die mens het geword soos een van
Ons.” Het Satan dan tog gelyk gehad? Satan het mos die vrou
verlei om van die verbode boom te eet met die woorde: “Julle
sal gewis nie sterwe nie; maar God weet dat as julle daarvan eet,
julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en
kwaad te ken.” Het Satan dan tog gelyk gehad? God konstateer
immers dat die mens soos God geword het deur goed en kwaad te ken?

Dit lyk baie daarop. Alleen, moenie vergeet nie, broers en
susters, dat Satan eers gesê het dat die mens nie sou sterwe nie.
Dit blyk ’n blatante leuen te wees. Dis nie sonder rede dat
God die mens nou die toegang tot die boom van die lewe weier nie.
Bowendien, Satan het “soos God wees” geteken as die
teenoorgestelde van die dood. Satan skep die indruk dat die mens
werklik die heerlikheid van God sal besit, indien hy van die
verbode vrugte eet. Maar hoe anders blyk die werklikheid te wees!
Die mens, geskep na die beeld van God, met heerlikheid en eer
gekroon, word ’n skuldige ellendeling wat probeer om van God
te vlug.

Maar geliefdes, wat bedoel die Here met die woorde: “Die
mens het geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken”?
Julle sal hier moet dink aan die emansipasie van die mens van God.
Die mens het homself van God losgemaak. Hy het sy onafhanklikheid
van God uitgeroep, hy sal nou selfstandig, onafhanklik, bepaal
self wat goed en kwaad is. Die mens het ’n wet vir homself
geword, die maat van alle dinge, sy eie heer en meester, sy eie
god.

Die woord “ken” beteken hier ongeveer dieselfde as
kies, vir jouself besluit. Nie meer vir ander luister nie, maar
dit self uitmaak. Dis die posisie van ons mense teenoor God. Deur
van die verbode vrug te eet het ons verklaar: Ek wil nie meer
deur God gelei word nie. Ek wil nie meer na God luister nie. Ek
het God nie nodig nie. Ek kan my sonder Hom red. Ek is mondig. Ek
sal doen wat ek kies, wat ek dink of voel. Herken julle dit? Dis
iets wat die sondige mensheid nog steeds kenmerk.

Die HERE God sê: Die mens het geword soos een van Ons deur
goed en kwaad te ken. Hy het die grens tussen God en homself
oorkry. Hier het jy die onderkoning wat homself outonoom verklaar
en maak asof hy die koning self is. God se gesag word nie meer
erken nie. Die mens se haan moet koning kraai.

Die HERE God konstateer die anargie,die rewolusie van die mens.
Dis ’n baie ernstige saak. Daarom vestig God spesiaal ons
aandag daarop: kyk, let op.

Die HERE God vervolg: “As hy nou maar nie sy hand
uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe in
ewigheid nie.” Aanvanklik mog die mens vrylik van die boom
van die lewe eet. Gehoorsaam aan God mog die mens die lewe geniet,
die ware gemeenskap met die lewende God. Daar was die belofte van
die ewige lewe. Solank hy die Here trou gebly het, mog hy van die
boom van die lewe eet as teken en seël van die ewige lewe.

Maar noudat die mens ongehoorsaam geword het, in opstand gekom
het, is dit nie langer toegestaan nie. Daardie twee bome in die
middel van die tuin is mekaar se teenpole. Dis onmoontlik om
gelyktydig van die boom die lewe en van die boom van kennis van
goed en kwaad te eet. Hulle sluit mekaar uit. Dit of die een of
die ander. Die een boom praat mos van lewe en die ander van dood.

Daarom sê ons doopsformulier aan die begin: “Ons en ons
kinders is in sonde ontvang en gebore. Daarom rus die toorn van
God op ons, sodat ons nie in die ryk van God kan inkom nie, tensy
ons opnuut gebore word.”

