Die gesag van die Bybel.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2005-08-14
Teks: 
Nederlandse Geloofsbel 5
Preek Inhoud: 

Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 5

Ds C Kleyn - Sondag, 14 Augustus 2005

Lees: 1 Korinthiërs 1:17-25; 2:1-16; 2
Timothéüs 3:10-17; Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 5.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 106:1,2;
Ps 106:20; Ps 12:1,2,6,7; SB 24:6,7; SB 43:5,6.

Tema: Die gesag van die Bybel.

  1. Wat beteken dit vir ons geloof?
  2. Hoe kom ons tot die erkenning daarvan?

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ek mag aanneem dat julle almal graag in gemeenskap met God wil
lewe. Om God te ken, om met Hom ’n liefdesverhouding te hê,
is die ewige lewe, sê Joh. Dit gee ware geluk, ’n geluk
sonder einde. Tog is dit net deur die geloof dat ek in gemeenskap
met God lewe. . Geloof is dus onmisbaar. Hoe dikwels hoor ons nie
die oproep: glo in die Here Jesus en jy sal gered word. Redding
kom dus saam met die geloof. Dink ook aan die bekende teks (wat
die hart van die evangelie verwoord): “Want so lief het God
die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat
elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige
lewe kan hê.” Ons wil nie net die ewige lewe hê nie, ons
wil ook God in alles behaag. Ook dit kan egter nie sonder geloof
nie. Soos ons lees in Hebr 11:6: “Sonder geloof is dit
onmoontlik om God te behaag.”

Baie hang dus af van die geloof. Maar hoe kom ek aan die
geloof? Hoe kom ek sover om myself aan God oor te gee, om my
heeltemal aan Hom toe te vertrou? In art 5 bely ons dat daardie
onmisbare geloof aan die Skrif verbind is. My geloof is heeltemal
van die Skrif afhanklik. Sonder Skrif is daar geen geloof
moontlik nie. Die geloof kom nie anders as deur die Skrif tot
stand nie. Soos die ligstrale van die son kom, so kom die geloof
van die Bybel. Sonder die bron ontaard die geloof heeltemal.

Vanaand wil ek vir julle dan verkondig die gesag van die Bybel.

Ons let op

  1. Wat beteken dit vir ons geloof?
  2. Hoe kom ons tot die erkenning daarvan?

tweërlei:

  1.  

Ons bely in art 5: “Ons aanvaar al hierdie boeke, en
hulle alleen, as heilig en kanoniek om ons geloof daarna te rig,
daarop te grond en daarmee te bevestig.” God wil daardeur my
geloof vas en seker maak.

Ons aanvaar hierdie boeke as gesaghebbend eerstens om ons
geloof daarna te rig. Die rigting en koers van die geloof is van
die Bybel afkomstig. Ons leef in ’n sondige wêreld waarin
elkeen sy eie ervarings en gedagtes het, ’n wêreld wat deur
geestelike verwarring gekenmerk word. Hoe kan ek dan in so
’n verwarrende situasie weet wat ek moet glo? Is my geloof
wel ’n ware geloof of beeld ek my dit net in? My geloof het
nie in homself die vermoë om hom op die regte pad te hou nie. My
geloof kan homself nie werklik beoordeel of korrigeer nie. Daarom
het ek buite my ’n norm of maatstaf nodig. Die Bybel is die
rigsnoer wat God vir ons gee. Alleen die Bybel wys my die pad.
Net die Bybel kan bygeloof aanwys en verwyder.

Broers en susters, hierdie oortuiging staan radikaal teenoor
die gees van dit tyd. In ons postmoderne tyd sou elkeen self kan
uitmaak wat hy glo. En elke geloof sou dan ook as volkome wettig
en reg aanvaar moet word, solank dit maar opreg is. Hierin pas
mooi die multigodsdienstigheid wat ons regering voorstaan. Daarby
kan dan die sangoma, die Joodse rabbi, die Islamitiese imam, die
roomse priester en ZCC voorganger en die Christelike predikant
saam optree. Almal is reg, ook al sê hulle teenoorgestelde dinge.

