Jesaja se geboorteberig van die wonderkind op die troon van Dawid.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2005-12-25
Teks: 
Jesaja 9
Preek Inhoud: 

Jesaja 9:5

Ds C Kleyn - Sondag 25
Desember 2005

Lees: Jesaja 8:23-9:6; Lukas 1:30-33;
Matthéüs 4:12-17.
Sing: Ps 98:1,2; Ps 65:2; SB 2:1,2,5; Ps 72:1,2,4;
Ps 72;10,11.

Tema: Jesaja se geboorteberig van die wonderkind op
die troon van Dawid.

  1. die koms van die wonderkind
  2. sy name
  3. sy heerskappy

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Christus is gebore. Dis wat ons vandag gedenk, die geboorte
van ons Here Jesus Christus. By die geboorte van ’n kind is
dit gebruiklik dat die gelukkige en trotse ouers ’n
geboorteberig uitstuur: “Die Here het ons verbly met die
geboorte van ’n gesonde seun of dogter.” Ons teks bevat
so ’n geboorte berig: ’n Kind is vir ons gebore,
’n Seun is aan ons gegee. ’n Opvallende geboorteberig.
Dis nie die ouers wat hierdie berig die wêreld instuur nie. Die
profeet Jesaja het hierdie berig opgestel. Namens God en namens
God se volk. Daar is ’n kind vir ons gebore.

Wat nog meer opvallend is, is dat hierdie geboorteberig die
wêreld ingestuur word meer as 700 jaar voordat Jesus Christus
gebore is. Wie gaan nou 700 jaar voor die tyd sê dat iets reeds
plaasgevind het? Die Here kan dit doen. Want wat Hy sê, gebeur
ook metterdaad. Niks kan dit keer nie. So seker mag Jesaja en God
se volk van hierdie geboorte wees dat dit 700 jaar voor die tyd
vermeld kan word as ’n werklikheid. Hulle mag hulle nou
reeds daaroor verheug en hulleself daarmee vertroos.

Hierdie geboorteberig is nog op ’n ander manier baie
opvallend. Dit gaan oor ’n wonderkind. ’n Mens praat
dikwels eers agteraf van ’n wonderkind. Soms droom ouers
miskien daaroor. Stel jou voor dat my kind ’n wonderkind is.
Jy wens al jou kinders ’n goeie toekoms toe. Maar eers met
die tyd sal uit die ontwikkeling blyk of ’n kind ’n
wonderkind is of nie. In sy geboorteberig maak Jesaja 700 jaar
van te vore reeds melding van ’n wonderkind. Die verskyning
van hierdie kind as wonderkind staan reeds van te vore vas. Dis
dan ook nie ’n gewone kind deur mense verwek nie, maar van
God aan ons mense gegee.

Ek verkondig vir julle: Jesaja se geboorteberig van die
wonderkind op die troon van Dawid.

  1. die koms van die wonderkind
  2. sy name
  3. sy heerskappy

Gemeente, in watter omstandighede herdenk ons die geboorte van
ons Here Jesus Christus? Dit lyk ’n tyd van lig en
vrolikheid te wees. Maar ten diepste is daar tog die duisternis
van die sonde en sy gevolge. Na die roes van die feesdae is daar
weer die harde werklikheid van die lewe. Ja selfs tydens die roes
van die feesdae word ons hardhandig geskok deur gewapende
aanvalle van boewe. In ons land is daar baie sonde en ellende,
verdriet en onsekerheid. Ek noem enkele dinge wat daar ook reeds
was in die tyd van Jesaja: bygeloof, materialisme, afgodery,
arrogansie, gebrek aan goeie leierskap, sosiale misstande,
sinlikheid, losbandigheid, vermenging van godsdienste, die reg
van die sterkste, geweld en misdaad. En wat ’n mens in die
samelewing sien, ontdek jy in sekere mate ook in die kerke.
Duisternis van binne en van buite. Wat verwag ons in hierdie
situasie? Wie gaan ons ooit daarvan red? Kort gelede het ’n
slagoffer van geweld in wanhoop uitgeroep: wanneer gaan dit ophou?
Sal daar ooit ’n einde aan al die geweld en doodslag kom?
Wanneer is genoeg, genoeg?