Deur van die boom van kennis van goed en kwaad te eet, het die
mens vir die dood gekies, homself aan die dood uitgelewer. Dis
daarom vanselfsprekend dat God nou weier om hom toegang tot die
boom van die lewe te gee. Die geëmanisipeerde mens, die
rewolusionêr kan tog nie meer van die boom eet nie? Hy verdien
die dood, nie die lewe nie.

Daarom stuur die Here die mens weg uit die tuin van Eden. Hoe
beskamend vir die mens. Hy word uitgedryf, verban uit die
pragtige tuin. Hy kry ontslag as tuinier in God se paradys. En hy
word arbeider buite die tuin.

Tussen die mens en die tuin plaas God sy gerubs. Dis
prominente knegte van God, God se lyfwag, so te sê. God neem
wagte van sy eie lyfwag en plaas hulle voor die tuin. Die Here
versper die pad na die boom van die lewe. By die gerubs plaas Hy
’n vlammende swaard wat heen en weer beweeg.

Niemand kan meer by die boom van die lewe kom sonder om deur
die vlammende swaard verteer te word nie. Jy het absoluut geen
kans om die paradys in eie krag in te gaan nie. Elke poging om
die pad na die paradys oop te breek sal misluk. Dit geld vandag
nog, ook al het die aardse paradys verdwyn. Geen mens kan die
paradys in eie krag verower nie. ’n Staat van volmaakte
vrede, geluk en welvaart hier op aarde is buite ons bereik. Dis
letterlik ’n utopie, ’n plek wat nie bestaan nie,
’n droombeeld. Die mens word verteer deur sy eie pogings.
Dit verklaar byvoorbeeld die ineenstorting van die kommunisme wat
jarelank as ’n oplossing beskou is. Dit verklaar ook die
spanning in die Midde ooste. Met die verdwyning van die koue
oorlog het mense gedroom van ’n nuwe wêreld orde van
blywende vrede op aarde. Dan verskyn skielik Irak op die toneel
en die fanatieke Islamitiese terroriste en vernietig die hoop.
Die twin towers van New York stort inmekaar. London word deur
bomaanslae geskud. Die ideale stad van die mens kan maar nie
werklikheid word nie.

Jy mag dalk dink dat jy net vir goeie behuising, onderwys en
mediese versorging moet sorg en alles sal in orde wees. Maar dan
verskyn daar die welgestelde Donovan Moodley en vermoor
koelbloedig die jong vrou Leigh Matthews. Hy was nie arm nie, het
nie toegang tot goeie skole gemis nie. Die begeerte na nog meer
het hom gedryf. Die beste behuising, onderwys en die toename van
welvaart gaan die paradys nie terugbring nie.

God verban die mens uit die paradys. Hy versper die pad na die
boom van die lewe. Van nou af moet die mens buite die paradys
leef en werk op ’n vervloekte aardbodem. Moeisame arbeid en
dood wag op hom. Wat ’n teenstelling met die pragtige begin
toe die mens in die tuin geplaas is om dit te bewerk en te bewaak.
Hy wat die tuin moes bewaak het, sien nou dat die tuin teen hom
bewaak word. In die verlede kon hy in volmaakte vreugde en
harmonie die tuin bewerk. Die boom van die lewe het die eindelose
lewe en vreugde gewaarborg.

Maar nou moet ons mense die aarde bewerk, ver verwyder van die
boom van die lewe. Sonder die moontlikheid om die resultate van
ons werk ewig vas te maak. Ons begin nou ’n rustelose lewe
van arbeid, waarby die dinge steeds verander. Wat jy vandag opbou
kan more weer afgebreek word en oormore is daar weer iets anders
wat teenval. Jou lewe kom nie meer tot rus nie. Jy kan nooit sê:
nou het ek alles gedoen en bereik wat ek moes doen of bereik nie.
Die dood wink elke uur. En jy kan niks wat jy sorgvuldig opgebou
of versamel het saamneem nie. Niks is meer duursaam nie. Jy werk,
so te sê, nie meer onder die skadu van die boom van die lewe nie,
maar onder die skadu van die dood. Daarom beskryf die
doopsformulier ons kinders as: “in sonde ontvang en gebore
en daarom aan allerhande ellende, ja, self aan die ewige oordeel
onderworpe.”