Hoekom bly ons dan vashou dat nie alles wat hom as geloof
aanbied reg is nie? Omdat God dit sê, maar ook omdat ons die
sonde en sy gevolge ernstig opneem. Vanweë die sonde is die mens
van nature blind, dwaas, onbetroubaar, leuenagtig. Daarom is daar
soveel misleiding, dwaling, verwarring. Mense probeer die
waarheid deur hulle ongeregtigheid te onderdruk. Terwyl hulle
voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword (Rom 1:18,22).
Die natuurlike mens neem die dinge van die Gees nie aan nie; want
dit is vir hom dwaasheid (1 Kor 2:14). Sou ek dan die mens laat
bepaal wat ek moet glo? Sou ek dit dan aan die mens oorlaat om te
oordeel oor goed en kwaad, waar en vals, wat my lewende God
goedgekeur of veroordeel? Nee tog! Ons het ’n objektiewe
kriteria of maatstaf nodig, buite die mens. Geloof en lewe word
deur die Skrif bepaal. Dink maar aan wat ons gelees het in 2 Tim
3. Die Heilige Skrifte kan jou wys maak tot saligheid deur die
geloof in Christus Jesus. En: “Die hele Skrif is nuttig tot
lering, tot weerlegging, tot onderwysing in die geregtigheid,
sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk
volkome toegerus”. En dit is, broer, suster, tog wat jy wil
wees, wys tot saligheid en vir elke goeie werk toegerus?

Die Bybel gee die roete aan vir verdwaalde mense. Wanneer jy
iemand se roetebeskrywing wil volg, dan is die kernvraag: vertrou
jy die persoon wat die roete beskryf? Indien nie, dan sal jy
geneig wees om by die eerste teenslag tou op te gooi. Wanneer jy
egter die Persoon wel vertrou, dan sal jy sy aanwysings tot die
einde toe volg. Dit maak nie sin om God betroubaar te ag wanneer
Hy oor sy liefde vertel en om die volgende oomblik sy
waarskuwings te ignoreer nie. Dit maak nie sin om God se
liefdesgebod wel betroubaar te ag, terwyl jy sy verhaal oor jou
verlossing in Christus in twyfel trek. Jy vertrou jou Gids of jy
vertrou hom nie. Jy volg sy aanwysings of jy volg dit nie.

Gemeente, ons aanvaar die Skrif nie net om ons geloof daarna
te rig nie, maar ook om ons geloof daarop te grondves. Dis die
enigste fondament waarop die geloof gebou kan word. Geen enkele
ander boek, hoe belangrik of hoe geestelik dit ook al mag wees,
kan as grond vir die geloof dien nie. My geloof berus nie op
redenasies of bewyse nie. Dit berus nie op menslike wysheid nie.
Daarom sê Paulus ook nadruklik dat sy prediking nie in
oorredende woorde van menslike wysheid was nie. Waarom nie? Sodat
julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in
die krag van God (1 Kor 2:4,5). Geloof wat op menslike wysheid
gebou is gaan my nie help nie. Daardeur het ek nog nie ’n
lewende verhouding met God nie. Ek bou dan op dryfsand. Ek laat
my dan deur blindes lei. Net die wysheid en waarheid van God is
betroubaar. Dit bly tot in ewigheid. Daar kan ek op bou. Dis
’n vaste fondament. Naas die fondament is daar geen God,
geen Christus en geen verlossing nie.