Broers en susters, hierdie situasie is vergelykbaar met die
van Jesaja se dae. Hierbo het ek juis ook dinge genoem wat in
daardie tyd prominent was. Dit is donker dae waarin Jesaja
profeteer. Donker vir Israel in die Noorde en donker vir Juda in
die Suide. Daar regeer goddelose konings. Daarom maak Jesaja God
se strafgerigte bekend, nie net teen Israel nie, maar ook teen
Juda. Binnekort sal Jerusalem God se oordeel oor Samaria sien:
vernietiging en wegvoering. Maar Jerusalem moet hom nie in trots
verhef nie. Want wanneer die leër van Assur ook in die Judese
land huishou, dan is dit ’n voorspel van ’n baie groter
gerig wat land en stad sal tref as hulle in hul sondes volhard.
Die mense van die goddelose Juda en Jerusalem sal deur duisternis
en donkerheid getref word. Net soos die land van die Noorde in
duisternis en donkerheid ondergedompel sal word.

Dreunende soldatevoete marsjeer brutaalweg die land van Israel
en Juda binne en vertrap God se volk. Eers die Assiriërs, later
die Babiloniërs. Is die Here dan nie opgewasse teen Assur en
Babel nie? Dit dink die besetters, maar die werklikheid is anders.
Hulle is niks anders as ’n tugroede in God se hand nie. En
waarom hanteer die Here die uiterste middel? Waarom slaan Hy so
hard terwyl sy hart skrei? Omdat uitgereken by sy eie volk alle
reg en geregtigheid soek is. Sy reg soek is.

Wat die heersers van Assur en Babel op groot skaal doen, die
reg van die sterkste opeis, dat doen mense in Samaria en
Jerusalem op klein skaal: verdrukking van die swakke en geringe.
Ja, juis daar word gespot met die reg van die Here. Die vrees van
die Here is weg. Dan moet die Here wel straf, na tallose
waarskuwings en eindeloos geduld. Beangstigende duisternis. Onreg
en geweld.

Gemeente, is dit alles wat van die toekoms van God se volk
gesê kan word? Donkerheid en duisternis? Nee, ons gedeelte begin
in 8:23: “Nie langer sal dit donker wees daar waar
benoudheid is nie.” Selfs nie vir die donker land in die
Noorde nie: Sebulon en Naftali, Galilea van die heidene. Jesaja
profeteer: “Die volk wat in duisternis wandel het ’n
groot lig gesien; die wat woon in die land van die doodskaduwee,
oor hulle het ’n lig geskyn.” Pleks van die duisternis
van onheil en rampe is daar die lig van vrede en seën. Pleks van
die duisternis van sonde en dood is daar die lig van redding en
lewe. Die duisternis was ’n doodskaduwee, so diep en dodelik.
Dit kan net deur die lig van die wêreld verwyder word. Hierdie
lig het verskyn toe Jesus Christus van Nasaret na Kapernaum
vertrek het (Mt 4:12-17). Die Here Jesus, die wonderkind, die lig
van die wêreld, begin juis sy werk in Galilea. Daar haal hy sy
apostels vandaan, uit die streek wat veragtelik deur Israel se
leiers as Galilea van die heidene getipeer is. Kan uit Nasaret in
Sebulon iets goeds kom?