Ons lees hiervan in Rom 8. Die skepping is aan die nietigheid
onderworpe, oorgelewer aan verganklikheid. In barensnood. En nie
net die skepping nie, maar ook ons, God se kinders. Ons sug ook
terwyl ons wag vir die oomblik dat dit vir elkeen sigbaar gaan
word dat ons kinders van God en erfgename is, wanneer ons vir
goed van die sonde en gebrokenheid bevry sal word.

Geliefdes, dit is wat God se blokkade van die pad na die boom
van die lewe ons leer. Daar is egter ook ’n ander kant van
die saak. Ons sien God se toorn in die verbanning van die mens
uit die tuin, maar ook sy genade. Ons sug is ’n sug in
barensnood, in hoop op lewe. Daarop wil ons let in die tweede
punt. Die Here wat sy gerubs tussen die sondaar en die boom van
die lewe plaas, versper nie net die pad na die boom van die lewe
nie. Hy introduseer ook die ompad langs Jesus Christus.

Die pad na God se paradys is geblokkeer. Die pad van die vlees
is volkome opgebreek. God maak egter nie onmiddellik ’n
einde aan die menslike geskiedenis nie. Hy bly getrou aan sy
oorspronklike doel. Kyk maar na die taak van die mens om die
grond te bewerk, om die aarde te ontwikkel. God bly werk na sy
doel, naamlik die voltooiing, die volmaking van sy skepping.

Alleen dit sal nou bereik word langs die lang ompad via die
tweede Adam, Jesus Christus. Die pad na die ou paradys is
geblokkeer maar ’n nuwe pad word uitgesit. Die moederbelofte
het immers na die toekoms gewys. God het die belofte gegee dat
die saad van die vrou die kop van die slang sal vermorsel. Die
pad word nou geëffen vir Hom. Die geskiedenis gaan voort. Al die
aandag word nou gerig op die kind van die vrou wat die nuwe
toekoms sal ontsluit. Die Here blokkeer die pad na die boom van
die lewe om die pad van geloof in Jesus Christus te introduseer.
Om ons aandag te rig op die een wat die pad na die boom van die
lewe weer sal oopbreek. Hy sal die gerubs verbygaan. Hy sal deur
die vlammende swaard van God verteer word. Hy sal sterwe. Met
ander woorde Hy kan ook nie sommer toegang verkry nie. Hy sal
eers moet sterwe onder die toorn van God. Maar dit het as doel
dat die toegang tot die paradys weer gegee kan word aan almal wat
in Hom glo. Later noem Hy Homself dan ook die weg, die waarheid
en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur Hom nie.

Hy breek die weg na die boom van die lewe weer oop. Hy
verseker die moordenaar aan die kruis: vandag sal jy met My in
die paradys wees. En wanneer Hy die paradys ingaan stap Hy, so te
sê, deur na die middel van God se tuin, waar die boom van die
lewe is en Hy eet van sy vrugte. So kon Hy met Pase uit die dood
opstaan. Daarom sê Hy: Ek is die lewende en Ek was dood en kyk,
Ek leef tot in alle ewigheid (Openb 1:18).

Die ompad langs Christus is ’n lang ompad. Dit sal eeue
duur. Maar dit is juis langs die ompad dat God sy heerlikheid
openbaar. Die ompad blyk die reguit pad van God se
heilsgeskiedenis te wees, ’n reguit pad na die meerdere
glorie van God.