Maar is die Bybel nie tyd en kultuur gebonde nie? Kan die
woord van soveel jare gelede dan vir ons vandag betroubaar wees?
Gemeente, as ek probleme met die woord van God het, dan kry ek
ook probleme met God self. Dan verander my godsbeeld. Is God dan
nog wel almagtig, volkome wys, betroubaar en goed? Is Hy wel in
staat om op ’n betroubare manier en in verstaanbare taal met
ons mense te praat? Of is Hy heeltemal afhanklik van mense met
hul beperkte en verwronge insigte? Sou God wat die mens geskep
het, wat die oor en mond van die mens gemaak het, nie in staat
wees om betroubare woorde deur te gee, wat uitgaan bo alle tye en
kulture nie?

Onthou dit: God buig Hom diep tot ons neer. In Christus wil Hy
ons lewe deel. Maar ons leuens en vergissings het Hy nooit wil
deel nie. Hy is soewerein en betroubaar. My geloof is gelukkig
nie gebaseer op allerlei menslike verhale en belewenisse nie. Dis
gegrond op God se openbaring. Niemand weet immers wat in God is,
behalwe die Gees van God nie. En die Gees het dit vir ons
bekendgemaak.

Bowendien, die waarheid van die Skrif is ’n waarheid wat
vanaf die begin juis teenoor die gees van die tyd gestaan het.
Dit gaan hier oor dinge wat mense nie kon bedink nie en nie wou
hoor nie. Soos geskrywe staan: “Wat die oog nie gesien en
die oor nie gehoor en in die hart van ’n mens nie opgekom
het nie, dit het God berei vir die wat Hom liefhet.” Dis
’n dwaasheid vir die natuurlike mens. Die Jode vra ’n
teken. Mense wil vandag nog steeds dinge eers sien, tas en ervaar
voordat hulle dit aanneem. Die Grieke soek wysheid. Mense wil
vandag nog steeds dinge eers kan beredeneer met hul verstand. Dit
moet vir jou menslike verstand grypbaar, aanvaarbaar wees. Maar
God het vir ons verkondig en in die Skrif vasgelê Christus wat
gekruisig is, ’n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir
die Grieke; maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke:
Christus, die krag van God en die wysheid van God. Dit is die
vaste grondslag van my geloof, ’n betroubare fondament wat
God self gelê het. Hy het gespreek, daarom glo ek. Daarom is dit
ook so, want God kan nie lieg nie.

Geliefdes, ons aanvaar die Skrif om ons geloof daarna te rig,
daarop te grondves en daarmee te bevestig. Soos ’n kind wat
gebore is, voedsel nodig het om te kan groei, so moet my geloof
ook voortdurend gevoed word. Petrus praat van die onvervalste
melk van die woord, waardeur ons kan opgroei (1 Petr 2:2). Soos
’n kind aanvanklik slap en swak is, so moet ook my geloof
krag kry om sterk en gespierd te ontwikkel. Tydens hierdie lewe
kan ek deur twyfel gepla word. Is daar iemand van julle wat nog
nooit twyfel ervaar het nie? Vrae kan opkom soos: Is die Bybel
werklik die woord van God? Is wat ek glo, werklik reg? Is die
heil ook werklik vir my bestem? Is ek werklik gered? Hoe kan ek
in die stryd van die geloof uitvind wat reg is? Die wetenskap
gaan my nie uithelp nie. Groot debatte gaan ook nie die oplossing
wees nie. Die enigste antwoord op twyfel is God se woord self.
Ons help mekaar die meeste deur vir mekaar te sê: kom, kyk, neem,
lees. Gee jou gewonne aan die Woord van God. Daarin ontmoet jy
God self, daar spreek Hy jou aan as jou Skepper en Verlosser.
Daar het jy God se uitgestrekte arm, sy leidende hand. Daardeur
wil God jou opnuut oortuig en bevestig in jou geloof. Jy ontdek
steeds weer opnuut wie God vir jou is, wat Hy vir jou gedoen het
en wat Hy van jou vra.