Nie langer donkerheid nie. Inteendeel, ’n nuwe Midiansdag.
’n Onbegryplike oorwinning oor vyandelike magte, soos Gideon
met sy bende van net 300 manne gewapen met kruike en fakkels die
magtige en sogenaamde onoorwinlike Midianiete oorwin het. Ja,
soos God self oorwin het. Vanuit Sebulon begin die oorwinning.
Soldateskoene en offisieremantels met bloed bevlek gaan verbrand
word. “Want ’n kind is vir ons gebore, en ’n Seun
is aan ons gegee.” Hierdie woorde kan in sekere mate verwys
na ’n koningsseun uit Jesaja se dae. Maar die woorde reik
veel verder. Geen gewone seun of koning pas by die beskrywing van
ons teks nie. Dit sien uiteindelik op Jesus Christus. Die lig van
die wêreld. Lig vir Sebulon en Naftali. Lig vir donker Afrika.
Lig vir Suid Afrika. Vuur vir vyandelike soldateskoene en
offisieremantels. Vuur vir geweldenaars en boewe. ’n Nuwe
Midiansdag vir God se volk. Bevryding.

En alles uit God se hand. Want Israel se koning is van God
gegee. Ook en juis hierdie wonderkind van die toekoms. Die Seun
by uitstek. As koning aan sy volk gegee. Die groot vors in Dawid
se koningshuis. Niemand kan red nie. Niemand kan die reg van die
die geringe – volk of enkeling – handhaaf nie. Behalwe
die Here. Daarom het ons in ons teks te make met ’n
indrukwekkende selfopenbaring van God. Hy laat werklik ’n
groot lig opgaan in diepe duisternis en doodskaduwee. Die mees
uitbundige vreugde neem die plek in van radelose wanhoop. God
ontvou die planne van sy Ryk. En ons? Ons glo die vervulling van
die profesie – Christus is gebore – daarom is ons
getroos.

Gemeente, hierdie wonderkind wat deur Jes aangemeld word, kry
ook pragtige name. Dis die tweede gedagte van die preek, sy name.

’n Kind is vir ons gebore. Maar dit is allermins
kinderlike dinge wat hier van hom vermeld word. Luister maar na
sy name. Sy name tipeer hom en sy werk. So is Hy. So werk Hy. In
ons vertaling word die name Wonderbaar en Raadsman afsonderlik
genoem. Waarskynlik sal hulle, soos by die volgende name,
saamgevoeg moet word. Dan kry ons die aanduiding: wonderbare
raadsman.

Tog val ’n seker nadruk op die eerste woord wonderbaar.
Hierdie kind is self ’n wonder. Die woord herinner ons aan
al die wonders wat God tot verlossing van sy volk verrig het. Die
wonders wat God in Egipte verrig het, die wonder van Israel se
deurtog deur die Skelfsee, God se leiding van Israel deur die
woestyn met ’n wolk- en vuurkolom. Die wonder waardeur God
sy volk in die woestyn van water en kos voorsien het. Al daardie
dade is as wonders getipeer. Geen mens kon dit doen nie. God het
wonderbaarlik ingegryp. So kan Christus ook as ’n groot
wonder getipeer word. In Christus bereik God se wonders van
verlossing hul hoogtepunt. Hy is wonderbaar.

’n Wonder van ’n raadsman. Ons hoor hierin: die Here
is wonderbaar van raad, groot van beleid (Jes 28:29). Dit sal in
die lewe van hierdie wonderkind werklikheid word, soos nooit
tevore nie. Van ’n koning verwag jy nie onmiddellik dat hy
’n raadsman is nie. Die koning laat hom normaalweg deur
raadshere omring. Hierdie koning hoef hom nie te laat raad gee
nie. Hy gee self raad. Ja, meer nog, Hy bedink self raad. Soos
niemand anders dit kan nie. Hy besit goddelike wysheid. Hy is
self God. By Hom vind jy alle skatte van wysheid en kennis. So
kan Hy volkome verlossing vir ons uitdink en uitvoer. En ons met
ongekende wysheid regeer. Met beleid, volgens ’n plan wat Hy
self ontwerp het. ’n Weg van lyding na heerlikheid. Om so
met ons die einddoel te bereik.