Geliefdes, julle kan dit vergelyk met Israel se reis deur die
woestyn. God kon Israel direk na Kanaän via die kuspad gelei het.
Dan kon hulle daar baie vinnig gewees het. Maar God het die ompad
via die woestyn gekies, ’n ompad van 40 jare. Waarom het Hy
dit gedoen? Tot verheerliking van sy Naam. In die woestyn word
die armoede en hulpeloosheid van die mens duidelik sigbaar. Ons
bankrotskap. Maar ook God se almag en trou. Die mense was daar
volkome afhanklik van Hom. Hulle kon in die woestyn nie staatmaak
op natuurlike hulpbronne nie. Die woestyn is die beste plek om
jou bewus te maak van jou volkome afhanklikheid van God. Want die
woestyn kan niks bied nie. So is God se volk in die woestyn op
die proef gestel. Hulle is gedwing om na God alleen te kyk as hul
Helper, as die onderhouer van hul lewe. En God het sy almagtig en
getrouheid gewys. Hy het hul lewens in die woestyn onderhou
daardie 40 jare. Deur sy magtige dade. Niks was te wonderlik vir
Hom nie.

Broers en susters, julle kan die pad van ons as gelowiges
buiten die paradys, vergelyk met die pad van Israel deur die
woestyn. Op pad na die nuwe paradys moet ons, so te sê, deur die
woestyn reis. Dink aan Openbaring 12 waar die woestyn die plek
genoem word waar die vrou, die kerk onderhou word tydens hierdie
NT iese periode. God is besig om ons in sy hande te drywe. Hy
moedig ons aan om in Hom te glo. Hy rig ons aandag op sy Seun.

Ja, dis ’n moeilike pad. Agter ons is daar die gerubs met
die vlammende swaard van God se toorn teen die sonde. Voor ons is
daar die terugkeer na die aarde toe, die dood wat gereed staan om
ons te vat aan die einde van ons reis hier op aarde. Onderweg is
daar die stryd, die gebrokenheid van die lewe, die pynlike
gevolge van die sonde. ’n Reis deur die woestyn, met massa
graftes, ’n stryd om lewe en dood.

En tog, as jy in geloof vashou aan die tweede Adam, Jesus
Christus, dan is die einde die lewe. Ons hoor Christus vir die
gemeente van Efese sê: Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet
van die boom van die lewe wat binne-in die paradys van God is (Openb
2:7). Christus het die bevoegdheid gekry oor die boom van die
lewe. Hy kan jou weer toelaat om daarvan te eet. Vir jou wat in
Hom glo, is die pad weer oop na die boom van die lewe wat elke
maand sy vrugte gee. Salig is die wat sy gebooie doen, sê Joh op
Patmos, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en
ingaan deur die poorte in die stad.

Broers en susters, laat dit vir julle die les wees van die
geslote paradys, dat julle fokus op Jesus Christus die weg, die
waarheid en die lewe. Buite Hom bly die paradys onbereikbaar.
Verwag tog nie alles van die mens met sy vermoëns nie. Die
gerubs herinner jou aan God se heilige toorn teen die sonde.
Daarom maak die teks jou bewus van jou sonde, hulpeloosheid en
onmag en laat jou vlug na Jesus Christus, die weg en die lewe.
Deur Hom het jy weer ’n toekoms, mag jy weer toegang verkry
tot die boom van die lewe. Daarop wys die Heilige Doop. Hoewel
ons kinders in sondes ontvang en gebore is en daarom aan
allerhande ellende, ja, selfs aan die ewige oordeel onderworpe is,
is hulle weer in Christus geheilig. Afgesonder om weer vir die
Here te wees, om weer in gemeenskap met die lewende God te lewe.
Daarop wys ook die HN wat ons volgende week hoop te vier. Daar
mag ons mos ons lewe in Hom vier. Hy voed en verkwik ons tot die
ewige lewe. Vier dit dan in geloof op pad van die verlore paradys
na die herstelde paradys van God.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)