Nee, daarmee word nie outomaties alle vrae en probleme opgelos
nie. Want ons ken ten dele en ons profeteer ten dele (1 Kor 13:9).
Maar ek het weer vaste grond onder my voete, die betroubare woord
van God. En op die vaste basis gaan ek dan soek na antwoorde. In
biddende afhanklikheid van God, die outeur van die Bybel. In
beskeidenheid, in die besef dat ek ’n feilbare, sondige
mensekind is teenoor die ewige, onfeilbare God. Dis net op die
basis van die Skrif self dat betroubare antwoorde gevind kan word.
En dit is, broer, suster, tog wat jy soek? Jy verlang tog om die
wil van God te ken?

Maar hoe kom ons daartoe om die gesag van die Bybel te erken?
Dis die tweede punt.

Was daar iewers ’n kerkvergadering wat hierdie boeke
uitgesif het tussen baie ánder materiaal? Wie het besluit dat
die Bybel die Bybel is? Die wonder is dat daar nêrens in die
geskiedenis só ’n kerkvergadering was nie! Die kerk het
nooit besluit watter geskrifte Woord van God is en watter
geskrifte dit nie is nie! Trouens hoe sou die kerk ooit so
’n keuse kan maak? Watter maatstaf sou sy daarby moet
gebruik? Dit is een van die grootste wonders van die geskiedenis.
’n Mens moet mooi let op die woordjie “ontvang” in
artikel 5 NGB. Ongelukkig word dit in ons vertaling met aanvaar
weergegee. Ons aanvaar al hierdie boeke. Maar dit moet wees ons
ontvang al hierdie boeke. Die kerk het hierdie 66 boeke
“ontvang”. Soos wat die ware geïnspireerde geskrifte
geskryf is, oor ’n tydperk van 16 eeue(!), is hulle deur die
gelowiges “ontvang” as Woord van God! Hulle is erken as
komende van God. Toe Jesus op aarde was, was die OT-kanon reeds
daar en erken Jesus dit as “die Skrif” en as ’n
eenheid. Nêrens is daar vooraf besluit wat hierdie
“Skrifte” moet wees nie, maar hulle was daar. So het
dit gebeur deur die voorsienigheid van God en deur Sy sorg. Ons
glo dit eenvoudig as onverklaarbare wonder. Die kerk het dus
nooit die bestaande 66 boeke tot kanon verklaar nie, maar wel
ontvang. Hul goddelike karakter was so opvallend, dat die kerk
hulle sonder baie moeite as goddelike boeke herken het. Dit is
dus nie die kérk wat sekere boeke tot Bybelboeke verhef het nie.
Hulle het niks meer gedoen as net die bestaande Bybelboeke só in
ontvangs te neem.

Daar word vandag beweer dat die gesag van die Bybel
voorafgegaan moet word deur die geloof van die kerk! Die kerk se
geloof sou aan die Bybel sy gesag gee. Die teenoorgestelde is
waar: die kerk se geloof word voorafgegaan deur die gesag van die
Bybel! Die kerk se geloof word juis geskep deur die Bybel.

Volgens die Rooms Katolieke Kerk, speel die kerk ’n
beslissende rol by die aanvaarding van die Bybel. Hulle besluit
watter boeke goddelik is. Hulle sou dit selfs onfeilbaar kon doen.
Daarmee het die kerk haarself as ’n keurmeester bo God se
Woord geplaas. Daarom verstaan ons ook waarom die Rooms-Katolieke
Kerk onbetroubare apokriewe boeke in hul Bybel opgeneem het, en
dinge oor Maria leer wat nêrens in die Skrif staan nie.

Gemeente, hoe verskriklik sou dit wees as ons die Bybel, wat
so swaar aangeval word, op gesag van feilbare kerkmense uit die
verlede as die Woord van God moes aanvaar. Dan sou die vraag ons
bly benou: hoe weet ek of hierdie mense nie miskien foute gemaak
het toe hulle sekere boeke goddelik verklaar het nie? En as die
kerk die Bybel geskep het, waarom sou ek meer aan die Bybel
gebind wees as aan ander Christelike boeke? Gelukkig weet ek dat
dit nie ’n produk van die kerk is nie, maar ’n geskenk
van God wat ons ontvang.