Daarna word hy genoem: Sterke God. Hy is nie net wys nie, maar
ook sterk, selfs almagtig. Wat Hy bedink en beplan, kan en sal Hy
ook waarmaak. In hierdie wonderkind skitter God se almag vir ons.
Hy kan en wil en sal Hy in nood, selfs as ons sidder vir die dood,
volkome uitkoms gee (Ps 68:9 ber). Hy is magtig om te red. Aan
hom is gegee alle mag in hemel en op aarde. Hy sal die mag van
vyandskap en onderdrukking, ja, selfs van sonde en dood breek. So
mag jy, wat op hom vertrou, seker van jou redding wees, jou ewige
redding.

Hierdie wonderkind word vervolgens ewige Vader genoem. Kan dit
wel van God die Seun gesê word? Hier het ons nie te doen met
’n beskrywing van die goddelike drie-eenheid nie. Hier word
die Seun ook nie met die Vader verwar nie. Nee, hier het ons te
doen met ’n beskrywing van die Seun wat soos ’n Vader
vir sy volk sal wees. So is die wonderkind teenoor sy volk. Vol
sorg en liefde. Soos ’n egte Vader van die vaderland. Hier
geld die woorde van Ps 103: 13: “Soos ’n vader hom
ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here hom oor die wat Hom
vrees.” Wanneer Christus hom later as die goeie herder
voorstel, dan bevestig Christus hierdie beeld van vader wees. Jy
kan altyd op sy sorg en beskerming staatmaak. Hy word immers ook
ewige vader genoem. Hy bewaar sy volk by die verlossing wat Hy
verwerf het. En Hy lei ons as ’n herder en vader na ons
erfenis. Wat ’n tere sorg, liefde en troos word hier beskryf.
Sou jy nie op Hom vertrou nie?

Die laaste titel wat aan hom gegee word is: vredevors. Hy
herstel die vrede op aarde. Oorlog en verdrukking, geweld en
bloedvergieting was en is aan die orde van die dag. Hierdie
wonderkind is die vors van vrede. Hy jaag vrede na en bring tot
stand die vrede waarvan Ps 72 sing: reg vir die verdruktes, bloei
van die regverdiges. Daarom sing ons op hierdie kersdag van vrede
op aarde. Dit sal duidelik wees dat hierdie vrede meer omvat as
net ’n tydelike staking van geweld en vyandskap. Die staking
van oorlog bring in sigself nog nie die paradyslike toestand van
vrede nie. Kyk maar na die lande in die wêreld, inklusief ons
eie land, wat amptelik geen oorlog ken nie. Sien jy die vrede? Is
die paradys herstel?

Die oorsaak van vyandskap en oorlog, naamlik die sonde moet
verwyder word. Wanneer dit verwyder is, dan kan daar ware vrede
wees. Vrede tussen God en ons mense, vrede tussen die mense
onderling. Dis die sonde wat die vrede in die pad staan. Wanneer
die sonde verwyder is, kan daar weer vrede wees, soos die apostel
skryf: “Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons
vrede by God deur onse Here Jesus Christus” ( Rom 5:1). Wil
jy die vrede hê? Dan moet jy by die vredevors wees. Hy het die
vrede verwerf. Hy is ons vrede. Hy het aan die eise van God se
reg voldaan en my skuld versoen. Ware vrede kom na jou toe
vanweë en deur hierdie wonderkind. Hierdie kind, en Hy alleen,
is die vredevors. Wil jy die vrede hê, gaan dan na hom toe,
lewer jou uit aan Hom en onderwerp jou aan hom.

Want hy regeer ook vandag. So kom ons by die derde gedagte van
die preek: Die heerskappy van hierdie wonderkind.