Daarmee praat ons nie minderwaardig oor die kerk nie. Want ons
aanvaar die Bybelboeke ”nie juis omdat die kerk hulle
aanvaar…”. Nie juis nie, maar dit tel tog wel saam. Dit
is ’n groot ondersteuning vir ons, dat baie generasies uit
die verlede die Skrif aanvaar en ervaar het as die Woord van God.
Gestel dat die Bybel eers in 1900 aanvaar is as die Woord van God!
Dis ook ’n groot seën wanneer jy gelowige ouers het en leef
in ’n kerk wat die Bybel rojaal as die Woord van God erken.
Dit het seker ook invloed op jou aanvaarding van die gesag van
die Skrif. Die geloof is mos uit die gehoor. Tog glo ons nie in
die Bybel omdat die kerk dit sê nie, maar omdat ons God daarin
hoor praat.

Ons glo sonder twyfel alles wat in die Bybelboeke vervat is
“veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle
van God is”. Dis die Heilige Gees wat vir my hart duidelik
maak dat die Bybel van God kom. Van nature is ek blind en doof
vir die woord van God. Maar nou werk die Gees in my binneste om
my van my blindheid en doofheid te genees. Hy verlig my
verduisterde verstand, Hy buig my weerspannige wil om, Hy maak my
afgestompte aanvoeling weer sensitief sodat ek die waarheid begin
hoor en die lig sien. So lees ons in Hand 16:14 dat ’n vrou
met die naam van Lidia geluister het en dat die Here haar hart
geopen het om ag te gee op wat Paulus gesê het. Die Heilige Gees
werk tegelykertyd vanuit die Skrif. Hy laat die waarheid van die
Skrif so ’n appel op my maak; en die lig van die Skrif laat
Hy so helder skyn dat ek nie anders kan as om die Skrif as God se
woord erken nie. Die getuienis van die Gees is dus nie ’n
fluisterstemmetjie wat in my hart praat nie. Nee die Gees getuig
in en deur die Skrif self. Die Gees sorg daarvoor, dat dit wat in
die Bybel staan met krag my hart binnekom en my daar raak en tot
geloof bring.

1 Kor 2:14,15 wys ook hoe onmisbaar die werk van die Gees is.
Daar lees ons: “Maar die natuurlike mens neem die dinge van
die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en
hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.
Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge...” Die
natuurlike mens kan nie die verskil tussen die Bybel en ander
boeke herken nie. Dis net moontlik deur die werk van die Heilige
Gees. My oortuiging dat die Bybel die woord van God is hang
gelukkig nie af van my eie oordeel nie, ewemin van bewyse en
redenasies. My sekerheid is ’n direkte vrug van die
getuienis van die Heilige Gees.

Bowendien lewer die Bybelboeke self die bewys dat hulle van
God afkomstig is. Selfs so dat blindes kan tas dat die dinge wat
daarin voorspel is, plaasvind. Kyk maar na al die profesieë wat
eeue gelede gegee is, en uitgekom het. So het Christus gekom,
gely, gesterwe en opgestaan soos dit in die OT aangekondig is. En
vandag gebeur nog steeds dinge wat God gesê het sou gebeur.
Selfs die ongelowige kan dit sien. Ook al wil hy dit nie erken
nie.

Ons staan verstom oor die uniekheid van die Bybel. Wat ’n
geskenk van God almagtig. Ons kan nie anders as dit met
dankbaarheid en eerbied ontvang. Daarom kom, kyk, neem en lees.
Rig jou geloof daarna, laat jou geloof daarop rus en daarmee
bevestig. So onderhou jy die gemeenskap met die lewende God.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)