En die heerskappy is op sy skouer. Hy sit op die troon van
Dawid. Hy ontvang koninklike heerskappy. Vers 6 praat van die
vermeerdering van sy heerskappy. Sy heerskappy sal hom oor die
hele wêreld uitstrek. Hy sal ’n volk vergader uit alle
stamme en tale van die aarde. So omvat sy ryk ook donker Afrika,
inklusief ons reënboog nasie Suid Afrika. Dieselfde vers noem
ook die basis van sy heerskappy. Hy sal dit vestig op reg en
geregtigheid. Is dit nie wat ons soek in ons land nie? Wat ons
vurig begeer: reg en geregtigheid?

Kyk, gemeente, wat ’n teenstelling. Dreunende
soldateskoene en offisierejasse met bloed bevlek. Dit was die
tekens van die verdrukkers van God se volk. In Jesaja se dae is
dit Assur se heerskappy. In ons dae enige mag wat die reg van die
sterkste opeis. Met onreg en geweld. Maar God gryp in. Met die
geboorte van ’n wonderkind, ons Here Jesus Christus. Hy stig
sy troon op reg en sy geregtigheid. Dit beteken verlossing en
bevryding. Dit is die verlossing waaroor Sagaria en Maria sing.
Dis die verlossing wat Jesus Christus self verkondig. Dit het hom
die kruis gekos. Maar sy apostels gaan voort met die prediking.
En Hy? Hy is uitermate verhoog en het alle mag in hemel en op
aarde ontvang; Hy is diegene deur wie die Vader alles regeer. In
die hoedanigheid sê Hy vir ons: Kyk, Ek is met julle al die dae
tot aan die voleinding van die wêreld.

Daar kom ’n einde aan alle geweld en onderdrukking. Daar
kom ’n einde aan alle sonde en ellende. Want hierdie
wonderkind, hierdie koning wat die Here gegee het, luister na jou
klagte. Hy red uit alle nood. En alle verdrukkers, almal wat hul
mag misbruik om ander te verneder, sal self verneder word, soos
Maria gesing het: “Hoogmoediges in die gedagtes van hulle
hart het Hy verstrooi. Maghebbers het Hy van trone afgeruk en
nederiges verhoog. Hongeriges het Hy met goeie dinge vervul en
rykes met leë hande weggestuur” (Luk 1:51-53). Hulle kry
hul verdiende straf. Die onderlinge verhoudings word weer goed.
Die samelewing sal in vrede bloei. Ooreenkomstig Ps 72.

Maar, broers en susters, wat sien ons hiervan?. Daar is nog
soveel onreg in hierdie land en wêreld. Dink aan wat ek in die
inleiding genoem het. Hoeveel wantoestande, misdaad en geweld
ervaar ons nie in eie land nie? Dit lyk dikwels asof die reg van
die sterkstes seëvier. Wanneer hou die mishandeling, die geweld,
die misdaad en die moorde in ons land op? En wat is daar selfs
nog ’n onreg en sonde onder God se eie volk. Kom die
volmaakte ryk van reg en vrede wel?

Ja seker! Die ywer van die Here van die leërskare sal dit
doen, lees ons in Jes 9:6. Die ywer van die Here van die
leërskare, van die Here wat beskik oor alle magte in hemel en op
aarde. Sy ywer is sy diepgewortelde hartstog vir sy eer en sy
vurige liefde vir sy kinders. Die Here wil ’n hemel en aarde
waar geregtigheid woon. Hy wil dit met ywer, met ’n vurige
hartstog. Hy sal werklik nie rus totdat dit sover is nie. Hy het
daar alles voor oor. Dink maar aan Golgota. Hy het selfs die lewe
van sy eie Seun daarvoor oor gehad. So vurig begeer hy dat die
vrederyk kom. Elke wapen en teken van onderdrukking of geweld sal
’n prooi van die vuur word. Daar sal vrede sonder einde wees.
God het gespreek. God het ingegryp. “Want ’n Kind is
vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy
is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbare raadsman, sterke
God, ewige Vader, vredevors.”

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)